Jakobus 4:13-17 – 2017

1 Januarie 2017 Pinelands Epifaniefees
Prediker: Dr Tiana Bosman 

 

1 Januarie op ‘n Sondag. Betekenisvol want Sondag is vir ons die begin van nuwe lewe, hoop, kanse.

Epifaniefees – die verskyning die Jesus in die wêreld – die Een wie se koms juis Sondae soos ons dit vier moontlik gemaak het.

Nuwe Jaar, nuwe beginne, nuwe moontlikhede… nuwe voornemens? Hoeveel van julle het al voornemens vir 2017 gemaak? Hoeveel het hierdie planne “DV” gemaak?

Lees teks.

DV…Deo volente…as die Here wil… In verskillende Christelike kulture het dié uitdrukking oor eeue spreekwoordelik geword. Groot misverstande bestaan soms rondom hierdie begrip. Ons gebruik dit om verskillende redes:

  • Dalk om in ons beplanning en ons woorde ‘n getuienis te lewer teenoor diegene teenoor wie ons dit sê?
  • Dalk as ‘n tipe sweerformule, ‘n afweermiddel waarmee ons die kwaad van ons lyf wil weghou. Sodoende bied DV vir ons die versekering dat dinge sal verloop soos wat ons dit beplan het. Wanneer ons DV sê, weet die Here immers wat ons beplan en kan niks of niemand ons planne in die wiele ry nie (Hy sal sorg daarvoor).

Jakobus leer vir die gemeentes aan wie hy die brief rig, hierdie rympie aan. Hy leer hulle om DV te sê; Deo volente, as die Here wil… Hoekom doen hy dit? Jakobus het die brief geskryf omdat daar konflik binne die gemeentes was tussen die rykes en die armes. Hy het die rykes, die magtiges in die oog, wat deur hulle selfversekerde woorde en optrede spanning in die gemeente veroorsaak het, deurdat hulle die armes benadeel en verneder het. Die rykes het selfsugtige lewens gelei, hulle wou in alles wins maak, en het hulle nie aan die behoeftes van die arm gemeentelede gesteur nie. Onder hierdie ryk mense was daar ook handelaars wat van stad na stad gereis het om sake te doen en geld te maak. Dié handelaars het juis nie na die wil van die Here gevra nie. Hy was nie in hulle beplanning ingereken nie, nie deel van hulle prioriteitslysie nie. Op daardie lysie het meestal net die woorde GELD, SUKSES, VOORSPOED en WINS verskyn.

Hierteen het Jakobus dit. Daarom skryf hy: “Kom nou, julle wat sê: ‘Vandag of môre sal ons na dié en dié stad toe gaan en ‘n jaar lank daar bly; ons sal sake doen en geld maak.’ Julle wat nie eers weet hoe julle lewe môre sal wees nie! Julle is maar ‘n damp wat ‘n oomblik verskyn en sommer weer verdwyn.”

Met dié woorde herinner Jakobus die rykes en die magtiges daaraan dat hulle insig in die toekoms en hulle vermoëns om die volgende dae te bepaal, uiters beperk is. Dit geld natuurlik nie net vir die ryk mense in die samelewing nie, maar vir ons almal. Geen wonder dat die wyse skrywer van Spreuke 27:1 reeds al kon sê: “Moenie roem oor wat jy môre verwag nie; jy weet nie wat die dag sal oplewer nie”. Wanneer ons dit in ag neem, is die boodskap in Jakobus nie net ‘n waarskuwing aan die rykes nie, maar aan álmal wat té selfversekerd is oor hulle eie toekomsplannetjies.

‘n Engelse predikant, dominee Ford, het oor die teks gepreek onder die tema “Voorlopige beplanning”. Hy begin deur te sê dat hy baie daarvan hou om vooruit te beplan. Dan verduidelik hy dit só (en ek vertaal dit vry)…

Ek moet bely dat ek nogals daarvan hou om te beplan…Ek put geweldige genot daaruit om die dagboek vir die volgende jaar aan te koop en solank my vaste datums te merk en my verskeie afsprake neer te pen…Ek skryf om die waarheid te sê al my afsprake met ‘n balpuntpen in. Dan haat ek dit natuurlik om veranderinge aan te bring, want dit maak dat die dagboek onnet lyk, en ek haat onnetheid!…Een van my kollegas van lank gelede wat meer afsprake in sy dagboek het as wat ek ooit sal hê, het altyd sy afsprake met ‘n potlood ingeskryf. Dan kon hy dit weer uitvee. Ek het dit nie gewaag om te vra of hierdie gewoonte van hom om teologiese redes is nie, maar indien dit wel so was, is sy gewoonte in ooreenstemming met die boodskap in die Woord van God. Al ons planne moet voorlopig wees. Dit is immers wat Jakobus in sy vierde hoofstuk by ons wil tuisbring

Dominee Ford is reg. Jakobus wil ons leer dat al ons planne voorlopig is. Maar sy bedoeling is nie nét dat ons nie langer met balpuntpenne in ons dagboeke sal skryf nie. Dit gaan om veel meer as bloot die inruil van penne vir potlode.

Jakobus vra dat ons sal rekening hou met dié Een in wie se hande ons toekoms en ons planne is. Daarom sê hy: “Julle moet eerder sê: ‘Deo volente, as die Here wil, sal ons lewe en sal ons dit of dat doen’”. Jakobus waarsku dus teen menslike beplanninge sonder die inagneming van God se moontlike ingrype, sonder die wete dat God se wil vir ons vir môre of vir oormôre dalk anders kan wees as ons eie wil…

Jakobus waarsku ook teen menslike beplanninge wat nie rekening hou met God se geopenbaarde wil soos wat ons dit in sy Woord vind nie. Dit is immers vir alle gelowiges duidelik dat die Here dit teen selfsug en onderdrukking en uitbuiting het, maar steeds was daar gelowiges in Jakobus se tyd wat hulle nie daaraan gesteur het nie, wat ander onderdruk het terwyl hulle baie mooi omgesien het na hulle eie welvaart en sukses. Hulle het selfs planne vir die toekoms gemaak om hulself te bevoordeel ten koste van arm medegelowiges. Dit het hulle gedoen omdat hulle nie hulle eie planne onderwerp het aan die geopenbaarde wil van God nie. Gevolglik was daar nie in hulle lewens of in hulle toekomsplanne ruimte gemaak om die wil van God uit te leef nie.

Vandag is God se geopenbaarde wil oor naasteliefde dalk nog meer dringend as die een wat dit het teen selfsug en onderdrukking – alhoewel ek dink die twee eintlik absoluut geïntegreer is. ‘n Gelowige mens wat nie ‘n ander mens dieselfde kwaliteit liefdesverhoudinge gun wat hy of sy vir hom/haarself wil hê nie, is selfsugtig en leef nie binne die geopenbaarde wil van God soos Jesus dit verkondig het nie.

Wanneer ons dit raaksien, besef ons dat om DV te sê en te bedoel dat, as die Here wil, ons dit en dat sal doen, nie net gepaardgaan met die besef dat ons nie regtig weet hoe ons lewens môre gaan verloop nie, maar ook implikasies het vir wát ons doen en hóé ons dit doen. Want wanneer ons sê As die Here wil en dit ernstig bedoel, word hierdie uitdrukking ‘n norm waaraan ons ons eie planne, voornemens en gedrag kan meet. Wanneer ons sê As die Here wil, hou ons rekening met sy geopenbaarde wil in die Woord en rig ons ons eie planne en voornemens en gedrag daarvolgens, begin ons leef en beplan soos die Here wil.

Om Deo volente te sê, moet dus nie net ‘n rympie wees wat ons aanleer en wat van geslag tot geslag oorgedra word nie. Dit is veel méér as ‘n manier van praat. Want taal bepaal ook ons gedrag. Dit getuig wie ons is, vir wie ons leef en waar ons prioriteite lê. Om Deo volente te sê, is om te erken dat ons lewe in die hande van die Here is. Dit is ook om te bid dat die Here se wil sal geskied – ook deur ons doen en late in die jaar wat voorlê.

Kom ons bid daarom daagliks Deo volente met die oog op die toekoms, en dan rig ons ons planne volgens hierdie gebed en ons werk daaraan mee dat die wil van die Here inderdaad sal geskied. Want as ons nie op hierdie manier DV kan sê nie, is dit beter om liewer die gewoonte af te leer. Maar as ons dit wel op hierdie manier sê, dan sal ons huise en ons gemeente ‘n plek wees waar die wil van God gedy en waar mense sal vind dat hulle veilig en geliefd is en versorg word.

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.

Matteus 2:1-12

6 Januarie 2013 – Koninkrykstyd
Prediker: Dr Tiana Bosman

Boodskap

Die 6e Januarie staan deur die eeue binne die Westerse Christen-tradisie bekend as Epifanie Feesdag. “Epifanie” wat beteken “verskyning” of “bekendmaking”. Epifanie wat heenwys na die menswording van God in die geboorte van Jesus Christus, en die eerste mense wat die uniekheid van hierdie baba erken het.

Jesus is in Betlehem gebore, tydens die regering van koning Herodes, in die geskiedenis beter bekend as Herodes die Grote, magsbehepte koning van Juda en geestelik versteurde despoot wat ook nie sy eie familie ontsien het nie. In sy waansinnige verknogtheid aan sy magsposisie het hy sy vrou Mariamne en ook ‘n paar van sy seuns laat vermoor, omdat hy bang was dat die seuns van hom dalk voortydig sy troon sal bestyg. Dit was dus nie net ander mense se seuntjies wat tydens die kindermoord doodgemaak is nie, maar ook sy eie seuns.

Na Jesus se geboorte het sterrekykers uit die ooste in Jerusalem aangekom en navraag gedoen aangaande hierdie kind: “Waar is Hy wat as koning van die Jode gebore is? Ons het sy ster sien opkom en ons het gekom om aan Hom hulde te bewys.” Rondom die identiteit van die sterrekykers bestaan daar vele legendes, onder meer dat hulle eintlik drie konings was: Kasper die jongeling van Indië, Baltasar die man van Arabië, en Melchior die grysaard van Persië, en dat hulle onderskeidelik 20, 40 en 60 jaar oud was. Naas wat ons in Matteus oor hierdie manne lees, het ons egter geen ander feite om ons op te verlaat nie. Matteus meld bloot dat daar sterrekykers was vanuit die ooste en dat hulle gekom het om aan die koning van die Jode hulde te bewys. Ons weet nie eens of hulle drie was of nie. Deur die eeue het mense die getal as drie sterrekykers bloot afgelei vanuit die aantal geskenke wat genoem word: goud, wierook en mirre.

Matteus is waarskynlik doelbewus vaag oor die spesifieke identiteit en herkoms van die sterrekykers. Die fokus van sy evangelie gaan immers nie oor die sterrekykers nie, maar oor die seuntjie na wie hulle op soek was. Hulle het sy ster sien opkom en hulle het gekom om aan Hom hulde te bewys. Die Griekse woord vir sterrekykers is magoi (magus ekv) wat letterlik beteken “wyse manne”. Die magoi was ‘n bekende groep onder die heidene in daardie tyd. Sommige van hulle, soos in hierdie geval, was astroloë wat die tekens van die sterre bestudeer het en geïnterpreteer het om te verstaan hoe dit inwerk op die gebeure van die wêreld, terwyl ander wyse manne weer droomuitleggers of towenaars was. Vroeg in die OT, in Numeri 22-24, loop ons ook vir Bileam raak – ook hy was ‘n magus, ‘n “siener” vanuit die ooste wat, al was dit teen sy wil, ‘n seën oor Israel uitgespreek het.

Hier in Matteus het die sterrekykers gereageer vlgs die (religieuse) tradisie dat die verskyning van ‘n ster (of ‘n konstellasie van planete) die geboorte van ‘n groot koning sou aandui. In hoe ‘n mate hulle die beloftes van die OT verstaan het, daarvan sê die teks niks. Hulle het immers nie binne die tradisie van die Joodse geloof of die Messiaanse verwagting grootgeword en geleef nie. Maar dit was heel waarskynlik deur kontak met Jode wat sedert die tyd van die Joodse ballingskap in Babilonië geleef het, dat die sterrekykers gehoor het van die verwagte Messias wat gaan kom. Moontlik het hulle gehoor hoedat die ballinge psalms soos Psalm 148 (verlede week se gedig) sing in die verwagting van ‘n nuwe begin en ‘n toekoms wat vir hulle sal aanbreek wanneer God deur sy “horing”, dws die eintlike Dawidiese koning, sy krag en sy heerskappy ten toon sal stel (Ps 148:13). En toe hulle die ster sien opkom, was dit vir hulle die teken dat hierdie koning van die Jode in die lyn van Dawid gebore is, en hulle het vanuit die ooste gereis na die stad Betlehem toe, op weg om aan die Christus, die Gesalfde, hulde te bring.

Toe Herodes hoor dat daar sterrekykers vanuit die oorste gearriveer het wat op soek is na die pasgebore koning van die Jode, was hy hewig onsteld, en nie net hy nie maar ook die hele Jerusalem (die Joodse volk!) saam met hom! Wat ‘n skreiende kontras – die heidene is opgewonde oor die geboorte van Jesus en gaan om Hom te eer, maar die Jode (sy eie mense) is ontsteld en hulle huidige leier wil Hom laat doodmaak! En let op: die adviseurs van hierdie huidige leier Herodes is niemand anders nie as die priesterhoofde en die skrifgeleerdes van die volk.

Toe Herodes hulle uitvra oor waar die Christus gebore sou word, haal hulle vir hom aan, soos hulle so goed kon doen, uit die profetiese boek van Miga. En Herodes het die sterrekykers in die geheim ontbied en vir hulle uitgevra oor die ster. Hy het hulle ook gestuur om die seuntjie te gaan opsoek en dan vir hom te kom sê waar Hy is, sodat hy wat Herodes is ook aan Hom hulde kan gaan bewys. Alles natuurlik ‘n slinkse plan om by die Kindjie uit te kom en Hom dood te maak.

Hierna het die sterrekykers die ster verder gevolg tot waar dit gaan staan het bo die plek waar die Kindjie was. Ons weet nie in hoe ‘n mate die sterrekykers begryp het om Wie dit gaan nie. Maar hulle manier van verering is die tipiese Oosterse wyse waarop ‘n Oosterse koning genader is. Hulle was baie bly en hulle het ingegaan en die Kindjie saam met sy moeder, Maria, gesien, en tipies aan hulle oosterse tradisie, het hulle gekniel en aan Hom hulde bewys, hulle reissakke oopgemaak en die geskenke oorhandig. Die goud en die wierook was algemene geskenke aan konings in daardie tyd. Goud as simbool van rykdom en wierook wat as parfuum gebruik is. Mirre, ‘n salf wat gebruik is om iemand se liggaam na sy dood te salf, was nie so ‘n algemene geskenk by geboorte nie, maar dis wel interessant dat die wyse manne vir Jesus by sy geboorte ook mirre sou gee… Moontlik vind ons hier aan die begin van sy lewe reeds ‘n heenwysing na die aard van sy koningskap. Soos ook met sy geboorte in ‘n stal, en sy wiegie as ‘n krip, en sy lewe sonder heenkome, so is een van sy verwelkomingsgeskenke die tipe salf waarmee sy liggaam later gebalsem sal word.

Omdat God die sterrekykers in ‘n droom gewaarsku het dat hulle nie na Herodes toe moet teruggaan om verslag te doen oor waar die Kindjie is nie, het hulle met ‘n ander pad na hulle land toe teruggegaan. En dan verdwyn die sterrekykers heeltemal van die toneel af. Ons lees nooit weer van hulle in die Bybel nie. Die aard van hulle geloof en die verloop van hulle lewe bly vir ons ‘n geheim. Maar dat hulle aan die begin van die evangelies, aan die begin van die NT, in 12 kort versies ‘n deurslaggewende rol gespeel het in die erkenning van die baba Jesus se identiteit as die Koning van die Jode terwyl sy eie volk nog in ontkenning was of vyandig teenoor Hom gestaan het – dit kan ons nie miskyk nie.

Miskien lê die boodskap van Matteus juis hierin: die koms van die sterrekykers uit die ooste is ‘n wonder – die wonder van die vervulling van God se beloftes en die aanbreek van die eindtyd. Dit gaan om meer as bloot die sekulêre verering van ‘n koning, maar om die erkenning van die Kindjie as die “Koning van die Jode”. Israel het dié voorspellings besit en geken. Die sterrekykers het bloot ‘n ster in die hemel gesien! Dat hulle die Kindjie in sy nederige omgewing sien en tog as die Messias herken – dit is die wonder. Die eerste mense wat oor sy koms opgewonde is, die eerste mense wat voor Hom kniel, die eerste mense wat aan Hom hulde bring, is die heidene. Hy is nie eens in Jerusalem, die stad van die tempel, gebore nie, maar etlike kilometers daarvan in ‘n stal in die klein ou dorpie Betlehem. Daar waar die heidene nie bang was om Hom op te soek nie, en nie skaam was om Hom te aanbid nie. Ook dit word al in die OT voorspel. In Jes 2, en 60, Miga 4 en Ps 68: die volkere kom en die heidene bring geskenke vir die Messias. Die aanbreek van die eindtyd word ingelui wanneer die heidene, die wat van ver af kom en buite die tradisie leef, die voortou neem.

Ons kan nie die geweldige kontraste in Matteus 2 en ook verder ignoreer nie. Heidense sterrekykers soek die Messias op om Hom te aanbid, maar Herodes soek Hom om Hom dood te maak. Die vreemdes vereer Hom en die Jode verwerp Hom. Vreemdelinge is baie bly oor sy geboorte, maar Herodes en die hele Jerusalem is hewig ontsteld (‘n woord wat ook “angstig” kan beteken).

Die wonder word groter. Want aanvanklik het die sterrekykers bloot getrou gebly aan hulle tradisie – deur die ster te volg en aan die nuwe koning van die Jode hulde te bring. Ons weet immers nie in hoe ‘n mate hulle bewus was van Wie hierdie Jesus wérklik is nie, behalwe dit wat hulle by die ballinge self gehoor het. Maar wanneer die God van die Jode hulle dan in ‘n droom waarsku om nie na Herodes toe terug te gaan nie, dan luister hulle. ‘n Vreemde God verskyn aan hulle en tóg gehoorsaam hulle Hom. Dit is die wonder van die erns waarmee die heidene met God omgaan. Meer nog is dit die wonder van God wat in beheer is, selfs al matig Herodes homself alle mag en gesag aan. Herodes, ten spyte van sy menseslagting, bepaal op die ou-end nie die geskiedenis nie. Gód laat die heilsgeskiedenis in vervulling gaan – deur die gehoorsaamheid van heidene word die Seuntjie Jesus se veiligheid bewaar, selfs al het soveel ander babas rondom Hom gesterf.

Aan die einde van verlede jaar het ek ‘n praatjie bygewoon. Dit het gehandel oor gedagtes rondom die geloof van die ongelowiges. Die besprekingstema is gebore vanuit die tema van die nuutste filosofiese boeke oor die afgelope dekade. Boeke wat deur selferkende ongelowige filosowe geskryf is met titels soos The Faith of the Faithless, Religion for Atheists, An Awareness of what is Missing, This Incredible Need to Believe; om maar ‘n paar te noem. Die punt wat die huidige filosowe wat hulself met hierdie vrae ophou, wil maak, is dat die wêreld die christelike geloof nodig het. Hulle argumenteer dat georganiseerde godsdiens aan die afneem is (ons sien dit tog duidelik in die tendens van sekularisasie – al minder mense het ‘n behoefte om kerk toe te gaan of voorskrifte te volg) en dat christene genoodsaak word om op nuwe maniere met hulle godsdiens en geloof om te gaan. Maar hulle pleit dat christene steeds erns sal maak met hulle geloof – met die Skrif en in besonder met Jesus Christus. Die een filosoof, Kristeva, skryf bv in haar boek This Incredible Need to Believe:

“What you have before you, ladies and gentleman, a woman who is not a believer – a psychoanalyst, teacher, writer – convinced nonetheless that the ‘genius of Christianity’ has introduced and continues to diffuse radical innovations as concerns the religious experience of speaking beings. Innovations whose revealing and, in this sense, revolutionary and wide-ranging effects we have not done taking the measure of and that Christians themselves do not dare recognize or make recognizable as ‘Christian difference’ in today’s conflict of religions … ‘Don’t be afraid of Christianity, and together we won’t fear religions!’ I find myself wanting to say to my agnostic, humanist, atheist friends. We hail from the same continent of thought, we often rise up ‘against’ each other because we are in reality ‘right against’ one another… I have a dream [about] this vision to which I adhere that grows out of Christianity, although it is detached from it today, and has the ambition to elucidate the perilous paths of freedom.”

Ek is nie ‘n gelowige nie, maar ‘n sielkundige, dosent, en skrywer. Nietemin is ek daarvan oortuig dat die “genialiteit van die Christelike geloof” radikale nuwe denke en veranderinge aangaande die godsdienstige ervaring van die mensdom inlei en voortgaan om dit te versprei. Andersoortige denke waarvan die openbarende, rewolusionêre en wyd-verspreide gevolge nog lank nie einde gekry het nie. Ek glo dat christene self ook nog nie durf waag om te erken watter ontsaglike invloed hulle andersoortige godsdiens op die wêreld het nie. Ek wil graag vir my agnostiese en ateïstiese vriende sê: “Moenie bang wees die Christendom nie, en saam moet ons nie bang wees vir godsdienste nie!” Ons werk vanuit dieselfde denke (as die Christelike geloof). Dikwels staan ons op teenoor mekaar juis omdat ons in werklikheid reg langs mekaar staan (baie naby aan mekaar). Ek het ‘n droom oor hierdie siening wat ek onderskryf en wat groei vanuit die Christelike geloof, dat, alhoewel ek vandag op ‘n afstand staan, die doel daarvan is om lig te werp op die gevaarlike paaie na vryheid. (vry vertaal en by plekke geparafraseer)

Die wêreld het die gelowiges nodig. So sê die ongelowiges! Die wêreld het die Koning van die gelowiges nodig, die een wat in ‘n krip gebore is, die een wat eerste deur die heidene raakgesien en aanbid is. Daar is vandag heidene wat Hom weer raaksien en wat meer erns met Hom maak as ons christene. Dis asof die geskiedenis homself herhaal.

Mag die geloof (of ten minste die soeke daarna) van die ongelowiges ons ook tot geloof bring. Die einde het aangebreek. Die Kindjie is gebore en word deur heidene as Koning vereer. Dit is net ‘n kwessie van tyd voordat “elkeen wat in die hemel en op die aarde is, die knie sou buig, en elke tong, selfs ook Herodes, sou bely: ‘Jesus Christus is Here!’ tot eer van God die Vader” (Fil 2:10-11). Dat ons dít tog kan glo.

 Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.