Genesis 1:31-2:3

9 Februarie 2020

Vyfde Sondag na Epifanie
Prediker: Ds. Helgard Pretorius

’n Woord Vooraf

Ons het hierdie kwartaal begin met ’n nuwe reeks, waarin die klem val op hoe ons die Bybel lees en verstaan. As gids gebruik ons hierdie boekie, Manna and Mercy, Genoeg en Genade, om ons te help om die Bybel op lewegewende maniere te lees wat deelneem aan God se belofte om die ganse skepping te herste.

Verlede week het ek ons daaraan herinner dat konteks betekenis skep. Wanneer ook al ons ’n teksgedeelte lees, moet ons eerste vraag wees: wat is die konteks?

Vanoggend wil ek nog vier vrae met julle deel wat ons help om in gesprek te gaan met die Bybel. Die doel van hierdie vrae is nie om agter die teks in te kyk na die konteks nie. Hulle help ons eerder om die wereld te ontdek wat die teks vir ons oopbreek.

1. Wat se dit oor God?
2. Wat se dit oor die mens? menswees?
3. Wat se dit oor die omgewing?
4. Wat se dit oor die verhouding tussen God, die mens en die omgewing?

’n Vriend het eenkeer vir my gese dat as ek op ’n Saterdag sukkel om my preek te skryf  . . .

Hou hierdie vrae in jou agterkop as ons vanoggend se skrifgedeelte lees.

Skriflesing: Genesis 1:31-2:3

“God het na alles gekyk wat God gemaak het, en kyk, dit was baie goed.

En dit was aand en dit was oggend – die sesde dag.

So is die hemel en die aarde en alles wat daarby hoort, voltooi. God was op die sewende dag klaar met die werk wat God gedoen het; en God het op die sewende dag gerus van al die werk wat God gedoen het.

God het die sewende dag geseën: God het dit heilig verklaar, want op dié dag het God gerus van al God se werk – dit wat God geskep het deur dit te maak.”

Boodskap

’n Mens hoor dikwels mense sê dat die mens die kroon van die skepping is. Bedoel mens is laaste geskep op die sesde dag voordat God gerus het en daarom die belangrikste.

Maar mens is nie die laaste of die beste ding wat God geskep het nie. God het die skepping eers op die sewende dag voltooi toe God gerus het. Die Sabbat is die hoogtepunt van die skepping, nie die mens nie. Op die sewende dag word dit duidelik waaroor die lewe ten diepste gaan. Op die sewende dag word God se skeppingsbedoeling geopenbaar.

Die son en die maan merk kalendertyd: die ordelike, ritmiese afwisseling van dag en nag, elke dag soos die vorige een. Maar dis net die sewende dag wat God seën en heilig noem. Die sewende dag het ook geen einde soos die ander dae nie. Na die ander dae hoor ons, dit was nag en dit was dag, die sesde dag, maar ons hoor nooit hierdie woorde na die sewende dag nie. Die sewende dag is oop – dit wys heen na God se toekoms, na ’n herstelde wereld in die ewige rus van God se sjaloom.

Soos wat die tempel vir die Israeliete in ruimte apart gestaan het, so staan die sewende dag vir hulle apart in tyd. Hoekom het die Sabbat vir die Jode so belangrik geword? Onthou: konteks skep betekenis. Tydens die ballingskap, het die Israeliete nie meer die tempel gehad waar hulle vir God kon ontmoet nie. So het die Sabbat as’t ware vir die Jode ’n tempel in die tyd geword, ’n ontmoetingsruimte met God,’n simbool van God se teenwoordigheid te midde hulle ballingskap.

Vergelyk met Enuma Elish

Ek wil graag dat ons deur middel van ons vier vrae in gesprek gaan met hierdie merkwaardige belofte van die Sabbatrus. Om egter beter te verstaan wat die teks oor God sê, sal dit help om te weet watter idees mens in daai tyd van God gehad het. Dieselfde geld vir die vraag oor die mens. Hoe het mense oor menswees gedink? Hoe het hulle oor die omgewing gedink? Hoe het hulle oor die verhouding tussen God, mens en die omgewing gedink?

Wel, toe die Gen. 1 Skeppingsverhaal geskryf was, was daar reeds ander Babiloniese skeppingsverhale wat jaarliks tydens feeste vertel en opgevoer was. Een hiervan was die Enuma Elish. In 6de eeu voor Christus, was dit alreeds ’n classic. Dis ’n Epiese verhaal oor ’n groot oorlog tussen die gode wat eindig met die dood van die oer-seeslang Tiamat. Die see-godin se dooie liggaam word dan in die lengte oopgekloof en opgekap. Uiteindelik word die seeslang se maag die gesig van die aarde, terwyl haar ruggedeelte uitgestrek word om die hemel-koepel te vorm.

Die god wat die oorlog gewen het, die generaal-god Marduk, beveel toe vir die verloorders aan om ’n groot tempel tot sy eer op te rig op die aarde. Nadat die gode die tempel gebou het, het hulle egter vinnig agtergekom dat die ingewikkelde offerhandes wat hulle aan Marduk moet bring so veel van hulle tyd in beslag neem dat hulle nooit enige af-tyd het nie.

Dis toe dat hulle besluit om ’n nuwe skepsel te maak: mense, wat namens hulle die harde arbeid van die kosmos moet verrig. Die storie eindig met die gode wat ’n groot feesmaal geniet terwyl die nuutgeskape mense hulle afsloof. By die feesmaal sit die gode terug terwyl hulle vyftig heildronke instel op die oppergod Marduk en hulself gelukwens oor hulle slinkse plan om die mense al die werk te laat doen.

Volgens hierdie Babiloniese skeppingsverhaal, is die aarde die afval-produk van ’n wrede oorlog tussen die gode. En die mens is geskep met die spesifieke doel om slawe te wees vir gode wat eintlik niks met die aarde te doen wou gehad het nie.

Vergelyk die Gen. 1 skeppingsverhaal

In die lig van die Enuma Elish sien ’n mens hoe uniek die visie van die Genesis 1 skeppingsverhaal is.

Kom ons kyk wat gebeur as ons ons vier vrae toepas op hierdie gedeelte (voeg gerus iets by as julle dink ek mis iets):

1. Wat sê dit oor God? Watter tiepe God is dit hierdie? Hoe verskil die God van Genesis 1 van die gode in die Enuma Elish verhaal?

In Gen. 1 word God voorgestel as Een wat gee, wat rus, wat geniet. God skep vir die vreugde van geselskap en vriendskap – nie om te verbruik of om te onderwerp of om dinge van mense te vra nie.

In ’n wereld waarin die gode onvoorspelbare, bloedlustige, narsisiste is wat op willikerige wyse besluite neem en allerande dinge van mense verwag, kry ons hier ’n visie van ’n ander tiepe God: ’n betroubare God wat sorgvuldig skep en in oorvloed voorsien, ’n God wat daarin vreugde vind om te gee, ’n God wie se rus en genot nie ten koste is van die skepping en die mens nie; inteendeel, dit is ’n God wat die skepping uitnooi om aan God se rus deel te neem.

Anders as die Babiloniese gode wat terugsit terwyl die mense hulle take vir hulle verig, kry ons hier te doen met ’n God wat die mens uitnooi om aan te sit by die goddelike feesmaal.


2. Wat sê dit oor die mens? Wat sê dit oor die menslike kondisie? Oor menswees?

In kontras met die Babiloniese mite, en waarskynlik in protes daarteen, is die insig van hierdie skeppingsverhaal dat mense primêr bestaan vir die vreugde wat God in ons geselskap vind. Die God van Israel skep mense, nie as dwangarbeid nie, maar sodat die mens – man en vrou – hulle enersheid met God kan verwesenlik.

En een, baie belangrike manier waarop hulle dit kan doen, miskien die belangrikste manier waarop mense God se beeldraers kan wees, is deur, saam met God te rus en die skepping te geniet. Volgens Genesis 1, is die eerste dag van die mens se lewe ’n vakansiedag.

Die mens leef nie om te werk nie; die mens werk om te leef. In ’n wereld waarin mense primêr gesien was as hulpbron, as arbeid, as instrument, kry die mens hier ’n hoër status: die mens is eerder ’n intieme vriend van God, familie van God, selfs kinders van God.

Soos wat ’n ouer vreugde vind in ’n kind, so kies God ons geselskap sonder enige goeie rede, sommer maar net.

As ons sê dat Sabbat die hoogtepunt en doel van die skepping is, dan behoort dit ’n verskil te maak oor hoe ons, ook vandag, dink oor werk en oor rus.

Is rus en aanbidding en tyd saam met God net daar as ’n intermezzo, as ’n blaaskans tussen twee weke van afsloof en presteer en produktief-wees?

Of is rus juis die hoopgtepunt, die einddoel van die hele week, dit waarna alles verwys. Rus nie as niks doen nie. Menuah: Vrede, herlderheid, kalmte, geluk, harmonie.

3. Wat sê dit oor die omgewing?

As ons kyk hoe Israel die Sabbat tradisie geinterpreteer het, val dit ’n mens op dat alle skepsels, net-net die mens nie, moet deelneem aan God se rus. Die diere, en selfs die land moet ’n kan kry om te rus.

Met ander woorde, in hierdie skeppingsverhaal, in teenstelling met die Babiloniese weergawe, het die omgewing sy eie integriteit. Die aarde is in liefde geskep, nie deur geweld nie.

Die wereld bestaan ook nie net as ’n hulpbron vir die vervulling van die gode of die mens se begeertes nie. Iets hoef nie ’n markwaarde te hê, voordat dit waardigheid het nie.

Meer hieroor volgende week, wanneer Ernst Conradie met ons kom gesels.

4. Wat sê dit oor die verhouding tussen God, die mens en die omgewing?

Dat God die rusdag heilig noem is ’n teken van God se begeerte om in ’n baie spesifieke verhouding tot die skepping te staan.

Die ander gode skep die mens sodat hulle van die skepping af kan wegkom. God skep die mens en dan die Sabbat sodat God in ’n meer intieme verhouding tot die skepping kan staan.

En hoe lyk daardie verhouding?

Wel, dit is ’n verhouding van vryheid eerder as slawerny. Dit is ’n verhouding van liefde, van wedersydse waardering en verwondering, van sorg en oorgawe sonder ’n eksterne uitkoms.

In hierdie verhouding gaan dit nie oor die uitruil van bates of die nut wat ek uit jou kan kry nie.

Ons is nie in kompetisie met God nie. Die mens en die skepping is nie vir God ’n bedreiging nie. God is ook nie vir ons ’n bedreiging nie. Om ten volle mens te wees, beteken nie dat daar minder plek vir God is nie.

Waar God verheerlik word floreer die skepping, floreer die mens. Die heerlikheid van God is ’n mens wat ten volle lewe. Die heerlikheid van God is ’n ekosisteem wat in harmonie leef.

Nagmaal

Ons gaan nou nagmaal vier. Soos die Sabbat ’n teken is van God se begeerte om in so ’n verhouding van vriendskap met ons te wees, so is die Nagmaal ook ’n sakrament van God wat ons in God se rus innooi.

Hoe anders is dit nie as die feesmaal waar die gode vyftig glasies klink tot eer van ’n Grootmeneer terwyl die mense hulle afsloof.

Hier is ons die gaste. Hier hoef ons niks te doen om God tevrede te stel nie. Ons hoef niks te offer nie. God voorsien. God bring die offer. God bring die brood en die wyn, God bring Godself.

Genesis 1:1-2:3

2 Februarie 2020

Vierde Sondag na Epifanie
Prediker: Ds. Helgard Pretorius

Inleiding

In die jaar van die Bybel, is dit krities dat ons die Bybel op so ’n manier lees dat ons in die ontmoeting deelneem aan God se voortgaande belofte om die ganse skepping te herstel.

As ons die Bybel op lewegewende maniere gaan lees en verstaan, dan moet ons reg laat geskied aan die konteks waarin die Bybel ontstaan het – asook die konteks waarin ons leef. Hoekom? Want konteks skep betekenis.

In 1675 brand in Londen af in ’n verwoestende vuur. 9 jaar lê Christopher Wren die hoeksteen van die St. Paul’s Cathedral. Na 35 jaar is die Katedraal uiteindelik klaar gebou, en Wren kry die geleentheid om vir Queen Anne ’n toer deur die asemrowende gebou te gee. Na die toer sê die koningen vir hom: Christopher Wren: This Cathedral is awful, it is artificial, it is amusing. Kan jy dit glo? Na 35 jaar waarin hy sy lewe gewy het aan hierdie katedraal en dit is die dankie wat hy kry. Hoe sou jy gevoel het?

En tog: biografie van Wren: Hy was so dankbaar teenoor die koningen dat hy voor haar neergebuig het en vir haar dankie gesê het. Hoe kan dit wees?

In daardie dae, het die woord “awful” beteken: “full of awe!” En die woord “artificial” het beteken: “artistic!” En die woord “amusing” het beteken “amazing!” It is artistic, it is amazing, it is ful of awe!

Nou, as ons wat Engels verstaan, die gebeurtenis op die teenoorgestelde manier kan interpreteer as wat die oorspronklike gehoor (Wren) dit verstaan het, hoe staan die kanse dat ons nie soortgelyke misverstande sal begaan met die Bybel nie? Ons praat hier van antieke geskrifte van meer as 2 000 jaar oud, vanuit ’n ander kultuur, geskryf in ’n vreemde taal? Ek dink die kanse vir misverstand is groot.

Dit vra dat ons nederig en versigtig met die Bybel sal omgaan, en dat ons altyd sal vra: wat is die konteks? Want . . . konteks skep betekenis.

Kom ons luister met hierdie sensitiwiteit na ’n teks wat vir ons almal baie bekend is. Genesis 1 – die Skeppingsverhaal waarmee ons Bybels begin.

Boodskap

Wat was die konteks waarin hierdie pragtige teks geskryf is? Wie het dit geskryf? Wanneer was dit geskryf? Waar en onder watter omstandighede?

Die teks self sê nie vir ons nie. Al wat ons het, is “in die begin. . .” maar wanneer was dit?

Al opsie wat ons het, is om baie noukering te kyk na die taal wat gebruik word.

***

Kom ons probeer iets:

Good day, mate!” (Australië)

“How art thou?” (Engeland, 16de eeu)

“Hoezit, masekinners?” (Kaapse vlaktes)

***

Taal is altyd gebonde aan tyd en plek en kan vir ons belangrike leidrade gee oor die tyd en plek waar iets gesê is. Kom ons pas dit toe op Genesis 1:

Die woord wat vir God gebruik word in die eerste Genesis skeppingsverhaal is “Elohiem” – Ons weet dat die woord veral rondom die 6de eeu v.C. gebruik is om na die God van Israel te verwys.

Die styl van die Hebreeuse taal stem ook ooreen met die styl van ander tekste in die Bybel. Tekste soos Psalm 137, wat sê, “Aan die riviere van Babel, daar het ons gesit en gehuil wanneer ons aan Sion dink. Aan die rivierwilgers in daardie land het ons ons liere opgehang; want hoe kan ons die lied van die HERE sing op vreemde grond?”

Deur so aandag te skenk aan die taal van Genesis 1, kon kenners die konteks aflei: die Babiloniese Ballingskap (586-538), toe Jerusalem en die tempel verwoes is, en baie van die Israeliete weggevoer is om as slawe in Babilon te woon en te werk. En ons vermoed dat dit deur ’n priester geskryf as ’n lied of ’n preek wat tydens aanbidding gebruik was.

***

Verbeel jou, jy is die Priester van hierdie mense. Om in ballingskap te leef is om in ’n landskap van verlies en trauma te leef. Die mense het alles verloor wat vir hulle betekenis gegee het, insluitend hulle waardigheid en hulle drome.

Hulle bring nie meer hulle brandoffers nie, want hulle het nie meer ’n tempel nie. Hulle bring nie meer hulle liere om die Here te loof nie, want hulle het hulle geloof verloor. Al wat hulle bring is hulle vrae: “Hoe kan ons die lied van die HERE sing in ’n vreemde land?”

Nog meer ontstellend is dat jy sien hoe hulle harte krimpeer: jy hoor die wraakgedagtes wat hulle begin koester. Wie onthou hoe eindig Psalm 137? “Dogter van Babel, gedoem tot verwoesting, gelukkig die een wat jou vergeld vir wat jy aan ons gedoen het! Gelukkig die een wat jou kinders gryp en verpletter teen ’n rotswand!”

Wat sê jy vir hierdie verpletterde mense? Hoe inspireer jy hulle om weer die lied van die Here te sing?

Gee jy vir hulle ‘n wetenskaplike verduideliking van hoe die wereld tot stand gekom het? Sou dit jou getroos het?

Of voer jy hulle mee met ’n lied wat hulle verbeeldings aangryp en hulle hartsnare roer om weer te hoop?

Die priester het gekies vir die laasgenoemde. Met van die mooiste lisriese prosa in die hele Bybel, herinner hy sy die moedelose ballinge aan wie hulle God is, sodat hulle kan onthou wie hulle is:

***

Beresjiet, sê hy. “In die begin,” liewe gemeente, was daar net chaoswaters so vêr as wat jy kon sien.

Die ballinge sou iets van daardie donker, vloedwaters verstaan het: Sal iemand ooit vir ons die waters skei? Sal iemand ooit in God’s naam lig kan skep in ons duisternis?

Stil, die priester is aan die woord: God se Gees het oor die chaoswaters gesweef, soos ’n arend bo haar kuikens se nes sweef om hulle te beskerm – hier was ’n plan aan die broei.

En God sê: “laat daar lig wees.” En so gebeur dit. Die lig en die donker word geskei. Dag en nag. God skep tyd.

En toe het God die chaoswaters geskei soos mens ’n tent opslaan. God skep ruimte.

Maar wat van die Son en die Maan – die gode voor wie die Babiloniërs neerbuig? Is dit nie hulle wat ons lot bepaal nie? Staan alles dan nie in die sterre geskrewe nie?

Moet dit nie vir ’n oomblik glo nie, sê die priester: dit is God wat die sterre in die hemelruim geplaas het, as lanterns: goed vir warmte en lig, goed vir die kalender: mooi en nuttige liggies, niks meer as dit nie.

So skep God tyd en ruimte; maar daar is nog nie vaste grond om op te staan nie. Dan stel God perke aan die vloedwaters, sodat daar ’n skeiding kom tussen grond en water.

En vanuit die grond kom op ’n raaiselagtige iets wat tot vandag toe nog die slimste wetenskaplikes laat wonder: lewe. Plante wat spruit uit die aarde, elkeen volgens elkeen se aard. Voels in die lig, elkeen volgens elkeen se aard. Visse in die see, elkeen volgens elkeen se aard. Wilde en mak diere, goggas wat oor die aarde kruip, elkeen volgens elkeen se aard. ’n Ondenkbare verskeidenheid, elkeen volgens elkeen se aard, elkeen in God se oë goed.

Aan die einde van elke dag, sien God dat dit goed was. Die Hebreeuse woord is tov: dit is hoe ‘n kunstenaar haar diepe tevredenheid en vreugde sou uitdruk oor ‘n pragtige kunswerk.

So moedig die priester sy moedelose volk aan: “sien weer die wonder en die prag van die skepping raak: Die skepping is vriend, nie vyand nie. Vir ons mag hierdie ’n vreemde land wees, maar nie vir God nie. Hierdie riviere van Babel, die wilgers, dit is God se geliefde skepsels, ons mede-skepsels. Elkeen volgens elkeen se aard – en dit is goed.

***

En toe sê God vir Godself: Laat ons mense maak, elkeen volgens elkeen se aard. . .  Het God dit gesê?

Nee, hier word die patroon gebreuk: “Laat ons mense maak na ons beeld, as ons afbeelding . . . “God het die mens geskep na God se beeld, na die beeld van God het God hulle geskep, manlik en vroulik het God hulle geskep.”

Hier, klim die priester van sy preekstoel af en kom staan tussen sy mense: “Ek weet wat die Babiloniërs van julle sê (hulle sê dit soms van my ook) dat julle na die beeld van modder gemaak is – dat julle daar is om oor te loop.

Laat ek julle vandag herinner: julle is na die beeld van God gemaak: elkeen van julle, man of vrou of whatever.

***

Nou, die woorde, beeld van God, sou daar in Babilon ’n baie spesifieke betekenis gehad het. Konings van daai tyd het na hulleself verwys as beeld van God. Die koning het alleenreg gehad om te skep en te vernietig, om te bepaal wat is goed en wat is nie, om te heers en te onderwerp, te plunder en te verbruik.

Dikwels sou hulle ’n afbeelding van hulleself maak, ’n tselem, wat op besige publieke plekke gestaan het om mense van hulle goddelike status te herinner.

Maar Israel het nie aan hulle konings gedink as gode nie. Inteendeel hulle mag geen afbeelding van God gemaak het nie.

Hoekom nie? Want – in die begin – het God alreeds afbeeldings van Godself gemaak. Man en vrou en alles tussenin, het God hulle gemaak, na God se beeld.

Dit is ’n radikale ding om te sê: wat altyd die alleenreg was van konings, behoort nou aan alle mense. Dis nie meer net die konings wat die septer swaai nie – en moet sal hulle aanspreeklik hou vir hoe hulle heers.

Want God alleen is koning, wat skep en heers. God is die een wat bepaal wat is goed. Maar dan kies God vir vriende, vir vennote, man en vrou, “sodat hulle kan heers . . . oor die hele aarde . . .” Ons moet dit saamdoen, as een menslike gemeenskap.

Die woorde wat hier gebruik word, rada en kabash, vertaal as “heers en onderwerp,” is woorde wat ons met vrees en bewing moet sê: Ons weet hoe daardie woorde misbruik kan word.

Maar die betekenis – binne konteks – van rada en kabash, is dat die hele menslike gemeenskap God moet help sorg vir die aarde en al die skepsels, elkeen volgens elkeen se aard, elkeen in God se oë goed.

Dit beteken nie dat die mens die aarde na willekeer mag plunder en verbruik nie. Die klem moet eerder val op sorg. Soos tuiniere moet ons rentmeesters wees wat die aarde op ’n verantwoordelike manier versorg. Na die beeld van God moet ons ’n seening wees vir die aarde, nie ’n vloek en ’n pes nie.

So het die priester ook die Israeliete, wat begin het om wraakgevoelens teenoor die Babiloniërs te koester, aan hulle mede-menslikheid herinner, om mens te wees is om selfs in die gesigte van hulle wrede onderdrukkers die beeld van God raak te sien. Ook die Babiloniërs is beelddraers van God – al besef hulle dit nie.

***

Konteks skep betekenis. Vanoggend het ons die klem laat val op die konteks van die Genesis 1 skeppingsverhaal.

Maar dit is natuurlik nie die einde van die storie nie. Dit was maar net die begin. Van konteks tot konteks is hierdie verhaal oorvertel om gelowiges te inspireer.

So het die skrywers van die Nuwe Testament, in hulle eie konteks, deur hulle ontmoeting met Jesus Christus, ontdek dat God heers deur ’n lewe van diensbaarheid; dat dit is hoe God die ganse aarde wil herstel.

Maar ook dit was maar net die begin – ’n nuwe begin. Die verhaal gaan voort: Hoe gaan hierdie droom van God betekenis kry in ons konteks?

Ek hoop ons kan in die komende weke vêrder as ’n gemeenskap hieroor sal wonder en dat ons dieselfde reg sal laat geskied aan ons konteks: Want konteks skep betekenis en hierdie konteks is niks minder nie as God se geliefde skepping.

Eendag gaan God weer na die skepping kyk en ek wonder: “Gaan God steeds kan sien dat dit goed is?”

Efesiërs 1: 3; 9-12

26 Januarie 2020

Derde Sondag na Epifanie
Prediker: Ds. Helgard Pretorius

2020 is die Jaar van die Bybel en die 200ste bestaansjaar van die Bybelgenootskap in Suid-Afrika

Dit is inderdaad ’n mylpaal om te vier. Oor die laaste tweehonderd jaar, het die Bybelgenootskap die Bybel in al 11 amptelike landstale beskikbaar gestel aan miljoene mense. Hulle doelwit is om in hierdie jaar nog 2 miljoen Bybels te versprei.

Almal sou egter nie met so veel entoesiasme feesvier oor hierdie feite nie. Baie sal sê, dalk tereg, dat die Bybel ’n boek is wat oor die eeue heen, en steeds vandag, gebruik word om allerhande vorme van onreg, geweld en uitsluiting te regverdig.

In 1993 is ’n sensus gedoen in Rwanda wat aangetoon het dat 97% van alle burgers Christene is – 97% van die bevolking wat bely dat die Bybel hulle boek is; en tog, een jaar later, word amper een miljoen mense wreed deur hulle bure vermoor. Hoe kan dit wees dat mense wat hierdie boek bely as die goeie nuus van ’n liefdevolle God, sulke verskriklike dade pleeg?

Watter tiepe boek is dit hierdie? Watter tiepe boek is dit wat vir eeue lank gebruik kon word om slawerny en oorloë te regverdig, rassisme met goddelike sanksie te ondersteun en tot vandag toe nog vroue te onderdruk? Wat sê dit as ’n plek wat bekendstaan as die “Bible-belt” so te sê sinoniem is met ’n wit meerderwaardigheid sindroom, homofobie en die aanbidding van vuurwapens?

Te danke aan die 2 eeue van harde werk deur die Bybelgenootskap, is die probleem is nie dat mense nie toegang tot die Bybel het nie, of selfs dat hulle nie die Bybel lees nie. Die vraag is eerder: hoe lees ons die Bybel. Ons moet leer hoe om die Bybel op so ’n manier te lees dat dit God se lewegewende wil eer.

***

Twee jong visse swem een oggend in die see. ’n Ouer, groter vis, swem in die teenoorgestelde rigting en, soos hy by hulle verbyswem, groet hy hulle: “Môre menere, hoe’s die water?”

Na ’n rukkie, sê die een jonger vis vir sy maat: “wat is ‘water’?”

Ons lees die Bybel altyd deur ‘n bepaalde lens, vanuit ’n spesifieke perspektief. Elke perspektief werp ’n ander lig op die Bybel, wat weer maak dat die Bybel ’n eiesoortige skaduwee laat val.

Dis soos wat ’n leesbril of ’n kamera-lens die lig op ’n bepaalde manier filtreer en buig om sommige dinge in helder fokus te plaas, terwyl ander dinge vaag raak en op die agtergrond in verdwyn. Elke lens, elke perspektief het sy eie beperkinge.

Die uitdaging is dat ons soos die twee jong visse is. Ons besef nie eers dat ons besig is om deur ’n lens te kyk nie. Ons lense is so effektief en raak naderhand so gemaklik, dat ons vergeet dat hulle daar is. Soos die bril wat ek dra – sien ek nie die bril self nie; ek sien die wêreld deur die bril.

Dit bril waardeur elkeen van ons die Bybel lees, is so naby aan ons, so vanselfsprekend en gemaklik, dat ons nie eers agterkom dat ons een dra nie.

So, vriende, hoe is die water? Wat is ons lens? Wat is jou lens?

Terwyl die Bybelgenootskap in die komende jaar beoog om nog 2 miljoen Bybels te versprei, kan dit dalk ons nederige doelwit wees: om onder die leiding van God se Gees en in gesprek met mekaar, meer bewus te raak van die water waarin ons swem, en seker te maak dat ons die Bybel op so ’n manier lees en uitleef en oordra aan ander dat dit in diens sal staan van God se lewegewende, helende, versoenende wil.

***

Met die oog hierop, skop ons as gemeente vandag af met ’n nuwe reisplan: kom ons noem dit ’n pelgrimstog. ’n Pelgrimstog deur die Bybel, van Genesis tot Openbaring.

En soos enige pelgrim vir jou sal kan vertel is so ’n reis sowel ’n reis na buite as na binne. Die pelgrim ontdek so wel die terrein, die natuurlike en menslike landskap waardeur hy of sy wandel, as die kontoere van sy of haar eie hart.

My hoop is dat ons so wel die Bybel as ons eie harte beter sal leer ken, maar bowenal dat ons in ons ontmoeting met die Bybel en met mekaar, ’n ontmoeting sal hê met die God van die Bybel – want dis uiteindelik waarom dit gaan: oor ’n ontmoeting met die lewende God wat soos vanoggend se teksgedeelte so treffend sê, “die geheimenis van God se wil aan ons bekendmaak.”

Nou, oor die volgende twee jaar gaan ons as padkaart vir ons pelgrimstog ’n klein boekie gebruik maak met die Engelse titel: “Manna and Mercy.” Daar is ook ’n Afrikaanse vertaling daarvan beskikbaar: “Genoeg en Genade.” Ek gaan daarvan gebruik maak in my voorbereiding van ons eredienste en Bybelstudies en die nuwe KinderKasteel kurrikulum is ook daarop gebaseer.

Manna and Mercy is geskryf deur ’n Lutherse dominie, Daniel Erlander. Dit is ’n pragtige boek, wat hy in liefde met die hand uitgeskryf het en deurgaans geïllustreer het. Die subtitel van die boek is a brief history of God’s unfolding promise to heel the entire universe (’n bondige geskiedenis van God se voortgaande belofte om die hele skepping te herstel). Die boekie is ’n eenvoudige opsomming van die Bybel se boodskap.

’n Vriend van my wat vir Dan ontmoet het, het eendag vir hom gevra oor die titel: “Hoekom Manna & Mercy?” en nie “die Bybel” nie?

Dan vertel toe vir hom oor hoe Rabbi’s in die Bybelse tye hulle totale lering in ’n gebed opgesom het. Dis hoekom Jesus se dissipels na hom toe gekom het om vir hom te vra om vir hulle sy gebed te leer. Hulle wou met ander woorde nie net weet, hoe om met God te praat nie, maar ook dat Jesus vir hulle ’n opsomming moes gee van sy uitkyk op die lewe; ’n opsomming van wie God is en wat dit beteken om in verhouding met God te lewe.

En Jesus antwoord met wat ons die Onse Vader noem. In die hart van die gebed: gee vir ons ons daaglikse brood (manna, genoeg) en vergewe ons sondes (mercy, genade). Manna and Mercy; Genoeg en Genade.

Dit, beweer Dan Erlander, was Jesus se lens: op die Bybel, op die lewe, op God. Dit is die tema wat op God die hart dra, die diepste stroom wat soos ’n goue draad wat deur die hele Bybel vloei. Genoeg en Genade is ’n poging om met daardie lens van Jesus deur die Bybel op reis te gaan van Genesis tot Openbaring.

In die voorwoord tot die boek speel Dan oop kaarte: hy erken: soos ek vroeër gesê het, dat ons almal die Bybel met ’n stel leesbrille benader. Hy kies om die Bybel, so getrou as wat hy weet hoe, deur die lens van die Jesus-storie en die Christus-gebeure te lees.

Vir hom beteken dit dat dié gedeeltes van die Bybel wat ’n regverdige, genadige, vredemakende, inklusiewe en nie-hiërargiese samelewing verbeeld duideliker na vore sal kom.

In die proses sal ander dele moet terugstaan: daardie dele wat ’n neig na etnosentrisme, uitsluiting, patriargie en domineering.

***

En dan haal hy Efesiërs 1:9-10 aan, wat ons ook vanoggend gelees het, as die een Bybelteks wat hom meer inspireer het as enige ander:

God het die geheimenis van sy wil

aan ons bekend gemaak,

soos God dit goedgedink en voorgeneem het,

om . . . om alle dinge in Christus

onder een Hoof saam te bring –

die dinge in die hemel en die dinge op die aarde –

ja, alles saam in Hom.

Wanneer Paulus hier skryf aan Efesiërs, sit hy in die tronk.

Hy begin sy brief met ’n lang loflied. Weer en weer sing hy: Lofwaardig is die Here.

En in die hart van die loflied, vanuit die donker, beklemmende tronksel, sien Paulus met helder oë, die geheimenis van God se wil wat tot die uithoeke van die ganse skepping strek. Vanuit sy eie gevangenskap sien hy die vryheid van God wat alle dinge, alle dinge, in die hemel en op die aarde, onder een hoof wil versoen: Jesus Christus. Genoeg en Genade.

***

Erlander het ’n treffende illustrasie van hierdie asemrowende visie gemaak.

  • Daar sien ons God se droom: die ganse skepping wat God se heerlike sjaloom geniet.
  • Die mens en die natuurlike wêreld wat in harmonie leef. Die mens wat die aarde dien en versorg, die aarde wat die mens voed en omhels.
  • Ons sien ’n gemeenskap van gelykes wat om die etenstafel mekaar se waardigheid erken, ten spyte van diversiteit.
  • In die hart van die skepping is Christus, arms oop, van wie ons elke geestelike seëning in die hemel ontvang, hy staan by sy tafel, hy gee homself.
  • Ons sien sy toewyding in die spykermerke aan sy hande: Dis ’n teken van God se liefde, maar ook ’n bewys dat daar weerstand teen God se droom is, dat daar ’n koste daaraan verbonde om die weg van Genoeg en Genade in die wêreld te loop.
  • Daarom, oor Jesus se regter skouer, sien ons die kruis. Maar die kruis is kaal. Die dood, die weerstand teen God se liefdevolle droom, kon Jesus nie vashou of terughou nie. Hy leef en hy roep ons om God se droom saam met hom te betree.

***

Onder aan die prentjie is ’n baie lang, Griekse woord: Anakephalaiosasthai.

Dit is die woord wat Paulus daar in sy sel gebruik het om te beskryf wat God aan die doen is wanneer Hy alle dinge in die heelal onder een hoof saambring.

Dalk was een van Paulus se mede-gevangenisse ’n wiskundige gewees, want die woord – anakephalaiosasthai – kom van antieke wiskunde af. Die totaal van baie afsonderlike syfers het bekend gestaan as die anakephalaiosasthai. Dit is die nommer wat al die alle getalle in homself opneem. Dit is wat Jesus Christus aan die doen, is – om elke deel van die heelal, deel te maak van een harmonieuse huishouding, een familie, om een tafel.

Dalk is dit hoekom die bekende teoloog, Rowan Williams gevra is wat die woord “God” vir hom beteken, hy net twee woorde gesê het: “love” and “mathematics”

Of dalk is dit hoekom die filosoof en digter, Willie van die Merwe, toe iemand vir hom vra of hy in God glo, die volgende gedig opgesê het. Die gedig se naam is optelsom.

Jesus min my,

tel my op,

maal my,

deel my,

tot ek klop

Dit is waarvoor die Bybel is. Dit fasiliteer ’n ontmoeting met die anakephalaiosasthai van ons bestaan, van die ganse heelal – tot ons klop, tot die hele skepping klop. Mag dit in die jaar van die Bybel, vir ons en vir vele ander, waar wees.

Markus 10:35-45

24 Februarie 2019

Sewende Sondag na Epifanie
Prediker: Ds. Lenois Stander

So bietjie meer as ‘n maand terug het Kerkbode, die kerkkoerant van die NG Kerk, berig oor die resultate van die onlangste koppetelling in die NG Kerk.

Die jongste data sê die aantal belydende lidmate het die afgelope jaar afgeneem met amper 21 000. Dit bring die totale aantal lidmate op 691 000, en die aantal dooplidmate op amper 190 000.

Hierdie nuuste syfers was nie voorheen vir die publiek beskikbaar nie, so kort nadat Kerkbode dit bekendgemaak het, het ander nuuskanale dit opgetel. Die opskrif in die Burger was:

“NG Kerk se lidmate val in 19 jaar met bykans 25%”

Ek is nie heeltemal seker waarom hulle nou juis gekies het om na die afgelope 19 jaar se daling te kyk nie. Seker omdat dit ‘n heelwat beter opskrif maak as:

“NG Kerk se lidmate val in 2018 met 2,5%”

So die opskrif was ‘n bietjie sensasioneel, maar die beriggewing was basies korrek: Die NG Kerk verloor lidmate en mense stem nie heeltemal saam oor die redes nie. Op sosiale media het baie mense saam gespekuleer elkeen met sy eie teorie oor die wérklike rede waarom die NG Kerk aan die krimp is.

Is dit emigrasie of ‘n dalende geboortesyfer, soos sommiges aanvoer?

Of is dit eerder ‘n gevolg van die feit dat die tradisionele begrip van lidmaatskap nie meer sin maak nie, omdat mense tussen gemeentes beweeg?

Ander mense sê die Kerk het eenvoudig irrelevant geword vir moderne gelowiges. Mense stel nie meer belang in wat die dominee sê as jy sommer self kan Google nie.

Sommige mense dink die NG Kerk se hantering van die gay-debat die afgelope aantal jare het groot skade aangerig. Ek vermoed mense aan beide kante van die saak, dink soms so.

Ander sê die NG Kerk het sy teologiese legitimiteit, sy integriteit, verloor toe hy ‘n teologiese begronding vir apartheid verskaf het.

En nog ander mense dink die Kerk se tyd is eenvoudig verby: dat dit te verwagte is dat die NG Kerk – en alle kerke – sal krimp in ‘n sekulêre samelewing waar dit nie vir almal duidelik is waarom hulle vir God nodig het nie.

Maar wat vir my meer interessant was as die spekulasie oor die REDES vir die krimping van die kerk, was die styl, die toon, waarin mense aan die gesprek deelgeneem het.

Uit baie se kommentaar het dit helder geblyk dat hulle bly is dat die kerk krimp.
En alhoewel hierdie “kry-vir jou” houding in sommige gevalle ongenuanseerd of onbillik mag wees, dink ek dit kom in baie gevalle van goeie getroue lidmate wat iewers lang die pad ernstig seergekry het.

Seergemaak deur ‘n onsensitiewe dominee, ‘n moeilike kerkraadvoorsitter, ‘n rassistiese medegelowige, ‘n eng sinodebesluit, ‘n kwaai kerkkantoortannie, of sommer net die ontnugtering om te ontdek dat ook die kerk nie perfek is nie.

Baie lidmate, of voormalige lidmate, loop rond met letsels – die stil getuienis van die feit dat die kerk daartoe in staat is om wonde te maak.

Wat kan die kerk, wat kan ONS doen om seker te maak dat ons nie mense verwond en vervreem nie? Wat is die gemene deler in gevalle waar gelowiges seer-maak, eerder as heel-maak? Hoe kan ons wat deel is van hierdie kerk, leer uit ons foute?

My beste raaiskoot is dat TE VEEL MAG feitlik altyd ten minste ‘n groot deel van die probleem is.

Dit laat my dink aan ‘n aanhaling uit die 2002 Spiderman-fliek wat byna die status van ‘n cliché bereik het. Peter Parker, oftewel Spiderman se Oom sê vir hom:

“With great power comes great responsibility”.

Soos dit met die meeste clichés is, steek daar dalk heelwat waarheid hierin. Want hoe meer mag jy het, hoe minder mense is daar wat oor jou skouer loer om jou reg te help wanneer jy voor die versoeking staan om jou mag onbehoorlik te laat geld.

Dink maar aan die regeerders van ons eie land, die politici wat soms spreekwoordelik met moord wegkom. Dit is moeilik om versoekings te weerstaan as jy soveel mag het dat jy weet jy kan met misbruik wegkom.

Is dit moontlik vir ‘n kerk om té veel mag en invloed te hê? Is dit moontlik vir ‘n kerk om té groot te word?

Jaco Strydom, ‘n dominee van Pretoria, skryf ‘n rukkie terug in die koerant. Hy vra:

“Waarom is die impak van die groot kerk van vandag kleiner as die impak van die klein kerk van destyds?”

“Waarom gaan dit nie beter in ’n gemeenskap met letterlik ’n kerk op elke hoek nie?”

“Moet daar nie groter vrede wees in ’n land met soveel vredemakers nie? Daar is dorpe met meer kerkgeboue as straatkinders en steeds is die kinders op straat.”

Moeilike vrae, né?

*****

Die onderliggende aanname by amper almal wat kommentaar gelewer het op die nuus dat die NG Kerk krimp – of hulle dit nou vier of betreur – is dat ‘n groot, sterk, magtige kerk, iets is om na te streef, ‘n positiewe mikpunt om te behaal. Want so werk die logika van ons samelewing:

hoe meer invloed, mag of geld jy het, hoe meer suksesvol is jy. In besigheid, in die sosiale arena, in politiek – feitlik orals werk dit so. Wanneer gelowiges hierdie logika op die kerk van toepassing maak, word dit nodig vir die NG Kerk om in die markplek van kerke te kompeteer.

En dan raak ons bekommerd oor die feit dat ons eie denominasie krimp terwyl sommige Charismatiese kerke groei. Plaaslike gemeentes begin om hul sukses te meet aan erediensbywoning, aan die omvang van die gemeente se inkomste, aan hoe dinamies die dominee is, en aan watter welvarende lidmate na die gemeente oorstap.

Wanneer ‘n gemeente of denominasie se sukses só gemeet word, maak dit sin om die krimping van die kerk te vier of te betreur, afhangende van hoe goedgesind jy die kerk is.

Maar dit is nie hoe Jesus gedink het oor die maatstaf van gemeentelike sukses nie. Dit is nie hoe Jesus gedink het oor die kerk se verhouding met mag nie.

Ons sien dit wanneer ons ‘n gedeelte soos Markus 10:35-45 lees, waar Jakobus en Johannes vir Jesus vra om vir hulle die ere-sitplekke, links en regs van Hom, te gee wanneer hy as koning heers.

Kan jy jou dit voorstel, dat jy vir Jesus vra vir ‘n eresitplek?

Selfs Jesus se dissipels, wat soveel ure in sy teenwoordigheid deurgebring het, wat soveel blootstelling aan sy leringe en voorbeelde gehad het, het die aantrekkingskrag van invloed en mag gevoel.

So as ons eerlik is met onsself sal ons antwoord: “Ja, ek kán dit vir myself voorstel. Ek sou waarskynlik ook vir ‘n eresitplek gevra het.” Want ons wéét hoe die aantrekkignskrag van invloed en mag voel.

Maar dan antwoord Jesus met hierdie woorde:

“Julle weet dat dit by die nasies so is dat hulle sogenaamde regeerders oor hulle baasspeel en dat hulle groot manne die mag oor hulle misbruik.
Maar by julle moet dit nie so wees nie. Elkeen wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaar wees; en elkeen onder julle wat die eerste wil wees, moet julle almal se dienaar wees. Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense.”

Ek dink nie Jesus kon dit sterker gestel het nie, nie in woord óf daad nie. Met hierdie woorde keer hy die dissipels se onderliggende logika wat sê dat mag en invloed die hoogste waarde is, op sy kop.

Nee, sê Jesus, die hoogste waarde is nie mag nie, maar om te dien. “Elkeen wat eerste wil wees, moet almal se dienaar wees.”

Hieroor skryf Neels Jackson, voormalige redakteur van Kerkbode, onlangs in die koerant:

“’n Kerk wat met mag besmet word, verloor hierdie fokus.”

Jaco Strydom maak dieselfde punt op ‘n ander manier wanneer hy opmerk:

“’n Kerk wat probeer floreer is met ander vrae besig as ’n kerk wat, soos Jesus, sy lewe probeer gee vir ’n stukkende wêreld. Dalk het die kerk te veilig en te groot geword om in die donker krake van ’n stukkende samelewing in te pas.”

Dit is alles verskillende maniere om te sê:

Hoe meer magtig ‘n kerk word, hoe minder is hy daartoe in staat om Jesus se voorbeeld te volg, en te dien. Want die kerk bestaan maar uit mense soos ek en jy, mense wat soms swig voor die versoeking van mag, en dit dan verkeerd aanwend.

*****

Kan ons met mekaar eerlik wees oor hierdie tekortkoming van ons? – Dat ons nie immuun is teen die versoeking om ons mag te misbruik nie? Dat die geskiedenis dit reeds vir ons geleer het?

Indien dit so is, is ‘n kleiner, minder magtige NG Kerk nie dalk beter in staat om Jesus se opdrag – om te dien – uit te voer nie?

Dalk is die krimping van die NG Kerk ‘n geleentheid, ‘n uitnodiging vir hierdie kerk om weer tot bekering te kom.

As mens Jesus se argument volg, is ‘n kerk wat weer tot bekering kom een wat leer om vanuit ‘n posisie van weerloosheid die evangelie verkondig. ‘n Kerk wat dít doen, is ‘n kerk met integriteit, is ‘n geloofwaardige kerk.

Jaco Strydom stel dit só:

“Liefde word geloofwaardig wanneer jy so naby kom dat die een vir wie jy sê “ek het jou lief,” jou kan seermaak – in Jesus se geval kon doodmaak.”

Dit is om te sê: Die kerk, en by implikasie elkeen van sy lidmate, sal risiko’s moet loop, net soos Jesus ook die risiko geloop het om seer te kry. Wanneer ‘n kerk só ver gaan, is die boodskap wat hy verkondig, geloofwaardig. Wanneer ‘n kerk só ver gaan, ontwapen dit diegene wat op die kantlyn staan en lag. Wanneer ‘n kerk só ver gaan, beliggaam dit die evangelie.

In praktyk is dit moeilik om te doen, want jy doen dit ten koste van jouself.

Laasjaar het die gemeentes van die Paarl, waarvan my tuisgemeente een is, gehoor dat ‘n ander gemeente van die Noordelike voorstede beplan om ‘n nuwe bediening in die Paarl te begin.

Trouens, die nuwe bediening was reeds op klein skaal aan die gang, en die persone wat die roeping vir hierdie kerkplanting ontvang het, wou gaag hul visie met die gemeentes van die Paarl deel.

Dit was egter interessant om te sien hoe sommige plaaslike gemeenteleiers en predikante, instinktief beskermend gereageer het. Daar het verskeie vrae ontstaan:

Waarom ‘n nuwe kerk begin in ‘n dorp waar daar daar reeds so baie kerke is? Wat gaan die impak op die bestaande gemeentes wees? En natuurlik dink dominees: wat as my gemeente leegloop? Wat word van my bediening?

Hierdie vrae het deur my en sommige kollegas in die ring se koppe gegaan. Want ons het belange om te beskerm. Ons was bang ons mag en invloed en voorregte raak minder.

Maar gelukkig is dit dan ook moontlik om verby hierdie vrae te beweeg en die groter prentjie raak te sien. Dat ons geroep is om te dien. Ja, selfs ten koste van ons eie magsposisies, voordele, gemak, finansiële sekerheid en aansien. Dan is ons ‘n missionale kerk – ‘n kerk wat aansluit by dit waarmee God reeds besig is in die wêreld.

Waar moet ons begin?

Die beste plek om te begin is die nood op ons eie voorstoep. Ons weet goed hoe dit lyk. Kom ons volg Jesus se voorbeeld en was al die stowwerige voete wat hier by ons verbygaan.