Johannes 18:33-38

25 November 2018 – Fees van Christus die Koning
Prediker: Ds. Helgard Pretorius

Wat is waarheid?

Glo ons nog in waarheid?

Al hoe meer mense praat van ons tyd as ’n ‘post-truth’ era – ’n era waarin die waarheid nie meer vatplek het by mense nie, waarin feite sonder gevolge ontken kan word, waarin mense sukkel om betroubare nuusbronne te vind (mens weet nie altyd meer wanneer is dit news en wanneer is dit fake-news nie). Soos ons amper elke week in die nuus sien, kan korrupte politiese en besigheids-leiers met moord wegkom deur eenvoudig stories te spin of gewoon blatante leuens te vertel.

Ons samelewing is in ’n krisis. Dit is nie meer vanselfsprekend dat mense in die waarheid vertrou nie. Ons weet nie wie om te glo nie. Ons luister met groot wantroue na mekaar. Die getuienis van slagoffers en armes val op dowe ore, terwyl die invloedrykes se verhale wyd en Suid verkondig word.

Ook waar die publieke en persoonlike mekaar kruis: bedrieg ons selfs onsself, weerhou ons ongeleë of pynvolle waarhede van onsself. Ons is verwar, selfs oor ons eie diepste waarheid. Ons twyfel, selfs in ons eie diepste oortuigings.

En tog leef ons in ’n tyd waarin dit al hoe belangriker raak dat daar mense is wat bereid is om die waarheid te praat – mense wat die moed het om voor mag en teen mag onheil te ontmasker, mense wat die persoonlike en politiese risiko’s loop om leuens te ontbloot, mense wat soek na die waarheid, al beteken dit dat hulle hul eie skuld moet erken; mense wat in diens staan van die waarheid, wat van die waarheid te getuig – al is dit ook ’n kostelike getuienis.

***

In die gedeelte waarby ons vanoggend stilstaan, waarin Jesus deur die Romeinse en Joodse leiers verhoor word, word hierdie temas op ’n dramatiese manier beklemtoon.

Wat beteken dit om in die aangesig van groot mag en persoonlike bedreiging nogtans getuies van die waarheid te wees?

Op hierdie Sondag waarop ons die koningskap van Jesus vier, sien ons hoe twee koninkryke met mekaar bots: Die koningskap van die Romeinse Ryk, verteenwoordig deur die Goewerneur Pontius Pilatus; en die koningskap van die God van Israel, verteenwoordig deur Jesus van Nasaret.

Volgens, Raymond Brown, ’n kenner van die Johannes-evangelie, speel hierdie verhoor van Jesus voor Pontius Pilatus (waaraan die evangelieskrywer ’n groot gedeelte afstaan) eintlik in sewe kleiner tonele af. Die sewe tonele word aan mekaar verbind deur Pilatus wat herhaaldelik in en uit die Paleis beweeg: na buite, na die Jode; en dan weer in die paleis in, na Jesus.

In die eerste toneel is hy buite, by die Joodse leiers: vra hy vir hulle watter klag hulle teen Jesus bring.

Dan is hy weer binne, dit is die toneel waarby ons vanoggend stilstaan, waarin hy vir Jesus vra of hy die Koning van die Jode is, en uiteindelik: “wat is waarheid?”

In die derde toneel, wat op ons gedeelte volg, is hy weer buite: om vir die Jode te vra wie hy vir hulle moet vrylaat, Jesus of Barabbas?

In die vierde en sentrale toneel is hy weer binne by Jesus: dan laat Pilatus toe dat die soldate vir Jesus, die Koning van die Jode, slaan en spot.

In die vyfde, neem Pilatus vir Jesus saam met hom na buite; sê hy vir die skare: aanskou die mens! Ek kan geen skuld in hom vind nie.

Daarna is hulle weer na binne. Pilatus vra vir Jesus of hy besef dat hý, wie Pilatus is, die volmag het om vir Jesus te kruisig.

Uiteindelik, in die sewende toneel, nadat die Jode sê dat hulle geen koning het behalwe die keiser nie, gaan Pilatus weer na buite. Hy was sy hande in onskuld, gaan sit op sy regterstoel, en handig vir Jesus oor om gekruisig te word.

***

Hierdie boeiende, dramatiese uitbeelding van Jesus se verhoor is propvol simboliek en ironie; amper elke handeling deur die karakters, elke sin wat hulle sê dra meerdere betekenisse.

Pilatus se aanvanklike vraag aan Jesus – ‘is jy die koning van die Jode?’ – kan byvoorbeeld ook as ’n stelling vertaal word; amper asof Pilatus inloop en sê: ‘so, jy is die koning van die Jode.’ Die oorspronklike Griekse teks laat albei moontlikhede toe. Dit lyk asof Jesus hom ook so hoor, want toe Pilatus later vir Jesus vra, “is jy dan tog ’n koning?” antwoord Jesus: “u sê dat ek ’n koning is.”

Wanneer Jesus sê dat sy koningskap nie van hierdie wêreld is nie, gee hy as teken hiervoor die feit dat sy dienaars nie geveg het om te keer dat hy oorgelewer word nie. Die Grieks woord huperetai, wat met dienaar of volgeling vertaal kan word, is dieselfde woord wat op ander plekke in die evangelie vir die tempelpolisie gebruik word.

Op hierdie ironiese wyse illustreer Jesus dat sy koningskap anders is as die van Pilatus, anders as hoe die wêreld mag en gesag beskou. Jesus se koninkryk en heerskappy is op diens gerig en nie op die handhawing van sekuriteit met behulp van mag en geweld nie.

Dit help ons om ook raak te sien wat Jesus bedoel het toe hy sê dat sy koningskap nie van ‘hierdie wêreld’ is nie. Hy verwys nie hier na ’n ander plek, asof sy koninkryk iewers in ’n ander, geestelike realm gesetel is wat niks met hierdie wêreld met sy politieke realiteite te make het nie.

Nee, daardeur bedoel Jesus eerder dat sy koningskap ’n ander modus operandi het as wat ’n mens van die wêreld se koninkryke kan verwag. Koninkryke van hierdie wêreld veg; fisiese en militêre mag; strategiese optrede, manipulasie en intimidering – dit is die orde van die dag.

Jesus se koningskap kom egter uit ’n ander oord – dit is die koningsheerskappy van  die God van Israel; ’n heerskappy wat sy oorwinnings op ander maniere wen.

Deur Jesus se verkondiging en bediening sien ons hoe ’n ander tiepe krag in hierdie wêreld inbreuk – die lewegewende krag van liefde en trou – selfs vir jou vyande, van wedersydse diensbaarheid en sorg vir die weerloses, van genade en barmhartigheid eerder as veroordeling en onderdrukking.

Daarom, wanneer Pilatus vir Jesus vra: “nou wat het jy gedoen om hier te beland?” is Jesus se antwoord dat hy eenvoudig oor hiérdie waarheid getuienis gelewer het.

“Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek na die wêreld gekom: om oor die waarheid te getuig. Elkeen wie se bestaan in die waarheid gegrond is, luister na my stem.”

Sy antwoord herinner aan Johannes 10 waarin Jesus homself beskryf as die goeie herder, die een wat bereid is om sy lewe af te lê vir sy kudde. Onthou dat “die herder” ook in Israel ’n verwysing is na “die koning.”

Anders as Pilatus, beskou Jesus nie sy koningskap as ’n lisensie om vanuit ’n posisie van mag oor ander ’n oordeel te lewer nie. Vroeër het Jesus vir sy dissipels gesê: “Ek het as lig in die wêreld gekom, sodat dié wat in My glo nie in die duisternis sou bly nie… Ek het nie gekom om die wêreld te veroordeel nie, maar om die wêreld te red.”

Dít is nie mag en invloed wat die waarheid verseker nie. Waarheid is nie eenvoudig gelyk aan wat mense in posisies van mag as waar bepaal nie. Waarheid is nie eenvoudig wat ook al die meerderheid binne ’n bepaalde oomblik dink nie. Waarheid is nie wat die massas daarbuite graag wil hoor nie.

Jesus ontkoppel as’t ware “die waarheid” van aardse vorme van mag en invloed, en heg dit dan weer aan die heerskappy van Goddelike liefde en trou. Waarheid word getoets aan of dit die duisternis verdryf, of dit lewe gee in dodelike omstandighede, of dit red in omstandighede van nood.

Wanneer Pilatus dus, aan die einde van hierdie toneel vir Jesus vra: “wat is waarheid” reageer Jesus nie met woorde nie. Jesus tree met hom in ’n intellektuele debat nie. Hy probeer nie met hom onderhandel nie.

Dis asof Jesus sê: “Hier is ek, die goeie herder wat sy lewe aflê sodat ander mag lewe. Hier is ek, die koning wat dien. Hier is ek, die betroubare getuie. Hier is my liggaam, hier is my boodskap en my lewe – dit is my getuienis.” Dit is ’n beliggaamde waarheid. Die waarheid is die Woord van God wat vlees geword het.

***

Ek sluit af.

In hierdie ontmoeting tussen Jesus en Pilatus sien ons tegelyk die tragedie van die mens én die hoop van die mens. Ons sien onsself, in die diepte van ons sonde en ellende, as in die hoogte van wat deur God se genade vir ons moontlik is.

In Pilatus, sien ons die tragedie van die mensdom – wat ook die tragedie van ons eie tyd is: In Pilatus sien ons hoe ’n onskuldige lewe deur politieke misbruik vernietig word; ons sien hoe ’n regsisteem wat mense moet beskerm in diens staan van die grootste onreg; ons sien hoe ’n verteenwoordiger van die klassieke wêreld, al haar kennis en kulturele prestasies inspan om die waarheid wat voor hom staan te verwerp, ons sien hoe die publieke opinie gebruik word om die waarheid te bedek en aandadig word aan ’n verskriklike moord.

In ’n sekere sin is Pilatus ’n simbool van ons almal.

Soos Ann Wroe skryf: “The Pilate of the gospel… is all men facing, considering and ultimately rejecting truth. That is why people cling to Pilate… like an audience at show, they love to watch him teeter, and struggle, almost save himself, and fall. In some sense they feel they are watching themselves.”

Want dit is nie net die mense in hoë plekke wat ’n verantwoordelikheid het om die waarheid te praat nie – dit is ons almal, wat in talle daaglikse, onopsigtelike oomblikke uitgedaag word om in woord en daad getuies te wees van die waarheid.

In so veel gevalle is Pilatus se tragedie dan ook ons tragedie. Ons vind redes om nie die waarheid te praat nie, om nie met ons lewens van die waarheid te getuig nie. Soms is dit uit selfbelang; soms is dit weens lojaliteit; soms is dit uit vrees.

Soos Dirkie Smit skryf in een van sy rubrieke:

“ons vind maniere om ons hande in onskuld te was. Ons weet (glo) nie wat om te doen nie. Werk (glo) eerder van binne af. Beoefen (glo) lojale verset – met baie lojaal en weinig verset. In stede van bely (truth to power) wonder ons hande wringend, soos Pilatus, “wat is waarheid?” Asof ons omgee.”

Dit is die tragiese wat ons in hierdie toneel sien.

***

Daar is egter ook hierin ’n boodskap van hoop. Soos ook in ons dag, waarin die magtiges so dikwels skotvry daarvan afkom, lyk dit asof Pilatus seëvier.

Johannes wil egter met hierdie vertelling vir ons sê dat daar iets anders hier aan die gebeur is. Op ’n misterieuse manier is die God van Israel selfs hier aan die werk. Selfs hier waar die mensdom se sonde en ellende ’n dieptepunt bereik, bly God aan die waarheid getrou. Op die punt waarop Pilatus dink dat hy vir Jesus veroordeel, veroordeel hy eintlik homself. Wanneer hy dink dat die volmag by hom lê – om lewe te gee en te neem – is daar ’n hoër gesag wat sal bepaal hoe die verhaal gaan eindig, ’n dieper waarheid wat die laaste woord sal hê.

Jesus is die waarheid en die waarheid het opgestaan. Die lig het in die duisternis geskyn en die donker kon dit nie uitdoof nie. Die waarheid leef, en ons wat in sy waarheid gegrond is, kan sy stem herken, hoor dit ook vandag, tussen al die lawaai.

Ja, ons leef in ’n wêreld waarin daar karakters soos hierdie Pilatus is – en soms hoef ons net in die spieël te kyk om dit te besef – maar op hierdie Sondag word ons daaraan herinner dat dit nie die diepste waarheid oor ons is nie, dat dit nie die laaste woord oor ons is nie.

Dit is nie Pilatus wat die laaste woord het nie, maar die God van Jesus Christus, wat hom uit die dood opgewek het. Christus is teenwoordig, selfs in die dieptes van ons sonde en ellende en ontrou. Jesus se koningskap is werksaam onder ons – al haal dit nie die nuus nie.

Dit is werskaam deur vir ons die moed te gee om die waarheid te praat, om onheil te ontmasker, al kos dit ook lyding; deur ons as ’n gemeenskap te vorm wat in die kragveld van God se Gees, die lewe van Jesus herdenk – en in woord en daad daaroor getuig… ’n Gemeenskap wat weet dat Jesus koning is en daarom saam met hom kan staan by hulle wat aan die hande van magsmisbruik en korrupsie ly.

Dit is werksaam in die getuienis van mense soos John Odendaal, wie tot op sy sterfbed toe nog oor die waarheid van versoening en genesing getuig het, wie selfs na sy dood dit steeds regkry om brûe te bou en mense oor grense heen aan mekaar te verbind.

Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Helgard Pretorius word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.