Genesis 4

1 Maart 2020

Eerste Sondag van Lydenstyd
Prediker: Ds. Helgard Pretorius

’n Woord vooraf

Geskryf in Babilonië, tydens die ballingskap, in die aangesig van geweld, slawerny en verdrukking, begin die Bybelse verhaal met ’n skeppingsverhaal wat getuig dat die wereld in liefde geskep is, deur ’n liefdevolle God.

Die Babiloniese skeppingsverhale vertel ’n ander storie: van mense wat in geweld, deur geweld en vir geweld geskep is. In Babilon is geweld en tirranie van die begin af daar. Nee, sê Genesis 1-3, die mens is in liefde geskep, deur liefde, vir liefde, maar – soos ons verlede week gesien het – met die vryheid om anders te kies, met die vryheid om nie lief te hê nie.

Die res van die Genesis verhaal, eintlik reg deur die Bybel, word Israel gekonfronteer met ’n keuse: gaan ons die Babiloniese weg volg, waar die sterke altyd seevier, indien nie met mag nie, dan deur geweld.

Of volg ons die Bybelse weg van Sjaloom, van liefde en harmonie en herstel?

Soms, soos in Gen. 4 wat ons vanoggend gaan lees, sien ons hoe weerloos en kwesbaar die weg van Sjaloom is, en is dit nie altyd duidelik watter van die twee wee gaan seevier nie.

Boodskap

Ons teksgedeelte vanoggend begin met ’n uitroep van trots. Na die antiklimaks, van Adam en Eva die tuin moes verlaat, is daar vir hulle ’n tiepe oorwinning:

“Met die hulp van die Here het ek ’n man verwek!”

Het jy al ooit gehoor van ’n pasgebore babatjie wat ’n man genoem word? Sy noem hom Kayin, dit beteken in Hebreeus “om te maak”, “om te verkry”, “om te besit”. ’n Sterk naam vir ’n sterk man. Die eersgeborene – ma se se grootseun.

Sy het weer geboorte gegee, lees ons, aan Kayin se broer. Die keer roep Eva niks uit nie. Anders as die man waaraan sy eerste geboorte gegee het, is hy maar net nog een, maar net Kain se broer.

Kain se broer se naam is Abel, of in Hebreeus Hewel: dit beteken ‘voggie’ of ‘asemteugie’; ook vertaal as ‘tevergeefs’ of ‘sonder betekenis’. Dit is soos ’n ‘voggie’ wat in die oggendson verdamp en verdwyn – en dit, hoor ons later, is ook presies wat met Abel gebeur.

Teenoor die man, Kayin, wie se naam impliseer dat hy ’n go-getter was, is Abel as  laasgeborene onder op die sosiale ranglys. Ses keer word daar na hom verwys as Kayin se broer, maar nooit na Kayin as Abel se broer nie. Kain tree ook nooit teenoor Abel op as ’n broer nie. Die enigste keer wat Kain na sy broer verwys is dit juis om broederskap te ontken.

“Waar is Abel, jou broer?” vra God vir Kain, amper soos wat God vir Adam gevra het, “waar is jy?” God se eerste twee vrae: “waar is jy?” en “waar is jou broer?” Hoe staan ek ten opsige van God? en Hoe staan ek ten opsigte van my naaste? Om die twee vrae wentel alles – so lank ons die aarde en die diere ook as ons naaste beskou.

“Waar is Abel, jou broer?”

“Ek weet nie? Is ek dan my broer se oppasser?” Antwoord Kain. “Oppas,” is dieselfde as wat die mens geroep is om vir die skepping te doen: om dit te dien en op te pas. Maar Kain is nie ’n oppaser nie. Hy is ‘die man’. Hy wou eerder heers en moor as dien en oppas.

***

So vêr, in die storie, wil dit blyk of God die enigste een is wat vir Abel met guns beskou, wat vir Abel erkenning gee, wat vir Abel uitkyk en na hom vra.

Dit is blykbaar ook wat aanleiding gegee het tot Abel se moord. Ons lees dat God na Abel en sy offer gekyk het en nie na Kain en sy offer nie.

Dis amper asof God liggaamlik teenwoordig was (soos God in die skemeraand deur die tuin geloop het), en soos ’n mens net in een rigting op ’n slag kon kyk. Toe kyk God na die jongste eerder as die oudste. As Kain maar net saam met God gaan kyk het, sou hy daar sy broer gesien het.

God het vir Abel met guns beskou, toe niemand anders het nie.

Is dit nie iets wat ons weer en weer in die Bybel raaklees nie? Dat God op ’n besondere manier aan die kant staan van die swakkes en die weerloses en die wat aanskynlik sonder waarde is nie? God kyk byvoorbeeld nie na Isai se oudste sewe seuns nie, maar na die agste, die een wat aanvanklik ongetel was.

Dit is heel ‘teennatuurlik’ van God, en vir ons moeilik om te aanvaar. Amper asof dit God se regverdige antwoord was op die ongelykheid wat ‘van nature’ ontstaan in die samelewing.

Hoekom kon God nie ook Kain se offer met guns beskou het nie? Dit weet ons nie. Die teks bly hieroor stil. En tog is dit duidelik dat God nie vir Kain verwerp het nie. God bly in gesprek met Kain: “waarom is jy kwaad, en waarom is jy teneergedruk?”

Al antwoord Kain nie, probeer God om vir Kain tot broederskap te bekeer.

Maar Kain wil nie as ’n broer na Abel toe draai nie. Hy wil ’n man en ’n heerser wees. Daarom kon hy nie in sy selfbeskouing ruimte maak vir die feit dat Abel erkenning ontvang nie. Hy kon nie sy identiteit aanpas om ruimte te maak vir Abel as sy gelyke nie.

Sy enigste opsie was dus, geweld. En hiervoor moes hy sy rug draai, nie net op sy broer nie, maar ook op God. Want, watter tiepe God is dit wat nie die kant van die sterke kies nie? Of wat ten minste nie neutraal kan bly nie?

Kain is teleurgesteld met ’n God wat guns betoon aan die swakkes. Hy soek ’n God wat aan sy kant is, en nie aan die kant van die ander nie, al is daai ander sy broer.

Dus, wanneer Kain vir Abel doodmaak, is dit nie net sy broer wat hy verwerp nie, dis ook die God-van-die-ander, die-God-van-sy-broer wat hy verwerp.

***

Dat die eerste mens wat sterf, die slagoffer is van moord – en aan die hand van sy broer – is nie net ’n nederlaag is vir die mensdom nie, maar ook vir die aarde.

In die skeppingsverhale lees ons hoe die grond water moet ontvang, maar Kain, die landbouer, die een wat die land moes bewerk en versorg, hy gee bloed.

En ons hoor dat die bloed, vanuit die grond uitroep na die hemele! Die aarde kan nie leef met hierdie geweldadige heerser nie. Die houding van oorheersing deur geweld en oorheersing vergiftig die aarde.

Dit is die teenoorgestelde van wat ons in die profete se visie sien: hier is dit ploegskare wat swaarde word, eerder as swaarde wat omgeslaan word tot instrumente van groei en kultivering. En ons sien dit vandag nog: hoeveel beljoene rande se belastinggeld, vrugte van die aarde, word nie aangewend aan wapens wat die aarde 77 maal 7 keer kan verwoes nie?

Daarom lewer die aarde nie meer vrugte op aan Kain nie en word hy van die grond af verban.

Want in God se skepping is daar blykbaar nie plek vir mense wat nie broers en susters vir mekaar wil wees nie. Om broederskap en susterskap te verwerp is om ’n swerwer op die gesig van die aarde te wees.

En die hele skepping ly daaronder wanneer God se shalom tussen mense verbreek word en ons mekaar nie as gelykes wil omarm nie.

***

En van daar sien ons ’n afwaartse spiraal, na al hoe dieper goddeloosheid en geweld.

Maar hoewel dinge lelik begin handuitruk, moet ons nie God se genade miskyk nie.

Ons sien ons hoe God die oppasser word van die een wat nie sy broer wou oppass nie. God plaas ’n merk teken op Kayin, wie nou self ontwortel en haweloos en kwesbaar geword het.

God se genade is vir slagoffer en vir kwaaddoener, ook vir die slagoffer wat ’n onderdrukker word, of die onderdrukker wat ook ’n slagoffer is.

Sewe generasies later word die genade egter vergeet. Ons hoor hoe Lameg die teken van God se genadige beskerming oor Kain verdraai tot ’n loflied aan wraak en geweld.

Met trots basuin Lameg dit uit aan sy twee vroue:

“Ada en Silla, luister na my stem!

Hoor wat ek sê:

want vir ’n wond aan my maak ek ’n man dood,

’n jongeling vir ’n kneusplek aan my!

Ja, sewe maal word Kain gewreek,

maar Lameg sewe-en-sewentig maal.”

Adda en Silla sê nie ’n woord nie. Selfs God is stomgeslaan. Een hoofstuk nadat Eva van die boom van goed en kwaad geeet het, word wat kwaad is uitgebassuin asof dit goed is. God se goeie skepping is besig om na ’n ramspoedige einde toe te jaag, nog voordat dit eers begin het.

Die teks is realisties oor hoe moeilik, amper onmoontlik,  dit is om siklusse van geweld en wraak te verbreek.

Tot ’n groot mate is die storie van Kain en Lameg ook ons storie. En soms – soos in hierdie week waarin 8-jarige Tazne van Wyk se lyk twee weke na haar dood in ’n gutter gevind was – voel dit of daar geen einde insig is nie.

***

Het Kain en Lameg die laaste sê oor ons? Is moord en verhelding, oorlog en wraak ons meester? Is mense nou maar eenmaal wolwe vir mekaar – altyd in kompetisie, altyd in wantroue en gedryf deur hebsug? Kan ons net ons eie identiteit beskerm deur die ander uit te sluit?

Ons moet probeer raaksien hoe iets van Kain en Lameg ook in ons eie harte te vinde is. Kain het bedreig gevoel toe Abel voor hom erkenning kry. En Lameg regverdig sy geweld deur dit as self-verdediging te vermom.

Wat met uitsluiting en geweld eindig, begin met die dood-menslike behoefte om te oorleef of aanvaar te word of om in beheer te wees; of met die dood-menslike belewenis van vrees.

“I’m just trying to survive

What if what you do to survive

Kills the things you love

Fear’s a powerful thing

It can turn your hear black you can trust

It’ll take your God filled soul

And fill it with devils and dust”.

Bruce Springsteen, Devils and Dust

***

Maar, dis op hierdie punt, net soos dit lyk of geweld en vergelding alles gaan verwoes, wat ons ’n ander stem hoor.

In die plek van Lameg se stilgemaakte vroue, lees ons:

“Adam het weer gemeenskap gehad met sy vrou, en sy het aan ’n seun geboorte gegee. Sy het hom Set genoem [dit beteken gee of voorsien], “want,” het sy gese, “vir my het God ’n ander nassaat voorsien in die plek van Abel, omdat Kain hom doodgemaak het.”

Hier, vir die eerste keer in die hele storie, word Abel se naam deur Eva, of deur enige mens, uitgespreek. Vir die eerste keer rou Eva oor haar seun, Abel. Sy onthou hom. Sy staan op vir hom.

“Right in the face of the proud victor she dares to talk about a victim. To call Lamekh’s heroic forefather, her favorite son, a killer. By publically mourning Abel-the-loser, Eve interrupts the discourse of dominance – and the dreadful silence of Lamekh’s two wives … She has come to know that the future of her children can be “good” only to the extent that the evil done to Abel is not forgotten. That is why she inscribes Abel’s name into the memory of her third son.”

Brigitte Kahl

Deur vir Abel, die slagoffer, te onthou; en deur uiteindelik die geweld te bely wat Kain gewyer het om te bely, breuk Eva die spiraal van geweld wat gedreig het om God se skeppingsprojek tot ’n vroee einde te bring.

En hoe anders klink Eva stem nie hier as aan die begin van die hoofstuk toe het sy met trots uitgeroep het dat sy met die hulp van die Here ’n man gemaak het nie.

Ons het hier te doen met ’n veel ouer, wyser eva: God het gegee, in die plek van Abel, ’n nasaat omdat Kain hom doodgemaak het.

Hoe het ons vir so lank van hierdie eva vergeet?

“Maybe the bare-breasted seductress was much easier to handle than the resistant intelligence of a woman who publicly dares to de-mask and oppose . . . violence, murder and the obsession with power.”

Brigitte Kahl

Kan ons ook, soos Eva, in ons gepolariseerde wereld, leer om anders te onthou en die stilte te breek in die aangesig van geweld?

Kan ons ook, soos die God van Abel en Kain, leer om herkenning te gee aan die menslikheid van die weerloses, en nooit sig verloor van die menslikheid van oortreders nie?

Gen. 4 eindig met Eva se derde seun Set wat self ook ’n seun ontvang: Enosh, “weer ’n mens.” Deur God se genade kry menslikheid, broederskap en susteskap, ’n nuwe kans op herstel.

In daardie tyd, lees ons, het hulle begin om die Naam van die HERE aan te roep. Mense het weer begin om vir God te aanbid. Die God wat vir Abel onthou het, toe niemand anders het nie.

Genesis 2:4-3:24

23 Februarie 2020

Sondag van die Verheerliking
Prediker: Ds. Helgard Pretorius

’n Woord vooraf

Vir die drie laaste Sondae was ons besig met die Genesis 1 skeppingsverhaal: ’n preek of ’n loflied wat mense in ballingskap wil kry om weer die lied van die Here te sing.

Vandag beweeg ons aan na die 2de skeppingsverhaal. in Genesis 2 en 3. Mense is onseker oor wie dit geskryf het en in watter konteks: sommige meen dit was geskryf tydens die koningskap van Salamo; ander beweer dat dit ook tydens die ballingskap in saamgestel is.

Ek wil voorstel dat ons hierdie verhaal sal lees as ’n gelykenis. Ek weet nie of dit so gebeur het nie, maar dis waar. Dit is ’n storie wat diep waarhede oor God en die mens aan ons wil vertolk – en in daardie sin is dit waar; maar ek weet nie of dit rerig so gebeur het nie.

Voorbeeld van die fliek, Big Fish: “a Southern Tale that is filled with lies and fabrications, but truer for their inclusion.”

Die storie gaan oor Edward Bloom en sy seun – Edward goeie storieverteller wat sy lewe lank die wonderlikste stories vertel het, aanskynlik oor sy eie lewe. Verbeeldingryk en vol fantasie – soos hoe hy ’n reus bevriend het en in WW2 geveg het en deel was van die sirkus ens. ens.

Toe sy seun nog klein was, het hy gevra: Wat het gebeur op die dag toe ek gebore is? Wel, jy ken mos daai dam waar almal altyd kom visvang. Almal het altyd gepraat van daai reuse karp wat niemand al ooit gevang het nie. Wel, op die dag wat jy gebore is, het ek my lyn ingegooi en na ’n dag se wag, het ek uiteindelik ’n reuse kap aan my lyn gevoel. Nadat ek vir omtrent twee en ’n half ure met daai vis gestoei het, het ek uiteindelik, op die dag wat jy gebore is, die groot vis gevang wat niemand al ooit gevang het nie.

In die fliek is hy besig om dood te gaan. Sy volwasse seun, ’n joernalis, sit langs sy bed. Hy is moeg vir al sy wolhaarstories. Hy wil die waarheid oor sy pa uitvind voordat hy doodgaan. Hy wil hê sy pa moet vir hom die waarheid vertel.

Wat het gebeur op die dag toe ek gebore is? Weer vertel Edward vir hom die storie van die vis. Op pad uit loop hy die familiedokter raak en die vertel vir hom die feitelike storie.

Aan die einde van die fliek moet jy ’n keuse maak: wie se storie verkies jy? Die een wat die dokter vertel het, of die een wat die pa vertel het?

Die dokter s’n is op feite gebaseer. Die pa se storie is op die waarheid gebaseer: waarheid, want wanneer jou eerste kind gebore is, is daar nie feite wat die wonderwerk van daai belewenis kan vasvang nie.

Jy moet uitreik na ’n storie, na ’n metafoor: dis soos om die grootste vis in die wereld te vang. En waarmee het hy die vis gevang? Met sy trouring. Want dis deur sy huwelik, deur my liefde vir jou ma, wat jy in ons lewe gekom het, my seun.

Ek weet nie of dit so gebeur het nie, maar ek weet dit is waar.

Die waarheid is soms groter as die feite. Ons het soms verbeeldingryke stories vol fantasie nodig om die dieper waarhede van ons lewens vas te hou: soos liefde, of soos die doolhof van ‘n menslike hart, soos die geboorte van ‘n kindjie.

Die probleem is natuurlik, dat wanneer ons ’n metafoor letterlik probeer opneem, dit absurd word. Daarom vra ons nooit feitelike vrae oor Jesus se gelykenisse nie. Dit maak die saak of die verlore seun rerig tussen die varke beland het, of nie – die gelykenis van die Pa en die twee seuns bly waar – ongeag of dit so gebeur het.

Skriflesing: Gen. 2:4; 2:7-9; 2:15-3:24

Boodskap

Manna & Mercy, Genoeg en genade, is lense wat ons help om die Bybel op ’n lewegewende manier te lees, as God se voortgaande belofte om die ganse skepping te herstel.

1. Genoeg

God is vrygewig: van al die bome in die tuin kan julle na hartelus eet, insluitend die boom van die lewe, die boom wat God se lewegewende teenwoordigheid simboliseer, behalwe net die een, die boom van die kennis van Goed en Kwaad – dis die enigste beperking, waarksuwing want daar sal dodelike gevolge wees as julle daarvan eet.

En tog is God is nie ’n control freak nie. Deel van wat God gee is menslike vryheid. Die mens het ’n groot aandeel in God se skeppingswerk, deurdat die mens vir die diere name te gee. En soos die mens die diere noem, so bly hulle name.

Maar iets is nie reg nie: nadat God in Gen. 1 helemal tevrede na elke dag sê dit is goed, sê God vir die eerste keer iets is nie goed nie: dit is nie goed dat die mens alleen is nie.

Die mens het ‘n maat nodig. Weereens, het die mens ‘n merkwaardige groot sê oor wie sy maat moet wees. Ook hierin voorsien God: ‘n lewensmaat wat pas: vlees van my vlees!

Hier is ’n God wat ons behoeftes en begeertes ken – of eerder, wat dit leer ken: ’n God wat luister en leer en aanpas soos wat die skeppingsprojek aangaan. ‘n God wat vir die mens groot waardigheid gee, maar ook ‘n verantwoordelikheid om soos tuiniers vir die goeie skepping te sorg.

***

En dan kom die slang. Mens sou kon sê dis die mens se eerste ontmoeting met slegte teologie en met die rampspoedige gevolge daarvan.

Het dit so gebeur? Ek weet nie, maar dis waar. Kan slange praat? Nee. Maar dit beteken nie dat ons nie soms na hulle stemme luister nie.

Kom ek gee vir jou ‘n voorbeeld. vb. Groot 4×4; ‘n mooi paar skoene.

Slange kan nie praat nie, maar dit beteken nie dat ons nie soms na hulle stemme luister nie. Die slang is ‘n simbool van alles wat ons laat twyfel in die liefdevolle, genadige voorsiening van God.

Dit is die stemmetjie wat jou laat voel dat jy net nie genoeg kan kry nie, dat jy net nie genoeg is nie. Die stemmetjie wat ons moderne mense verlei om buite die perke van ‘n volhoubare toekoms vir die aarde te leef.

Wanneer ons vertroue in God verloor, plaas ons ons vertroue elders, dikwels in materiele dinge of in toksiese verhoudings – afgode wat ons help om veilig te voel, om in beheer te bly, aanvaar te word.

Die gevolg is vervreemding:

  • Vervreemding tussen mens en self (skielik raak die man en die vrou selfbewus, skaam vir hulle naaktheid);
  • Vervreemding tussen mens en God (kruip weg);
  • Verveemding tussen mens en mens (blameer mekaar).
  • Vervreemding tussen mens en die aarde (ook die aarde dra die vloek, soos ons vandag al te goed weet, die gevolge van menslike sonde het kosmiese gevolge, dit besoedel die aarde, die waters, die lug);
  • Vervreemding tussen mens en dier (’n nuwe vyandskap ontstaan tussen mens en slang);

***

Die storie skets ‘n prentjie van ‘n God wat in ‘n intieme, liefdevolle verhouding van sorg staan teenoor die skepping en teenoor die mens. Dit stel ‘n wereld voor wat in liefde, deur liefde en vir liefde gemaak is.

Dit is ons potensiaal. Dit waarvoor ons hier is. Dit is wat vir ons moontlik is.

God gee vir ons genoeg, maar dit vra genoegsaamheid, want al bied die speelveld van God se liefde vir ons merkwaardige ruimte is daar perke, daar is ‘n grenslyn. En dit bly vir ons ’n probleem: hoekom, weet niemand nie, maar ons is suckers vir daai stemmetjie wat twyfel saai:

Het God werklik gese…? gevolg deur ‘n verdraaing van God se woorde… So begin mens wonder: is dit genoeg? het ek genoeg? is ek genoeg?

En dit bring ons by genade.

2. Genade

Selfs as ons val, kom soek God ons. Die eerste spel van wegkruipertjie: “waar is jy?”

Hier ontmoet ons ‘n God wat uitroep. ‘n God wat verlang. ‘n God wat in verhouding wil wees. Waar is jy?

***

Rabbynse storie van ‘n Rabbi wat in Krakow, Poland gevangene was. Hy was as staatsgevaarlik beskou en buite sy tronksel het ‘n offisier oor hom waggehou.

Die offisier was ‘n tipiese rasionalis: “As julle God dan alwetend is,” vra hy vir die Rabbi, “hoekom vra hy dan: ‘Adam, waar is jy?'”

“God bedoel dit anders as wat mens dink,” antwoord die Rabbi, “Adam was toe net 42 jaar oud. God vra hom dus eintlik: ‘Jy is nou twee-en-veertig jaar oud, maar waar is jy in jou lewe?”

Toe skrik die wag, want hy was 42 jaar oud.

Waar is jy in jou lewe?

***

Waar is jy? Ons hoor in daai vraag die dieptepunt van wat dit beteken om menslik te wees, om ‘n morele wese te wees: om ‘n mens te wees is om te antwoord as iemand roep.

Dis om te kan se: ‘hier is ek!’ Dis om verantwoordelik te wees. Dis om aanspreeklik te wees.

Waar is jy? Ek verlang na jou. Help my! Ek het jou nodig. Ek is bekommerd oor jou. Ek het jou lief. Dit is alles opgesluit in die vraag: “Waar is jy?”

‘n God wat so uitroep, in verlange, in nood, in liefde, is ‘n God wat ook ons noodkrete kan hoor, ook ons verlangens na aan die hart dra, dis ‘n God wat smag na ons liefde.

Die woord wat in hierdie verhaal vir God gebruik word is YHWH, want daar is ‘n sterk verband tussen die God wat uitroep: “waar is jy?” en die God wat in Egipte die noodkrete van die Israeliete hoor en dan antwoord: “Hier is ek. Ek is met julle. Ek sal met julle wees.”

Immanuel, God is met ons: ten spyte van ons ongehoorsaamheid, ten spyte van ons sonde, kom soek God na ons om die verhouding te herstel.

So eindig die verhaal dan ook met ‘n pragtige beeld van God as ’n kleremaker. Dink hier aan die liefde waarmee ‘n ma vir ‘n kind of kleinkind iets brei.

Noudat hulle so skaam geraak het, maak God vir hulle klere. Onmiddelik begin God om die verhouding met die mens te herstel, sodat God deur hulle, ook die res van die skepping, wat skade gely het, kan herstel.

***

Vraag aan een van die tieners: “Hoekom vertel mense skeppingsverhale? Hoekom is hulle in die Bybel? A: Dit gee vir ons ’n plek om te begin. Gen. 1-3 gee vir ons ’n plek waar ons weer en weer kan begin.

Die kombinasie van die twee skeppingsverhale in die Bybel wil vir ons sê dat ons lewe in ’n wereld wat in liefde, deur liefde en vir liefde gemaak is. En tog het ons die vryheid om nie lief te hê nie. Want vryheid is die suurstof waarvan liefde lewe.

Dalk klink dit bietjie abstrak, maar kom ek sluit af met ’n hedendaagse voorbeeld van die Bybelse skeppingsteorie:

‘No one is born hating another person
because of the colour of their skin,
or their background, or their religion.
People must learn to hate,
and if they can learn to hate,
they can be taught to love,
for love comes more naturally
to the human heart than its opposite.’

Nelson Mandela

Waar jy ook al is in jou lewe, jy kan by liefde begin.

By die liefde kan jy weer en weer begin.

Genesis 1:31-2:3

9 Februarie 2020

Vyfde Sondag na Epifanie
Prediker: Ds. Helgard Pretorius

’n Woord Vooraf

Ons het hierdie kwartaal begin met ’n nuwe reeks, waarin die klem val op hoe ons die Bybel lees en verstaan. As gids gebruik ons hierdie boekie, Manna and Mercy, Genoeg en Genade, om ons te help om die Bybel op lewegewende maniere te lees wat deelneem aan God se belofte om die ganse skepping te herste.

Verlede week het ek ons daaraan herinner dat konteks betekenis skep. Wanneer ook al ons ’n teksgedeelte lees, moet ons eerste vraag wees: wat is die konteks?

Vanoggend wil ek nog vier vrae met julle deel wat ons help om in gesprek te gaan met die Bybel. Die doel van hierdie vrae is nie om agter die teks in te kyk na die konteks nie. Hulle help ons eerder om die wereld te ontdek wat die teks vir ons oopbreek.

1. Wat se dit oor God?
2. Wat se dit oor die mens? menswees?
3. Wat se dit oor die omgewing?
4. Wat se dit oor die verhouding tussen God, die mens en die omgewing?

’n Vriend het eenkeer vir my gese dat as ek op ’n Saterdag sukkel om my preek te skryf  . . .

Hou hierdie vrae in jou agterkop as ons vanoggend se skrifgedeelte lees.

Skriflesing: Genesis 1:31-2:3

“God het na alles gekyk wat God gemaak het, en kyk, dit was baie goed.

En dit was aand en dit was oggend – die sesde dag.

So is die hemel en die aarde en alles wat daarby hoort, voltooi. God was op die sewende dag klaar met die werk wat God gedoen het; en God het op die sewende dag gerus van al die werk wat God gedoen het.

God het die sewende dag geseën: God het dit heilig verklaar, want op dié dag het God gerus van al God se werk – dit wat God geskep het deur dit te maak.”

Boodskap

’n Mens hoor dikwels mense sê dat die mens die kroon van die skepping is. Bedoel mens is laaste geskep op die sesde dag voordat God gerus het en daarom die belangrikste.

Maar mens is nie die laaste of die beste ding wat God geskep het nie. God het die skepping eers op die sewende dag voltooi toe God gerus het. Die Sabbat is die hoogtepunt van die skepping, nie die mens nie. Op die sewende dag word dit duidelik waaroor die lewe ten diepste gaan. Op die sewende dag word God se skeppingsbedoeling geopenbaar.

Die son en die maan merk kalendertyd: die ordelike, ritmiese afwisseling van dag en nag, elke dag soos die vorige een. Maar dis net die sewende dag wat God seën en heilig noem. Die sewende dag het ook geen einde soos die ander dae nie. Na die ander dae hoor ons, dit was nag en dit was dag, die sesde dag, maar ons hoor nooit hierdie woorde na die sewende dag nie. Die sewende dag is oop – dit wys heen na God se toekoms, na ’n herstelde wereld in die ewige rus van God se sjaloom.

Soos wat die tempel vir die Israeliete in ruimte apart gestaan het, so staan die sewende dag vir hulle apart in tyd. Hoekom het die Sabbat vir die Jode so belangrik geword? Onthou: konteks skep betekenis. Tydens die ballingskap, het die Israeliete nie meer die tempel gehad waar hulle vir God kon ontmoet nie. So het die Sabbat as’t ware vir die Jode ’n tempel in die tyd geword, ’n ontmoetingsruimte met God,’n simbool van God se teenwoordigheid te midde hulle ballingskap.

Vergelyk met Enuma Elish

Ek wil graag dat ons deur middel van ons vier vrae in gesprek gaan met hierdie merkwaardige belofte van die Sabbatrus. Om egter beter te verstaan wat die teks oor God sê, sal dit help om te weet watter idees mens in daai tyd van God gehad het. Dieselfde geld vir die vraag oor die mens. Hoe het mense oor menswees gedink? Hoe het hulle oor die omgewing gedink? Hoe het hulle oor die verhouding tussen God, mens en die omgewing gedink?

Wel, toe die Gen. 1 Skeppingsverhaal geskryf was, was daar reeds ander Babiloniese skeppingsverhale wat jaarliks tydens feeste vertel en opgevoer was. Een hiervan was die Enuma Elish. In 6de eeu voor Christus, was dit alreeds ’n classic. Dis ’n Epiese verhaal oor ’n groot oorlog tussen die gode wat eindig met die dood van die oer-seeslang Tiamat. Die see-godin se dooie liggaam word dan in die lengte oopgekloof en opgekap. Uiteindelik word die seeslang se maag die gesig van die aarde, terwyl haar ruggedeelte uitgestrek word om die hemel-koepel te vorm.

Die god wat die oorlog gewen het, die generaal-god Marduk, beveel toe vir die verloorders aan om ’n groot tempel tot sy eer op te rig op die aarde. Nadat die gode die tempel gebou het, het hulle egter vinnig agtergekom dat die ingewikkelde offerhandes wat hulle aan Marduk moet bring so veel van hulle tyd in beslag neem dat hulle nooit enige af-tyd het nie.

Dis toe dat hulle besluit om ’n nuwe skepsel te maak: mense, wat namens hulle die harde arbeid van die kosmos moet verrig. Die storie eindig met die gode wat ’n groot feesmaal geniet terwyl die nuutgeskape mense hulle afsloof. By die feesmaal sit die gode terug terwyl hulle vyftig heildronke instel op die oppergod Marduk en hulself gelukwens oor hulle slinkse plan om die mense al die werk te laat doen.

Volgens hierdie Babiloniese skeppingsverhaal, is die aarde die afval-produk van ’n wrede oorlog tussen die gode. En die mens is geskep met die spesifieke doel om slawe te wees vir gode wat eintlik niks met die aarde te doen wou gehad het nie.

Vergelyk die Gen. 1 skeppingsverhaal

In die lig van die Enuma Elish sien ’n mens hoe uniek die visie van die Genesis 1 skeppingsverhaal is.

Kom ons kyk wat gebeur as ons ons vier vrae toepas op hierdie gedeelte (voeg gerus iets by as julle dink ek mis iets):

1. Wat sê dit oor God? Watter tiepe God is dit hierdie? Hoe verskil die God van Genesis 1 van die gode in die Enuma Elish verhaal?

In Gen. 1 word God voorgestel as Een wat gee, wat rus, wat geniet. God skep vir die vreugde van geselskap en vriendskap – nie om te verbruik of om te onderwerp of om dinge van mense te vra nie.

In ’n wereld waarin die gode onvoorspelbare, bloedlustige, narsisiste is wat op willikerige wyse besluite neem en allerande dinge van mense verwag, kry ons hier ’n visie van ’n ander tiepe God: ’n betroubare God wat sorgvuldig skep en in oorvloed voorsien, ’n God wat daarin vreugde vind om te gee, ’n God wie se rus en genot nie ten koste is van die skepping en die mens nie; inteendeel, dit is ’n God wat die skepping uitnooi om aan God se rus deel te neem.

Anders as die Babiloniese gode wat terugsit terwyl die mense hulle take vir hulle verig, kry ons hier te doen met ’n God wat die mens uitnooi om aan te sit by die goddelike feesmaal.


2. Wat sê dit oor die mens? Wat sê dit oor die menslike kondisie? Oor menswees?

In kontras met die Babiloniese mite, en waarskynlik in protes daarteen, is die insig van hierdie skeppingsverhaal dat mense primêr bestaan vir die vreugde wat God in ons geselskap vind. Die God van Israel skep mense, nie as dwangarbeid nie, maar sodat die mens – man en vrou – hulle enersheid met God kan verwesenlik.

En een, baie belangrike manier waarop hulle dit kan doen, miskien die belangrikste manier waarop mense God se beeldraers kan wees, is deur, saam met God te rus en die skepping te geniet. Volgens Genesis 1, is die eerste dag van die mens se lewe ’n vakansiedag.

Die mens leef nie om te werk nie; die mens werk om te leef. In ’n wereld waarin mense primêr gesien was as hulpbron, as arbeid, as instrument, kry die mens hier ’n hoër status: die mens is eerder ’n intieme vriend van God, familie van God, selfs kinders van God.

Soos wat ’n ouer vreugde vind in ’n kind, so kies God ons geselskap sonder enige goeie rede, sommer maar net.

As ons sê dat Sabbat die hoogtepunt en doel van die skepping is, dan behoort dit ’n verskil te maak oor hoe ons, ook vandag, dink oor werk en oor rus.

Is rus en aanbidding en tyd saam met God net daar as ’n intermezzo, as ’n blaaskans tussen twee weke van afsloof en presteer en produktief-wees?

Of is rus juis die hoopgtepunt, die einddoel van die hele week, dit waarna alles verwys. Rus nie as niks doen nie. Menuah: Vrede, herlderheid, kalmte, geluk, harmonie.

3. Wat sê dit oor die omgewing?

As ons kyk hoe Israel die Sabbat tradisie geinterpreteer het, val dit ’n mens op dat alle skepsels, net-net die mens nie, moet deelneem aan God se rus. Die diere, en selfs die land moet ’n kan kry om te rus.

Met ander woorde, in hierdie skeppingsverhaal, in teenstelling met die Babiloniese weergawe, het die omgewing sy eie integriteit. Die aarde is in liefde geskep, nie deur geweld nie.

Die wereld bestaan ook nie net as ’n hulpbron vir die vervulling van die gode of die mens se begeertes nie. Iets hoef nie ’n markwaarde te hê, voordat dit waardigheid het nie.

Meer hieroor volgende week, wanneer Ernst Conradie met ons kom gesels.

4. Wat sê dit oor die verhouding tussen God, die mens en die omgewing?

Dat God die rusdag heilig noem is ’n teken van God se begeerte om in ’n baie spesifieke verhouding tot die skepping te staan.

Die ander gode skep die mens sodat hulle van die skepping af kan wegkom. God skep die mens en dan die Sabbat sodat God in ’n meer intieme verhouding tot die skepping kan staan.

En hoe lyk daardie verhouding?

Wel, dit is ’n verhouding van vryheid eerder as slawerny. Dit is ’n verhouding van liefde, van wedersydse waardering en verwondering, van sorg en oorgawe sonder ’n eksterne uitkoms.

In hierdie verhouding gaan dit nie oor die uitruil van bates of die nut wat ek uit jou kan kry nie.

Ons is nie in kompetisie met God nie. Die mens en die skepping is nie vir God ’n bedreiging nie. God is ook nie vir ons ’n bedreiging nie. Om ten volle mens te wees, beteken nie dat daar minder plek vir God is nie.

Waar God verheerlik word floreer die skepping, floreer die mens. Die heerlikheid van God is ’n mens wat ten volle lewe. Die heerlikheid van God is ’n ekosisteem wat in harmonie leef.

Nagmaal

Ons gaan nou nagmaal vier. Soos die Sabbat ’n teken is van God se begeerte om in so ’n verhouding van vriendskap met ons te wees, so is die Nagmaal ook ’n sakrament van God wat ons in God se rus innooi.

Hoe anders is dit nie as die feesmaal waar die gode vyftig glasies klink tot eer van ’n Grootmeneer terwyl die mense hulle afsloof.

Hier is ons die gaste. Hier hoef ons niks te doen om God tevrede te stel nie. Ons hoef niks te offer nie. God voorsien. God bring die offer. God bring die brood en die wyn, God bring Godself.

Genesis 1:1-2:3

2 Februarie 2020

Vierde Sondag na Epifanie
Prediker: Ds. Helgard Pretorius

Inleiding

In die jaar van die Bybel, is dit krities dat ons die Bybel op so ’n manier lees dat ons in die ontmoeting deelneem aan God se voortgaande belofte om die ganse skepping te herstel.

As ons die Bybel op lewegewende maniere gaan lees en verstaan, dan moet ons reg laat geskied aan die konteks waarin die Bybel ontstaan het – asook die konteks waarin ons leef. Hoekom? Want konteks skep betekenis.

In 1675 brand in Londen af in ’n verwoestende vuur. 9 jaar lê Christopher Wren die hoeksteen van die St. Paul’s Cathedral. Na 35 jaar is die Katedraal uiteindelik klaar gebou, en Wren kry die geleentheid om vir Queen Anne ’n toer deur die asemrowende gebou te gee. Na die toer sê die koningen vir hom: Christopher Wren: This Cathedral is awful, it is artificial, it is amusing. Kan jy dit glo? Na 35 jaar waarin hy sy lewe gewy het aan hierdie katedraal en dit is die dankie wat hy kry. Hoe sou jy gevoel het?

En tog: biografie van Wren: Hy was so dankbaar teenoor die koningen dat hy voor haar neergebuig het en vir haar dankie gesê het. Hoe kan dit wees?

In daardie dae, het die woord “awful” beteken: “full of awe!” En die woord “artificial” het beteken: “artistic!” En die woord “amusing” het beteken “amazing!” It is artistic, it is amazing, it is ful of awe!

Nou, as ons wat Engels verstaan, die gebeurtenis op die teenoorgestelde manier kan interpreteer as wat die oorspronklike gehoor (Wren) dit verstaan het, hoe staan die kanse dat ons nie soortgelyke misverstande sal begaan met die Bybel nie? Ons praat hier van antieke geskrifte van meer as 2 000 jaar oud, vanuit ’n ander kultuur, geskryf in ’n vreemde taal? Ek dink die kanse vir misverstand is groot.

Dit vra dat ons nederig en versigtig met die Bybel sal omgaan, en dat ons altyd sal vra: wat is die konteks? Want . . . konteks skep betekenis.

Kom ons luister met hierdie sensitiwiteit na ’n teks wat vir ons almal baie bekend is. Genesis 1 – die Skeppingsverhaal waarmee ons Bybels begin.

Boodskap

Wat was die konteks waarin hierdie pragtige teks geskryf is? Wie het dit geskryf? Wanneer was dit geskryf? Waar en onder watter omstandighede?

Die teks self sê nie vir ons nie. Al wat ons het, is “in die begin. . .” maar wanneer was dit?

Al opsie wat ons het, is om baie noukering te kyk na die taal wat gebruik word.

***

Kom ons probeer iets:

Good day, mate!” (Australië)

“How art thou?” (Engeland, 16de eeu)

“Hoezit, masekinners?” (Kaapse vlaktes)

***

Taal is altyd gebonde aan tyd en plek en kan vir ons belangrike leidrade gee oor die tyd en plek waar iets gesê is. Kom ons pas dit toe op Genesis 1:

Die woord wat vir God gebruik word in die eerste Genesis skeppingsverhaal is “Elohiem” – Ons weet dat die woord veral rondom die 6de eeu v.C. gebruik is om na die God van Israel te verwys.

Die styl van die Hebreeuse taal stem ook ooreen met die styl van ander tekste in die Bybel. Tekste soos Psalm 137, wat sê, “Aan die riviere van Babel, daar het ons gesit en gehuil wanneer ons aan Sion dink. Aan die rivierwilgers in daardie land het ons ons liere opgehang; want hoe kan ons die lied van die HERE sing op vreemde grond?”

Deur so aandag te skenk aan die taal van Genesis 1, kon kenners die konteks aflei: die Babiloniese Ballingskap (586-538), toe Jerusalem en die tempel verwoes is, en baie van die Israeliete weggevoer is om as slawe in Babilon te woon en te werk. En ons vermoed dat dit deur ’n priester geskryf as ’n lied of ’n preek wat tydens aanbidding gebruik was.

***

Verbeel jou, jy is die Priester van hierdie mense. Om in ballingskap te leef is om in ’n landskap van verlies en trauma te leef. Die mense het alles verloor wat vir hulle betekenis gegee het, insluitend hulle waardigheid en hulle drome.

Hulle bring nie meer hulle brandoffers nie, want hulle het nie meer ’n tempel nie. Hulle bring nie meer hulle liere om die Here te loof nie, want hulle het hulle geloof verloor. Al wat hulle bring is hulle vrae: “Hoe kan ons die lied van die HERE sing in ’n vreemde land?”

Nog meer ontstellend is dat jy sien hoe hulle harte krimpeer: jy hoor die wraakgedagtes wat hulle begin koester. Wie onthou hoe eindig Psalm 137? “Dogter van Babel, gedoem tot verwoesting, gelukkig die een wat jou vergeld vir wat jy aan ons gedoen het! Gelukkig die een wat jou kinders gryp en verpletter teen ’n rotswand!”

Wat sê jy vir hierdie verpletterde mense? Hoe inspireer jy hulle om weer die lied van die Here te sing?

Gee jy vir hulle ‘n wetenskaplike verduideliking van hoe die wereld tot stand gekom het? Sou dit jou getroos het?

Of voer jy hulle mee met ’n lied wat hulle verbeeldings aangryp en hulle hartsnare roer om weer te hoop?

Die priester het gekies vir die laasgenoemde. Met van die mooiste lisriese prosa in die hele Bybel, herinner hy sy die moedelose ballinge aan wie hulle God is, sodat hulle kan onthou wie hulle is:

***

Beresjiet, sê hy. “In die begin,” liewe gemeente, was daar net chaoswaters so vêr as wat jy kon sien.

Die ballinge sou iets van daardie donker, vloedwaters verstaan het: Sal iemand ooit vir ons die waters skei? Sal iemand ooit in God’s naam lig kan skep in ons duisternis?

Stil, die priester is aan die woord: God se Gees het oor die chaoswaters gesweef, soos ’n arend bo haar kuikens se nes sweef om hulle te beskerm – hier was ’n plan aan die broei.

En God sê: “laat daar lig wees.” En so gebeur dit. Die lig en die donker word geskei. Dag en nag. God skep tyd.

En toe het God die chaoswaters geskei soos mens ’n tent opslaan. God skep ruimte.

Maar wat van die Son en die Maan – die gode voor wie die Babiloniërs neerbuig? Is dit nie hulle wat ons lot bepaal nie? Staan alles dan nie in die sterre geskrewe nie?

Moet dit nie vir ’n oomblik glo nie, sê die priester: dit is God wat die sterre in die hemelruim geplaas het, as lanterns: goed vir warmte en lig, goed vir die kalender: mooi en nuttige liggies, niks meer as dit nie.

So skep God tyd en ruimte; maar daar is nog nie vaste grond om op te staan nie. Dan stel God perke aan die vloedwaters, sodat daar ’n skeiding kom tussen grond en water.

En vanuit die grond kom op ’n raaiselagtige iets wat tot vandag toe nog die slimste wetenskaplikes laat wonder: lewe. Plante wat spruit uit die aarde, elkeen volgens elkeen se aard. Voels in die lig, elkeen volgens elkeen se aard. Visse in die see, elkeen volgens elkeen se aard. Wilde en mak diere, goggas wat oor die aarde kruip, elkeen volgens elkeen se aard. ’n Ondenkbare verskeidenheid, elkeen volgens elkeen se aard, elkeen in God se oë goed.

Aan die einde van elke dag, sien God dat dit goed was. Die Hebreeuse woord is tov: dit is hoe ‘n kunstenaar haar diepe tevredenheid en vreugde sou uitdruk oor ‘n pragtige kunswerk.

So moedig die priester sy moedelose volk aan: “sien weer die wonder en die prag van die skepping raak: Die skepping is vriend, nie vyand nie. Vir ons mag hierdie ’n vreemde land wees, maar nie vir God nie. Hierdie riviere van Babel, die wilgers, dit is God se geliefde skepsels, ons mede-skepsels. Elkeen volgens elkeen se aard – en dit is goed.

***

En toe sê God vir Godself: Laat ons mense maak, elkeen volgens elkeen se aard. . .  Het God dit gesê?

Nee, hier word die patroon gebreuk: “Laat ons mense maak na ons beeld, as ons afbeelding . . . “God het die mens geskep na God se beeld, na die beeld van God het God hulle geskep, manlik en vroulik het God hulle geskep.”

Hier, klim die priester van sy preekstoel af en kom staan tussen sy mense: “Ek weet wat die Babiloniërs van julle sê (hulle sê dit soms van my ook) dat julle na die beeld van modder gemaak is – dat julle daar is om oor te loop.

Laat ek julle vandag herinner: julle is na die beeld van God gemaak: elkeen van julle, man of vrou of whatever.

***

Nou, die woorde, beeld van God, sou daar in Babilon ’n baie spesifieke betekenis gehad het. Konings van daai tyd het na hulleself verwys as beeld van God. Die koning het alleenreg gehad om te skep en te vernietig, om te bepaal wat is goed en wat is nie, om te heers en te onderwerp, te plunder en te verbruik.

Dikwels sou hulle ’n afbeelding van hulleself maak, ’n tselem, wat op besige publieke plekke gestaan het om mense van hulle goddelike status te herinner.

Maar Israel het nie aan hulle konings gedink as gode nie. Inteendeel hulle mag geen afbeelding van God gemaak het nie.

Hoekom nie? Want – in die begin – het God alreeds afbeeldings van Godself gemaak. Man en vrou en alles tussenin, het God hulle gemaak, na God se beeld.

Dit is ’n radikale ding om te sê: wat altyd die alleenreg was van konings, behoort nou aan alle mense. Dis nie meer net die konings wat die septer swaai nie – en moet sal hulle aanspreeklik hou vir hoe hulle heers.

Want God alleen is koning, wat skep en heers. God is die een wat bepaal wat is goed. Maar dan kies God vir vriende, vir vennote, man en vrou, “sodat hulle kan heers . . . oor die hele aarde . . .” Ons moet dit saamdoen, as een menslike gemeenskap.

Die woorde wat hier gebruik word, rada en kabash, vertaal as “heers en onderwerp,” is woorde wat ons met vrees en bewing moet sê: Ons weet hoe daardie woorde misbruik kan word.

Maar die betekenis – binne konteks – van rada en kabash, is dat die hele menslike gemeenskap God moet help sorg vir die aarde en al die skepsels, elkeen volgens elkeen se aard, elkeen in God se oë goed.

Dit beteken nie dat die mens die aarde na willekeer mag plunder en verbruik nie. Die klem moet eerder val op sorg. Soos tuiniere moet ons rentmeesters wees wat die aarde op ’n verantwoordelike manier versorg. Na die beeld van God moet ons ’n seening wees vir die aarde, nie ’n vloek en ’n pes nie.

So het die priester ook die Israeliete, wat begin het om wraakgevoelens teenoor die Babiloniërs te koester, aan hulle mede-menslikheid herinner, om mens te wees is om selfs in die gesigte van hulle wrede onderdrukkers die beeld van God raak te sien. Ook die Babiloniërs is beelddraers van God – al besef hulle dit nie.

***

Konteks skep betekenis. Vanoggend het ons die klem laat val op die konteks van die Genesis 1 skeppingsverhaal.

Maar dit is natuurlik nie die einde van die storie nie. Dit was maar net die begin. Van konteks tot konteks is hierdie verhaal oorvertel om gelowiges te inspireer.

So het die skrywers van die Nuwe Testament, in hulle eie konteks, deur hulle ontmoeting met Jesus Christus, ontdek dat God heers deur ’n lewe van diensbaarheid; dat dit is hoe God die ganse aarde wil herstel.

Maar ook dit was maar net die begin – ’n nuwe begin. Die verhaal gaan voort: Hoe gaan hierdie droom van God betekenis kry in ons konteks?

Ek hoop ons kan in die komende weke vêrder as ’n gemeenskap hieroor sal wonder en dat ons dieselfde reg sal laat geskied aan ons konteks: Want konteks skep betekenis en hierdie konteks is niks minder nie as God se geliefde skepping.

Eendag gaan God weer na die skepping kyk en ek wonder: “Gaan God steeds kan sien dat dit goed is?”