Psalm 23; Johannes 10:22-30

12 Mei 2019

4de Sondag van Pase
Prediker: Ds. Helgard Pretorius

Ons is nou in daardie kerklike seisoen wat bekendstaan as Pase. Dit verteenwoordig die veertig dae tussen Jesus se opstanding en sy hemelvaart.

En soos Jesus in hierdie veertig dae op verskillende maniere aan sy dissipels verskyn het om vir hulle die betekenis van sy opstanding bekend te maak, so ontmoet die Here ook vir ons in hierdie dae deur sy Woord. Die leesrooster wat ons volg gee elke week vir ons ’n stel tekste wat vir ons help om ’n ander perspektief op hierdie geheimenis van ons geloof sigbaar te maak.

Hierdie week staan bekend as die Sondag van die Goeie Herder en die vier tekste wat vir ons voorgeskryf is, handel elkeen op hulle eie manier oor hierdie beeld, dat Jesus die Goeie Herder is wat die name van sy skape ken, wat die nege-en-negentig agterlaat vir die een verlore skaap, wat selfs sy lewe aflê sodat sy skape die volheid van die lewe kan geniet.

In die afgelope paar weke het ons reeds op subtiele maniere kennis gemaak met hierdie beeld van Jesus. Op Paassondag het ons gehoor hoe Jesus, die goeie herder, vir Maria op haar naam roep en hoe sy Jesus aan sy stem herken. Daarna het Jesus aan Thomas verskyn en vir hom sy wonde gewys. Die goeie herder is ook die lam wat geslag is, die een wat sy lewe gee vir hulle wat hy liefhet. En verlede week het ons onthou hoe Jesus vir Petrus in sy skaamte gaan soek het, net toe hy begin dink dat hy verlore is.

***

Vandag vier ons dit: “Die Here is my herder,” sê Psalm 23. Met die opstanding ontdek ons dat hierdie Here, hierdie herder, Jesus is.

Dit is ’n teologiese stelling, want deur te sê, “Jesus Christus is my herder” bely ons dat ons die stem van God kan leer ken, deur te luister na die stem van Jesus, dat ons in Jesus se lering, lewe en dood die hart van God leer ken.

Maar, in ’n week nadat ons deelgeneem het aan ons land se demokratiese verkiesings, moet ons raaksien hoe die eerste strofe van Psalm 23 ook ’n politiese betekenis het. In die Bybelse tye, was konings ook ‘herders’ genoem.

Deur te sê dat die Here my herder is, is dus ’n belydenis oor waar my diepste lojaliteit lê. Dit is om ’n duidelike boodskap uit te stuur aan almal wat politiese mag uitoefen: Ons watch vir julle! Moenie ons onvoorwaardelike lojaliteit verwag nie. Ons ken die Goeie Herder en dit is aan Hom wat ons getrou sal bly.

Ons weet hoe lyk goeie dienslewering: groen weivelde (met ander woorde, kos en water en skuiling), waters wat mense se volle menswees verkwik (met ander woorde, rus en genot en versorging) – nie eers vir jou vriende en naasbestaandes nie, maar vir almal, beginnend by die weduwee, die weeskind en die vreemdeling.

Deur te stem het ons nog nie ons taak as burgers van hierdie land voltooi nie. As landsburgers wat ook volgelinge van Jesus is, het ons taak nou eers begin.

Ons moet die profetiese stem wees wat leiersfigure aanspreeklik hou en wat seker maak dat hulle dienslewering al hoe meer lyk na die dienslewering en die diensbaarheid van Jesus.

Maar ons moet ook die priesters wees, wat Jesus se werk van versoening voortleef in ’n land waarin daar so veel seer en so veel verdeeldheid is.

En laastens, moet ons kan erken dat ons self ook herders is, dat ons self ook leiers is. Ons het elkeen ’n sirkel waarin ons mag en invloed uitoefen, al is daardie sirkel vir sommige van ons kleiner as vir ander. Ons moet ook onsself aan Jesus se voorbeeld van ’n goeie leier toets.

As Christene en burgers is ons almal, profeet, priester en koning. Dalk is dit vir jou sinvol om in verskillende situasies vir jouself af te vra: hoe kan ek in hierdie situasie as ’n profeet, of as ’n priester of as ’n koning getuig dat Jesus my herder is?

***

Om vêrder na te dink oor die betekenis van hierdie beeld van die goeie herder, kan ons nou aanbeweeg na die teks wat ons vanoggend uit die Johannes evangelie gehoor het.

On sien hoe mense na Jesus toe kom en vir hom vra: “Hoe lank gaan jy ons nog in onsekerheid hou? As jy die Christus is, sê dit dan vir ons openlik.” Praat reguit met ons. Speak plainly, sê die Engelse vertalings van hierdie gedeelte.

Maar ’n eenvoudige, openlike antwoord is nie wat hulle kry nie. Jesus sê: “Ek het dit vir julle gesê, maar julle glo nie. Die dade wat Ek in die Naam van my Vader doen, dit getuig van My. Maar julle glo nie, omdat julle nie van my skape is nie.”

Dikwels gebeur dit dat ons baie graag ’n eenvoudige, reguit antwoord op ons vrae soek. Veral in tye van twyfel, onsekerheid en stryd het ons ’n verlange aan geloofsekerheid.

Die ironie is egter dat so ’n eenvoudige antwoord, wanneer ons dit die dringendste soek, juis die laaste ding is wat ons rêrig nodig het. ’n Wyse vriend of ’n goeie raadgewer is gewoonlik die persoon wat nie vir jou die eenvoudige antwoord gee wanneer jy daarvoor vra nie.

Die rede daarvoor het waarskynlik daarmee te make dat sommige waarhede te groot en te diep is om openlik gegee te word. En dit is veral waar van die tiepe waarhede waaroor Jesus onderrig het: soos liefde en ewige lewe, soos vergifnis en barmhartigheid. Dit is nie die tiepe waarhede wat ’n mens eenvoudig kan bely nie. Dit is veel eerder groot vraagstukke van die lewe waarin ’n mens moet leer om te wandel, waarmee ’n mens moet worstel, waarin ’n mens oor tyd, deur die twyfel en onsekerhede van die lewe leer om te vertrou. Sommige waarhede kan net ontdek word soos wat dit in ons lewens ontvou.

Kom ons veronderstel vir ’n oomblik dat Jesus vir die mense gegee het waarvoor hulle gevra het. Wat as Jesus gesê het: Ja, weet julle wat, ek is die Christus. Ek is die Messias. Sou dit tot hulle saligheid bygedra het? Sou hulle skielik Jesus se gelykenisse verstaan het, of meer getrou kon bly aan sy boodskap? Ek twyfel . . . Inteendeel, ons sien hoe mense wat teen Jesus gekant was dit juis teen hom sou gebruik om hom van godslastering te beskuldig.

Dalk is dit die rede waarom Jesus nie ’n direkte antwoord op die mense se vraag gee nie. “Ek het reeds vir julle die antwoord gegee,” sê Jesus vir hulle, “nie in woorde nie, nie in ’n eenvoudige formule nie, maar deur my optrede, deur die dade wat ek in die naam van my vader doen, deur hongeres te voed, siekes te genees, verwerptes in te sluit en sondaars te vergewe – dít getuig van my.

Maar julle vang dit nie, sê Jesus. You just don’t get it. Julle glo dit nie, want julle behoort nie aan my kudde nie. Julle vertrou my nie, want julle is nie van my skape nie.

***

Ek het hierdie week nogal met hierdie antwoord geworstel. Wat bedoel Jesus as hy sê dat hulle nie glo nie omdat hulle nie aan sy kudde behoort nie?

Jesus doen hier iets baie interessants. Let op: Hy sê nie, julle behoort nie aan my,  omdat julle nie in my glo nie. Nee, Hy sê: julle glo nie omdat julle nie behoort nie.

Is dit nie die teenoorgestelde van wat ons dikwels van Christenskap maak nie? Is ons nie geneig om te dink dat jy eers moet glo, eers sekere dinge oor God moet bely, eers geloofsekerheid moet hê en dan kan ons begin om aan God te behoort nie?

Jesus sê nee, julle glo nie, omdat julle nie behoort nie.

Hoekom is dit moeilik vir mense om te glo in Jesus se boodskap van ’n barmhartige God wat alle mense na groen weivelde toe wil lei? Kan dit wees omdat hulle nie aan gemeenskappe behoort waarin barmhartigheid eerder as selfsug die toon aangee nie?

Hoekom is dit moeilik vir mense om te glo in Jesus se boodskap van ’n genadige God wat ons van sonde versoen? Kan dit wees omdat ons nie behoort aan gemeenskappe waarin skuld bely en vergifnis aangebied word nie?

Hoekom is dit moeilik vir mense om te glo in Jesus se boodskap dat alle mense, ongeag hulle ras, klas, seksualiteit, godsdienstige oortuigings, geliefde kinders van God is? Kan dit wees omdat ons aan gemeenskappe behoort waarin hierdie verskille wel bepalend is vir wie in en wie uit is?

***

Hier is nog ’n manier om daaraan te dink: Verbeel jou dat iemand wat niks van die Christelike geloof weet nie, vir ’n jaar lank aan ons gemeenskap behoort; verbeel jou dat hulle saam met ons aanbid, saam met ons eet en inkopies doen en op vakansie gaan en aan ons basaar deelneem. Verbeel jou hulle neem deel aan ons vreugdes en ons hartseer, ons oorwinnings en ons nederlae. Verbeel jou hulle sien hoe ons konflik hanteer, hoe ons met mekaar kommunikeer, hoe ons vreemdelinge en vyande en die armes hanteer.

Verbeel jou dan, ons vra vir hulle om aan die einde van die jaar ’n geloofsbelydenis te skryf wat die spiritualiteit en geloofslewe van hierdie gemeenskap waaraan hulle behoort het opsom. Hoe sou daardie belydenis lyk? Wat sou hulle skryf as hulle, nie begin het by die amptelike belydenisse van die NG Kerk nie, maar by die morsige details van ons lewens – en van daar moes terugwerk na ons belydenis?

Wat sou ons hulle laat glo? Sou hulle na so ’n jaar in Jesus se kudde, kan glo dat Jesus die Christus van God is. Sou hulle sê dat Jesus ons herder is? Of sou ons hulle laat glo dat daar eintlik ’n ander here is wat hier aan die stuur van dinge is?

Is dit nie ’n interessante oefening om so, agterstevoor, oor geloof te dink nie? Dit laat my dink aan wanneer Jesus sê: Só sal die mense weet dat julle my dissipels is, deur julle liefde sal hulle julle as my skape herken – nie aan julle geloofsbelydenis nie, maar aan julle liefde.

As ons geloof in Jesus geloofwaardig gaan wees, moet ons nie net in Jesus glo nie – ons moet ook glo wat Jesus glo. Om hom te vertrou beteken dat ons vertroue sal hê in wat Jesus vertroue gehad het. Dit is om passievol te wees oor wat hy passievol was. Die teoloog, Debbie Thomas, sê dit soos volg:

“Sheep know their shepherd because they are his; they walk, graze, feed and sleep in his shadow, beneath his rod and staff, within constant earshot of his voice. They believe because they have surrendered to his care, his authority, his leadership, and his guidance.  There is no belonging from the outside; Christianity is not a spectator sport.  BelongJesus says.  Consent to belong.  Belief will follow.”

Ons kan nie vir Jesus van ’n afstand af leer ken nie. Word een van sy skape. Vorm genootskappe met mense wat glo in wat Jesus geglo het, wat vertroue het, in wat Jesus vertroue gehad het.

En moenie verbaas wees as jy sulke mense buite die kerk kry nie, want skape het nie seggenskap oor wie die Herder by sy kudde wil voeg nie.

Lukas 15:1-7 en Matteus 18:10-14 – 2016

17 April 2016 Pinelands – Goeie Herder Sondag
Prediker: Dr Tiana Bosman

 

Een gelykenis wat teen die agtergrond van twee kontekste vertel word.

Eerste Lukas 15 – bekendste konteks vir die gelykenis vd verlore skaap.

Lukas was ‘n dokter, goed onderleg in Grieks, van Griekse afkoms dalk?, die enigste nie-Jood onder die evangeliste. Dit verduidelik sy fokus daarop om die vertellings te boekstaaf waar Jesus uitreik na die outsiders, die wat om die een of ander rede nie behoort tot die ingroep van die Jode nie, die siekes, sondaars en tollenaars.

Lukas gebruik Markus en nog ‘n bron, Q, wanneer hy sy evangelie neerskryf. Die gelykenisse van hoofstuk 15 kom uit Q.

Die gelykenis van die verlore skaap soos vertel deur Lukas:

Eerste binne die drie-ledige groepering van die verlore skaap (of die besorgde herder), die verlore muntstuk (of die vrou wat nie moed opgegee het nie) en die verlore seun (of die genadige vader). Die punt van die gelykenis is elke keer om die vreugde van God te illustreer wanneer ‘n verlore sondaar tot bekering kom.

Die verhaal begin in die regte lewe. Al die tollenaars en sondaars het dikwels nader gekom om na Jesus te luister. Maar die Fariseërs en skrifgeleerdes het (daaroor) onder mekaar gemor: ‘Hierdie man ontvang sondaars en eet saam met hulle.’ Om saam met mense te eet was ‘n teken van aanvaarding en vriendskap. Jesus maak ‘n “statement” wanneer Hy saam met sulke mense eet. Hy daal na ‘n laër sosiale vlak, tot op die vlak van mense wat nie deur die ordentlikes in die samelewing aanvaar word nie. Nou sou ons dalk kon redeneer dat almal van ons sondaars is, maar dit is nie hoe Lukas dit gesien het nie. Daar was mense in die samelewing wat van sonde ‘n gewoontehandeling gemaak het, soveel so dat dit is wat hulle in die samelewing gedefiniëer het – diegene wat steel, die volksverraaiers, die prostitute, die up-to-no-goods, die skandelikes. Ons sou seker kon of wou sê: Daai slegte mense wat nie in die kerk hoort nie. Hulle skaam hulle nie eens vir hulle sonde nie, steek dit nie weg nie. Sies!

Jesus omarm juis diegene wat deur die godsdienstige gemeenskap verwerp is. Hy verwelkom hulle, eet saam met hulle, en die ordentlike mense (Fariseërs en skrifgeleerdes) was wel, so bietjie besorgd. Toe Jesus hoor hoe hulle mor oor sy samesyn met tollenaars en sondaars, het Hy besluit om vir hulle drie stories te vertel.  Maar dis nie stories wat gaan oor die verskil tussen sondaars en regverdiges nie. Sy stories (meer spesifiek gelykenisse) gaan eerder oor dinge wat ons verloor, en oor die vreugde wat ons ervaar wanneer ons dit weer vind: ‘Wie van julle…’ (vss 4-6).

Jesus begin met “Wie van julle…”, en impliseer hiermee dat die herder se gedrag normaal is. Maar is dit? Is dit normaal vir ‘n goeie skaapwagter om 99 skape te laat staan in die woestyn, oorgelaat aan wind en weer en wolwe, sodat hy een skaap kan soek wat weggedwaal het? Is dit normaal dat hy die ander gehoorsame skape se lewens in gevaar stel? Is dit normaal om, wanneer hy die skaap vind, hom met blydskap op sy skouers te tel, huistoe te gaan en ‘n fees te reël? Die Griekse woord hier skep die indruk van ‘n formele feesviering, nie sommer net ‘n informele “get-together” nie. “Wie van julle?” Wie sal so ‘n onwyse reeks van dinge doen net oor een ou skapie wat afgedwaal het? Niemand nie! Maar Jesus praat asof dit die mees natuurlike ding is om te doen. Want dit is God se manier van doen. Vss 7: “Ek sê vir julle…” Die verlore skaap word gelykgestel aan ‘n sondaarmens.

“Die Seun van die Mens het gekom om diegene wat verlore is, te soek en te verlos” (19:10).

As ander regverdige, eerbare, goeie, gelowige, godsdienstige mense maar so bly kon wees wanneer sondaars terugkom huistoe. As die kerk maar soos Jesus daarvan beskuldig kon word dat ons ons ophou met sondaars en tollenaars, dat ons hulle in ons midde verwelkom (nie verdra nie, nie akkommodeer nie [die nuutste “in” woord in kerklike kringe], maar verwélkom) en saam met hulle gaan sit om ‘n tafel en eet.

Maar wat doen die goeie mense, die regverdiges wat nie nodig het om tot bekering te kom nie? Hulle frons, hulle skud hulle kop, hulle word kwaad en verontwaardig, hulle voel ingedoen wanneer God die sondaars nader roep en met hulle spog en hulle hanteer asof hulle belangrik is, asof hulle sy kinders is, asof hulle net soveel saakmaak soos die regverdiges. Nevermind omdat…

Bybelkenners meen dat beide Lukas en Matteus die Q-bron gebruik het om hierdie gelykenis wat Jesus vertel het te gebruik in hul onderskeie evangelies.

sources

Hulle het die gelykenis van die verlore skaap in verskillende plekke in hul eie evangelies geplaas. Lukas was dalk nader aan die Q-bron self. Matteus, wat ‘n ander fokus gehad het met sy evangelie as Lukas (fokus op die outsiders), het die gelykenis daar geplaas waar dit sy doel die beste sou dien.

Anders as Lukas was Matteus ‘n Jood, en het hy nie geskryf vir die outsiders nie, maar vir ‘n Christelike gemeente êrens in Klein-Asië, dalk Antiogië. Dit was in ‘n tyd toe die gemeentes baie gesukkel het om ‘n eie identiteit as groep te vestig (geanker in die kruisiging en opstanding van Jesus Xtus), veral teen die agtergrond van die Joodse Fariseërs en skrifgeleerdes se onderdrukking van hierdie groep Jesus-volgelinge. Matteus se hart lê dus dikwels nie in die eerste plek by die outsiders nie, maar by die ingroep, diegene wat reeds behoort en die noodsaaklikheid van gesonde onderlinge verhoudinge.

Kyk nou waar kom die gelykenis van die 1 skaap uit 100 in Matteus voor:

Dit begin weer in die regte lewe:

Matt 18: 1-5:

Dissipels: “ Wie is nou eintlik die belangrikste in die kkryk van die hemele?”

Jesus roep ‘n kind nader – “Wie nie word soos hierdie kind nie…” & “Wie homself gering ag soos hierdie kind, hy is die belangrikste” & “Wie een so ‘n kind in my Naam ontvang…”

DWS: As julle my dissipels wil wees, word klein, gering soos hierdie kind. My dissipels ag hulself nie beter of belangriker as ander mense nie.

Matt 18: 6-9

Waarskuwing teen struikelblokke: “ Wie een van hierdie kleintjies (verwysend na dissipels/volgelinge) wat in My glo laat struikel…”

En dan die gelykenis van die verlore skaap: Matt 18: 10-14 LEES

En dan die liefdevolle uitreik na ‘n sondaar in die gemeenskap van gelowiges: Matt 18: 15ev…

Let op: Matt onderbreek Jesus se lering oor die struikelblokke en hoe om met ‘n sondaar in die gemeente om te gaan (kyk ook Lukas 17:1-3 as een tema) met die gelykenis van die verlore skaap! Hier gaan dit dus nie meer oor verlore skape as outsiders – sondaars en tollenaars en mense wat van meet af aan nie deel was van die gemeente, maar wat dan gesoek word en tot bekering kom nie. Hier gaan dit oor gemeentelede self wat afdwaal, weggaan, verdwyn, afvallig raak – hulle was eens deel van die gemeente, maar iewers langs die pad het hulle afgedwaal.

Hulle het egter nie afvallig geraak omdat hulle groener weivelde elders gesien het nie. Nee, hulle is weg uit die gemeente omdat daar struikelblokke was, ander gemeentelede, wat iets gedoen of gesê het wat gemaak het dat hierdie mense nie weer wil terugkom nie. Iemand of verskeie mense in die gemeente het hulle laat struikel. Gemeentelede het ‘n ander gemeentelid (of lede) te na gekom en as’t ware uitgestoot of weggejaag.

Matteus leer vir sy lesers: So kan ons as gemeente nie oorleef nie. So kan die kerk nie groei nie. Ons kan nie mekaar se struikelblokke raak en die rede wees waarom ons mense van binne af verloor nie. Ons moet vashou wie ons het, werk aan ons onderlinge verhoudinge, sensitief wees vir mekaar, nie onsself beter ag as van die ander gelowiges onder ons nie, nie mekaar se struikelblokke wees nie. Ons moet gaan praat met ‘n medegelowige wanneer sy of hy teen ons gesondig het, vir mekaar luister, die ding uitpraat, mekaar op hierdie manier probeer terugwen.

Die Goeie Herder Sondag vandag. Jesus is die Goeie Herder, die voorbeeld vir ons almal. Verlede week het ons Joh 21 gelees waar Hy vir Petrus (en ook die ander dissipels) aanstel om goeie herders te wees:

Laat my lammers wei.

Pas my skape op.

Laat my skape wei.

Lukas vra dat ons ons deure sal oopmaak vir sondaars en tollenaars, vir mense wat nie behoort nie. Hy vra dat ons al uitgaan na hulle toe, saam met hulle se eet en hulle dan so sal intrek en verwelkom in ons gemeenskap.

Matteus vra dat ons rondom ons sal kyk en sal raaksien dan ons onderling van mekaar verskil, binne die geledere van die kerk self. En wanneer ons die verskille raaksien moet die eerste vraag wat ons opkom nie wees: Wie is die belangrikste onder ons? nie. Want juis diegene wat vlgs die samelewing en die gemeente se standaarde die belangrikste is, sal aan die kortste ent trek. Die wat die minste is, die kleintjies, die geringes, die wat geen standing het nie, die vir wie ons ander onsself dalk heimlik skaam – ons wil nie met hulle geassosieer word nie, hulle moet liewer nie in ons gemeente wees nie, liewer nie ons dominee wees nie, want ons soek nie súlke dominees nie, nie op ons kommissies en kerkraad dien nie, want daar word belangrike besluite deur invloedryke mense geneem, mense wat weet van die sake…

Dis hierdie gelowiges sonder wie ons dalk dink dat ons beter kan klaarkom, die wat ons nie regtig omgee om te verloor nie, diegene vir wie ons nie gaan mis nie, die good-riddance-mense, dis hulle wat vir die Here die belangrikstes is. Laat ons nie neersien op hulle nie. Laat ons nie die rede word dat hulle struikel en weggaan en afvallig raak nie. Dit mag dalk net wees dat ons iewers ons oë oopmaak en nie meer ons Herder raaksien nie, want Hy het besluit om die groep te los en agter die onwelkomes, die verstotenes en die verlorenes aan te gaan. Hy is baie blyer wanneer Hy een van hulle vind as wat Hy is oor die 99 wat nie weggeraak het nie.

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.

Openbaring 7

21 April 2013 – Paastyd Goeie Herder Sondag
Prediker: Dr Tiana Bosman

Agtergrond
Indien ons die bybelboeke moes kategoriseer soos wat ons met flieks maak dink ek dat die meeste mense, christene inkluis, Openbaring onder die boeg van rillers sou gooi. En waarskynlik ook wetenskapsfiksie. Die twee kategorieë by uitstek wat in meeste mense se smaak nie val nie. ‘n Kombinasie van die twee nog erger. G’n wonder dat mense, en dalk verál gelowiges, vanaf die vroegste tye hierdie boek aan die einde van die Bybel ignoreer nie. Hoe Openbaring die kanon (dit is die keuse van die 66 boeke wat in die Bybel opgeneem is) gehaal het, weet nugter alleen. Calvyn het oor elke boek in die Bybel ‘n kommentaar geskryf, behalwe oor Openbaring. En Luther het vir ‘n lang tyd nie Openbaring as deel van die Bybel aanvaar nie. Nog ‘n groot kerkvader van ons, Zwingli, het nooit aanvaar dat Openbaring ook in die Bybel hoort nie. Dis eintlik nogal snaaks – gelowiges lees enigiets in die Bybel, ja, selfs soms die OT!, behalwe Openbaring. Daarteenoor gebruik Hollywood díe bybelboek as hoofbron vir hul kreatiewe idees vir skrikwekkende flieks. Waar anders kom hulle aan die beelde wat gebruik word in flieks wat handel oor die einde van die wêreld? Een het nogals die naam “Apocalypse”. Lyk my die boek moet met ‘n ouderdomsbeperking kom – nie geskik vir lesers/hoorders tussen die ouderdom van 0 en 100 nie…

Dit terwyl Openbaring nooit uit ‘n nagmerrie gebore is nie, maar uit ‘n droom, ‘n visioen. En die bedoeling was juis nie om gelowiges die skrik op die lyf te jaag nie, maar om hulle te troos. Dis rondom die jaar 90 nC. Domitianus was die keiser aan bewind van die Romeinse Ryk. Alhoewel hy die christene nie goedgesind nie was nie, was daar nog nie grootskaalse vervolging van die christene nie. Hier en daar het gelowiges wel met hul lewe vir hulle geloof betaal, maar dit was nie so dat hulle voor die voet uitgeroei is en daarom konstant moes wegkruip nie. Tog wou die Romeinse regeerders keer dat meer mense na hierdie geloof oorgehaal word, aangesien die keiser alleen as “here en god” aanbid moes word. Openbare getuienisse en die bewustelike verkondiging van die evangelie was dus strafbaar. En indien die gelowiges nie bereid was om in die publiek voor die keiser te kniel en hom te aanbid as here en god nie, kon hulle ook straf te wagte wees. In hierdie tyd is Johannes verban na die eiland Patmos toe. Waarskynlik omdat hy nie opgehou het om die evangelie te verkonding nie. Die omstandighede op die eiland was nie haglik nie. Dit lyk ook nie asof Johannes in ‘n tronk toegesluit was nie. Maar hy is op die eiland afgesonder om te verhoed dat hy kon voortgaan met die verkondiging van die evangelie.

Op Patmos gee God aan Johannes ‘n droom of ‘n visioen wat hy in die vorm van ‘n lang brief moes gaan neerskryf en wat onder die gelowiges versprei moes word. In die visioen word Johannes blootgestel aan bonatuurlike dinge – die bonatuurlike koms van die koninkryk van God, die oorwinning oor die dood, ‘n nuwe aarde waarin daar nie meer onreg en smart is nie, vloeke wat neerslag vind in oorweldigende natuurskatastrofes, die vreesaanjaende diere met hulle baie koppe en baie horings, sterre wat op die aarde val, en die ewige verderf. Omdat hierdie bonatuurlike wêreld in Johannes se visioen so radikaal buite sy verwysingsraamwerk was, kon hy nie anders as om dit deur middel van beelde en simbole in sy brief te beskryf nie. Want dit was alles so onwerklik.

Die gevaar ontstaan nou as ons hierdie beelde en simbole en getalle letterlik wil opneem. Die veiligste manier om Johannes se visioen in Openbaring te interpreteer, is juis nie om toe te laat dat ons verbeelding met ons op hol gaan nie, maar om eerder te neig na meer gewone, aardse verduidelikings. Want wat help dit nou Johannes het hierdie bonatuurlike visioen vanaf God ontvang, maar dit is so kompleks en onsyferbaar dat dit op die ou-end net verwarring en vrees saai en vir niemand niks beteken nie?

Van julle sal onthou dat ons verlede jaar tydens Pinkster die eerste 3 hftse van Openbaring behandel het. Die opgestane Jesus wat in alle glorie aan Johannes verskyn het. Hy het tussen 7 lampe gestaan – verteenwoordigend van 7 gemeentes; en Hy het 7 sterre in sy regterhand (sy sterk hand!) vasgehou – verteenwoordigend van die predikante of die leiers van die gemeentes. Aan elk van hierdie 7 gemeentes moes Johannes ‘n brief skryf wat baie konkreet gehandel het oor die situasie waarbinne die gemeentes hulself bevind het: hulle verhouding met die vreemde kultuur waarin hulle geleef het, in watter mate kon hulle deel wees van hierdie samelewing sonder om hulle christelike getuienis te verloën, hoe het hulle kwessies soos armoede, afgode, onsedelikheid, ens hanteer, waar het hulle eerste liefde gelê – by die Here of by hulle besittings en hulle eer en aansien in die heidense gemeenskap? Sewe (soos 10 en 12) is een van die getalle van volmaaktheid in die Bybel – en dit sê dat hierdie sewe gemeentes en hul leiers alle gemeentes van alle tye verteenwoordig. Álle gemeentes word veilig vasgehou in die sterk regterhand van die opgestane Here, maar al hierdie gemeentes word opgeroep om hulself deurentyd te ondersoek en te kyk of hulle fokus nog reg is. Daarom sluit elke brief af met die waarskuwing: “Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê”. Ook ons kan onsself terugvind in die sewe gemeentes van 90vC , en die inhoud van die briewe is ook baie prakties gerig op ons lewens vandag.

Hierna volg Openbaring 4 en 5. Johannes sien vir God op sy troon in die troonkamer van die hemel, ‘n reënboog van kleure, weerlig en donderslae wat slaan, 4 lewende wesens wat Hom aanbid: “Heilig,heilig, heilig is die Here God, die Almagtige, Hy wat was en wat is en wat kom,” 24 ouderlinge wat kniel en vir God aanbid. En dan is die Lam ook die daar, die Leeu wat ‘n Lam is, die enigste een wat waardig is om die boek met die 7 seëls oop te maak omdat Hy die oorwinning behaal het. Ook Hy word deur die lewende wesens en die ouderlinge en dien engele aanbid. Blykbaar is Händel deur hierdie gedeelte in Openbaring (spesifiek hfst 4) geinspireer om sy musiekstuk Messias te komponeer.

In hfst 6 word die eerste 6 seëls deur die Lam (Christus) oopgemaak. Hier begin die gedeeltes wat nagmerries by ons veroorsaak. Oordeel op oordeel op oordeel word aangekondig. Met die oopmaak van elke daaropvolgende seël raak die beelde net verskrikliker. Aan die einde van hfst 6 kondig die Here aan dat die eindoordeel reeds aangebreek het, maar die einde daarvan word nog nie beskryf nie. Ons skryf maklik die smart en die pyn, die vreesaanjaende gebeure in die wêreld aan bose mense en die bose magte toe. En natuurlik is dit waar. Paulus vertel tog dat die duiwel besig is met sy laaste stuiptrekkings, en ons weet dat die laaste rukkings dikwels die grootste golwe kan veroorsaak. Maar in Openbaring sien ons dat hierdie gebeure nie net aan die bose toegeskryf kan word nie. God se oordeel oor die onreg en die ongeloof in die wêreld is ook ‘n realiteit. Ons kan nie alyd maar net praat van die liefde van God so asof sy oordeel sal weggaan as ons dit net ignoreer nie. In elk geval – wat beteken die verlossing uit sonde dan as daar nie die ander moontlikheid van oordeel is nie? Waaruit word ons dan nou eintlik verlos? God se oordeel is ‘n realiteit, en dis iets om mee rekening te hou. En soos die eerste kerk en Paulus en Johannes leef ons ook in die eindtyd. Die eindtyd is ingelei met Jesus se hemelvaart en eindig met sy wederkoms. Ons leef in die laaste dae, in die dae van oordeel.

Hfst 6 eindig met: “Wie sal staande kan bly?” Inderdaad, wie sal staande kan bly teen die eindoordeel van God as dít die beelde is wat God aan Johannes openbaar om vir hom ‘n gevoel te gee van wat gaan kom? En hierby toe: Wat word van die gelowiges wanneer die oordele van God in die 6 seëls uitgevoer word? Tussen die oopmaak van die 6e seël en die 7e seël is daar ‘n onderbreking – Openbaring 7. In die eerste helfte ‘n visoen oor die beskerming van die gelowiges ten tye van die oordeel, en in die tweede helfte ‘n visioen van die eindheerlikheid self.

Lees teks: Openb 7
Vs 1-8: speel op die aarde af.
Vs 3: die dienaars wat op hierdie stadium nog op die aarde is
Vs 4: 144 000: 12 (stamme vd OT) x 12 (stamme vd OT) x 10 tot die 3e mag (alles syfers van volmaaktheid/volledigheid) . Dit dui dus juis nie op ‘n beperkte getal nie, vs maar op ‘n veel groter groep. “Uit Israel” gee vir ons die gelowiges se agtergrond. Dit het begin by ons vader Abraham en die volk Israel. Die NT kerk en gelowiges is die nuwe Israel, ons is tog ingeënt op die volk van die OT (Rom 11), ons dien Israel se God en glo in Israel se Messias.

Vs 9-17: die groot menigte dui op die wat reeds dood is; daarom is hulle in die hemel.
Vs 9: Ontelbaar baie, en kyk net die verskeidenheid!
Wit klere as simbool van reinheid, hulle is voor God geregverdig
Palmtakke – simbool van vreugde: soos met Jesus se intog in Jerusalem roep die volk nou weer uit wie hulle gered het.
Vs 10 Redding (soteria) – omvattende term: genesing, redding uit sonde, beskerming, vrede
Vs 14: Die wat uit die groot verdrukking kom: nie ‘n spesifieke groepie martelare nie, maar die hele geloofsgemeenskap. Met die tyd van die NT het die eindtyd, die laaste dae reeds aangebreek. Die groot verdrukking gebeur sederdien herhaaldelik in die geskiedenis, net soos die antichris nie net een persoon is nie, maar al verskeie kere in die geskiedenis was daar vbe.
Gewaste klere, wit gemaak in die bloed vd Lam: wit as simbool van reinheid en oorwinning. Jesus se dood bring versoening, sy bloed maak wit. Hierdie mense beroep hulle voor God op Jesus se versoeningsdood.
Vss 15-17: Baie ooreenkomste met die eindheerlikheid in Openb 21.
“dag en nag” bestaan nie meer nie – beteken deurentyd, altyd.
“tempel” bestaan nie meer nie, want alles (die hele nuwe Jerusalem) is nou tempel, gevul met God se teenwoordigheid.
Vs 16: herinner aan die terugkeer van die Israeliete uit ballingskap (Jes 49:10)
Vs 17: Die Lam sal hulle herder wees wat hulle sal lei. Herinner aan Ps 23. Ook laasweek toe ons geroep is om herders te wees vir die Here se lammers en sy skape. Nou word die rolle omgekeer: Ons (wat op aarde ook herders was) word nou net skape; ons wat op aarde moes help versorg, word nou net versorg deur die Here. Hy word nou die enigste herder – die Een wat ons versorg en beskerm.

Boodskap
In die lig van alles wat nou alreeds vanoggend gesê is, wat kan ons uit Openbaring 7 met ons saamneem? Die beste is miskien om af te sluit met 3 punte wat verband hou met ons verlede, ons hede en ons toekoms.

Almal het ‘n verlede. Ons as gelowiges se verlede het iets in gemeen – ons almal se eintlike voorvader is Abraham. Die NT gelowiges, waarvan die meeste heidene was, is ingeënt op die 12 stamme van Israel. Die kerk word so die nuwe Israel. Ons aanbid Israel se God en ons is deur Israel se Messias gered. Ons vergeet soms hierdie verlede en ons kyk, dalk heel onbewustelik, so bietjie neer op die Jode. Daar is die Jode en die christene, en die christene is beslis ‘n paar trappe hoër as die Jode. Maar ons moet onthou dat die Jode eerste daar was, dat ons eers later ingetrek is. Ons is die heidene. Die Jode is die eerste gekose burgers van die hemel, ons is die medeburgers. Is dit nie daarom so hartseer dat ons in die kerk sit en die Jode buite bly nie? En dat die Jode wat tot bekering kom hulself “Messiaanse Jode” noem, eerder as Christene. Waarom doen hulle dit? Omdat die chistene so ‘n slegte geskiedenis met die Jode het. En omdat die christene die Jode uitgemoor het tydens die kruistogte. Omdat ons vir die wat éérste plek gehad het by God, nie meer wil ruimte maak nie. Ons wat veronderstel is om deur ons lewens en ons geloof vir die Jode jalóérs te maak en aan te trek na hulle Messias toe; ons skrik hulle eerder af.
As ons ons verlede onthou, die 12 stamme van Israel, en dat ons alleen deur God se genade daar ingesluit is, dan kan dit ons dalk net help om vandag anders teenoor die Jode, en ook mense van ander gelowe, op te tree as wat ons dikwels doen.

Dit sluit eintlik aan by ons hede. Vanaf vs 9 lees ons van die groot menigte wat voor die troon sal verskyn. Mense uit elke nasie, stam, volk en taal. ‘n Groot verskeidenheid mense voor die één troon, almal met dieselfde kleur klere (wit), almal gerig op die Lam, almal met dieselfde belydenis, almal met dieselfde toekoms saam met Hom. Sien ons al genoeg van hierdie verskeidenheid van mense wat daar in die hemel gaan wees, in ons kerke vandag? Indien nie, gaan ons maar swaar kry in die hemel. Die hemel bestaan uit ‘n reënboognasie, almal is daar welkom. Raak nou al gewoond daaraan en leef dit nou al uit.

En laaste ons toekoms. Ons is deel van die gelowiges wat deur die groot verdrukking gaan. Ons ervaar siekte en lyding, die gevolge van sonde en rampe. Die lewe op aarde is moeilik. Maar ons kan nou al weet dat die Here, die Lam, ons hierdeur sal dra. Aan die begin van Openbaring lees ons hoedat Hy ons in sy regterhand vashou. Ons lees in hfst 7 dat Hy ons versorg en beskerm, dat Hy ons veilig sal bring na waar ons moet wees. Ons sal nie meer honger en dors kry nie; die son sal ons nie brand nie en die hittebloed ook nie. Die Herder sal ons lei na fonteine met water van die lewe, en God sal al die trane van ons oë afdroog. Daar gaan dus ‘n einde aan alle swaarkry kom. En die heerlikeheid wat op ons wag gaan alle verwagtinge oortref. Daarvan kry ons ‘n voorsmakie in Openbaring 7, en die volle heerlikeheid word in hfste 21-22 beskryf. Dit is ons toekoms, hierheen is ons oppad.

Vir gelowiges is Openbaring dus nie ‘n riller of ‘n nagmerrie nie. Dis ‘n boek vol belofte en troos.

 

Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.