Johannes 18:28-19:22 – 2014

18 April 2014 3e Sondag in Lydenstyd
Prediker: Dr Tiana Bosman

Agtergrond
Ons het Sondag in die eerste helfte van Johannes 18 gelees van Judas se verraad en Petrus se verloëning van Jesus, en tussen dit alles deur – Jesus se vertroue in die dissipels. Terwyl Jesus aan die een kant van die deur teenoor die hoëpriester Annas getuig van sy geloof en vertroue in sy dissipels wat sy saak verder sal vat, is die hoofdissipel, Petrus, aan die ander kant van die deur besig om Hom te verloën. Aan die een kant is die verhaal bitter tragies, maar aan die ander kant, tsv die tragedie wat hier afspeel, die geweldige troos dat die Here ons nooit sal verraai of verloën nie, selfs al doen ons dit aan Hom. Hy sal eerder sterf voordat Hy dit doen…

Wat ons bring by vandag, Goeie Vrydag. ‘n Stikdonker dag vir Jesus van Nasaret, maar ‘n goeie dag vir die wêreld. Nadat Jesus deur die Joodse hoëpriesters (dws die godsdienstige leiers) Annas en Kajafas verhoor is, word hy deur hulle na die ampswoning van die Romeinse goewerneur Pilatus gebring.

Teks
28: Hier word die Romeinse regering vir die eerste keer betrek.
Die ampswoning – die permanente ampswoning of paleis van die Romeinse goewerneur was in Sesarea gewees, maar hy het ook ‘n woning in Jerusalem gehad waar hy slegs gebly het wanneer daar groot feeste (nou Paasfees) in Jerusalem gevier is of ten tye van politieke onrus. Jerusalem is tans ‘n oproerige area weens die gevaar van ‘n dreigende opstand.
Die ironie is skryend – die Jode kan nie in die Romeinse goewerneur se woning ingaan nie, want dan sal hulle onrein wees en nie meer aan die Paasfees kan deelneem nie. So hulle bly buite staan. Maar Jesus – hulle Koning, die spil waarom Paasfees éíntlik draai, die enigste onskuldige, rein persoon, die Paaslam, Hy word in die woning van die goewerneur ingestuur. Wat sy mense aanbetref mag Hy maar voor die Paasfees besmet word. Hy verdien elk geval nie om deel te hê aan die fees nie. Hy’s tog net ‘n verleentheid vir hulle.
29: Nou ontvou ‘n hofsaak wat, as dit nie so tragies was nie, vir die buitestaaner eintlik baie snaaks moet lyk. Pilatus, die magtige goewerneur, word ‘n komieklike figuur wat heen en weer hardloop, buitentoe en binnetoe. Die een oomblik is hy binne by Jesus om sy kant van die storie te hoor, en dan is hy weer buite om met die samedromming van skrifgeleerdes en Fariseërs en die res van die volk te gaan praat. Sewe keer hardloop hy so op en af.
30: boosdoener, goddelose
Uitlewer > verraai
35: Wat weet ék nou van die Joodse gebruike en geloof?!
36: Hierin hoor Pilatus dalk dat Jesus se koninkryk nie vir hom ‘n bedreiging inhou nie, want Jesus praat van ‘n andersoortige koninkryk.
37: Jy sê dat ek ‘n koning is.
39: Maar selfs al sóú hy skuldig wees, dit is mos julle gebruik…
40: Barabbas: Aramees “seun van abba”
Ironie: vra vir die vrylating van Barabbas, “seun van die vader,” terwyl Jesus, die ware “Seun van die Vader” ter dood veroordeel word.
Barabbas was dalk iets soos ‘n “guerilla warrior, revolutionary leader” (NET)
9:2 Pers – die kleur wat konings dra
9:6 Pilatus se frustrasie “Kruisig júlle hom dan!”
9:12 Van nou af het Pilatus aanhoudend probeer om hom vry te laat

Wanneer die Joodse hoëpriester Kajafas vir Jesus na die Romeinse goewerneur Pilatus toe bring, dan bevind Pilatus homself in ‘n groot verknorsing. Hy is tans in Jerusalem, nie omdat hy daar wil wees nie, maar omdat hy die vrede moet handhaaf in ‘n tyd en oor ‘n naweek van groot oproerigheid. Sy grootste begeerte is waarskynlik dat die Joodse verrigtinge oor die naweek vlot sal verloop, dat hy nie te veel betrek sal word by ‘n ander volk se politiek nie, en dat die gebruiklike vrylating van ‘n gevangene wat die Jode self mag kies, sonder enige hick-ups sal geskied.

Maar nog voordat die naweek regtig begin is daar reeds ‘n klop aan Pilatus se ampswoning se deur. En word Jesus aan hom uitgelewer. Pilatus gaan buitentoe om te hoor wat aangaan. Hy hoor by die Jode dat Jesus ‘n boosdoener is, ‘n goddelose. Dis die rede waarom hulle hom na Pilatus toe bring. Om veroordeel te word. Maar Pilatus is nie lus om hierby betrek te word nie: “Vat julle hom en veroordeel hom vlgs julle wet. (Maar hou my hier uit.)”
“Ons mag dit nie doen nie. Ons mag nie iemand teregstel nie. (Daarom dat ons hom na u toe bring.)”
En dan die heen en weer gelopery, eers weer na binne om met Jesus te praat en te probeer uitvind wie die man nou eintlik is, en dan weer na buite om rede in die Joodse godsdiensleiers en volk se koppe in te probeer praat. En saam met dit alles nog Pilatus se eie onkunde oor die Joodse gebruike en geloof: “Ek is mos nie ‘n Jood nie! (Hoe moet ék nou weet?)”

Pilatus is verbouereerd. Hy wil nie ‘n vonnis vel nie. Hy wil dit in die Jode se eie hande oorlaat. Maar die Jode weet dat hulle dit nie mag doen nie. Pilatus, as Romeinse goewerneur en in diens van die keiser, is die enigste een in Jerusalem wat vir Jesus mag vonnis. Dit is duidelik dat Pilatus niks met Jesus se dood te doen sou gehad het as dit nie vir die Joodse godsdienstige leiers was wat druk op hom geplaas het nie. Hulle is diegene wat primêr verantwoordelik gehou moet word vir wat hierna gebeur. Want Pilatus probeer alles om uit die situasie te kom en Jesus se lewe te spaar. Wat hom betref is Jesus onskuldig, en níks in sy woord-argument met die Joodse leiers óf met Jesus self kan hom anders oortuig nie.

Eers vra Pilatus of hy nie maar, binne die gebruik, vir Jesus kan loslaat as die gevangene wat gelukkig genoeg is om tydens die paasfees vrygelaat te word nie. “Nee, nie vir hom nie, maar vir Barabbas!”
Toe laat Pilatus vir Jesus gésel en hy verneder hom deur van hom ‘n bespotlike koning te maak – ‘n kroon, maar van dorings, ‘n pers mantel, “onderdane” wat kastig aan hom eer betoon maar dan direk daarna klappe uitdeel. Weer kom Pilatus buitentoe, en dis amper asof hy wil sê: “Kyk, ek het hom nou goed laat opfoeter. Vir een wat onskuldig is het hy darem nou meer as genoeg deurgemaak. Kyk na hom – daar is die mens! Kyk hoe lyk hy al!”
Maar uit die mond van die priesterhoofde en die wagte is daar geen genade vir hierdie onskuldige man nie: “Kruisig hom! Kruisig hom!”

Die res van die teregstelling ken julle. Hoedat Pilatus elke keer vir oulaas en maar weer vir oulaas en maar wéér vir oulaas probeer om Jesus kwyt te skeld van die vonnis, maar wanneer die Jode dan vir Pilatus met sy eie posisie en lewe dreig, dan gooi hy handdoek in. Hy gaan sit op die regbank by Gabbata, en net Oscar Pistorius of die se regter sal waarskynlik weet hoe moeg geredeneer hy is. Hy weet hy doen die verkeerde ding. “Kyk, daar is julle koning.” Maar die Jode skreeu: “Vat hom weg! Vat hom weg! Kruisig hom!”
“Moet ek julle koning kruisig?”
“Ons het nie ‘n koning nie; ons het net die keiser.”

Twee dinge:
1. Dit is interessant hoedat die beskuldigings wat teen Jesus ingebring word, verander na gelang van die verloop van die argument met Pilatus. Eers word Jesus doodeenvoudig aangekla daarvan dat hy ‘n misdadiger, ‘n boosdoener, is (18:30) – dieselfde tipe oortredings as die ander beskuldigdes wat gekruisig gaan word. Maar die argument kry lyf en alles raak al meer ingewikkeld. Pilatus kan op geen manier sien hoedat die etiket van misdadiger of boosdoener/goddelose om Jesus se nek kan hang nie. Hy skud sy kop: Dit kan nie waar wees van hierdie man dat hy boos is nie.
Wanneer die Jode sien dat hierdie aantuiging nie werk nie, beroep hulle hul op Jesus se uitspraak dat hy die Seun van God is (19:7). En niemand mag God so laster nie. Dus: in lyn met die Joodse gosdienstige wette moet Jesus doodgemaak word.
Maar Pilatus is steeds erg huiwerig. As hul eie godsdienstige wette dan nie vir Pilatus kan oorhaal nie, dan wend die Joodse leiers hulle tot dreigemente. Hulle vang vir Pilatus op die punt waar hy persoonlik broos en weerloos is – Hulle dreig hom met sy gesagsposisie as goewerneur in die samelewing (19:12). En meer as dit: Pilatus se eie lewe kom in gedrang, want wie weet wat die keiser sal doen as hy moet hoor dat Pilatus nie met die nodige respek teenoor die keiser opgetree het nie. Wie weet of daar nie dalk van hom ook ‘n voorbeeld gemaak sal word nie?

Dit is die een ding. Hoe die argument lyf kry en in verskillende rigtings vertak – hoe elke moontlike redenasie deur die Joodse godsdiensleiers in die stryd gewerp word. Waansinnig van woede (hoor hoe skreeu hulle amper soos barbare) is hulle bereid om selfs te daal tot vuilspel, solank dit net die gewenste uitkoms verseker – die teregstelling van Jesus van Nasaret.

2. Die tweede ding. Ons het Sondag gepraat van die verraad van Judas en die verloëning van Petrus. Verraad wat beteken om iemand oor te gee in iemand anders se hande, om iemand toe te vertrou aan iemand anders, maar met ‘n doelbewuste kwaadwilligheid wat daaragter steek. Die Griekse woord vir verraad, daai woord wat in verband met Judas gebruik word – presies dieselfde woord kom 5 keer in vandag se teks voor! Ons lees dit net mis want dit word hier sagter vertaal. Die betekenis wat agter die woord lê, bly egter dieselfde as toe dit vir Judas gebruik is.

Joh 18:30 Die Jode: As hy nie ‘n boosdoener was nie, sou ons hom nie aan u uitgelewer het nie, lett. sou ons hom nie verraai het nie.

18:35 Pilatus aan Jesus: Jou volk en jou priesterhoofde het jou verraai.

18:36 Jesus: As my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my onderdane (my dissipels?) geveg het sodat Ek nie (deur Judas) aan die Jode uitgelewer word nie, verraai word nie…

9: 11 Jesus: Hy wat My aan u uitgelewer het, verraai het (Kajafas) het groter skuld as u.

9:16 Toe het Pilatus vir Jesus op die priesterhoofde se versoek (eerder dreigement?) verraai… Nie uit kwaadwilligheid soos die ander nie, maar uit vrees vir sy eie lewe en toekoms.

Julle sien, Judas was nie die enigste verraaier in die gebeure van Jesus se kruisverhaal nie. Dalk die eerste, maar nie die enigste nie. Die res van die verhaal is deurtrek van verraaiers. Die Joodse volk. Die priesterhoofde by name. Die hoëpriester Kajafas. En heel aan die einde Pilatus. Teen sy beterwete in, ter wille van sy eie veiligheid speel hy reg in die hande van die Joodse godsdiensleiers en verraai ook hy vir Jesus. Pilatus wat hier reg aan die einde van Jesus se lewe, ten tye van die hofsaak, dalk die naaste aan ‘n vriend was wat hy gehad het.
Die Romeinse “vyand” verraai hom toe ook. En nou is daar geen omkeer meer nie…

Jesus het self sy kruis gedra en uitgegaan na Kopbeenplek toe, na Golgota. En daar het hulle Hom gekruisig… Die man wat gesterf het onder die verraad van mense.
Dan wonder ek hoeveel mense is daar in die wêreld vandag wat hulle asem inhou by die kruisiging van Jesus. En of dit eerder heeltemal anders is – dat die wêreld se mense hulle wyn in die son drink op ‘n lieflike langnaweekdag, met nog 3 sulke dae in die vooruitsig, terwyl nie een van hulle dink aan Hom nie.

Is dit nie dalk ‘n manier van hedendaagse verraad teen Jesus van Nasaret nie? Om die dag te gryp en te gebruik vir eie gewin – ‘n glas in die hand of ‘n plekkie langs die swembad. Om doelbewus liewer nie aan Hom te dink nie, want hierdie herinnering sou ‘n pretbederwer wees. Om Hom oor te lewer aan ander sodat jy die naweek kan geniet. Om te weet waarvoor hierdie dag in die jaar uitgesonder word, maar dan die Een oor wie dit gaan in die rug te steek, want die prys wat so ‘n naweek jou sou kos indien jy besluit om Hom ‘n slag weer in die oë te kyk daar aan die kruis, die prys is net te veel…

Asof Hy nie ook, of juis!, vir jou sy prys betaal het nie.

Vandag is daar geen klokke nie
lui geen angelus:
die wêreld hou sy asem in
by die kruisiging van Jesus –
nee, anders is die waarheid
in ritme en in rym:
die wêreld drink sy wyn in die son
en niemand dink aan Hom –
O onpeilbare vademlose
diep geheimenis:
dat krummels en ’n kring op ’n tafel
daardie agonie werd is.

(Sheila Cussons)

Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.

Jesaja 52:13–53:12

6 April 2012 Pinelands – Goeie Vrydag
Prediker: Dr Tiana Bosman
Liturgie

Kliek hier om Jesaja 52 te lees

Agtergrond

Ons is vandag by ‘n begrafnisdiens. Die liturgie moet eintlik ‘n programmetjie wees: “Ter nagedagtenis van” of “In liefdevolle herinnering aan Jesus Christus”. Dit was gisteraand met die Donkerdiens vir my opvallend dat Pilatus, die (ongelowige?) goewerneur, sonder skroom hierby sou toevoeg “Die Koning van die Jode”. En dat die (ongelowige?) offisier en die soldate wat sy dood aanskou het, sou toevoeg “Seun van God”. Is dit nie so dat iemand se waarde, of sy ware identiteit, dikwels eers geëer word na sy dood nie? Dat mense eers dan besef met wie hulle werklik te make gehad het. Dat ‘n persoon se lof eers besing word wanneer hy of sy dit nie meer kan aanhoor nie. Ons sit ‘n gedeelte van ‘n begrafnisdiens spesifiek daarvoor opsy – en ons noem dit die huldeblyk… Daar is natuurlik niks mee verkeerd nie. Dis goed en nodig om na die dood van ‘n persoon vir mekaar te herinner wat dit is aan hom of haar wat ons sal bybly, wat die nalatenskap is wat ons met ons sal saamneem. Dis net soms so jammer dat ons eers tot ons ware insigte kom van mense nadat hulle gesterf het. Die Here het gesterf en vanoggend is die tyd om vir mekaar te sê wat Hy vir ons beteken het en wat ons met ons sal saamneem.

Vreemd dat die leesroosterteks vir vandag eintlik glad nie oor Jesus handel nie, in elk geval is dit nie die oorspronklike bedoeling nie, maar dat Jesaja 52-53 ‘n huldeblyk is wat uitgespreek word by iemand anders se begrafnis. Die eerste 39 hfste van Jesaja speel af in die tyd voor die ballingskap. Die profeet Jesaja is aan die woord en waarsku een en almal oor wat voorlê. Jesaja 40-55 speel dan af tydens die ballingskap. Die Israeliete is teen die grond – hulle het alles verloor. ‘n Onbekende profeet, nie meer Jesaja nie, is nou aan die woord. Hy bring ‘n boodskap van troos en verlossing. Meestal is dit hy self wat die volk bemoedig, maar dan vind ons in hfste 52-53 ‘n insetsel waar iemand oor hierdie onbekende profeet praat. Die profeet word “die dienaar” van die Here genoem en een van sy dissipels bring ‘n huldeblyk na sy dood.

Die gedeelte begin en eindig met die versekering vanaf die Here dat die dienaar, wat eens verneder en aangerand is, verhoog sal word; dat die een wat eens onder die misdadigers gereken is, in die toekoms in die geselskap van grotes en magtiges sal verkeer. Tussen hierdie bevestiginge van die Here af is daar dan die gedig van ‘n mede-gelowige wat mettertyd begin glo het in die dienaar of profeet se roeping en sy boodskap, een wat ‘n dissipel van die dienaar geword het, een wat hier in sy huldeblyk vertel van die begindae en die voorkoms van die dienaar, die geweldige lydinge wat hy moes verduur, en sy stille onderwerping tot in die dood.

Skriflesing en boodskap: Jes 52:13 – 53:12
Eers die lofbetuiging van God af: 52:13 – 15…

En dan die dissipel van die dienaar: 53:1 – Hier volg die byna ongelooflike vertelling dat die mag van God deur die lewe en veral die lyding van hierdie misvormde, onaansienlike dienaar ten toon gestel is!

53:2 – 10 – Telkens hoor ons dat die dienaar die sonde van die hele gemeenskap gedra het. Nêrens staan daar eksplisiet dat hy die vrywillig gedoen het nie. Dit was die Here wat, merkwaardiglik, veroorsaak het dat siekte en lyding hom tref (6). Volgens die OT verstaan van morele oorsaak-en-gevolg sou die normale verwikkelinge wees dat die gemeenskap self vir hulle sondes moes boet. In die lig van hierdie verstaan het almal aanvanklik gedink dat die dienaar gestraf word, deur siekte en swaarkry, vir sondes wat hy self gepleeg het. Dws die straf kom hom toe. Dit het eers maar later tot hulle deurgedring dat Hy deur God gestraf en geslaan en gepynig is omdat God om die een of ander onverklaarbare rede besluit het om die straf teen die gemeenskap weg te keer van hulle af en op een, onskuldige dienaar te laat afkom. Die taal van die dissipel wanneer hy dit besef in vss 4-5 is sterk en gelaai met emosie en die impak van hierdie bewuswording het veroorsaak dat hy ‘n dissipel geword het van die dienaar. Wat die omstandighede was van hierdie keerpunt in die dissipel en die groep namens wie hy praat se lewens, weet ons nie. Maar dit lyk asof dit eers gebeur het na die dienaar se dood – toe die mense bewus word van hulle gesamentlike skuld en ook gekonfronteer word om na die dienaar se dood na te dink oor die verloop van sy lewe – ‘n lewe wat nie gespreek het van sonde nie, maar van diens aan God.

Vs 8 stel dit duidelik dat die dienaar nie net aan ‘n ernstige siekte gely het as straf vir die mense se sonde nie, maar dat hy ook op ‘n geweldadige manier terreggestel is daaroor. In vs 7 word die dienaar vergelyk met ‘n lam wat na die slagplek gelei word en in vs 10 lees ons dat hy sy lewe as ‘n skuldoffer gegee het. Die gebruik was om ‘n lam as skuldoffer te bring vir jou sonde en alle sonde en skuld van die sondaar sterf dan saam met die lam wanneer hy geslag word.

Die dienaar is doodgemaak en tog lees ons in vs 10 dat hy ‘n nageslag sal hê en nog lank sal lewe, in vs 11 dat hy weer die lig sal sien en dat hy die Here sal ken. Dit is onwaarskynlik dat die dissipel hier verwys na die dienaar se terugkeer of “opstanding” uit die dood – so iets was immers nog glad nie eens denkbaar nie. Waarom dit hier gaan is die gedagte dat die dienaar ‘n nalentenskap laat. Hy sal ‘n baie sterk teenwoordigheid wees onder sy volgelinge. Hierdie gedagte is tog nie vreemd nie. Ons kan die dienaar hier vergelyk met ‘n mentor wat steeds, na sy dood, lewendig bly in sy volgelinge se lewens, sy dissipels hoor steeds sy stem ego, en dit is ‘n stem wat hulle op die regte pad hou. Jesaja praat van hierdie stem in hfst 30:20-21 wanneer hy sê: “Jou leermeester sal nie meer weggesteek wees nie. Jou oë sal jou leermeester sien. Wanneer jy die regte koers verlaat, sal jy agter jou ‘n stem hoor sê: ‘Hier is die pad, loop hierlangs.’”.

Soos die huldeblyk begin het, sluit dit dan weer af met ‘n lofbetuiging van God af oor die dienaar: 53:11-12.

Alhoewel hierdie gedeelte baie konkreet vertel van ‘n dienaar in die OT en die verloop van sy lewe en lyding, is dit nie sonder rede dat verse hieruit soveel keer in die NT aangehaal word en op Jesus van toepassing gemaak word nie. Een eksegeet sê selfs dat dit klink asof hierdie gedig aan die voet van die kruis geskryf is! Ons kan tog nie anders as iets van die verloop van Jesus se lewe ook in die teks raak te sien nie. Die dienaar van die Here het al vele vervullinge in die geskiedenis gehad. Daar is baie verhale van mense wat onskuldig gely het ter wille van ander. Literatuur oor die Tweede Wêreldoorlog alleen is vol-op daarvan.

Ek lees tans Dietrich Bonhoeffer se biografie en julle moet my toelaat om iets van sy storie te vertel. Bonhoeffer is vroeg in die 1900’s gebore. Hy was een van 8 kinders in ‘n vooraanstaande Duitse gesin. Sy pa, Karl, was die bekendste psigiater in Duitsland. Sy een broer was ‘n wetenskaplike en het saam met Albert Einstein gewerk. Dietrich self het teologie gaan studeer. Hy was een van die beste teoloë van sy tyd, maar hy was baie meer as dit. As predikant het hy sy profetiese roeping sterk uitgeleef deur voor en tydens die WO2 standpunt in te neem teen die Nazi Regime en hy het so sterk gepreek teen rassisme en die onderdrukking van die Jode dat mense blykbaar soms uit sy dienste uitgeloop het wanneer hy begin preek het. Bonhoeffer was ‘n brawe man. Toe Hitler se waansinnige optrede en bevele nie end kry nie het hy ook ‘n spioen geword – hy was deel van die sameswering om Hitler se ondergang te bewerkstelling. Die inligting het op die lappe gekom en Bonhoeffer is saam met sy mede-spioene gevange geneem. Voor die ouderdom van 40 sou hy sterf, net 3 weke voor Hitler selfmoord gepleeg het. Die Nazi Regime se einde was reeds onvermydelik, maar Hitler moes ‘n laaste slag inkry en het waarskynlik persoonlik beveel dat die spioene tereggestel moes word. Enkele ure voor sy teregstelling het mede-gevangenes versoek dat Bonhoeffer vir hulle ‘n diens moes hou. Dit was die Sondag na Paasfees. Bonhoeffer het, interessant genoeg, Jesaja 53 gelees saam met 1 Petrus 1, en daaroor gepraat. Hy het skaars “amen” gesê met sy slotgebed toe die soldate hom kom haal: “Gevangene Bonhoeffer, maak jouself gereed om saam met ons te kom.” Hy het almal gegroet en toe sy een goeie vriend opsy geneem en vir hom gesê: “Dit is die einde, vir my die begin van lewe.” Die kampdoktor getuig dat Bonhoeffer op die grond gekniel en innig gebid het voor hy sy tronkdrag uitgetrek het. By die plek van teregstelling het hy ook gestop en gebid voordat hy die trappies opgeklim het na die galg. Hy was deurentyd braaf en kalm. Die doktor sê dat hy in sy 50 jaar as praktisyn byna nooit ‘n man gesien het wat so absoluut onderhewig aan die wil van God sterf nie. Soos dinge ook gebeur het die krematoriums nie op daardie dag gewerk nie, en, nes die volk vir wie hierdie Duitser ‘n kampvegter geword het, is sy liggaam op ‘n stapel ander gegooi en brandgesteek.

Daar was natuurlik nog so ‘n man – die Een uit wie se voorbeeld Bonhoeffer sy krag gekry het. Die Een in wie se krag hy kon sterf en die Een wat dit vir hom moontlik gemaak het om te getuig: “Dit is die einde, vir my die begin van lewe.” In die volheid van die tyd neem die verhaal van die dienaar van die Here die mees radikale en grootse dimensies in wanneer Jesus op ‘n gans anderse, onvergelykbare manier dié Kneg van God word – die énigste algehele vlekkelose Lam wat na die slagpaal gely word, nie ter wille van ‘n groepie volgelinge nie, ook nie ter wille van een volk nie, maar ter wille van die hele wêreld. Dis sy begrafnis wat ons vandag bywoon, sy lewe wat ons herdenk, asook sy sterwe – sy volkome oorgawe, ter wille van elkeen van ons. Vandag is die einde, vir ons die begin van lewe. Vandag is die dieptepunt van God se straf en sy woede, maar ook die hoogtepunt van sy liefde.

Ek verkondig vandag natuurlik nog net ‘n halwe evangelie – die verlossing van sonde is bewerkstellig, maar eers Sondag breek die realiteit van die oorwinning oor die dood en ‘n nuwe toekoms aan. Ons moet hulde bring en die Here se lof besing, gedemp ja, soos dit ‘n begrafnis betaam. Ons word immers bewus van ons eie ontoereikendheid, ons sondigheid, ons medepligtigheid aan die dood van die Een wie se begrafnis ons bywoon. En tog weet ons, hoe ongelóóflik dit ookal mag klink, dat Hy ons vergewe, maar meer as dit, in sy dood spreek Hy ons volkome vry van dit wat ons Hom en soveel ander, en selfs onsself al aangedoen het. Hy laat ‘n nalatenskap van woorde en dade, van fluisteringe in ons oor wanneer ons koers verloor. Hierdie nalatenskap is in ‘n sekere sin reeds meer as genoeg, ons kan al daarvan leef, maar Sondag gaan Hy dit nog verder oortref.

Christus het gesterf. Vandag is sy begrafnis. Dit is die einde… vir ons die begin van lewe.

Creative Commons Licence
Kopiereg: Hierdie werk deur  Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.