Lukas 13: 18-21: Intreepreek van Helgard Pretorius

21 Oktober 2018, Intreepreek
Prediker: Ds. Helgard Pretorius

Teks: Lukas 13:18-21

Tema: Ja! vir mosterdsaad en suurdeeg?

’n Woord vooraf

As ’n mens Jesus se lewe en boodskap moes opsom, sou ’n mens kon sê dat dit vir hom gegaan het oor die Koninkryk van God.

“God se koninkryk is byderhand. Bekeer julle en glo die goeie nuus.”

Dit was Jesus se passie, in lewe en in sterwe, in woord en in daad. In sy persoon het God se ryk van geregtigheid, vrede en vreugde nader getrek aan mense.

Die evangelies vertel vir ons dat Jesus se geliefkoosde manier om oor God se koninkryk te leer en onderrig was deur stories te vertel. Die spesifieke genre of tiepe verhale wat hy graag vertel het, word gelykenisse genoem.

“Waaraan is die koninkryk van God gelyk en waarmee sal ek dit vergelyk?” sou hy vra en dan sou hy in eenvoudige taal verhale vertel van alledaagse mense en dinge, maar altyd met ’n onverwagse wending, ’n kinkel in die storielyn wat ’n mens aan die dink sit.

Ons staan vanoggend stil by twee sulke gelykenisse oor God se koninkryk. Voordat ek die twee gelykenisse vir ons voorlees, wil ek kortliks iets sê oor hoe ons sulke gelykenisse behoort te hoor en verstaan.

Of laat ek eers iets sê oor hoe ons die gelykenisse nie moet verstaan nie.

Die eerste fout wat ons kan maak is om die gelykenisse allegories te interpreteer: dit sou beteken dat die gelykenisse eintlik nie stories is nie maar ’n kode wat ’n geheime boodskap bevat. Volgens hierdie metode staan elke element van die storie vir iets in die werklikheid. Al wat ons dan nodig het om die boodskap te ontsluit, is ’n sleutel wat vir ons wys wát in die verhaal met wát in die werklikheid ooreenstem.

Die probleem met allegorieë is egter dat die sleutel, soos met iets soos skoonheid in the eye of the beholder is. Met ander woorde, as ons dink dat ons die sleutel het, weet ons eintlik alreeds wat die storie beteken. Allegorieë verras ons nie en leer daarom vir ons niks nie. Dit bevestig net wat ons oënskynlik reeds dink en glo.

Die tweede fout wat ons kan maak is om Jesus se gelykenisse te verwar met universele morele lessies, amper soos een van daai inspirerende advertensies, gewoonlik met ’n prentjie van ’n arend wat majestueus voor bergkranse verby-sweef: Onthou, elke groot mosterdboom was eens op ’n tyd ’n klein mosterdsaadjie. En dan: Plant vandag jou mosterdsaadjie by Old Mutual!

Jesus se gelykenisse is nie allegorieë wat bevestig wat mense reeds glo, of morele stories wat vir ons die weg na sukses wil aanwys nie. Dit was gewone stories wat deur ’n onverwagse wending ons juis wil verras.

Ongelukkig is die gelykenisse al so oorbekend dat ons dit moeilik vind om opnuut deur hulle verras te word. Daarom wil ek jou uitnooi om drie dinge in gedagte te hou terwyl ek vir ons die teks voorlees:

Eerstens, moet ons die storielyn van die gelykenisse noukeurig volg; ons moet toelaat dat die storie ons meesleur.

Tweedens, help dit baie as ons iets van die wêreld verstaan waarbinne Jesus die gelykenisse vertel het. As Jesus byvoorbeeld in ’n gelykenis verwys na mosterdsaad, help dit om te weet wat sy gehoor in die 1ste Eeu in Palestina van mosterdsade gedink het. Nadat ek vir ons die tekste gelees het, sal ek probeer om kortliks op van hierdie aspekte lig te werp.

Derdens, sal dit ons help as ons besef dat Jesus met sy gelykenisse nie soseer iets wou sê nie, as wat hy iets wou doen, iets wou laat gebeur. Die gelykenisse gaan nie maar net oor die koninkryk nie.

Die gelykenisse skep ruimte vir die koninkryk – hulle skep ruimte in ons gedagtes, in ons harte en in ons lewens – ruimte wat ons toelaat om die leisels van ons lewens te verslap sodat God al hoe meer die leisels kan opneem.

Met dit in gedagte, voordat ek die gelykenisse vir ons voorlees, kom ons vra dat die Here die Woord (en ons harte) vir ons breek, deur saam met die Taizé gemeenskap in Frankryk te sing: The Kingdom of God is Justice and Peace and Joy in the Holy Spirit. Come Lord and open in us, the gates of your kingdom.

Skriflesing: Lukas 13:18-21

Daarop het Hy gesê: “Waaraan is die koninkryk van God gelyk en waarmee sal ek dit vergelyk? Dit is soos ’n mosterdsaadjie wat iemand geneem en in sy tuin gesaai het. Dit het gegroei en ’n boom geword en die voëls van die hemel het in sy takke nes kom maak.”

Hy vra toe weer: “Waarmee sal Ek die koninkryk van God vergelyk? Dit is soos suurdeeg wat ’n vrou geneem en in drie sata koringmeel ingewerk het totdat dit heeltemal deursuur is.”

  1. Waaraan is die koninkryk van God gelyk en waarmee sal ek dit vergelyk? Dit is soos ’n mosterdsaadjie wat iemand geneem en in sy tuin gesaai het. Dit het gegroei en ’n boom geword en die voëls van die hemel het in sy takke nes kom maak.”

Verstommende woorde. Eintlik ongelooflik. Wie ook al gehoor het hoe Jesus hierdie kort storie vertel het, sou werklik verstom gewees het. Of hulle sou waarskynlik uitgebars het van die lag; want ’n mosterd plant is nie ’n boom nie – dit is nie eers ’n struik nie! Dis ’n bossie.

Nog erger, ’n mosterdbos was beskou as ’n pes. Dit was onkruid. Om te sê dat ’n mosterdsaad ’n boom word waarin die voëls van die hemel hulle neste kan maak was helemaal onsin.

As Jesus van Nazareth Afrikaans kon praat sou hy dalk gesê het: “Waaraan is die koninkryk van God gelyk en waarmee sal ek dit vergelyk? Dit is soos ’n kakiebos saad wat iemand geneem en in sy tuin gesaai het. Dit het gegroei en ’n boom geword en die voëls van die hemel het in sy takke nes kom maak.”

In die eerste plek sou niemand ’n kakiebos saad saai nie; in die tweede plek sou voëls nie in ’n kakiebos se takke kon nesmaak nie.

Toe Linette en Hanlie twee weke gelede saam met my en Erin deur ons nuwe tuin by die pastorie geloop het, was dit net: Trek uit! trek uit! Die moet uit! Nee, daai is nie ’n mooi blom nie, Helgard, dis ’n bossie! O, nee, hierdie is op die lys – dit is onwettig!

[Ek moes in ’n stadium vir Hanlie herinner dat sekere van my bossies sedert die onlangse Hooggeregshof se besluit eintlik nou wettig is.]

In antieke tekste van rondom Jesus se tyd blyk dit dat dit ook teen die wet was om ’n mosterdsaad te plant – selfs in jou eie tuin. As jy rêrig wou wraak neem op een van jou vyande sou jy snags in sy groentetuin inslyp en ’n hand vol mosterdsade tussen sy groente strooi.

Die ding met hierdie mosterdsade is dat hulle so klein was dat een of twee maklik tussen jou ander sade beland het en so ’n hele oes kon vernietig. As selfs een van hulle wortelskiet en duisende van daai klein saadjies begin uitspoeg, neem dit oor en is dit onmoontlik om ontslae te raak van die goed!

Dit laat ’n mens wonder oor Jesus. Wat was hy aan die doen dat hy sulke onsmaaklike stories oor mosterdsaad en kakiebos versprei het? En dit nogal oor die koninkryk van God!

Dalk was hierdie storie nie vir sy hoorders so veel meer ontstellend as toe Jesus vir Matteus die tollenaar geroep het om een van sy dissipel te wees nie. Tollenaars soos Matteus het namens die Romeinse ryk, wat op daardie stadium vir Palestina met mag en krag beset het, onhoudbare belasting van arm mense ingevorder en boonop nog daardeur ’n stewige wins gemaak. ’n Mens kon omtrent nie aan groter volks-verraad dink as om jou eie mense só uit te buit nie.

Hoe kon Jesus so ’n man deel maak van sy binnekring? Hoe kon hy met ’n goeie gewete by die hooftollenaar, die skatryk Saggeüs, tuisgegaan het?

Dalk het mense naderhand sulke onsmaaklike stories juis verwag van iemand wat een aand by ’n maaltyd by een van die hooggeagte Skrifgeleerdes toegelaat het dat ’n vrou van die nag voor almal sy voete was en soen, en selfs met kosbare reukolie masseur. Boonop het Jesus al haar sondes vrygespreek en haar daarna met vrede die nag ingestuur. Die Tjerrie op die koek was natuurlik toe hy die vrou geprys het vir haar gasvryheid wat die Skrifgeleerde se verwelkoming vêr oortref het.

Dit sou ’n mens nie verras as Jesus volgende iets sou sê soos dat die koninkryk van God soos suurdeeg is nie, “suurdeeg wat ’n vrou geneem en in drie sata koringmeel ingewerk het totdat dit heeltemal deursuur is.”

Ek was hierdie week verras toe ek ontdek dat suurdeeg, oral waar daar in die Bybel op ’n metaforiese manier daarna verwys word, altyd na sonde verwys. Daarom mag Jode, gedurende die Pasga-fees, net ongesuurde brood eet. Dan word suurdeeg geensins in jou huis toegelaat nie. Sonder uitsondering is suurdeeg ’n simbool vir die immorele, die onreine – dit wat die goeie en die reine kontamineer. Dit word nooit in ’n positiewe lig aangewend nie. In twee van Paulus se briewe byvoorbeeld (aan die Korinte en aan Galasiërs) waarsku hy die gemeentes teen immorele dade deur hulle te herinner dat ’n klein bietjie suurdeeg ’n hele baksel deeg kan versuur.

Voeg een tollenaar, een sondaar, een huigelaar, een twyfelaar, een ketter, een leuenaar, een skelm, een moordenaar, een rassis, een chauvinis, een homofoob… voeg een van húlle by tot jou groep en as jy jou weer kom kry, het jy ’n prostituut wat die Rabbi se voete masseur.

Met hierdie twee gelykenisse wil Jesus ons wakker skok. Hy wil ons kwesbaar genoeg maak dat die spandabelrige gasvryheid van God, dalk, net dalk, by ons kan begin tuiskom.

“Waarmee sal Ek die koninkryk van God vergelyk? Dit is soos suurdeeg wat ’n vrou geneem en in drie sata koringmeel ingewerk het totdat dit heeltemal deursuur is.”

Weet julle hoeveel is drie sata meel? Wel, ons sou vir Sara, Abraham se vrou kon gevra het, want dit is hoeveel meel sy gebruik het om gasvryheid te betoon aan die drie vreemdelinge wat eendag in die woestyn by hulle opgedaag het.

Blykbaar is drie sata meel gelyk aan 40 liter meel! Hoe veel brood kan ’n mens met 40 liter liter meel bak? Ek dink ’n mens sou maklik genoeg brood kon bak om een van daai SASKO brood-trokke vol te maak – so lank as wat jy ’n bietjie suurdeeg inwerk.

Sedert Sara en Abraham se voorbeeld van gasvryheid teenoor vreemdelinge, is drie sata meel ’n simbool van God se oorvloedige gasvryheid aan vreemdelinge. Drie sata meel is ’n herinnering aan die wet wat die meeste in die Ou Testament herhaal word: vreemdelinge moet soos burgers wees in julle land.

Teen al die protes wat Jesus moes aanhoor omdat hy saam met sondaars brood gebreek het, sê Jesus met sy gelykenis vir ons: Ek is besig om ’n SASKO trok vol gesuurde brode in my Vader se koninkryk in te bring en ALMAL is uitgenooi na die partytjie toe!

“[Die koninkryk van God] is soos ’n mosterdsaadjie wat iemand geneem en in sy tuin gesaai het. Dit het gegroei en ’n boom geword en die voëls van die hemel het in sy takke nes kom maak.”

Ook hierdie beeld van ’n mosterdsaad wat ’n boom word waarin die voëls van die hemele hulle neste kan maak is ’n simbool van God se spandabelrige gasvryheid.

Jesus verwys hier na ’n hele paar Ou-Testamentiese tekste waarin die groot koninkryke van die wêreld, soos die Romeinse en Babiloniese koninkryke, vergelyk is met die magtige Sederbome waarin die voëls van die lig hulle neste maak.

Teenoor almal wat die koninkryk van Israel skoon wou hou van alle heidene, van alle sondaars en verraaiers, van almal wat as gevaarlik, onrein of as ’n oorlas beskou is, sê Jesus:

Vir julle almal wat nie ’n tuiste in die groot Sederbome van hierdie wêreld kan vind nie, wat in die magtige nasies van hierdie wêreld geen heenkome kan vind nie, daar is meer as genoeg plek in my Hemelse Vader se onwettige kakiebos vir almal van julle!

Ek sluit af:

Aan die begin van my bediening in hierdie gemeente, aan die begin van ons pad saam, wat my die meeste opval in hierdie gelykenisse is dat Jesus nie gekom het “om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering” (Lk. 5:32).

Die koninkryk van God trek nader aan ons, nie wanneer ons vir mekaar kan oortuig dat ons regverdig, heilig, of sonder skuld is nie; maar wanneer ons die genadegawe ontvang van eerlike skuldbelydenis en opregte bekering.

God regeer onder ons namate ons vertroue in mekaar só groei dat ons ons skuld aan mekaar kan bely en saam kan werk om onreg reg te stel.

Die koninkryk is in ons midde wanneer ons diepste oortuiging aangaande sondes is dat sondes vergewe kan word.

Die ryk van God kom by ons tuis namate vreemdelinge, kakiebosse en ander ongewenstes, almal wat in plekke van mag en aansien nêrens het om hulle koppe neer te lê nie, by ons kan tuiskom en saam met ons om God se tafel brood kan breek.

Skuldbelydenis

V: Here Jesus, voor u aangesig val die skille van ons oë af.

G: Daarom bely ons: in die lig van u vrygewige genade,

sien ons die nalatigheid van ons liefde;

in die lig van u regverdigheid,

sien ons die skadu’s van ons vooroordele;

in die lig van u getrouheid,

sien ons die wispelturigheid van ons trou;

in die lig van u omarmende liefde,

sien ons hoe kleinlik is ons verdeeldheid;

V: Here, laat u ryk kom…

G: soos mosterdsaad en suurdeeg

V: Skenk aan ons die genade

G: om reg en vrede te maak waar ons ander verwond het.

V: Vergeef ons ons skulde

G: omdat ons ook hulle vergeef het wat teenoor ons skuldig staan.

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Helgard Pretorius word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.