Handelinge 2:1-21

9 Junie 2019

Pinkster
Prediker: Ds. Helgard Pretorius

Met Pinkster vier ons dat God aan ons, aan mense, aan die ganse skepping, Sy asem skenk. Ons vier vandag hoe die liefdevolle lewensadem van God wat ook vir Jesus in sy lewe bemagtig het ook aan ons geskenk word.

Ons het hierdie jaar saam met die evangelie volgens Lukas deur Jesus se lewe gereis; en julle sal onthou dat daardie verhaal by Jesus se doop in die Jordaan-rivier begin het. Soos Jesus uit die water opgekom het, het die Heilige Gees op hom neergedaal en op dieselfde oomblik hoor hy die Vader se stem wat sê: Jy is my geliefde kind. Ek vind groot vreugde in jou.

Daardie stem van onvoorwaardelike liefde en aanvaarding is die lewenskrag van Jesus; dit is die basis van alles wat hy verrig het en alles wat hy onderrig het.

En soos wat Lukas sy evangelie begin met God wat sy Gees aan Jesus skenk, so begin hy sy tweede volume, die boek van Handelinge, met God wat sy Gees oor Jesus se volgelinge uitstort. Ons gaan dit vanoggend lees.

Vir konteks: Jesus se laaste opdrag aan sy dissipels voor sy hemelvaart, was om in Jerusalem te wag sodat God daar die Heilige Gees vir hulle kan gee. Dink aan wat Jesus hier van hulle vra: Eerstens, is die dissipels Galileërs en nie van Jerusalem nie. Dit is vir hulle ’n vreemde stad. Meer nog, dit is die plek waar Jesus vermoor is en waar dit nie veilig is om ’n volgeling van Jesus te wees nie. Dit is ook die plek waar die dissipels vir Jesus verraai het, waar hulle hom verlaat en verloën net. Dit is die plek van mislukking, die plek van hulle ontrou aan Jesus. Daar, juis daar, op ons plek van mislukking en ontrou moet ons op God se bemagtiging wag.

Ek wonder wat beteken dit vir jou? Ek wonder wat sou dit vir jou beteken om in Jerusalem te bly wag – in jou plek van mislukking en ontrou? Waar is dit vir jou?

***

So vind ons dan aan die begin van vanoggend se gedeelte die dissipels in Jerusalem. Hulle is almal saam in ’n vertrek. Hulle wag. Heel moontlik is die deure uit vrees gesluit. Die volgende oomblik is daar ’n harde geluid soos ’n Kaapse stormwind wat nie net die huis vul waarin hulle was nie, maar ook die die hele buurt na hulle toe lok. Tonge soos vlamme verskyn en verdeel om op elkeen van hulle neer te daal.

Vuur en sterk stormwinde was natuurlik bekende Ou-Testamentiese tekens van God se ongetemde teenwoordigheid. En wat is die effek van God se teenwoordigheid in hierdie geval? Hulle is met die Heilige Gees is elkeen toegerus om ’n ander taal te praat.

Dit was die tyd van die Joodse Pinksterfees en daar was pelgrims vanuit eke windrigting vir hierdie fees in die stad. En soos mense uit nuuskierigheid nader kom om uit te vind wat die oorsaak van die groot lawaai is, kom hulle agter dat hierdie groep Galileërs die taal waarmee hulle elkeen grootgeword het.

Hoe kan dit wees? Wat is hier aan die gang?

***

Die mense het hoofsaaklik twee reaksies op hierdie vreemde gebeurtenis. Ons hoor hoe baie van die mense – positief verras en in verwondering oor wat hulle sien en hoor – vra: “Wat beteken dit tog?”

Maar ander mense sien hierdie verskynsel en maak dit af: “hulle is vol soetwyn!” sê hulle. Dit is “spirits” wat so maak, nie “the Spirit” nie.

Twee reaksies op die koms van God se Gees: Een ’n reaksie van meelewing en verwondering; die ander een, ’n amper siniese houding wat ’n werklike ontmoeting wil ontduik. Ook in onsself kan daar meerdere reaksies op die Gees se koms wees.

Ek het die week geluister na ’n gedig van DH Lawrence. Dit begin so:

“Not I, not I, but the wind that blows
through me!
A fine wind is blowing the new
direction of Time.
If only I let it bear me, carry me,
if only it carry me!
If only, most lovely of all, I yield
myself and am borrowed
by the fine, fine wind that takes its course through the chaos of the world”

Song of a Man Who Has Come Through, DH Lawrence

Mens hoor hier ’n diep verlange om deur die Gees vervul te word – nie Ek self nie maar die wind wat deur my waai! Maar dan, later, in dieselfde gedig:

“What is the Knocking?
What is the Knocking at the door in
the night?
It is somebody wants to do us harm.”

Selfs in die hart van een persoon, kan ons gemengde gevoelens koester oor die Gees se koms. Ons kan daarna verlang en terselfdertyd bang wees vir die onbekende. En ons kan ons vrees selfs verbloem in ’n uitwaartse siniese houding wat die Gees op ’n afstand probeer hou. Die uitnodiging wat die teks aan ons rig, is om lank genoeg in die plek van verwondering te vertoef, totdat ’n mens uiteindelik nie net sê: “wat beteken dit tog?” nie, maar uiteindelik ook, “wat moet ons doen?”

***

Maar Petrus nooi die spotters uit om ’n dieper waarheid raak te sien. Hierdie mense kan nie vol soetwyn wees nie; dus 09:00 in die oggend! Die groot Boeing het nog nie eers oorgevlieg nie!

En dan staan Petrus op en lewer die preek van sy lewe. Ons het vanoggend net die eerste gedeelte daarvan gelees, en in hierdie gedeelte haal Petrus die Hebreeuse profeet, Joël aan. En in hierdie profesie hoor ons hoe God deur sy Gees juis dié mense in die samelewing wat tipies nie ’n stem gehad het nie gaan gebruik om sy Woord te verkondig:

          ‘Ek sal my Gees op alle vlees uitstort –
          julle seuns en julle dogters sal profeteer
          en julle jongmense sal visioene sien,
en julle ou mense sal drome droom.
          Ja, ook oor my diensknegte en diensmaagde
          sal Ek in daardie dae my Gees uitstort en hulle sal
profeteer.’

In ’n patriargale, hiërargiese samelewing, wat streng deur godsdienstige reinheidswette georden was, belowe God om selfs die jong slawemeisie sy spreekbuis te maak. God se Gees kan nie mak gemaak word en beperk word tot enkele bevoorregte individue soos die koning of die priester nie.

Nee, sê Joël, die bestemming van God se Gees is ‘alle vlees’, alle mense. Dit laat mens dink aan Paulus se visie van Christus wat eendag die hele heelal, alles en almal gaan vul.

 Die vraag is natuurlik – veral vir die van ons wat reeds ’n stem het – of ons dan steeds sal sê: “Not I, not I, but the wind that blows through me!” of dalk eerder “What is the Knocking? What is the knocking at the door in the night? It is someone wants to do us harm.”

Wat julle hier sien, verduidelik Petrus vir sy gehoor, is die vervulling van Joël se profesie. Die eindtyd het aangebreek. Vir hulle wat hulle bevoorregte posisie in die samelewing wil beskerm, mag dit dalk voel soos ’n einde, maar eintlik is dit ’n nuwe begin.

Kyk net hoe het hierdie vreesbevange Galileërs, aanvanklik toegesluit in ’n vertrek, net soos hulle begin dink het dis die einde van die pad vir hulle, skielik ’n stem kry en met groot waagmoed getuies word van die evangelie.

***

Die eerste ding wat ons dus met die koms van die Gees opmerk is dat die Gees mense aan die beweeg sit om in al hoe wyer sirkels hulle mag en vriendskap met ander te deel. Dit is ’n beweging van groeiende verbondenheid met al God se skepsels; en daarom dring die Gees ons om bestaande magsverhoudings wat sulke verbondenheid en intimiteit tussen mense verhoed, uit te daag en te omskep.

Mense wat nie ’n stem het nie, moet ’n stem ontvang; en terselfdertyd moet ons wat dalk altyd ’n sê gehad het, leer dat daar gawes is wat God kies om net deur ander mense vir ons te gee – en dalk in besonder die mense wat ek gedink het te jonk, of te oud, of te arm, of te onopgevoed, of te eenvoudig is.

’n Tweede ding wat ’n mens opval oor die koms van die Gees in hierdie verhaal hou verband met hoe die Gees die dissipels in staat stel om die Woord van God in vreemde tale aan mense te kommunikeer.

Wat veral uitstaan van hierdie wonderwerk is dat dit nie ’n wonder van ‘hoor’ is nie, maar ’n wonder van ‘spreek’. Die Gees gee nie vir die mense van verskillende volke die vermoë om die Galileërs se unieke dialek te verstaan nie. Nee, dit gee vir die Galileërs die vermoë om vreemde tale te spreek.

Ek weet sommige mense vind dit makliker as ander, maar my ervaring met die aanleer van ’n nuwe taal het my oortuig dat jy daarvoor niks minder as die Heilige Gees nodig het nie. Ndiafunda ukuthetha isiXhosa; ek probeer al vir ’n geruime tyd isiXhosa aanleer, maar dit is al stotterend en stamelend.

Dikwels wanneer ek ’n geleentheid het om met ’n Xhosa-sprekende persoon, in hulle moedertaal te praat, voel ek so hulpeloos en so skaam oor hoe stadig ek vorder dat ek maar eerder oorslaan Engels toe.

Want as ek ’n vreemde taal praat is ek nie meer in beheer nie. Die woorde voel soos koue albasters in my mond, en skielik is my woordeskat veel kleiner as die ander persoon s’n. Skielik is ek afhanklik van die ander persoon se goedgesindheid en geduld om my foute uit te wys en om my reg te help.

Dalk is dit die punt. Dalk is dit wat die Gees vir ons deur hierdie wonderwerk wil leer… dat ek God se goeie nuus die beste hoor en kommunikeer wanneer ek in die posisie van die nederige, afhanklike en stamelende leerling is. Om die Gees te ontvang kan ek nie aan my mag en beheer vasklou nie, maar moet my hande oop wees om te ontvang. En om die Gees te volg, vra dat ek selfs die risiko sal loop dat mense dink ek is vol soetwyn.

Om die taal van ’n ander persoon te praat, is ’n liefdesdaad. Dit is om iemand in hulle uniekheid en eiesoortigheid raak te sien en te erken; dit is om vir iemand te sê, ek ag jou genoeg om jou posisie – jou grammatika, jou woordeskat, jou unieke dialek – as my vertrekpunt te neem, eerder as myne. En daarom is die Gees wat die dissipels vreemde tale laat praat, uiteindelik, ten diepste, die Gees van liefde.

***

So, dink ek, is die werking van die Gees: dat dit ons al hoe meer instel op die behoeftes van ander, en ons toerus om lief te hê in situasies wat aanvanklik vir ons vreemd, of uitdagend, of bedreigend mag voel. In sulke situasies is die Gees die groot vertaler.

Eers het die Gees die liefde van die Skepper vertaal en die asemrowende heelal het tot stand gekom. Later het die Gees, in die lewe van Jesus, die liefde van God vertaal in die vorm van ’n brose menslike lewe. Vanoggend is ons daaraan herinner dat die groot Vertaler steeds aan die werk is om die evangelie in die unieke dialek van elkeen van ons lewens te vertaal. Mag die Gees ons elkeen bemagtig om te sê:

“Not I, not I, but the wind that blows
through me!
A fine wind is blowing the new
direction of Time.
If only I let it bear me, carry me,
if only it carry me!
If only, most lovely of all, I yield
myself and am borrowed
by the fine, fine wind that takes its course through the chaos of the world.”

Rut 1:1-18: Dankfees

4 November 2018
Prediker: Ds. Helgard Pretorius

Skriflesing: Rut 1:1-18

In die jare toe die rigters nog die leiding geneem het, was daar hongersnood in die land.

Die verhaal speel dus af in die tydperk voordat Israel ’n koning gehad het. Ons weet uit die boek Rigters dat dit sosiaal-polities ’n onrustige, onsekere tyd was, met baie bedreigings, konflik en verskriklike geweld. Hongersnood het’n krisis veroorsaak waarin baie mense geforseer is om te migreer.

’n Man van Bethlehem in Juda het tydelik in die gebied van Moab gaan bly, hy en sy vrou en sy twee seuns. Die man se naam was Elimeleg, sy vrou se naam was Naomi en sy twee seuns se name was Maglon en Kiljon. Hulle was van die Efrat-familie uit Bethlehem in Juda. Hulle het in die hoogland van Moab aangekom.

Die Moabiete het in die Hebreeuse Bybel ’n baie slegte naam. Die Bybel is vol lelike aantygings en beledigings teen die Moabiete. Toe Israel nog swerwers in die woestyn was, het die Moabiete geweier om aan hulle gasvryheid te betoon. In Deuteronomium 23, byvoorbeeld word hierdie geskiedenis herroep en dan word daar voorgeskryf dat ’n Moabiet nooit, nie eers tot in die tiende geslag, deel mag word van die gemeenskap nie. “Jy mag nooit in vrede leef met die Moabiete nie … jy mag nooit iets goeds doen vir hulle nie,” so word daar gesê.

’n Moabiet was meer as ’n heiden en ’n vreemdeling – hulle was die vyand. In Numeri 24 word daar vertel hoe die toorn van God opgevlam het teen ’n paar Israelitiese mans wat met Moabitiese vrouens omgang gehad het en hulle heidense gode aanbid het. As straf moes die mans summier in die openbaar gehang geword het.

Dus, as ons hier hoor hoe Elimeleg en sy gesin weens ’n hongersnood na Moab toe moes vlug, wonder ek wat die eerste hoorders sou gedink en gesê het.

Terwyl hulle daar was, is Elimeleg, Naomi se man dood en is sy en haar twee seuns agtergelaat. Hulle is met Moabitiese vroue getroud. Die een se naam was Orpa en die ander een se naam was Rut. Hulle het sowat tien jaar daar gebly toe is ook die twee seuns, Maglon en Kiljon, dood. Die vrou het alleen agtergebly, sonder haar twee kinders en sonder haar man.

In die Ou Nabye-Ooste, soos ook in baie moderne kontekste, was weduwees besonders kwesbaar en hulle omstandighede besonders bedreigend. Die situasie was so veel erger indien ’n weduwee geen seuns het nie – dan het sy geen manier gehad om familie-eiendom te erf nie. Met die dood, eers van haar Man, en nou haar twee seuns, was Naomi as weduwee en boonop as bywoner in a vreemde land, in ’n baie gevaarlike situasie.

Sy het toe gereedgemaak om met haar skoondogters terug te keer uit die hoogland van Moab want sy het daar in die hoogland van Moab gehoor dat die HERE na sy volk omgesien het deur vir hulle brood te gee. Sy is toe weg uit die plek waar sy gewoon het en haar twee skoondogters saam met haar.

Op pad terug na die land Juda sê Naomi vir haar skoondogters: “Julle moet liewer teruggaan, elkeen na haar eie ma se huis. Mag die HERE aan julle goeddoen soos wat julle aan die oorledenes en aan my gedoen het [mag die HERE aan julle die troue liefde bewys wat julle aan die oorledenes en aan my bewys het]. Mag die HERE gee dat julle elkeen ’n tuiste vind in die huis van ’n man.” Toe het sy hulle gesoen, maar hulle het hardop begin huil en vir haar gesê: “Nee, ons wil saam met jou teruggaan na jou mense!”

Maar Naomi sê: “Draai om, my dogters! Om watter rede sal julle saam met my gaan? Is daar nog seuns in my liggaam wat vir julle mans kan word? Draai om my dogters! Gaan terug want ek is te oud om weer te trou. Al sou ek dink daar is nog hoop vir my, en selfs al sou ek reeds vannag ’n man hê, selfs aan seuns geboorte gee, sal julle vir hulle kan wag totdat hulle groot is? Sal julle om daardie rede julleself daarvan weerhou om te trou? Nee, my dogters, dit is vir my baie swaarder as vir julle. Die hand van die HERE was immers teen my.”

Hulle het toe weer hardop gehuil. Orpa het haar skoonma gesoen, maar Rut het aan haar vasgeklou. Naomi sê vir haar: “Kyk, jou skoonsuster het omgedraai na haar mense en na haar gode toe. Gaan terug, agter jou skoonsuster aan.”

Maar Rut het geantwoord:

“Moenie my probeer dwing om jou te verlaat nie
of om van jou af weg te gaan nie,
want waar jy gaan, sal ek gaan
en waar jy bly, sal ek bly.
Jou mense is my mense,
jou God is my God.
Waar jy sterf, sal ek sterf
en daar sal ek begrawe word.

“Die HERE kan my maar swaar straf as ek nie woord hou nie: Net die dood sal ons skei.”

Toe Naomi sien dat sy vasbeslote is om saam met haar te gaan, het sy opgehou om haar te probeer ompraat. So het die twee van hulle toe aangestap tot hulle by Betlehem aangekom het.

Boodskap

Tot so vêr vanoggend se voorgeskrewe teks. Dis natuurlik net die eerste hoofstuk van wat Goethe gemeen het die mooiste kortverhaal van alle tye is. Hoe loop die storie verder?

Naomi en Ruth kom tydens die garsoes in Bethlehem aan en Rut gaan in die lande in van ’n man met die naam Boas, om op sy plaas are op te tel wat na die graansnyers hulle werk gedoen het agtergebly het. Boas is vêr-langs familie van Naomi se oorlede man, Elimeleg. Hy sien vir Rut raak en bewonder die getrouheid wat sy aan haar skoonmoeder betoon. Hy bewys goedheid aan haar deur haar toe te laat om meer as haar deel van die koringare op te tel.

Op hierdie punt neem Naomi inisiatief: sy moedig vir Rut aan om een aand by die dorsvloer, nadat Boas goed geëet en lekker gedrink het, by hom te gaan inkruip waar hy lê. Rut het dit gedoen; en die saak beweeg na ’n klimaks (by wyse van spreke) en Boas stem in om “in die môre” met haar te trou. Daarvoor moes hy egter eers ’n paar administratiewe sake afhandel (waarvan ek julle volgende week meer sal vertel), maar die verhaal kom uiteindelik tot ’n happy ending: Boas en Rut trou, Rut gee geboorte aan ’n seuntjie en Naomi se lot en eer word herstel.

Soos Jesus se gelykenisse is die boek Rut – die enigste Bybelse boek wat die naam van ’n heiden as sy titel het – ’n verhaal wat poog om ’n mens se veronderstellings uit te daag en ’n mens met nuwe oë na ’n situasie laat kyk.

Den diepste gaan die storie van Rut oor hesed oor troue liefde en toewyding. Dit is ’n sentrale saak in die Hebreeuse Bybel – ook die Nuwe Testament. Dit is die hart van die Wet en die Profete, wat ons vroeër opgesom het as liefde aan God en liefde aan ons naaste.

Verbeel jou dat by ’n Joodse pasga-maaltyd vra iemand aan tafel: Maar wat is die betekenis van hierdie woord hesed, wat beteken troue liefde? … met jou hele hele hart en met jou hele siel en en met jou hele verstand en met al jou krag.

Een van die vrouens aan tafel staan op en vertel ’n storie. Dis nie ’n storie van ’n bekende geloofsheld nie. Dis nie ’n storie van ’n profeet, of ’n priester, of ’n koning nie. Dis die storie van wat vandag net as ’n ontelbare syfer op ons rekenaarskerm sou flits: 1 van 5 miljoen Siriese vlugtelinge wat geen heenkome in hulle eie land kan vind nie.

Dis die storie van een van die duisende – in ons dag miljoene mense – wat geforseer word om, weens omstandighede buite hulle beheer, uit hulle geboorteland te vlug. Dis die storie van die weduwee en vlugteling, Naomi, vir wie die hand van die Here teen haar was.

Toe Naomi en Rut, haar Moabitiese skoondogter, uiteindelik in haar tuisdorp, Betlehem aankom, was haar woorde aan haar ou vriende: “Moet my asseblief nie meer Naomi noem nie, noem my Mara, want die Almagtige het die lewe vir my baie bitter gemaak. My lewe was vol toe ek hier weg is, maar die Here het my leeg laat terugkom… Waarom noem julle my nog Naomi? Die Here het dan teen my gedraai, die Almagtige het ’n ramp oor my gebring.”

Wanneer Naomi beleef dat selfs God se hesed, God se troue liefde en sorg,opgedroog het, is dit uit die mees onverwagse oord wat sy oorweldig word deur ’n trou en ’n toewyding wat niks minder as goddelik is nie. Onder hierdie omstandighede, waarin selfs die Here sy rug op Naomi gedraai het, is dit haar Moabitiese skoondogter wat ’n voorbeeld word van God se hesed. Teen haar eie hand in, sê Rut vir die ma van haar oorlede man:

 “Moenie my probeer dwing om jou te verlaat nie
of om van jou af weg te gaan nie,
want waar jy gaan, sal ek gaan
en waar jy bly, sal ek bly.
Jou mense is my mense,
jou God is my God.
Waar jy sterf, sal ek sterf
en daar sal ek begrawe word.

Toe Jesus op ’n keer op ’n berg die groot skare mense wat hom begin volg het onderrig, bespreek hy ook die saak van liefde. Nie net jou eie mense nie, sê Jesus, maar ook die ander, die vreemdeling, ja die vyand… hê jou vyand lief en jy verstaan die ware betekenis van naasteliefde.

As ons ons eie liefhet, vra Jesus, doen die heidene dit nie ook nie? Sou Jesus later vra.

Die heidene. Bedoel Jesus dalk die Moabiete? Impliseer Jesus dat Israel weet hoe om werklik lief te hê, maar dat die heidene ’n afgewaterde vorm van liefde het? Dat Israel weet dat liefde vyandskap en apartheid oorstyg, maar die heidene nie?

Hoe ironies… dat Rut, die heiden met haar afgode, die vyand van wie ’n mens geen goeie ding kan verwag nie – soos die Samaritaan in Jesus se gelykenis – vir óns, die kinders van God, moet leer hoe ware hesed lyk.

Dit sou nie die laaste keer wees wat dit gebeur het nie.

I am all in, sê Rut vir Naomi. Ek is by jou in jou hartseer en jou verlies, in jou vrees en jou angs, in die donker nag van jou bitterheid en verdriet, sal ek by jou bly. Tot in die graf is ek joune. Net die dood sal ons skei.

Ek kan jou nie help nie. Vir jou kondisie het ek geen medisyne nie, geen oplossing nie. Ek kan vir jou geen hulp aanbied nie. Eintlik moet ek erken, ek is hulpeloos – ek is ook ’n weduwee, sonder kinders, ek is so hulpeloos soos jy om hierdie tragedie te verstaan of om daarop te reageer…

Maar ek is bereid om selfs my hulpeloosheid te omarm, as dit beteken dat ek vir jou kan omhels en jou deur die nag van jou nood kan vergesel. My getrouheid aan jou strek vêrder as my vermoëns en gawes. My getrouheid aan jou ryk dieper as enige iets wat ek vir jou kan doen of gee.

En dan word ons (en hulle) verras deur die onmoontlike. Ons sien hoe ’n doodloopstraat uiteindelik ’n nuwe begin word. Ons sien hoe die hesed van Rut, die heiden, soos suurdeeg, die lewe van Naomi oopsluit.

In die donker nag van Naomi se verdriet en moedeloosheid is dit Rut se onwankelbare trou wat ’n skrefie hoop laat in-skemer.

In Betlehem waar net die minste gedoen is op ’n wetlike manier vir weduwees en vlugtelinge te sorg, is dit Rut se oorweldigende trou wat vir Boas leer dat dit nie net oor wetlikheid gaan nie, maar oor regverdigheid en werklike sorg. Dat liefde, liefde uitlok.

In ’n konteks van vyandskap en apartheid, waarin haar hele bestaan een groot skande is, is dit in Rut se eenvoudige, brose, menslike liefde en toewyding – en nie in die priesters se verregaande wette en hoogdrawende teologiese konsepte nie – wat ware toewyding aan God gestalte vind.

Liefde oorstyg en deurbreek die grense wat ons lewens bepaal. Soms is dit onder hulle wat ons as heidene, vreemdelinge of vyande beskou wat liefde die helderste gestalte vind.

Die vraag is, is ons bereid om by hulle, wie ook al hulle vir ons mag wees, te leer hoe om lief te hê?

Dit is maklik om te weet hoe om die bose te haat. Hoe om teen dit of dat te wees. Teen geweld, teen diefstal, teen moord, teen losbandigheid.

Die vraag wat ons egter altyd bybly is: hoe kan ek liefhê?

Wat beteken liefde, in die konteks van my lewe? Wat beteken trou en toewyding in die konteks van ons lewe saam met ander, wat insluit vreemdelinge en vyande?

Hoe kan ek liefhê in die konteksvan verdeeldheid en wantrou tussen groepe?

Hoe kan ek liefhê wanneer ek deurdie ander bedreig voel?

Hoe kan ek liefhê in die konteksvan ’n lewens- of familiekrisis?

Hoe kan ek liefhê in die konteksvan ’n humanitêre krisis?

Hoe kan ek liefhê wanneer ek hulpeloos is om te help? Wanneer ek niks het om te gee nie, geen oplossing het om te bied nie?

Mag die Here vir elkeen van ons ’n Rut gee by wie ons kan leer hoe om lief te hê.

Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Helgard Pretorius word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.

Matteus 23:1-12 – 2017

5 November  2017Pinelands Dankfees, Kerkraadsbevestiging en Nagmaal
Prediker: Dr Tiana Bosman

 

Matteus skryf na die val van die tempel in Jerusalem in 70 n.C. Hy skryf vir ‘n christelike gehoor – leer hulle deur hulle te vertel van 40 jaar + gelede se gebeure.

Vs 1: die skare en sy dissipels. Dieselfde gehoor as met die bergrede (5:1 en 7:28). Die “skare” verwys na potensiële dissipels wat op hierdie stadium nog positief is oor Jesus. Ook hier in Matteus 23 is dit hulle wat aangespreek word.

In die bergrede seën Jesus, hier spreek Hy oordeelsuitsprake uit. In beide gevalle spreek Hy die belang van mens se innerlike ingesteltheid teenoor uiterlike gedrag aan. Dit wil voorkom asof Matteus kies om nie die Joodse godsdienstige leiers (sy eie gehoor) direk aan te vat en te kritiseer nie, maar om eerder Jesus se woorde as ‘n waarskuwing vir die skare en die dissipels te gebruik en indirek ook so die waarskuwing aan die leiers in sy eie gemeenskap oor te dra.

Lees teks

Ons sou Jesus se woorde soos volg kon verstaan: Deur te sê dat die skrifkenners en Fariseërs op die stoel van Moses sit, gee Jesus aan hulle die gesag om die geskrifte vir God se mense te interpreteer.

  • Hulle het die gesag om swaar vragte op mense te lê of om hulle vry te maak, die gesag om vas te stel wat die wil van God is vir elke nuwe situasie.
  • Deur vir sy dissipels aan te moedig om te doen soos wat die Fariseërs sê, prys Hy eintlik die Fariseërs se leringe. Jesus se volgelige moet die gesag van hierdie onderwysers respekteer en hul lewens rig volgens hulle interpretasie van die geskrifte.
  • Deur te waarsku dat die dissipels egter nie moet doen soos die Fariseërs doen nie, wys Jesus die swakpunt van die Fariseërs uit – hulle doen nie wat hulle sê nie, hulle lewens is nie in oorstemming met hul leringe nie. Jesus verwag van sy dissipels om die wil van God na te streef in ‘n beter mate as wat die Fariseërs dit gedoen het (wat dit gepreek het, maar nie in die praktyk onder die knie kon kry nie).

Dit is egter nie die prentjie wat ons in die res van Matteus se evangelie aantref nie – dat hulle nie doen wat hulle sê nie. Hulle het bv gepreek dat mens jou hande goed moet was voordat jy eet, en hulle het dit wel ook gedoen. Hulle het almal wat dit nie gedoen het nie, gekritiseer. Wanneer Paulus in Filippense 3 oor sy eie lewe as Fariseër skryf, getuig hy daarvan dat hy onberispelik was in die toepassing van die Wet. They practiced what they preached.

Ek dink die sleutel tot die verstaan van Jesus se waarskuwing lê by die woordjie in vs 3 wat met “praat” vertaal word – legousin –  “hulle praat net en doen nie”. Hierdie woord verwys nie na sommer enige vorm van praatjies maak nie, dis ‘n meer “formele” manier van praat, dis om iets belangriks oor te lewer, van ‘n ander bron af “oor te vertel”, te resiteer. DUS: Wanneer Jesus sê dat die skrifkenners en Fariseërs op die stoel van Moses sit, bedoel Hy daarmee dat hulle die sosiale en godsdienstige magsposisies beklee het. Hulle is diegene wat toegang het tot die Tora (they are the keepers of the Torah – Tong in die kies: Laat mens dink aan die nuwe boek wat die week op die rakke verskyn het: The President’s Keepers, Jacques Pauw – deel inligting en weerhou inligiting om die prentjie van die president voor te hou wat hulle pas). In ‘n tyd waar baie min mense kon lees en die man op die straat geensins toegang gehad het tot die OT Tora en Geskrifte, die Wet en die Profete nie, het die verantwoordelikheid by die geleerde skrifkenners en Fariseërs gelê om die woorde van Moses te spreek – of deur dit aan die mense voor te lees of deur dit vanuit geheue te resiteer. Dit het egter nie beteken dat hulle die insig en gesag gehad het om hierdie Tora reg te interpreteer nie, soos Jesus keer-op-keer kom wys het.

Jesus se eie dissipels het ook nie kopieë van die Tora gehad nie. Jesus leer hulle dat hulle afhanklik is van die skrifkenners en die Fariseërs om te weet wat Moses (en God deur Moses) gesê het. Daarom adviseur Hy sy volgelinge om op hierdie woorde (voorlesings en resitasies) van die Fariseërs ag te slaan, om dit ter harte te neem. Maar nie hulle leringe en hul interpretasies van die Wet nie. Wanneer hulle begin om die geskrifte te interpreteer met hul eie woorde en lewens, dan moet die volgelinge nie meer hulle voorbeeld volg nie. Want hulle woorde en dade dui daarop dat hulle die geskrifte verkeerd interpreteer.

In Matteus se dag en tyd was daar twee bronne van Skrifinterpretasie – die interpretasie van die sogenaamde skrifkenners en die Fariseërs, en die interpretasie van die ontluikende christelike gemeenskap. So was dit ook tydens die Reformasie (waarvan ons juis nou die 500 jaar vieringe het): Die Rooms-Katolieke aan die een kant en die Hervormers aan die ander kant. Dat Luther toe so ver gegaan het om die ontoeganklike Bybel wat net deur die pous, kardinale, biskoppe en priesters gelees kon word, te vertaal sodat almal dit kon lees en interpreteer, het gemaak dat hy voëlvry verklaar is.

Vandag is die toegang tot en interpretasie van die Bybelse geskrifte nie minder kontensieus as deur die eeue nie. Gelowiges val mekaar daaroor aan, beswadder mekaar, lê swaar laste op mekaar, bind vragte aan ander vas wat hulself nie bereid is om met hulle saam te sleep nie. Party sê ander as ketters aan… Alles as gevolg van die een gemeenskaplike teks (alhoewel omvattend en divers in sigself!) wat deur verskillende groepe mense verskillend geïnterpreteer word.

Wat is die kritiek wat Jesus teen die skrifkenners en Fariseërs uitspreek?

  • Vs 4: Hulle bind swaar vragte saam, ja, moeilik om te dra, en lê dit op die mense se skouers, maar self is hulle nie bereid om met ‘n vinger aan die vrag te raak nie.

Hulle stel met hul eise en verwagtinge aan mense wat, sou hulle in dieselfde situasie wees, hulle nie sou kon nakom nie. (Laat my tog dink aan heteroseksuele mense vandag wat geensins wil toelaat -! – dat homoseksuele mense in verhoudinge mag wees of mag trou nie, maar die hetereoseksuele mense is self nie bereid om ‘n lewe van eensaamheid en onthouding op hulself te neem nie. Dis maar die las wat iemand wat gay is moet dra…, dank vader gelukkig nie mý las nie!)

Hierteenoor stel Jesus die voorbeeld van ‘n ligte las: 11: 28-30: “Kom na my toe, almal wat vermoeid en swaar belas is, en ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van my, omdat ek sagmoedig en nederig van hart is, en julle sal rus vind vir julle gemoed. Want my juk is draaglik en my las is lig.

  • Vs 5-7: Al hulle dade is bedoel om deur mense gesien te word. Hulle maak immers hulle gebedsrieme breër en die tossels (aan hul some) langer. Hulle hou van die ereplek by feesmaaltye en die voorste sitplekke in die sinagoges. Om op die markpleine begroet en deur die mense as “rabbi” aangespreek te word.

Die Fariseërs se dade is nie daarop gerig om ‘n positiewe verskil te maak in ánder mense se lewens nie, dit gaan geensins oor NAASTEliefde nie, maar oor liefde vir die self, om jouself te laat geld en om raakgesien te word. Ja, almal dra nie ‘n groot kruis op hul nek of ‘n band om hul skouer as hulle preek om raakgesien te word nie, maar die gevaar bestaan wel, en daarom is dit so belangrik dat die leiers in geloofsgemeenskappe altyd hulleself sal ondersoek – wat is die motivering vir hul keuses van kleredrag, of ekstra bande, of aanspreeksvorme… As dit jou help om bewus te bly van jou roeping as dienaar soos Jesus (Fil 2 – doulos), dan is dit goed. Maar indien dit is om jouself uit te sonder as anders as die groep, of as dit is om raakgesien te word – dan moet jy dit liefs nie dra nie.

Nog ‘n voorbeeld uit die lewe van Christene word weerspieël in die bumper sticker (buffer plakker) “My God Is Alive, Sorry About Yours” – die vraag is: Getuig hierdie plakker van jou geloof of sien jy eerder neer op ander? Word God deur hierdie plakker geprys of word ander mense (en hul geloof) ondermyn? Wat is die regte rede agter so sticker op jou motor?

Dieselfde met titels. Daar is mense wat die titel “rabbi” of “Vader” of “dominee” in nederigheid dra, ‘n titel wat juis hul diensbaarheid na vore bring. Maar dan is daar diegene wat dit dra en daarop aandring as jy vergeet om dit te gebruik, omdat hulle wil hê dat mense hulle “met die nodige respek” moet aanspreek. So anders as Jesus se manier…

Ek preek vandag uit hierdie leesroosterteks, nie om die gemeente tereg te wys nie, maar eerder om julle te bemoedig. ‘n Klein gemeente waar CVs en titels en name nie belangrik is nie. ‘n Gemeente waar almal welkom is, waar die meerderes nie vir die minderes plek maak en verwelkom nie, maar waar almal as minderes elke week opnuut weer weet dat hulle welkom is, ongeag of jy al jare aan die gemeente behoort of of dit jou eerste keer hier is.

Ons bevestig vandag vir Anli as diaken. Anli, jy is nie deur die kerkraad genomineer omdat jy Iemand is nie. Ons het nie jou CV bestudeer of jou verlede geweeg nie. Niemand behalwe ek weet hoe baie jy al gedoen het en wat jy alles bereik het nie, maar ek het juis gekies om dit nie te deel nie. Al sou ons jou CV hê, gee ons nie daarvoor om nie. Ons bevestig jou ook nie oor jou goeie voorbeeld en jou groot geloof nie. Ek gaan nie vanoggend die kerkraad se formulier voorlees en die amptelike vrae vra nie. Ek gaan eerder Fil 3 aampas (8 Okt se teks en boodskap) en vra dat jy op die vlg vrae antwoord:

  • Glo jy dat niks wat jy tot hiertoe kon doen (jou CV), gemaak het dat jy geskik is om as diaken te dien nie?
  • Glo jy dat jy aan Christus gehoort, nie omdat jy Hom aangeneem het nie, maar omdat Hy jou syne gemaak het.
  • Glo jy dat jou diens as diaken geensins sal bydra tot jou regverdiging voor God nie?
  • Onderneem jy om die Bybel so te lees dat dit nie van mense gevangenes maak nie, maar hulle bevry; dat dit nie mense oordeel nie, maar vryspreek; dat dit nie mense uitsluit nie, maar verwelkom.
  • Is jy bereid om die minste wees, ‘n dienaar, ‘n doulos in die voorbeeld van Jesus?

Anli antwoord: JA.

Hertoewyding van die res van die kerkraad en wyksleiers/leidsters.

Nagmaalsviering: Die brood wat ons breek is die liggaam van Jesus Christus die slaaf…

Die wyn wat ons drink is die bloed van Jesus Christus die slaaf… Hy wat in die gestalte van God was, het hom van sy goddelikheid ontledig deur die gestalte van ‘n slaaf (doulos) aan te neem en die laagste vorm van dood te sterf – die dood aan die kruis. Dis sy lewe, sy lyding, sy liggaam wat ons voed en versterk en voorberei om met dieselfde gesindheid uit te gaan en ander te dien.

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.

 Haggai 2:1-9 – 2016

6 November 2016 Dankfees, Kerkraadsbevestiging, Nagmaal
Prediker: Dr Tiana Bosman

“Anything worth doing is worth doing badly.” So het die Christen filosoof Chesterton. Most of what must be done to make the world go ’round is done by the average Joe who does not do it perfectly–or sometimes even well” (www.psychologytoday.com)

1. Deur die profeet Haggai praat God met mense wat bou. Hulle is besig om God se tempel te bou en boonop in God se opdrag. Bou is mos goed, en tempelbou seker nog beter. Maar hierdie mense werk nie entoesiasties nie, en daarom sê God vir hulle wat hulle klaar dink:

Lees Haggai 2: 1-3.

Die bouwerk lyk vir hulle nietig, want sommige van hulle onthou nog die majestieuse tempel van Salomo. Maar hulle het nie nou, dekades later, Salomo se rykdom en vakkundiges tot hulle beskikking nie. Esra vertel wat gebeur het toe die bouers die fondamente vir hierdie nuwe tempel gele het. Die hele volk het gejubel, maar baie van die oueres onder die priesters, die Leviete en die familiehoofde wat nog die eerste tempel geken het, het hardop aan die huil (ween) gegaan toe hulle sien hoe die fondamente van hierdie tempel gelê word (Esra 3:12) Is hierdie afskeeptempel die moeite werd?

Wie is hierdie mense? Dit is die Israeliete wat uit ballingskap teruggekeer het. Dis die Israeliete wat die trauma van die verwoesting van Jerusalem en die tempel in 586/7 vC beleef het. Die leiers, rykes en vernames is in ballingskap weggevoer. In 539 vC het daar vir hulle hoop gekom toe die Persiese koning Kores, nadat hy Babilon ingeneem het, die Joodse ballinge toegelaat het om terug te keer en om hulle tempel te herbou volgens die Persiese beleid van godsdiensvryheid.

Van die teruggekeerdes se aanvanklike poging om die tempel te herbou, het daar niks gekom nie. Dis nou amper 20 jaar later en hulle het steeds niks om te wys nie. Hul drome van glorieryke herstel het veel te wense oorgelaat. Alles is net eenvoudig minder goed as soos hulle dit in die vervloeë jare onthou het. Wat het van hulle groot God geword? Waar is Hy?

2. Hy is presies waar mense vervelige sleurwerk doen in moeilike omstandighede! Daar waar mense gehoorsaam opbou:

Lees Haggai 2: 4-5.

Julle sien, eers wou die mense nie bou nie. Hulle was ontnugter en teleurgestel na hul terugkeer uit ballingskap. Dis nie dat hulle krepeer het nie, maar hulle het geen dryfkrag gehad nie. Hulle ploeter maar net elke dag voort en fokus meestal op hul eie lewens en hul eie belange (bou vir hulself pragtige huise om in te woon terwyl die Here se huis in puin lê, 1:4). Tempelbou was nie ‘n prioriteit op hul lysie nie. “Dis nie nou die tyd nie,” hoor ons in 1:2 hulle sê. Hulle stel uit, maar ons almal weet van kom van uitstel… Hulle dink verskonings uit (ons het nie goud en die silwer om mee te bou nie – maar wat van die bome in die berg?, vra die Here, 1:8). Hulle sien swarigheid en hulle verwag mislukking.

Maar God is by klein mense in hulle takies wat gehoorsaam uitgevoer word. Die eerste wat God sê wanneer die volk kla oor hoe hierdie tempel by die eerste een gaan afsteek, is: “Skep moed/wees sterk en bou voort! My gees sal altyd by julle bly. Moenie bang wees nie!” God wil met sy gees deur ons werk, al is dit dalk nie op die manier wat ons sou verkies nie. Al is dit dan nou net om die een balk bo-op die ander een te sit. Al is dit om op ander “ondankbare” maniere te bou binne die gemeente en die gemeenskap. In sy preekuitleg oor hierdie teks vertel Douglas Lawrie so skerp: “As Moeder Theresa geweier het om vir die Here ‘n kersie aan te steek omdat sy liewer ‘n kragstasie sou wou bou, was daar vandag minder lig in die wêreld… Ons werke steek nie altyd die wêreld aan die brand nie en laat nie almal regop sit nie… Nogtans moet ons luister en gehoorsaam wees.”

Hierdie ontnugterde volk is natuurlik ook ons. Ons leef in ‘n Haggaityd. Apartheid het geval, soos dit moes, maar die reënboog het vervaag en die son van geregtigheid het nie deurgebreek nie, alhoewel dit die week soms lyk asof hy so wil-wil kopuitsteek. Baie gewone Suid-Afrikaners voel moedeloos en magteloos. Daar is tog niks wat ons aan die stand van sake kan doen nie, wie is óns immers? Dan doen ons maar wat vir ons dinge so bietjie beter maak – ons bou of verbou ons eie huise met hoë veiligheidsmure, ons bou ‘n afdak omdat die motorhuis te klein is, ons bou ons eie lugkastele. Maar dis nie plekke waar God se teenwoordigheid kan verskyn nie. Ons raak apaties en daarmee saam so bietjie selfsugtig. Omdat ek nie groot bouwerke vir die Here kan aanpak nie, bou ek maar my eie huis (loopbaan, bankbalans, vriendekring, stokperdjie). Omdat my drupel tog nie ‘n verskil in die emmer sal maak nie, bied ek dit nie aan nie.

3. Maar dan kom God se nuwe belofte:

Lees Haggai 2: 6-9.

God se groot werk is net met my of met ons nie; hemel en aarde, al die nasies word daarby ingesluit! God se magtige teenwoordigheid vervolmaak ons geringe takies en maak daarvan iets groots. Dalk nie nóú nie, maar binnekort. Sy grootste werk kom later in Jesus, nie die Gekroonde nie, maar die Gekruisigde.

Die werk wat ons vir die Here doen, die werk wat soms voel na ‘n gevoortploeter op ‘n plek waar ons éíntlik nie wil wees nie, dit is nie maar blote onbaatsugtige selfopoffering nie. Dit is waar God sy vrede bewerkstellig! Wat veel meer “werd is” as tempels van goud en silwer. Hierdie shalom van God is ‘n gawe wat uiteindelik vir almal bedoel is – dis nie die resultaat van ons werk nie, ook nie die beloning daarvoor nie. Dis eerder die fondament daarvan. Omdat God in sy belofte (my Gees is bý julle) en in Jesus Christus (Immanuel) aan ons skenk, kan ons moedig werk, al bereik ons op die oog af min.

Soos ons gemeente teksvers op die hoeksteen hier buite sê: “Julle (nie hierdie gebou nie) is die gebou van God… Niemand kan ‘n ander fondament lê as wat reeds gelê is nie. Die fondament is Jesus Christus.” (1 Kor 3:9, 11). Solank ons mekaar daaraan herinner dat die fondament Christus is, mag ons maar weet dat die bietjies wat ons elke dag verder bou, maar bietjies kan wees. Ek sluit af met Eliot: “Perhaps neither gain nor loss. For us, there is only the trying. The rest is not our business.”

Magda, Herman, Johlene en Pieter, dankie dat julle bereid is om saam met die res van die kerkraad en die wyksleiers te bou,  al dink julle dat jul bydraes maar net ‘n druppel in die emmer gaan wees en al weet julle dat dit dikwels maar sleurwerk gaan wees. Julle is alleen nie. Julle fondament is Christus en julle krag is die Gees van God. Hy is by julle in hierdie taak.

En liewe gemeente, dankie vir elkeen van julle se druppels in die emmer van ons gemeente. ‘n Klompie jare terug was daar sprake dat Pinelands NG gemeente nie meer as ‘n gemeente sou kon voortbestaan nie. Dis julle wat hier sit se getroue druppels wat val op die fondament van Christus waardeur God ons staande hou en waarom on sook vanoggend kan getuig dat dit goed gaan met ons. Die hemel en die aarde, die see en die land het nou wel nie vir ons gebewe nie, maar die kinderkamer bars uit sy nate. Ons het ons eie tekens van God se magtige teenwoordigheid en vrede.

(Bron: Laurie, D; Woord en Fees 2016)

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.