Johannes 18:28 –19:22 – 2016

24 Maart 2016 Pinelands – Goeie Vrydag
Prediker: Dr Tiana Bosman

 

Dat die kerk vandag nie vol is nie, is nie ‘n verrassing nie. 2000 jaar na die werklike gebeure is ons vandag hier om ‘n gedenkdiens te hou vir Jesus. Die dag van sy begrafnis was somber en verlate. Net twee mense het dit bygewoon – die geheime dissipels Josef van Arimatea en Nikodemus wat destyds stilletjies in die nag vir Jesus opgesoek het. Die wegkruipers, die wat skaam was om met Jesus (en/of sy volgelinge?) geassosieer te word – dit is hierdie twee wat vir Pilatus gaan toestemming vra of hulle maar sy liggaam mag wegneem. Dit is hierdie twee manne wat met 100 litra mirre en aalwyn sy liggaam gebalsem het, dit met geurige speserye in linnedoeke toegedraai het en in ‘n nuwe graf neergelê het.

Dit doen hulle terwyl die res van die volk besig is om hulle voor te berei vir die Sabbatsviering wat Vrydagaand teen sononder begin. Hierdie jaar se Sabbatsviering val saam met die Pasgafees. Josef en Nikodemus sou nie hierdie Sabbat of fees saam met die res van die volk kon vier nie, aangesien hulle aan ‘n lyk gevat het en daarom onrein was.

Dis nie dat Jesus geen ander vriende of volgelinge gehad het wat sy begrafnis sou kon bywoon nie. Maar meeste van hierdie volgelinge het amper te laat besef dat Jesus hulle ‘n rat voor die oë gedraai het, dat Hy nie is wie Hy voorgegee het om te wees nie. Tot op die laaste was hulle getrou aan Hom, het hulle selfs agter Hom bly aanstap toe Hy dae tevore ‘n openbare statement maak en op ‘n donkie Jerusalem binnery. Selfs hulle klere in eerbetoon voor Hom oopgegooi omdat hulle gedink het dat Hy hul nuwe koning is. Maar toe word Hy deur die godsdiensleiers en die land se regering ontbloot vir wat Hy regtig was – ‘n boosdoener en ‘n Godslasteraar. Toe die wagte kom om Hom weg te neem, toe praat Hy nie teë nie, maar loop vrywilliglik in die boeie in. En hulle het so gehoop dat Hy die een is waarvan die geskrifte gepraat het…

Daar was nog mense wat vir Jesus lief was – vriende, familie, volgelinge – ons sou hulle op een hand kon tel – wat braaf genoeg was om naby te bly totdat Hy sy laaste asem uitgeblaas het. Interessant genoeg vertel Johannes vir ons dat dit meestal vroue was: sy moeder en sy tannie en Maria die vrou van Klopas en Maria Magdalena. Saam met hulle die dissipel vir wie Jesus baie lief was.

Tot so ver die gebeure rondom Jesus se dood en sy begrafnis.

Welkom vanoggend, familie en vriende en ook diegene wat van ver af gereis het by die begrafnis van Jesus van Nasaret, die man wat gesê het dat Hy die koning van die Jode is… Dit is dapper van julle om vanoggend hier te wees. Veral in ‘n al meer sekulêre wêreld waar godsdiens, en juis ook die Christelike godsdiens, nie baie positief bejeën word nie. Die getuienis wat ons na buite uitdra help ons ongelukkig dikwels ook nie in die verband nie. Julle mag julle dalk net ‘n bietjie spot op die lyf haal omdat julle hierheen gekom het.

Ons gaan vandag terug na die gebeure rondom Jesus se verhoor deur die Romeinse goewerneur Pontius Pilatus.

Teks (Joh 18:28 – 19:22)

28: Hier word die Romeinse regering vir die eerste keer betrek.

Die ampswoning – die permanente ampswoning of paleis van die Romeinse goewerneur was in Sesarea gewees, maar hy het ook ‘n woning in Jerusalem gehad waar hy slegs gebly het wanneer daar groot feeste (nou Paasfees) in Jerusalem gevier is of ten tye van politieke onrus. Jerusalem is tans ‘n oproerige area weens die gevaar van ‘n dreigende opstand.

Die ironie is skryend – die Jode kan nie in die Romeinse goewerneur se woning ingaan nie, want dan sal hulle onrein wees en nie meer aan die Paasfees kan deelneem nie. So hulle bly buite staan. Maar Jesus word in die woning van die goewerneur ingestuur. Wat sy mense aanbetref mag Hy maar voor die Paasfees besmet word. Hy verdien elk geval nie om deel te hê aan die fees nie. Hy’s tog net ‘n verleentheid vir hulle.

29: Nou ontvou ‘n hofsaak wat, as dit nie so tragies was nie, vir die buitestaaner eintlik baie snaaks moet lyk. Pilatus, die magtige goewerneur, word ‘n komieklike figuur wat heen en weer hardloop, buitentoe en binnetoe. Die een oomblik is hy binne by Jesus om sy kant van die storie te hoor, en dan is hy weer buite om met die samedromming van skrifgeleerdes en Fariseërs en die res van die volk te gaan praat. Sewe keer hardloop hy so op en af.

30: boosdoener, goddelose

Uitlewer > verraai

35: Wat weet ék nou van die Joodse gebruike en geloof?!

36: Hierin hoor Pilatus dalk dat Jesus se koninkryk nie vir hom ‘n bedreiging inhou nie, want Jesus praat van ‘n andersoortige koninkryk.

37: Jy sê dat ek ‘n koning is.

39: Maar selfs al sóú hy skuldig wees, dit is mos julle gebruik…

40: Barabbas: Aramees “seun van abba”

Ironie: vra vir die vrylating van Barabbas, “seun van die vader,” terwyl Jesus, die ware “Seun van die Vader” ter dood veroordeel word.

Barabbas was dalk iets soos ‘n “guerilla warrior, revolutionary leader” (NET)

9:2 Pers – die kleur wat konings dra

9:6 Pilatus se frustrasie: “Kruisig júlle Hom dan!”

9:12 Van nou af het Pilatus aanhoudend probeer om Hom vry te laat

Wanneer die Joodse hoëpriester Kajafas vir Jesus na die Romeinse goewerneur Pilatus toe bring, dan bevind Pilatus homself in ‘n groot verknorsing. Hy is tans in Jerusalem, nie omdat hy daar wil wees nie, maar omdat hy die vrede moet handhaaf in ‘n tyd en oor ‘n naweek van groot oproerigheid. Sy grootste begeerte is waarskynlik dat die Joodse verrigtinge oor die naweek vlot sal verloop, dat hy nie te veel betrek sal word by ‘n ander volk se godsdiens of politiek nie, en dat die gebruiklike vrylating van ‘n gevangene wat die Jode self mag kies, sonder enige hick-ups sal geskied.

Maar nog voordat die naweek begin is daar reeds ‘n klop aan Pilatus se ampswoning se deur. En word Jesus aan hom uitgelewer. Pilatus gaan buitentoe om te hoor wat aangaan. Hy hoor by die Jode dat Jesus ‘n boosdoener is, ‘n goddelose. Dis die rede waarom hulle Hom na Pilatus toe bring. Om veroordeel te word. Maar Pilatus is nie lus om hierby betrek te word nie: “Vat julle Hom en veroordeel Hom vlgs julle wet. (Maar hou my hier uit.)”

“Ons mag dit nie doen nie. Ons mag nie iemand teregstel nie. (Daarom dat ons Hom na u toe bring.)”

En dan die heen en weer gelopery, eers weer na binne om met Jesus te praat en te probeer uitvind wie die man nou eintlik is, en dan weer na buite om rede in die Joodse godsdiensleiers en volk se koppe in te probeer praat. En saam met dit alles nog Pilatus se eie onkunde oor die Joodse gebruike en geloof: “Ek is mos nie ‘n Jood nie! (Hoe moet ék nou weet?)”

Pilatus is verbouereerd. Hy wil nie ‘n vonnis vel nie. Hy wil dit in die Jode se eie hande oorlaat. Maar die Jode weet dat hulle dit nie mag doen nie. Pilatus, as Romeinse goewerneur en in diens van die keiser, is die enigste een in Jerusalem wat vir Jesus mag vonnis. Dit is duidelik dat Pilatus niks met Jesus se dood te doen sou gehad het as dit nie vir die Joodse godsdienstige leiers was  wat druk op hom geplaas het nie. Hulle is diegene wat primêr verantwoordelik gehou moet word vir wat hierna gebeur. Want Pilatus probeer alles om uit die situasie te kom en Jesus se lewe te spaar.

Eers vra Pilatus of hy nie maar, binne die gebruik, vir Jesus kan loslaat as die gevangene wat gelukkig genoeg is om tydens die Paasfees vrygelaat te word nie. “Nee, nie vir Hom nie, maar vir Barabbas!”

Toe laat Pilatus vir Jesus gésel en hy verneder Hom deur van Hom ‘n bespotlike koning te maak – ‘n kroon, maar van dorings, ‘n pers mantel, “onderdane” wat kastig aan Hom eer betoon maar dan direk daarna klappe uitdeel. Weer kom Pilatus buitentoe, en dis amper asof hy wil sê: “Kyk, ek het Hom nou goed laat opfoeter. Vir een wat onskuldig is het Hy darem nou meer as genoeg deurgemaak. Kyk na Hom – daar is die mens! Kyk hoe lyk Hy al!”

Maar uit die mond van die priesterhoofde en die wagte is daar geen genade vir hierdie onskuldige man nie: “Kruisig hom! Kruisig hom!”

Die res van die teregstelling ken julle. Hoedat Pilatus elke keer vir oulaas en maar weer vir oulaas en maar wéér vir oulaas probeer om Jesus kwyt te skeld van die vonnis, maar wanneer die Jode dan vir Pilatus met sy eie posisie en lewe dreig, dan gooi hy handdoek in. Hy gaan sit op die regbank by Gabbata, moeg geredeneer. Hy weet hy doen die verkeerde ding. “Kyk, daar is julle koning.” Maar die Jode skreeu: “Vat Hom weg! Vat Hom weg! Kruisig Hom!”

“Moet ek julle koning kruisig?”

“Ons het nie ‘n koning nie; ons het net die keiser.”

Die verhoor van Jesus word voorafgegaan deur die verraad van Judas en die verloëning van Petrus. Dis is juis Judas se verraad wat die bal aan die rol sit. Verraad wat beteken om iemand oor te gee in iemand anders se hande, om iemand toe te vertrou aan iemand anders, maar met ‘n doelbewuste kwaadwilligheid wat daaragter steek. Die Griekse woord vir verraad, daai woord wat in verband met Judas gebruik word – presies dieselfde woord kom 5 keer in vandag se teks voor!

Julle sien, Judas was nie die enigste verraaier in die gebeure van Jesus se kruisverhaal nie. Die eerste, maar nie die enigste nie. Die res van die verhaal is deurtrek van verraaiers. Die Joodse volk. Die priesterhoofde by name. Die hoëpriester Kajafas. En ja, heel aan die einde ook Pilatus. Teen sy beterwete in, ter wille van sy eie veiligheid speel hy reg in die hande van die Joodse godsdiensleiers en verraai ook hy vir Jesus. Pilatus wat hier reg aan die einde van Jesus se lewe dalk die naaste aan ‘n vriend was wat hy gehad het. (Ons Nederlandse Geloofsbelydenis pleeg ‘n onreg teen Pilatus, deurdat dit ons leer om te bely dat Jesus “onder Pontius Pilatus gekruisig is”. Pontuis Pilatus is die énigste persoon betrokke in die verhoor wat tot die einde bly skop het teen die teregstelling van Jesus.)

En asof hierdie herhaaldelike verraad nie genoeg is nie: Toe Pilatus ‘n opskrif bo-aan Jesus se kruis laat vasheg: “Jesus van Nasaret, die Koning van die Jode”; toe sê die priesterhoofde vir hom hy moet dit verander: “Moenie skrywe: ‘Die Koning van die Jode’ nie, maar skrywe: Hy het gesê: Ek is die Koning van die Jode.” Op hierdie punt het die Romeinse goewerneur egter sy voet neergesit: “Wat ek geskrywe het, het ek geskrywe.” Dit is so dat die opskrif bo ‘n kruis gewoonlik spottenderwys bedoel is. Maar dis tog asof Pilatus met die opskrif wou sê: “Ek glo hierdie man. Hy is julle koning. Hy gaan onskuldig sterwe. Maar gun Hom dan ten minste die naam wat Hom toekom.” (19:19-22)

Toe Jesus se volgelinge terwyl Hy nog gelewe het (die wat Hom gevolg het terwyl Hy nog gelewe het) ná die kruisiging in hul gate in kruip en hulself agter slot en grendel gaan beveilig, het Josef van Arimatea en Nikodemus, toe Jesus dit nie meer sou weet nie, hulself verontreinig deur sy liggaam te gaan haal en te versorg. Ja, hulle het waarskynlik nie saam met die skares Hosanna gesing toe Hy op die donkie Jerusalem binnegery het nie. Maar hulle is die twee mense wat die laaste eer aan Hom betoon het. Húlle was getrou tot die einde toe. Toe identifikasie met Jesus en geloof in Hom nie meer voordelig was in die samelewing waarin hulle hul bevind het nie, toe eertydse volgelinge en volksgenote rond en bont begin het om Hom te verloën en te verraai, toe die vyande rede had om vinger te wys met die smalende woorde: “Ons het julle mos gesê hy was die enigste een wat geglo het dat hy die koning van die Jode is. Waar is julle koning nou?!”… toe is dit die onbekende Josef en Nikodemus wat sorg dat hierdie Koning ‘n begrafnis het.

Vandag sluit ons groepie aan by die twee manne. En ons sou Liedboek 389: 1 kon sing:

Is dit, is dít ons Koning

kyk daar, aanskou die Mens!

Is dit, is dít sy kroning –

wie het dit só gewens?

Is dit sy koningshulde,

díe riet, díe kleed, díe kroon?

Is dit dan sy begrafnis,

word só Gods Seun vertoon?

Hier is vanoggend niks. Geen versierings nie. Geen blomme nie. Geen kers nie. Geen begrafnisblaadjie nie. Geen Powerpoint met momente uit die lewe van Jesus nie. Niks om te vier nie. Net maar ‘n kruis.

Where you there when they laid Him the tomb? Nee, niemand was nie. (Die twee wat wel daar was se naam was ook Niemand.) Maar ons is nou hier om te onthou. Nevermind waar ons môre of oormôre of vlg maand of jaar gaan wees. Ons is nóú hier. En vir Hom is dit genoeg…

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.

Rut 1 – 2015

1 November 2015 Pinelands – Dankfees/Nagmaal/Koninkryk 23
Prediker: Dr Tiana Bosman

Die eerste berig wat ek in gister se koerant raaklees praat oor die droogte in ons land en die moontlikheid dat die grootste gedeelte van die land binnekort tot rampgebied verklaar kan word. Dit is inderdaad kommerwekkend, veral omdat dit ons so na aan die lyf lê, maar dit is geensins uniek nie. Dit beteken nie dat God besluit het om die sluise van die hemel wat op SA val toe te draai omdat die regering nie vir hulle land se studente bekostigbare tersiêre opleiding moontlik wil maak nie. Ja die regering moet verantwoordelik gehou word, soos wat hulle verantwoordelik gehou moet word vir soveel van die chaos in die land. Maar ons kan nie alles voor die deur van die regering lê nie. Dit is nie ons leiers se skuld dat daar ‘n droogte in die land is nie. Dit is deel van die seisoenale ritmes van die skepping, ook deel van die versugtinge van die skepping wat onder soveel uitbuiting en vergiftiging ens gebuk gaan. Dis bloot ‘n natuurlike uitvloeisel van dit waaraan die natuur oor eeue heen blootgestel is. Seisoene van droogte, in die natuur maar ook in ons eie lewens, is eenvoudig deel van die lewe.

In die OT lees ons dikwels van droogtes wat soms vir jare geduur het. Vandag se verhaal speel in so ‘n tyd af. Vroeg in die geskiedenis van Israel, nie te lank nadat Simson die pilare en daarmee saam die hele tempelgebou op homself en al die Filistyne teenwoordig omgetrek het nie.

Rigters 21:25 In daardie tyd was daar nog nie ’n koning in Israel nie, en elkeen het gedoen wat reg is in sy eie oë.

Rut 1:1 In die tyd van die leiers was daar op ’n keer hongersnood in die land, en ’n man het uit Betlehem (ironies beteken die naam “Huis van brood/kos”) in Juda weggetrek om te woon as ‘n vreemdeling in die gebied van Moab, die man met sy vrou en sy twee seuns.

  1. Die man se naam was Elimelek (“my God is koning”), sy vrou Naomi (“aangenaam”/”sweet”/ “pleasant”), en sy twee seuns Maglon (“swak, siek”) en Kiljon (“tingerig”). Hulle was afkomstig uit Efrata in Betlehem in Juda. Hulle het in Moab aangekom en hulle daar gevestig. [Weens die ongenaakbare toestande in die Ystertydperk (1200-540vC) was die mortaliteitsyfer van babatjies hoog gewees, en die gebruik was dikwels om nie eens vir jou kind ‘n naam te gee voordat hulle op kleuterouderdom van die bors af gespeen is nie. Dit is baie waarskynlik dat die twee seuns se name dui op die droogtetydperk waartydens hulle gebore is.]
  2. Toe het Naomi se man, Elimelek, doodgegaan, en sy en haar twee seuns het agtergebly.
  3. Hulle het vir hulle Moabitiese vroue geneem. Die naam van een was Orpah (nw “agterkant van die nek”, ww “om jou rug te draai”) en die naam van die tweede een was Rut (“vriendskap”). Hulle het vir omtrent tien jaar daar gewoon. [Die twee vrouens se name is dalk eerder afgelei van hul karakter as dat dit hul geboortename was. Nes “Mara” later in die hfst. So ook vandag, bv Vaatjie Malan.)
  4. Toe het Maglon en Kiljon ook gesterf en die vrou het agtergebly sonder haar kinder(tjie)s en sonder haar man.
  5. Sy het klaargemaak, en haar skoondogters, en sy het omgedraai vanaf die gebied van Moab, want toe sy nog in Moab gewoon het, het sy gehoor dat die Here haar volk besoek het (dat die Here aan hul behoeftes aandag gegee het) om vir hulle kos te gee.
  6. Sy het vertrek vanaf die plek waar sy was, en haar twee skoondogters met haar, en hulle het op hulle weg gegaan om terug te keer na die land van Juda.
  7. Toe sê Naomi vir haar twee skoondogters: “Gaan, draai om elke vrou na die huis van haar ma, en mag die Here met julle hesed (troue liefde, guns, goedertierenheid, loving kindness, faithfulness) doen soos wat julle gedoen het met die oorledenes en met my.
  8. Mag die Here vir julle gee, en mag julle ‘n rusplek vind, elkeen in die huis van haar (nuwe) man. En Naomi het hulle gesoen en hulle het hul stem verhef en gehuil.
  9. Maar hulle het vir haar gesê: “Nee! Saam met jou sal ons terugkeer na jou volk toe.”
  10. Maar Naomi antwoord: “Gaan terug my dogters. Waarom sal julle saam met my gaan? Is daar dan nog seuns in my baarmoeder dat hulle julle mans kan word?” (Leviraatshuwelik – die oorlede man se broer moes met sy vrou wat agterbly trou om die familielyn te verseker.)
  11. Draai om, my dogters, gaan, want ek is te oud om weer iemand se vrou te word. Selfs al het ek gedink dat daar vir my hoop is en selfs al trou ek vanaand en selfs al baar ek seuns,
  12. sal julle tog sekerlik nie wag tot wanneer hulle groot is nie, julle sal julself tog nie wegsluit met die oog daarop om nie te trou nie. Nee, my dogters, want dit is baie bitterder vir my as vir julle, want die hand van die Here het teen my uitgegaan.
  13. Hulle het hulle stem verhef en weer gehuil, en Orpah het haar skoonma gesoen, maar Rut het aan haar gekleef.
  14. En Naomi het gesê: Kyk! Jou skoonsuster draai terug na haar volk en na haar god. Draai jy nou ook terug agter jou skoonsuster aan.
  15. Maar Rut antwoord: “Moenie my soebat om jou te verwerp deur weg te draai van jou af nie, want waar jy gaan sal ek gaan, en waar ookal jy woon sal ek woon, jou volk is my volk en jou God is my God.
  16. Waar jy doodgaan sal ek doodgaan en dáár sal ek begrawe word. So mag die Here aan my doen en so mag Hy toevoeg (selfopgelegde eed-formule wat straf oproep), behalwe as die dood skeiding bring tussen my en jou.
  17. Toe Naomi sien dat Rut sterk was/vasbeslote was om saam met haar te gaan, het sy opgehou om met haar te praat.
  18. Hulle twee het toe gereis totdat hulle in Betlehem aangekom het, en nes hulle in Betlehem ingekom het, het die hele stad oor hulle begin murmer en die vrouens het gesê: “Is dit Naomi?”
  19. Maar sy antwoord hulle: “Moet my nie Naomi noem nie. Noem my Mara, want Shaddai het dit vir my uitermate bitter gemaak.
  20. Vól het ek weggegaan, maar léég het die Here my teruggebring. Waarom sal julle my Naomi noem as die Here teen my getuig en as Shaddai teëspoed/ramp vir my gee?”
  21. So het Naomi teruggegaan, en Rut die Moabiet, haar skoondogter saam met haar. Sy het teruggekom vanuit die gebied van Moab en hulle het in Betlehem ingegaan aan die begin van die garsoestyd.

Destydse konteks: Ons weet nie wat die gevoelens van die dorpelinge in Betlehem was rondom Elimelek se trek met sy vrou en twee seuns agter die groener weivelde van Moab aan nie. Daar is al baie daaroor bespiegel, maar dit gaan ons nie help om verder daaroor te raai nie. Wat ons wel weet is dat die Israeliete in Deuteronomium 23 verbied is om enigsens verhoudinge te smee met die Ammoniete en die Moabiete. Hulle mag nie in vrede met hulle saamleef nie, hulle mag ook niks goeds aan hulle doen nie. Want Moab en Ammon is gebore uit die bloedskande tussen Lot en sy dogters (die dogters het hom dronk gemaak en by hom geslaap, want hulle was bang dat hulle nooit mans sou kry en kinders sal hê nie). En hier trek ‘n Efraimiet, wat se naam nogals beteken “My God is Koning” met sy vrou en kinders na Moab toe, vir kos ja, ter wille van oorlewing, maar hy laat ook toe dat sy seuns met Moabitiese meisies trou. Daar is geleerdes wat die argument voer dat Elimelek en sy seuns gesterf het weens God se straf omdat hulle met die Moabiete gaan meng het. Die verteller laat egter niks daarvan blyk wanneer hy die storie neerskryf nie. Selfs al sou die skinderstories daaroor loop, is dit nie waarom hy die verhaal vertel nie. Tog is dit baie belangrike agtergrondsinligting vir ons – die Moabiete wat ‘n vervloekte volk gewees.

Hedendaagse gewilde gebruik van die teks: Huwelikspreek. Want die teks verleen homself so goed daartoe! Vs 16 en 17 bevat die mooiste moontlike huweliksbeloftes: Kyk mekaar in die oë en sê agter my aan: “Waar jy gaan sal ek gaan, en waar ookal jy woon sal ek woon, jou volk is my volk en jou God is my God. Waar jy doodgaan sal ek doodgaan en daar sal ek begrawe word.” Dit ís mooi, en sentimenteel. Maar ons maak ‘n fout. Hierdie is nie ‘n huweliksteks nie. Die agtergrond, konteks en implikasies van Rut se beloftes aan haar skoonma, is heeltemal anders as die van ‘n huwelikspaartjie. Vir ons is ‘n huwelik ‘n wedersydse verbintenis, ‘n vennootskap, waar beide mekaar liefhet en mekaar wil hê, ‘n wen-wen situasie. Natuurlik draai dit dikwels nie so uit nie, maar op jou troudag en met die beloftes wat jy dan maak is alles nog net maanskyn en rose.

But what happens when the going gets tough? Dan begin huwelike dikwels wankel. Dan is die lewe nie meer so rooskleurig soos op die dag toe julle getrou het nie. Ons verhoudinge word gewoonlik eers werklik getoets na ons beloftes en nie voor ons beloftes nie.

Met Rut is dit anders. Sy wéét waarvan sy praat wanneer sy haar beloftes maak. Sy en Naomi het alreeds sewe sakke sout saam opgeëet. Hulle het beide alles verloor. Niemand het niks meer oor nie. Die mans was hulle enigste kans op ‘n menswaardige lewe. So was dit in daardie tyd. G’n wonder Lot se dogters het hom uit radeloosheid dronkgemaak en bespring toe hulle besef dat hulle nie mans gaan kry nie (Gen 23?). Want ter wille van ‘n toekoms moes hulle doen wat hulle kon om aan seuns geboorte te skenk.

Beide Naomi en Rut het alles verloor. Maar dit was nie dieselfde nie. Vir Rut was daar ‘n kans op ‘n nuwe begin. Sy was nog jonk – het nog nie eens haar eie kinders gehad nie. Sy sou kon teruggaan na haar ma se huis en weer trou, en haar nuwe man sou vir haar kinders en sekuriteit vir die toekoms kon gee. All is not lost. Veral nie vir ‘n vrou wat se naam “vriendelikheid” beteken nie. Orpah het hierdie weg gekies. Sy was ook bereid om saam met haar skoonma terug te gaan na ‘n vreemde land toe. Sy wou haar nie los nie. Hulle het ook gedeelde seer gehad. Maar toe Naomi vir ‘n tweede keer sê dat die skoondogters tog liewer moet teruggaan na hul ma toe en oor begin, het Orpah dit wel gedoen.

Maar Rut skop vas. Toe Naomi sien dat Rut haarself “sterk gemaak” het om saam met haar te gaan, het sy opgehou om met haar te praat. Want sy het besef praat gaan nie help nie, hierdie meisie weet wat sy wil doen, en niemand gaan in haar weg staan nie. Rut stap oopoë in ‘n doodloopstraat in.

Daar is vir haar geen toekoms saam met haar skoonma nie. Naomi is ‘n weduwee, te oud om weer te trou, sonder kind of kraai om vir haar te sorg. Die enigste vooruitsig wat sy gehad het, was om terug te keer na haar tuisland toe, want sy het intussen gehoor dat die Here weer kos gegee het in die land (die droogte is verby), en daar sal sy haar trots in haar sak moet steek en onder haar eie mense ‘n bedelbestaan gaan voer. Om die waarheid te sê – Rut is vir Naomi eerder ‘n las as ‘n welkome metgesel. Want nou sit sy nog met haar óók opgeskeep. Wie in Betlehem gaan nou vir ‘n Moabitiese weduwee help sorg? Hulle mag nie eens nie, dis teen die wet!

Maar sy gaan haar nie omgepraat kry nie, so Naomi hou eerder op met praat.

Ons lees dat Rut gekleef het aan haar skoonma (14). Dit is dieselfde woord wat ons in Gen 2:24 kry wanneer daar staan “’n man sal sy pa en sy ma verlaat en hy sal aan sy vrou kleef, en hulle sal een word”. Dit het nie beteken dat die man sy ouers se huis verlaat wanneer hy met sy vrou trou nie. Die vrou het haar ouerhuis verlaat en by die man se familie ingetrek. Dit gaan eerder om ‘n diep emosionele verbintenis – die man se fokus sal verskuif. Sy ouers sal nie meer die nr 1 persone in sy lewe wees nie, sy vrou word dit nou. Rut se fisiese klou aan haar skoonma demonstreer haar liefde vir en haar lojaliteit aan haar. Soos wat ‘n man hom aan sy vrou verbind, so verbind Rut haar aan haar hulpbehoewende skoonma.

In hierdie hele ontknoping van die verhaal en die diep, onselfsugtige en onbaatsugtige verbintenis van Rut aan Naomi, is die skreiende dat Naomi al die pad glad nie vir Rut ag nie. Sy sien haar eerder as ‘n las. Of erger – sy sien haar nie eens raak nie (kies dit dalk selfs). Toe die dorpsvrouens agter hul hande begin fluister toe Naomi by die dorp instap, bekla sy haar lot en gee sy vir die Here die skuld daarvoor: “Moet my nie Naomi noem nie. Noem my Mara, want Shaddai het dit vir my uitermate bitter gemaak. Vól het ek weggegaan, maar léég het die Here my teruggebring. Waarom sal julle my Naomi noem as die Here teen my getuig en as Shaddai teëspoed/ramp vir my gee?”

“Vól het ek weggegaan, maar léég het die Here my teruggebring.” Regtig, Naomi, is dit waar? Sien jy dan nie die vrou aan jou sy nie, die een wat alles prysgegee het en die grootste moontlike risiko loop, net omdat sy jou nie alleen in jou nood wil los nie. Omdat sy nie eens sal toelaat dat jy alleen begrawe word nie!? Tel jou seëninge, Naomi, jy weet nie wat jy in daai Moabitiese skoondogter van jou het nie.

Rut het haar oor Naomi ontferm en sy was bereid om haarself agterweë te laat ter wille van Naomi.

Die boek eindig in hfst 4 met Naomi se eer wat herstel is toe sy ‘n ouma word, en die vrouens van die dorp wat getuig: “Jou skoondogter wat jou liefhet, het aan hom geboorte geskenk, sy wat vir jou beter is as sewe seuns!” (Dogter wat ma liefhet – Maar in die OT kan die mindere nie die meerdere “liefhê” nie. Dit dui du shier daarop dat die rolle omgekeer is – Naomi het alles verloor en die mindere geword, Rut die Moabiet het die meerdere geword – sy het vir Naomi versorg, en later ‘n man en ‘n seuntjie gekry, en sodoende Naomi se posisie in die gemeenskap herstel.)

Waar is God in dit alles? Is Hy werklik die een wat straf, soos wat Naomi gedink het? Of is Hy eerder die Een wat deur  die maer jare en die noodwendige verliese bly voorsien? In die boek Rut is God (se ingrype  sigbaar in) ‘n Moabitiese vrou. Hfst 1 begin by ‘n droogte op verskeie vlakke – die land, maar ook die familie (verlies aan broodwinners). Dit eindig by die belofte van ‘n uwe oes wat in die landerye wink…

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.