Gemeentebrief 2015

Liewe Gemeente van Pinelands                                                         

Ons brief van dankbaarheid
(Kliek hier om die brief in PDF formaat af te laai)

Die kerkraad het met ons laaste vergadering versoek dat ek ’n brief skryf wat ons so aan die einde van die jaar aan elkeen wil beskikbaar stel. Die rede daaragter: Ons het soveel om voor dankbaar te wees!

Ons kinders en jeug, wat ons enkele jare gelede op een hand kon tel (ja, regtig), het aangegroei tot ’n groep jongmense van om en by 30 – binne ons konteks ‘n verrassende getal, en ’n teken van nuwe lewe en hoop in ons gemeente. Die kinderkerk werk volgens ’n sisteem van ouers en jong vrywilligers wat almal werklik met groot opwinding en toewyding belê in ons kinders se geloofsgroei. Ons is geseënd om nou al vir die derde jaar in ’n ry deur die kinders bedien te word met die Kersspel waarvoor hulle elke vierde kwartaal baie hard oefen. Dit is een van die hoogtepunte van ons jaar. Die kinders is ook ‘n integrale deel van die begin van ons dienste en, was dit nie’n kerkdiens nie, het hulle waarskynlik vuisgeslaan oor wie op die betrokke Sondag die kerse gaan aansteek! Ons probeer om elke kwartaal met die kinders na ’n ander aftree-oord te gaan sodat hulle vir die inwoners kan gaan sing (vandag kom Pinelands Place weer aan die beurt), en tydens my gewone besoeke aan mense daar keer die Engelssprekende inwoners my dikwels voor en praat met groot waardering van die Pinelands NGK-kinders wat vir hulle kom sing.

Aan die ander kant van die spektrum is ons geseënd om ’n groot groep bejaarde mense in ons gemeente te hê (sommiges selfs oor die ouderdom van 90 jaar!) wat nog steeds hulle volle gewig by die gemeente ingooi – konfyt kook, hoenderpasteie bak, pannekoeke bak, insiggewende vrae tydens die Woensdagoggend Bybelstudies vra, en mense gaan besoek wat siek of eensaam is. Die afgelope week het ek juis saam met ’n groep van ons ouer lidmate vir Florence en die kinders (wat deur vigs geaffekteer is) in Khayelitsha gaan besoek. Daar het Magda vir die kinders gewys dat sy nie te oud is om vir hulle ’n paar danspassies te leer nie. Julle is ’n voorbeeld vir ons jongeres!

Ons het ’n verskeidenheid van lidmate (elke lidmaat!) wat hul unieke bydraes maak: Of dit nou is via musiek, koffie- en teediens na afloop van die dienste, met sop, brood, snoek, wors, en vele ander disse regdeur die jaar, met spesiale geleenthede, blomme rangskik, gebede doen, blaadjies uitdeel en mense verwelkom, help met PowerPoint-aanbiedinge of met fotostate maak, geld tel, basaar reël, wat ookal… Baie dankie!

Op ekumeniese vlak is die bande wat ons gemeente met ander gemeentes, denominasies en gemeenskappe opgebou het, vir ons van die allergrootste belang. Ons verhoudinge strek vanaf Maitland (ons Moeder), deur Athlone tot in Hanoverpark en Strandfontein; vanaf die Multi-Service Sentrum in Soutrivier tot by die Vrolike Groepe Speelskool in Elsiesrivier. Die Siyafunda-beursfonds (in samewerking met ander kerke) gaan van krag tot krag en elke jaar is ons dankbaar dat ons behoeftige kinders met hul skoonfondse en uitgawes kan help. Ons hou die hande vas van dapper vrouens (Florence en Amelia) wat na weeskinders omsien. Saam met ander kerke in Pinelands finansier en pak ons kospakkies vir die Stop Hunger Now projek. Ons bring Sondae voorrade vir Badisa, maar besef dat daar altyd meer nood is as waarby ons betrokke kan wees; daarom probeer ons om, in afhanklikheid van die Here, te doen wat ons kan, waar ons kan. En ons het al dikwels gesien hoedat klein bietjies hulp ’n groot verskil maak.

Ons gemeente se twee grootste fondsinsamelings is ons basaar en die tiende maand se dankoffer. Oor die afgelope paar jaar is ons elke jaar aangenaam verras met die inkomste wat die basaar genereer, en weet ons dat die gemoedelikheid en spanwerk onder ons lidmate deurslaggewend is vir die goeie gees (en Gees) wat mense na ons basaar toe trek. Ons tiende maand dankoffer het hierdie week afgesluit, en ons is baie dankbaar dat ons hierdie jaar oor die R 80 000 kon ontvang. Baie dankie aan ieder en elk wat kan bydra en hiermee erns maak. Ons besef dat elkeen in biddende afhanklikheid en na eie vermoë gee – daarom is ons ewe dankbaar vir die tien rande as vir die honderde en die duisende.

Ons beleef onderling dat ons ’n gemeenskap van gelowiges is wat nie bang is om by ander mense betrokke te wees nie, nie bang is om ander nader te trek en in te nooi nie, nie bang is om ons moue op te rol en te help waar ons kan nie, ook nie bang is om te gee waar ons kan nie. Ons is gretig om te gee (tyd, hulp, middele), want ons weet wat dit is om te ontvang. En ons het soveel ontvang, ontvang stééds so veel – meer as wat ons ooit van sou kon droom! Vyftien jaar terug het ons gemeente geveg om oorlewing; vandag loop ons kruike oor. Die grootste geskenk wat ons oor die afgelope jare ontvang het, is mense – babatjies wat ons herinner aan die troosvolle boodskap van die doop; ja, maar ook nuwe lidmate wat by ons aansluit en wat saam met ons die pad wil stap van geloofsgroei en saam werk aan die uitbou van die Koninkryk waarvan Jesus so dikwels gepraat het.

Ons, as gemeente van Pinelands, leef uit genade alleen. Omdat dít is wat ons so ryklik ontvang, is dit ook wat ons kan bied aan ’n wêreld wat honger om tog net ook ráákgesien, na waarde ge-ag te word.

Ten slotte: In die gelykenis van die barmhartige Samaritaan (Lukas 10), wil die wetskenner by Jesus weet: “Wie is my naaste?” Jesus vertel hom toe ’n storie en eindig deur die vraag om te draai. Hy verskuif die fokus en die vraag is eerder: “Vir wie is jý ’n naaste?” Mag hierdie gelykenis ons as gemeente lei om elke keer weer selfondersoek te doen: Vir wie is óns bereid om ’n naaste te wees? Anders gestel: Is ons bereid om iemand anders se naaste te wees, selfs al sou dit beteken dat ons deur ons naastediens verontrief sal word, ‘onrein’ sal word, miskien nie meer na menslike standaarde geskik vir diens in die kerk nie, finansieël armer sal wees? En sal ons steeds in die toekoms bereid wees om daardie naaste van ons se skuld af te skryf? Die Samaritaan was ’n naaste omdat hy geen moeite en koste ontsien het om aan die stukkende vreemdeling ontferming te toon nie.

Mag julle elkeen ‘n geseënde Kersseisoen beleef.

Mag jy die vrede van die Vredevors ervaar.

Mag jy elke dag onthou dat jy leef van die oorvloedige genade van God wat sigbaar geword het in die menswording van Jesus van Nasaret, die een mens wat nóóit te goed was om met die sondaars, die swakkes, die eensames, die vreemdes, die underdogs te meng nie.

Shema Pinelands, shalom! (Luister, Pinelands! Vrede!)

Tiana, nms die kerkraad.