Lukas 19:1-10; Handelinge 9:1-31

1 September 2019

Twaalfde Sondag na Pinkster
Prediker: Ds. Helgard Pretorius

Boodskap: Drie fasette van versoening (met erkenning aan Prof. Klippies Kritzinger)

1.   Inleiding

As ’n mens dink aan wonderwerke in die Nuwe Testament, dan dink jy gewoonlik aan die genesing van blindes en dowes, of die opwekking van Lasarus. Maar in die twee gedeeltes wat ons gelees het, is daar vier gebeurtenisse wat van die grootste wonderwerke in die Nuwe Testament uitmaak. En elkeen van hierdie wonderwerke verteenwoordig vier fasette van versoening:

1. Saggeüs wat restitusie doen teenoor die mense wat hy uitgebuit het; 2. Saulus, die Fariseër en vervolger, wat oorweldig word deur Christus en ingetrek word in God se sending op aarde; 3. Ananias, die vervolgde persoon, wat gaan bid vir Saulus, sy voormalige vervolger; 4. Barnabas, die bemiddelaar, wat brûe bou en vrede maak tussen Saulus en die kerk in Jerusalem.

Vier fasette van versoening. Dit is die soort wonderwerke wat ons vandag in ons Suid-Afrikaanse gemeenskappe nodig het. Ons kyk vanoggend na slegs drie van hierdie fasette, drie versoeningsrolle wat ons in ons gemeenskappe kan (en moet) speel:
Dis die Saggeüs-rol (restitusie teenoor dié wat ek benadeel het),
die Ananias-rol (vergifnis vir dié wat my benadeel het),
en die Barnabas-rol (bemiddeling tussen dié wat nie bymekaar kan uitkom nie).

Afhangende van wie ek is en wat ek al in die lewe deurgemaak het, word ek vandag geroep en uitgedaag om een of meer van hierdie rolle te speel.

2.     Die Saggeüs-rol (Lukas 19 – restitusie)

‘n Mens bly nooit dieselfde as jy saam met Jesus eet nie. Saggeus het dit agtergekom toe Jesus hom uit die boom gehaal het en saam met hom huis toe gestap het. Terwyl die hele dorp staan en skinder oor die slegte geselskap waarin Jesus verkeer, verander Jesus Saggeus se hele lewe.

Saggeus was so verbaas dat iemand hom as mens raaksien en ernstig neem, dat hy sy lewe oopgestel het vir die boodskap van God se Ryk. In Jesus se oë is Saggeüs nie in die eerste plek “die hooftollenaar nie” maar ‘n kind van Abraham, ’n geliefde kind van God. En dit is hierdie erkenning van sy menslikheid wat maak dat Saggeüs, terwyl hulle aan tafel sit, oorval word deur die werklikheid van sy lewe en wat hy besef watter onreg hy sy naaste aangedoen het.

Maar wat Saggeus so ’n goeie voorbeeld van versoening maak is dat hy nie net jammer voel oor wat hy ander mense aangedoen het nie; hy besluit om iets daaraan te doen; om sy lewe om te keer. Toe hy homself uit die sentrum van sy lewe uithaal en besluit om dit te bou rondom Jesus se goeie nuus, het hy besef dat hy sal moet regmaak wat hy verbrou het, dat hy die verhoudings wat hy deur sy onreg afgebreek het moet probeer herstel.

Dit sou hom lank geneem het om by almal uit te kom, maar die belangrike punt om te verstaan is dat dit nie net gaan oor die geld wat hy moes teruggee nie. Deur geld terug te gee probeer Saggeus die verhouding herstel met die mense wat hy benadeel het. Versoening gaan ten diepste oor die herstel van ‘n versteurde of verbreekte verhouding en die saam-werk aan ’n nuwe gedeelde toekoms.

Ek dink dit is veelseggend dat Jesus kies om van Saggeüs te sê dat hy ’n kind van Abraham is. Kinders van Abraham weet dat God ons altyd seën om ander tot seën te wees – en op ’n besondere manier vir die vreemdeling, die weduwee en die weeskind. Ons menswaardigheid is gewortel in ons gedeelde menswees. Ek kan nie vry wees as jy nie vry is nie. Ek kan nie mens wees as jy nie mens is nie.

Die ander eienskap van kinders van Abraham is dat hulle reisigers is. Nes hulle oervader, is hulle op soek na hulle naaste, op soek na versoening, op soek na die herstel van gebreekte verhoudings.

Die versoeningspad wat Saggeus vir ons wys is een van die langste reise in die wêreld – die pad van die seun na die bure se voordeur nadat sy krieketbal hulle venster gebreek het; of die pad van ‘n man na sy vrou om vergifnis te vra vir al die maniere waarop hy haar verwaarloos en verneder het; of die pad van ‘n polisie-generaal uit die ou Suid-Afrika na die WVK om te bely wat hy ander mense aangedoen het.

Om die Saggeüs-rol te speel is om onderweg te wees. Dit is ’n pad na buite, na my mede-mens, maar dit is ook ’n reis na binne, na die dieptes van my eie hart. As ek nie by die eerste opdraande al gaan moed opgee nie, sal ek moet erken dat die heling wat moet plaasvind nie net daar buite lê nie, maar ook hier binne. Saggeüs het nie restitusie gedoen omdat dit polities korrek was of om sy skuldgevoelens te stil nie, maar omdat hy in Jesus sy eie diepste menswees ontdek het en toegelaat het dat die vrede van Christus deur hom vloei.

3.   Die Ananias-rol (Handelinge 9 – vergifnis)

Toe die Here aan Ananias in ’n visioen verskyn was hy aanvanklik onwillig om vir Saulus te gaan bid. Hy het goeie rede gehad om te weier: “Saulus is die vyand, hy is hier om ons gevange te neem en voor die hof te sleep; ons kan hom nie vertrou nie.” Dit het heelwat mooipraat en oortuiging van die Here gekos voordat Ananias bereid was om die Reguitstraat af te stap na die huis van Judas om by Saulus uit te kom.

Dit is seker dié langste reis in die wêreld – die pad van die slagoffer na die huis van die vervolger, die pad van die benadeelde en vernederde na die een wat haar of hom uitgebuit het. Om wat te doen? Om jou hande op hom of haar te lê en te sê: “Broer Saulus, broer Helgard, my broer, my suster….”

En die heel moeilikste deel van daardie lang reis is die laaste 50 sentimeter: om naby genoeg aan jou voormalige vyand te kom sodat jy aan hom of haar kan raak. Om deur jou aanraking die vyandskap, die vrees, die weersin of die haat te erken, maar dit dan ook af te lê – in die naam van Jesus.

Het jy opgelet hoedat Ananias teengestribbel het, hoe hy teruggepraat het toe die Here hom aangesê het om vir Saulus te gaan bid? Versoening is nie ‘n oppervlakkige “kiss and make up” ter wille van die vrede nie. As versoening eg en eerlik is, dan gaan dit altyd gepaard met pyn, soms selfs met konfrontasie, omdat dit in versoening gaan oor die genesing van wonde, die heelmaak van gebroke verhoudings; ook die stryd teen my eie onversoenlikheid waarin ek wegkruip van God en my naaste.

Ek dink dit is belangrik om raak te sien dat Ananias nie na Saulus toe gegaan het as die Here nie vir hom kon sê dat Saulus reeds verander het nie. Dit maak dit veel makliker as ons weet dat die een wat ons benadeel het of onderdruk het al klaar op die pad van bekering en vernuwing is. Vir my wat hoofsaaklik ’n Saggeüs-rol moet speel, is dit belangrik om te hoor. As ek as iemand wat deur apartheid bevoorreg is nie my eie werk begin doen het nie, hoe kan ek verwag dat die slagoffers van daardie sisteem hulle werk sal doen. Maar as dit duidelik is dat ek op reis is, en my mede-mens kan sien waar my hart is, kan my medemens met groter vertroue die rol opneem wat van hom of haar gevra word.

Weereens, moet ons nie die illusie het dat versoening ‘n eenmalige gebeurtenis is nie. Dis in werklikheid ‘n lang reis waarin elke dag nie ewe maklik is nie, en waarin ek geduld met myself moet hê. Bo alles is dit belangrik om eerlik te wees met myself oor my gevoelens en gedagtes; en ook eerlik in my ontmoeting met iemand wat my benadeel het. As ons saam ’n pad gaan stap is daar dalk dinge wat hy of sy moet hoor of beter moet verstaan. Oppervlakkige versoening bring ons nêrens nie.

Maar, aan die ander hand, as ek botweg weier om te vergewe en my pyn as ‘n stok gebruik om my kwaaddoener vir ewig mee te slaan, dan verstaan ek ook nie God se genade-evangelie nie. Êrens vandaan sal ons die genade en geloofskrag moet kry om saam met Ananias in Reguitstraat af te stap om seënende hande te gaan lê op die Saulusse wat ons benadeel en seergemaak het. En dan sal ons saam moet gaan werk aan die strukture en samelewingspatrone wat nog steeds soveel mense benadeel en verarm.

4.   Die Barnabas-rol (Handelinge 9 – bemiddelaar en vredemaker)

As dit vir Ananias en die ander volgelinge van Jesus in Damaskus moeilik was om Saulus te aanvaar en te vergewe, stel jou voor hoe moeilik dit vir die Christengemeenskap in Jerusalem moes wees om hom in hulle midde op te neem. Dis immers waar hy vele volgelinge van die Weg laat arresteer het en voor die Joodse Raad laat bring het om in die tronk gegooi te word (Handelinge 8:8). Dit is waar hy goedkeurend by Stéfanus se steniging gestaan en kyk het sodat die gemeente van Christus uit Jerusalem verstrooi is. Hoe sou die gemeente wat in Jerusalem oorgebly het hom kon vergewe en aanvaar?

Daar is baie sulke vasgevalde verhoudings in die wêreld. En sulke verhoudings kom dikwels nooit reg tensy iemand van buite as ‘n bemiddelaar bykom nie. Barnabas was so ‘n bemiddelaar, ’n vredemaker wat op eie inisiatief, sonder dat iemand hom gevra het, die twee partye bymekaargebring het. Barnabas het Saulus se potensiaal as ‘n getuie vir Christus besef; hy het ook besef dat Saulus nêrens sou kom as hy nie op een of ander manier deur die leiers in Jerusalem aanvaar word nie.

Die eenheid van die kerk van Christus was, soos dikwels in die geskiedenis, op ‘n heel besondere manier op die spel. So het Barnabas vir Saulus na die apostels toe gevat en vir hulle vertel dat hy op die pad na Damaskus die Here gesien het, dat die opgestane Heer met hom gepraat het, en dat Saulus na sy bekering in Damaskus openlik in die Naam van Jesus gepreek het.

Deur sy getuienis oor Saulus, het Barnabas die deur oopgemaak vir Saulus om opgeneem te word in die hart van die Jesus-beweging van daardie tyd. Dit was ‘n ongelooflik belangrike gebeure vir die geskiedenis van die kerk. Hoe sou die Nuwe Testament gelyk het sonder die 13 briewe van Paulus? Hoe sou die Jesus-beweging ontwikkel het sonder Paulus se reuse-bydrae om die een versoende, veelkleurige liggaam van Christus uit Jode en nie-Jode te versamel?

Barnabas sien die probleem, hy vat Saulus se hand en stap saam met hom na die kerkmense in Jerusalem. En hy help hulle om bymekaar uit te kom. Vandag het ons duisende Barnabasse in ons land en in die NGKerk-familie nodig wat vasgevalde en onversoende verhoudings sal raaksien en iets daaraan sal doen. Mense met genoeg geloofwaardigheid aan beide kante van die konflik, mense van integriteit wat nie magspeletjies speel nie maar dienaars en bedienaars, van God se versoening wil wees.

Dit is waar ek dink ons In Gesprek voor God ­eredienste ’n belangrike bydrae lewer – in ons eie geloofsvorming – maar ook as ons gemeente se publieke getuienis in ons stad en in ons land. Wilhelm Verwoerd is vir ons almal ’n voorbeeld van iemand wat met groot egtheid en vanuit sy geloof as ’n Christen die rol van n brugbouer en ’n vredemaker speel. By ons volgende gesprek-eredienste gaan ons nog sulke voorbeelde van vredemakers nooi by wie ons kan leer.

4. Ten slotte

Nie een van ons is eenvoudig ‘n Saggeus of ‘n Ananias of ‘n Barnabas nie. Op ‘n manier is elkeen van ons tegelyk ‘n kwaaddoener, ‘n verontregte en ‘n (potensiële) vredemaker.

Eerstens, is dit belangrik om duidelikheid te kry oor die spesifieke rolle wat ek in verskillende kontekste behoort te speel. As ’n individu, op ’n interpersoonlike vlak, is my rol dalk anders as die rol wat as deel van ’n groep moet speel. As ’n algemene riglyn, kan ons die storie van die Fariseër en die Tollenaar onthou: om nederig te fokus op my eie rol en my te beywer vir die werk wat ek moet doen – eerder as om vanuit ’n plek van hoogmoed of arrogansie kommentaar te lewer oor wat die ander behoort te doen of nie goed genoeg doen nie. Kom ons wees sensitief daaroor dat ons verskillende rolle het om te speel; dat my reis anders gaan lyk as joune, maar dat ons mekaar nodig het en by mekaar kan leer.

Elkeen van hierdie rolle het sy unieke uitdagings. En as ek eers duidelikheid gekry het oor wat ek op moet fokus, is dit my verantwoordelikheid om myself vir daardie rol te bemagtig.

is hier waar ons mekaar as ’n gemeente kan ondersteun. ’n Mens kan nie hierdie werk op jou eie doen nie. Daarom rig ek vanoggend ’n uitnodiging om deel te raak van ’n versoenings-fokusgroep waarby ons mekaar gaan help om in ons unieke versoeningsrolle te groei.

Deur jou naam vanoggend by die ingangsportaal op die lys te plaas, verbind jy jou nog nie tot enige iets spesifiek nie, maar wel dat jy inligting wil ontvang oor verdere gespreksgeleenthede, werkswinkels en hulpbronne waardeer ons mekaar verder kan bemagtig en ondersteun.

Hebreërs 11:1-3; 8-16

11 Augustus 2019

Negende Sondag na Pinkster
Prediker: Ds. Helgard Pretorius

Anneliese Burgess het hierdie week ’n mooi berig geskryf vir die Vrye Weekblad, met die titel: “Suid-Afrika: 10 redes vir optimisme en hoop.” Hoewel sy, in haar eie woorde, ’n bok is vir optimisme, sê sy dat die afgelope week se nuusgebeure haar in ’n depressie gedompel het. Sy verwys na “Eskom se inploffing, die openbare beskermer se wanbegrip van haar rol, die doemprofesieë oor die ekonomie, die skrikwekkende statistieke oor werkloosheid, die onaanvaarbare geweldsmisdaad ens.”

En tog, meen sy, is daar steeds rede om te hoop. Na aanleiding van gesprekke met 10 Suid-Afrikaners – politici, sakemense, aktiviste en akademici –  gee sy 10 redes waarom ’n mens in Suid-Afrika kan aanhou om met hoop te lewe, sonder dat ’n mens die geweldige uitdagings ignoreer. Ek kan haar artikel aanbeveel. Ek dink ons kan almal doen met ’n bietjie hoop. Sonder hoop kan ons nie lewe nie.

***

Ek onthou ’n storie wat vertel word van ’n Joodse gesin in ’n konsentrasiekamp in Duitsland. Nadat die seun dit reggekry het om ’n stukkie botter uit die kombuis gesmokkel te kry, gebruik die pa dit om met ’n stukkie skoenveter ’n klein Sabbats-kersie te maak. Die seun was woedend: hoe kan pa die kos uit ons monde neem om ’n verdomde kers te maak?! Waarop die pa geantwoord het, my kind, sonder kos kan ons vir ’n paar dae lank oorleef, miskien ’n week, maar sonder hoop sal ons dit nie eers deur hierdie nag maak nie.”

Hoop is noodsaaklik; maar juis daarom moet ons oppas vir vals hoop. Ons moet oppas vir vorme van hoop wat nie die donker nag kan sien vir wat dit is nie. Ons moet oppas vir oppervlakkige vorme van optimisme wat net inspireer terwyl dinge vlot loop en nie ook deur moeilike tye kan volhard nie. Hiermee dink ek kan vanoggend se teksgedeelte ons help.

***

Ons weet nie baie van die gemeente aan wie die Hebreër-brief geskryf is nie, maar ons kan van die brief self aflei dat hulle Christene met ’n Joodse agtergrond was. Daarom is die brief so propvol Ou-Testamentiese verwysings; die skrywer kon aanneem dat sy gehoor vertroudheid was met die Hebreeuse geskrifte.

Maar sedert hierdie gemeente se bekering tot die Christelike geloof, het hulle “’n geweldige stryd van lyding deurstaan…” Ons lees dat die owerhede hulle “deur beledigings en deur verdrukking openlik bespotlik gemaak” het. Hulle “besittings is van hulle afgeneem” en omdat hulle medelye betoon het aan “mense wat sleg behandel is en as gevangenes aangehou is” is hulle eie lewens ook in gevaar gestel.

Onder die druk van vervolging is hulle geloof getoets: bly hulle getrou aan die evangelie, bewys hulle medelye met hulle wat vervolg word, loop hulle die risiko van verdere vervolging. Kies hulle om eerder met jou omgewing te assimileer, byt hulle op hulle tong wanneer hulle onreg sien, maak hulle hulself maar tuis in die status quo, dan verloën hulle die evangelie.

Dit is die situasie wat aanleiding gegee het tot hierdie Hebreër-brief, wat eintlik ’n preek was. Die skrywer noem dit ’n boodskap van aansporing. Hy wil die gelowiges aanspoor om in hulle geloof te volhard en getrou te bly aan die hoop wat in hulle leef, eerder as die hopeloosheid van hulle donker omstandighede.

***

Dit is die konteks waarin die prediker sy bekende definisie van geloof gee: “geloof is sekerheid van die dinge wat gehoop word; ’n bewys van die dinge wat nie gesien word nie.”

Geloof in hierdie konteks gaan nie oor of jy saamstem met sekere dogmas of leringe nie. Geloof is hier ’n antwoord op die vraag: kan ek getrou bly aan die bestemming wat God deur Jesus besig is om vir sy skepping voor te berei, al is dit nog nie duidelik hoe ek daardie bestemming gaan bereik nie?

Hier gaan geloof oor volharding en deursettingsvermoë langs die weg wat Jesus vir ons geleer het. In sulke donker tye is die teenoorgestelde van geloof nie twyfel nie, maar moedeloosheid, apatie en sinisme – dit is om tou op te gee, of om jou hande op te gooi, of om jou skouers op te trek.

Wat van Abraham en Sara geloofshelde gemaak het was nie dat hulle nooit getwyfel het nie, of dat hulle nooit gestruikel het nie. Die voorbeeld wat hulle vir ons gestel het was veel eerder dat hulle nooit ophou verlang het na die beloftes wat God in hulle harte geplant het nie.

Selfs toe hulle begin twyfel het omdat dit gelyk het of God van sy beloftes vergeet het, het hulle nie met heimwee terugverlang na die land waaruit hulle weggetrek het nie; maar hulle het bly hunker na ’n beter land wat God besig was om vir hulle voor te berei. Op grond van die hoop wat in hulle geleef het, het hulle met die rusteloosheid van vlugtelinge en pelgrims bly verlang na die bestemming wat God vir hulle wou gee.

Geloof is ’n heilige hunkering, ’n goddelike rusteloosheid, ’n hemelse verlange. En ’n getroue geloofslewe, is hoe ’n mens daardie hunkering – soos ’n vlam in die wind, kragtig en kwesbaar – in jou hart bly beskerm en koester. Dit is om soos ’n vreemdeling en ’n bywoner nooit te tuis te voel in enige kultuur, of politiese bestel, of woonplek, of tydsgees, of ideologie, of selfs teologie nie.

***

Die groot gevaar is dat ons daardie rustelose hunkering na God se bestemming sal verloor. Vir sommige is die gevaar dat ons met heimwee sit en terugverlang na ’n tyd of ’n plek of ’n bestel toe dinge eenvoudiger was. Maar sulke nostalgiese herinneringe aan die goeie ou dae is altyd selektief. Ons vergeet die pyn en die hartseer en die teenstrydighede. Wat ons onthou is ’n nietjies versierde weergawe van die waarheid. Boonop is die verlede verby – jy kan nie daarheen terugkeer nie.

Die stem van heimwee is een gevaar, maar ’n ander gevaar is dat die stemme van die hede, van Twitter en Netwerk 24, so luid en oorweldigend raak dat jy lamgelê word deur jou onmiddellike omstandighede.

Dit kan ’n mens laat verval in ’n tiepe apatie of sinisme wat nie meer kan verlang nie, wat deur niks verras kan word nie, wat nooit meer in verwondering staan nie, wat nie meer verwag dat dinge kan verander nie, wat op die beste maar tevrede sal wees met die wêreld soos dit is.

Vir die van ons wat geneig is om in heimwee te verval, word ons herinner aan Abraham en Sara wat nie aanhou dink het aan daardie land waaruit hulle weggetrek het nie, maar eerder gehunker het na ’n beter een, ’n hemelse een. “Daarom,” sê die teks, “skaam God Hom nie vir hulle om hulle God genoem te word nie, want Hy het vir hulle ’n stad voorberei.” Nie heimwee nie, maar hoop bepaal die Christelike lewe; d.w.s. vertroue in die stad wat God vir ons voorberei, eerder as die een waarna ons terugverlang.

En vir die van ons wat geneig is om uit die wedloop te val as gevolg van die daaglikse werklikheid wat God se roepstem uitdoof, herinner die prediker ons dat “die wêreld deur die woord van God geskep is, met die gevolg dat dit wat gesien kan word, ontstaan het uit wat nie gesien kan word nie.”

Met ander woorde, ons hoop is nie geanker in die huidige stand van sake nie, maar in die skeppende Woord van God, in die verrassende kreatiwiteit van Jesus, wat selfs die donkerste hel – soos om aan ’n Romeinse kruis tot die dood gemartel te word – in iets lewegewend kan omskep.

Hier wil ek graag ’n aanhaling lees van die skrywer en voormalige president van die Tsjeggiese Republiek, Vaclav Havel, oor hoop:

 “Hope is a state of mind, not a state of the world. It is an orientation of the spirit and orientation of the heart; it transcends the world that is immediately experienced and is anchored somewhere beyond its horizons. Hope, in this deep and powerful sense, is not the same as happiness that things are going well, or willingness to invest in enterprises that are obviously heading for success, but rather an ability to work for something because it is good, not just because it stands a chance to succeed. The more propitious the situation in which we demonstrate hope, the deeper the hope is. Hope is definitely not the same thing as optimism. It is not the conviction that something will turn out well, but the certainty that something makes sense, regardless of how it turns out.”

Vaclav Havel

As geloof die sekerheid is van die dinge wat gehoop word, dan dink ek is dit in die sin wat Havel dit hier vir ons uitlê. Die sekerheid wat ons het, is nie dat dit waarvoor ons hoop sonder enige twyfel verwerklik sal word nie. Dan sou dit nie hoop wees nie, maar optimisme. Geloof is veel eerder die sekerheid dat dit waarvoor ons hoop sonder enige twyfel van God af is, dat dit die goeie is, “regardless of how it turns out.” Hoop, soos Havel sê, is die vermoë om vir iets te werk omdat dit goed is, nie net omdat dit ’n goeie kans om sukses het nie.

Dit is die geloof wat ons in die groot wolk van getuies herken, want, soos die prediker ons herinner met woorde wat die bloed in ons are laat koud stol, “Al hierdie mense het in geloof gesterf sonder om die beloftes te ontvang . . .”

Die helde van ons geloof het nie hulle lewens gegee vir sake wat sonder enige twyfel ’n sukses sou wees nie. Nee, hulle geloof en hulle hoop was geanker in God, diskant die horison van hulle eie vermoëns en ambisies en stoutste verwagtinge. En tog, word ons aangemoedig om hulle voorbeeld te volg. Want, hoewel hulle in geloof gesterf het sonder om ooit die beloftes te ontvang, het “hulle dit van vêraf gesien en verwelkom.”

***

Ek wil afsluit met ’n aanhaling van Olive Schreiner, die Suid-Afrikaanse skrywer van die 19de eeu, wat bekend is vir haar boek, “Story of an African Farm.” In ’n boek met die titel: “a track to the water’s edge” skryf sy van ’n vrou wat ook soos Abraham, na ’n vêr land toe wou trek. Daarvoor moes sy eers ’n rivier oorsteek:

And she stood far off on the bank of a river. And she said: “For what do I go to this far land which no one has ever reached? Oh, I am alone! I am utterly alone!”

And Reason, that old man, said to her, “Silence! what do you hear?”  And she listened intently, and she said, “I hear a sound of feet, a thousand times ten thousand and thousands of thousands, and they beat this way!”

He said, “They are the feet of those that shall follow you. Lead on! make a track to the water’s edge! Where you stand now, the ground will be beaten flat by ten thousand times ten thousand feet.” And he said, “Have you seen the locusts how they cross a stream? First one comes down to the water-edge, and is swept away, and then another comes and another, and then another, and at last with their bodies piled up a bridge is built and the rest pass over.”

She said, “And of these that come first, some are swept away, and are heard of no more; their bodies do not even build the bridge?” “And are swept away, and are heard of no more – and what of that?” he said. “And what of that – “ she said.

“They make a track to the water’s edge.” “They make a track to the water’s edge –.” And she said, “Over that bridge which shall be built with our bodies, who will pass?” He said, “The entire human race.”

And the woman grasped her staff. And I saw her turn down that dark path to the river.

Olive Schreiner – A track to the water’s edge

Die merkwaardige ding van die groot geloofshelde, Abraham en Sara, Moses en Miriam, die groot wolk van getuies wat ons aanpor om ons wedloop te voltooi, deur te sing ‘hou bene hou, hou bene hou’ is dat hulle nooit die belofte ontvang het wat hulle van vêraf gesien het en verwelkom het nie.

Hulle het nooit die rivier oorgesteek nie. Sommige van hulle het nie eers deel uitgemaak van die brug nie. Vir meeste van hulle was dit genoeg om ’n voetpaadjie aan te wys wat na die rivier toe gelei het; ‘a track to the water’s edge’.

Ons kan almal doen met ’n bietjie hoop. Maar as daar hoop is vir Suid-Afrika, werklike, diep hoop, dan gaan dit sigbaar word in mense wat bereid is om die goeie te doen, ter wille van die evangelie, nie omdat daar ’n goeie kans is dat hulle die rivier gaan oorsteek nie, maar omdat dit van God is; omdat dit goed en mooi is. Mag ons elkeen, in hierdie stad en in hierdie land, in Kaapstad, Suid-Afrika, met die unieke uitdagings en beloftes wat ons hier het, altyd die stad wat Jesus vir ons voorberei voor oë hou, mag ons dit van vêraf sien en dit verwelkom, al is ons taak niks meer as om ’n voetpaadjie te maak wat na die rivier se oewer toe lei nie.

Lukas 12:13-21

4 Augustus 2019

Agste Sondag na Pinkster | Nagmaal
Prediker: Ds. Helgard Pretorius

[As gevolg van ‘ n tegniese fout is daar ongelukkig nie hierdie week ‘n opname van die preek beskikbaar nie.]

Ek hou vanoggend se preek kort; want eintlik wil ek nie veel meer sê as wat ek reeds vroeër vir die kinders gesê het nie.

Ons het die afgelope paar weke in die erediens saam nagedink oor die gebed en oor die geestelike lewe. Deur die verhaal van Maria en Marta, het ons ontdek dat gebed die hart van die Christelike lewe is, dit is die een noodsaaklike ding, dit is om by Jesus se voete te sit en na hom te luister.

En verlede week het ons stilgestaan by die gebed wat Jesus vir ons leer: die Onse Vader. En ons het ontdek dat gebed minder iets is wat ek doen, as wat dit God se werk in my is. Gebed is ten diepste, om toe te laat dat Jesus se gebed, in my gebeur.

Vanoggend wil ek jou uitnooi om nog ’n tree op hierdie weg saam met my te neem en vir te vra na die verhouding tussen ons gebed en ons geldsake. In die verband maak ek enkele opmerkings oor ons teksgedeelte.

***

Ek wil begin by die man wat vanuit die skare vir Jesus sê: “Meester, sê vir my broer om die erfenis met my te deel.”

Dit is een manier om te bid. Vanuit die skare waar ek incognito, anoniem kan bly. Veral wanneer dit oor geldsake of besittings kom, bly ek eerder op ’n afstand van Jesus want ons almal weet hoe radikaal hy kan wees as dit by sulke sake kom.

Dit laat my ook dink aan die 5999 mense wat in die skare gesit het en toe almal begin honger raak het, nie soos die seuntjie gemaak het wat sy 5 brode en 2 vissies vir die Here gegee het nie. In die skare, op ’n afstand is ek veilig. Ek kan na Jesus se mooi boodskap luister, terwyl ek ook veilig kan vashou aan my kosblik, aan my besittings.

Vir die man in die skare – terloops, ek sien myself in die man raak – is gebed om, wanneer jy nie kry wat jy wil hê nie, of nie kry waarop jy voel jy geregtig is nie, skielik ’n beroep te maak op Jesus: “Meester, sê vir my broer om die erfenis met my te deel.”

Hy sit in die teenwoordigheid van God, maar al wat hy sien is wat hy nie het nie, wat hy dink hy kortkom. En die probleem lê natuurlik nie by homself nie, maar by sy broer. So wil hy dan van die Seun van God ’n boedelberedderaar maak.

Jesus wil niks daarvan weet nie: ‘mens, wie het My as regter of bemiddelaar oor julle aangestel?’ vra Jesus vir hom. Eers lyk dit na ’n retoriese vraag – met ander woorde, ‘Ek is mos nie hier om uitspraak te lewer oor julle geskille nie’.

Maar ek wonder of Jesus dit nie as ’n regte vraag bedoel het nie; en die antwoord is dan natuurlik: die Vader – die Vader het vir Jesus as ons regter en bemiddelaar aangestel; die Vader wat sorg vir die voëls en die veldblomme en ook weet wat julle nodig het; die Vader wat weet om goeie geskenke vir sy kinders te gee; die Vader wat dit goedgevind het om die koninkryk en die Heilige Gees aan julle te gee.

Met ander woorde, Jesus is ons regter en bemiddelaar. Maar hy is nie deur my of deur jou aangestel nie – en Hy sal Hom ook nie deur ons laat aanstel nie! God stel vir Jesus aan en die logika waarvolgens Jesus dan oordeel nie ons angs oor die toekoms, dat daar nie genoeg gaan wees nie, maar die oorvloed van die Vader, dat daar reeds meer as genoeg is vir almal.

Hiermee dan die eerste les oor geld en gebed. Ek moet nie aanneem dat Jesus my perspektief op die wêreld gaan deel, of dat ek vir Jesus kan volg sonder dat my sienings oor geld uitgedaag en verander gaan word nie. Gebed is nie om vir Jesus van ’n afstand nader te trek en hom in te span by ons projekte nie.

Nee, as ons dit enigsins waag om met Jesus in gesprek te gaan oor ons besittings, kan ons maar verwag dat hy ons veronderstellings oor die wêreld – soos ons onkritiese geloof in skaarsheid, of dat ’n mens se lewe bepaal word deur die oorvloed van hulle besittings – op sy kop gaan draai.

Jesus gaan ons nie los soos wat ons is nie. Dit is die les wat die man uit die skare tot sy groot skok en teleurstelling geleer het. Hy dog nog hy vra iets redelik, hy wou immers net gehad het wat volgens die wet aan hom behoort, maar Jesus sien dieper as die oppervlakte: Jesus sien sy hart en stel die gierigheid wat hy in die skare probeer wegsteek bloot vir wat dit is.

Jesus sien hoe die man se obsessie oor sy deel van die erfenis, besig is om sy hart bitter te maak. In die warm gloed van sy stryd met sy broer, het hy blind geraak vir die feit dat sy siel besig is om skade te lei. Sy eie broer sien hy as niks meer as ’n probleem en ’n mededinger nie. Hy is so oorweldig deur sy vrees dat hy nie genoeg sal hê nie, dat hy die oorvloed van God se koninkryk wat voor hom besig is om aan te breek helemaal miskyk.

Dit is een manier om te bid, om van ’n afstand, vanuit die skare mense wat elkeen probeer om sy eie kosblik weg te steek, te pleit dat God vir my met ’n skaars hulpbron sal voorsien voordat iemand anders dit kry.

Maar gebed kan ook wees, om soos die seuntjie uit die veiligheid van die skare uit te tree met alles wat jy het – al is dit twee broodjies en vyf vissies – en te sê: hier is ek Here, hier is ek in my naakte kwesbaarheid, deurgrond my hart, vernuwe my denke, maak oop my oë vir u koninkryk, en gee vir ons elke dag ons brood vir daardie dag.

***

Kom ons kyk ook kortliks na die gelykenis wat Jesus vertel, van die ryk man wat geseën is met ’n besondere groot oes.

Hier is iemand wat dit reggekry het om uit die skare honger en behoeftige mense uit te styg. Maar anders as die seuntjie, wat sy rykdom na die Here toe neem om met Jesus in gesprek te gaan oor hoe hy dit sal belê, is die ryk man totaal en al ingekeer op homself.

Hy voer nie ’n dialoog met die Here nie, maar ’n monoloog met homself. Hy het homself toe afgevra, ‘Wat moet ek doen? . . . ‘Dit is wat ek sal doen. Ek sal my skure afbreek en groter skure bou. Daarin sal ek al my graan en my goedere opgaar. Dan sal ek vir myself sê: myself, jy het baie goed opgegaar vir baie jare. Ontspan, eet, drink en wees vrolik.’

Dit is nog ’n manier om te bid. Om myself van God en van ander mense te isoleer, sodat ek die hoofrol begin speel in my eie fliek, waarvan ek ook die draaiboek geskryf het en selfs in die regisseur se stoel gesit het. Dalk gee ek vir God ’n ondersteunende rol wat hy kan speel, maar in die proses, raak ek helemaal verwyderd van die realiteite van die lewe: soos dat ’n mens se lewe nie bepaal word deur die oorvloed van sy besittings nie,” dat ek afhanklik is van ander en ander ook afhanklik is van my, soos dat ek ’n sterweling is.

Ons almal weet dat ons meer eenvoudig kan en moet lewe. Soos Koos Du Plessis sing: Eenvoud is die vreugde van die lewe, dit is gee en neem net wat daar is, dis die dankbare eet van elke skewe snytjie brood wat liefde is.

En tog vind ons dit moeilik. Met al die versoekings van ’n verbruikerskultuur, voel dit soms of ons nooit tevrede wees met ’n lewe van eenvoud nie. Daarom is gebed so noodsaaklik.

Gebed as die verlange om ryk te word in God. Om die rykdom van God te ontdek in ’n lewe saam met ander, ’n lewe van barmhartigheid en vrygewigheid, om te besef dat liefde en aandag en geduld en meelewing in groot oorvloed beskikbaar is vir elkeen wat daarvoor vra.

Dit is om saam met Jesus waaksaam te wees vir elke vorm van gierigheid – want dit kom in baie verskillende vorme en dikwels is dit goed vermom. Gebed is om uit die skare uit te tree, nie om myself van my medemens te isoleer nie, maar om naak en kwesbaar met Jesus in gesprek te tree en bereid te wees dat hy moeilike vrae gaan vra oor die geld waarvoor ek so hard gewerk het, of waaraan ek so mooi gespaar het.

Gebed is om my eie sterflikheid na aan my hart te hou. Want die waarheid is dat God elke nag ons lewe van ons opeis. Die wekroep van God om ons kruis op te tel en aan onsself te sterf is ’n daaglikse uitnodiging om vanuit God se evangelie van oorvloed te lewe, eerder as ons vrees vir skaarsheid.

As ons vertrekpunt is dat daar te min is, gaan mense wat werklik daagliks in ’n stryd is om kos op die tafel te sit, vir ons ’n bedreiging wees. Maar as ons vanuit God se oorvloed beweeg, kan ons sonder vrees, werklik in solidariteit te leef met mense vir wie skaarsheid ’n daaglikse werklikheid is.

Gebed is om toe te laat dat Jesus se gebed in my gebeur. Dit is om toe te laat dat Jesus se visie van ’n wêreld waarin daar oor genoeg is vir almal, begin om my diepgewortelde veronderstellings oor die wêreld te bevraagteken en stelselmatig te skuif.

Jesus het ’n ongelooflike vermoë gehad om situasies waar daar skynbare skaarste is te omskep in geleenthede van vreugde en feesviering en gemeenskap.  ’n Lewe van gebed is om toe te laat dat Jesus hierdie wonderwerk met ons doen, met ons werklike situasies van skaarsheid, waarin ons werklik iets kort kom, maar ook met ons illusies van skaarsheid, wanneer ons ten spyte van oorvloed, nie genoeg kan kry nie.

Lukas 11:1-13

28 Julie 2019

Sewende Sondag na Pinkster | Doop van Fritz Brand Schabort
Prediker: Ds. Helgard Pretorius

Ons doop vanoggend vir Fritz Schabort. As doopouers en familielede, as ’n gemeente, as Kinderkerk aanbieders en as die dominee gaan dit ons taak wees om vir klein Fritz te leer bid. Soos ons verlede week deur Henri Nouwen herinner is: Prayer is the centre of the Christian life. It is the only necessary thing (Luke 10:42). It is living with God here and now.

Daarom is dit heel gepas dat ons vanoggend stilstaan by hierdie gedeelte in Lukas se evangelie waar die dissipels vir Jesus vra: “Here, leer vir ons om te bid.”

Ek weet nie van julle nie, maar ek voel nogal die gewig van daardie verantwoordelikheid. Weet ek hoe om te bid? Is ek in staat om iemand anders te leer bid?

***

Wel, daar is hoop vir ons wat dalk voel asof ons nog nie die gebed ding helemaal bemeester het nie. Want wanneer die dissipels vir Jesus vra, ‘leer ons om te bid’ veronderstel dit dat gebed iets is waarin ’n mens kan groei.

Dit is vir my nogal ’n troos, want as dit by gebed kom, beskou ek myself nie as ’n natural nie. Ek is daarvan bewus dat ek nog daarin kan en moet groei; dit plaas my darem op die vlak van Jesus se dissipels.

In Jesus se tyd, wanneer ’n mens vir ’n Rabbi gevra het om vir jou sy gebed te leer, was dit soos om te vra: Leermeester, som vir ons jou lering op; Wat is jou filosofie? Wie is jou God? Hoe sien jy die lewe?

Vandag nog geld dit, dink ek. As jy wil weet wat iemand werklik glo, vra vir hulle na hulle gebed. Hoe bid jy? Wat is jou gebed? Show me how and what you pray, and I’ll tell you what you believe.

Jesus se antwoord op die dissipels se vraag is dus ’n opsomming van wat Jesus geglo het. Dit sê vir ons waaroor Jesus passievol was. Dit wys vir ons die God in wie Jesus vertrou het.

Laat ons dan, soos ons vanoggend om die doopvont staan, terugkeer na Jesus se antwoord op die dissipels se vraag, om daar te ontdek hoe ons in gebed kan groei en moontlik so ook vir Fritz ’n voorbeeld van ’n volwasse gebedslewe kan wees.

***

Jesus se antwoord bestaan uit twee dele: In die eerste deel, gee Jesus vir hulle die Onse Vader gebed. Daarop volg dan ’n stukkie kommentaar.

Kom ons begin agter, by die kommentaar, en kom dan terug na die gebed toe.

Gestel ’n vriend van jou daag onverwags een aand by jou huis op. Jou yskas is leeg, die winkels is toe. Jy stap oor na ’n vriend van jou toe, klop aan die deur en vra vir ’n paar brode sodat jy vir jou gas iets kan aanbied. Jou vriend roep uit die slaapkamer uit: jammer ou pel, ek gaan nie nou opstaan nie; ons is klaar in die bed, die deure is gesluit, die alarm is gestel.

Dalk was hy toe nie so ’n goeie pel nie. Maar aanhouers wen. Omdat jy so onbeskaamd aanhou klop, sal die man uiteindelik tog opstaan om vir jou te gee wat jy nodig het, al is dit nie omdat hy ’n goeie vriend is nie.

Of verbeel jou ’n kind vra vir haar ma vir ’n vis, watter ma sal vir haar kind ’n slang gee? Watter pa sal vir sy dogter ’n skerpioen gee, as sy vir ’n eier gevra het?

“As júlle wat sleg is, dan weet om goeie geskenke aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die Hemelse Ouer die Heilige Gees gee vir hulle wat Hom vra.”

So som Jesus die kommentaar op sy gebed op. Deur hierdie gelykenisse van ’n kamstige vriend en ’n liefdevolle ouer, wil Jesus vir ons iets sê oor die God tot wie ons bid. God is soos ’n liefdevolle ouer wie se grootste plesier dit is om vir mense te gee wat hulle nodig het. Ons hoef nie te smeek nie, ons hoef nie te manipuleer nie. Ons hoef nie met ’n kragtoer van gebed God se arm te draai nie:

As julle wat sleg is weet om vir julle kinders goeie geskenke te gee, hoeveel te meer sal die Hemelse Ouer die Heilige Gees gee vir hulle wat hom vra.

Niks sal vir God gelukkiger maak as dat die Gees van Jesus in en deur ons lewe nie. Ons het nie eers geweet dit is wat ons nodig het nie; maar, sê Jesus, God weet om goeie geskenke te gee en wil graag vir ons die Heilige Gees gee.

Die vraag is egter of ons weet om vir goeie geskenke te vra. . . Soos iemand in ons Bybelstudie-groep die week gesê het, ‘ons is meer geneig om vir slange en skerpioene te vra, as vir visse en eiers.’ Hoe gereeld word hierdie teksgedeelte nie misbruik nie om ’n sekere beskouing van welvaart te regverdig nie. Vra en vir jou sal gegee word; asof dit oor ’n Ferrari of ’n huisie by die see gaan.

***

Vir Jesus was gebed gekoppel aan die werk van die Heilige Gees. Maar, wat het Jesus bedoel toe hy praat van die Heilige Gees? As ons kyk na waar Lukas in sy evangelie van die Heilige Gees praat, dan is een moment wat uitstaan natuurlik Jesus se doop in die Jordaanrivier. Soos Jesus uit die water opgekom het, het die Heilige Gees op hom kom rus en onmiddellik het Jesus die stem van die Vader gehoor wat sê: “jy is my geliefde kind, in jou vind ek groot vreugde.”

Jesus vind sy diepste identiteit in daardie plek van liefdevolle aanvaarding. Dit is die bron waaruit Jesus se hele bediening gespruit het. Paulus verbind ook op die manier die Heilige Gees met gebed wanneer hy in Rom. 8 sê: “God het die Gees van sy Seun in ons harte gestort deur wie ons roep: “Abba, Vader!”

Dieselfde Gees wat in Jesus woon om hom te herinner dat hy ’n geliefde kind van God is, is beskikbaar vir elkeen wat daarvoor vra. Dit is Jesus se boodskap. En om te bid is eenvoudig om stil genoeg te raak dat ons die Gees van die Vader kan hoor wat vir ons sê: “Jy is my geliefde kind, in jou vind ek groot vreugde.” En dan weer die Gees van die Seun wat daarop antwoord: “Vader.”

Daarom, sê Jesus, wanneer julle bid, moet julle sê: Vader. Gevul met die Gees van Jesus kan ons met vrymoedigheid op Jesus se plek staan, om soos Hy vir God te sê: “Abba, Vader.”

Om vir God op die manier aan te spreek, bepaal natuurlik ook ons verhouding met ons mede-skepsels en ons medemens. Want as God my Vader is, is al God se skepsels my familie. Daar is nie meer vyande of vreemdelinge nie, net familie wat ek nog nie die voorreg gehad het om te ontmoet nie. En dit sluit moederaarde in. Daarom het St. Francis graag gepraat van broer arend, en suster see en neef maan en so aan.

En wat kom volgende? Laat u naam geheilig word. Wat bedoel Jesus daarmee? Wel, in Jesus se tyd was ’n Vader se naam – met ander woorde, sy eer – altyd gekoppel aan hoe dit met sy huishouding gaan. Jou naam word vereer as mense op jou werf kom en dit lyk goed versorg; die tuine en lande word goed bedien, die diere is vet gevoer en gelukkig, al die kinders is gevoed en gesond en geklee.

Laat u naam geheilig word. Laat u aardse huishouding – hierdie wonderlike, delikate ekosisteem wat ’n tuiste is vir visse in die see en voëls in die lug, hierdie beeldskone aarde waarin mense kan leef en floreer – laat u huishouding so bestuur word dat u naam lof en eer sal ontvang.

Dit hou natuurlik verband met wat volg: Laat u ryk kom. Die koninkryk van God is hoe dit op aarde sal wees as God regeer en nie die konings en regerings wat tans mag uitoefen nie. Soos dit tans staan, is die huishouding van God nie op ’n goeie plek nie. Ons is besig om God se naam met ’n plank te slaan; die werf is besoedel, die plante en diere kry swaar, die kinders baklei. En g’n wonder nie, want party van hulle word pragtig versorg terwyl ander verwaarloos word.

Watter ouers is dit, wat hulle kinders so onregverdig behandel?

Laat u ryk kom, sê Jesus. Dis tyd vir ’n nuwe bestuur, vir ’n nuwe bestuurder. Vader, vestig hier op aarde die ryk van ’n liefdevolle, regverdige, ouer. Jesus beroep hom hier op die ou profetiese visie van ’n wêreld van vrede en geregtigheid, waar die nasies hulle swaarde omslaan in ploeë, waar elke familie hulle eie wingerd en vyeboom het, en waar niemand in vrees hoef te lewe nie.

So, sê Jesus, moet ons gebed begin: met ’n visie van ’n wêreld wat deursigtig is vir God se lig van vrede en regverdigheid. Soos ons vroeër gesing het, ‘heerlik is waar u regeer!” Gebed begin met hierdie verlange na God se droom vir die wêreld. En eers nadat ons ons verbeelding op hierdie visie ingeskerp het, en onsself daartoe verbind het, dan eers, vra ons vir wat ons nodig het.

En wat het ons nodig? Brood en genade. Manna and Mercy.

Gee ons elke dag ons daaglikse brood. Gee vir ons. Nie vir my nie, maar vir ons, vir al my broers en susters. Gee vir ons brood. Gee vir ons wat ons nodig het. Gee dit vir ons daagliks, genoeg vir vandag.

Agter elke deel van Jesus se gebed skuil daar talle verwysings na Israel se geskiedenis en na Jesus se lewe. Hier dink ’n mens onmiddellik aan Israel wat in die woestyn moes leer om – daagliks – manna te ontvang vir daardie dag. Elke familie volgens hulle behoefte. Elke dag . . . genoeg . . . vir daardie dag. As jy opgegaar het om dalk die surplus te verkoop, het die manna gevrot. Daar is meer as genoeg vir almal, mits ons leer om tevrede te wees met genoeg vir die dag.

Buiten manna, is daar nog iets wat ons broodnodig het; en dit is genade. Ons kan nie leef sonder barmhartigheid, vergifnis, versoening en heling nie. Daarom bid ons: En vergeef ons ons sondes, want ook ons vergeef elkeen wat teenoor ons skuldig staan.

As jy op pad tempel toe is, op pad kerk toe, as jy stil raak om te bid, en dit val jou op dat jou broer iets teen jou het, los jou offergawe net daar by die altar en versoen jou eers met jou broer.

Jesus moedig ons aan, wanneer ons vir God vra om vergifnis, dat ons ’’n voorwaarde daaraan stel, al is God se liefde onvoorwaardelik. Vergewe ons, want ook ons vergeef elkeen wat teenoor ons skuldig staan. Wees ons genadig, want ook ons is barmhartig teenoor elkeen wat ons iets skuld.

Let op dat Jesus nie net praat van sonde nie, maar ook van skuld. Buiten die vergifnis van sondes op ’n persoonlike vlak, gaan dit ook oor die bevryding van mense wat deur ekonomiese en politiese sisteme vasgedraai geraak het. Hulle gaan meer as daaglikse brood nodig hê.

In ons konteks, in die land waarin klein Fritz ’n geroep word om God se versoeningswerk voort te sit, is hierdie breë visie van versoening van uiterste belang. Versoening sluit in die gesamentlike regstelling van ongelykhede en die regverdige verdeling van hulpbronne, ter wille van ons toekoms en die toekoms van ons kinders.

Maar, daar is nog iets wat ons nodig het, en daarmee sluit Jesus sy gebed af: En bring ons nie in versoeking nie. Verhoed dat ons vertroue verloor in die visie van u koninkryk. Bewaar ons van die versoeking om onsself en ander as minder as u geliefde kinders te sien.

Jesus het geweet: as jy jou beywer vir God se koninkryk, gaan jy weerstand kry, gaan jy wind van voor kry, gaan jou geloof getoets word. Daarom bid ons dat die toetse wat ons kant toe kom, die weerstand en die teenstand, dat dit nooit sterker sal wees as wat ons kan verduur nie. Dat ons op die oomblik van groot versoeking getrou sal bly aan ons doop; aan wat hier van ons gesê word.

***

Ek sluit af. As ons dink dat ons vir Fritz en die ander jongmense in ons gemeente gaan kan leer om te bid sonder dat ons self lewens van gebed lewe, of ten minste lewens wat groei in gebed, dan maak ons ’n groot fout.

Fritz gaan bid as ons bid. En Fritz gaan bid soos wat ons bid.

As gebed vir ons die slegte gewoonte is om, wanneer ons in die knyp is, vir God te soebat en te manipuleer, wat is dan die godsbeeld wat Fritz gaan ontwikkel? Hoe klein gaan Fritz se God wees?
Of as ons getroue kerkgangers is en gereeld ons gebede opsê, maar ons versoen nie met ons broers en susters nie, of ons beywer ons nie vir God se droom van ’n regverdige en vreedsame samelewing nie, hoe sal gebed ooit vir Fritz geloofwaardig lyk?

Drie dinge staan vir my uit in vanoggend se teks, as riglyne vir ons wat as gedooptes in gebed wil groei:

In die eerste plek, is gebed minder iets wat ons doen as wat dit iets is wat God in en deur ons doen. Gebed God se werk in ons. Dit is nie hoe ons probeer om God se aandag te kry nie, of hoe ons vir God probeer oortuig om mooi te wees met ons nie. Gebed is veel eerder om toe te laat dat Jesus se gebed in ons gebeur. Dit is om my hart en my verstand oop te stel en vir die Vader te sê: “Kyk, hier is jou seun Jesus Christus, besig om in my te bid, deur die Heilige Gees. Luister asseblief na hom, want ek wil hê dat hy in en deur my moet werk om die aangesig van die aarde te vernuwe.”

En soos ek in my gebedslewe groei, soos ek beter verstaan wat Jesus se passie is en dit al hoe meer my passie word, kom ek agter dat wat ek vir God wil sê al hoe meer belyn met wat Jesus in my vir God sê.

Tweedens, is Gebed is ten nouste verbind aan ’n lewe van barmhartigheid, versoening en geregtigheid. Hoe weet jy of jou gebed werk? Moenie ’n ekstatiese gevoel verwag terwyl jy bid nie. Inteendeel, as gebed die proses is waardeer God die landskap van jou hart omskep, is die kans groot dat dit dikwels ongemaklik gaan wees. Jy gaan wil ophou. Volhard daarin, met die wete dat die vrugte van ’n lewe in die Gees sien ’n mens nie in die tydjie wat jy stil word nie. Die mense om jou gaan dit eerste beleef; in jou soeke na vrede en verdraagsaamheid, in jou vreugde en vriendelikheid, in jou getrouheid en betroubaarheid, in jou liefde en geduld en selfbeheersing. Dit, sê Paulus vir ons, is die vrugte van die Gees.

Deredens, gaan Gebed oor ’n verbintenis en ’n belofte: dit is om daar te wees vir die God wat daar is vir ons. In Engels praat mens van The Lord’s prayer. Dit is die Here se gebed, dit is God se gebed. Kan ons God se gebed verhoor? Kan ons, deur ons lewens, amen sê vir wat God op die hart het?

Daarom het ons geloofdissiplines en praktyke nodig, nie om daardeur vir God teenwoordig te maak nie – God is teenwoordig, die vraag is of ons teenwoordig is. Geloofdissiplines soos eredienste, oggend en aandgebed, meditasie ensovoorts is belangrik omdat ons daardeur kan aanmeld by wat God besig is om in en deur ons te doen. Sulke dissiplines help ons om teenwoordig te wees, en ‘n vaste verbintenis te maak te midde van die vele afleidings en aansprake op ons tyd en aandag.