9 Februarie 2020
Vyfde Sondag na Epifanie
Prediker: Ds. Helgard Pretorius
’n Woord Vooraf
Ons het hierdie kwartaal begin met ’n nuwe reeks, waarin die
klem val op hoe ons die Bybel lees en verstaan. As gids gebruik ons
hierdie boekie, Manna and Mercy, Genoeg en Genade, om ons te help om die Bybel op lewegewende
maniere te lees wat deelneem aan God se belofte om die ganse skepping te
herste.
Verlede week het ek ons daaraan herinner dat konteks
betekenis skep. Wanneer ook al ons ’n teksgedeelte lees, moet ons eerste vraag
wees: wat is die konteks?
Vanoggend wil ek nog vier vrae met julle deel wat ons help om
in gesprek te gaan met die Bybel. Die doel van hierdie vrae is nie om agter die
teks in te kyk na die konteks nie. Hulle help ons eerder om die wereld te
ontdek wat die teks vir ons oopbreek.
1. Wat se dit oor God?
2. Wat se dit oor die mens? menswees?
3. Wat se dit oor die omgewing?
4. Wat se dit oor die verhouding tussen God, die mens en die omgewing?
’n Vriend het eenkeer vir my gese dat as ek op ’n Saterdag sukkel om my preek te skryf . . .
Hou hierdie vrae in jou agterkop as ons vanoggend se
skrifgedeelte lees.
Skriflesing:
Genesis 1:31-2:3
“God het na alles gekyk wat God gemaak het, en kyk, dit was baie goed.
En dit was aand en dit was oggend – die sesde dag.
So is die hemel en die aarde en alles wat daarby hoort,
voltooi. God was op die sewende dag klaar met die werk wat God gedoen het; en
God het op die sewende dag gerus van al die werk wat God gedoen het.
God het die sewende dag geseën: God het dit heilig verklaar, want op dié dag het God gerus van al God se werk – dit wat God geskep het deur dit te maak.”
Boodskap
’n Mens hoor dikwels mense sê dat die mens die kroon van die skepping is. Bedoel mens is laaste geskep op die sesde dag voordat God gerus het en daarom die belangrikste.
Maar mens is nie die laaste of die beste ding wat God geskep
het nie. God het die skepping eers op die sewende dag voltooi toe God gerus
het. Die Sabbat is die hoogtepunt van die skepping, nie die mens nie. Op die
sewende dag word dit duidelik waaroor die lewe ten diepste gaan. Op die sewende
dag word God se skeppingsbedoeling geopenbaar.
Die son en die maan merk kalendertyd: die ordelike, ritmiese
afwisseling van dag en nag, elke dag soos die vorige een. Maar dis net die
sewende dag wat God seën en heilig noem. Die sewende dag het ook geen einde
soos die ander dae nie. Na die ander dae hoor ons, dit was nag en dit was dag,
die sesde dag, maar ons hoor nooit hierdie woorde na die sewende dag nie. Die
sewende dag is oop – dit wys heen na God se toekoms, na ’n herstelde wereld in
die ewige rus van God se sjaloom.
Soos wat die tempel vir die Israeliete in ruimte apart
gestaan het, so staan die sewende dag vir hulle apart in tyd. Hoekom het die
Sabbat vir die Jode so belangrik geword? Onthou: konteks skep betekenis. Tydens
die ballingskap, het die Israeliete nie meer die tempel gehad waar hulle vir
God kon ontmoet nie. So het die Sabbat as’t ware vir die Jode ’n tempel in die
tyd geword, ’n ontmoetingsruimte met God,’n simbool van God se teenwoordigheid
te midde hulle ballingskap.
Vergelyk
met Enuma Elish
Ek wil graag dat ons deur middel van ons vier vrae in gesprek
gaan met hierdie merkwaardige belofte van die Sabbatrus. Om egter beter te
verstaan wat die teks oor God sê, sal dit help om te weet watter idees mens in
daai tyd van God gehad het. Dieselfde geld vir die vraag oor die mens. Hoe het
mense oor menswees gedink? Hoe het hulle oor die omgewing gedink? Hoe het hulle
oor die verhouding tussen God, mens en die omgewing gedink?
Wel, toe die Gen. 1 Skeppingsverhaal geskryf was, was daar
reeds ander Babiloniese skeppingsverhale wat jaarliks tydens feeste vertel en
opgevoer was. Een hiervan was die Enuma Elish. In 6de eeu voor Christus,
was dit alreeds ’n classic. Dis ’n Epiese verhaal oor ’n groot oorlog tussen
die gode wat eindig met die dood van die oer-seeslang Tiamat. Die see-godin se
dooie liggaam word dan in die lengte oopgekloof en opgekap. Uiteindelik word
die seeslang se maag die gesig van die aarde, terwyl haar ruggedeelte
uitgestrek word om die hemel-koepel te vorm.
Die god wat die oorlog gewen het, die generaal-god Marduk,
beveel toe vir die verloorders aan om ’n groot tempel tot sy eer op te rig op
die aarde. Nadat die gode die tempel gebou het, het hulle egter vinnig
agtergekom dat die ingewikkelde offerhandes wat hulle aan Marduk moet bring so
veel van hulle tyd in beslag neem dat hulle nooit enige af-tyd het nie.
Dis toe dat hulle besluit om ’n nuwe skepsel te maak: mense,
wat namens hulle die harde arbeid van die kosmos moet verrig. Die storie eindig
met die gode wat ’n groot feesmaal geniet terwyl die nuutgeskape mense hulle
afsloof. By die feesmaal sit die gode terug terwyl hulle vyftig heildronke
instel op die oppergod Marduk en hulself gelukwens oor hulle slinkse plan om die
mense al die werk te laat doen.
Volgens hierdie Babiloniese skeppingsverhaal, is die aarde
die afval-produk van ’n wrede oorlog tussen die gode. En die mens is geskep met
die spesifieke doel om slawe te wees vir gode wat eintlik niks met die aarde te
doen wou gehad het nie.
Vergelyk
die Gen. 1 skeppingsverhaal
In die lig van die Enuma Elish sien ’n mens hoe uniek
die visie van die Genesis 1 skeppingsverhaal is.
Kom ons kyk wat gebeur as ons ons vier vrae toepas op hierdie gedeelte (voeg gerus iets by as julle dink ek mis iets):
1. Wat sê dit oor God? Watter tiepe God is dit hierdie? Hoe verskil die God van Genesis 1 van die gode in die Enuma Elish verhaal?
In Gen. 1 word God voorgestel as Een wat gee, wat rus,
wat geniet. God skep vir die vreugde van geselskap en vriendskap – nie
om te verbruik of om te onderwerp of om dinge van mense te vra nie.
In ’n wereld waarin die gode onvoorspelbare, bloedlustige,
narsisiste is wat op willikerige wyse besluite neem en allerande dinge van
mense verwag, kry ons hier ’n visie van ’n ander tiepe God: ’n betroubare God
wat sorgvuldig skep en in oorvloed voorsien, ’n God wat daarin vreugde vind om
te gee, ’n God wie se rus en genot nie ten koste is van die skepping en die
mens nie; inteendeel, dit is ’n God wat die skepping uitnooi om aan God se rus
deel te neem.
Anders as die Babiloniese gode wat terugsit terwyl die mense
hulle take vir hulle verig, kry ons hier te doen met ’n God wat die mens
uitnooi om aan te sit by die goddelike feesmaal.
2. Wat sê dit oor die mens? Wat sê dit oor die menslike kondisie? Oor menswees?
In kontras met die Babiloniese mite, en waarskynlik in protes
daarteen, is die insig van hierdie skeppingsverhaal dat mense primêr
bestaan vir die vreugde wat God in ons geselskap vind. Die God van Israel skep mense, nie
as dwangarbeid nie, maar sodat die mens – man en vrou – hulle enersheid met God
kan verwesenlik.
En een, baie belangrike manier waarop hulle dit kan doen,
miskien die belangrikste manier waarop mense God se beeldraers kan wees, is
deur, saam met God te rus en die skepping te geniet. Volgens Genesis 1, is die
eerste dag van die mens se lewe ’n vakansiedag.
Die mens leef nie om te werk nie; die mens werk om te leef. In
’n wereld waarin mense primêr gesien was as hulpbron, as arbeid, as instrument,
kry die mens hier ’n hoër status: die mens is eerder ’n intieme vriend van God,
familie van God, selfs kinders van God.
Soos wat ’n ouer vreugde vind in ’n kind, so kies God ons
geselskap sonder enige goeie rede, sommer maar net.
As ons sê dat Sabbat die hoogtepunt en doel van die skepping
is, dan behoort dit ’n verskil te maak oor hoe ons, ook vandag, dink oor werk
en oor rus.
Is rus en aanbidding en tyd saam met God net daar as ’n
intermezzo, as ’n blaaskans tussen twee weke van afsloof en presteer en
produktief-wees?
Of is rus juis die hoopgtepunt, die einddoel van die hele
week, dit waarna alles verwys. Rus nie as niks doen nie. Menuah: Vrede,
herlderheid, kalmte, geluk, harmonie.
3. Wat sê dit oor die omgewing?
As ons kyk hoe Israel die Sabbat tradisie geinterpreteer
het, val dit ’n mens op dat alle skepsels, net-net die mens nie, moet deelneem aan
God se rus. Die diere, en selfs die land moet ’n kan kry om te rus.
Met ander woorde, in hierdie skeppingsverhaal, in
teenstelling met die Babiloniese weergawe, het die omgewing sy eie integriteit.
Die aarde is in liefde geskep, nie deur geweld nie.
Die wereld bestaan ook nie net as ’n hulpbron vir die
vervulling van die gode of die mens se begeertes nie. Iets hoef nie ’n
markwaarde te hê, voordat dit waardigheid het nie.
Meer hieroor volgende week, wanneer Ernst Conradie met ons kom gesels.
4. Wat sê dit oor die verhouding tussen God, die mens en die omgewing?
Dat God die rusdag heilig noem is ’n teken van God se
begeerte om in ’n baie spesifieke verhouding tot die skepping te staan.
Die ander gode skep die mens sodat hulle van die skepping af
kan wegkom. God skep die mens en dan die Sabbat sodat God in ’n meer intieme
verhouding tot die skepping kan staan.
En hoe lyk daardie verhouding?
Wel, dit is ’n verhouding van vryheid eerder as slawerny.
Dit is ’n verhouding van liefde, van wedersydse waardering en verwondering, van
sorg en oorgawe sonder ’n eksterne uitkoms.
In hierdie verhouding gaan dit nie oor die uitruil van bates
of die nut wat ek uit jou kan kry nie.
Ons is nie in kompetisie met God nie. Die mens en die
skepping is nie vir God ’n bedreiging nie. God is ook nie vir ons ’n bedreiging
nie. Om ten volle mens te wees, beteken nie dat daar minder plek vir God is
nie.
Waar God verheerlik word floreer die skepping, floreer die
mens. Die heerlikheid van God is ’n mens wat ten volle lewe. Die heerlikheid
van God is ’n ekosisteem wat in harmonie leef.
Nagmaal
Ons gaan nou nagmaal vier. Soos die Sabbat ’n teken is van
God se begeerte om in so ’n verhouding van vriendskap met ons te wees, so is
die Nagmaal ook ’n sakrament van God wat ons in God se rus innooi.
Hoe anders is dit nie as die feesmaal waar die gode vyftig
glasies klink tot eer van ’n Grootmeneer terwyl die mense hulle afsloof.
Hier is ons die gaste. Hier hoef ons niks te doen om God
tevrede te stel nie. Ons hoef niks te offer nie. God voorsien. God bring die
offer. God bring die brood en die wyn, God bring Godself.