Spreuke 9

19 Augustus 2012 – Koninkrykstyd
Prediker: Dr Tiana Bosman

Bulletin-19-08-12 | PinelandsLiturgie-19-08-12

Kliek hier om Spreuke 9 te lees

Spreuke 9
19 Augustus 2012 Pinelands
Agtergrond
‘n Bietjie agtergrond oor die wysheidstradisie in oud-Israel. Die ma’s het die jonger kinders opgevoed en onderrig, maar wanneer die seuns jongmanne geraak het, het die verantwoordelikheid na die pa’s oorgeskuif. Die pa was die hoof van die huishouding en ook die wysgeer of onderwyser wat die verantwoordelikheid gehad het om sy seuns te onderrig in die tradisies van die familie en die volk, godsdiens, sosiale ordes, moraliteit, reg en geregtigheid, asook opleiding te gee met die oog op hulle toekomstige beroepe of ambagte. Naas die vaders, was daar ook ander manne – oudstes, wyses en raadgewers – wat as onderwysers opgetree het. Hulle het die jongmanne in meer formele kontekste onderrig, bv aan die koninklike hof, by die tempel, en in wysheidskole en biblioteke. Die skole was dikwels geassosieer met die paleis en die tempel self, sodat onderrig fisies daar in klaskamers plaasgevind het.

Vandag het ons afrondingskole vir jong meisies wat geskoei is op Emsie Schoeman se lesse in etiket, en ons het universiteite en kolleges en ander instellings waar manne en meisies kan gaan studeer. Maar die onderrig in oud-Israel het oor veel meer gegaan as blote kopkennis. Dit ook natuurlik, maar hierdie kennis moes deurvloei na die daaglikse lewe waar mense besluite moes neem – nie net in hulle beroepe nie, maar ook in hulle verhoudinge – hulle moes geskille besleg, en kies hoe hulle teenoor ander mense gaan praat en wat hulle gedrag gaan wees. Onderrig en opvoeding het dus elke aspek van die lewe aangespreek. Vir die volk was kennis en wysheid integraal deel van hulle geloof in God, hulle verstaan van die wêreld (dws die skepping en hoe alles inmekaarsteek), en hulle daaglikse lewe.

Die boek Spreuke bevat verskillend versamelings van gedigte en spreuke, alles in die taal van wysheid gegiet. Ons sou kon sê dat hierdie boek ‘n tipe handleiding was vir die volk, ‘n teksboek vir die lewe aan die persoon wat geloof in God en kennis van God en sy wil nastreef. Spreuke 1-9 dien as inleiding tot die boek en is so geskryf asof dit ‘n onderwyser is wat sy student onderrig in die weë van wysheid. Die onderwysers het die familiêre woord “my seun” in die klaskamers vir hulle studente gebruik (sien die herhalende aanspreekvorm “my seun” 1:8; 2:1; 3:1, 21; 4:1, 10; 5:1…). Na die inleidende 9 hoofstukke, volg daar dan vanaf Hoofstuk 10 letterlik honderde individuele spreuke vir die lewe.

Ons lees vandag die laaste hoofstuk van Spreuke se inleiding. Let op dat ons in die eerste 6 vss gaan lees oor Vrou Wysheid, dan volg die middelste 6 verse waar hierdie Vrou Wysheid instruksies vir die lewe gee, en dan lees ons in die laaste 6 verse oor Vrou Dwaasheid. Die onderwyser wil hier hê dat die seuns hulle verbeelding moet gebruik om deur die beelde van twee verskillende vrouens te leer hoe wysheid en dwaasheid werk. As ons dit lees sal ons bietjie van ons eie verbeelding ook hier moet ingooi om die teks te waardeer.

Lees: Spreuke 9
“My seun, verbeel jou daar was twee vrouens…”

Boodskap
Daar is 5 gedigte oor Vrou Wysheid in die Spreuke 1-9 (1, 8, 9). Sy word in almal gepersonifiseer, asof sy ‘n werklike vrou is:
1:20 ev: “Wysheid is ‘n vrou wat langs die straat staan en roep, sy laat haar stem hoor op die stadspleine, sy roep bo die rumoer uit, by die ingange van die stadspoorte (daar waar reg en geregtigheid moet geskied, waar geskille opgelos word)…”
8:1 ev: “Dit is Wysheid self wat roep, dit is Insig wat haar stem laat hoor. Op die hoogtes langs die pad, by die kruispaaie, staan sy, langs die stadspoorte, by die ingange (alles strategiese plekke wat geleentheid vir onderrig bied!), skree sy dit uit: “Ek roep na julle, mense, ek roep na alle mense: Dié wat ervaring kortkom, kan verstandig word, dié wat dwaas optree, kan insig kry…”
8:12 ev: “Ek, Wysheid, het die verstand, ek het die kennis en die skranderheid. Om die Here te dien is om te haat wat verkeerd is…”
8:22 ev: “Die Here het my geskep, Hy het met my begin; ek is die eerste wat Hy gemaak het, lank, lank gelede…”
En dan 9:1: “Wysheid het vir haar ‘n huis gebou…”

Agter die stem van die onderwyser vind ons die meer gesaghebbende stem van Vrou Wysheid, die onderwyseres, kind van God, en die bemiddellaar tussen hemel en aarde. En agter haar stem sit die mees gesaghebbende stem – die stem van God self wat deur die onderwyser en deur Vrou Wysheid diegene onderrig wat hulle oopstel daarvoor.

Die gedig begin en eindig met ‘n uitnodiging tot ‘n maaltyd aan diegene wat kennis kortkom. Maar die gasvrouens verskil; om die waarheid te sê hulle vergestalt teenoorgesteldes. Die een is die ander se nemesis. Die manier waarop hulle hul voorbereidings tref en die onderskeie spyskaarte wat hulle aanbied, verskil ook radikaal van mekaar.

Vrou Wysheid is eerste aan die beurt. Ter voorbereiding het sy vir haar ‘n huis met sewe pilare gebou. Die sewe pilare is veel meer as wat vir ‘n gewone huis nodig was, so na alle waarskynlikheid het sy eerder vir haar ‘n tempel of ‘n paleis gebou (huis en tempel = dieselfde woord in Hebr). Sy is soos ‘n koningin wat in diens van God staan. Sy slag diere, meng wyn en dek ‘n tafel. Dan stuur sy haar bediendes uit om vanaf die hoë plekke diegene te roep wat kennis kortkom, dat hulle moet kom aansit by haar tafel, kom eet van haar vleis en drink van haar wyn, dat hulle moet afskeid neem van hulle onkunde en op die pad van insig moet stap. Die bediendes dui daarop dat Vrou Wysheid ‘n koninklike gevolg van helpers het, wat uitgaan om die eenvoudiges na die tafel van Wysheid te nooi. In die seuns se verbeelding word ‘n feesviering opgeroep, die fees van kennis word bedien aan elkeen wat die pad van onderrig betreë. Vleis en wyn dui op goeie spyse, kos en drank vir die fynproewers, dws kennis en ervarings wat die mens voed en verryk. Vrou Wysheid se tempel of paleis is ‘n tradisie, die tradisie van wysheid en leergierigheid waarbinne die volk van God opgeroep word om te leef. Die tempel kan ook verwys na ‘n fisiese gebou met ‘n biblioteek daarbinne, daar waar studente leef en leer, ‘n fisiese ruimte waar denke gevorm word en lewens karakter kry. Kennis wat uitloop op die lewe.

‘n Entjie hiervandaan sit Vrou Dwaasheid by haar voordeur. Haar voorbereidings vir die maaltyd verloop heeltemal anders as die van Vrou Wysheid. Haar stoel staan op die hoogste plek in die stad, dws sy het ook ‘n paleis of ‘n tempel. Vroeër in Spreuke word daar ook van haar melding gemaak, onder die naam van “die Vreemde Vrou” (2:1-22, 5:1-23, 6:24-35; 7:1-27). Sy word elke keer voorgestel as die een wat diegene wat kennis kortkom verlei en hulle dood veroorsaak. Haar verskeie persona sluit in die van prostituut, die godin van vrugbaarheid, egbreekster, en die letterlike verpersoonliking van dwaasheid. Haar dwaasheid word by uitstek vervat in haar seksuele promiskuïteit.

In vs 13 word Vrou Dwaasheid beskryf as luidrugtig, belaglik, sonder begrip en sy weet niks. Sy is soos ‘n lui domkop. Sy sit eerder as om te staan wanneer sy haar salig-onbewuste verbygangers uitnooi om haar woning te betreë. Sy hou haar kastig slim met ‘n spreukwoordelike uitnodiging om die onervare verbyganger mee te verlei: “Gesteelde water is soet, kos (lett “brood”) wat stilletjies geëet word, is lekker!” Die seksuele ondertone van ‘n losbandige en roekeloos lewe is duidelik. Ook van luiheid – by haar hoef jy nie te werk om iewers te kom in die lewe nie, jy steel. Jy hoef ook nie te deel nie – jy eet stilletjies in die geheim, in die donker, daar waar ander nie sien nie. Jy dink dus net aan jouself. Sy laat dit so lekker klink, so aanloklik, maar al wat sy op die ou-end kan bied is water en brood, en dan is dit nog gesteel ook. Teenoor Vrou Wysheid wat regstaan vir haar gaste, en die beste voorsit, kwaliteit, vleis en goeie wyn. Vrou Dwaasheid se gesteelde water en haar geheime brood is nie genoeg om van te lewe nie. Inteendeel – dit bring die dood. Die dood wag reeds in haar woning. Diegene wat op haar uitnodiging reageer en by haar deur ingaan, bevind hulself reeds in die doderyk. Haar tafel lyk so radikaal anders as die van Vrou Wysheid.

Tussen die twee uitnodigings gee Vrou Wysheid ‘n stuk onderwysing vir die lewe. Sy waarsku onder meer dat ‘n mens nie iemand so moet opvoed dat hy ‘n ligsinnige mens word nie (‘n waarskuwing vir ouers); dat mens nie ‘n ligsinnige moet probeer opvoed nie omdat hy jou sal haat; maar dat mens ‘n wyse persoon kan opvoed omdat hy jou sal liefhê. Wyse mense is altyd leersaam, hulle is oop vir teregwysing en hulle kennis vermeerder. En dan die heel belangrikste beginsel in vs 10: “Wysheid begin met die dien van die Here; wie die Heilige ken, het werklik insig.” Hierdie waarheid waarrondom al die ander draai vind ons ook reg aan die begin van die boek (1:7) en reg aan die einde (31:30). Bybeluitleggers beskou hierdie verse as die belangrikste in die ganse boek. Dis waar alles begin, dis waar alles eindig, en dis die middelpunt van Vrou Wysheid se onderwysing in Hoofstuk 9. “Wysheid begin by die dien van die Here. Wie die Heilige ken, het werklik insig.” Wysheid gaan dus om ‘n geloof in God, en om ‘n soeke om Hom te leer ken as die Skepper en die Onderhouer, die Gewer van lewe, en om iets van sy wêreld en sy werke te probeer begryp. Om wysheid te bekom vra nie bloot maar ‘n sekulêre onderwysing wat primêr gerig is op menslike insigte en ervaring nie. Dit word ook nie primêr gemotiveer deur die bereiking van doelwitte en mens se eie self-verwesenliking nie. Die soeke na wysheid is inderdaad ‘n soeke na kennis oor God self, ‘n soeke wat begin in geloof. Dit stel ‘n mens voor ‘n keuse.

Hiervan is die gelykenis van die verlore seun ‘n sprekende voorbeeld. Die jongste broer is selfsugtig en eiewys. Hy is dwaas. Hy wens sy pa dood sodat hy sy erfporsie kan kry, maar siende dat sy pa nie tot sterwe kom nie vra hy die erfporsie vooruit. Sy pa gee dit vir hom en hy gaan verkwansel alles in die stad – daar waar hy elke afdraaipaadjie neem na Vrou Dwaasheid se woninge. Hy drink gesteelde water en hy eet stilletjies in die geheim sy brood. Hy dink die lewe is goed, maar eintlik doen hy homself in – by sy ouerhuis sou hy vleis en wyn gekry het. Hy bevind homself in die kamers van die doderyk. Die seun verloor alles en lê later tussen die varke – niks is van hom oor nie, sy lewe het tot ‘n einde gekom, hy is inderwaarheid dood. Maar van ver af hoor hy hoedat Vrou Wysheid hom terugroep. Hy dink aan sy huis en aan sy pa en hy besluit om sy trots in sy sak te steek en in nederigheid terug te gaan, sy sonde te bely en te vra of hy maar as een van die slawe vir sy pa kan werk. Maar wat gebeur – Sy pa wag hom in(!), ontvang hom met ope arms, trek vir hom die beste klere aan, skoene, ‘n ring aan sy vinger, slag die vetgemaakte kalf, meng die wyn, dek die tafel en sit ‘n feesmaal voor! Want sy seun was dood, en hy lewe weer; hy was verlore, en sy pa het hom teruggekry. (Luk 15)

Tussen die peule in die varkhok het die dwase seun tot nuwe insigte gekom. Hy het besef dat hy dwaas opgetree het, en hy het geglo dat sy pa hom sal terugontvang, selfs al is dit net as ‘n slaaf. En al het hy niks meer oor van sy erfporsie nie. En hy het opnuut sy pa leer ken as die een wie se arms altyd oop is – die een by wie daar vir hom ‘n plek aan tafel is, gedek met die beste – wysheid en kennis, liefde en insig, God en genade.

Hier is twee restaurante van die lewe. Die tafels is gedek om na die spreuke te begin luister, dit te oordink, en daarvanuit te begin leef … of dood te gaan. Wie se uitnodiging aanvaar jy?

Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.

Jesaja 6:1-8

3 Junie 2012 – Triniteitsondag
Prediker: Dr Tiana Bosman

Liturgie-03-06-12 | Bulletin-03-06-12

Kliek hier om Jesaja 6:1-8 te lees

Agtergrond
Dit is ongeveer 740 vC en koning Ussia is dood. Dit merk die begin van ‘n baie moeilike tyd in die volk se lewe. Ussia was ‘n goeie koning gewees. Toe hy siek geword het, het sy seun Jotam by Ussia oorgeneem om sy heerskappy voort te sit, maar Jotam is kort daarna oorlede. Met Ussia se dood sou Agas, Jotam se seun en Ussia se kleinseun, die nuwe troonbestryger wees. Anders as sy oupa het Agas nie sy volk se belange op die hart gedra nie en alliansies met verkeerde volke gesmee. Toe Agas koning geword het van Juda het dit die begin van die val van die suidelike ryk beteken. In hierdie tyd van politieke onstabiliteit het Jesaja weer eendag na die tempel in Jerusalem gegaan, en daar het hy ‘n visioen gesien. Hy berig soos volg daaroor…

Skriflesing: Jesaja 6: 1-8

Boodskap
Die Here het op ‘n baie hoë troon gesit en die soom van sy kleed het die tempel gevul. By Hom was daar serafs om Hom te dien. Die serafs was hemelse wesens wat vir Jesaja onder die indruk gebring het van die vurige, magtige, ontsagwekkende teenwoordigheid van God. Elkeen het ses vlerke gehad. Met twee het hulle hulle oë bedek sodat hulle nie direk na God hoef te kyk nie. Met twee het hulle hulle voete bedek – voete wat dikwels in die OT ‘n eufemisme was vir liggame – sodat hulle nie naak in die teenwoordigheid van God hoef te wees nie. En met die ander twee vlerke het hulle gevlieg. Intens bewus van die Een in wie se teenwoordigheid hulle verkeer, het hulle mekaar telkens toegeroep: “Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige! Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid.” Hy is so groot, so anders dat nie eens die hemelse wesens na Hom kan kyk nie. Hulle bedek hulle gesigte en hulle verberg hulle naaktheid. Sy teenwoordigheid is só oorweldigend. Die serafs roep so hard dat die deurkosyne begin skud en die tempel vol rook geword het.
Deur drie maal die heiligheid van God te herhaal, het gewys hoe ernstig die serafs in hulle uitspraak was. As mens ‘n saak in Hebreeus baie sterk wil beklemtoon, sê jy dit drie maal oor. Hulle sê hiermee dat God radikaal anders is as enigiemand of enigiets wat ons nog ooit gesien het. God is onvergelykbaar groot. Hy is nie deel van hierdie wêreld nie. En tóg openbaar Hy Homself in die wêreld aan ons. Dit is opvallend dat die serafs nog die een oomblik die 3-maal heiligheid van God besing, en met die volgende asemteug al getuig dat die hele aarde gevul is met die teenwoordigheid van hierdie God. Die heilige God, die Gans Andere, gooi sy hele gewig in die aarde. Dit is eintlik wat die Hebreeus hier probeer sê. Die woord wat ons vertaal met God se “magtige teenwoordigheid” is afgelei van die woord wat “lewer” beteken – en jou lewer was jou swaar orgaan. As jy “met jou lewer in iets was” het jy jou hele gewig daarin gesit, jou alles daarvoor gegee.

Onthou ons het ‘n paar maande terug ook oor heiligheid gepraat. Dat dit nie afgelei is van die woord wat “afgesonder/eenkant” beteken nie, maar eerder van die woord wat “blink/skitter” beteken. Dat God heilig is sê dus juis nie dat Hy Hom eenkant, ver, daar bo hou nie, maar dat Hy, wel op ‘n gans anderse manier, teenwóórdig is, dat Hy ‘n verblindende lig uitstraal. God het juis nie afgesonder gebly nie, maar deur sy pad met die Israeliete en uiteindelik in sy Seun het Hy binne-in die sondige wêreld ingetree en die Lig in die duisternis geword. Jesaja beleef hierdie andersoortige teenwoordigheid van God in die visioen in die tempel.
Wat as ons vanoggend so ‘n visioen sou beleef? Sê nou maar hemelse wesens verskyn en besing so hard die heiligheid en die teenwoordigheid van God dat die deurkosyne begin rammel en die kerk vol rook word? Sou ons onsself ook probeer bedek? Ons gesig probeer beskerm? Van ons nietigheid en ons sondigheid bewus raak? ‘n Mens kan tog nie onaangeraak bly wanneer jy die Here God so beleef nie! Ek kan my nogals indink dat ons reaksie dieselfde as Jesaja s’n sou wees: “Dit is klaar met my! Ek is verlore! (lett: Ek gaan uitgedelg/destroy word). Elke woord oor my lippe is onrein, en ek woon onder ‘n volk van wie elke woord onrein is. En nou het ek die Koning gesien, die Here die Almgtige.” Jesaja raak bewus van sy eie sondigheid, hy raak bewus van die sonde van sy volk en die haglike omstandighede waarin hulle verkeer, en hy besef dat sy (en hulle) vrese misplaas is. Hulle vrees die nuwe slegte koning Agas terwyl die Here die éíntlike Koning is, die Een wat nie net oor die volk heers nie maar oor die wêreld. (Is ons nie ook net so nie – ons is bang vir aardse leiers wat ons en ons kinders se toekoms bepaal, terwyl ons fokus eintlik moet wees op die ewige Koning wat die toekoms van die ganse wêreld, en daarom ook ons en ons kinders se toekoms, in sy hande het.)

Toe Jesaja, eintlik heel gepas, met vrees reageer in die teenwoordigheid van God (Moses en Jakob en Elia was ook bang toe die Here aan hulle verskyn), toe het die Here die vrees besweer. Onrein mense mag nie in die tempel van die Here verskyn het nie. Jesaja het eers besef dat hy onrein is en hóé onrein hy is toe hy die Here sien. En een van die serafs voer ‘n reinigingsritueel uit. Hy neem ‘n gloeiende kool met ‘n tang van die altaar af, vlieg na Jesaja, raak sy mond aan met die kool en sê: “Noudat die gloeiende kool jou lippe aangeraak het, is jou oortredinge vergewe, jou sonde versoen.” Ons sou nou kon weghardloop met die gedagte dat Jesaja fisiese pyn ervaar het en letterlik met ‘n kool skoon gebrand is deur God. Dit is egter nie geval nie. Ons het hier te make met ‘n visioen en met ‘n ritueel en met ‘n ervaring wat vir Jesaja so werklik was dat dit sy lewe van hier af vorentoe verander en bepaal het. Die fokus van die ritueel is nie op pyn nie, maar of die feit dat God ons reinig en heilig wanneer Hy ons roep. Die doel van die gloeiende kool is om vir Jesaja, figuurlik, aan die brand te steek, om hom heilig te maak, anders as die wêreld, glinsterend soos God, sodat hy sy boodskapper kan wees.

En nadat hy gereinig en geheilig is, hoor Jesaja die Here vra: “Wie kan Ek stuur? Wie sal ons boodskapper wees?” En hy het geantwoord: “Hineni! Hier is ek! Stuur my!” Hineni! Een van die sterkste woorde in Hebreeus wat nooit sonder ‘n uitroepteken vertaal mag word nie – Hier is ek! Stuur my, Here! Interessant, Jesaja is een van die min profete wat met sy roeping onmiddellik gewillig reageer. Meeste van die ander het geprotesteer. Moses kla hy hakkel, Jeremia soebat dat hy te jonk is, Jona vlug. Jesaja antwoord dadelik: Hineni!

‘n Aangrypende teks. Baie geleerdes noem hierdie deel die belangrikste hoofstuk in die hele Jesajaboek. Ten spyte van die vrees wat so ‘n ervaring kan veroorsaak hunker baie van ons ook na ‘n teofanie – na ‘n ervaring van God se teenwoordigheid deur ‘n visioen of ‘n fisiese verskyning waarin Hy tog maar net sy wil hard en duidelik aan ons bekend kan maak. Ons wil Hom graag in die oë kyk as Hy ons roep. Ons vergeet soms hóé groot en anders, hóé heilig Hy is. Selfs nie eens die profete van ouds kon Hom in die oë kyk nie. Selfs nie eens die hemelse wesens kon Hom in die oë kyk nie. En Hy roep mense op verskillende maniere. Aan sommige verskyn Hy in ‘n brandende bos (Moses), of in ‘n droom met ‘n leer (Jakob), of in ‘n visioen (bv Jesaja), of Hy roep in die middel van die nag (Samuel), of Hy stuur heel menslik iemand anders om jou roeping aan jou oor te dra (Saul en Dawid). Aan Elia wat uitgebrand en depressief selfmoordgedagtes gekoester het in ‘n grot in die middel van die woestyn – die een wat nou eintlik sou kon doen met ‘n bo-natuurlike visioen – aan hom verskyn die Here in … die stilte. Nie in wind, of in ‘n aardbewing, of in vuur nie, maar in die wildstilte hoor Elia die Here met hom praat en word sy roeping hernu. Word hy weer gestuur.

Ook ons word geroep. Dit was nou Pinkster. Johannes het ook ‘n visioen gesien. Van die verheerlikte Here in die tempel wat tussen die sewe staanlampe rondbeweeg met die sewe sterre in sy regterhand. Die gemeentes is die lampe, die leraars is die sterre en verteenwoordig die gemeentelede. Dit is nie sonder rede dat daar na ons verwys word as lampe en sterre wat moet skyn nie. Die gloeiende kool in Jesaja 6 was nie die laaste keer dat God vuur gebruik het om sy geroepenes te reinig en te heilig nie. In Handelinge 1: 8 sê die Here: “Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees…” En in Handelinge 2, kort na sy hemelvaart, was daar skielik ‘n geluid uit die hemel soos van ‘n geweldige stormwind, en dit het die hele vertrek gevul waar die gelowiges gesit het. En hulle het iets soos vuur gesien wat in tonge verdeel en op elkeen van hulle gekom het. Almal is met die Heilige Gees vervul.

Elkeen van ons, gelowiges vandag, is ook met die vuur van die Heilige Gees vervul – of ons nou daarvan gedroom het of net gehoor het, of ons deur die Gees oorrompel is of net in die stilte deur hom oortuig is. Ons leef in Pinkstertyd – die tyd waarin die heerskappy van God nog nie finaal is nie, maar tog seker is. Dit lyk asof slegte aardse regeerders of maghebbers die hef in die hand het en ons toekoms bepaal. Ons land se toekoms mag dalk onseker lyk, soos in Jesaja se tyd. En baie slegte dinge kan ons dalk oorkom, soos in Jesaja se tyd. Maar ons weet dat die Here reeds oorwin het, opgevaar het, en dat Hý regeer. Ons leef in die tyd van sy Gees, die Opstandingsgees, wat ons reinig en heilig en roep en lei en leer. Ons leef in ‘n tyd waar die wêreld moet hoor wie die eintlike Koning, die Regeerder is. ‘n Wêreld wat heel moontlik nie van die boodskap sal hou nie, maar wat in elk geval nie sonder dit kan leef nie. Op sy eie manier vra die Here aan elkeen van ons geesvervuldes en geheiligdes: “Wie kan ek stuur? Wie sal my boodskapper wees?” Wat is jou antwoord? Hoe kán dit anders wees as: “Hineni!”

Creative Commons Licence
Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.

Psalm 23

29 April 2012 – 4de Sondag in Paastyd
Prediker: Bianca Botha

Kliek hier om Psalm 23 te lees

Meeste van ons, indien nie almal wat hier sit nie, ken Psalm 23 baie goed. Dit is daardie teks wat baie van ons op ‘n jong ouderdom al uit ons koppe kon opsê en ek is seker dat baie van julle dalk een of ander persoonlike ervaring daaraan kan koppel. Baie mense ken die teks ook as die begrafnis-teks. ‘n Ds het op ‘n keer vertel dat hy by ‘n begrafnis oor dié teks gepreek het en dat die meerderheid mense daar nie die Onse Vader geken het nie, maar wel gedeeltes van dié Psalm kon saam sê.
Toe ek, met ander woorde, besef dat dit vandag se leesrooster teks is, was ek nie heeltemal so opgewonde soos wat ‘n mens sou verwag nie, want wat sê mens nou oor die bekendste Psalm in die Bybel, wat almal nie reeds gehoor het nie.
Tog, is dit ‘n uiters gepaste teks vanoggend, nie net omdat dit Herder-Sondag is nie, maar ook in die lig van klein Mark se doop wat hier plaasgevind het. Ek wil julle dus uitnooi om vanoggend opnuut saam met my na Psalm 23 te kyk en ek bid dat dié teks elkeen van julle sal verras.

Lees teks.

Hierdie Psalm, met sy ryk beelde en metafore, is in die eerste plek ‘n uitdrukking en beskrywing van die verhouding wat daar bestaan tussen God en die digter – wat heel moontlik Dawid was. Dit is beide ‘n belydenis van geloof, waarin die karakter van God beskryf word, én ‘n getuienis van die digter se ervaring van sy verhouding met God en die effek daarvan op sy lewe. Daardie verhouding tussen God en mens waaraan die doop ons vanoggend ook weer kom herinner het. Die twee metafore wat gebruik word om hierdie verhouding uit te beeld is die verhoudinge tussen ‘n Herder en sy skaap/skape en ‘n Gasheer en sy eregas.

Reeds in die eerste vers word daar ‘n bepaalde atmosfeer geskep wat in die hele Psalm teenwoordig is. “Die Here is my Herder, ek kom niks kort nie.” In daardie eerste vers word die vertrouensverhouding tussen God en die digter reeds uitgedruk en die gebruik van die voornaamwoord “my,” die enkelvoud, wys op die persoonlike en intieme aard van daardie verhouding. Die Here is die God van Israel, van sy volk, maar Hy is ook die God van die individu: van Dawid en van Bianca en van Mark. Dit spreek dus ook tot die verhouding waarbinne God met elkeen van ons staan, as ons Herder.

Maar om die herder-beeld werklik te verstaan soos dit hier gebruik word, moet ons verstaan wie en wat ‘n herder was in die plek en tyd waarbinne die gedig geskryf is. Hoewel daar selfs enkele konings in die Bybel is wat as herders beskryf is, is ‘n herder die absolute teenoorgestelde van ‘n koninklike. Nog minder was dit iets soortgelyk aan ‘n ryk skaapboer daar iewers in die Karoo. Om ‘n herder te wees was ‘n harde en gevaarlike taak waarvoor niemand eer ontvang het nie. Dit was gewoonlik die jongste seun se taak of dié van ‘n slaaf, om die skape op te pas. Omdat hulle vir lang tye in die veld was en saam met hul kudde geslaap het, om diewe of roofdiere af te weer, kon hulle ook nie aan die gebruiklike reinigingsrituele deelneem nie en was hulle tot ‘n baie groot mate die uitgeworpenes in die samelewing. Om ‘n herder te wees was alles behalwe ‘n “glamorous” beroep. Die herder se eerste en enigste prioriteit was sy kudde en om te sorg dat hulle veilig en gevoed is, dat hulle niks kortkom nie.

Hierdieie woorde, “ek kom niks kort nie,” word dikwels verstaan as ‘n verwysing na die oorvloedige luuksheid van die Here se voorsiening. Dit, tesame met die “feesmaal” en beker wat oorloop word baie maklik  gesien as ‘n bevestiging van die feit dat God aan ons alles sal gee wat ons hart begeer: daardie nuwe kar/televisie, ‘n vakansiehuis erens langs die see… ons kan baie voorbeelde opnoem van dinge wat ons graag wil hê. Maar is dit werklik wat hier bedoel word? Die herder maak seker dat sy skape niks kortkom nie, dat daar aan hulle behoeftes voorsien word. Maar wat is daardie behoeftes? Water, weiding, die regte pad…

Die situasie waarbinne die gedig geskryf word blyk ook nie een van oorvloed te wees nie. As ons lees van donker dieptes en teënstanders, en daarmeesaam die roofdiere en ander gevare in die veld in ag neem, is dit eintlik die teenoorgestelde. Wat die digter dus hier sê is nie dat hy alles sal hê wat sy hart begeer en in luuksheid sal leef nie, maar dat hy te midde van sy omstandighede seker is van die Here se helpende en sorgende teenwordigheid; dat hy op grond van die verhouding tussen Hom en God seker is daarvan dat daar aan sy basiese behoeftes voorsien sal word.

Die Psalm probeer dus ook nie die idee skep dat daar altyd net groen weivelde sal wees en waters waar vrede is nie. Nee. Want in hierdie wêreld is daar ook vele donker dieptes. Plekke of situasies waar onheil wag. Die donker dieptes (of te wel dal van doodskaduwee) is waarskynlik ‘n beskrywing van die diep klowe in die tipiese Palestynse berglandskap, waardeur herders soms met hul skape moes deurgaan, en waar diewe, bendes of roofdiere dikwels gewag het. Dit is amper asof die digter in hierdie vers sy vertroue in God wil bevestig. Skielik beskryf hy nie meer die karakter van God nie, maar spreek hy Hom direk aan: “want U is by my.” En waar ons dan lees “in U hande is ek veilig” staan daar letterlik: “U stok en staf vetroos my” wat ‘n verwysing is na die herder se beskerming – dmv die stok – en sy leiding – dmv die staf.

Uit sy ervaringe en met sterk verwysings na God se reddingsdade in die verlede – toe Hy die volk met die Eksodus deur die Woestyn gelei het – getuig die digter dus nie dat dit altyd sal goed gaan nie, maar dat God vir hom (en vir ons) sal beskerm en lei ook wanneer dit nie goed gaan nie, wanneer ons onsself in die duisternis bevind. En tot ‘n groot mate is dit wat God ook met die doop vir ons kom sê: dat Hy ons sal lei en beskerm; dat Hy altyd teenwoordig sal wees en ons soos ‘n Herder op sy skouers sal dra as dit nodig is.

Die verhouding tussen die skaapwagter en sy kudde is egter nie eensydig nie. Dit is bekend dat herders in die Bybelse tyd nie hul kudde van agter af aangejaag het nie, maar dat hulle vooruit geloop het om seker te maak dat daar geen gevare is nie, en dat die kudde hulle agterna gevolg het. As die kudde dan nie die herder volg nie is die hele oefening mos nutteloos, en om dit te kon doen moes hulle hul herder se roepstem ken. Verskillende herders se skape sou dikwels in een kraal slaap, of by een put water drink en dan deurmekaar raak. Dié gedagte sou my beheer-obsessiewe brein heeltemal omkrap, maar dit het die skaapwagters nie veel gepla nie. Hulle het geweet, as hulle net ‘n entjie daarvandaan sou gaan en hul kudde roep, al hul skape na hulle toe aangehardloop sou kom. Dis hoe goed hul hulle herder se stem geken het.

Op dieselfde manier is dit belanglik dat ons binne ons persoonlike, individuele verhouding met God, asook in ons kollektiewe verhouding met Hom, as geloofsgemeenskap, sy roepstem sal ken. Dat ons instaat sal wees om sy wil vir onsself en vir die gemeente te onderskei; en dat ons Hom sal volg, waarheen ook al Hy ons roep. Tog beteken dit nie dat wanneer ons van sy paaie afdwaal, ons nooit uit die dal van doodskaduwee sal uitkom of die groen weivelde sal bereik nie. Die skaapwagter los (gelukkig) nie ‘n enkele skaap wat afdwaal agter nie.

Op grond van die verbond, van die belofte wat vanoggend hier bevestig is met Mark se doop, weet ons dat God, soos die herder, ons keer op keer weer sal kom haal en homself nooit van ons losmaak nie. Ook in die lig van die Paastyd, en die Kruisdood en Opstanding van Christus, wat ons onlangs gevier het, weet ons
dat ons, te danke aan God se groot genade en liefde vir ons, nie in die duisternis sal agterbly nie.

Jesus gebruik dan ook die metafoor van ‘n herder en sy kudde, wanneer hy Homself in Johannes 10 as die Goeie Herder beskryf. Daar lees ons…

Lees Joh 10:11-18

Deur sy kruisdood en opstanding is dit vir ons moontlik om deel te word, en vir ewig deel te wees, van Sy kudde.

En juis omdat ons skape is wat afdwaal, omdat ons dit nie eintlik verdien om deel van hierdie kudde te wees nie, maar (dankie tog) ‘n Goeie Herder het, kan ons by ‘n feesmaal aansit. In vers 5 van Psalm 23 verander die metafoor van die herder na dié van ‘n gasheer wat die digter soos ‘n eregas ontvang. In die teenwoordigheid van sy teenstanders word die digter onthaal as ‘n eregas en word hy volgens die gebruik van daardie tyd versorg met olyf olie voordat hy by die tafel aansit. Hierdie handeling sou die gas welkom laat voel en hul vel, wat deur die skroeiende woestyn son uitgedroog is, versorg. Volgens die tradisie van die tyd was dit ook die gasheer se plig om sy gaste se veiligheid te verseker en hulle teen enige moontlike gevare te beskerm. Weereens is dit nie die geval dat alles maanskyn en rose (oftewel groenweivelde) is nie, maar ten spyte van die teenwoordigheid van sy teenstanders weet die digter dat hy, in die teenwoordigheid van sy gasheer, veilig is.

In die lig van Johannes 10 en Jesus Christus se kruisdood en opstanding, word hierdie feesmaal dan ook ‘n dankseggingsmaaltyd. Ten spyte van die feit dat ons almal soos skape is wat afdwaal van die pad waarop die Herder ons lei, en dus nie die goedheid en guns wat ons ontvang verdien nie, is ons steeds die eregaste by die feesmaal. Ons weet dat dit sonder die Goeie Herder nie vir ons moontlik sou wees om die dal van doodskaduwee te oorleef nie of om uit te kom by waters waar daae vrede is nie. Die verhouding tussen God en mens, waarvan hierdie Psalm so poëties getuig, word versterk deur dit wat Christus aan die kruis vir ons kom doen het. Sonder Hom sou daardie verhouding, weens ons onvermoë om op die regte paaie te bly, nie kon voortbestaan nie. En daarom is ons dankbaar; daarom kan ons waarlik feesvier in hierdie tyd; en daarom kan ons die tipe vrede ervaar wat in Psalm 23 geskets word.

Die enigste manier waarop ons dan werklik kan reageer op die genade en barmhartigheid wat God aan ons bewys het, en steeds bewys deur sy leiding, beskerming en teenwoordigheid in ons lewens, is om Hom in dankbaarheid te aanbid. Hierdie reaksie van aanbidding sien ons ook in die Psalm wanneer die digter verklaar dat hy “in die huis van die Here (sal) bly tot in lengte van dae;” dat hy in die teenwoordigheid van die Here sal leef.

En die doop is presies dit. ‘n Bevestiging en belofte dat Mark, en ook elkeen van ons, ons lewe lank in die teenwoordigheid van die Here sal leef. Dat ons, soos die digter, binne ‘n bepaalde verhouding met God staan – een wat gekenmerk word deur sy liefde, sorg, beskerming, leiding en getrouheid en deur die feit dat ons antwoord op Sy roepstem.

‘n Rede om fees te vier as daar ooit een was!

Creative Commons Licence
Kopiereg: Hierdie werk deur Bianca Botha word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.

Jesaja 52:13–53:12

6 April 2012 Pinelands – Goeie Vrydag
Prediker: Dr Tiana Bosman
Liturgie

Kliek hier om Jesaja 52 te lees

Agtergrond

Ons is vandag by ‘n begrafnisdiens. Die liturgie moet eintlik ‘n programmetjie wees: “Ter nagedagtenis van” of “In liefdevolle herinnering aan Jesus Christus”. Dit was gisteraand met die Donkerdiens vir my opvallend dat Pilatus, die (ongelowige?) goewerneur, sonder skroom hierby sou toevoeg “Die Koning van die Jode”. En dat die (ongelowige?) offisier en die soldate wat sy dood aanskou het, sou toevoeg “Seun van God”. Is dit nie so dat iemand se waarde, of sy ware identiteit, dikwels eers geëer word na sy dood nie? Dat mense eers dan besef met wie hulle werklik te make gehad het. Dat ‘n persoon se lof eers besing word wanneer hy of sy dit nie meer kan aanhoor nie. Ons sit ‘n gedeelte van ‘n begrafnisdiens spesifiek daarvoor opsy – en ons noem dit die huldeblyk… Daar is natuurlik niks mee verkeerd nie. Dis goed en nodig om na die dood van ‘n persoon vir mekaar te herinner wat dit is aan hom of haar wat ons sal bybly, wat die nalatenskap is wat ons met ons sal saamneem. Dis net soms so jammer dat ons eers tot ons ware insigte kom van mense nadat hulle gesterf het. Die Here het gesterf en vanoggend is die tyd om vir mekaar te sê wat Hy vir ons beteken het en wat ons met ons sal saamneem.

Vreemd dat die leesroosterteks vir vandag eintlik glad nie oor Jesus handel nie, in elk geval is dit nie die oorspronklike bedoeling nie, maar dat Jesaja 52-53 ‘n huldeblyk is wat uitgespreek word by iemand anders se begrafnis. Die eerste 39 hfste van Jesaja speel af in die tyd voor die ballingskap. Die profeet Jesaja is aan die woord en waarsku een en almal oor wat voorlê. Jesaja 40-55 speel dan af tydens die ballingskap. Die Israeliete is teen die grond – hulle het alles verloor. ‘n Onbekende profeet, nie meer Jesaja nie, is nou aan die woord. Hy bring ‘n boodskap van troos en verlossing. Meestal is dit hy self wat die volk bemoedig, maar dan vind ons in hfste 52-53 ‘n insetsel waar iemand oor hierdie onbekende profeet praat. Die profeet word “die dienaar” van die Here genoem en een van sy dissipels bring ‘n huldeblyk na sy dood.

Die gedeelte begin en eindig met die versekering vanaf die Here dat die dienaar, wat eens verneder en aangerand is, verhoog sal word; dat die een wat eens onder die misdadigers gereken is, in die toekoms in die geselskap van grotes en magtiges sal verkeer. Tussen hierdie bevestiginge van die Here af is daar dan die gedig van ‘n mede-gelowige wat mettertyd begin glo het in die dienaar of profeet se roeping en sy boodskap, een wat ‘n dissipel van die dienaar geword het, een wat hier in sy huldeblyk vertel van die begindae en die voorkoms van die dienaar, die geweldige lydinge wat hy moes verduur, en sy stille onderwerping tot in die dood.

Skriflesing en boodskap: Jes 52:13 – 53:12
Eers die lofbetuiging van God af: 52:13 – 15…

En dan die dissipel van die dienaar: 53:1 – Hier volg die byna ongelooflike vertelling dat die mag van God deur die lewe en veral die lyding van hierdie misvormde, onaansienlike dienaar ten toon gestel is!

53:2 – 10 – Telkens hoor ons dat die dienaar die sonde van die hele gemeenskap gedra het. Nêrens staan daar eksplisiet dat hy die vrywillig gedoen het nie. Dit was die Here wat, merkwaardiglik, veroorsaak het dat siekte en lyding hom tref (6). Volgens die OT verstaan van morele oorsaak-en-gevolg sou die normale verwikkelinge wees dat die gemeenskap self vir hulle sondes moes boet. In die lig van hierdie verstaan het almal aanvanklik gedink dat die dienaar gestraf word, deur siekte en swaarkry, vir sondes wat hy self gepleeg het. Dws die straf kom hom toe. Dit het eers maar later tot hulle deurgedring dat Hy deur God gestraf en geslaan en gepynig is omdat God om die een of ander onverklaarbare rede besluit het om die straf teen die gemeenskap weg te keer van hulle af en op een, onskuldige dienaar te laat afkom. Die taal van die dissipel wanneer hy dit besef in vss 4-5 is sterk en gelaai met emosie en die impak van hierdie bewuswording het veroorsaak dat hy ‘n dissipel geword het van die dienaar. Wat die omstandighede was van hierdie keerpunt in die dissipel en die groep namens wie hy praat se lewens, weet ons nie. Maar dit lyk asof dit eers gebeur het na die dienaar se dood – toe die mense bewus word van hulle gesamentlike skuld en ook gekonfronteer word om na die dienaar se dood na te dink oor die verloop van sy lewe – ‘n lewe wat nie gespreek het van sonde nie, maar van diens aan God.

Vs 8 stel dit duidelik dat die dienaar nie net aan ‘n ernstige siekte gely het as straf vir die mense se sonde nie, maar dat hy ook op ‘n geweldadige manier terreggestel is daaroor. In vs 7 word die dienaar vergelyk met ‘n lam wat na die slagplek gelei word en in vs 10 lees ons dat hy sy lewe as ‘n skuldoffer gegee het. Die gebruik was om ‘n lam as skuldoffer te bring vir jou sonde en alle sonde en skuld van die sondaar sterf dan saam met die lam wanneer hy geslag word.

Die dienaar is doodgemaak en tog lees ons in vs 10 dat hy ‘n nageslag sal hê en nog lank sal lewe, in vs 11 dat hy weer die lig sal sien en dat hy die Here sal ken. Dit is onwaarskynlik dat die dissipel hier verwys na die dienaar se terugkeer of “opstanding” uit die dood – so iets was immers nog glad nie eens denkbaar nie. Waarom dit hier gaan is die gedagte dat die dienaar ‘n nalentenskap laat. Hy sal ‘n baie sterk teenwoordigheid wees onder sy volgelinge. Hierdie gedagte is tog nie vreemd nie. Ons kan die dienaar hier vergelyk met ‘n mentor wat steeds, na sy dood, lewendig bly in sy volgelinge se lewens, sy dissipels hoor steeds sy stem ego, en dit is ‘n stem wat hulle op die regte pad hou. Jesaja praat van hierdie stem in hfst 30:20-21 wanneer hy sê: “Jou leermeester sal nie meer weggesteek wees nie. Jou oë sal jou leermeester sien. Wanneer jy die regte koers verlaat, sal jy agter jou ‘n stem hoor sê: ‘Hier is die pad, loop hierlangs.’”.

Soos die huldeblyk begin het, sluit dit dan weer af met ‘n lofbetuiging van God af oor die dienaar: 53:11-12.

Alhoewel hierdie gedeelte baie konkreet vertel van ‘n dienaar in die OT en die verloop van sy lewe en lyding, is dit nie sonder rede dat verse hieruit soveel keer in die NT aangehaal word en op Jesus van toepassing gemaak word nie. Een eksegeet sê selfs dat dit klink asof hierdie gedig aan die voet van die kruis geskryf is! Ons kan tog nie anders as iets van die verloop van Jesus se lewe ook in die teks raak te sien nie. Die dienaar van die Here het al vele vervullinge in die geskiedenis gehad. Daar is baie verhale van mense wat onskuldig gely het ter wille van ander. Literatuur oor die Tweede Wêreldoorlog alleen is vol-op daarvan.

Ek lees tans Dietrich Bonhoeffer se biografie en julle moet my toelaat om iets van sy storie te vertel. Bonhoeffer is vroeg in die 1900’s gebore. Hy was een van 8 kinders in ‘n vooraanstaande Duitse gesin. Sy pa, Karl, was die bekendste psigiater in Duitsland. Sy een broer was ‘n wetenskaplike en het saam met Albert Einstein gewerk. Dietrich self het teologie gaan studeer. Hy was een van die beste teoloë van sy tyd, maar hy was baie meer as dit. As predikant het hy sy profetiese roeping sterk uitgeleef deur voor en tydens die WO2 standpunt in te neem teen die Nazi Regime en hy het so sterk gepreek teen rassisme en die onderdrukking van die Jode dat mense blykbaar soms uit sy dienste uitgeloop het wanneer hy begin preek het. Bonhoeffer was ‘n brawe man. Toe Hitler se waansinnige optrede en bevele nie end kry nie het hy ook ‘n spioen geword – hy was deel van die sameswering om Hitler se ondergang te bewerkstelling. Die inligting het op die lappe gekom en Bonhoeffer is saam met sy mede-spioene gevange geneem. Voor die ouderdom van 40 sou hy sterf, net 3 weke voor Hitler selfmoord gepleeg het. Die Nazi Regime se einde was reeds onvermydelik, maar Hitler moes ‘n laaste slag inkry en het waarskynlik persoonlik beveel dat die spioene tereggestel moes word. Enkele ure voor sy teregstelling het mede-gevangenes versoek dat Bonhoeffer vir hulle ‘n diens moes hou. Dit was die Sondag na Paasfees. Bonhoeffer het, interessant genoeg, Jesaja 53 gelees saam met 1 Petrus 1, en daaroor gepraat. Hy het skaars “amen” gesê met sy slotgebed toe die soldate hom kom haal: “Gevangene Bonhoeffer, maak jouself gereed om saam met ons te kom.” Hy het almal gegroet en toe sy een goeie vriend opsy geneem en vir hom gesê: “Dit is die einde, vir my die begin van lewe.” Die kampdoktor getuig dat Bonhoeffer op die grond gekniel en innig gebid het voor hy sy tronkdrag uitgetrek het. By die plek van teregstelling het hy ook gestop en gebid voordat hy die trappies opgeklim het na die galg. Hy was deurentyd braaf en kalm. Die doktor sê dat hy in sy 50 jaar as praktisyn byna nooit ‘n man gesien het wat so absoluut onderhewig aan die wil van God sterf nie. Soos dinge ook gebeur het die krematoriums nie op daardie dag gewerk nie, en, nes die volk vir wie hierdie Duitser ‘n kampvegter geword het, is sy liggaam op ‘n stapel ander gegooi en brandgesteek.

Daar was natuurlik nog so ‘n man – die Een uit wie se voorbeeld Bonhoeffer sy krag gekry het. Die Een in wie se krag hy kon sterf en die Een wat dit vir hom moontlik gemaak het om te getuig: “Dit is die einde, vir my die begin van lewe.” In die volheid van die tyd neem die verhaal van die dienaar van die Here die mees radikale en grootse dimensies in wanneer Jesus op ‘n gans anderse, onvergelykbare manier dié Kneg van God word – die énigste algehele vlekkelose Lam wat na die slagpaal gely word, nie ter wille van ‘n groepie volgelinge nie, ook nie ter wille van een volk nie, maar ter wille van die hele wêreld. Dis sy begrafnis wat ons vandag bywoon, sy lewe wat ons herdenk, asook sy sterwe – sy volkome oorgawe, ter wille van elkeen van ons. Vandag is die einde, vir ons die begin van lewe. Vandag is die dieptepunt van God se straf en sy woede, maar ook die hoogtepunt van sy liefde.

Ek verkondig vandag natuurlik nog net ‘n halwe evangelie – die verlossing van sonde is bewerkstellig, maar eers Sondag breek die realiteit van die oorwinning oor die dood en ‘n nuwe toekoms aan. Ons moet hulde bring en die Here se lof besing, gedemp ja, soos dit ‘n begrafnis betaam. Ons word immers bewus van ons eie ontoereikendheid, ons sondigheid, ons medepligtigheid aan die dood van die Een wie se begrafnis ons bywoon. En tog weet ons, hoe ongelóóflik dit ookal mag klink, dat Hy ons vergewe, maar meer as dit, in sy dood spreek Hy ons volkome vry van dit wat ons Hom en soveel ander, en selfs onsself al aangedoen het. Hy laat ‘n nalatenskap van woorde en dade, van fluisteringe in ons oor wanneer ons koers verloor. Hierdie nalatenskap is in ‘n sekere sin reeds meer as genoeg, ons kan al daarvan leef, maar Sondag gaan Hy dit nog verder oortref.

Christus het gesterf. Vandag is sy begrafnis. Dit is die einde… vir ons die begin van lewe.

Creative Commons Licence
Kopiereg: Hierdie werk deur  Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.