Johannes 20:1-18

21 April 2019

Paasfees
Prediker: Ds. Helgard Pretorius

Vrydag is ons herinner aan wat die kruis in Jesus se wêreld vir mense beteken het. ’n Kruisdood was bedoel vir kriminele, veral politiese kriminele wat ’n bedreiging ingehou het vir die orde.

Dit was ’n manier om iemand stil te maak, om húlle en hulle gedagtenis, van die gesig van die aarde af te vee. Daarom was begrafnisrituele en rou vir gekruisigde persone ook verbied gewees.

En tog was daar ’n sekere Josef van Arimatea, ’n lid van die Joodse raad wat nie saamgestem het met die raad se besluit om Jesus te laat kruisig nie. Volgens Lukas was hy iemand wat uitgesien het na die koninkryk van God. Omdat hy in die geheim ook ’n volgeling van Jesus was, het hy die risiko aanvaar om vir Pilatus na Jesus se liggaam te vra. So het hy vir Jesus begrawe, in ’n graf wat in ’n tuin geleë was.

Nog ’n persoon wat hulle eie lewe in gevaar gestel het om Jesus te eer, was Maria Magdalena, wat vroegoggend op die eerste dag van die week na Jesus se graf toe gegaan om by die graf te rou. Dit was ’n uiters gevaarlike ding om te doen. Daar is aangetekende gevalle waarop persone wat getreur het by die dood van ’n gekruisigde, self ook gekruisig was. Dit is waarskynlik hoekom sy in die donkerte gegaan het, eerder as in die helder daglig.

Maria op die graf af en sien dat die klip voor die graf verwyder is. Sy stel nie eers verder ondersoek in nie; sy neem dadelik aan dat iemand die graf beroof het en Jesus se liggaam daaruit weggeneem het. Daarop gaan roep sy vir Petrus, asook die dissipel wie Jesus baie lief gehad het.

Hoewel, die resies tussen die twee dissipels na die graf toe uitstekende preek-materiaal is, fokus ons vanoggend op die verskyning van Jesus en Maria Magdalena.

Nadat die dissipels self die oop en leë graf met net die linne daarin gesien het, is hulle weer huis toe. Volgens die verteller, het hulle “nog nie die skrif verstaan dat Hy uit die dood moes opstaan nie.”

Ons neem aan dat Maria, nadat sy die dissipels gaan roep het, haar weg weer teruggevind het tot by die graf, want die storie vervolg met haar wat weer buite die graf staan en huil.

Sy is desperaat om Jesus te vind. Sy buk vooroor om in die graf in te kyk en daar sien sy twee engele wat sit waar die liggaam van Jesus gelê het – een waar sy kop was en een waar sy voete was.

“Mevrou,” sê hulle toe vir haar, “waarom huil jy?”

Sy antwoord hulle: “Hulle het my Here weggevat en ek weet nie waar hulle Hom neergelê het nie.” Nadat sy dit gesê het het sy omgedraai en Hom daar sien staan, maar nie besef dat dit Jesus was nie.

Toe Jesus ook vir haar vra “waarom sy huil, verwar sy hom met die tuinier. “Wie soek jy?” vra hy vir haar. “Meneer,” sê sy vir hom, “as u Hom verwyder het, sê vir my waar u Hom neergelê het, en ek sal Hom wegneem.”

En dan, vir die eerste keer in die hele Johannes-evangelie spreek Jesus ’n vrou op haar naam aan. Nie meer “mevrou” nie, maar “Maria!” sê hy vir haar.

Rabboeni!” is haar antwoord onmiddellik. Dit was ’n meer intieme vorm van die aanspreekvorm Rabbi.

Met die dat Jesus haar op haar naam roep en sy die stem van haar geliefde leermeester herken, word die raaisel van die leë graf, en waar Jesus is, uiteindelik opgelos.

Dit het my laat dink aan iets wat ek eenkeer oorgekom het. Vertel die storie van vrou wat voor my kar ingehardloop het.

Sy wou dat ’n kar, enige kar wat verbykom, haar teen spoed raak ry om ’n einde aan haar lewe te maak.

Ek het langs die pad gestop en na haar toe gegaan. Ek kon haar uiteindelik uit die pad uitkry, maar sy was nog vasbeslote om in die pad in te hardloop. Sy was in ’n absolute toestand: sy het verskriklik gehuil en heeltemal onsamehangende goed geskreeu. Ek het haar vasgehou, maar sy het in ’n bondeltjie ingetrek. Dit was onmoontlik om haar te kalmeer.

Wat is jou naam? vra ek uiteindelik. Skielik raak sy stil. “Fransie,” sê sy toe. Dit was die eerste dat daar suksesvolle kommunikasie tussen ons plaasgevind het.

Ek roep haar toe op haar naam en vir die eerste keer het sy haar gesig opgelig en kon ons oogkontak gemaak. Ek kan nie onthou wat ek verder vir haar gesê het nie, maar sy het daarna al hoe rustiger geraak. Uiteindelik het ’n vriendin van haar daar opgedaag en kon sy haar vriend terugneem huis toe.

Ek sal nooit vergeet hoe dit met die hoor van haar naam was dat daar ’n kalmte oor haar gekom het. Dit was amper asof die aanhoor van haar naam haar letterlik uit haar hel uitgeroep het.

Op ’n soortgelyke manier, was dit asof Jesus, deur Maria op haar naam te roep, haar uit haar plek van verdriet en verlies uitgeroep het. Toe eers kon sy sien wat reg voor haar staan, maar waarvoor sy in haar hartseer blind was.

Só word Jesus onthul as die goeie herder en Maria as een van sy skape. Ons lees in Johannes 10, hoe die goeie herder die een is wat sy skape op hul naam roep en wie se skape na sy stem luister.

Hierna maak Jesus, uiteindelik, die betekenis van sy opstanding aan Maria bekend. Dit kom in die vorm van ’n verbod en ’n opdrag. Eers die verbod: Maria moenie aan Jesus vashou nie, omdat hy eers na sy Vader toe moet opvaar. En dan kry sy die opdrag: “gaan na my broers en susters en sê vir hulle, ‘Ek vaar op na my Vader, en julle Vader, en na my God en julle God.’”

Hierin sien ons die hart van wat Jesus se opstanding beteken.

Met die opstanding het die nuwe dag van God se koninkryk aangebreek. Jesus is nou by die Vader, en die Vader is by Jesus. Jesús se God is óns God.

Die opstanding sê vir ons dat die aard van God, die wese van God, die hart van God van nou af bepaal sal word deur God se verhouding met Jesus Christus. En dit is Gód se besluit dat dit so is, want niemand behalwe die Skepper van hemel en aarde kan die dood oorwin nie.

Van nou af is die belangrikste ding wat ons van God weet, die mees bepalende eienskap van God, dit wat vir ons sê wie God ten diepste is, die feit dat God vir Jesus opgewek het. Van nou af is dit onmoontlik om die identiteit van God van die identiteit van Jesus te skei.

Wie is my Vader en jou Vader? Wie is my God en jou God?

Dit is die Een wat geweier het om die politiese en godsdienstige leiers se uitspraak oor Jesus te aanvaar. God verwerp die wêreld se oordeel. Toe die wêreld, toe óns, vir Jesus ‘nee’ gesê het, het God ‘NEE’ gesê vir ons ‘nee’. So is die opstanding God se onweerspreekbare JA vir Jesus. Deur vir Jesus uit die dood uit op te wek, onderskryf God alles wat Jesus gesê en gedoen het.

So sê die opstanding vir ons wie Gód is. Maar dit sê ook vir ons wie Jesús is.

Jesus is nie iets van die verlede nie. Met sy opstanding het God se toekoms aangebreek en daardie toekoms is in Jesus se hande. Jesus lewe en sy passie – dit waaroor hy passievol was, dit waarvoor hy gely en gesterf het – dit het nie tot ’n einde gekom aan die kruis nie. Inteendeel, Jesus se lewe gaan voort. Soos iemand dit stel: “He is alive and at large in the world.”

Dit is hoekom Maria nie aan hom moes vashou nie. Sy kan hom nie meer hê op die ou bekende manier nie. Geloof kyk nie terug na ’n Rabbi wat ’n goeie voorbeeld gestel het nie, dit kyk vorentoe na waar Jesus ons lei, na waar Jesus ’n nuwe weg vir ons baan. Dit beteken dat ons, om getrou te bly aan Jesus, soms moet afskeid neem van ons eie sekerhede; nie net kan vashou aan wat bekend is nie; beskikbaar moet wees om ’n radikaal nuwe wêreld te betree. Moenie aan my vashou nie, sê Jesus, van nou af baan ek vir julle ’n nuwe weg; gaan en bring ander om saam met jou op hierdie nuwe reis te gaan.

So word Maria, die vrou van Magdala, die eerste persoon wat die goeie nuus van Jesus se opstanding verkondig.

Soos ek vroeër genoem het, toe die opgestane Jesus sê, “Maria!” was dit die enigste geval waar Jesus ’n vrou op haar naam aanspreek in die Johannes-evangelie. Hierdie ‘Maria’ was nie getroud gewees nie. In die patriargale wêreld van daai tyd was sy daarom, so te sê, naamloos. Daarom word sy maar genoem na die plek waar sy vandaan kom: Maria Magdalena, Maria van Magdala. Jesus se opstanding was sowel die belangrikste as die mees aanvegbare ding wat die vroeë Christene geglo het, en Jesus kies dat Maria, die vrou van Magdala, die vrou met ’n naam, dat sy die eerste gesant van daardie boodskap moet wees. Sy word die apostel aan die apostels, die een deur wie die dissipels die eerste keer die goeie nuus van die opstanding gehoor het.

Ek het vroeër genoem dat die opstanding vir ons sê wie God is – dat God ten diepste die een is wie vir Jesus opgewek het – en dat dit daarom vir ons sê wie Jesus is – dat Jesus se versoenende, bevrydende, lewegewende werk voortgaan, onbegrens deur die dood, onbegrens deur ons sonde.

In hierdie ontmoeting tussen Jesus en Maria sien ons egter dat die opstanding ook iets besonders vir ons sê oor wie ons nie, oor die mens, oor mense.

Mense maak saak. Elke liewe mens maak vir God saak. Daar is iets wat ononderhandelbaar is aan elke enkele mens. Elke persoon het ’n waardigheid wat gesetel is in die troue liefde van God, wie vir Jesus uit die graf uit geroep het, wie vir Maria op haar naam geroep het.

Ek het ook Vrydag genoem hoe daar volgens oorlewering duisende kruise langs die paaie van Galilea gestaan het in die tyd toe Jesus ’n klein seuntjie was. Jesus sou waarskynlik daardie kruise gesien het.

Die mag van Rome, die mag van die kruis was dat dit mense kon uitwis. Sonder ’n behoorlike begrafnis was die hoop dat so iemand ook uit menseheugenis verwyder kon word. Die atmosfeer waarin mense geleef het, en waarin Jesus grootgeword het, was een waarin die lewe van ’n mens sonder waarde en sonder waardigheid was.

Soos Rowan Williams sê:

“Ancient empires grew and survived by assuming that enormous quantities of human lives were expendable and unimportant; those who fell victim to the system simply disappeared.

But what if they didn’t? Here was ’n message that might well cause alarm: an executed political criminal, instead of disappearing into oblivion, is brought back into the world and his friends are told to speak in his name to his killers, telling them that for their life and health they must trust that he has made peace for them with God.”

In ’n wêreld waarin daar geen waarde geheg was aan die lewe van vrouens, slawe, vreemdelinge en kriminele nie, verkondig die opstanding dat elke lewe waarde het in God se oë. Die God van Jesus is die God wat op ’n besondere manier vashou aan die lewens van elke mens wie se stem stilgemaak is, insluitend persone wie se lewens vermors is, wie se lewens deur geweld kortgeknip is, wie se name en wie se storie uitgewis of vergeet is.

Alhoewel ons nie meer in ’n totalitaristiese samelewing lewe nie, hoef ’n mens net na die 20ste eeu te kyk om talle voorbeelde te sien van hoe maklik van die mees ontwikkelde samelewings die ononderhandelbare waardigheid van mense se lewens kan prysgee.

Daarom moet die opstanding ons waaksaam maak sodat ons ook meer subtiele vorme van uitbuiting en miskenning van mense raak te sien en opstandig te raak daaroor.

Die hoop en die vreugde van Paasfees is dat niemand van ons ooit deur God vergeet word nie, dat ons elkeen op ons naam geroep word om God se toekoms te betree. Ons word geroep om daardie Paasboodskap uit te dra; in woord en in daad. Daartoe word ons elkeen geroep en in staat gestel. Dit kan begin met iets so eenvoudig soos om iemand op hul naam te noem; waar dit sal eindig is dalk te wild vir ons wildste drome.

Johannes 20:1-18 -2017

Paasfees 16 April 2017
Prediker: Dr Tiana Bosman 

Makliker om op Goeie Vrydag te preek as op Opstandingsondag. Nie omdat ek meer hou van die GV boodskap nie, maar omdat dit vir my baie makliker is om te glo. Mense maak mekaar maklik seer, mense maak mekaar veels te maklik dood. Ek twyfel nie daaraan dat Jesus aan ‘n kruis gesterf het nie. Dit was die gebruik van die tyd waarin Hy geleef het. Soos wat dit gebruiklik was om mense in die WO2 te hang en soos wat Amerika vandag die elektriese stoel of die inspuiting van die dood het.

Maar om mense op Opstandingsondag te oortuig dat Jesus die dood oorwin het (wat dit ookal beteken), dat Hy uit die dood uit opgestaan het, dat Jesus leef en ons met Hom… hierdie gebeurtenis is ongelooflik (unbelievable!). Wat moet ek sê? Hoe moet ek preek? Gaan mense my eens glo? Hoe seker is ek self oor hierdie boodskap? Verstaan ek dit regtig? Wie is ek om dit aan ander te probeer verduidelik?

Dink jou vir ‘n oomblik hierdie scenario in: Iemand vir wie jy baie lief is sterf. Jy was nie self by die begrafnis nie, maar ander mense het jou na die tyd alles daarvan kom vertel. ‘n Paar dae later gaan besoek jy die graf, maar al wat jy vind is ‘n oop gat. Of jy gaan na die begrafnisondernemers om die kissie met die as te gaan haal, maar dis skoonveld. Daar is geen teken van die persoon se dood nie. Wat sal jy dink?

Die eerste wat deur my gedagtes sal gaan is dat dit die verkeerde graf is, of anders het iemand die lyk weggevat of gesteel vir die een of ander rede. Of in die geval van ‘n verassing sal ek dink dat hulle die kissie verlê het of aan die verkeerde persoon oorhandig het of dalk nooit eens dit gereedgekry het nie – wie weet wat nie alles in ‘n krematorium kan skeefloop nie.

Daar is soveel moontlike gedagtes wat deur my kop sal gaan, maar die lááste ding waaraan ek sal dink is dat die persoon teruggekeer het na die lewe toe. Dit is rasioneel ondenkbaar.

En dan, midde jou hartseer en verwarring loop jy iemand raak wat jy nie ken nie; jy deel dalk selfs iets van jou verlies met hom. Maar namate julle met mekaar praat besef jy dis nie dat jy hom nie ken nie, dis dat jy hom nie hérken het nie – dit is die geliefde persoon wat nou die dag gesterf het! Nie dieselfde as wat hy voorheen was nie, maar sonder twyfel hý. Ook nie ‘n spook nie, maar ‘n mens.

Dit is wat Maria Magdalena en van die ander vrouens en die dissipels en ook andere oorgekom het na Jesus se dood en begrafnis. Hulle is nog besig om te probeer sin maak van die omstandighede rondom sy dood, om hulle verlies te probeer verwerk en van Hom afskeid te neem, dan moet hulle al klaar weer “hallo” sê.

Dit was nie in daardie tyd makliker om die opstanding te glo as vandag nie. Dis nie asof mense links en regs opgestaan het uit die dood en teruggekeer het na die lewe nie. Lasarus se opwekking het soveel bohaai veroorsaak dat die priesterhoofde nie net vir Jesus wou doodmaak nie, maar ook vir Lasarus weer wou laat sterf. Dit was ‘n ongehoorde situasie – dat Jesus vir Lasarus uit die dood opgewek het.

Ja, daar is nog gevalle in die Bybel van mense wat uit die dood uit opgewek is. 3 voorbeelde in Konings waar Elia en Elisa mense opwek. Jesus wat Jaïrus se dogtertje opwek, of het sy dalk net geslaap soos Jesus sê?

Daar was in die daardie tye al verskillende strominge rondom die verstaan van lewe na die dood. Die Jode en Samaritane het geglo dat die regverdiges eendag uit die dood sal terugkeer na die lewe. Die Makkabeërs het geglo in die eendagse opstanding van die fisiese liggaam. Die Sadduseërs glo weer nie in die lewe na die dood nie. Die Fariseërs sê dalk tog wel, maar dan seker net die siel en nie die mens se liggaam ook nie (Josephus). En Paulus praat graag van die opstanding van die geestelike liggaam. Daar was geen eenvormige verstaan van die opstanding van die dooies nie. En om aan die een kant dalk daarin te glo, maar dit aan die ander kant met jou eie oë te beleef – dis ook twee heeltemal verskillende dinge.

As hulle alreeds so gesukkel het om die opstanding te verwerk en te aanvaar, hoeveel te meer nie ons vandag met al ons kennis oor die menslike fisiologie, die onomkeerbare einde van die liggaam se lewensprosesse en die ontbinding wat kort daarna intree nie. G’n wonder dat daar soveel logiese verklarings aangebied word oor wat regtig gebeur het met Jesus se opstanding nie…

Dit was byvoorbeeld nie ongewoon vir boosdoeners of diewe om lyke uit grafte te steel nie. Mense het dit as verklaring aangebied vir Jesus se liggaam wat weg was – Die dissipels en Jesus se volgelinge dink dat die soldate dalk sy liggaam gesteel het. Die priesterhoofde en soldate is weer van mening dat Jesus se dissipels sy liggaam gesteel het sodat hulle daarna aan die storie van die sogenaamde opstanding lewe kan gee. Tertullianus haal ‘n gedeelte aan waarin die Jode die spot dryf met Jesus en sy dissipels wat geglo het dat Hy uit die dood opgewek is. Intussen was dit net die tuinier wat sy liggaam weggeneem het sodat die baie besoekers nie sy slaai plantjies sal verniel nie!

Dat ons Christelike geloof juis geanker word in die opstanding van Jesus Christus, dat dit die wortels is van ons geloof, veroorsaak daarom vir baie van ons ‘n groot probleem. Selfs ‘n verleentheid. Kon ons kerkvaders nie maar iets anders gekies het as die kernwaarheid waarby ons geloof staan of val nie?! Maar dit kom nie eers van die  kerkvaders af nie. Dit is nie iets wat iewers in ons Xlike tradisie bygevoeg is nie. Jesus het dit al gepredik! Hy is die een wat terwyl Hy nog gelewe het sy dood en sy opstanding onlosmaaklik aan mekaar verbind het – dat Hy sal sterf maar op die derde dag weer opgewek sal word.

Vandag se teks:

Jesus verskyn eerste aan Maria Magdalena. Ook die ander evangelies berig dat Jesus heel eerste aan die vrouens verskyn het. Vreemd, want die getuienis van vrouens was nie ge-ag nie. Daarom word hul getuienis in Lukas 24 deur die dissipels as leë praatjies afgemaak. Maar waar daar twee of drie manlike getuies is: Now we’re talking! Dan is dit inderdaad ‘n saak vir ernstige oorweging.

Petrus en die ander dissipel vir wie Jesus liefgehad het (dalk Johannes?) luister na Maria wanneer sy die nuus aan hulle kom meedeel (dat Jesus se liggaam weg is) en hulle jaag resies na die graf toe. Johannes is eerste daar, maar Petrus gaan eerste in. Hulle sien die linnedoeke wat om sy lyf was aan die een kant en die doek wat om sy kop was netjies opgerol aan die ander kant van die graf. So lyk ‘n graf nie waar daar ‘n inbraak was nie. Jesus se liggaam is nie gesteel nie.

Hulle het nog nie die Skrif verstaan dat Jesus uit die dood moes opstaan nie, maar ten spyte daarvan dat hy dit nie verstaan het nie, het Johannes dit wel geglo toe hy die leë graf en die linnedoeke sien. Wat Petrus gedink het, weet ons nie. Maar nadat hulle die leë graf gesien het, het hulle albei huis toe gegaan. Waarom sou dit wees? Was hulle bang om langer daar rond te hang? Het hulle aan skok gely? Hoekom gaan vertel hulle nie dadelik vir die ander nie?

MM bly agter. Hartseer. Huil eers omdat haar Here dood is, maar nou huil sy ook omdat sy liggaam weg is. Kyk in die graf en waar die twee mans die doeke gesien het, sien sy nou twee engele by koppenent en voetenent. In die ander evangelies lees ons van die vrouens se vrees en verbasing by die aanskoue van die engele, maar Johannes lig dit nie uit nie.

Vrou, waarom huil jy?

Hulle het my Here (Kurion) weggevat en ek weet nie waar hulle Hom neergelê het nie.

Draai om, sien Hom daar staan maar misgis Hom vir die tuinier.

Vrou, waarom huil jy? Wie soek jy?

Meneer (Kurei), as u Hom verwyder het, sê vir my waar u Hom neergelê het, en ek sal Hom wegneem.

Maria!

Herkenning

Hebreeus: Rabbouni! Dit beteken Leermeester. (In die aanhoor van haar naam herken sy Hom.)

Rabbouni – een van die langer vorme van Rabbi. Meer gewigtig, dra meer respek as die eenvoudiger Rabbi. Maria se verhouding met die Here het verdiep in hierdie herontmoeting.

In lyn met die Oosterse gebruike (en soos wat Matteus beskryf) wou Maria waarskynlik voor Jesus neerval en sy voete vasgryp – ‘n vreugevolle daad van aanbidding gekombineer met haar eenvoudige begeerte om vir Jesus vas te hou, ‘n gebaar van liefde.

Maar Jesus keer haar: “Moet My nie aanraak nie, want Ek het nog nie na die Vader opgevaar nie. Maar gaan na my broers (dissipels) en sê vir hulle: ‘Ek vaar op na my Vader, en julle Vader, en na my God en julle God.’”

Of Maria geweet het wat Jesus hier bedoel, weet ons nie, maar sy het gaan vertel. Markus berig dat die dissipels haar nie geglo het nie. (Sy was mos maar net ‘n vrou. Jesus moes self aan hulle verskyn.)

(Ek ook maar net ‘n vrou…)

Ook ander verskynings.

As reisiger wat aansluit by die Emmausgangers. Loop en gesels. Hy vra uit oor die gebeure van die naweek en hulle vertel Hom van sy eie dood! Later eet hulle saam. Toe Hy die brood breek herken hulle Hom.

“Het ons harte dan nie gebrand nie…?” (Lukas 24)

Visserman by die see besig om vis te braai. Dissipels kom terug strand toe na ‘n onsuksesvolle nag op die water. Die visserman staan op en gee raad – gooi die net die kant uit. Hulle trek honderde visse.

Herkenning

Die dissipel vir wie Jesus liefgehad het: “Dit is die Here!” (Joh 21)

Hoe het hulle geweet? Ek weet nie. Hulle het nie dadelik geweet nie. Maar iewers het die dinge vir hulle in plek geval en het hulle net eenvoudig gewéét: Dit is Hy. Rabbouni, Here, Kurios…

Meestal leef hulle in onsekerheid, selfs in vrees. Bly die gebeure rondom Jesus se opstanding vir hulle ‘n raaisel. Weet hulle nie of hulle dit kan glo nie. Sommiges soek bewyse (Tomas). Maar midde die twyfel kom daar dan momente van herkenning, van sekerheid, oomblikke van geloof midde die lewens van ongeloof, oomblikke van hoop midde die wanhoop. Steeds onverklaarbaar, maar ten spyte daarvan tog wáár.

En vandag? Steeds die soeke na die opgestane, lewende Here. Later ophou soek, moeg gesoek, dit maak in elk geval nie sin nie, is in elk geval nie moontlik nie.

Hoe moet ek julle oortuig? Dit is nie my werk om te oortuig nie. Dis nie eens my werk om myself te oortuig nie. Net soos wat dit nie Maria se werk was om die dissipels te gaan oortuig nie.

Nie oortuiging, maar ontmoeting.

Jesus sê vir haar dat sy moet gaan vertel, dis al. Vertel wat sy gesien het, met wie sy gepraat het, dat sy toe Hy haar naam noem besef het;

toe Hy vir die manne van Emmaus die brood breek toe weet hulle dat hulle eintlik al netnou op die pad geweet het (het hulle harte dan nie gebrand nie?);

toe Hy vir die vissermanne help om hulle net vol te kry: Dit is die Here!

Dis al wat ons het. Hierdie vertellings.

Ja, glo dit of nie, maar dit is sowaar Hy!

3 groepe mense in die kerk vanoggend (en baie tussen-in):

  • Die van ons wat die opstanding glo sonder skroom – Goddank vir hulle.
  • Die van ons wat baie vrae en onsekerhede het, maar nietemin dit opsy kan skuif as hulle voor ‘n besluit te staan kom en tog kan bely dat hulle glo in die opstanding. (Soos Johannes wat nog nie die Skrif oor die opstanding verstaan het nie, maar tog in die opstanding van Jesus geglo het toe hy in die graf inkyk en die doeke sien lê.) Dankie ook vir mense soos hulle.
  • Die van ons wat twyfel, dit nie kan glo nie al sou ons wou. Ons is nie vanoggend hier omdat oortuiging ons hierheen getrek het nie, maar bloot op grond van die vertellings/getuienisse van ander. Om daarmee vorentoe te gaan, moet hierdie groep van ons probeer om op ‘n ander manier daarvan sin te maak. Dat ons gekom het (ten spyte van) is reeds genoeg.

Nou nagmaal. Geen formulier. Geen vereistes. Net ‘n uitnodiging. Ongeag of jy verstaan en hoeveel jy verstaan – die nagmaal gaan nie oor verstaan nie, dit gaan oor ontvang. Dis vir almal.

Wat met die oop graf alles sigbaar word

15 April 2017 18:51

Dat die gesindheid wat in Jesus Christus was ook in ons sal wees, is dalk die heimlike verlange van talle van ons, selfs van vele wat nie eintlik deel van die sigbare kerk voel nie, sedert Paulus die gemeente van Filippi destyds met dié bekende woorde oproep (Fil. 2:5).

Maar watter gesindheid is dit? Wat was presies dié gesindheid?

Dis nogal merkwaardig hoe Paulus dit self beskryf – dalk anders as wat vele van ons sou doen. Hy haal naamlik ’n vroeg-Christelike gesang aan wat besing wat Christus gedoen het sodat sy gesindheid uit dié roemende beskrywing van sy optrede kan blyk.

Die eerste woorde bied al die sleutel. Christus het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie, sê hy letterlik. Hy het nie sy goddelike status beskou as iets waaraan hy tot elke prys moes vasklou, iets om te gryp, om te roof en besit en behou nie, iets waardevols en groots waarvan hy nie kon afsien nie. Inteendeel. Dis die gesindheid waarvan Paulus praat, wat ook in ons behoort te lewe – nié ’n gees van roofsug en grypsug en hebsug en aanspraak maak en opeis en toeëien en vasklou nie.

Die strofes wat volg, illustreer dié gesindheid stapsgewys – Christus lê af, gee prys, verloën homself, word mens, word slaaf, sterf vir ander, ja, ’n skanddood, alles dramaties in één Griekse woord gebundel wat die kerk vir eeue sou boei en verbaas en meermale verbyster: kenosis, aflegging, ontlediging. ’n Vreemde woord vir ’n vreemde gesindheid – in ons tyd dalk selfs nóg vreemder. Dís waarvan Paulus praat – nie roof, nie vasklou, nie aanspraak maak nie, maar aflê.

In ’n land, tydsgees, kultuur, samelewing soos ons s’n vandag – met die openbare figure, politici, leiers, suksesstories, celebrities wat ons daagliks aanskou, dikwels rolmodelle van presies die teendeel van dié gesindheid – mag sy oproep vir vele onbegryplik klink, wêreldvreemd en ondenkbaar.

Maar dalk was dit in sy eie tyd eintlik ook al so. Dalk is dit hoekom die gesang voortgaan en besing hoe Christus juis vanweë dié gesindheid verhóóg is, opgewek, verrys, vereer, met glans gekroon en geroem bo alle name. Om ons te herinner hoe kruis en oop graf, hoe aflê en opstaan, hoe afsterf en nuwe lewe, intiem saamhang. Dalk is dit asof Paulus wou sê: Ecce, Dominus. Aanskou, die Heer. Aanskou ware grootsheid, ware leierskap, ware heerlikheid, ware lewe. Ja, aanskou God self. Wie vra en verlang na God, aanskou dié vreemde kenosis-figuur? Want so lyk God? En so lyk die gesindheid wat ook in ons en onder ons sou kon wees – hoe vreemd ook al? – DJS

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.

Spreuke 9 – 2016

22 Mei 2016 Pinelands – Paasfees
Prediker: Dr Tiana Bosman

Agtergrond

‘n Bietjie agtergrond oor die wysheidstradisie in oud-Israel. Die ma’s het die jonger kinders opgevoed en onderrig, maar wanneer die seuns jongmanne geraak het, het die verantwoordelikheid na die pa’s oorgeskuif. Die pa was die hoof van die huishouding en ook die wysgeer of onderwyser wat die verantwoordelikheid gehad het om sy seuns te onderrig in die tradisies van die familie en die volk, godsdiens, sosiale ordes,  moraliteit, reg en geregtigheid, asook opleiding te gee met die oog op hulle toekomstige beroepe of ambagte. Naas die vaders, was daar ook ander manne – oudstes, wyses en raadgewers – wat as onderwysers opgetree het. Hulle het die jongmanne in meer formele kontekste onderrig, bv aan die koninklike hof, by die tempel, en in wysheidskole en biblioteke. Die skole was dikwels geassosieer met die paleis en die tempel self, sodat onderrig fisies daar in klaskamers plaasgevind het.

Vandag het ons universiteite en kolleges en ander instellings waar manne en meisies kan gaan studeer. Maar die onderrig in oud-Israel het oor veel meer gegaan as blote kopkennis. Dit ook natuurlik, maar hierdie kennis moes deurvloei na die daaglikse lewe waar mense besluite moes neem – nie net in hulle beroepe nie, maar ook in hulle verhoudinge – hulle moes geskille besleg, en kies hoe hulle teenoor ander mense gaan praat en wat hulle gedrag gaan wees. Onderrig en opvoeding het dus elke aspek van die lewe aangespreek. Vir die volk was kennis en wysheid integraal deel van hulle geloof in God, hulle verstaan van die wêreld (dws die skepping en hoe alles inmekaarsteek), en hulle daaglikse moreel-etiese lewe.

Die boek Spreuke bevat verskillend versamelings van spreuke, gelykenissse en raaisels, alles in die taal van wysheid gegiet. Ons sou kon sê dat hierdie boek ‘n handboek vir die lewe was aan die persoon wat geloof in God en kennis van God en sy wil nastreef. Spesifiek ‘n boek wat onder die wysgere gesirkuleer het – in die wysheidskole en met die oordrag van wysheid van die een geslag na die volgende.

Die Wysgeer, onderwyser, “vader-figuur”, en die student (“my seun”) (sien die herhalende aanspreekvorm “my seun” 1:8; 2:1; 3:1, 21; 4:1, 10; 5:1…).

Spreuke 1-9 dien as inleiding tot die boek. Na die inleidende 9 hoofstukke, volg daar dan vanaf Hoofstuk 10 letterlik honderde individuele spreuke vir die lewe.

Ons lees vandag die laaste hoofstuk van Spreuke se inleiding. Let op dat ons in die eerste 6 vss gaan lees oor Vrou Wysheid, dan volg die middelste 6 verse waar hierdie Vrou Wysheid instruksies vir die lewe gee, en dan lees ons in die laaste 6 verse oor Vrou Dwaasheid. Die onderwyser wil hier hê dat die seuns hulle verbeelding moet gebruik om deur die metafore of beelde van twee verskillende vrouens te leer hoe wysheid en dwaasheid werk.

Lees: Spreuke 9

“My seun, verbeel jou daar was twee vrouens…”

Boodskap

Daar is 5 gedigte oor Vrou Wysheid in die Spreuke 1-9 (1, 8, 9). Sy word in almal gepersonifiseer, asof sy ‘n werklike vrou is:

1:20 ev: “Wysheid is ‘n vrou wat langs die straat staan en roep, sy laat haar stem hoor op die stadspleine, sy roep bo die rumoer uit, by die ingange van die stadspoorte (daar waar reg en geregtigheid moet geskied, waar geskille opgelos word)…”

8:1 ev: “Dit is Wysheid self wat roep, dit is Insig wat haar stem laat hoor. Op die hoogtes langs die pad, by die kruispaaie, staan sy, langs die stadspoorte, by die ingange (alles strategiese plekke wat geleentheid vir onderrig bied!), skree sy dit uit: “Ek roep na julle, mense, ek roep na alle mense: Dié wat ervaring kortkom, kan verstandig word, dié wat dwaas optree, kan insig kry…”

8:12 ev: “Ek, Wysheid, het die verstand, ek het die kennis en die skranderheid. Om die Here te dien is om te haat wat verkeerd is…”

8:22 ev: “Die Here het my geskep, Hy het met my begin; ek is die eerste wat Hy gemaak het, lank, lank gelede…”

En dan 9:1: “Wysheid het vir haar ‘n huis gebou…”

Agter die stem van die onderwyser vind ons dus die meer gesaghebbende stem van Vrou Wysheid, die onderwyseres, kind van God, en die bemiddellaar tussen hemel en aarde. En agter haar stem sit die mees gesaghebbende stem – die stem van God self wat deur die onderwyser en deur Vrou Wysheid diegene onderrig wat hulle oopstel daarvoor.

Die gedig begin en eindig met ‘n uitnodiging tot ‘n maaltyd aan mense wat kennis kortkom. Maar die gasvrouens verskil; hulle vergestalt teenoorgesteldes. Die een is die ander se nemesis. Die manier waarop hulle hul voorbereidings tref en die onderskeie spyskaarte wat hulle aanbied, verskil daarom ook radikaal van mekaar.

Vrou Wysheid is eerste aan die beurt. Ter voorbereiding het sy vir haar ‘n huis met sewe pilare gebou. Die sewe pilare is veel meer as wat vir ‘n gewone huis nodig was, so na alle waarskynlikheid het sy eerder vir haar ‘n tempel of ‘n paleis gebou (huis en tempel = dieselfde woord in Hebr; ook dalk die pilare waarop die aarde gebou is; ook 7 as volmaakte getal). Sy is soos ‘n koningin wat in diens van God staan. Sy slag diere, meng wyn en dek ‘n tafel. Dan stuur sy haar bediendes uit om vanaf die hoë plekke diegene te roep wat kennis kortkom, dat hulle moet kom aansit by haar tafel, kom eet van haar vleis en drink van haar wyn, dat hulle moet afskeid neem van hulle onkunde en op die pad van insig moet stap. Die bediendes dui daarop dat Vrou Wysheid ‘n koninklike gevolg van helpers het, wat uitgaan om die eenvoudiges na die tafel van Wysheid te nooi.

In die seuns se verbeelding word ‘n feesviering opgeroep, die fees van kennis word bedien aan elkeen wat die pad van onderrig betreë.  Vleis en wyn (nie in Israel deel van die gewone daaglikse etes vir die man op die straat nie) dui op goeie spyse, kos en drank vir die fynproewers. Hierdie is ‘n baie spesiale ete. Maar dis nie net die rykes en elite wat genooi word nie; ook die eenvoudiges is welkom. (Herinner aan Jesus se gelykenis in Luk 14: 15-24)

Vrou Wysheid se tempel of paleis is ‘n tradisie, die tradisie van wysheid en leergierigheid waarbinne die volk van God opgeroep word om te leef. Die tempel kan ook verwys na ‘n fisiese gebou met ‘n biblioteek daarbinne, daar waar studente leef en leer, ‘n fisiese ruimte waar denke gevorm word en lewens karakter kry. Kennis wat uitloop op die lewe.

‘n Entjie hiervandaan sit Vrou Dwaasheid by haar voordeur. Haar voorbereidings vir die maaltyd verloop heeltemal anders as die van Vrou Wysheid. Haar stoel staan op die hoogste plek in die stad, dws sy het ook ‘n paleis of ‘n tempel. Vroeër in Spreuke word daar ook van haar melding gemaak, onder die naam van “die Vreemde Vrou” (2:1-22, 5:1-23, 6:24-35; 7:1-27). Sy word elke keer voorgestel as die een wat diegene wat kennis kortkom verlei en hulle dood veroorsaak. Haar verskeie persona sluit in die van prostituut, die godin van vrugbaarheid, egbreekster, en die letterlike verpersoonliking van dwaasheid. Haar dwaasheid word by uitstek vervat in haar seksuele promiskuïteit.

In vs 13 word Vrou Dwaasheid beskryf as luidrugtig, sy is stadig van begrip en sy weet nie wat nie. Sy is soos ‘n lui domkop. Sy berei geen maaltyd vir haar gaste voor nie, want wat sy aanbied is alles gesteel. Sy sit eerder as om te staan wanneer sy haar salig-onbewuste verbygangers uitnooi om haar woning te betreë. Sy hou haar kastig slim met ‘n spreukwoordelike uitnodiging om die onervare verbyganger mee te verlei: “Gesteelde water is soet, geheime kos (lett “brood”) is lekker!” Sy is ‘n voorbeeld van luiheid – by haar hoef jy nie te werk om iewers te kom in die lewe nie, jy steel. Jy hoef ook nie te deel nie – jy eet in die geheim, in die donker, daar waar ander nie sien nie. Jy dink dus net aan jouself. Sy laat dit so lekker klink, so aanloklik, maar al wat sy op die ou-end kan bied is water en brood, en dan is dit nog gesteel ook.

Teenoor Vrou Wysheid wat regstaan vir haar gaste, en die beste voorsit, kwaliteit, vleis en goeie wyn. Vrou Dwaasheid se gesteelde water en haar geheime brood is nie genoeg om van te lewe nie. Inteendeel – dit bring die dood. Die dood wag reeds in haar woning. Diegene wat op haar uitnodiging reageer en by haar deur ingaan, bevind hulself reeds in die doderyk. Haar tafel lyk so radikaal anders as die van Vrou Wysheid.

Tussen die twee uitnodigings gee Vrou Wysheid ‘n stuk onderwysing vir die lewe (vss 7-9). En dan die heel belangrikste beginsel in vs 10: “Wysheid begin met die dien van die Here; wie die Heilige ken (yda), het werklik insig.” Hierdie waarheid waarrondom al die ander draai vind ons ook reg aan die begin van die boek (1:7) en reg aan die einde (31:30). Bybeluitleggers beskou hierdie verse as die belangrikste in die ganse boek. Dis waar alles begin, dis waar alles eindig, en dis die middelpunt van Vrou Wysheid se onderwysing in Hoofstuk 9. “Wysheid begin by die dien van die Here. Wie die Heilige ken, het werklik insig.”

Wysheid gaan dus om ‘n soeke om die Here te leer ken as die Skepper en die Onderhouer, die Gewer van lewe, en om iets van sy wêreld en sy werke te probeer begryp. Om wysheid te bekom vra nie bloot maar ‘n sekulêre onderwysing wat primêr gerig is op menslike insigte en ervaring nie. Dit word ook nie primêr gemotiveer deur die bereiking van doelwitte en mens se eie self-verwesenliking nie. Dit gaan om God. Dit stel mens voor ‘n keuse.

Jesus demonstreer die keuse tussen Wysheid en Dwaasheid wanneer hy is die gelykenis van die verlore seun aan sy volgelinge voorhou. Die jongste broer is selfsugtig en eiewys. Hy is dwaas. Hy wens sy pa dood sodat hy sy erfporsie kan kry, maar siende dat sy pa nie tot sterwe kom nie vra hy die erfporsie vooruit. Sy pa gee dit vir hom en hy gaan verkwansel alles in die stad – daar waar hy elke afdraaipaadjie neem na Vrou Dwaasheid se woninge. Hy drink gesteelde water en hy eet in die geheim sy brood. Hy dink die lewe is goed, maar eintlik doen hy homself in – by sy ouerhuis sou hy vleis en wyn gekry het. Hy bevind homself in die kamers van die doderyk. Die seun verloor alles en lê later tussen die varke – niks is van hom oor nie, sy lewe het tot ‘n einde gekom, hy is inderwaarheid dood. Maar van ver af hoor hy hoedat Vrou Wysheid hom terugroep. Hy dink aan sy huis en aan sy pa en hy besluit om sy trots in sy sak te steek en in nederigheid terug te gaan, sy sonde te bely en te vra of hy maar as een van die slawe vir sy pa kan werk. Maar wat gebeur – Sy pa wag hom in(!), ontvang hom met ope arms, trek vir hom die beste klere aan, skoene, ‘n ring aan sy vinger, slag die vetgemaakte kalf, meng die wyn, dek die tafel en sit ‘n feesmaal voor! Want sy seun was dood, en hy lewe weer; hy was verlore, en sy pa het hom teruggekry. (Luk 15)

Tussen die peule in die varkhok het die dwase seun tot nuwe insigte gekom. Hy het besef dat hy dwaas opgetree het, en hy het geglo dat sy pa hom sal terugontvang, selfs al is dit net as ‘n slaaf. En al het hy niks meer oor van sy erfporsie nie. En hy het opnuut sy pa leer ken as die een wie se arms altyd oop is – die een by wie daar vir hom ‘n plek aan tafel is, gedek met die beste – wysheid en kennis, liefde en insig, God en genade.

Ons eie land het duidelike voorbeelde van mense wat die uitnodinging van Vrou Dwaasheid aanvaar en (enkeles) wat by Vrou Wysheid se deur ingaan. Pravin Gordhan sit by Vrou Wysheid se tafel aan. Dit kom met sy eie prys. Winnie Rust het ook, lyk dit my, aan die tafel van Vrou Wysheid gesit en iemand op die dwase weg het haar lewe geneem… Haar nalatenskap sal egter nog baie lank voortleef en daarom het Dwaasheid nie hier die laaste woord te spreek nie… In ons eie lewens en die van ons mense is daar baie duidelike voorbeelde van wyse en dwase weë. Die wysheid al dan nie van keuses wat ons maak is soms moeilik en daarom begin dit by die dien van die Here. Maar dis ook dikwels voor die hand liggend – die uitvoering daarvan kan net so moeilik wees!

Hier is twee restaurante van die lewe. Die tafels is gedek om na die spreuke te begin luister, dit te oordink, en daarvanuit te begin leef … of dood te gaan. Nie noodwendig nie, maar ‘n geestelike, sieldodende dood wat vir niemand om jou goed is nie. Wie se uitnodiging aanvaar jy?

Spreuke 9

  1. Wysheid het vir haar ‘n huis gebou met sewe klippilare.
  2. Sy het geslag en haar wyn gemeng; sy het ook haar tafel gedek.
  3. Sy het haar vroue bediendes uitgestuur;

sy het van die hoogste plekke van die stad af geroep:

  1. “Draai af hiernatoe almal wat nog moet leer,” sê sy vir die wat kennis kortkom.
  2. “Kom, eet van my kos en drink van die wyn wat ek gemeng het!
  3. Neem afskeid van die onkunde dat julle kan lewe, kom op die pad van insig!”

7 Wie ‘n ligsinnige mens (spotter) korrigeer, moet die verwyt daarvoor dra;

wie ‘n goddelose mens teregwys, doen dit tot sy eie skande.

  1. Moenie ‘n ligsinnige mens korrigeer nie, hy sal jou daarvoor haat.

Berispe ‘n wyse mens, en hy sal lief wees vir jou.

  1. Gee jou aandag aan ‘n wyse mens en hy kry meer wysheid,

leer ‘n regverdige en sy kennis vermeerder.

  1. Wysheid begin met die dien van die Here;

wie die Heilige ken (yda) het werklik insig.

  1. As jy wysheid het sal jy lank lewe, jou lewensjare sal vermeerder word.
  2. As jy wysheid het, het jy self die voordeel daarvan;

as jy ‘n ligsinnige mens is, dra jy alleen die las.

  1. Vrou Dwaasheid is luidrugtig. Sy is stadig van begrip en sy weet nie wat nie.
  2. Sy sit by haar voordeur, haar stoel staan op die hoogste plek in die stad.
  3. Sy roep na die wat verbykom, elkeen besig om sy gang te gaan:

“Draai af hiernatoe almal wat nog onervare is,” sê sy vir die wat kennis kortkom.

  1. “Gesteelde water is soet en geheime kos (brood) is lekker.”
  2. Maar hulle weet nie dat die skaduwees (dood) daar is nie,

haar genooides is in die dieptes van Sheol (die onderwêreld).

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.

Johannes 20:1-18 – 2016

27 Maart 2016 Pinelands – Paasfees
Prediker: Dr Tiana Bosman

Makliker om op Goeie Vrydag te preek as op Opstandingsondag. Nie omdat ek meer hou van die GV boodskap nie, maar omdat dit vir my baie makliker is om te glo. Mense maak mekaar maklik seer, mense maak mekaar veels te maklik dood. Ek twyfel nie daaraan dat Jesus aan ‘n kruis gesterf het nie. Dit was die gebruik van die tyd waarin Hy geleef het. Soos wat dit gebruiklik was om mense in die WO2 te hang en soos wat Amerika vandag die elektriese stoel of die inspuiting van die dood het.

Maar om mense op Opstandingsondag te oortuig dat Jesus die dood oorwin het (wat dit ookal beteken), dat Hy uit die dood uit opgestaan het, dat Jesus leef en ons met Hom… hierdie gebeurtenis is ongelooflik (unbelievable!) Wat moet ek sê? Hoe moet ek preek? Gaan mense my eens glo? Hoe seker is ek self oor hierdie boodskap? Verstaan ek dit regtig? Wie is ek om dit aan ander te probeer verduidelik?

Dink jou vir ‘n oomblik hierdie scenario in: Iemand vir wie jy baie lief is sterf. Jy was nie self by die begrafnis nie, maar ander mense het jou na die tyd alles daarvan kom vertel. ‘n Paar dae later gaan besoek jy die graf, maar al wat jy vind is ‘n oop gat. Of jy gaan na die begrafnisondernemers om die kissie met die as te gaan haal, maar dis skoonveld. Daar is geen teken van die persoon se dood nie. Wat sal jy dink?

Die eerste wat deur my gedagtes sal gaan is dat dit die verkeerde graf is, of anders het iemand die lyk weggevat of gesteel vir die een of ander rede. Of in die geval van ‘n verassing sal ek dink dat hulle die kissie verlê het of aan die verkeerde persoon oorhandig het of dalk nooit eens dit gereedgekry het nie – wie weet wat nie alles in ‘n krematorium kan skeefloop nie.

Daar is soveel moontlike gedagtes wat deur my kop sal gaan, maar die lááste ding waaraan ek sal dink is dat die persoon teruggekeer het na die lewe toe. Dit is rasioneel ondenkbaar.

En dan, midde jou hartseer en verwarring loop jy iemand raak wat jy nie ken nie; jy deel dalk selfs iets van jou verlies met hom. Maar namate julle met mekaar praat besef jy dis nie dat jy hom nie ken nie, dis dat jy hom nie hérken het nie – dit is die geliefde persoon wat nou die dag gesterf het! Nie dieselfde as wat hy voorheen was nie, maar sonder twyfel hý. Ook nie ‘n spook nie, maar ‘n mens.

Dit is wat Maria Magdalena en van die ander vrouens en die dissipels en ook andere oorgekom het na Jesus se dood en begrafnis. Hulle is nog besig om te probeer sin maak van die omstandighede rondom sy dood, om hulle verlies te probeer verwerk en van Hom afskeid te neem, dan moet hulle al klaar weer “hallo” sê.

Dit was nie in daardie tyd makliker om die opstanding te glo as vandag nie. Dis nie asof mense links en regs opgestaan het uit die dood en teruggekeer het na die lewe nie. Lasarus se opwekking het soveel bohaai veroorsaak dat die priesterhoofde nie net vir Jesus wou doodmaak nie, maar ook vir Lasarus weer wou laat sterf. Dit was ‘n ongehoorde situasie – dat Jesus vir Lasarus uit die dood opgewek het.

Ja, daar is nog gevalle in die Bybel van mense wat uit die dood uit opgewek is. 3 voorbeelde in Konings waar Elia en Elisa mense opwek. Jesus wat Jaïrus se dogtertje opwek, of het sy dalk net geslaap soos Jesus sê?

Daar was in die daardie tye al verskillende strominge rondom die verstaan van lewe na die dood. Die Jode en Samaritane het geglo dat die regverdiges eendag uit die dood sal terugkeer na die lewe. Die Makkabeërs het geglo in die eendagse opstanding van die fisiese liggaam. Die Sadduseërs glo weer nie in die lewe na die dood nie. Die Fariseërs sê dalk tog wel, maar dan seker net die siel en nie die mens se liggaam ook nie (Josephus). En Paulus praat graag van die opstanding van die geestelike liggaam. Daar was geen eenvormige verstaan van die opstanding van die dooies nie. En om aan die een kant dalk daarin te glo, maar dit aan die ander kant met jou eie oë te beleef – dis ook twee heeltemal verskillende dinge.

As hulle alreeds so gesukkel het om die opstanding te verwerk en te aanvaar, hoeveel te meer nie ons vandag met al ons kennis oor die menslike fisiologie, die onomkeerbare einde van die liggaam se lewensprosesse en die ontbinding wat kort daarna intree nie. G’n wonder dat daar soveel logiese verklarings aangebied word oor wat regtig gebeur het met Jesus se opstanding nie…

Dit was byvoorbeeld nie ongewoon vir boosdoeners of diewe om lyke uit grafte te steel nie. Mense het dit as verklaring aangebied vir Jesus se liggaam wat weg was – Die dissipels en Jesus se volgelinge dink dat die soldate dalk sy liggaam gesteel het. Die priesterhoofde en soldate is weer van mening dat Jesus se dissipels sy liggaam gesteel het sodat hulle daarna aan die storie van die sogenaamde opstanding lewe kan gee. Tertullianus haal ‘n gedeelte aan waarin die Jode die spot dryf met Jesus en sy dissipels wat geglo het dat Hy uit die dood opgewek is. Intussen was dit net die tuinier wat sy liggaam weggeneem het sodat die baie besoekers nie sy slaai plantjies sal verniel nie!

Dat ons Christelike geloof juis geanker word in die opstanding van Jesus Christus, dat dit die wortels is van ons geloof, veroorsaak daarom vir baie van ons ‘n groot probleem. Selfs ‘n verleentheid. Kon ons kerkvaders nie maar iets anders gekies het as die kernwaarheid waarby ons geloof staan of val nie?! Maar dit kom nie eers van die  kerkvaders af nie. Dit is nie iets wat iewers in ons Xlike tradisie bygevoeg is nie. Jesus het dit al gepredik! Hy is die een wat terwyl Hy nog gelewe het sy dood en sy opstanding onlosmaaklik aan mekaar verbind het – dat Hy sal sterf maar op die derde dag weer opgewek sal word.

Vandag se teks:

Jesus verskyn eerste aan Maria Magdalena. Ook die ander evangelies berig dat Jesus heel eerste aan die vrouens verskyn het. Vreemd, want die getuienis van vrouens was nie ge-ag nie. Daarom word hul getuienis in Lukas 24 deur die dissipels as leë praatjies afgemaak. Maar waar daar twee of drie manlike getuies is: Now we’re talking! Dan is dit inderdaad ‘n saak vir ernstige oorweging.

Petrus en die ander dissipel vir wie Jesus liefgehad het (dalk Johannes?) luister na Maria wanneer sy die nuus aan hulle kom meedeel (dat Jesus se liggaam weg is) en hulle jaag resies na die graf toe. Johannes is eerste daar, maar Petrus gaan eerste in. Hulle sien die linnedoeke wat om sy lyf was aan die een kant en die doek wat om sy kop was netjies opgerol aan die ander kant van die graf. So lyk ‘n graf nie waar daar ‘n inbraak was nie. Jesus se liggaam is nie gesteel nie.

Hulle het nog nie die Skrif verstaan dat Jesus uit die dood moes opstaan nie, maar ten spyte daarvan dat hy dit nie verstaan het nie, het Johannes dit wel geglo toe hy die leë graf en die linnedoeke sien. Wat Petrus gedink het, weet ons nie. Maar nadat hulle die leë graf gesien het, het hulle albei huis toe gegaan. Waarom sou dit wees? Was hulle bang om langer daar rond te hang? Het hulle aan skok gely? Hoekom gaan vertel hulle nie dadelik vir die ander nie?

MM bly agter. Hartseer. Huil eers omdat haar Here dood is, maar nou huil sy ook omdat sy liggaam weg is. Kyk in die graf en waar die twee mans die doeke gesien het, sien sy nou twee engele by koppenent en voetenent. In die ander evangelies lees ons van die vrouens se vrees en verbasing by die aanskoue van die engele, maar Johannes lig dit nie uit nie.

Vrou, waarom huil jy?

Hulle het my Here (Kurion) weggevat en ek weet nie waar hulle Hom neergelê het nie.

Draai om, sien Hom daar staan maar misgis Hom vir die tuinier.

Vrou, waarom huil jy? Wie soek jy?

Meneer (Kurei), as u Hom verwyder het, sê vir my waar u Hom neergelê het, en ek sal Hom wegneem.

Maria!

Herkenning

Hebreeus: Rabbouni! Dit beteken Leermeester. (In die aanhoor van haar naam herken sy Hom.)

Rabbouni – een van die langer vorme van Rabbi. Meer gewigtig, dra meer respek as die eenvoudiger Rabbi. Maria se verhouding met die Here het verdiep in hierdie herontmoeting.

In lyn met die Oosterse gebruike (en soos wat Matteus beskryf) wou Maria waarskynlik voor Jesus neerval en sy voete vasgryp – ‘n vreugevolle daad van aanbidding gekombineer met haar eenvoudige begeerte om vir Jesus vas te hou, ‘n gebaar van liefde.

Maar Jesus keer haar: “Moet My nie aanraak nie, want Ek het nog nie na die Vader opgevaar nie. Maar gaan na my broers (dissipels) en sê vir hulle: ‘Ek vaar op na my Vader, en julle Vader, en na my God en julle God.’”

Of Maria geweet het wat Jesus hier bedoel, weet ons nie, maar sy het gaan vertel. Markus berig dat die dissipels haar nie geglo het nie. (Sy was mos maar net ‘n vrou. Jesus moes self aan hulle verskyn.)

(Ek ook maar net ‘n vrou…)

Ook ander verskynings.

As reisiger wat aansluit by die Emmausgangers. Loop en gesels. Hy vra uit oor die gebeure van die naweek en hulle vertel Hom van sy eie dood! Later eet hulle saam. Toe Hy die brood breek herken hulle Hom.

“Het ons harte dan nie gebrand nie…?” (Lukas 24)

Visserman by die see besig om vis te braai. Dissipels kom terug strand toe na ‘n onsuksesvolle nag op die water. Die visserman staan op en gee raad – gooi die net die kant uit. Hulle trek honderde visse.

Herkenning

Die dissipel vir wie Jesus liefgehad het: “Dit is die Here!” (Joh 21)

Hoe het hulle geweet? Ek weet nie. Hulle het nie dadelik geweet nie. Maar iewers het die dinge vir hulle in plek geval en het hulle net eenvoudig gewéét: Dit is Hy. Rabbouni, Here, Kurios…

Meestal leef hulle in onsekerheid, selfs in vrees. Bly die gebeure rondom Jesus se opstanding vir hulle ‘n raaisel. Weet hulle nie of hulle dit kan glo nie. Sommiges soek bewyse (Tomas). Maar midde die twyfel kom daar dan momente van herkenning, van sekerheid, oomblikke van geloof midde die lewens van ongeloof, oomblikke van hoop midde die wanhoop. Steeds onverklaarbaar, maar ten spyte daarvan tog wáár.

En vandag? Steeds die soeke na die opgestane, lewende Here. Later ophou soek, moeg gesoek, dit maak in elk geval nie sin nie, is in elk geval nie moontlik nie.

Hoe moet ek julle oortuig? Gelukkig is dit nie my werk om te oortuig nie. Dis nie eens my werk om myself te oortuig nie. Net soos wat dit nie Maria se werk was om die dissipels te gaan oortuig nie.