Johannes 21:1-19

5 Mei 2019

3rde Sondag van Pase
Prediker: Ds. Helgard Pretorius

Eers ’n paar opmerkings oor die gedeelte wat ons so pas gehoor het:

Die eerste ding wat ons opmerk is dat hierdie verskyning van die opgestane Jesus by die see van Tiberius in Galilea plaasvind, en nie in en rondom Jerusalem nie.

Met ander woorde, hierdie groep van die dissipels was Galileërs en het teruggekeer na waar hulle oorspronklik vandaan gekom en waar hulle reis met Jesus begin het.

Die tweede ding wat ons opmerk, is dat hierdie vertelling baie dieselfde klink as die ’n verhaal in Lukas 5:4-7 – daar was Jesus langs die see besig om die skares te onderrig. Daar was egter so veel mense dat Jesus in een van die vissermanne se bootjie moes klim sodat hy nie deur die skares vertrap sou word nie. Daardie visserman was Petrus. Na sy preek sê Jesus vir Petrus om sy net uit te gooi en hulle trek ’n massiewe vangs in wat amper die nette breek. Petrus sê toe vir Jesus: “bly weg van my af; ek is ’n sondige mens.” Maar Jesus antwoord: “Moenie bang wees, van nou af sal jy mense vang.” En so begin Petrus se volgelingskap.

Die derde ding waarop ek julle aandag wil let is vers 9: “En toe hulle aan land kom, sien hulle daar ’n koolvuur gereed en vis wat daarop lê, en ook brood.”

Johannes gebruik hier ’n baie spesifieke woord om die vuur te beskryf wat die dissipels daar op die strand gesien het. Die Griekse woord is anthrakian. Dit beteken “vuur wat van kole gemaak is” (m.a.w. dis die tiepe vuur wat Transvalers maak, met charcoal).

Hierdie woord word net hiér en op één ander plek in die Nuwe Testament gebruik. Die ander plek is in Johannes 18. Dit is op die nag waarop Jesus gearresteer is. Terwyl Jesus in die Joodse hof voor die hoëpriester verskyn, staan Petrus in die voorhof van dieselfde gebou. Die slawe en tempelwagte het hulle gestaan en warm maak by ’n koolvuur wat hulle gemaak het, omdat dit koud was. En dan word daar op ’n dramatiese manier vertel hoe Petrus, terwyl hy hom ook om daai koolvuur gestaan en warm maak het, vir Jesus drie maal verloën.

Deur juis na daardie koolvuur langs die see van Galilea te verwys, wil Johannes hê dat ons hierdie verbande tussen Petrus se roeping, sy verloëning van Jesus, en hierdie ontmoeting met die opgestane Here raaksien.

As die klem by Jesus se vorige verskyning op Tomas en sy twyfel geval het, val dit nou op Petrus en sy skaamte.

***

Voordat ons weer teruggaan na die teks toe, wil ek ’n oomblik lank vertoef by hierdie emosie, hierdie gevoel wat ons ‘skaamte’ noem. Dit is nie iets waaroor ons baie praat nie, maar skaamte is ’n kragtige emosie en hoe ons daarmee omgaan kan bepalend wees vir ons lewens – vir hoe ons na onsself kyk en hoe ons in verhouding tree met God en met ander mense.

Iemand wat my gehelp het om iets te verstaan van skaamte en die houvas – die negatiewe effekte wat dit op ’n mens kan hê – is die navorser, Brené Brown. Daar is ’n baie gewilde Ted-talk van haar op YouTube, wat ek sterk aanbeveel.

Brown is ’n maatskaplike werker wat navorsing wou doen oor menslike verbintenis – oor connection. Want dit is uiteindelik waaroor maatskaplike werk en die lewe as sodanig gaan – oor die herstel van verbintenis tussen mense, die versorging van die menslike verhoudings waarsonder ons nie kan bestaan nie.

Sy het egter baie gou op iets afgekom wat hierdie verbintenis tussen mense laat ontrafel. En dit was skaamte. Wat is skaamte?

Volgens haar is skaamte is ten diepste die vrees wat ons het vir die breek van ’n verhouding, die vrees dat ek nie waardig is om in verbintenis met jou te bly nie, die vrees vir verwerping. Dit is om te glo dat daar iets fout is met my wat my onwaardig maak vir liefde en aanvaarding.

Is daar iets in my wat, as mense dít van my sien of weet, sal beteken dat ek nie hulle liefde en aanvaarding waardig is nie?

Almal beleef skaamte – dit is deel van ons menswees – maar niemand praat daaroor nie. En die ironie is, hoe minder jy daaroor praat, hoe meer het jy dit; want skaamte floreer in die donker, in die geheim waar niemand die moed het om daaroor te praat nie.

Om in verbintenis te wees met ander, om verhoudings aan te gaan, vra altyd ’n mate van weerloosheid. Dit vra dat jy jouself blootstel, sodat jy in jou diepste menswees gesien en geken kan word.

Skaamte verhoed dit. Met skaamte kan ons ons vrees vir verwerping so groot raak dat ons nie die moed bymekaar kan skraap om in daardie weerloosheid in te tree nie.

“Ek is nie goed genoeg nie,” “ek is ’n slegte mens, ’n slegte vriend, ’n slegte ouer,” “ek is nie maar genoeg nie, ryk genoeg nie, slim genoeg nie, wit genoeg nie, swart genoeg nie.”

Ons probeer om ons eer te bewaar: ons onttrek, steek weg, ons bou skanse om onsself te beskerm.

***

Dit is waar ons vanoggend vir Petrus bevind. Hy is op ’n vissersboot op die see van Tiberius, besig om met sy skaamte te worstel.

Simon vir wie Jesus die naam Petrus, die rots, gegee het.
Petrus, die visser van mense.
Petrus, die eerste van die dissipels wat Jesus die Seun van God genoem het.
Petrus, wie se skoonmoeder Jesus genees het.
Petrus, wie op die water geloop het.
Petrus wie vir Jesus verheerlik op ’n bergpiek gesien het.
Petrus wie vir Jesus belowe het dat hy hom nooit sal verlaat nie, selfs tot die dood.

Petrus, wie se moed hom, op die nag van Jesus se inhegtenisneming, so tragies in die steek gelaat het, terwyl hy homself by ’n koolvuur staan en warm maak het.

Hy was veronderstel om die perfekte dissipel te wees. Nou lyk dit of hy vir die res van sy lewe van daardie pynlike herinnering gaan moet weghardloop.

“Ek het jou mos saam met Jesus gesien. Jy moet een van sy dissipels wees!”

“Nee, ek is nie! Ek ken nie eers die man nie!”

Dalk verduidelik dit hoekom ons hom op ’n vissersboot op die see van Galilea bevind. Petrus doen wat ons almal geneig is om te doen met ons skaamte. Ons hol, ons trek terug. Ons probeer maak asof daar ’n deel van ons lewens is waar die skaamte nie is nie. Ons hou ons besig met afleidings wat ons kan laat voel asof ons nog waardigheid het.

Petrus gaan terug na sy boot en sy nette toe, na ’n plek en ’n tyd vóórdat Jesus hom geroep het. En vir een lang nag, probeer Petrus om sonder Jesus vis te vang; “maar daardie nag,” sê die teks, “het hulle niks gevang nie.”

En dan breek die dag, God se nuwe dag wat met Jesus se opstanding begin. Die nag was te vergeefs, maar soos die son opkom, is Jesus daar. Op Jesus se bevel gooi hulle die net weer uit en die keer is die vangs is so groot dat die net amper skeer.

In sy skaamte wil Petrus sy naaktheid nog met sy bokleed bedek, maar eintlik is hy besig om te leer dat daar nie ’n plek of ’n tyd in sy storie is waar Jesus nie teenwoordig is nie. Jesus is net so genadig in ons mislukkings as in ons stories van sukses. Sy liefde is net so getrou in ons skaamte as in ons eer.

Skielik bevind Petrus hom weer langs ’n koolvuur en warm word – dié keer is hy nie net koud nie, maar ook honger en papsopnat. By hom sit die Here wat hy drie maal verloën het. Maar Jesus is nie daar vir vergelding nie. Hy het nie gekom om vir Petrus te verneder nie – om hom te shame nie. Óns mag dalk ’n ander se skaamte sien as ’n geleentheid om ons eie eer te bewaar, maar Jesús se agenda is versoening.

***

Daar is baie wat ons by hierdie visbraai tussen Jesus en Petrus kan leer – oor God, maar ook oor ons eie skaamte, en hoe die Here ons van ons skaamte red.

Die eerste ding wat ons opmerk is dat Jesus vir Petrus red deur hom na die plek van sy skaamte toe terug te neem.

Jesus pak nie vir Petrus in watte toe om hom van sy vernedering te beskerm nie. Jesus vermy nie die moeilike gesprek nie. Hy maak nie asof Petrus hom nooit verloën het nie, of asof sy verloëning nie pynlike gevolge gehad het nie. Maar ons sien ook nie dat Jesus vir Petrus preek of hom beskuldig of veroordeel nie.

En hoe doen Jesus dit? Hy voed. Hy voed vir Petrus – eers liggaamlik en dan geestelik.

Jesus skep ’n veilige ruimte – sonder oordeel – waarin Petrus sy vrees vir verwerping kan oortref en na die bron van sy skaamte toe kan terugkeer. Nie om verneder te word nie, maar om genees te word, sodat hy sy waardigheid kan herwin en weer in verbinding kan tree.

Nadat hulle saamgeëet het, vra Jesus, soos wat Petrus vir Jesus drie maal verloën het, drie vrae wat reguit na Petrus se hart toe sny: “Het jy my werklik lief? Meer as hulle? Het jy my werklik lief? Het jy my lief?”

Daar is ’n progressie in die vrae wat Jesus stel. In die eerste vraag, gebruik Jesus die sterk woord vir troue liefde, agape en vra ook of Petrus hom meer lief het as die ander. Daarna gebruik Jesus weer agape, maar sonder om ’n vergelyking te trek. Die derde keer gebruik Jesus die meer gematigde woord vir broederlike liefde, die woord wat Petrus al drie kere in sy antwoord gebruik het, philia.

Daar is al baie gewonder oor die betekenis hiervan, maar een moontlikheid is dat Jesus vir Petrus uitnooi om nie net getrou aan Jesus te wees nie, maar ook aan homself. Jesus wil nie by Petrus hoor hoe lief hy dink hy vir Jesus behoort te hê nie – maar of hý, Simon seun van Johannes, op ’n outentieke manier vir Jesus liefhet?

“Here, u weet alles. U weet dat ek u liefhet.” Uiteindelik is dit wat Jesus weet, wat saak maak. In Jesus se oë is Petrus méér as sy mislukkings, en lê sy waardigheid dieper as sy skaamte en self-haat. So word Petrus, wie altyd die model-dissipel probeer wees het, daarvan verlos. In die aangesig van ’n liefdevolle en genadige God is Petrus nie meer wie hy dink hy moet wees nie, maar wie hy in werklikheid is.

En dan, nadat Jesus Petrus se waardigheid herstel het, roep hy vir Petrus om dieselfde te doen: “Laat my lammers wei. Pas my skape op. Laat my skape wei.” “Volg my!” sê Jesus. Wat Petrus gedink het is die einde van sy verhouding met Jesus, is vir Jesus ’n nuwe begin. Net wanneer ons dink ons paadjie het vir die laaste keer van die Here s’n geskei, roep Jesus ons om hom te volg.

So vêr as wat ons weet het Petrus nooit weer vir Jesus verloën nie. Deur die boek van Handelinge leer ons baie oor hoe Petrus sy dissipelskap voortgesit het en uiteindelik ter wille van die evangelie, soos Jesus, ook doodgemaak is.

Petrus se storie is nie ’n perfekte storie nie. Dis nie asof hy skielik die wêreld se wysheid gehad het, of dat hy nie nog baie gehad het om te leer nie. Maar dalk was sy storie meer eg, en hoewel hy weer skaamte sou beleef het, kon hy, eerder as om daarvan te vlug, sy eer in sy sak steek in die wete dat sy waardigheid vasstaan in di liefdevolle God wat hom twee keer op sy vissersboot kom soek het, en dit nog ’n duisend keer sou doen indien dit nodig was.

***

Ek sluit af met ’n aanhaling van die teoloog, Debbie Thomas:

As I meditate on Peter’s story, I wonder what our failures would feel like if we offered each other the safety Jesus offers his disciple.  The safety to return to the heart of our wrongdoing and despair.  The safety to wrap fresh language around our failure. The safety to experience unconditional love in the midst of our shame.  The safety to try again. 

What would our witness look like if the Church epitomized Jesus’s version of reconciliation?  What would the world be like if Christians were known as the people to run to in times of humiliation?  Can we, like Jesus, become sanctuary for the shamed?

Debbie Thomas, www.journeywithjesus.net

Johannes 20:1-18

21 April 2019

Paasfees
Prediker: Ds. Helgard Pretorius

Vrydag is ons herinner aan wat die kruis in Jesus se wêreld vir mense beteken het. ’n Kruisdood was bedoel vir kriminele, veral politiese kriminele wat ’n bedreiging ingehou het vir die orde.

Dit was ’n manier om iemand stil te maak, om húlle en hulle gedagtenis, van die gesig van die aarde af te vee. Daarom was begrafnisrituele en rou vir gekruisigde persone ook verbied gewees.

En tog was daar ’n sekere Josef van Arimatea, ’n lid van die Joodse raad wat nie saamgestem het met die raad se besluit om Jesus te laat kruisig nie. Volgens Lukas was hy iemand wat uitgesien het na die koninkryk van God. Omdat hy in die geheim ook ’n volgeling van Jesus was, het hy die risiko aanvaar om vir Pilatus na Jesus se liggaam te vra. So het hy vir Jesus begrawe, in ’n graf wat in ’n tuin geleë was.

Nog ’n persoon wat hulle eie lewe in gevaar gestel het om Jesus te eer, was Maria Magdalena, wat vroegoggend op die eerste dag van die week na Jesus se graf toe gegaan om by die graf te rou. Dit was ’n uiters gevaarlike ding om te doen. Daar is aangetekende gevalle waarop persone wat getreur het by die dood van ’n gekruisigde, self ook gekruisig was. Dit is waarskynlik hoekom sy in die donkerte gegaan het, eerder as in die helder daglig.

Maria op die graf af en sien dat die klip voor die graf verwyder is. Sy stel nie eers verder ondersoek in nie; sy neem dadelik aan dat iemand die graf beroof het en Jesus se liggaam daaruit weggeneem het. Daarop gaan roep sy vir Petrus, asook die dissipel wie Jesus baie lief gehad het.

Hoewel, die resies tussen die twee dissipels na die graf toe uitstekende preek-materiaal is, fokus ons vanoggend op die verskyning van Jesus en Maria Magdalena.

Nadat die dissipels self die oop en leë graf met net die linne daarin gesien het, is hulle weer huis toe. Volgens die verteller, het hulle “nog nie die skrif verstaan dat Hy uit die dood moes opstaan nie.”

Ons neem aan dat Maria, nadat sy die dissipels gaan roep het, haar weg weer teruggevind het tot by die graf, want die storie vervolg met haar wat weer buite die graf staan en huil.

Sy is desperaat om Jesus te vind. Sy buk vooroor om in die graf in te kyk en daar sien sy twee engele wat sit waar die liggaam van Jesus gelê het – een waar sy kop was en een waar sy voete was.

“Mevrou,” sê hulle toe vir haar, “waarom huil jy?”

Sy antwoord hulle: “Hulle het my Here weggevat en ek weet nie waar hulle Hom neergelê het nie.” Nadat sy dit gesê het het sy omgedraai en Hom daar sien staan, maar nie besef dat dit Jesus was nie.

Toe Jesus ook vir haar vra “waarom sy huil, verwar sy hom met die tuinier. “Wie soek jy?” vra hy vir haar. “Meneer,” sê sy vir hom, “as u Hom verwyder het, sê vir my waar u Hom neergelê het, en ek sal Hom wegneem.”

En dan, vir die eerste keer in die hele Johannes-evangelie spreek Jesus ’n vrou op haar naam aan. Nie meer “mevrou” nie, maar “Maria!” sê hy vir haar.

Rabboeni!” is haar antwoord onmiddellik. Dit was ’n meer intieme vorm van die aanspreekvorm Rabbi.

Met die dat Jesus haar op haar naam roep en sy die stem van haar geliefde leermeester herken, word die raaisel van die leë graf, en waar Jesus is, uiteindelik opgelos.

Dit het my laat dink aan iets wat ek eenkeer oorgekom het. Vertel die storie van vrou wat voor my kar ingehardloop het.

Sy wou dat ’n kar, enige kar wat verbykom, haar teen spoed raak ry om ’n einde aan haar lewe te maak.

Ek het langs die pad gestop en na haar toe gegaan. Ek kon haar uiteindelik uit die pad uitkry, maar sy was nog vasbeslote om in die pad in te hardloop. Sy was in ’n absolute toestand: sy het verskriklik gehuil en heeltemal onsamehangende goed geskreeu. Ek het haar vasgehou, maar sy het in ’n bondeltjie ingetrek. Dit was onmoontlik om haar te kalmeer.

Wat is jou naam? vra ek uiteindelik. Skielik raak sy stil. “Fransie,” sê sy toe. Dit was die eerste dat daar suksesvolle kommunikasie tussen ons plaasgevind het.

Ek roep haar toe op haar naam en vir die eerste keer het sy haar gesig opgelig en kon ons oogkontak gemaak. Ek kan nie onthou wat ek verder vir haar gesê het nie, maar sy het daarna al hoe rustiger geraak. Uiteindelik het ’n vriendin van haar daar opgedaag en kon sy haar vriend terugneem huis toe.

Ek sal nooit vergeet hoe dit met die hoor van haar naam was dat daar ’n kalmte oor haar gekom het. Dit was amper asof die aanhoor van haar naam haar letterlik uit haar hel uitgeroep het.

Op ’n soortgelyke manier, was dit asof Jesus, deur Maria op haar naam te roep, haar uit haar plek van verdriet en verlies uitgeroep het. Toe eers kon sy sien wat reg voor haar staan, maar waarvoor sy in haar hartseer blind was.

Só word Jesus onthul as die goeie herder en Maria as een van sy skape. Ons lees in Johannes 10, hoe die goeie herder die een is wat sy skape op hul naam roep en wie se skape na sy stem luister.

Hierna maak Jesus, uiteindelik, die betekenis van sy opstanding aan Maria bekend. Dit kom in die vorm van ’n verbod en ’n opdrag. Eers die verbod: Maria moenie aan Jesus vashou nie, omdat hy eers na sy Vader toe moet opvaar. En dan kry sy die opdrag: “gaan na my broers en susters en sê vir hulle, ‘Ek vaar op na my Vader, en julle Vader, en na my God en julle God.’”

Hierin sien ons die hart van wat Jesus se opstanding beteken.

Met die opstanding het die nuwe dag van God se koninkryk aangebreek. Jesus is nou by die Vader, en die Vader is by Jesus. Jesús se God is óns God.

Die opstanding sê vir ons dat die aard van God, die wese van God, die hart van God van nou af bepaal sal word deur God se verhouding met Jesus Christus. En dit is Gód se besluit dat dit so is, want niemand behalwe die Skepper van hemel en aarde kan die dood oorwin nie.

Van nou af is die belangrikste ding wat ons van God weet, die mees bepalende eienskap van God, dit wat vir ons sê wie God ten diepste is, die feit dat God vir Jesus opgewek het. Van nou af is dit onmoontlik om die identiteit van God van die identiteit van Jesus te skei.

Wie is my Vader en jou Vader? Wie is my God en jou God?

Dit is die Een wat geweier het om die politiese en godsdienstige leiers se uitspraak oor Jesus te aanvaar. God verwerp die wêreld se oordeel. Toe die wêreld, toe óns, vir Jesus ‘nee’ gesê het, het God ‘NEE’ gesê vir ons ‘nee’. So is die opstanding God se onweerspreekbare JA vir Jesus. Deur vir Jesus uit die dood uit op te wek, onderskryf God alles wat Jesus gesê en gedoen het.

So sê die opstanding vir ons wie Gód is. Maar dit sê ook vir ons wie Jesús is.

Jesus is nie iets van die verlede nie. Met sy opstanding het God se toekoms aangebreek en daardie toekoms is in Jesus se hande. Jesus lewe en sy passie – dit waaroor hy passievol was, dit waarvoor hy gely en gesterf het – dit het nie tot ’n einde gekom aan die kruis nie. Inteendeel, Jesus se lewe gaan voort. Soos iemand dit stel: “He is alive and at large in the world.”

Dit is hoekom Maria nie aan hom moes vashou nie. Sy kan hom nie meer hê op die ou bekende manier nie. Geloof kyk nie terug na ’n Rabbi wat ’n goeie voorbeeld gestel het nie, dit kyk vorentoe na waar Jesus ons lei, na waar Jesus ’n nuwe weg vir ons baan. Dit beteken dat ons, om getrou te bly aan Jesus, soms moet afskeid neem van ons eie sekerhede; nie net kan vashou aan wat bekend is nie; beskikbaar moet wees om ’n radikaal nuwe wêreld te betree. Moenie aan my vashou nie, sê Jesus, van nou af baan ek vir julle ’n nuwe weg; gaan en bring ander om saam met jou op hierdie nuwe reis te gaan.

So word Maria, die vrou van Magdala, die eerste persoon wat die goeie nuus van Jesus se opstanding verkondig.

Soos ek vroeër genoem het, toe die opgestane Jesus sê, “Maria!” was dit die enigste geval waar Jesus ’n vrou op haar naam aanspreek in die Johannes-evangelie. Hierdie ‘Maria’ was nie getroud gewees nie. In die patriargale wêreld van daai tyd was sy daarom, so te sê, naamloos. Daarom word sy maar genoem na die plek waar sy vandaan kom: Maria Magdalena, Maria van Magdala. Jesus se opstanding was sowel die belangrikste as die mees aanvegbare ding wat die vroeë Christene geglo het, en Jesus kies dat Maria, die vrou van Magdala, die vrou met ’n naam, dat sy die eerste gesant van daardie boodskap moet wees. Sy word die apostel aan die apostels, die een deur wie die dissipels die eerste keer die goeie nuus van die opstanding gehoor het.

Ek het vroeër genoem dat die opstanding vir ons sê wie God is – dat God ten diepste die een is wie vir Jesus opgewek het – en dat dit daarom vir ons sê wie Jesus is – dat Jesus se versoenende, bevrydende, lewegewende werk voortgaan, onbegrens deur die dood, onbegrens deur ons sonde.

In hierdie ontmoeting tussen Jesus en Maria sien ons egter dat die opstanding ook iets besonders vir ons sê oor wie ons nie, oor die mens, oor mense.

Mense maak saak. Elke liewe mens maak vir God saak. Daar is iets wat ononderhandelbaar is aan elke enkele mens. Elke persoon het ’n waardigheid wat gesetel is in die troue liefde van God, wie vir Jesus uit die graf uit geroep het, wie vir Maria op haar naam geroep het.

Ek het ook Vrydag genoem hoe daar volgens oorlewering duisende kruise langs die paaie van Galilea gestaan het in die tyd toe Jesus ’n klein seuntjie was. Jesus sou waarskynlik daardie kruise gesien het.

Die mag van Rome, die mag van die kruis was dat dit mense kon uitwis. Sonder ’n behoorlike begrafnis was die hoop dat so iemand ook uit menseheugenis verwyder kon word. Die atmosfeer waarin mense geleef het, en waarin Jesus grootgeword het, was een waarin die lewe van ’n mens sonder waarde en sonder waardigheid was.

Soos Rowan Williams sê:

“Ancient empires grew and survived by assuming that enormous quantities of human lives were expendable and unimportant; those who fell victim to the system simply disappeared.

But what if they didn’t? Here was ’n message that might well cause alarm: an executed political criminal, instead of disappearing into oblivion, is brought back into the world and his friends are told to speak in his name to his killers, telling them that for their life and health they must trust that he has made peace for them with God.”

In ’n wêreld waarin daar geen waarde geheg was aan die lewe van vrouens, slawe, vreemdelinge en kriminele nie, verkondig die opstanding dat elke lewe waarde het in God se oë. Die God van Jesus is die God wat op ’n besondere manier vashou aan die lewens van elke mens wie se stem stilgemaak is, insluitend persone wie se lewens vermors is, wie se lewens deur geweld kortgeknip is, wie se name en wie se storie uitgewis of vergeet is.

Alhoewel ons nie meer in ’n totalitaristiese samelewing lewe nie, hoef ’n mens net na die 20ste eeu te kyk om talle voorbeelde te sien van hoe maklik van die mees ontwikkelde samelewings die ononderhandelbare waardigheid van mense se lewens kan prysgee.

Daarom moet die opstanding ons waaksaam maak sodat ons ook meer subtiele vorme van uitbuiting en miskenning van mense raak te sien en opstandig te raak daaroor.

Die hoop en die vreugde van Paasfees is dat niemand van ons ooit deur God vergeet word nie, dat ons elkeen op ons naam geroep word om God se toekoms te betree. Ons word geroep om daardie Paasboodskap uit te dra; in woord en in daad. Daartoe word ons elkeen geroep en in staat gestel. Dit kan begin met iets so eenvoudig soos om iemand op hul naam te noem; waar dit sal eindig is dalk te wild vir ons wildste drome.

Handelinge 17:16-34 – 2017

21 Mei 2017 Pinelands Pase 5
Prediker: Dr Tiana Bosman 

Agtergrond

Athene is die hoofstad van Griekeland, een van die oudste stede in die wêreld, en die intellektuele hoofstad van die antieke wêreld. Dit was die sentrum vir kuns, leringe oor uiteenlopende temas en filosofie. ‘n Plek propvol idees en afgode, baie verskillende vorme van godsdiens. Diversiteit en pluraliteit is dus nie net ‘n hedendaagse verskynsel nie. Die filosowe Sokrates, Plato en Aristoteles, almal op soek na wysheid, het hul leringe in Athene verkondig. Sokrates wat 470-399 vC geleef het, is ter dood veroordeel weens die vreemde leringe wat hy verkondig het.

Die Areopagus was beide ‘n plek sowel as ‘n groep mense. Dit was ‘n klein klipheuwel noordwes van die Akropolis in Athene. Dit het ook verwys na die gesaghebbende raad van oudstes wat daar bymekaar gekom het om mense uit te luister en hul besluite te voltrek/oordele te vel. (Laat mens nogals dink aan die oudstes in die OT wat by die ingang van die stad (die hek) gaan sit het om daar geskille te besleg en te oordeel tussen reg en verkeerd.) Vanaf die 5e of 6e eeu vC het die Areopagus bestaan uit 9 archons of hoofmagistrate wat die stadstaat gelei het en wat die grondstene gelê het vir Griekeland se uiteindelike demokrasie. Deur die eeue het die rol van die Areopagus verander, en teen Paulus se tyd het dit ‘n plek vir beredering geword, ‘n plek om te luister na nuwe mense se idees, en is daar veral besluite voltrek in die terreine van kriminele sake, die reg, filosofie en politiek.

Teks

Boodskap

Paulus, wat in die in die sinagoges en in die openbaar op die markplein die evangelie van Jesus Christus verkondig het teenoor wie ookal wou luister (17:17), het nie stilgebly wanneer die filosowe van die dag ook tussen die toehoorders gestaan het nie. Aanvanklik is hy deur hierdie kulturele hoogmoediges gespot. Hulle het na hom verwys as ‘n “praatjiesmaker” wat praat oor “vreemde gode”. Maar hulle nuuskierigheid het die oorhand gekry, hulle was altyd oop om nuwe standpunte te hoor, en daarom het hulle vir Paulus uitgenooi om by die mees invloedryke vergaderplek in Athene vir hulle te verduidelik waar hy aan sy vreemde idees kom.

Ons lees in die eerste vers (16) dat Paulus in sy gees diep verontwaardig was toe hy sien dat die stad vol afgodsbeelde is. Eintlik sou hy kon redeneer dat hy as Christen hom nou in die stad van die vyand bevind, daar waar die bose seëvier. Maar tsv sy ontsteltenis oor wat hy rondom hom sien, begin hy nie om voor die voet afgodsbeelde uit te roei en die inwoners te veroordeel nie. Nee, hy begin eenvoudig in die publieke ruimtes met die mense praat oor God en oor Jesus, daar waar almal hom kon hoor. Aanvanklik val sy woorde nie goed op die oor nie en die intellektueles wat daar rondstaan noem hom ‘n “praatjiesmaker”. Nietemin is hulle belangstelling geprikkel, neem hulle hom na die Areopagus en nooi hom om daar, op die natuurlike “verhoog vir toesprake” in Athene sy saak te stel. “Mag ons weet wat die nuwe leer is wat deur jou verkondig word? Want dit wat jy sê, val vreemd op ons ore en ons wil graag weet wat dit beteken.” Al die Atheners en ook die vreemdelinge wat daar woon het immers vir niks anders tyd gehad as om oor iets nuuts te praat en daarna te luister nie.

“Atheners, ek sien dat julle julle skuldig maak aan die aanbidding van vele afgode, en dis tyd om daarvan af te sien!”, begin Paulus. Nee, eerder: “Atheners, ek sien dat julle in alle opsigte baie godsdienstig is. Want toe ek deur die stad gestap het en noukeurig gekyk het na julle voorwerpe van aanbidding, het ek ook ‘n altaar gevind waarop geskryf staan, ‘Aan ‘n onbekende god.’” Paulus vind ‘n aanknopingspunt met sy gehoor! Hy ontmoet hulle op gelyke grond (“common ground”). Sy retoriek was weldeurdag en slim toegepas.

Die woord “om baie godsdientig te wees” het 2 betekenisse. Die positiewe betekenis is presies dit – om baie godsdienstig te wees. Die negatiewe betekenis, wat Paulus waarskynlik ook tong in die kies sou bedoel sonder om dit op hierdie moment pertinent te stel, het verwys na – om baie bygelowig te wees. Natuurlik, vanuit sy geloof in die een God van Jesus Christus alleen, besef Paulus dat dit hier in Athene ook gaan om bygelowigheid, al weet hulle dit self nog nie. Hulle het so baie gode dat hulle selfs een sonder naam het – asof hulle sodoende al hulle “wickets wil cover” – glad nie ‘n gaping wil laat vir ‘n plek in hulle lewe waar ‘n afgod nie na hulle omsien nie.

Maar Paulus gaan eerder verder met die gedagte van hulle godsdienstigheid. En daar waar hulle onsekerheid juis blootgestel word, by die aanbidding van ‘n onbekende afgod naas al die ander, net daar klim Paulus in en gee aan daardie onbekende god ‘n naam: “Wat julle dan onwetend aanbid, verkondig ek aan julle. Die God wat die wêreld gemaak het en alles wat daarin is, Hy wat die Here is van hemel en aarde, woon nie in tempels wat met hande gemaak is nie. Hy word nie deur menselike hande bedien, asof Hy aan iets behoefte het nie…” (23-28 ev).

Die kern van Paulus se boodskap is dieselfde as wat Stefanus laas week aan die hoëpriester en die Joodse Raad verkondig het: “Die Allerhoogste woon [egter] nie in tempels wat met hande gemaak is nie… ‘Watter soort huis sal julle vir My bou, sê die Here, of waar is my rusplek? Het my hand nie al hierdie dinge gemaak nie?’ (Hand 7: 48-50)

Paulus ontmoet die heidense Atheners daar waar hulle is. En hy gaan in gesprek met hulle oor daar waar hy is, maar hy doen dit op ‘n nie-aanvallende, nie-bedreigende manier. Christene isoleer hulself soms so graag van die kultuur van hul dag. Christene wat so gewy is aan introspeksie, selfgerig, selfbelang, beskermd, in plaas daarvan dat ons in gesprek gaan met mense by ons hedendaagse Areopagusse. (Interessant dat die Latynse naam vir die Areopagus “Mars heuwel” is – ‘n treffende naam vir ‘n plek waar vreemde gedagtes aan vreemdelinge verkondig word.)

Die godsdiens-in-skole debat is tans weer voorbladnuus in die koerante. Ons staan die gevaar om ons kinders so beskermd groot te maak dat hulle eendag nie in die wêreld daar buite kan funksioneer nie – dink maar aan die effek wat sommige ekstreem-godsdienstige skole het op die kinders wat daar skoolgaan se toekoms(tige wanaanpassings in die wêreld). Wanneer predikante bymekaar kom vir ‘n vergadering of ringsitting of sinode, klink dit dikwels asof hulle bloot maar met hulself praat, eerder as om in gesprek te tree met die mense daar buite en die brandende kwessies van die dag. Daar is (ek dink nie in ons gemeente nie, maar wel elders) gelowiges wat kies om eerder die flieks en die vertonings by die KunsteKaap te vermy, want hulle is ongemaklik met die (wêreldse) “elemente” wat daar uithang. (Maatjies van my kinders wat nie boeke oor meerminne of Harry Potter mag lees nie, want dis van die duiwel af.) Of mense wat roem daarop dat hulle nét die Bybel lees en geen ander boeke nie…

Moet dit nie dalk eerder so wees dat Christene net so gemaklik is om te leef, te leer en te deel (deel te neem aan gesprekke) op die markplein waar allerhande verskillende idees en opinies gelig word, as in die kerk nie? Dat gelowiges in die kerk, maar dan ook by ‘n coffeeshop die evangelie kan verkondig, in eredienste sowel as in lesingsale by die universiteit. Dat gelowiges geleenthede moet aangryp om, soos Paulus, mense te ontmoet in hulle leefwêreld – daar waar die mense leef, werk, en dink. Dat daar nie net met mense gepraat word in die eredienste nie, want baie mense (veral dan ook ongelowiges) kom nie eredienste toe nie, het nie ‘n behoefte daaraan nie. Maar dat ons die erediens sal uitdra na die alledaagse lewe toe, dat mense daar sal hoor van ons “vreemde idees” aangaande die evangelie van die opstanding, ja, die opstanding uit die dood – het julle al ooit gehoor daarvan!, die evangelie van genade, vergifnis en nuwe lewe, vir álmal, ja nie net vir ‘n paar freaky kerkgangers nie, maar vir almal – ook vir elkeen van julle hier… Trouens, God is híér (soos Paulus vir sy aanhoorders sê). Hy woon nie in tempels en in kerkgeboue nie. Hy is hier, in die wêreld, hier op die markplein, hier in die Waterfront, hier op Leeukop – Hy is naby aan elkeen van ons. Kyk net om julle heen – kyk na dit alles – God het dit gemaak! Soos Hy ook vir elkeen van ons gemaak het.

Daar is in Paulus se denke geen persoon of sfeer van invloed wat buite God se sorg staan nie. Die sogenaamde “sekulêre” lewe is, nes die “godsdienstige” dinge ook ruimtes vir God se liefdevolle teenwoordigheid, of dit het ten minste die potensiaal daartoe – die regte, literatuur, mediese wetenskap, opvoeding, die kunste, besigheid, regering, wetenskap, enigiets onder die son. Paulus beskou die Areopagus as net nog ‘n plek waar die Here van die ganse skepping hom vooruitgegaan het en alreeds teenwoordig was, immers “Hy is nie ver van enige van ons af nie”.

“Is dit dan nie een van julle digters wat gesê het dat ons deur Hom leef, beweeg en bestaan nie, dat ons van sy geslag (sy familie) is nie, dws familie van Hom! Ja, die heidense digter Aratus het dit in 270 vC in Athene gesê. Hy het gepraat van hierdie onbekende god van julle,” sê Paulus, “selfs al kon hy Hom nie op die naam noem nie.” Van die filosowe van daardie tyd het die spreekwoord gegeld: “Hulle ken God en praat oor Hom sonder dat hulle dit bedoel.”

“300 jaar gelede is die waarheid al hier in julle kultuur verkondig deur heidense filosowe! Diewaarheid het my vooruitgegaan!”

Ek wil afsluit met 2 punte:

  1. Ons word opgeroep om met die wêreld in gesprek te tree oor die God van die opgestane Christus, en om dan die wêreld te ontmoet waar hulle is, op hulle gronde. Ons moenie sit en wag dat die ongelowiges eendag kerk toe sal begin kom nie. Want dit gaan nie gebeur nie. Hoeveel gelowiges kom nie eens meer kerk toe nie…

In 1992 het afgestudeerde Harvard studente begin met gesprekke wat later bekend sou staan as die Veritas Forums. In 1997 het ‘n boek hieroor verskyn, Finding God at Harvard, wat die stories vertel het van meer as 40 Harvard kollegas, alumni en vriende. Hulle leuse is Areopagiaans: “We create forums for the exploration of true life. We seek to inspire the shapers of tomorrow’s culture to connect their hardest questions with the person and story of Jesus Christ” (see www.veritas.org). Huidiglik is meer as 80 universiteite betrokke by Veritas, en die formaat is altyd gerig daarop om eerlike, publieke dialoog en debat aan te moedig, eerder as om dit te onderdruk.

  1. Jy mag verras word – die wêreld daar buite is dalk meer ontvanklik as wat jy sou verwag het. Die gesprekke binne die kerk en geloofskringe is soms baie meer ongenaakbaar as die gesprekke met ongelowiges – met ongelowige akademici, filosowe, wetenskaplikes… Onthou, Paulus verkondig in wese dieselfde boodskap as Stefanus. Maar Paulus praat met ongelowiges, en met die mense wat graag nuwe dinge hoor en hulle skeptisisme skep ruimte vir hom, dws vir mense wat anders dink as hulle. Hulle is nogals oop vir hom, gee hom ‘n kans, luister hom uit. Hulle vra om die waarheid te sê die gesprek aan! En sommige, lees ons vanaf vs 32, het hom uitgelag – dit was nie maklik nie. Maar daar is ander wat gesê het “ons sal jou weer hieroor wil hoor”. En daar was selfs ‘n handvol wat tot geloof gekom het en by hom aangesluit het, en van wie ‘n lid van die Areopagus was (Dionisius)…

Paulus praat met ongelowige intellektuele mense, en hulle gee hom “the time of day”. Hy kan voortgaan met die verkondiging van die evangelie. Stefanus, daarteenoor, praat met godsdienstige Jode!, en hulle raak briesend kwaad, so dat hulle op hulle tande kners… en hulle gooi hom dood…

Ek sluit af met Handelinge 26: 1-3; 24-29…

Kenré en Esti – julle kies hoe en waar julle vir Peet gaan grootmaak. Julle keuses het ‘n effek op sy eie vorming sowel die getuienis wat hy eendag gaan lewer. Moenie bang wees om hom die wêreld in te stuur nie, moet hom nie tot die eng “godsdienssfere” beperk nie. So doen julle hom nie ‘n guns nie, ook nie die wêreld nie. Onthou, God is nie beperk tot ‘n kerkgebou of die huise van gelowiges en die skole waar net die Xlike godsdiens voor ruimte gemaak word nie. As kind van God is Peet nie van hierdie wêreld nie, maar hy is wel in hierdie wêreld. Moet daarom nie sy leisels te styf span nie, want waar hy ookal gaan was God hom reeds vooruit.

Mag dit met jou goed gaan, Peet,

mag God vrede vir jou gee,

mag jy nooit bang hoef te wees nie,

mag jy liefde om jou hê,

mag Peet se hart vir almal oopgaan,

mag sy drome ver paaie streel,

mag hy leer om die wind onder sy vlerke

met alle mense om hom te deel.

– Uit Anton Goosen se lied “Moya”, hier aangepas vir Peet

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.

Lukas 24:13-35 – 2017

30 April 2017 Pinelands Pase 3
Prediker: Dr Tiana Bosman 

Teks

24 daar is geen konkrete bewyse dat Hy leef nie

25 “Oo, stadige harte van geloof in alles wat die profete gesê het!”

34 Daar was nóg ‘n verskyning behalwe vir die een op die pad!

Twee stelle getuienisse ondersteun nou die vroue se vertelling

Boodskap

“Ons het so gehoop…” sê die twee dissipels op hul pad na Emmaus vir die vreemdeling wat by hulle aansluit. Hierdie woorde is so gelade. Dit spreek van ‘n toekoms wat nie meer kan wees nie, ‘n droom wat nie gerealiseer het nie, ‘n belofte wat geloof wakkergemaak het, maar op die ou-end vals was, ‘n geslote toekoms, dood… Ernest Hemmingway is eenkeer voor die uitdaging gestel om ‘n 6-woorde kortverhaal te skryf. Hy skryf toe op ‘n servet: “For Sale: Baby shoes, never used.” Nog nooit was ‘n kortverhaal so lank en hartseer nie.

Ons hier in SA ken teleurgestelde hoop. Ons het so gehoop dat Zuma na al sy skandale – Nkandla, die belasting skandaal, Nene, die Guptas, Pravin, om maar ‘n paar wat uitstaan te noem – ons het so gehoop dat hy teen die tyd nie meer president sou wees nie.

Ons het so gehoop dat dit weer duidelik sal blyk dat die Here aan bewind is in SA. Is dit dan nie waaroor verlede naweek se One-Time gebedsbyeenkoms in Bloemfontein, gelei deur die evangelis Angus Buchan, gegaan het nie? Dit is dié geleentheid vir herlewing, het Buchan vooraf gesê (blykbaar vir God hoor sê), nou of nooit! “After 22 April, South Africa will be a changed country,” says Angus Buchan (http://angusbuchan.co.za/wp-content/uploads/2017/03/Its-Time-English-1-Million-pray-in-South-Africa.pdf).

“Ons het so gehoop dat Jesus van Nasaret, die profeet wat magtig was in woord en daad in die oë van God en die hele volk, dat dit Hy is wat Israel gaan verlos. Maar nou het ons leierpriesters en ons volksleiers Hom oorgelewer om ter dood veroordeel te word, en Hom laat kruisig. Intussen is dit nou al die derde dag vandat dit gebeur het.”

Die uitslag is dus vas en seker. Hy het nie gewen nie, Hy het die stryd verloor… Om alles te kroon is daar nou nog ‘n groep vroue uit hulle dissipelgroep wat hulle ook nog ontstel. Die vroue was die oggend vroeg by die graf, maar hulle kon Jesus se liggaam nie vind nie. Hulle vertel dat hulle ‘n visioengesine het van engele wat sê dat Hy leef! Maar van die manne het toe na die graf toe gegaan, en nes die vroue het hulle Hom ook nie gesien nie. Jesus is nie net dood nie, Hy is nog weg ook.

So deel die twee dissipels hulle uitsigloosheid oor die toekoms met die vreemdeling. Of mens hulle op hierdie punt nog dissipels moet noem, is seker ‘n vraag. Want hulle was eens volgelinge van Jesus van Nasaret, maar Hy is nou dood, daar is nie meer iemand om te volg nie.

Die ironie is nou dat hierdie twee manne, sonder dat hulle dit besef, besig is om saam met Jésus te stap, en om vir Jésus te vertel dat Hy dood is. Die einste Een wie se dood vir hulle so hartseer maak, so wanhopig, so twyfelagtig oor wat die toekoms nóú vir hulle inhou, noudat Hy dóód is (en hulle eie leiers het Hom doodgemaak!), hierdie einste Een stap nou in lewende lywe met hulle saam en luister na sy storie vanuit hulle perspektief. Hulle dink nog hulle praat met “die enigste vreemdeling in Jerusalem,” die een wat niks van Jesus van Nasaret af weet nie, maar toe spreek hierdie “vreemdeling” hulle aan en Hy begin om die profete en die Skrifte vir hulle uit te lê, al die gedeeltes wat op Homself betrekking het. “Moes die Christus (dan) nie hierdie dinge ly om in sy heerlikheid in te gaan nie?” Asof Hy hiermee wou sê: “Is dit wat gebeur het dan nie juis ‘n bekragtiging van hoop as dat dit ‘n boodskap van wanhoop is nie? Ken julle dan nie julle Bybel nie? Ken julle dan nie julle Here nie?”

Met die kom die drie geselsende manne toe in Emmaus aan, en die “vreemdeling” Jesus maak of Hy verder wou gaan. Maar Kleopas en sy vriend dring by Hom aan: “Bly by ons, want dit is amper aand en die dag is al verby.” Hy gaan toe in om by hulle oor te bly.

Om gasvryheid te beoefen was geweldig belangrik in daardie kultuur. Dat die manne vir Jesus (al het hulle Hom as ‘n vreemdeling beskou) ingenooi het, was die ordentlike ding om te doen. Die volgende sou wees dat hulle soos goeie gashere Hom moes bedien met ‘n ete aan tafel. Hulle gaan sit-lê soos in daardie dae toe om die tafel, maar kyk: in plaas daarvan dat Jesus wag om deur sy gashere bedien te word, neem Hy die rol as gasheer oor en word Hy die een wat húlle bedien. Hy neem die brood, vra die seën, breek dit en gee dit vir hulle. Hierdie handeling van Hom bring die vermoë om werklik te sien wat voor hande is – Wie voor hande is! – na hulle toe terug, en hulle herken Hom. Presies wat die herkenning wakkergemaak het, wee tons nie. Wie weet – dalk het hulle die merkte van die spykers in sy hande gesien toe Hy die brood aan hulle bedien het? En nadat Jesus toe verdwyn het, sê hulle vir mekaar: “Het ons harte nie warm geword toe Hy op die pad met ons gepraat en vir ons die Skrif uitgelê het nie?” Amper of hulle met terugskoue wil sê: “Moes ons nie tóé al geweet het nie?!”

Hulle het gedink daar is vir hulle niks meer in Jerusalem oor nie. Hulle het juis daarheen gegaan om fees te vier. Na Jesus se kruisiging en sterwe het hulle hoop op ‘n toekoms gesterf, en het hulle besluit om die stad weer te verlaat. Net om op hulle pad geleidelik te ontdek en later werklik te síén dat hulle hoop nie dood is nie maar léwe; dat die realiteit waarmee hulle na die naweek sit nie Jesus se dood is nie, maar sy opstanding. Dat Hy na alles wat Hy moes ly, weer kon terugkom en nogmaals brood kon breek soos so dikwels tydens sy bediening.

Dit mag dalk lyk asof Jesus inderdaad gesterf het, asof Hy verloor het. Al die bewyse is daar. Die realiteit van die gebeure. Die koning sonder mag. Uitgelewer deur sy eie mense. Bespot en gedood. Die graf. Leeg. Sekerlik nie omdat Hy uit die dood uit opgewek is nie, al sou ‘n groep vrouens dit uit die mond van engele hoor! Sy liggaam is seker eerder verskuif  na ‘n ander graf, of gesteel. Wie weet? Dis elk geval baie meer logies as dat Hy opgewek is… Die realiteite van die normale lewe het gemaak dat die Emmausgangers vir Jesus sien sonder om Hom werklik te sien. Dit sou tog nie sin maak dat dit Hy is wat saam met hulle stap nie. Dis tog nie moontlik nie. Hulle wens so dit was (“ons het so gehoop…”), maar dit is nie.

Totdat Hy, nadat Hy gebid het, die brood vir hulle breek…

Dit herinner ons aan Johannes 21 se vertelling langs die See van Galilea. Ook ‘n groep van die dissipels wat hoop verloor het om die toekoms sonder Jesus in te gaan, en toe weer teruggekeer het na dit wat hulle ken – visvang. Ook daar het die Here hulle kon ontmoet (hulle het nie gevra nie omdat hulle gewéét het dit is Hy – hoe?, maar wel). Ook daar het Hy hulle bedien met brood en met vis. En ook na daardie ontmoeting is hulle uitgestuur om te gaan vertel en om ander te gaan bedien.

Die twee Emmausgangers, soos ook die ander dissipels, wat in die verhaal in soveel vertwyfeling verkeer, soveel uitsigloosheid, is nie mense wat nog nooit in God geglo het nie. Hulle is nie mense wat in elk geval buite die geloofstradisie geleef het nie. Hulle was volgelinge van Jesus, deel van sy wyer kring dissipels. Hulle is mense wat reeds binne-in die geskiedenis van die hoop gestaan het, die hoop dat Jesus van Nasaret die Verlosser van Israel sou wees. Maar nou, na die naweek se gebeure, het hulle hul hoop verloor.

Amper dalk soos ons. In ons eie realistiese situasies van vasgelooptheid en uitsigloosheid. Situasies van wanhoop. In ons verhoudinge. In ons gesondheid, of eerder gebrek daaraan. In ons kinders en hulle donker, onseker toekoms. In ons land… Ons sou kon redeneer dat ons nog nooit ‘n goddelike ingrype so nodig gehad het soos nou nie! “One Time! – Now!,” sê Buchan.

Maar wat het alles gebeur sedert verlede Saterdag se gebedsbyeenkoms? Ja, honderde duisende mense se harte het warm geword tydens die geleentheid. Daarvan is die koerante en sosiale media vol. Maar wat het gebeur? Wat het verander in die land? Waar is daar meer vrede en versoening na afloop van die naweek? Wat eerder hierdie week in die hoofopskrifte uitstaan is die protes en onluste in Coligny en Lichtenburg. So much for hope…

Die Christelike geloof in Jesus se opstanding daag ons uit om nie hoop te verloor nie, al lyk dit asof niks gebeur nie. Dit antwoord is nie of ons in ons honderd duisende saam optrek om op ‘n plaas tot God te gaan bid nie. Dit is, na my verstaan van die evangelie, eerder daar waar 2 of meer in Sy Naam bymekaarkom, sý wil soek, alles in hulle vermoë doen om sý koninkryk sigbaar te maak. Dit is wat die dissipels doen nadat hulle vir Jesus herken. Hulle gaan om ‘n verskil te maak.

Een teoloog maak baie daarvan dat ons eers gebroke harte moet hê voordat ons brande harte kan ervaar. Hy is dalk nie verkeerd nie. Die Katolieke priester/pastor Henry Nouwen neem die vers van Jesus wat die brood geneem, geseën, gebreek en uitgedeel het, en maak dit direk van toepassing op gelowiges se lewens (Life of the beloved). Soos met die brood word ook ons geneem, geseën en gebreek voordat ons gereed is om uitgedeel te word, voordat ons gereed is om ander te help voed en versorg.

“Het ons harte dan nie warm geword nie…?” Die teoloog Gollwitzer skryf: “Van toe af het hulle gewéét: dit mag lyk asof ons totaal en al verlate is, dit mag lyk asof ons self ons eie lewenshoop doodgeslaan het, dit mag lyk asof God Hom heeltemal van ons afgewend het, dit mag lyk asof Christus hoegenaamd nie meer daar is vir ons nie, dit mag lyk asof Jesus en sy Woord en die Heilige Skrif heeltemal doodgegaan het vir ons, dit mag lyk asof daar niks meer is om te hoop nie, dit mag so lyk … en in werklikheid is Jesus reeds lankal met ons op die pad…”

Teen alle hoop in, het ons harte iewers in die verlede warm geword. Dalk verklaarbaar, dalk nie. Maar dis daardie ervaringe wat maak dat ons nie soveel hoop verloor dat ons nie meer kerk toe kom nie. Dis hoekom ons vanoggend hier is. Daar ís hoop want Christus leef. Mag ons daardie vlam vir ander mense sigbaar maak.

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.