Handelinge 2:1-21

9 Junie 2019

Pinkster
Prediker: Ds. Helgard Pretorius

Met Pinkster vier ons dat God aan ons, aan mense, aan die ganse skepping, Sy asem skenk. Ons vier vandag hoe die liefdevolle lewensadem van God wat ook vir Jesus in sy lewe bemagtig het ook aan ons geskenk word.

Ons het hierdie jaar saam met die evangelie volgens Lukas deur Jesus se lewe gereis; en julle sal onthou dat daardie verhaal by Jesus se doop in die Jordaan-rivier begin het. Soos Jesus uit die water opgekom het, het die Heilige Gees op hom neergedaal en op dieselfde oomblik hoor hy die Vader se stem wat sê: Jy is my geliefde kind. Ek vind groot vreugde in jou.

Daardie stem van onvoorwaardelike liefde en aanvaarding is die lewenskrag van Jesus; dit is die basis van alles wat hy verrig het en alles wat hy onderrig het.

En soos wat Lukas sy evangelie begin met God wat sy Gees aan Jesus skenk, so begin hy sy tweede volume, die boek van Handelinge, met God wat sy Gees oor Jesus se volgelinge uitstort. Ons gaan dit vanoggend lees.

Vir konteks: Jesus se laaste opdrag aan sy dissipels voor sy hemelvaart, was om in Jerusalem te wag sodat God daar die Heilige Gees vir hulle kan gee. Dink aan wat Jesus hier van hulle vra: Eerstens, is die dissipels Galileërs en nie van Jerusalem nie. Dit is vir hulle ’n vreemde stad. Meer nog, dit is die plek waar Jesus vermoor is en waar dit nie veilig is om ’n volgeling van Jesus te wees nie. Dit is ook die plek waar die dissipels vir Jesus verraai het, waar hulle hom verlaat en verloën net. Dit is die plek van mislukking, die plek van hulle ontrou aan Jesus. Daar, juis daar, op ons plek van mislukking en ontrou moet ons op God se bemagtiging wag.

Ek wonder wat beteken dit vir jou? Ek wonder wat sou dit vir jou beteken om in Jerusalem te bly wag – in jou plek van mislukking en ontrou? Waar is dit vir jou?

***

So vind ons dan aan die begin van vanoggend se gedeelte die dissipels in Jerusalem. Hulle is almal saam in ’n vertrek. Hulle wag. Heel moontlik is die deure uit vrees gesluit. Die volgende oomblik is daar ’n harde geluid soos ’n Kaapse stormwind wat nie net die huis vul waarin hulle was nie, maar ook die die hele buurt na hulle toe lok. Tonge soos vlamme verskyn en verdeel om op elkeen van hulle neer te daal.

Vuur en sterk stormwinde was natuurlik bekende Ou-Testamentiese tekens van God se ongetemde teenwoordigheid. En wat is die effek van God se teenwoordigheid in hierdie geval? Hulle is met die Heilige Gees is elkeen toegerus om ’n ander taal te praat.

Dit was die tyd van die Joodse Pinksterfees en daar was pelgrims vanuit eke windrigting vir hierdie fees in die stad. En soos mense uit nuuskierigheid nader kom om uit te vind wat die oorsaak van die groot lawaai is, kom hulle agter dat hierdie groep Galileërs die taal waarmee hulle elkeen grootgeword het.

Hoe kan dit wees? Wat is hier aan die gang?

***

Die mense het hoofsaaklik twee reaksies op hierdie vreemde gebeurtenis. Ons hoor hoe baie van die mense – positief verras en in verwondering oor wat hulle sien en hoor – vra: “Wat beteken dit tog?”

Maar ander mense sien hierdie verskynsel en maak dit af: “hulle is vol soetwyn!” sê hulle. Dit is “spirits” wat so maak, nie “the Spirit” nie.

Twee reaksies op die koms van God se Gees: Een ’n reaksie van meelewing en verwondering; die ander een, ’n amper siniese houding wat ’n werklike ontmoeting wil ontduik. Ook in onsself kan daar meerdere reaksies op die Gees se koms wees.

Ek het die week geluister na ’n gedig van DH Lawrence. Dit begin so:

“Not I, not I, but the wind that blows
through me!
A fine wind is blowing the new
direction of Time.
If only I let it bear me, carry me,
if only it carry me!
If only, most lovely of all, I yield
myself and am borrowed
by the fine, fine wind that takes its course through the chaos of the world”

Song of a Man Who Has Come Through, DH Lawrence

Mens hoor hier ’n diep verlange om deur die Gees vervul te word – nie Ek self nie maar die wind wat deur my waai! Maar dan, later, in dieselfde gedig:

“What is the Knocking?
What is the Knocking at the door in
the night?
It is somebody wants to do us harm.”

Selfs in die hart van een persoon, kan ons gemengde gevoelens koester oor die Gees se koms. Ons kan daarna verlang en terselfdertyd bang wees vir die onbekende. En ons kan ons vrees selfs verbloem in ’n uitwaartse siniese houding wat die Gees op ’n afstand probeer hou. Die uitnodiging wat die teks aan ons rig, is om lank genoeg in die plek van verwondering te vertoef, totdat ’n mens uiteindelik nie net sê: “wat beteken dit tog?” nie, maar uiteindelik ook, “wat moet ons doen?”

***

Maar Petrus nooi die spotters uit om ’n dieper waarheid raak te sien. Hierdie mense kan nie vol soetwyn wees nie; dus 09:00 in die oggend! Die groot Boeing het nog nie eers oorgevlieg nie!

En dan staan Petrus op en lewer die preek van sy lewe. Ons het vanoggend net die eerste gedeelte daarvan gelees, en in hierdie gedeelte haal Petrus die Hebreeuse profeet, Joël aan. En in hierdie profesie hoor ons hoe God deur sy Gees juis dié mense in die samelewing wat tipies nie ’n stem gehad het nie gaan gebruik om sy Woord te verkondig:

          ‘Ek sal my Gees op alle vlees uitstort –
          julle seuns en julle dogters sal profeteer
          en julle jongmense sal visioene sien,
en julle ou mense sal drome droom.
          Ja, ook oor my diensknegte en diensmaagde
          sal Ek in daardie dae my Gees uitstort en hulle sal
profeteer.’

In ’n patriargale, hiërargiese samelewing, wat streng deur godsdienstige reinheidswette georden was, belowe God om selfs die jong slawemeisie sy spreekbuis te maak. God se Gees kan nie mak gemaak word en beperk word tot enkele bevoorregte individue soos die koning of die priester nie.

Nee, sê Joël, die bestemming van God se Gees is ‘alle vlees’, alle mense. Dit laat mens dink aan Paulus se visie van Christus wat eendag die hele heelal, alles en almal gaan vul.

 Die vraag is natuurlik – veral vir die van ons wat reeds ’n stem het – of ons dan steeds sal sê: “Not I, not I, but the wind that blows through me!” of dalk eerder “What is the Knocking? What is the knocking at the door in the night? It is someone wants to do us harm.”

Wat julle hier sien, verduidelik Petrus vir sy gehoor, is die vervulling van Joël se profesie. Die eindtyd het aangebreek. Vir hulle wat hulle bevoorregte posisie in die samelewing wil beskerm, mag dit dalk voel soos ’n einde, maar eintlik is dit ’n nuwe begin.

Kyk net hoe het hierdie vreesbevange Galileërs, aanvanklik toegesluit in ’n vertrek, net soos hulle begin dink het dis die einde van die pad vir hulle, skielik ’n stem kry en met groot waagmoed getuies word van die evangelie.

***

Die eerste ding wat ons dus met die koms van die Gees opmerk is dat die Gees mense aan die beweeg sit om in al hoe wyer sirkels hulle mag en vriendskap met ander te deel. Dit is ’n beweging van groeiende verbondenheid met al God se skepsels; en daarom dring die Gees ons om bestaande magsverhoudings wat sulke verbondenheid en intimiteit tussen mense verhoed, uit te daag en te omskep.

Mense wat nie ’n stem het nie, moet ’n stem ontvang; en terselfdertyd moet ons wat dalk altyd ’n sê gehad het, leer dat daar gawes is wat God kies om net deur ander mense vir ons te gee – en dalk in besonder die mense wat ek gedink het te jonk, of te oud, of te arm, of te onopgevoed, of te eenvoudig is.

’n Tweede ding wat ’n mens opval oor die koms van die Gees in hierdie verhaal hou verband met hoe die Gees die dissipels in staat stel om die Woord van God in vreemde tale aan mense te kommunikeer.

Wat veral uitstaan van hierdie wonderwerk is dat dit nie ’n wonder van ‘hoor’ is nie, maar ’n wonder van ‘spreek’. Die Gees gee nie vir die mense van verskillende volke die vermoë om die Galileërs se unieke dialek te verstaan nie. Nee, dit gee vir die Galileërs die vermoë om vreemde tale te spreek.

Ek weet sommige mense vind dit makliker as ander, maar my ervaring met die aanleer van ’n nuwe taal het my oortuig dat jy daarvoor niks minder as die Heilige Gees nodig het nie. Ndiafunda ukuthetha isiXhosa; ek probeer al vir ’n geruime tyd isiXhosa aanleer, maar dit is al stotterend en stamelend.

Dikwels wanneer ek ’n geleentheid het om met ’n Xhosa-sprekende persoon, in hulle moedertaal te praat, voel ek so hulpeloos en so skaam oor hoe stadig ek vorder dat ek maar eerder oorslaan Engels toe.

Want as ek ’n vreemde taal praat is ek nie meer in beheer nie. Die woorde voel soos koue albasters in my mond, en skielik is my woordeskat veel kleiner as die ander persoon s’n. Skielik is ek afhanklik van die ander persoon se goedgesindheid en geduld om my foute uit te wys en om my reg te help.

Dalk is dit die punt. Dalk is dit wat die Gees vir ons deur hierdie wonderwerk wil leer… dat ek God se goeie nuus die beste hoor en kommunikeer wanneer ek in die posisie van die nederige, afhanklike en stamelende leerling is. Om die Gees te ontvang kan ek nie aan my mag en beheer vasklou nie, maar moet my hande oop wees om te ontvang. En om die Gees te volg, vra dat ek selfs die risiko sal loop dat mense dink ek is vol soetwyn.

Om die taal van ’n ander persoon te praat, is ’n liefdesdaad. Dit is om iemand in hulle uniekheid en eiesoortigheid raak te sien en te erken; dit is om vir iemand te sê, ek ag jou genoeg om jou posisie – jou grammatika, jou woordeskat, jou unieke dialek – as my vertrekpunt te neem, eerder as myne. En daarom is die Gees wat die dissipels vreemde tale laat praat, uiteindelik, ten diepste, die Gees van liefde.

***

So, dink ek, is die werking van die Gees: dat dit ons al hoe meer instel op die behoeftes van ander, en ons toerus om lief te hê in situasies wat aanvanklik vir ons vreemd, of uitdagend, of bedreigend mag voel. In sulke situasies is die Gees die groot vertaler.

Eers het die Gees die liefde van die Skepper vertaal en die asemrowende heelal het tot stand gekom. Later het die Gees, in die lewe van Jesus, die liefde van God vertaal in die vorm van ’n brose menslike lewe. Vanoggend is ons daaraan herinner dat die groot Vertaler steeds aan die werk is om die evangelie in die unieke dialek van elkeen van ons lewens te vertaal. Mag die Gees ons elkeen bemagtig om te sê:

“Not I, not I, but the wind that blows
through me!
A fine wind is blowing the new
direction of Time.
If only I let it bear me, carry me,
if only it carry me!
If only, most lovely of all, I yield
myself and am borrowed
by the fine, fine wind that takes its course through the chaos of the world.”

1 Korintiërs 12-14 – 2017

4 Junie 2017 Pinkesterfees Pinelands
Prediker: Dr Tiana Bosman

Wat beteken lidmaatskap? Om lid te wees van ‘n gemeente? Lid van die NGK? Van die algemene Katolieke Kerk?

Wat is die saak van die kerk? Die identiteit? Die sending? Wat is ons getuienistaak? Waarvoor vuur die Gees ons aan?

In die gemeente van Korinte as daar erge verdeeldheid onder die gelowiges. Die sake:

  • Verdeelde lojaliteite aan verskillende evangeliste
  • Die waarde van geestelike wysheid (en invloed van gnostiese sienswyses)
  • Laë moraliteit
  • Wetlike onderduimsheid in heidense howe
  • Die eet van kosse wat aan afgode geoffer is
  • Gemeentelike praktyke soos die doop en die Nagmaal
  • Die praat in tale
  • Die leer van die opstanding

Voeg hierby toe die diverse samestelling van die gemeente met ‘n verskeidenheid van subkulture:

  • Jode en Grieke
  • Slawe en vrymense, sowel as ‘n paar van aristokratiese afkoms
  • Magtiges en swakkes
  • Wyses en eenvoudiges (1: 26-27, 12:13)
  • Mans en vroue, maar daar wil Paulus nie eens met hierdie gemeente gaan nie omdat hulle verhoudinge hier so problematies is (hfst 7)

Onderlinge sosiologiese, politieke en godsdientige verskille. Persoonlike (fisiologiese en psigologiese behoeftes) en teologiese verskille.

’n Kompeterende houding tov die gawes van die Gees, waar diegene wat in tale kan praat dink dat hulle meerderwaardig is en neersien of diegene met die minder indrukwekkende gawes.

Met hierdie gemeente praat Paulus en skryf hy soos volg:

LEES 1 Kor 12: 1-13

Vs 3 – die kenmerk van die Christelike identiteit lê nie in die gawe van die Gees wat iemand ontvang het nie, maar in sy of haar publieke getuienis dat Jesus die Here is. Dít is die tell-tale sign, dít is die give-away.

Vs 7 – aan elkeen word gegee met die oog op wat bevorderlik is – bevorderlik vir wie? Vir almal! Beter vertaling: sodat almal daaruit kan voordeel trek, sodat ander daaruit voordeel kan trek, for the benefit of all, the common good

Na vs 11 – Die gawes van die Gees aan individue word verenig, bymekaargebring deur ‘n gemeenskaplike/gedeelde bron, die een Gees, en ook deur ‘n gedeelde doel: tot almal se voordeel.

Na vs 13 – Ons is almal verskillend van mekaar en ons het ‘n verskeidenheid van gawes ontvang. Die verskeidenheid is daar om die eenheid te dien. Maar gebeur dit wel? Of is dit onder gelowiges vandag so dat ons verskille (ook ons verskillende genadegawes) ons eerder verdeel as verenig? Roem ons in ons eie gawes terwyl ons die andersoortige gawes van ander minag? Kan ander, wanneer hulle na ons kyk, die liggaam van Christus raaksien of sien hulle eerder die krake in die gesig/voorkoms van die kerk?

1 Kor 12: 14-31

Na vs 14 – Paulus gebruik die baie bekende metafoor van die menslike liggaam om sy argument rondom die gawes van die Gees tuis te bring. Hierdie was in die eerste plek ‘n sosiale metafoor (nie geloofs- nie) waarmee mense hulself of ander in die samelewing vlgs rangorde geposisioneer het: Die kop is die heel belangrikste (natuurlik die slimste en die magtigste). Die kop werk nie self nie, maar sê vir die ander liggaamdele om hul werk te doen. Die kop gee vir die hande werk. Maar die werk van die hande is darem weer baie beter as die werk van die voete wat die hele liggaam moet dra.

Na vs 17 – Enige poging om jouself van die liggaam te skei, sal uitloop op mislukking.  Om in ‘n persoonike verhouding met Christus te wees, is om deel te wees van sy liggaam. Like it or not, everyone has to learn to live with the smell. ONS HET MEKAAR NODIG.

Vss 22-25!!!

Die swakker dele, die dele waarvoor ons skaam is

“Our unpresentable members are clothed with dignity, but our presentable members do not need this. Instead, God has blended together the body, giving greater honor to the lesser member.”

In plaas van die “gewone” rangorde waar die magtiges oor die swakkes heers, werk dit in die liggaam van Christus so dat die sterkes die swakkes dien, help, klee, ophef, eer, en almal ly en saam en almal is saam bly.

Na vs 27 – Paulus praat nie oor Christus self nie, maar oor hoe Hy sigbaar word in die wêreld. Die enigste liggaam wat Christus in die wêreld het, is die kerk.

Voor vs 28 – Let op die duidelike volgorde wat Paulus hier aan die gawes gee: apostels, profete, leraars, kragtige vermoëns, genesing, om te help, te lei, en heel laaste tale…

Lê julle egter toe op die nbe gawes: nie om dit te “besit” nie, want God deel uit soos Hy wil, maar om binne die liggaam waarvan julle almal deel is deur daardie gawes bedien te word en te groei in julle publieke getuienis dat Jesus die Here is.

Na vs 30 – “Ek het ‘n beter gawe as jy ontvang?” “My gawe is so klein niemand sien dit eens raak nie, dit maak geen verskil in die groter prentjie nie.” Aan die van julle met minderwaardigheidskomplekse oor jou unieke gawe: God het daai gawe aan jou gegee. God het die gawes rangskik net soos Hy dit wou gehad het. En Hy gee groter eer aan die minder eerbares. Wanneer jy veg oor gawes, veg jy oor die genade van God! Stop dit en gebruik jou gawes vir die beswil van almal!

Nadat Paulus die rangorde so uitspel (aan ‘n gemeente wat hopeloos te veel gefokus het op die gawe van tale), relativeer hy dit alles deur ‘n weg aan hulle uit te wys wat so bo alles uitstyg dat dit nie met enigiets anders vergelyk kan word nie…

1 Kor 13 (Agape)

Ek, ek ek… Wanneer individue of gemeentes die gawes hulle eie spesiale besitting maak wat kenmerkend is aan húlle – dan word hierdie gawes nie vir die common good aangewend nie. Want gawes kan verkeerd gebruik word. Sonder liefde het hierdie gawes nie grense nie, word hulle “losgelaat” en funksioneer hulle in vyandigheid, word almal nie meer bevoordeel nie, maar die ligaam ly skade. Maar wanneer die goddelike liefde teenwoordig is, dan word ander mense opgebou, voel mense veilig selfs midde verskeidenheid, voel hulle nie blootgestel nie, maar gekoester.

Liefde is nie ‘n gawe nie, dis ‘n vrug van die Gees (Gal 5:22). Nie almal ontvang dieselfde gawes nie, maar die is die wil van God dat almal die vrugte sal dra. En die vrugte is baie belangriker as die gawes. Selfs meer belangrik as die Korintiërs se hogere gawe van die spreek in tale. Sélfs meet belangrik as Paulus se hogere gawe van profesie. Maak nie saak wat die gawe is wat jy ontvant het nie, as jy dit nie in liefde uitleef nie, is dit níks. Hou dus op om te stry en te baklei oor die gawes, en hê mekaar lief – love one another as I have loved you…

Die liefde van 1 Kor 13 is nie ‘n romantiese teks wat geskryf is met die oog op mooi huwelikseremonies nie. Dit is in ‘n uiters uitdagende teks gerig aan ‘n verdeelde gemeente wat onderling stry en baklei en waar die een die ander geen goeie woord of gawe gun nie.

Vs 4 Die liefde bly geduldig. Nie in die sin van dit wag geduldig op uitkomste nie, maar geduldig met diegene wat jou seergemaak het (Grieks: stadig om iemand kwaad toe te wens).

Vs 4 Vriendelik, verdra nie net mense wat jou seermaak nie, maar is vriendelik met hulle!

Vs 5 Raak nie maklik kwaad nie (Daar is ‘n tyd vir kwaadword wanneer sonde God se skepping seermaak, veral die kroon van sy skepping, mense.)

Die metaal spieëls wat in daardie tyd in Korinte algemeen in gebruik was.

Die grootste geskenk wat jy aan die kerk en aan die wêreld kan gee, is om jouself te wees. Niemand anders kan dit doen nie. En om dit ook vir ander te gun, hierdie genade om hulself te wees: “Aanvaar mekaar, soos Christus julle ook aanvaar het, tot eer van God.” (Rom 15:7)

Uit die ou Chassidiese verhale leer die maggid van Zloczow: “Met die geboorte van elke mens kom daar iets nuuts in die wêreld wat nog nooit was nie. Dit is elkeen se plig om dit te weet en te bedink dat hy/sy in hul hoedanigheid uniek is in die wêreld en sy gelyke nie ken nie. Indien dit so sou wees dat jy ‘n gelyke het, is daar geen sin dat jy ook bestaan nie. Elke individu is ‘n nuwe verskyning op die aarde en sy taak is om hier sy plek en rol en bydrae te vervolmaak. Waar dit nie geskied nie word die koms van die Messias vertraag… Dit is elkeen se opdrag om dit te ontwikkel wie jy is en om jou nie te vergelyk met ander, al doen hulle ook wat – hoe groot ookal.”

Op ‘n hoë ouderdom sê rabbi Bunam, toe hy al blind was: “Wat sou dit God werd wees indien aartsvader Abraham soos die blinde rabbi Bunam is en die blinde rabbi Bunam, soos Abraham?” Met nog groter krag reageer rabbi Susja toe hy kort voor sy dood sê: “In die toekomstige ryk sal nie eendag gevra word: ‘Waarom was jy nie Moses gewees nie?’ Vir my sal gevra word: ‘Waarom was jy nie Susja gewees nie?’”

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.

Johannes 14:8-17,25-27 – 2016

15 Mei 2016 Pinksterfees
Prediker: Dr Tiana Bosman

 

Apteker – 2 maande gelede. Dr > Ds > NGK > “Oh, you guys don’t believe in the Holy Spirit”. Probeer teëstribbel, maar nadat ek op vrae soos of ek in tale bid en of ek die torronto blessing oor mense kan uitspreek, nee moes antwoord was die koeël deur die (ons) kerk.

Binne ons eie gereformeerde tradisie is daar ook dikwels gemeentelede wat voel dat die HG nie genoeg aandag kry nie, dat ons baie praat oor of met die Vader en die Seun, maar dat ons die HG afskeep.

Vandag is dit Pinksterfees – ons vier die uitstorting van die HG en die teenwoordigheid vd HG in ons lewens en in ons kerk (die liggaam/tempel/huis van God). Vandag is dit tyd om (weer) te hoor dat ons tot niks in staat is as dit nie is vir die inwoning en die leiding van die Gees in ons lewens en die verheldering vd Gees in ons verstand nie.

Na die Bybel: Johannes se evangelie:

Jesus se openbare optrede eindig op ‘n somber noot: “Hoewel Jesus so baie tekens voor die mense gedoen het, het hulle nie in Hom geglo nie” (12:37). Wat ‘n manier om jou bediening af te sluit. So asof alles tevergeerfs was – sy godgegewe roeping, sy bediening, al die tekens, sy leringe – en steeds het die mense nie in Hom geglo nie.

Kort hierna is Jesus is saam met sy dissipels in Jerusalem. Dis die aand voor sy inhegtenisneming. Hulle eet ‘n laaste maaltyd saam, Jesus praat vir oulaas met hulle. Dit is sy laaste tafelgesprek (hfst 13-16, wat dan afsluit met sy gebed vir die dissipels in hfst 17). Die atmosfeer in die vertrek is gelade, gevul met onsekerheid en angs. Jesus tree vreemd op – was sy dissipels se voete – en praat oor sake wat skok en ontwrig – sy verraaier, ‘n nuwe gebod in die plek van die vorige gebooie (om mekaar lief te sê NET SOOS Ek julle liefgehad het – tall order), sy verloënaar en dat Hy hulle gaan agterlaat en gaan vertrek na die Vader toe.

14:1: “Moenie dat julle harte ontsteld wees nie.” Dit is dieselfde woord wat gebruik word van Jesus se eie ontsteltenis in 11:33; 12:27 en 13:21. Die gedeelte wat ons vandag lees (binne die groter geheel van 14:1 – 27) word ingebed deur hierdie trooswoorde. Die enigste rede waarom Jesus dit sou sê, is omdat die vrees onder sy dissipels (en binne homself) so sigbaar was.

14:2: “In die huis van my Vader is daar baie woonplek.” (moné)

14:7 –17, 18, 23-27.

14:12 – Groter dinge > baie meer (vgl gebeurtenis in Hand 2 direk na die uitstorting vd HG – 3000 mense kom tot bekering)

14:23 – moné

14:16 – “Ek sal die Vader vra en Hy sal vir julle ‘n ander Parakleet gee.” Daarmee gee Jesus te kenne dat Hyself ook ‘n Parakleet is. Beide Jesus en die Gees kom van die Vader en word deur die Vader na die wêreld gestuur. Nie een van hulle praat uit hulle eie nie. Die woorde wat Jesus praat kom van die Vader af, en die woorde wat die Gees praat kom van Jesus af.

Betekenis van Parakleet: Omvattende begrip. “Een wat langs jou staan, jou ter wille is, jou saak help behartig (Advokaat), ook bystand, versterking verleen, en troos”.

Die ander Parakleet – HG – sal die dissipels onderrig en herinner aan wat Jesus vir hulle gesê het. (14:26) Hy bevestig dus die werk en leringe van Jesus (deur die Vader aan Hom gegee) en help die gelowiges om dit voort te sit.

Terwyl Jesus gaan om ‘n toekomstige woonplek (moné) voor te berei (14:2), openbaar die Gees dat die Vader en die Seun nou reeds by die gelowige kom woning (moné) maak (14:23). Die toekoms word hede!

“Instead of ‘dwelling places’ with the Father in the beyond and of Jesus’ second coming, we now read of ‘dwelling places’ in people and the second coming of the Father and the Son into the lives of individuals. Like Paul, John understands the Spirit as bringing the presence of both the Father and the Son to the believer. Little wonder that later generations articulated a doctrine of the Trinity!”

Craig Koester: “The Spirit brings the realities of the past and the future into the present for believers. The Jesus who rose in die past continues to be present; the Jesus who will come again is already present; and the Spirit now makes the presence of Jesus and his Father known within the community of faith.”

Die fokus van Johannes se spiritualiteit is duidelik nie gebonde aan plek of tyd nie, maar eerder aan ‘n Persoon en ‘n verhouding. Die fokus is nie op groter wonderwerke en strenger gebooie nie, maar op die verkoniging en verspreiding van die liefde van God. Hierdie agape is die oorkoepelende tema in die Johannese evangelie.

In ons teks van vandag, wat ingebed word in vrees en onsekerheid omdat die dissipels bang is oor Jesus wat weggaan, gee Hy aan hulle die belofte van sy teenwoordigheid – die ander Parakleet – en van sy terugkoms (18), en van beide sy en sy Vader se woning hier en nou (nie eendag nie) in diegene wat Hom liefhet.

Die HG is ons Trooster, maar ons moet nie dink dat Hy/Sy ons troosprys is nie. Die tweede prys vir latere geslagte wat nie in Jesus se tyd geleef het nie, die wat darem iets moet hê om van te leef – dis nou nie Jesus nie, maar dis ook darem nie niks nie. Geloof in Jesus is nie beperk tot diegene wat vir Jesus tydens sy aardse bediening ontmoet het nie, maar dit is ook vir Johannes se lesers (wat nie die tekens meegemaak het nie) – ons inkluis – moontlik is om te glo. Johannes doen juis moeite om aan sy lesers aan te toon dat die eerste geslag gelowiges nie ‘n voorsprong bo hulle gehad het nie. Onthou 12: 37: “Hoewel Jesus so baie tekens voor die mense gedoen het, het hulle nie in Hom geglo nie.”

13:7: Later sal jy dit verstaan. Dws niemand het toe verstaan wat Jesus gesê het nie. Na sy verhoging aan die kruis en nadat Hy na sy opstanding die Gees oor hulle geblaas het, het hulle vir die eerste keer die verlede in ‘n ander lig begin sien. Die dissipels kon slegs deur die Gees verstaan wie Jesus is en wat sy werke beteken (12:16). Dws net soos die latere gelowiges was die eerste gelowiges ook aangewese op die Gees, die ander Parakleet, om in Jesus te inwonende God te herken.

Aan die einde vd evangelie word ‘n seën uitgespreek oor diegene “wat nie gesien het nie en tog glo” (20:29).

Die HG is nie ‘n add-on wat in sekere Xlike tradisies aandag kry en by ander afgeskeep kan word nie. Die HG is onontbeerlik vir ons geloof, ons verstaan (begrip) en vir ons lewe as kerk in die wêreld waar ons die getuienis moet uitdra. Sonder die krag van die Gees is ons tot niks in staat nie, net soos ons sonder die Vader en die Seun tot niks in staat is nie.

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.

Esegiël 37:1-14 – 2015

24 Mei 2015 Pinksterfees Pinelands
Prediker: Dr Tiana Bosman 

Hoe gemaak as ons in ons lewe in ‘n doodloopstraat beland? So vasgeloop dat daar geen opsies meer is nie, geen uitkoms nie. Selfs van omdraai is daar nie meer sprake nie, want dit is te laat. Ons het al ons kanse verspeel, of wat ookal die geval is. Wie van julle het al by ‘n punt in jul lewe gekom waar jy gevoel het: Ek kon net sowel dood gewees het. Of: Was ek maar eerder dood. In die Bybel lees ons verhale van mense wat by daardie punt in hulle lewe gekom het. Kyk maar net na die smeekgebede in die Psalmboek – mens wonder soms watter gebeure alles daar agter lê. Paulus wat ‘n man was vir woorde sê dit treffend wanneer hy uitroep: “Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos!?” (Rom 7:24-25). Lewendig dood. Lewende lyk…

Esegiël was ‘n profeet voor en tydens die Babiloniese ballingskap van Juda. Aan die een kant het hy die woord van die Here aan die ballinge gebring (die wat reeds weggevoer is), maar dan het hy ook met sy medevolksgenote gepraat wat in Juda en Jerusalem agtergebly het. Die gedeelte wat ons vandag lees kan na die verwoesting van Jerusalem geplaas word. Esegiel is reeds met die eerste ballinge na Babilon weggevoer, maar hy het nog gehoop dat Juda staande sou bly – die staat waar die tempel en die Dawidshuis in Jerusalem was. Solank die twee bakens bly staan het, was daar nog hoop vir die volk. Na 586 vC was daar egter niks meer oor nie, alles is vernietig, die volk was dood selfs is almal nie in ballingskap weggevoer nie. Die wat agtergebly het het ‘n sukkelbestaan gevoer in ‘n vernietigde land onder die heerskappy van vreemde regeerders. Esegiël se profetiese roeping het op niks uitgeloop – na talle waarskuwings en oproepe tot inkeer wou hy nog waarsku, maar toe is dit te laat. Die krag van die Here het op hom gekom, daar waar hy in Babilon as gevangene leef, en in ‘n visioen het die Here hom teruggeneem na sy verwoeste land om die nuus aan hom te breek…

Eie vertaling van Esegiël 37: 1-14

  1. Die hand (>krag) van die Here was op my, en Hy het my uitgebring deur die Gees van die Here, en Hy het my laat rus in die middel van die vallei en dit was vol bene.
  2. Hy het my laat loop op hulle, al in die rondte (rondom en rondom), en KYK! daar was verskriklik baie (bene) voor my in die vallei, en KYK! hulle was baie droog!
  3. Hy het gesê vir my: “Menseseun, kan hierdie bene lewe?” Ek het gesê: “Here Here, U weet.”
  4. Toe sê Hy vir my: “Profeteer oor hierdie bene en sê vir hulle: ‘Droë bene, hoor die woord van die Here.’
  5. So sê die Here Here vir hierdie bene: ‘KYK! Ek is op die punt om asem in julle in te bring en julle sal lewe!
  6. Ek sal vir julle senings en vleis aansit en julle oortrek met vel; Ek sal asem in julle sit en julle sal lewe. Dan sal julle weet dat Ek die Here is.’
  7. Ek het toe geprofeteer soos wat ek beveel is, en daar was ‘n geluid terwyl ek geprofeteer het, en HOOR NET DAAR! ‘n gedruis! Hulle het bymekaargekom, elke been teen sy been!
  8. Ek het dit sien gebeur en KYK! Oor hulle kom senings en vleis en hulle word met vel oorgetrek! Maar daar was geen asem in hulle nie.
  9. Hy sê toe vir my: ‘Profeteer tot die asem, profeteer, Menseseun, en sê vir die asem: ‘So sê die Here Here: Kom vanuit die vier windstreke, O asem, en blaas in hierdie lyke in sodat hulle kan lewe.’
  10. Ek het toe geprofeteer soos wat ek beveel is, en die asem het in hulle ingekom en hulle het gelewe en hulle het opgestaan op hulle voete, ‘n baie baie groot weermag.
  11. Hy sê toe vir my: “Menseseun, hierdie bene, hulle is die hele huis van Israel. Hoor net wat sê hulle!, hulle sê: ‘Ons bene is droog, ons hoop het gesterf, ons is afgesny.’
  12. Daarom, profeteer en sê vir hulle: “ So sê die Here Here: ‘KYK! (Hou My dop/Watch My) EK is op die punt om julle grafte oop te maak, en Ek sal julle uit julle grafte uitbring, my volk. Ek sal julle terugbring na die land (אַדְמַ֥ת lett grond van) Israel toe.
  13. Dan sal julle weet dat Ek die Here is, wanneer Ek julle grafte oopmaak en wanneer Ek julle uitbring uit julle grafte uit, my volk.
  14. Ek sal MY Asem (hier word “gewone” asem nou die herskeppende Gees van God) in julle sit en julle sal lewe. Julle sal tot rus kom op julle grond (bedoelende ‘in julle land’, maar die emosie van die grond lê hierin) en julle sal weet dat Ek die Here is. Ek sal die woord spreek en dit sal gebeur. Dít is wat die Here sê.

Vallei vol bene: ‘n Vallei dui op ‘n vlakte tussen berge, die soort gelykte waar veldslae plaasgevind het. Dis juis op hierdie slagvelde waar onbegraafde lyke gevind sou word.

Hier bly egter net doodsbeendere agter – teken dat die gestorwenes nie begrawe is nie, maar deur voëls en diere opgevreet is. ‘n Verskriklike lot vir die mense vd OT, want dit was vir hulle ‘n teken dat hulle onder die vloek van God gesterf het. Wat dit nie makliker maak nie is dat profete soos Esegiël en Jeremia juis die volk hierteen gewaarsku het – die volk het die verbond met God verbreek en verdien daarom hul straf om te sterf onder die vloek van God. Daarom kan hulle ook nou geen hulp van God verwag nie.

Vs 2 Esegiël was nie net ‘n profeet nie maar ook ‘n priester. As priester mag hy glad nie kontak gehad het met enige vorm van doodsheid nie – kontak met lyke en met doodsbeendere was vir hom verbode. Maar hier het hy geen beheer oor die situasie nie. Die Here self neem hom en sit hom neer midde die verskriklike onrein omstandighede van doodsbeendere en Hy laat hom daar rondstap. Die bekende orde van heilig teenoor onheilig en rein teenoor onrein het dus heeltemal in duie gestort – so dat God self nie meer omgee om die twee met mekaar te vermeng nie.

God spreek vir Esegiël aan as “Mensekind”. Dit is tipies aan die boek Esegiël. Beklemtoon die profeet se menslikheid en sy onbeduidendheid, waarvan hy self deeglik bewus was. Hy is diep bewus van die groot afstand tussen God en mens.

Die ongelooflike (onmoontlike!) visioen van dooie bene wat aangetrek word en ingeblaas word met nuwe lewe. Niks te make met die opstanding van dooies en die ewige lewe na hierdie lewe nie (hierdie gedagte bestaan nog nie in die OT wêreldbeeld nie). Dit herinner eerder aan die skeppingsverhaal van Genesis 2 waar die Here God eers die menselike liggaam gevorm het en dit daarna met lewensasem gevul het. Die God wat eens die mens geskep het, is in staat daartoe om die mens wat vernietig is weer te herskep (in hierdie lewe).

Reusagtige leër – Hier is geen geveg of oorlog ter sprake. Dis nie ‘n groep mense wat gereed is vir ‘n volgende veldslag en die keer gaan hulle wen nie. Die leër dui hier eerder op die lewenskrag wat God aan die nuwe mense sal gee.

Vs 11-14: God verduidelik die visioen aan Esegiël. Alhoewel die beeld aan hom bekend sal wees, gaan hierdie visioen nie oor die slagoffers in ‘n oorlog nie, maar die doodsbeendere is die ballinge, die oorgeblewenes nadat die volk alles verloor het, wat leweloos geword het omdat daar vir hulle niks meer oor is nie. Hulle koning en hulle leiers is weg, hulle mense is daarmee heen, hulle huise en landerye is verwoes, hulle tempel lê in puin, Babilon het hulle graf geword, en hulle godsdiens het hulle nie gehelp nie. Dis juis hulle (manier van) godsdiens en hulle God wat hulle in hierdie krisis laat beland het. En dis nie asof hulle nie gewaarsku is nie… Dis nie asof hulle kan sê: Maar ons het nie geweet nie… Waar sal hulle hulp vandaan kom, as hulle hulle nie meer tot hulle God kan wend nie? Om van hierdie verlorenes weer ‘n volk te maak, sou niks minder as ‘n daad van herskepping wees nie.

Hulle toestand was so verskriklik dat dit om meer gaan as die opwekking van “dooie” lyke. Lyke is wel sonder lewe, maar hulle is darem nog herkenbaar. Selfs geraamtes kan op ‘n manier nog geïdentifiseer word. Wat ons hier het is veel erger. Dis bloot die verstrooide reste of bene van mense wat in ‘n hoop bo-op mekaar lê. Verby morsdood. Niks van oor nie. Geen teken van herkenning nie. Wat ons hier het is nie net dood nie. Dit is die teenoorgestelde van skepping. Dit is “ontskepping” (Lawrie). Juis daarom is herskepping nodig (soos met die skepping van Gen 2).

Die woord ruah (asem, wind, gees) kom 10 keer in hierdie 14 verse voor. In die eerste voorkoms (vs 1) gaan dit om die Gees of krag van die Here wat oor Esegiël gekom het en hom in die visioen inbring. Daarna gaan dit om lewensasem wat dooie mense nodig het om weer te kan lewe en God se hele ontplooiing van die visioen en die herskepping van nuwe lewe en inblaas van asem. En dan aan die einde, in vers 14, voeg God ‘n baie persoonlike dimensie tot die ruah wat tot dusver net “asem” was. Hier bereik die visioen ‘n klimaks wanneer Hy sê “Ek sal MY asem in julle sit en julle sal lewe.” “My asem” wat dan weer baie sterker die betekenis dra van God se krag self. Meer as net algemene lewe, maar ‘n lewe wat toegewy is aan God, gerig deur ‘n harts- en lewensverandering wat deur ‘n persoonlike kennis van en verbintenis tot God tot stand kom. Israel sal nie bloot as “liggaam” herskep word nie, nie bloot as ‘n volk wat weer identiteit kry nie. Hulle sal ook innerlik herskep word. Eseg 36: 26-27: “Ek sal julle ‘n nuwe hart en ‘n nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle ‘n hart van vleis gee. Ek sal my Gees in julle gee en Ek sal maak dat julle volgens my voorskrifte leef en my bepalings gehoorsaam en nakom…”

In NT taal sou ons hier kon praat van wedergeboorte. Maar dan nie in die sin van kom tot inkeer en draai weg van julle afvallige en sondige lewenstyl nie. Droë bene kan nie omdraai nie. Daar is geen meer lewe oor sodat bene wilskrag kan uitoefen of besluite kan neem en keuses kan maak nie. Hierdie herskepping kom alleen maar van God af, wanneer alle hoop verlore is. Kan dorre bene weer leef? Menslik gesproke is dit onmoontlik. Maar by God is dit moontlik. “Kyk (hinee) net wat gaan Ek doen!… Ek… Ék (herhaaldelike klem van die voornaamwoord)… Ek sal dit doen en dan sal julle weet dat Ek die Here is.” (x2) Julle sal WEET (yada – weet, ken, erken, bely, dien en vertrou).” En dan die baie sterk einde met die finaliteit in die belofte: “Ek sal die woord spreek en dit sal gebeur. Dít is wat die Here sê. Finish en klaar!”

“Wie sal my uit hierdie doodsbestaan verlos?,” vra Paulus. “Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here.” Jesus wat self letterlik deur die vallei van die dood gegaan het, daar tussen die bene gelos is en deel van geword het vir 3 dae, en op die derde dag opgewek is uit die dood, uitgebring is uit die graf, en later opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God. Weet julle hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo? Dit is dieselfde krag wat Hy in Christus uitgeoefen het toe Hy Hom uit die dood opgewek het en Hom laat sit het aan sy regterhand. Dieselfde krag, in óns… (Ef 1: 19-20).

Na die oorwinning van Christus ontvang ons die Gees van God op ‘n nuwe manier. Nou gaan dit nie meer net oor die Gees (ruah) as die krag van God wat ons tot nuwe lewe wek nie, maar ons word gevul met sy Heilige Gees (pneuma) wat eers uitgestort word na Jesus se hemelvaart. Ons word gevul met ‘n groter krag nog as die krag van die OT. Ons dink dalk alles is verby. Alles ís dalk verby. En dan is daar steeds nog hoop by God. Herskepping is áltyd moontlik.

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.