Jesaja 6:1-8

3 Junie 2012 – Triniteitsondag
Prediker: Dr Tiana Bosman

Liturgie-03-06-12 | Bulletin-03-06-12

Kliek hier om Jesaja 6:1-8 te lees

Agtergrond
Dit is ongeveer 740 vC en koning Ussia is dood. Dit merk die begin van ‘n baie moeilike tyd in die volk se lewe. Ussia was ‘n goeie koning gewees. Toe hy siek geword het, het sy seun Jotam by Ussia oorgeneem om sy heerskappy voort te sit, maar Jotam is kort daarna oorlede. Met Ussia se dood sou Agas, Jotam se seun en Ussia se kleinseun, die nuwe troonbestryger wees. Anders as sy oupa het Agas nie sy volk se belange op die hart gedra nie en alliansies met verkeerde volke gesmee. Toe Agas koning geword het van Juda het dit die begin van die val van die suidelike ryk beteken. In hierdie tyd van politieke onstabiliteit het Jesaja weer eendag na die tempel in Jerusalem gegaan, en daar het hy ‘n visioen gesien. Hy berig soos volg daaroor…

Skriflesing: Jesaja 6: 1-8

Boodskap
Die Here het op ‘n baie hoë troon gesit en die soom van sy kleed het die tempel gevul. By Hom was daar serafs om Hom te dien. Die serafs was hemelse wesens wat vir Jesaja onder die indruk gebring het van die vurige, magtige, ontsagwekkende teenwoordigheid van God. Elkeen het ses vlerke gehad. Met twee het hulle hulle oë bedek sodat hulle nie direk na God hoef te kyk nie. Met twee het hulle hulle voete bedek – voete wat dikwels in die OT ‘n eufemisme was vir liggame – sodat hulle nie naak in die teenwoordigheid van God hoef te wees nie. En met die ander twee vlerke het hulle gevlieg. Intens bewus van die Een in wie se teenwoordigheid hulle verkeer, het hulle mekaar telkens toegeroep: “Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige! Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid.” Hy is so groot, so anders dat nie eens die hemelse wesens na Hom kan kyk nie. Hulle bedek hulle gesigte en hulle verberg hulle naaktheid. Sy teenwoordigheid is só oorweldigend. Die serafs roep so hard dat die deurkosyne begin skud en die tempel vol rook geword het.
Deur drie maal die heiligheid van God te herhaal, het gewys hoe ernstig die serafs in hulle uitspraak was. As mens ‘n saak in Hebreeus baie sterk wil beklemtoon, sê jy dit drie maal oor. Hulle sê hiermee dat God radikaal anders is as enigiemand of enigiets wat ons nog ooit gesien het. God is onvergelykbaar groot. Hy is nie deel van hierdie wêreld nie. En tóg openbaar Hy Homself in die wêreld aan ons. Dit is opvallend dat die serafs nog die een oomblik die 3-maal heiligheid van God besing, en met die volgende asemteug al getuig dat die hele aarde gevul is met die teenwoordigheid van hierdie God. Die heilige God, die Gans Andere, gooi sy hele gewig in die aarde. Dit is eintlik wat die Hebreeus hier probeer sê. Die woord wat ons vertaal met God se “magtige teenwoordigheid” is afgelei van die woord wat “lewer” beteken – en jou lewer was jou swaar orgaan. As jy “met jou lewer in iets was” het jy jou hele gewig daarin gesit, jou alles daarvoor gegee.

Onthou ons het ‘n paar maande terug ook oor heiligheid gepraat. Dat dit nie afgelei is van die woord wat “afgesonder/eenkant” beteken nie, maar eerder van die woord wat “blink/skitter” beteken. Dat God heilig is sê dus juis nie dat Hy Hom eenkant, ver, daar bo hou nie, maar dat Hy, wel op ‘n gans anderse manier, teenwóórdig is, dat Hy ‘n verblindende lig uitstraal. God het juis nie afgesonder gebly nie, maar deur sy pad met die Israeliete en uiteindelik in sy Seun het Hy binne-in die sondige wêreld ingetree en die Lig in die duisternis geword. Jesaja beleef hierdie andersoortige teenwoordigheid van God in die visioen in die tempel.
Wat as ons vanoggend so ‘n visioen sou beleef? Sê nou maar hemelse wesens verskyn en besing so hard die heiligheid en die teenwoordigheid van God dat die deurkosyne begin rammel en die kerk vol rook word? Sou ons onsself ook probeer bedek? Ons gesig probeer beskerm? Van ons nietigheid en ons sondigheid bewus raak? ‘n Mens kan tog nie onaangeraak bly wanneer jy die Here God so beleef nie! Ek kan my nogals indink dat ons reaksie dieselfde as Jesaja s’n sou wees: “Dit is klaar met my! Ek is verlore! (lett: Ek gaan uitgedelg/destroy word). Elke woord oor my lippe is onrein, en ek woon onder ‘n volk van wie elke woord onrein is. En nou het ek die Koning gesien, die Here die Almgtige.” Jesaja raak bewus van sy eie sondigheid, hy raak bewus van die sonde van sy volk en die haglike omstandighede waarin hulle verkeer, en hy besef dat sy (en hulle) vrese misplaas is. Hulle vrees die nuwe slegte koning Agas terwyl die Here die éíntlike Koning is, die Een wat nie net oor die volk heers nie maar oor die wêreld. (Is ons nie ook net so nie – ons is bang vir aardse leiers wat ons en ons kinders se toekoms bepaal, terwyl ons fokus eintlik moet wees op die ewige Koning wat die toekoms van die ganse wêreld, en daarom ook ons en ons kinders se toekoms, in sy hande het.)

Toe Jesaja, eintlik heel gepas, met vrees reageer in die teenwoordigheid van God (Moses en Jakob en Elia was ook bang toe die Here aan hulle verskyn), toe het die Here die vrees besweer. Onrein mense mag nie in die tempel van die Here verskyn het nie. Jesaja het eers besef dat hy onrein is en hóé onrein hy is toe hy die Here sien. En een van die serafs voer ‘n reinigingsritueel uit. Hy neem ‘n gloeiende kool met ‘n tang van die altaar af, vlieg na Jesaja, raak sy mond aan met die kool en sê: “Noudat die gloeiende kool jou lippe aangeraak het, is jou oortredinge vergewe, jou sonde versoen.” Ons sou nou kon weghardloop met die gedagte dat Jesaja fisiese pyn ervaar het en letterlik met ‘n kool skoon gebrand is deur God. Dit is egter nie geval nie. Ons het hier te make met ‘n visioen en met ‘n ritueel en met ‘n ervaring wat vir Jesaja so werklik was dat dit sy lewe van hier af vorentoe verander en bepaal het. Die fokus van die ritueel is nie op pyn nie, maar of die feit dat God ons reinig en heilig wanneer Hy ons roep. Die doel van die gloeiende kool is om vir Jesaja, figuurlik, aan die brand te steek, om hom heilig te maak, anders as die wêreld, glinsterend soos God, sodat hy sy boodskapper kan wees.

En nadat hy gereinig en geheilig is, hoor Jesaja die Here vra: “Wie kan Ek stuur? Wie sal ons boodskapper wees?” En hy het geantwoord: “Hineni! Hier is ek! Stuur my!” Hineni! Een van die sterkste woorde in Hebreeus wat nooit sonder ‘n uitroepteken vertaal mag word nie – Hier is ek! Stuur my, Here! Interessant, Jesaja is een van die min profete wat met sy roeping onmiddellik gewillig reageer. Meeste van die ander het geprotesteer. Moses kla hy hakkel, Jeremia soebat dat hy te jonk is, Jona vlug. Jesaja antwoord dadelik: Hineni!

‘n Aangrypende teks. Baie geleerdes noem hierdie deel die belangrikste hoofstuk in die hele Jesajaboek. Ten spyte van die vrees wat so ‘n ervaring kan veroorsaak hunker baie van ons ook na ‘n teofanie – na ‘n ervaring van God se teenwoordigheid deur ‘n visioen of ‘n fisiese verskyning waarin Hy tog maar net sy wil hard en duidelik aan ons bekend kan maak. Ons wil Hom graag in die oë kyk as Hy ons roep. Ons vergeet soms hóé groot en anders, hóé heilig Hy is. Selfs nie eens die profete van ouds kon Hom in die oë kyk nie. Selfs nie eens die hemelse wesens kon Hom in die oë kyk nie. En Hy roep mense op verskillende maniere. Aan sommige verskyn Hy in ‘n brandende bos (Moses), of in ‘n droom met ‘n leer (Jakob), of in ‘n visioen (bv Jesaja), of Hy roep in die middel van die nag (Samuel), of Hy stuur heel menslik iemand anders om jou roeping aan jou oor te dra (Saul en Dawid). Aan Elia wat uitgebrand en depressief selfmoordgedagtes gekoester het in ‘n grot in die middel van die woestyn – die een wat nou eintlik sou kon doen met ‘n bo-natuurlike visioen – aan hom verskyn die Here in … die stilte. Nie in wind, of in ‘n aardbewing, of in vuur nie, maar in die wildstilte hoor Elia die Here met hom praat en word sy roeping hernu. Word hy weer gestuur.

Ook ons word geroep. Dit was nou Pinkster. Johannes het ook ‘n visioen gesien. Van die verheerlikte Here in die tempel wat tussen die sewe staanlampe rondbeweeg met die sewe sterre in sy regterhand. Die gemeentes is die lampe, die leraars is die sterre en verteenwoordig die gemeentelede. Dit is nie sonder rede dat daar na ons verwys word as lampe en sterre wat moet skyn nie. Die gloeiende kool in Jesaja 6 was nie die laaste keer dat God vuur gebruik het om sy geroepenes te reinig en te heilig nie. In Handelinge 1: 8 sê die Here: “Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees…” En in Handelinge 2, kort na sy hemelvaart, was daar skielik ‘n geluid uit die hemel soos van ‘n geweldige stormwind, en dit het die hele vertrek gevul waar die gelowiges gesit het. En hulle het iets soos vuur gesien wat in tonge verdeel en op elkeen van hulle gekom het. Almal is met die Heilige Gees vervul.

Elkeen van ons, gelowiges vandag, is ook met die vuur van die Heilige Gees vervul – of ons nou daarvan gedroom het of net gehoor het, of ons deur die Gees oorrompel is of net in die stilte deur hom oortuig is. Ons leef in Pinkstertyd – die tyd waarin die heerskappy van God nog nie finaal is nie, maar tog seker is. Dit lyk asof slegte aardse regeerders of maghebbers die hef in die hand het en ons toekoms bepaal. Ons land se toekoms mag dalk onseker lyk, soos in Jesaja se tyd. En baie slegte dinge kan ons dalk oorkom, soos in Jesaja se tyd. Maar ons weet dat die Here reeds oorwin het, opgevaar het, en dat Hý regeer. Ons leef in die tyd van sy Gees, die Opstandingsgees, wat ons reinig en heilig en roep en lei en leer. Ons leef in ‘n tyd waar die wêreld moet hoor wie die eintlike Koning, die Regeerder is. ‘n Wêreld wat heel moontlik nie van die boodskap sal hou nie, maar wat in elk geval nie sonder dit kan leef nie. Op sy eie manier vra die Here aan elkeen van ons geesvervuldes en geheiligdes: “Wie kan ek stuur? Wie sal my boodskapper wees?” Wat is jou antwoord? Hoe kán dit anders wees as: “Hineni!”

Creative Commons Licence
Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.