Jesaja 52:13–53:12

6 April 2012 Pinelands – Goeie Vrydag
Prediker: Dr Tiana Bosman
Liturgie

Kliek hier om Jesaja 52 te lees

Agtergrond

Ons is vandag by ‘n begrafnisdiens. Die liturgie moet eintlik ‘n programmetjie wees: “Ter nagedagtenis van” of “In liefdevolle herinnering aan Jesus Christus”. Dit was gisteraand met die Donkerdiens vir my opvallend dat Pilatus, die (ongelowige?) goewerneur, sonder skroom hierby sou toevoeg “Die Koning van die Jode”. En dat die (ongelowige?) offisier en die soldate wat sy dood aanskou het, sou toevoeg “Seun van God”. Is dit nie so dat iemand se waarde, of sy ware identiteit, dikwels eers geëer word na sy dood nie? Dat mense eers dan besef met wie hulle werklik te make gehad het. Dat ‘n persoon se lof eers besing word wanneer hy of sy dit nie meer kan aanhoor nie. Ons sit ‘n gedeelte van ‘n begrafnisdiens spesifiek daarvoor opsy – en ons noem dit die huldeblyk… Daar is natuurlik niks mee verkeerd nie. Dis goed en nodig om na die dood van ‘n persoon vir mekaar te herinner wat dit is aan hom of haar wat ons sal bybly, wat die nalatenskap is wat ons met ons sal saamneem. Dis net soms so jammer dat ons eers tot ons ware insigte kom van mense nadat hulle gesterf het. Die Here het gesterf en vanoggend is die tyd om vir mekaar te sê wat Hy vir ons beteken het en wat ons met ons sal saamneem.

Vreemd dat die leesroosterteks vir vandag eintlik glad nie oor Jesus handel nie, in elk geval is dit nie die oorspronklike bedoeling nie, maar dat Jesaja 52-53 ‘n huldeblyk is wat uitgespreek word by iemand anders se begrafnis. Die eerste 39 hfste van Jesaja speel af in die tyd voor die ballingskap. Die profeet Jesaja is aan die woord en waarsku een en almal oor wat voorlê. Jesaja 40-55 speel dan af tydens die ballingskap. Die Israeliete is teen die grond – hulle het alles verloor. ‘n Onbekende profeet, nie meer Jesaja nie, is nou aan die woord. Hy bring ‘n boodskap van troos en verlossing. Meestal is dit hy self wat die volk bemoedig, maar dan vind ons in hfste 52-53 ‘n insetsel waar iemand oor hierdie onbekende profeet praat. Die profeet word “die dienaar” van die Here genoem en een van sy dissipels bring ‘n huldeblyk na sy dood.

Die gedeelte begin en eindig met die versekering vanaf die Here dat die dienaar, wat eens verneder en aangerand is, verhoog sal word; dat die een wat eens onder die misdadigers gereken is, in die toekoms in die geselskap van grotes en magtiges sal verkeer. Tussen hierdie bevestiginge van die Here af is daar dan die gedig van ‘n mede-gelowige wat mettertyd begin glo het in die dienaar of profeet se roeping en sy boodskap, een wat ‘n dissipel van die dienaar geword het, een wat hier in sy huldeblyk vertel van die begindae en die voorkoms van die dienaar, die geweldige lydinge wat hy moes verduur, en sy stille onderwerping tot in die dood.

Skriflesing en boodskap: Jes 52:13 – 53:12
Eers die lofbetuiging van God af: 52:13 – 15…

En dan die dissipel van die dienaar: 53:1 – Hier volg die byna ongelooflike vertelling dat die mag van God deur die lewe en veral die lyding van hierdie misvormde, onaansienlike dienaar ten toon gestel is!

53:2 – 10 – Telkens hoor ons dat die dienaar die sonde van die hele gemeenskap gedra het. Nêrens staan daar eksplisiet dat hy die vrywillig gedoen het nie. Dit was die Here wat, merkwaardiglik, veroorsaak het dat siekte en lyding hom tref (6). Volgens die OT verstaan van morele oorsaak-en-gevolg sou die normale verwikkelinge wees dat die gemeenskap self vir hulle sondes moes boet. In die lig van hierdie verstaan het almal aanvanklik gedink dat die dienaar gestraf word, deur siekte en swaarkry, vir sondes wat hy self gepleeg het. Dws die straf kom hom toe. Dit het eers maar later tot hulle deurgedring dat Hy deur God gestraf en geslaan en gepynig is omdat God om die een of ander onverklaarbare rede besluit het om die straf teen die gemeenskap weg te keer van hulle af en op een, onskuldige dienaar te laat afkom. Die taal van die dissipel wanneer hy dit besef in vss 4-5 is sterk en gelaai met emosie en die impak van hierdie bewuswording het veroorsaak dat hy ‘n dissipel geword het van die dienaar. Wat die omstandighede was van hierdie keerpunt in die dissipel en die groep namens wie hy praat se lewens, weet ons nie. Maar dit lyk asof dit eers gebeur het na die dienaar se dood – toe die mense bewus word van hulle gesamentlike skuld en ook gekonfronteer word om na die dienaar se dood na te dink oor die verloop van sy lewe – ‘n lewe wat nie gespreek het van sonde nie, maar van diens aan God.

Vs 8 stel dit duidelik dat die dienaar nie net aan ‘n ernstige siekte gely het as straf vir die mense se sonde nie, maar dat hy ook op ‘n geweldadige manier terreggestel is daaroor. In vs 7 word die dienaar vergelyk met ‘n lam wat na die slagplek gelei word en in vs 10 lees ons dat hy sy lewe as ‘n skuldoffer gegee het. Die gebruik was om ‘n lam as skuldoffer te bring vir jou sonde en alle sonde en skuld van die sondaar sterf dan saam met die lam wanneer hy geslag word.

Die dienaar is doodgemaak en tog lees ons in vs 10 dat hy ‘n nageslag sal hê en nog lank sal lewe, in vs 11 dat hy weer die lig sal sien en dat hy die Here sal ken. Dit is onwaarskynlik dat die dissipel hier verwys na die dienaar se terugkeer of “opstanding” uit die dood – so iets was immers nog glad nie eens denkbaar nie. Waarom dit hier gaan is die gedagte dat die dienaar ‘n nalentenskap laat. Hy sal ‘n baie sterk teenwoordigheid wees onder sy volgelinge. Hierdie gedagte is tog nie vreemd nie. Ons kan die dienaar hier vergelyk met ‘n mentor wat steeds, na sy dood, lewendig bly in sy volgelinge se lewens, sy dissipels hoor steeds sy stem ego, en dit is ‘n stem wat hulle op die regte pad hou. Jesaja praat van hierdie stem in hfst 30:20-21 wanneer hy sê: “Jou leermeester sal nie meer weggesteek wees nie. Jou oë sal jou leermeester sien. Wanneer jy die regte koers verlaat, sal jy agter jou ‘n stem hoor sê: ‘Hier is die pad, loop hierlangs.’”.

Soos die huldeblyk begin het, sluit dit dan weer af met ‘n lofbetuiging van God af oor die dienaar: 53:11-12.

Alhoewel hierdie gedeelte baie konkreet vertel van ‘n dienaar in die OT en die verloop van sy lewe en lyding, is dit nie sonder rede dat verse hieruit soveel keer in die NT aangehaal word en op Jesus van toepassing gemaak word nie. Een eksegeet sê selfs dat dit klink asof hierdie gedig aan die voet van die kruis geskryf is! Ons kan tog nie anders as iets van die verloop van Jesus se lewe ook in die teks raak te sien nie. Die dienaar van die Here het al vele vervullinge in die geskiedenis gehad. Daar is baie verhale van mense wat onskuldig gely het ter wille van ander. Literatuur oor die Tweede Wêreldoorlog alleen is vol-op daarvan.

Ek lees tans Dietrich Bonhoeffer se biografie en julle moet my toelaat om iets van sy storie te vertel. Bonhoeffer is vroeg in die 1900’s gebore. Hy was een van 8 kinders in ‘n vooraanstaande Duitse gesin. Sy pa, Karl, was die bekendste psigiater in Duitsland. Sy een broer was ‘n wetenskaplike en het saam met Albert Einstein gewerk. Dietrich self het teologie gaan studeer. Hy was een van die beste teoloë van sy tyd, maar hy was baie meer as dit. As predikant het hy sy profetiese roeping sterk uitgeleef deur voor en tydens die WO2 standpunt in te neem teen die Nazi Regime en hy het so sterk gepreek teen rassisme en die onderdrukking van die Jode dat mense blykbaar soms uit sy dienste uitgeloop het wanneer hy begin preek het. Bonhoeffer was ‘n brawe man. Toe Hitler se waansinnige optrede en bevele nie end kry nie het hy ook ‘n spioen geword – hy was deel van die sameswering om Hitler se ondergang te bewerkstelling. Die inligting het op die lappe gekom en Bonhoeffer is saam met sy mede-spioene gevange geneem. Voor die ouderdom van 40 sou hy sterf, net 3 weke voor Hitler selfmoord gepleeg het. Die Nazi Regime se einde was reeds onvermydelik, maar Hitler moes ‘n laaste slag inkry en het waarskynlik persoonlik beveel dat die spioene tereggestel moes word. Enkele ure voor sy teregstelling het mede-gevangenes versoek dat Bonhoeffer vir hulle ‘n diens moes hou. Dit was die Sondag na Paasfees. Bonhoeffer het, interessant genoeg, Jesaja 53 gelees saam met 1 Petrus 1, en daaroor gepraat. Hy het skaars “amen” gesê met sy slotgebed toe die soldate hom kom haal: “Gevangene Bonhoeffer, maak jouself gereed om saam met ons te kom.” Hy het almal gegroet en toe sy een goeie vriend opsy geneem en vir hom gesê: “Dit is die einde, vir my die begin van lewe.” Die kampdoktor getuig dat Bonhoeffer op die grond gekniel en innig gebid het voor hy sy tronkdrag uitgetrek het. By die plek van teregstelling het hy ook gestop en gebid voordat hy die trappies opgeklim het na die galg. Hy was deurentyd braaf en kalm. Die doktor sê dat hy in sy 50 jaar as praktisyn byna nooit ‘n man gesien het wat so absoluut onderhewig aan die wil van God sterf nie. Soos dinge ook gebeur het die krematoriums nie op daardie dag gewerk nie, en, nes die volk vir wie hierdie Duitser ‘n kampvegter geword het, is sy liggaam op ‘n stapel ander gegooi en brandgesteek.

Daar was natuurlik nog so ‘n man – die Een uit wie se voorbeeld Bonhoeffer sy krag gekry het. Die Een in wie se krag hy kon sterf en die Een wat dit vir hom moontlik gemaak het om te getuig: “Dit is die einde, vir my die begin van lewe.” In die volheid van die tyd neem die verhaal van die dienaar van die Here die mees radikale en grootse dimensies in wanneer Jesus op ‘n gans anderse, onvergelykbare manier dié Kneg van God word – die énigste algehele vlekkelose Lam wat na die slagpaal gely word, nie ter wille van ‘n groepie volgelinge nie, ook nie ter wille van een volk nie, maar ter wille van die hele wêreld. Dis sy begrafnis wat ons vandag bywoon, sy lewe wat ons herdenk, asook sy sterwe – sy volkome oorgawe, ter wille van elkeen van ons. Vandag is die einde, vir ons die begin van lewe. Vandag is die dieptepunt van God se straf en sy woede, maar ook die hoogtepunt van sy liefde.

Ek verkondig vandag natuurlik nog net ‘n halwe evangelie – die verlossing van sonde is bewerkstellig, maar eers Sondag breek die realiteit van die oorwinning oor die dood en ‘n nuwe toekoms aan. Ons moet hulde bring en die Here se lof besing, gedemp ja, soos dit ‘n begrafnis betaam. Ons word immers bewus van ons eie ontoereikendheid, ons sondigheid, ons medepligtigheid aan die dood van die Een wie se begrafnis ons bywoon. En tog weet ons, hoe ongelóóflik dit ookal mag klink, dat Hy ons vergewe, maar meer as dit, in sy dood spreek Hy ons volkome vry van dit wat ons Hom en soveel ander, en selfs onsself al aangedoen het. Hy laat ‘n nalatenskap van woorde en dade, van fluisteringe in ons oor wanneer ons koers verloor. Hierdie nalatenskap is in ‘n sekere sin reeds meer as genoeg, ons kan al daarvan leef, maar Sondag gaan Hy dit nog verder oortref.

Christus het gesterf. Vandag is sy begrafnis. Dit is die einde… vir ons die begin van lewe.

Creative Commons Licence
Kopiereg: Hierdie werk deur  Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.

1 Petrus 2:18-25 en 3:13-17

18 Maart 2012 Vierde Sondag in Lydenstyd
Prediker: Dr Tiana Bosman
Liturgie

Lees 1 Petrus 2 hier

Agtergrond

Die apostel Petrus skryf rondom 80 nC hierdie brief vanuit Rome aan die Christene in Klein-Asië wat lyding verduur as gevolg van diskriminasie en vyandigheid. Hierdie vyandigheid word in die eerste plek toegeskryf aan die heidense omgewing waarin hulle woon, maar dit word ook deurgetrek na allerlei ander onderlinge verhoudinge, bv die Christen se verhouding met die staat (2:13ev), die tussen slawe en hul here/base (ons sou vandag kon sê werknemers en werkgewers; 2:18ev), die verhouding tussen mans en vrouens (3:1-7), en dan word dit verbreed om álle menslike verhoudinge in te sluit (3:8ev). Die gedeelte oor lyding wat ons vandag lees spruit direk uit die voorbeeld van die verhoudinge tussen slawe en hul base, maar in hoofstuk 3 en 4 word hierdie bespreking van lyding dan ook universeel deurgetrek na alle tipes menslike verhoudinge.

Lees 1 Petrus 2: 18-25
Daar kom soms tye in mens se lewe waar jy keelvol raak. Jy besluit dat dinge te ver gegaan het en dat jy nie meer die ander wang gaan draai nie. Die tyd het aangebreek om terug te slaan – hetsy met woorde van bitterheid, of ‘n haatdraende gesindheid, of ‘n optrede wat spreek van geweld of vergelding, of deur ‘n wrok te koester. Maar so sal dit nie verder aangaan nie. Genoeg is genoeg. As ons eerlik is moet ons erken dat hierdie drang iewers by ons almal deurslaan. Selfs die geliefde Petrus skryf soos ‘n man wat geweet het waarvan hy praat.

So ‘n reaksie teenoor mense wat ons op die een of ander manier te nakom is natuurlik ook heeltemal verstaanbaar. Dink maar aan die terneerdrukkende situasie van die slawe in daardie tyd. Sommige van hulle is selfs deur hul base, wat verkeerd opgetree het, geslaan! Daar was vroue wat met hulle mans moes saamleef wat aan die Woord ongehoorsaam was. Of wat van valse beskuldigings wanneer jy probeer het om goed te doen? Wat van skinderstories oor jou terwyl jy eintlik net aan God gehoorsaam was? Selfs Christene, wat bereid is om die ander wang te draai, kom soms op ‘n punt waar jy voel dat dinge nou hand-uit ruk, dat die lyding net té ondraaglik en té onregverdig word, and dat jy alle reg het om reg in eie hande te neem.

Dit is sulke tye dat ons Petrus se eerste brief liewer uit die Bybel wil skeur. Want daar lees ons dat Jesus Christus…vir ons…ook só gely het. Veel méér as dit gely het. Ons sê die dinge gereeld vir mekaar, maar ongelukkig is dit so dat gelowiges, van die vroegste tye af al, maar altyd wil wegskram van die implikasies van Christus se lyding, ons sluit ons oë vir die kruis, of ten beste staan ons vir ‘n oomblikkie daarby stil, ‘n uur ‘n jaar op Goeie Vrydag hou ons ons asems op en stroop ons die kerk van alle versierings sodat net die kruis sigbaar is. En as dit te onuithoudbaar word slaag ons ‘n sug van verligting en slaan ons oë op na bowe, om die opgestane, verheerlikte Here te sien, omring in mag en luister, Regeerder vir ewig, die Een wat gelukkig darem nooit weer so lydend aan die kruis sal hang nie.

Luther het al geweet van gelowiges se weersin in hierdie verstaan van God. In April 1518 word hy na die Augustynse klooster in Heidelberg genooi om daar met die studente en dosente te kom praat. Die dag, skryf Dirkie Smit, is hy in sy gewone strydlustige bui en hy boor deur tot die mees radikale vrae wat aan teoloë en gelowiges gestel kan word. Doodernstig wil hy weet:

“Hoe kan ons God hoegenaamd ken? Kán ons God ken? Is dit moontlik om oor God te kan praat? Asof ons God ooit gesien het? Is ons gepraat oor God, ons teologie, ons geloofstaal, nie die mees arrogante, vermetele daad menslik moontlik nie? Is dit nie totale selfmisleiding en illusie nie?”

Dan die verduideliking. Luther se ongemak lê by, wat hy noem, die teoloë van glorie, van heerlikheid. Die Godskenners wat dink dit is maklik om oor God te praat. Al wat nodig is is om deur jou denke tot kennis van God te kom. Kyk na die skepping en kry daaruit jou kennis van God. Hierdie denke verwerp Luther as vermetelheid. Hy noem dit bespiegelinge.

En hy sê dan dat daar maar net één manier is om God te ken, en dit is deur die lyding en kruis van Christus. Wie God wil sien moet dáár gaan kyk, wie Hom wil hoor moet daar gaan luister, en wie hom wil ken moet daar gaan leer. En dis waar ons moet gaan leer om reg oor Hom te praat. Dit noem Luther die teologie (Godskennis) van die kruis, en dit staan lynreg teenoor die teologie van die heerlikheid. Hy gaan so ver om te sê dat die feit dat ons God slegs deur lyding en kruis ken, “dui op die diepe samehang tussen die lydende Christus, die Enigste Een in Wie God geken kan word, en lydende mense, die enigstes wat vir God kan ken.” (Smit)

Petrus noem hierdie vereenselwiging met die onverdiende lyding van Christus “genade van God” (2:19-21). Dit is genade by God om onskuldig te ly wanneer ons goed doen, wanneer ons gehoorsaam is aan God en sy wil doen. Ons word – letterlik staan daar in die Grieks – “in Jesus se voetstappe” geroep om ook bereid te wees om onskuldig te ly, om so onsself te verloën, om lief te hê tot op die uiterste punt waar ons onsself dalk mag verloor, en om alles oor te laat aan Hom wat regverdig oordeel. Dit klink dalk nie soos die Blye Boodskap nie. Dit klink eerder na dwaasheid. Tog is dit waar. Dit is die kern van die evangelie, en dit is die kern van ons roeping as navolgers, nalopers in die voetstappe van Jesus. Dit is wat Martin Luther King agape noem – liefde vir die vyand, diens, medemenslikheid, selfopoffering, ter wille van die evangelie.

Dit gaan nie hier daaroor dat mens moet stilbly wanneer onreg, van watter vorm ookal, teen jou gepleeg word nie, en net maar geduldig en gedweë al die slaë moet vat en daarna jouself ophelp en weer voortsleep totdat die volgende sarsie op jou neerreën nie. Nee. Dit gaan wel daaroor dat ons nie geweld met geweld moet vergeld nie. Waarmee dan anders?, as ons so tot ons uiterste gedryf word? Met die Woord en met die waarheid (1 Pet 3:14-16). Martin Luther het geweldige vertroue gehad in die oorredingskrag van die Woord en die waarheid in plaas van geweld. In 1520 verskyn sy beroemde “Adres aan die Christelike adel van die Duitse volk” waarin die eerste sin lui: “Die tyd vir swye is verby, die tyd om te spreek het gekom.” En het Luther nie gepraat teen die onreg van sy tyd nie! Hy het selfs sy opinies teen die kerkdeur in Wittenberg vasgespyker. Toe die wêreldse regerings in 1522 nie wou afsien van mag en geweld nie het Luther die Christene ernstig vermaan om te waak teen opstand en rebellie: “As julle sê: ‘Wat moet ons doen as die owerhede niks doen nie? Sal ons dit maar verduur en die wantoestand slegs versterk?’, dan sê ek: ‘Nee, julle moet dit glad nie doen nie. Julle moet drie dinge doen. Julle moet julle sondes herken. Julle moet nederig bid téén die regering van die pous. En julle moet julle mond die mond van die Gees van Christus laat wees…’” En toe Luther ge-ekskommunikeer en voëlvry verklaar is en die Keurvors hom weggesteek het op ‘n veilige plek, toe het hy besluit om terug te keer na Wittenberg ten spyte van die gevaar. En daar het hy vir ‘n week lank elke dag gepréék. Want, het hy geoordeel, die Woord verrig meer as die wapen. “Dit sal ek preek, dit sal ek spreek, dit sal ek skryf. Maar ek sal niemand dwing of deur geweld forseer nie … Volg my voorbeeld. Ek oppeneer wat verkeerd is, maar sonder geweld. Al wat ek gedoen het, is om te verduidelik, te preek en te skryf uit die Woord van God. Meer as dit het ek nie gedoen nie.” In dan voeg hy in sy tipiese menslike styl by: “Terwyl ek geslaap het, of Wittenbergbier gedrink het met my vriend Philip en met Amsdorf…is dit die Wóórd wat groot dinge doen… As ek met geweld wou voortgaan, sou ek ‘n hele klomp bloedvergieting in Duitsland gebring het en sou ek soveel ‘sports’ by Worms veroorsaak het dat selfs die Keiser nie veilig sou wees nie. Maar wat sou dit gewees het? Dit sou ‘n spel vir dwase gewees het…” (Smit via Ebeling)

Ook Jesus het nie maar net toegelaat dat alles Hom welgeval of dat alle menslike haat of geweld Hom oorval sonder enige teenkanting nie. Hy het kwaad geword, strydgesprekke gevoer, vermaan, Hy het eenkeer selfs die tafels in die tempel se binnehof omgegooi het ons laasweek gehoor. Maar Hy het Homself nie oorgegee aan magsmiddele of aksies van teengeweld nie. Hy het die mense geleer en oor die waarheid getuig. En mense het sy stem gehoor. Meeste eers nadat Hy gesterf het, maar nietemin, hulle het sy grootste daad van selfopofferende liefde aanskou aan die kruis, sy woorde van vergifnis en verlossing gehoor aan die misdadiger langs Hom, en hulle het teruggedink aan alles wat Hy in sy lewe saam met hulle gesê het, dit wat Hy verkondig het, dit waarvoor Hy gestaan het. Liefde vir ander, al kos dit wat. Liefde vir ander, al kos dit álles.

Dietrich Bonhoeffer, nog ‘n Duitse teoloog, een wat vir sy oortuigings en woorde van waarheid aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog terreggestel is, het bekend geword vir sy konsep van “duur genade” teenoor “goedkoop genade”. Hy skryf in sy bekende boek “The cost of discipleship” dat die genade van Christus verniet is vir elkeen van ons, maar dat dit geensins goedkoop is nie. Dit stel radikale eise. Dit is van hierdie dissipelskap, hierdie “naloperskap” dat Bonhoeffer sou sê: “As Christus mense roep, roep Hy hulle om te kom sterf…” As ons dit nie werklik verstaan nie, en as ons nie bereid is om daarvolgens te leef, of te sterf nie, dan maak ons die genade goedkoop. As ons dink dat God ons net maar aanvaar soos wat ons is, in sonde ontvang en gebore, so gemaak en laat staan, en geen radikale verandering van ons lewens vra wanneer ons Hom begin volg nie, dan het ons ons kruis iewers langs die pad vergeet. As jy nie jou kruis kan opneem nie, en as jy nie radikaal anders begin leef nie, dan is jy nie bereid om God te leer ken soos Hy werklik is nie. En dan is jy nie gereed om saam te stap nie. Ons kan God slegs deur lyding en die kruis leer ken, en lydende mense is die énigstes wat vir God kan ken. Mag elkeen van ons die moed en die liefde hê om werklik vir God te ken en soos Christus te leef, en te ly. En getroos te word daardeur en te vertrou daarop dat ons in hierdie lewe, en in hierdie lyding, veilig versorg word deur Hom wat die Herder en Bewaker van ons lewens is.
Creative Commons Licence
Kopiereg: Hierdie werk deur  Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.

Johannes 2:13-22

11 Maart 2012 : Pinelands 3e Sondag in Lydenstyd
Prediker: Dr Tiana Bosman
LiturgieBulletin

Kliek hier om Johannes 2:13-22 te lees

Paasfees – die jaarlikse fees waartydens alle Jode opgetrek het na Jerusalem om God te aanbid. Een van die voorskrifte was dat die Jode diereoffers aan God moes bring waardeur hulle dan vergifnis vir hulle sondes ontvang. Die bekendste offer tydens die paasfees was die lammers, waarvan daar na raming 200 000 per jaar geoffer is. Beeste kon ook geoffer word en so ook duiwe. Die arm Jode mag 2 duiwe geoffer het ipv ‘n lam. Duiwe was ook die algemene offer wat deur onrein vroue en melaatses gebring is sodat hulle gereinig kon word.

Die probleem met die offerdiere was dat mense van heinde en verre te voet of op donkies gereis het vir die groot samekoms in Jerusalem. Die reis was dikwels te ver om diere saam te karwei met die oog op die offers, en die gevaar het verder bestaan dat die diere siektes of beserings langs die pad sou opdoen, met die gevolg dat hulle nie meer aan die streng voorskrifte vir die offers sou voldoen nie. Om die reisigers in hulle penarie te ondersteun het die priesterhoofde en die Sadduseërs toe ‘n stelsel ontwerp waarvolgens Jode met hul aankoms by die tempel voorafgekeurde diere kon aankoop op die tempelplein ten einde dan as offerdiere te gebruik. Met verloop van tyd het die priesterhoofde en die Sadduseërs se syferbreine egter ingeskop en hulle het besef dat die verkoop van offerdiere ‘n manier kon word om munt te slaan uit die situasie. Die moeë reisigers kom leëhand en daarom verleë by die tempel aan, en moet noodgedwonge bereid wees om enige prys te betaal vir die diere voorhande. Hulle mag immers nie leëhand by die tempel ingaan nie.

Om alles te kroon moes alle mans ouer as 20 ook nog tempelbelasting betaal. Die geldwisselaars het gesorg dat hierdie belasting met die “regte” geld betaal word. Vanweë hulle ver plekke van herkoms het vele Jode net Griekse en Romeinse munte gehad. Aangesien die keiser se kop op hierdie munte verskyn het het mense geglo dat die keiser so tot godheid verhef word, maar daar mag tog net een God wees, naamlik die God van die Jode. Hierdie munte moes dus ingeruil word vir Joodse muntstukke. Die geldwisselaars het hierna omgesien, natuurlik teen baie hoë kommissie, en die World Trade Centre is tot op die trappies van die tempel gebring. Die godsdientige fees wat die aanbidding van God ten doel gehad het en daarmee saam die bring van offers as teken van berou en versoening van mense se sondes, het ‘n besigheidsheids“hub” geword wat uit was op winsbejag – gedryf deur die skrifgeleerdes en die Sadduseërs van alle mense. Mense, wat uitsluitlik gekom het om God te aanbid en hulle verhouding met Hom te herstel, is UITGEBUIT.

Wat amper nog dieper lê as die uitbuiting, is die uitsluiting. Die tempelterrein het uit verskeie areas bestaan. In die middel was die tempel self – die gebou met die heiligdom, slegs beskore vir toegang deur die gesonde Joodse mans. Afhangend van plek en status binne die samelewing en die godsdienstige tradisie kon die manne dan in die tempel self of in die “voorportaal” of dieper gaan. Slegs die priesters kon die binneste heiligdom betree. Rondom die tempel was die tempelplein. Ook ten volle deel van die tempelarea, maar darem nog nie heeltemal “heilige grond” nie. Dit is die gebied waar vroue, heidene (wat tot bekering gekom het), en siekes en melaatses toegelaat is. Dit is dan nou ook die gebied waar die handelaars en die geldwisselaars hulle tafels opgeslaan het. Die vroue, die siekes en die heidene moes voor en tydens die paasfees skoert; hulle moes plek maak vir offerdiere en kasregisters. Mense is dus nie net uitgebuit nie. Ander wat, soos ons in die evangelies lees, baie na aan die hart van die Here gelê het – die verstotenes en die siekes en die vreemdelinge – is met die groot jaarlikse godsdienstige fees UITGESLUIT.

Ek het probeer dink aan twee hedendaagse voorbeelde, een in ‘n kerkgebou en een daar buite, waar ons steeds mense uitbuit en uitsluit. Ek sou ook voorbeelde binne ons eie gemeente kon noem, maar dis altyd gemakliker om so bietjie weg van mens se eie lyf ‘n gepaste voorbeeld te vind net om ons gedagtes te stimleer en ons harte te ontroer. En dalk, hopelik, ‘n bietjie woede te laat ontvlam. Sodat elkeen deur die loop van die week die preek self kan gaan klaarskryf met voorbeelde nader aan ons eie lyf. En of ons aandeel daaraan te bely en ons eie tafels te reining of, in navolging van Jesus, die tafels wat uit is op winsbejag in stede van liefdesdiens en naastediens om te keer en die handelaars te verwilder.

1) Ek weet van ‘n (NG) gemeente waar ouers moet betaal om hul kinders elke jaar vir kinderkerk en katkisasie te registreer. Vanaf die ouderdom van 3 betaal ouers vir elke kind R 80 per jaar. Goeie vriende van ons was daar lidmate (lw “was”). Beide die man en sy vrou was lank werkloos. Drie kinders, toe nog almal onder die ouderdom van 5 jaar oud. En vir die twee meisies moes hulle toe skielik R 160 aan die begin van die jaar betaal – hoekom? Sodat die kinders kinderkerk toe mag gaan! Party mense sal seker sê dis net reg – niks in die lewe is verniet nie … so ook nie die Blye Boodskap nie? As mens eers vir kinders moet betaal, selfs al ís dit net R 80 per jaar, om aan kinderkerk en kategese te mag behoort, wat het die kerk dan anders geword as ‘n plek waar handel gedryf word – met die Evangelie van alle dinge! ‘n Plek waar mense uitgebuit word vir die voorreg om die Goeie Nuus te mag hoor. Ek het met die een predikant gaan praat en toegegee, daar is ruimte vir “versagtende omstandighede” – ouers mag met die ds. gaan praat indien hulle nie die registrasiefooie vir hul kinders kan bybring nie, en dan sal die ds. met die persoon in beheer van registrasie gaan praat en diskreet verduidelik dat hierdie gesin se kinders sonder ‘n fooi mag registreer. Toe ek hierdie “Blye Boodskap” aan my vriendin gaan oordra het sy net haar kop geskud. Want sy ken mense – Christene. En sy en haar man vrees vir die reaksie en die aandag wat hulle finansiële verknorsing sal trek, hulle is bang dat mede-Christene na hulle, wat eens hoog op die salariskerf geleef het, sal kyk asof hulle intussen melaats gewod het. Hulle is bang dat die nuus van hulle probleme sal veroorsaak dat hulle uitgesluit word uit die geloofsgemeenskap. Nie fisies nie, maar op ander vlakke. Ons weet mos hoe Christene hulle wenkbroue kan lig. Intussen gaan dit weer goed met ons vriende en hulle werke en finansies is uitgesorteer, maar hulle het die NG kerk verlaat en aangesluit by ‘n ander kerk waar hulle meer welkom voel. Nie net oor hulle hul kinders teen R 80 per jaar by die NG kerk moes registreer nie, ongelukkig nie net daaroor nie.

2) Ek en JP kry gister namiddag ‘n oproep van mense wat baie ongemaklik vir ons vertel dat hulle geen kos in hulle kas of yskas het nie. Niks nie. Vroeër die week was daar ‘n oproep vanaf dieselfde mense: “Hulle het nie meer krag nie.” Die man werk vir iemand wat, as ons die statistieke van SA burgers ernstig opneem, hom waarskynlik self ‘n Christen noem, maar hy kry nou al vir hoe lank nie ‘n salaris nie. Eintlik vandat hy die jobbie aanvaar het. Hy hou aan werk vir die persoon want daar is geen ander werk nie, en in die vaë hoop dat sy werkgewer dalk iewers eendag met ander oë sy werknemer sal raaksien vir die méns wat hy is, en hom sy regmatige deel sal betaal. Intussen word hy uitgebuit – skaamteloos – en in die proses word hy ook uitgesluit van basiese menseregte waarvoor hy immers hard gewerk het. Sy vrou werk ook, maar haar salaris is nie naastenby genoeg om die ligte brandend en die pot aan die kook te hou nie. En elke keer wanneer ons ‘n gesprek met hulle begin, begin dit so: “Die Here is vir ons goed…” Die Here ís vir hulle goed. Net jammer dat ander mense, Christene, hulle dikwels van die goedheid van die Here beroof.

Hierteen het die Here dit in Johannes 2. Nie primêr teen die feit dat daar handel gedryf word by die tempel nie. Maar teen die feit dat mense in die proses uitgebuit en uitgesluit word. En ook nie deur wie nie? Deur die priesterhoofde en die Sadduseërs – die reeds ryk godsdienstige leiers van die tyd. Daarom word Jesus woedend. En Hy vleg ‘n sweep van toutjies wat waarskynlik gebruik is om die diere mee vas te bind en Hy verdryf almal uit die tempel, mens sowel as dier. Die woord wat hier vertaal word met “uitjaag” is ‘n baie sterk Griekse woord (eksebalen) , dis ‘n kras uitdrukking wat gewoonlik gebruik is wanneer Jesus demone uitgedryf het. Die OAV se “uitdryf” pas hier beter as die NAV se “uitjaag”. Jesus het verder ook die tafels van die geldwisselaars omgekeer. “Vat hierdie goed hier weg! Moenie die huis van my Vader ‘n besigheidsplek maak nie!” Volgens die ander evangelies se vertelling beskuldig Jesus die mense daarvan dat hulle die Vader se huis ‘n rowernes maak, dit terwyl sy huis bedoel is om ‘n huis van gebed te wees vir al die nasies, haal Hy dan Jes 56:7 aan (Mark 11:17). ‘n Huis van gebed vir al die nasies, vir alle mense, maar met die grootste fees word almal behalwe die elite groepie van gesonde Joodse mans uitgesluit. Baie mense het tydens die Bybelstudies die week opgemerk dat dit darem die enigste plek in die NT is waar Jesus kwaad word. Dit is nie heeltemal waar nie. In Markus 3:5 word Hy kwaad oor die Fariseërs nie wil hê dat Hy iemand op die Sabbat genees nie; in Lukas 13:32 verwys Hy in woede na Herodes as ‘n “jakkals”; en wat van al sy weë-uitsprake teenoor die skrifgeleerdes en die fariseërs: “ellende wag vir julle…!” Jesus het dikwels kwaad geword. As mense te nagekom word,as mense uitgebuit en uitgesluit word, dan word Jesus KWAAD! Een van die geleerdes sê dat ons sal moet afsien van ons “gentle-Jesus-meek-and-mild” gedagtes. Jesus is net soveel beelddraer van God hier in die tempel waar Hy tafels omgooi en mense en diere met ‘n sweep verwilder as wanneer Hy hang aan die kruis op Golgota.

Gepraat van Golgota. Toe Jesus hierdie dinge doen in die tempel spreek die Jode Hom aan en vereis hulle ‘n wonderteken wat aan hulle kan bewys dat Jesus inderdaad die gesag het om die tafels om te gooi en die mense en diere te verjaag en so in die weg te staan van die Jode se bring van offers. En in plaas van ‘n wonderteken, gee Jesus dan net ‘n teken. Een wat hulle, natuurlik, nie verstaan nie.
“Breek hierdie tempel af en in drie dae sal Ek hom oprig.”
“Ses en veertig jaar lank is daar aan hierdie tempel gebou, en u (letterlik “jy”) sal hom in drie dae oprig?”
“Met ‘hierdie tempel’ het Hy egter sy liggaam bedoel.” Nie eens sy dissipels sou dit verstaan tot na sy opstanding nie.

Die tempel in Jerusalem, daar waar Jesus die mense en diere uitgedryf het, was al twee keer in die verlede verwoes. Hierdie was die derde tempel. Hy was op daardie stadium steeds in die bouproses. Enkele jare nadat die tempel klaar gebou is sou dit finaal afgebreek word. Die implikasies van Jesus se teken is aangrypend. Met hierdie teken kom sê Jesus dat die tempel voortaan nie meer die fisiese plek of gebou van samekoms en aanbidding en die bring van sondeoffers sal wees nie. Van nou af kan die Jode, asook almal anders wat ingesluit word in sy groep – naamlik die vroue en die siekes en die heidene – maar hulle paaslammetjies laat staan. Handelaars en geldwisselaars sal oorbodig wees. Want Jesus het Homself gegee as die Laaste Paaslam. Vlekkeloos, sonder enige gebrek. Gratis – sodat ook die sonder geld en aansien en status deel kan hê aan die Finale Offer wat geslag is vir almal se alle sondes. Die tyd van offers bring vir ons sondes is verby. Ons kan nou net maar in dankbaarheid die Grootste Offer aanvaar.

Hierdie Offer is nie net vir ons geslag nie, Hy het ook vir ons opgestaan. Die tempelgebou is tot niet, dit bestaan nie meer nie. Ook hierdie kerkgebou is nie meer die tempel nie – dis maar net ‘n gebou wat dit vir ons prakties moontlik maak om saam die Here te aanbid en uit sy Woord te kom leer. Die opgestane liggaam van die Here is die nuwe tempel. En met sy hemelvaart het Hy sy Gees in ons gegiet. “Weet julle dan nie dat julle die tempel van God is en dat die Gees van God in julle woon nie? … Die tempel van God is heilig, en die tempel is julle” (1 Kor 3:16-17).

Waar ookal ons gaan dra ons die nuwe tempel van die Here met ons saam – daar waar ons woon, leef en werk, daar waar ons kerk, daar waar ons handel dryf in Pick en Pay, daar waar ons mense regverdig behandel, waar ons mense tegemoetkom, en insluit, … ook daar waar ons mense uitbuit en uitsluit. Ook daar dra ons die tempel van die Here met ons saam. Daarom doen Paulus ‘n beroep op ons: “Op grond van die groot ontferming (die genade) van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dít is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen” (Rom 12:1). Nie julle bydraes en julle godsdienstige handelinge en rituele en offers om daarmee vir God “om te koop” of sy guns te probeer koop nie. Sy guns is reeds gekoop – deur Christus wat Homself as offer gegee het. Vir ons is dit gratis en verniet. Nie goedkoop nie, maar verniet. Ons kan onsself ook net gee omdat Hy sy tempel binne ons kom opbou het. Laat ons lewens, uit dankbaarheid, plekke van aanbidding wees, ruimtes waar mense nie uitgebuit word nie, oases waar ons ander insluit, verwelkom, genees en bedien. Dit is hoe Jesus Homself as tempel gegee het – gratis en verniet.

Creative Commons Licence
Kopiereg: Hierdie werk deur  Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.