1 Konings 19:1-15 – 2016

19 Junie 2016 Pinelands – Koninkrykstyd
Prediker: Dr Tiana Bosman

1 Konings 19

  1. Agab het vir Isebel vertel alles wat Elia gedoen het, en ook alles oor hoe hy al die profete met die swaard doodgemaak het.
  2. Toe stuur Isebel ‘n boodskapper na Elia toe om vir hom te sê: “Mag die gode so doen en selfs nog meer as ek teen môre hierdie tyd nie met jou lewe gedoen het soos die lewe van een van hulle nie.”
  3. En (Elia) was bang en hy het opgestaan en gegaan na sy lewe toe (in die rigting van sy lewe > dws vir sy lewe gevlug). Hy het by Beersheba in Judah aangekom en daar het hy sy slaaf laat rus.
  4. Maar hy het in die woestyn gegaan ‘n dagreis ver (die pad van ‘n dag). Elia het toe aangekom en gaan sit onder ‘n besembos. Toe vra hy vir sy lewe om dood te gaan. Hy het gesê: “Te groot (genoeg) nou, Here, neem my lewe, want ek is nie beter as my voorvaders nie.”
  5. Hy gaan lê en slaap toe onder die besembos, en KYK hier!, ’n boodskapper raak aan hom en hy sê vir hom: “Word wakker, eet.”
  6. Hy het gekyk, en KYK!, by die plek van sy kop was roosterkoek van ‘n vuurwarm steen, en water. Hy het toe geëet en gedrink en weer gaan lê.
  7. Die boodskapper van die Here het teruggekom en ‘n tweede keer aan hom geraak en gesê: “Word wakker en eet want vir jou is die pad te groot (die reis te ver)”.
  8. Hy het opgestaan en geëet en gedrink en hy het gegaan in die krag van die maaltyd veertig dae en veertig nagte tot by die berg van God in Horeb (Sinai).
  9. Hy het daar gekom tot by die grot. Daar het hy oornag, en KYK!, die stem van die Here het na hom toe gekom en vir hom gesê: “Wat is dit met jou hier, Elia?
  10. Elia antwoord toe: “Ek was baie ywerig vir die Here die God van die leërskare al het die Israeliete u verbond versaak en u altaar afgebreek en u profete doodgemaak met die swaard. En ek bly oor, net ek alleen. En nou soek hulle my lewe om dit te neem.”
  11. Die Here het gesê: “Kom uit en staan op die berg voor die Here en KYK!, die Here is op die punt om verby te gaan.”

Daar was ‘n groot en sterk wind wat die berg uitmekaar geskeur het en kranse gebreek het voor die (aangesig van die) Here; die Here was nie in die wind nie. En na die wind was daar ‘n aardbewing; die Here was nie in die aardbewing nie.

  1. En na die aardbewing was daar ‘n vuur; die Here was nie in die vuur nie. En na die vuur was daar die geluid van ‘n klein (fyn, dun) stilte.
  2. En dit was toe Elia dit gehoor het dat hy sy gesig toegedraai het in sy mantel, en hy het uitgegaan en hy het gaan staan in die opening van die grot, en KYK!, na hom toe (kom) ‘n stem wat vra: “Wat is dit met jou hier, Elia?
  3. En hy het (weer) geantwoord: “Ek was baie ywerig vir die Here die God van die leërskare al het die Israeliete u verbond versaak en u altaar afgebreek en u profete doodgemaak met die swaard. En ek bly oor, net ek alleen. En nou soek hulle my lewe om dit te neem.”
  4. Die Here sê toe vir hom: “Gaan, draai om na jou pad in die woestyn na Damaskus toe, en wanneer jy arriveer moet jy vir Hazael salf tot koning oor Aram (Sirië).

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.

1 Konings 17:9-23 – 2016

5 Junie 2016 Pinelands –3e Sondag in Koninkrykstyd en Omgewingsondag
Prediker: Dr Tiana Bosman

 

9e eeu vC.

Elia beteken “ Jahwe is my God”

Tyd van droogte. Elia het die droogte aangekondig omdat koning Agab van Israel gewyde pale aan ander gode (Baäl) opgerig het en meer gedoen het om die Here die God van Israel te tart as al die konings van Israel voor hom. Hy was ook getroud met Isebel, koningin vanuit Sidon (Fenisië). Noord van Israel.

Die heel eerste keer dat Elia op die toneel verskyn. Skielik, uit die bloute.

Teks

Vs 9: Staan op en gaan…

Sidon. Die land van die vyand. Koningin Isebel kom daarvandaan.

Gaan na Sarfat en bly daar en KYK! Ek sal daar opdrag gee vir ‘n weduweevrou om vir jou te sorg.

  • Hoekom gee die Here ‘n weduwee opdrag? Dis dan juis die weduwees (en die wese en die vreemdelinge) wat versorging nodig gehad het.

Deut 10:18: “Hy laat reg geskied aan die weeskind en die weduwee. Hy het die vreemdeling lief en gee vir hom kos en klere.”

Vs 10: Hy het opgestaan (sy goed gepak) en gegaan na Sarfat (Sarepta)  en hy het gekom by die poort van die stad en KYK daar!, ‘n weduweevrou besig om houtjies bymekaar te maak. En hy het geroep na haar en gesê: Gee asb vir my ‘n bietjie water in ‘n beker sodat ek kan drink.

Vs 11: Sy het gegaan om te kry, maar Elia roep agter haar aan: “Bring asb vir my ‘n stukkie brood in jou hand.”

  • Elia beroep hom op die wet van gasvryheid waarvlgs ‘n vreemdeling geregtig is op kos en iets te drinke. Net: hy vra vir die verkeerde persoon, hy vra vir iemand wat self mag aanspraak maak daarop om te (oor)leef op die wet van gasvryheid… Die droogte het egter almal se bronne so uitgeput dat niemand meer kans sien, ruimte het vir ‘n weduwee en haar kind in hul berekeninge nie…

Vs 12: … behalwe vir meel soveel soos wat in my handpalm pas, in ‘n kruik en ‘n bietjie olie in die erdekan, en KYK!, ek maak bymekaar twee houtjies. En dan gaan ek dit voorberei vir my en vir my seuntjie en ons gaan eet en dan sal ons sterf. (Woordkeuse dui op skaarste. Inligting spreek van wanhoop.)

  • Dit lyk nie asof die weduwee vooraf die opdrag van God af gehoor het nie (teenoor vs 9). Inteendeel, dit blyk duidelik dat sy in geen posisie is om vir die profeet te sorg nie. Sy en haar seuntjie is self op die randjie van dood agv hongersnood. Die rede waarom Elia haar raakloop is juis omdat sy kom soek het vir 2 laaste stukkies hout.

Vs 13: Moenie bang wees nie. Gaan en maak soos wat jy gesê het. Net – maak vir my daar ‘n klein stukkie roosterkoek eerste en bring dit vir my. Vir jou en jou seuntjie moet jy eers daarna maak.

Vs 15: … En sy het geëet, sy en hy en haar huis vir dae.

Vs 17: En dit was na hierdie dinge dat hy siek geraak het die seun van die vrou, die hoofvrou van die huis, en sy siekte was baie groot totdat daar nie meer asem in hom oorgebly het nie.

Vs 18: … Wat vir my en vir jou, man van God, dat jy gekom het na my toe om te laat onthou my sonde en om te laat doodgaan my seun?

  • Die ma wat ‘n rukkie terug so wanhopig was dat sy gereed was om die laaste karige maaltyd vir haar en haar seuntjie voor te berei sodat hulle kan eet en kan sterf (herinner aan Hagar onder die besembos), die een wat opgegee het op die stryd om te bly lewe, het ‘n nuwe lewensvuur in haar gekry en is nou vasbeslote dat sy nie haar seun wil laat sterf nie. Sy konfronteer vir Elia, baklei met hom, beskuldig hom omdat hy, vlgs haar, haar eie skuld van die verlede weer aan die lig laat kom het. God het haar raakgesien omdat Elia na haar toe gekom het (omdat Hy Elia na haar toe gestuur het?) en toe onthou Hy van haar sonde. (Die OT teologiese beskouing – siekte en dood is verdiende straf op sonde.)

Vs 19: … “Gee vir my jou seuntjie”, en hy het hom geneem uit haar skoot (hieruit weet ons dat die seun nog baie jonk was, hy het op sy ma se skoot gepas) en hom opgedra.

Vs 20: hy het geroep tot die Here: “Here my God, wil u nou ook tot die weduwee by wie ek tuisgaan ‘n ramp bring deur haar seun te laat sterf?”

Vs 21: … “Here my God, laat terugkeer asb die gees/lewe van hierdie jong seun in sy binneste in.

Vs 22: En het geluister die Here na die stem van Elia, en die gees/lewe van die jong seun het teruggekeer in sy binneste en hy het gelewe.

Vs 23: Sien (rah), jou seuntjie leef. (‘n Stelling, nie ‘n uitroep of medeling wat met verrassing gepaardgaan nie.)

Kom ons verplaas ons vir ‘n oomblik in die denkwêreld van daardie tyd: Gode wat heers en wat met mekaar wedywer. Die mensdom is uitgelewer aan die nukke van die gode en kan dit geensins ontsnap nie. Probeer dus aan die regte kan van jou god (of selfs ander se gode) bly in ‘n poging om jou pad so voorspoedig as moontlik te laat verloop, maar daar is geen waarborge nie (kyk nou maar vir arme ou Job). Almal is uitgelewer aan hul god en die lot. Prediker skryf daaroor.

Die weduwee van Sarfat was waarskynlik soos koningin Isebel ‘n aanhanger van Baäl, die god wat volgens sy aanhangers verantwoordelik was vir fertiliteit (vrugbaarheid) en vir reën. Die God van Israel wraak hom op Agab en straf daarmee die ganse land asook omliggende lande met droogte. So wys Hy dat dit nie Baäl is wat die seisoene en die fertiliteit van die aarde beheer nie, want net toe nog meer mense vir Baäl begin aanbid het God ‘n stokkie voor Baäl se fertiliteitstoertjies gesteek en daar is orals net droogte. Al die gewone mense kry swaar – Koning Agab en sy familie nie so erg nie want hulle is mos royalty – daar is altyd genoeg om te eet en te drink as jy genoeg mag en rykdom het. (Stef Bos: Die rykes word ryk en die armes kry swaar).  Agab gaan selfs voort om vir sy perde water te gee, dit terwyl sy volk sterf van die honger en die dors. Die rykes maak foute en die armes betaal die prys… Presies soos vandag… (Die vraag is egter – kan ons steeds in vandag se tyd die gebeure en die gevolge daarvan voor God se deur plaas? Nee, ons weet van beter want die tyd het ons, hopelik, geleer.)

Maar binne die wêreld van destyds ontmasker God die magteloosheid van Baäl. Hy sorg vir Elia by ‘n spruitjie met kraaie wat vleis en brood aandra. Die spruit droog op en God stuur vir Elia na Sarfat, na die Sidonese weduwee, en omdat sy gehoor gee aan Elia sorg die God van Israel nie net vir Elia nie maar ook vir haar en haar seuntjie, dit terwyl haar eie god homself uit die voete gemaak het.

Op die ou-end is dit nie net Elia wat vir die weduwee nodig het nie (die meerdere wat die mindere nodig het). Die bordjies word verhang en sy en haar seun het vir Elia nodig – omdat hy opgedaag het is daar weer vir hulle kos, omdat hy opgedaag het is daar vir haar seuntjie genesing. Hierdie is ‘n verhaal waar God mense oor grense (landsgrense, politieke affiliasie, geloofsgense en geslagsgrense en sosiale en ekonomiese grense) by mekaar uitbring om mekaar se nood raak te sien en om mekaar te help. En wie weet?, dalk, in die proses van mekaar leer ken en vir mekaar omgee, leer die een persoon ook die god – God – van die ander ken, kom daar geloof en vertroue, praat daardie persone nie meer uitsluitend van “die Here u God” of “die Here die God van Israel” nie, maar word een se God ook die ander se God en word “die Here jou God” deur die verloop van tyd net “God” – ook nie meer die God van Israel nie, maar “God”, God van almal.

Verlede week het ons die verhaal in Lukas 7: 1-10 gelees – die genesing van die Romeinse offisier se slaaf. En ons het teruggegryp na Jesus se woorde in Luk 4 dat daar baie melaatses in Israel was in die tyd van Elisa, tog is nie een van hulle genees nie, maar Naäman, die Siriër is wel genees. Vandag se verhaal is die ander voorbeeld wat Jesus daardie dag in sy tuisdorp gebruik het om aan te toon hoedat geloof en hulp dikwels uit vreemde oorde kom… Luk 4:25: Daar was baie weduwees in Israel in die tyd van Elia toe die hemel 3 jaar en 6 maande lank toegesluit was, sodat daar ‘n groot hongersnood in die land gekom het. Tog is Elia nie na een van hulle toe gestuur nie, maar wel na ‘n weduwee in Sarfat in die gebied van Sidon.

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.

1 Konings 3 – 2015

16 Augistus 2015 Pinelands (Koninkrykstyd)
Prediker: Dr Tiana Bosman 

 

Eendag lank lank gelede was daar ‘n wyse prins. Na sy pa se dood, was hy die troonopvolger, vooraf so bestem deur God. Hy het met ‘n pragtige prinses van ‘n naburige koninkryk getrou, en sy volk regeer tot eer van God. Kort daarna het God in ‘n droom aan hom verskyn, en Hy beloof aan hierdie jong koning wat ookal sy hart begeer.

Omdat die koning nederig was, het hy geweier om te vra vir rykdom, mag of ‘n lang lewe. Hy antwoord eerder: “Ek is maar net nog ‘n kind, en ek weet nie of ek kom of gaan nie, so onervare is ek. Gee asb vir u dienskneg ‘n luisterende verstand sodat ek u volk goed kan regeer en sodat ek kan onderskei tussen reg en verkeerd.”

God was so beïndruk met die jong koning se versoek, dat Hy beloof het om nie net daaraan gehoor te gee nie – om hierdie koning die wyste mens in die geskiedenis te maak – maar om ook aan hom te gee dit waarvoor hy nie gevra het nie: Ongekende rykdom en aansien en ‘n lang lewe.

Soos die tyd aanstap het die koning se goeie reputasie deur die hele land versprei. Koninklikes het van oraloor af gereis, veraf plekke, om te luister na die koning se wyse spreuke en regsuitsprake. In ooreenstemming met sy wysheid en God se seën, het die koning se rykdom en mag verby alle perke gegroei. Hy het strategiese politieke en ekonomiese alliansies gesmee; ‘n vloot van skepe gehad, ‘n manjefieke tempel en paleis gebou, handel gedryf in luukshede soos goud, silwer en ivoor, die omvangrykste wysheidsliteratuur van sy tyd op skrif gestel, ‘n Goue Tydperk in sy koninkryk beleef, en uiteindelik na veertig jaar se suksesvolle regering het hy die troon aan sy seun oorgegee…

Eendag lank lank gelede was daar ‘n uitgeslape prins. Nadat sy pa, die koning, dood is, het die prins die moord op sy ouer broer, die regmatige opvolger tot die troon, beplan en deurgevoer. ‘n Onnodige moord. Hy bestyg daarom die troon van sy vader met bloed op sy hande. Aan die begin van sy heerskappy is hy op ‘n vergeldingsveldtog uit. Hy pleeg al die wraak moorde wat sy pa op sy sterwensbed versoek het (kompleet soos The Godfather). Hy handel sy pa se unfinished business af. Daarna bou hy die koninkryk van sy drome. Hy glo dat hy oor goddelike wysheid beskik en dat hy ‘n goddelike mandaat het. Die koninkryk wat hy bou spreek van rykdom, aansien en mag.

Die koning het ‘n onversadigbare strewe na meer en nog meer. Om sy buitensporige lewe moontlik te maak, hef hy belastings wat so hoog is dat sy volk dit nie kan verduur nie. Sodat hy beheer kan hê oor kennis, versamel hy die omliggende wêreld se wysheidstradisies. Ten einde sy grootse bouprojekte te voltooi, forseer hy duisende mense om dwangarbeid te verrig. Om sy begeertes te bevredig, versamel hy ‘n harem van 700 vroue en 300 byvroue. Sy geestelike rusteloosheid maak dat hy heidense heiligdomme bou en offers bring aan ander volke se gode.

Die gevolge van sy keuses is rampspoedig. Teen die einde van sy heerskappy, kon sy volk nie meer die verskriklike laste van die buitensporige belasting en slawerny waaraan hy hulle onderwerp het, verdra nie. Weens sy heidense praktyke weet hulle nie meer hoe om te onderskei tussen afgodery en ware aanbidding nie. Omdat hy vir homself alleenreg tot die verstaan van God gegee het om ‘n stempel te plaas op sy eie persoonlike wysheid, kon sy onderdane hulself nêrens of tot niemand wend vir goddelike leiding en hulp nie.

So het dit gekom dat die koning se vyande teen hom opgetrek het. Alhoewel hy probeer het om terug te veg, was God se hand teen hom, en hy het nie baie suksesse behaal nie. Kort daarna is hy dood sonder dat hy die lang lewe gehad het waarvan hy gedroom het. Sy seun probeer om die opstandige volk terug te forseer tot slawerny, maar hulle bied weerstand. ‘n Burgeroorlog breek regdeur die land uit wat vir dekades sou duur. Die koninkryk verdeel in twee, en die roemryke koning se eertydse goue droom ontbind. Al wat oorbly is chaos.

Twee uiterste verhale van hoe ‘n koning sy volk kan regeer. Die naam van die koning in die eerste storie: Salomo. Die naam van die koning in die tweede storie…: die einste Salomo.

Wie was Salomo regtig? ‘n Wysaard of ‘n dwaas? ‘n Koninklike of ‘n vraat? ‘n Leier of ‘n tiran? Wat moet ons van hom glo? Die stories waaroor ons die heel meeste lees, en die meeste preke hoor, teken die prentjie van die wyse koning: Hy kon énigiets vanaf God vra, maar sy hartsbegeerte is wysheid. Hy demonstreer dit net na sy droom in die uitspraak wat hy lewer toe twee prostitute na hom toe kom en stry oor wie se baba lewe en wie s’n is dood. ‘n Hele boek vol spreuke word onder die naam van Salomo saamgestel – die Spreuke van Salomo, seun van Dawid, koning van Israel. (Of al hierdie spreuke uit die mond van Salomo self kom, is natuurlik ook hoogs aanvegbaar, net soos wat Dawid nie al die psalms geskryf het nie.)

Ons fokusteks is 1 Kon 3. Kom ons kyk mooi daarna, want binne hierdie wonderlike getuigskrif van Salomo steek daar alreeds waarskuwings dat dit maar die een kant van die man is wat ons hier ontmoet. In die eerste vers lees ons alreeds, heeltemal objektief vertel, dat Salomo hom verbind het aan die familie van die farao, die koning van Egipte, deur te trou met die farao se dogter. Maar hoor julle dit regtig? Koning Salomo het getrou met die dogter van die vyand! Slim… Maar slim van sy baas. Binne ‘n tydperk in die geskiedenis waar God sy volk verbied het om met ander volke te ondertrou, het Salomo met hul grootste vyand se dogter getrou. Die rede: nie in die eerste plek liefde nie, maar om politieke alliansies te smee. In 11:1 lees ons dat koning Salomo lief was vir uitlandse vroue. Behalwe die dogter van die farao het hy ook vrouens uit die Moabiete, Amoniete, Edomiete, Sidoniërs en Hetiete gehad. Dit was die nasies waarvan die Here vir die Israeliete gesê het: “Julle mag nie met hulle omgaan/slaap>verhoudinge hê nie…want hulle sal julle net verlei om hulle gode te aanbid. Salomo het egter juis op hierdie vrouens verlief geraak.” (700 vroue en 300 byvroue gehad).

Vs 2-3: “Salomo het sy liefde vir die Here betoon deur alles te doen wat Dawid, sy pa, hom voorgeskryf het, behalwe dat hy nog op die hoogtes offers gebring het.” Dit is amper ‘n sylangse opmerking, maar hier lui tog ‘n waarskuwingsklokkie. Salomo het die Here gedien, ja, maar hy het ook nog so af-en-toe aan die afgode gaan offers bring op die hoogtes. Wie weet – dalk was hy juis nou by Gibeon om eintlik aan die afgode te offer, en nadat God in ‘n droom aan hom verskyn het, het hy dadelik afgegaan na Jerusalem om dáár (waar dit goed en reg is) voor die verbondsark aan die Here offers te bring.

Vs 5: In Gibeon het Salomo die nag ‘n droom gehad waarin die Here vir hom vra: “Wat wil jy hê moet Ek vir jou gee?” Nou as jy jou toekoms as leier van die land oop wil sien, dan moet jy een oggend voor jou volk gaan staan en vir hulle vertel dat God in ‘n droom vir jou kom sê het jy kan vra net wat jy wil hê en Hy sal dit vir jou gee.” Daarmee sê ek nie dat Salomo gelieg het oor sy droom nie, ek sê net dat hy die enigste persoon was wat die droom ervaar het en daarvan kon vertel, en dat ‘n droom altyd subjektief is, en dat ‘n goeie droom so aan die begin van sy regering wonders sou doen vir sy pad vorentoe.

Vs 6-9: Salomo antwoord gepas en nederig. “Here God, U het u dienskneg (dis nou Salomo self) koning gemaak oor u volk. Ek is nog maar net ‘n kind en ek weet nie of ek kom en of ek gaan nie, so onervare is ek. Gee asb vir u dienskneg ‘n luisterende hart>verstand sodat ek u volk goed kan regeer en sodat ek kan onderskei tussen reg en verkeerd.”

“Dit was goed in die oë van die Here, om dít van Hom te vra [So vertel Salomo self die gebeurtenis oor – vir my klink dit na baie fyn brag, om so ‘n sinnetjie in te werk.] “Hy het vir hom gesê: ‘Omdat dít jou versoek is en jy nie vir jou ‘n lang lewe, of rykdom, of die dood van jou vyande vra nie… (tot by vs 14).

Nou as jy jou brood aan beide kante gebotter wil hê, moet jy dit vir jou onderdane gaan vertel – Die Here het gesê jy kan enigiets sê wat jy graag wil hê, jy het in jou nederigheid (en wysheid, en heel strategies) gesê jy soek wysheid om jou volk goed te regeer en te onderskei tussen reg en verkeerd, en dat die Here dan jou versoek aan jou toestaan maar meer nog – juis omdat jy nie vir rykdom en aansien en ‘n lang lewe gevra het nie, gaan jy dit op die koop toe bykry!!! Die lewe kan nie beter as dit nie. Met God aan jou kant en ‘n droom in jou hand wat vir jou amper alleenmandaat gee oor dit wat God gesê het (as jy dít alles van God af gehoor het in een droom, is daar nie juis ruimte vir iemand anders daarna om enigiets anders te hoor nie – daardie persoon sal onmiddellik gestraf word, want jy (Salomo) het in jou droom die reg gekry om goed en sleg te onderskei, om meer wysheid te hê as enigiemand anders in die ganse geskiedenis van die mensdom, en dan nog mag en gesag en ‘n lang lewe daarby (niemand mag dus jou dood beplan nie, dis teen die belofte van God) – dan het jy jouself pretty muh onaantasbaar gemaak…

Ek sê nie dat Salomo nie die droom gedroom het nie. Of dat die inhoud onwaar is nie. Ek sê wel dat ‘n droom altyd subjektief is, en dat Salomo slim/wys genoeg was om dit so oor te vertel dat dit in sy guns sou val. (Meeste stories kan op radikaal verskillende maniere vertel word.) En om nederigheid en jeugdigheid en ‘n gebrek aan ervaring aan die Here voor te hou – dis ook nie so onbevlek eerlik soos wat dit klink nie. Kyk maar na die onregverdige en verkeerde moorde in hfst 1 e 2 wat Salomo alreeds gepleeg het nog voor sy droom. ‘n Kind? Nie soveel kind dat hy nie reeds met voorbedagte rade kon moord pleeg nie. Onervare? Nie met al die beplande moorde op sy kerfstok nie. Nederig? As ons die ander roepingsverhale in die OT gaan lees of persoonlike drome waar mense met God te doen gekry het in hul droom, dan sien ons dat almal spreek van nederigheid, onwaardigheid, gebrek aan ervaring – Dit was deel van die “roepingsritueel. Om waardig te wees wanneer God jou roep, was dit ordentlik om eers darem jou onwaardigheid te erken. Dis amper soos om ‘n stempel te plaas op die outentieke karakter van die roeping.

Ek sê weer ‘n keer dat ek nie probeer sê Salomo het ‘n storie opgedis nie. Dalk wel ‘n bietjie aangedik… Ons moet tog ons oë oophou vir die moontlike slaggate in die storie. En ons moet versigtig wees vir wat ons sê van God oor ons. Salomo het vir homself amper ‘n alleenmandaat tot God gevestig. So dat niemand hom kon check nie, so dat daar nie ‘n Natan kon wees wat sê: “Jy is die man!”, nie. Hy het homself amper onaantasbaar gemaak. En toe het die gevaarlike dinge gebeur: Salomo het sy wysheidspreuke gelewer en daarvoor wêreldryke roem verwerf, leiers het van heinde en verre gekom om na hom te luister. Maar het hy dit self konsekwent toegepas, was dit ‘n maatstaf vir sy eie lewe? Dikwels nie. Hy is eerder ingesluk deur die dinge waarvoor hy nie gevra het nie, maar wat hy tog so mildelik uit die hand van God ontvang het – rykdom en mag en aansien. Niks was meer vir hom genoeg nie. 1000 vrouens! ‘n Paleis wat twee keer langer gevat het om te bou as die tempel! Daaglikse kos op sy tafel, nie net vir Afrika nie, maar vir die hele wêreld (4:22-23). Goud, silwer en ivoor. Alliansies na alle kante toe sodat sy politieke en ekonomiese mag nog verder kan uitbrei.

En iewers het hy vergeet wat sy fokus moet wees. Hy het vir God uit die oog verloor. Ander gode al meer aanbid (hfst 11). Selfs op die berg teenoor Jerusalem het hy ‘n hoogte gebou vir die diens van Kemos, die afskuwelike god van Moab, en vir Molek, die afskuwelike god van die Ammoniete (11:7). Die einde van sy heerskappy (toe hy sterf voordat hy ‘n besondere lang lewe gehad het), was ook die einde van ‘n verenigde ryk. Die mense kon nie meer gebuk gaan onder die slawerny (dwangarbeid) en buitensporige belastings wat hy gehef het nie, ‘n burgeroorlog het uitgebreek, en die koninkryk het in twee geskeur.

So wie was Salomo nou eintlik? Hy was ‘n mens, nes sy pa Dawid. Hy was ‘n wysaard, maar soms tog ook só dwaas. Hy was ‘n koning, maar hy was ook ‘n vraat. Wat hom vergyp het – nie net aan kos nie, maar ook aan vrouens. Hy het die Here God gedien, maar hy het Hom ook nie gedien nie. Hy was vir Hom lief, en hy was ook nie vir Hom lief nie. Die vraag is op die ou-end nie wat glo ons van Salomo nie, want soos ons is hy dán die een en dán die ander. Die vraag is, midde ons menslike lewens: Wat glo ons van God? Wat staan vas oor God? En van Hom glo ons dat Hy ons liefhet, selfs wanneer ons Hom nie terug liefhet nie. Met Salomo se geboorte was God so geroer dat Hy vir Salomo ‘n spesiale liefdesnaam gegee het – “Jedidja”, wat beteken “Die Here het hom lief”. Sy storie eindig waar ons lees van sy 700 vroue en 300 byvrouens en dat “sy hart agter ander gode aangebuig het, sy hart was nie meer voluit (Hebreeus: salem> in vrede) by die Here sy God soos die hart van Dawid sy pa nie.” (11:4) Sy naam Salomo verwys na vrede. Maar aan die einde van sy lewe het sy hart weggewyk van die vrede wat hy by die Here gekry het. (Die Hebreeuse woordspelings vertaal…) Tog: in die oë van die Here was hierdie magtige koning wat gewankel het steeds die baba vir wie Hy Jedidja genoem het – Omdat die Here na ons kyk soos wat Hy na Salomo gekyk het, is ons altyd veilig in sy teenwoordigheid, is daar altyd vir ons vrede by Hom, mag ons, ten spyte van wie ons is en hoe ons lewens lyk, vandag saam die nagmaal uit sy hand ontvang…

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.

1 Konings 21

16 Junie 2013 4de Sondag in Koninkrykstyd
Prediker: Dr Tiana Bosman

Teks
Vs 1: Grondbeskouing in Israel gaan terug na die eeue-oue erftradisie toe. God gee die grond as geskenk/genadegawe aan die families. Grond moet nie verkoop word nie, maar moet in die familie bly. (Num 26:52-55; 27:8-10)
Vs 3: Nabot antwoord in oorleg met die gebruik.
Vs 4: Agab is soos ‘n kind wat nie sy sin gekry het nie. Duidelik het hy nie begrip vir Nabot se sosiaal-godsdienstige redes nie
Vs 7: Isebel toon ook geen begrip vir Nabot se rede nie. Sy was immers nie ‘n Israeliet nie, onthou koning Agab het met ‘n vrou van ‘n vreemde nasie getrou – daardie tyd teen die wet van die volk. Teen Isebel se Fenisiese agtergrond het alle grond aan die koning gehoort, en hy het oor die mag beskik om uit te deel en terug te vat net soos hy wou. Daarom: “Ruk jouself reg! Jy is mos die een wat regeer. Jy besluit mos oor grondbesit!”
Vs 9: ‘n Vasdag is gewoonlik uitgeroep ten tye van ‘n nasionale krisis. Isebel misbruik koning Agab se gierigheid en sy (en haar) mag om ‘n vasdag uit te roep. Agab se begeerte om Nabot se wingerd te besit was immers geen krisis nie.
Vs 10: “twee nikswerds / good-for-nothings” (manne wat tot niks goeds in staat is nie)
11: Skokkend: die oudstes en die ampsdraers (die mense wat in belang van die volk moes besluite neem en optree!) is in op die komplot! Hulle is deel van die sameswering want hulle gaan saam met wat Isebel namens Agab beveel. Dit alles sodat hulle vir Agab (en Isebel) gelukkig kan hou.

Boodskap
Hierdie is ‘n verhaal wat mens krapperig maak, onvergenoegd laat voel, selfs kwaad as gevolg van die onregverdigheid van wat hier voor ons oë afspeel.

Koning Agab het ‘n proposisie vir Nabot. Hy wil graag sy wingerd hê om ‘n kruietuin van te maak, omdat dit so gerieflik geleë is – dit grens aan sy paleis. Op die oog af is daar niks mee verkeerd nie. Dit is nie eens dat Agab ‘n slegte aanbod maak nie. Hy probeer op geen manier vir Nabot inloop nie. Tewens – hy bied vir hom ‘n beter wingerd in die plek daarvan aan, of, indien hy dit sou verkies, sal hy vir Nabot se wingerd betaal. As Nabot sy sommetjies mooi maak sal hy besef dat hy munt kan slaan uit hierdie ooreenkoms; wat rykdom betref kan hierdie transaksie vir hom net voorspoed inhou. Die probleem kom egter wanneer Nabot die aanbod van die hand wys. En dis tog enige persoon se reg – om ‘n aanbod of te aanvaar, of om daarvoor nee te sê. In geen onsekere terme nie antwoord Nabot nee op Agab se aanbod: Dankie maar nee dankie. Agab, u hoort van beter te weet as om my voor so ‘n keuse te stel. U ken immers die erftradisie wat die Here nog destyds op ons voorvaders gelê het. Mag die Here my daarvan bewaar dat ek die erfgrond van my voorouers aan u sou afstaan!

Maar Agab is ontevrede met die uitkoms en hy gaan bedruk huistoe en gaan lê dikmond op sy bed, nie eens lus om te eet nie. So tref sy vrou Isebel hom aan. Sy vererg haar vir sy papbroekigheid/lafhartigheid om daadwerklik op te tree, en sy neem die situasie onder hande. Naas Agab, wat op ‘n passiewe manier deel het aan die onreg wat dan gepleeg word, betrek Isebel ook die oudstes en die ampsdraers van Israel (juis diegene wat moes toesien dat reg en geregtigheid geskied!) en nog twee nikswerd manne – hulle almal smee saam aan Isebel se komplot om Nabot dood te maak. Dit alles sodat Agab sy selfsugtige sin kan kry oor ‘n stukkie wingerd wat aan sy paleis se gronde grens.

‘n Verhaal van absolute magsmisbruik deur diegene in hogere posisies sodat die wat baie het nog meer kan kry en die wat min het die bietjie wat hulle het ook verloor. ‘n Verhaal wat skree van onregverdigheid. ‘n Verhaal wat vertel van ‘n godvresende man wat – weens die erns wat hy gemaak het met die stuk grond wat hy uit die hand van God ontvang het –onskuldig tereggestel is deur ‘n korrupte regeringstelsel en met klippe doodgegooi is. Dit is waarmee ‘n mens gekonfronteer word wanneer jy hierdie verhaal lees. En almal van ons, as ons ons gedagtes so bietjie laat gaan, kan aan soortgelyke situasies in die geskiedenis, en ook in óns geskiedenis, dink.

Die kernboodskap van hierdie verhaal is egter nie die van magsmisbruik en wat ons as gelowiges kan doen om dit teen te staan nie. Natuurlik is dit ook ‘n belangrike boodskap. Om die Agabs en die Isebels en die korrupte leiers en die skarmunkels in ons land en in die wêreld te identifiseer, om die ongeregtigheid in ons samelewing aan die kaak te stel en om op te staan vir dit wat reg en regverdig is. Maar die kernboodskap van die verhaal kom eers na vore as ons dit vanuit Nabot se perspektief lees. Nabot se naam word by verre die meeste genoem (17 keer net in die eerste 16 vss!). Dit is ook Nabot se lewe wat op die mees ingrypende manier geraak word deur die gevolge van die verhaal. Hy verloor immers nie net sy wingerd nie (die wingerd wat nou al vir geslagte in sy familie is); hy verloor ook sy lewe. (Volgens die een tekskenner is, volgens die gebruik van die tyd, nie net Nabot nie, maar ook sy seuns saam met hom gestenig. Wat sou beteken dat daar ook geen kans was dat sy nageslag iewers weer die grond in besit sou kon neem en dit verder kon bewerk vir toekomstige geslagte nie.) Tussen al die mense wat hier ‘n rol te speel het is Nabot die hoofkarakter, en sal dit ons daarom baat om dieper te gaan kyk na sy gedrag in hierdie hele gebeurtenis.

Soos alle ander Israelitiese families in die OT het Nabot se voorvaders ook ‘n stuk grond van die Here af ontvang. Hierdie grond is nou al vir geslagte in die familie. Hulle het dit bewerk en wingerd daarop aangeplant. Hierdie stuk grond het bygedra om hulle voortbestaan te verseker omdat hulle hul lewensonderhoud daardeur verdien het. Nabot het geweet dat die grond ‘n geskenk uit die hand van God is, ‘n gawe. Die grond is ‘n teken van God se sorg in sy en sy familie se lewe. Hy het geglo dat God hom om ‘n spesifieke rede juis dáár geplaas het, om dáár te arbei, en om vanuit daardie arbeid ook die Here te dien. En hy het geweet dat hy nie van hierdie grond mag afsien nie. Dit was immers nooit sy grond om mee te begin nie – dit het van die begin af aan die Here behoort. Die Here wat nie net die land aan die volk gegee het nie, maar wat ook beveel het dat die land tussen die families verdeel moes word. Die God wat self ‘n hand gehad het in die verdeling van die grond.

En toe groener weivelde wink en die koning self met Nabot kom praat en vir hom ‘n beter wingerd in ruil vir sy eie een aanbied, of andersins goeie geld? Toe sou die aangewese weg natuurlik wees om die aanbod met beide hande aan te gryp, want so ‘n winsgewende besigheidsproposisie kan mens mos nie van die hand wys nie! Meer nog nie as jy in ag neem dat jy in die koning se goeie boekies gaan wees nie, en dat jou status dus naas jou rykdom ook ‘n opwaartse kurwe sal toon.

Maar Nabot kies nie die groener weivelde wat die wêreld hom bied nie. Nabot kies eerder om vas te hou aan dit wat God aan hom gegee het. Hy kies om te bly en te werk daar waar God hom geplaas het. Ten spyte van die feit dat daar ‘n ent verder ‘n beter wingerd wink, of, indien hy sou verkies, baie geld. Nabot word deur wêreldse dinge versoek – geld en grond en aansien – maar hy laat nie toe dat hierdie dinge in die weg kom staan van dit wat God aan hom gegee het nie, en van waar God hom wil gebruik nie. “Mag die Here my daarvan behoed dat ek die erfgrond van my voorouers ooit aan u sou afstaan!”

Deurdat Nabot kies om eerder vas te hou aan die plek wat God vir hom bestem het as om verlei te word deur wêreldse dinge verloor hy dan nie net hierdie plek nie. Sy toewyding aan God veroorsaak dat hy ook sy lewe verloor.

Hoe toegewyd is jy aan dit wat God vir jou gegee het, daar waar Hy jou geplaas het? Sou jy bereid wees om daarvan af te sien wanneer die wêreldse rykdom en status wink? Of is dit wat God vir jou gegee het vir jou belangrik genoeg dat jy daaraan sal vashou, selfs al kos dit jou rykdom, of ‘n beter lewe tussen hogere mense, selfs al kos dit jou jou lewe? Nabot se keuse illustreer die prys van dissipelskap (Bonhoeffer). Waarvoor sal jy alles nee sê in jou besluit om vir God ja te sê.

Ons as NT gelowiges het ook vir Jesus as voorbeeld – God maak sy plek aan Hom bekend in sy openbare roeping. Direk daarna word Hy in die woestyn versoek deur die Satan met die rykdom en roem van die wêreld as prys. Maar Jesus sê nee daarvoor, omdat Hy reeds ja gesê het vir God. En sy nee vir die dinge van die wêreld lei ook op die ou-end, soos Nabot, tot die dood. Net dat Jesus géén skuld gehad het in sy dood nie, géén sonde in sy lewe gepleeg het nie, nóóit, nie eens in die kleinste besluitjie, vir God nee gesê of verloën het nie.

Die opoffering wat dissipelskap vra kos soms selfs meer as ons lewe. Nadat Nabot doodgegooi is en Elia God se oordeel oor Agab gaan aankondig het, het Agab berou getoon en God het aan hom genade betoon. Nabot het sy lewe verloor, en steeds kry Agab, die vyand, ‘n tweede kans. Net so was dit ook met Jesus. Dis immers die evangelie – Jesus het gesterf sodat sy moordenaars tweede kanse kon kry, sodat ons almal tweede kanse kan kry. En Jesus het geweet dat dit is waarom Hy sterf. Hy het gewéét dat God bereid sou wees om sy moordenaars te vergewe. Tewens – Hy bid daarvoor wanneer Hy aan die kruis hang: “Vergeef hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie.”

Is ons bereid om tot die dood toe dissipels van God te wees, om tot die dood toe vas te hou aan dit wat Hy vir ons gegee het en nie verlei te word deur die rykdom en prestige van die wêreld nie? Is ons daartoe bereid selfs al weet ons dat God bereid is om diegene wat ons indoen te vergewe, die wat ons kroek, die wat ons beroof van ons naam of ons plek in die samelewing? Dat ons weet dat God nie net bereid is daartoe nie, maar dat Hy begeer om hulle te vergewe. Of is ons so gefokus op reg en geregtigheid dat daar nie in ons dissipelskapsriglyne plek is vir vergifnis en kwytskelding nie?

Hierdie is nie ‘n maklike teks om te lees nie. Dis ‘n teks wat ons voor moeilike keuses stel. Keuses waaroor ons nie te vinnig moet antwoord nie. En as ons antwoord dan moet ons weet wat ons antwoorde ons in die sak gaan bring… óf wat dit ons gaan kos… Dissipelskap is nie ‘n maklike roeping nie. Dit kan beteken dat ons alles verloor. Dikwels ter wille van die mense wat ons te nakom. Sodat ons keuses vir hulle ‘n voorbeeld kan wees. Sodat hulle tot inkeer kan kom, selfs al het ons ons lewe in die proses verloor.

Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.