1 Petrus 2:18-25 en 3:13-17

18 Maart 2012 Vierde Sondag in Lydenstyd
Prediker: Dr Tiana Bosman
Liturgie

Lees 1 Petrus 2 hier

Agtergrond

Die apostel Petrus skryf rondom 80 nC hierdie brief vanuit Rome aan die Christene in Klein-Asië wat lyding verduur as gevolg van diskriminasie en vyandigheid. Hierdie vyandigheid word in die eerste plek toegeskryf aan die heidense omgewing waarin hulle woon, maar dit word ook deurgetrek na allerlei ander onderlinge verhoudinge, bv die Christen se verhouding met die staat (2:13ev), die tussen slawe en hul here/base (ons sou vandag kon sê werknemers en werkgewers; 2:18ev), die verhouding tussen mans en vrouens (3:1-7), en dan word dit verbreed om álle menslike verhoudinge in te sluit (3:8ev). Die gedeelte oor lyding wat ons vandag lees spruit direk uit die voorbeeld van die verhoudinge tussen slawe en hul base, maar in hoofstuk 3 en 4 word hierdie bespreking van lyding dan ook universeel deurgetrek na alle tipes menslike verhoudinge.

Lees 1 Petrus 2: 18-25
Daar kom soms tye in mens se lewe waar jy keelvol raak. Jy besluit dat dinge te ver gegaan het en dat jy nie meer die ander wang gaan draai nie. Die tyd het aangebreek om terug te slaan – hetsy met woorde van bitterheid, of ‘n haatdraende gesindheid, of ‘n optrede wat spreek van geweld of vergelding, of deur ‘n wrok te koester. Maar so sal dit nie verder aangaan nie. Genoeg is genoeg. As ons eerlik is moet ons erken dat hierdie drang iewers by ons almal deurslaan. Selfs die geliefde Petrus skryf soos ‘n man wat geweet het waarvan hy praat.

So ‘n reaksie teenoor mense wat ons op die een of ander manier te nakom is natuurlik ook heeltemal verstaanbaar. Dink maar aan die terneerdrukkende situasie van die slawe in daardie tyd. Sommige van hulle is selfs deur hul base, wat verkeerd opgetree het, geslaan! Daar was vroue wat met hulle mans moes saamleef wat aan die Woord ongehoorsaam was. Of wat van valse beskuldigings wanneer jy probeer het om goed te doen? Wat van skinderstories oor jou terwyl jy eintlik net aan God gehoorsaam was? Selfs Christene, wat bereid is om die ander wang te draai, kom soms op ‘n punt waar jy voel dat dinge nou hand-uit ruk, dat die lyding net té ondraaglik en té onregverdig word, and dat jy alle reg het om reg in eie hande te neem.

Dit is sulke tye dat ons Petrus se eerste brief liewer uit die Bybel wil skeur. Want daar lees ons dat Jesus Christus…vir ons…ook só gely het. Veel méér as dit gely het. Ons sê die dinge gereeld vir mekaar, maar ongelukkig is dit so dat gelowiges, van die vroegste tye af al, maar altyd wil wegskram van die implikasies van Christus se lyding, ons sluit ons oë vir die kruis, of ten beste staan ons vir ‘n oomblikkie daarby stil, ‘n uur ‘n jaar op Goeie Vrydag hou ons ons asems op en stroop ons die kerk van alle versierings sodat net die kruis sigbaar is. En as dit te onuithoudbaar word slaag ons ‘n sug van verligting en slaan ons oë op na bowe, om die opgestane, verheerlikte Here te sien, omring in mag en luister, Regeerder vir ewig, die Een wat gelukkig darem nooit weer so lydend aan die kruis sal hang nie.

Luther het al geweet van gelowiges se weersin in hierdie verstaan van God. In April 1518 word hy na die Augustynse klooster in Heidelberg genooi om daar met die studente en dosente te kom praat. Die dag, skryf Dirkie Smit, is hy in sy gewone strydlustige bui en hy boor deur tot die mees radikale vrae wat aan teoloë en gelowiges gestel kan word. Doodernstig wil hy weet:

“Hoe kan ons God hoegenaamd ken? Kán ons God ken? Is dit moontlik om oor God te kan praat? Asof ons God ooit gesien het? Is ons gepraat oor God, ons teologie, ons geloofstaal, nie die mees arrogante, vermetele daad menslik moontlik nie? Is dit nie totale selfmisleiding en illusie nie?”

Dan die verduideliking. Luther se ongemak lê by, wat hy noem, die teoloë van glorie, van heerlikheid. Die Godskenners wat dink dit is maklik om oor God te praat. Al wat nodig is is om deur jou denke tot kennis van God te kom. Kyk na die skepping en kry daaruit jou kennis van God. Hierdie denke verwerp Luther as vermetelheid. Hy noem dit bespiegelinge.

En hy sê dan dat daar maar net één manier is om God te ken, en dit is deur die lyding en kruis van Christus. Wie God wil sien moet dáár gaan kyk, wie Hom wil hoor moet daar gaan luister, en wie hom wil ken moet daar gaan leer. En dis waar ons moet gaan leer om reg oor Hom te praat. Dit noem Luther die teologie (Godskennis) van die kruis, en dit staan lynreg teenoor die teologie van die heerlikheid. Hy gaan so ver om te sê dat die feit dat ons God slegs deur lyding en kruis ken, “dui op die diepe samehang tussen die lydende Christus, die Enigste Een in Wie God geken kan word, en lydende mense, die enigstes wat vir God kan ken.” (Smit)

Petrus noem hierdie vereenselwiging met die onverdiende lyding van Christus “genade van God” (2:19-21). Dit is genade by God om onskuldig te ly wanneer ons goed doen, wanneer ons gehoorsaam is aan God en sy wil doen. Ons word – letterlik staan daar in die Grieks – “in Jesus se voetstappe” geroep om ook bereid te wees om onskuldig te ly, om so onsself te verloën, om lief te hê tot op die uiterste punt waar ons onsself dalk mag verloor, en om alles oor te laat aan Hom wat regverdig oordeel. Dit klink dalk nie soos die Blye Boodskap nie. Dit klink eerder na dwaasheid. Tog is dit waar. Dit is die kern van die evangelie, en dit is die kern van ons roeping as navolgers, nalopers in die voetstappe van Jesus. Dit is wat Martin Luther King agape noem – liefde vir die vyand, diens, medemenslikheid, selfopoffering, ter wille van die evangelie.

Dit gaan nie hier daaroor dat mens moet stilbly wanneer onreg, van watter vorm ookal, teen jou gepleeg word nie, en net maar geduldig en gedweë al die slaë moet vat en daarna jouself ophelp en weer voortsleep totdat die volgende sarsie op jou neerreën nie. Nee. Dit gaan wel daaroor dat ons nie geweld met geweld moet vergeld nie. Waarmee dan anders?, as ons so tot ons uiterste gedryf word? Met die Woord en met die waarheid (1 Pet 3:14-16). Martin Luther het geweldige vertroue gehad in die oorredingskrag van die Woord en die waarheid in plaas van geweld. In 1520 verskyn sy beroemde “Adres aan die Christelike adel van die Duitse volk” waarin die eerste sin lui: “Die tyd vir swye is verby, die tyd om te spreek het gekom.” En het Luther nie gepraat teen die onreg van sy tyd nie! Hy het selfs sy opinies teen die kerkdeur in Wittenberg vasgespyker. Toe die wêreldse regerings in 1522 nie wou afsien van mag en geweld nie het Luther die Christene ernstig vermaan om te waak teen opstand en rebellie: “As julle sê: ‘Wat moet ons doen as die owerhede niks doen nie? Sal ons dit maar verduur en die wantoestand slegs versterk?’, dan sê ek: ‘Nee, julle moet dit glad nie doen nie. Julle moet drie dinge doen. Julle moet julle sondes herken. Julle moet nederig bid téén die regering van die pous. En julle moet julle mond die mond van die Gees van Christus laat wees…’” En toe Luther ge-ekskommunikeer en voëlvry verklaar is en die Keurvors hom weggesteek het op ‘n veilige plek, toe het hy besluit om terug te keer na Wittenberg ten spyte van die gevaar. En daar het hy vir ‘n week lank elke dag gepréék. Want, het hy geoordeel, die Woord verrig meer as die wapen. “Dit sal ek preek, dit sal ek spreek, dit sal ek skryf. Maar ek sal niemand dwing of deur geweld forseer nie … Volg my voorbeeld. Ek oppeneer wat verkeerd is, maar sonder geweld. Al wat ek gedoen het, is om te verduidelik, te preek en te skryf uit die Woord van God. Meer as dit het ek nie gedoen nie.” In dan voeg hy in sy tipiese menslike styl by: “Terwyl ek geslaap het, of Wittenbergbier gedrink het met my vriend Philip en met Amsdorf…is dit die Wóórd wat groot dinge doen… As ek met geweld wou voortgaan, sou ek ‘n hele klomp bloedvergieting in Duitsland gebring het en sou ek soveel ‘sports’ by Worms veroorsaak het dat selfs die Keiser nie veilig sou wees nie. Maar wat sou dit gewees het? Dit sou ‘n spel vir dwase gewees het…” (Smit via Ebeling)

Ook Jesus het nie maar net toegelaat dat alles Hom welgeval of dat alle menslike haat of geweld Hom oorval sonder enige teenkanting nie. Hy het kwaad geword, strydgesprekke gevoer, vermaan, Hy het eenkeer selfs die tafels in die tempel se binnehof omgegooi het ons laasweek gehoor. Maar Hy het Homself nie oorgegee aan magsmiddele of aksies van teengeweld nie. Hy het die mense geleer en oor die waarheid getuig. En mense het sy stem gehoor. Meeste eers nadat Hy gesterf het, maar nietemin, hulle het sy grootste daad van selfopofferende liefde aanskou aan die kruis, sy woorde van vergifnis en verlossing gehoor aan die misdadiger langs Hom, en hulle het teruggedink aan alles wat Hy in sy lewe saam met hulle gesê het, dit wat Hy verkondig het, dit waarvoor Hy gestaan het. Liefde vir ander, al kos dit wat. Liefde vir ander, al kos dit álles.

Dietrich Bonhoeffer, nog ‘n Duitse teoloog, een wat vir sy oortuigings en woorde van waarheid aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog terreggestel is, het bekend geword vir sy konsep van “duur genade” teenoor “goedkoop genade”. Hy skryf in sy bekende boek “The cost of discipleship” dat die genade van Christus verniet is vir elkeen van ons, maar dat dit geensins goedkoop is nie. Dit stel radikale eise. Dit is van hierdie dissipelskap, hierdie “naloperskap” dat Bonhoeffer sou sê: “As Christus mense roep, roep Hy hulle om te kom sterf…” As ons dit nie werklik verstaan nie, en as ons nie bereid is om daarvolgens te leef, of te sterf nie, dan maak ons die genade goedkoop. As ons dink dat God ons net maar aanvaar soos wat ons is, in sonde ontvang en gebore, so gemaak en laat staan, en geen radikale verandering van ons lewens vra wanneer ons Hom begin volg nie, dan het ons ons kruis iewers langs die pad vergeet. As jy nie jou kruis kan opneem nie, en as jy nie radikaal anders begin leef nie, dan is jy nie bereid om God te leer ken soos Hy werklik is nie. En dan is jy nie gereed om saam te stap nie. Ons kan God slegs deur lyding en die kruis leer ken, en lydende mense is die énigstes wat vir God kan ken. Mag elkeen van ons die moed en die liefde hê om werklik vir God te ken en soos Christus te leef, en te ly. En getroos te word daardeur en te vertrou daarop dat ons in hierdie lewe, en in hierdie lyding, veilig versorg word deur Hom wat die Herder en Bewaker van ons lewens is.
Creative Commons Licence
Kopiereg: Hierdie werk deur  Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.