1 Samuel 1:1-20 – 2015

13 Oktober 2015 Pinelands (Koninkrykstyd, Belydenisaflegging en Doop)
Prediker: Dr Tiana Bosman 

1: Daar was ‘n man vanaf Ramataïm Zophim, vanaf die bergagtige gebied van Efraim, en sy naam was Elkana. Hy was die seun van Jerogam, die seun van Elihu, die seun van Togu, die seun van Suf, die Efraimiet.

2: Hy het twee vrouens gehad. Die naam van die een was Hanna, en die naam van die tweede was Penina. Penina het kinders gehad, maar Hanna het geen kinders gehad nie.

3: Jaar na jaar het hierdie man opgegaan na die stad om te aanbid en om offers te bring aan die Here van die leërskare in Silo. Dit is waar die twee seuns van Eli, Hofni en Pineas, priesters van die Here was.

4-5: En so was dit op die dag wanneer Elkana sy offer gebring het: Hy het vir Penina, sy vrou, en vir al haar seuns en dogters porsies uitgedeel. Maar vir Hánna het hy het net een porsie gegee, al was Hanna die een vir wie hy die liefste was.

Nou is dit so dat die Here Hanna se moederskoot toegemaak het.

6: Die vrou wat haar mededinger was het haar kwaad gemaak, meer nog, dit was ‘n kwaad wat haar laat bulder het (soos donderweer), omdat die Here haar skoot toegemaak het.

7: So het Penina opgetree jaar na jaar wanneer Hanna opgegaan het na die huis van die Here, so het Penina haar kwaad gemaak, en Hanna het gehuil en niks geëet nie.

8: Elkana, haar man, het vir haar gesê: “ Hanna, waarom huil jy en waarom eet jy nie en waarom is jou hart hartseer? Is ek dan nie beter vir jou as tien seuns nie?”

9: [Op ‘n dag] in Silo nadat hulle geëet en gedrink het, het Hanna opgestaan [en na die tempelplein gegaan om te bid]. Eli die priester het op daai stadium gesit op sy stoel by die deur van die tempel van die Here.

10: Sy het ‘n bitter siel gehad, en sy het tot die Here gebid en onbedaarlik gehuil.

11: Sy het met ‘n eed beloof en gesê: “Here van die leërskare, as U werklik in die ellende van u diensmeisie in kyk, en as U my onthou (aan my dink) en nie u diensmeisie vergeet nie, en as U vir u diensmeisie ‘n seunskind sal gee, dan sal ek hom gee vir die Here al die dae van sy lewe, en ‘n skeermes sal nooit oor sy kop gaan nie.

12: Sy het al hoe driftiger gesmeek voor die aangesig van die Here, en Eli het haar mond dopgehou.

13: Maar Hanna was besig om in haar hart te praat, net haar lippe het gebewe, maar haar stem het hy nie gehoor nie. En Eli het gedink dat sy dronk is.

14: Toe sê Eli vir haar: “Tot wanneer gaan jy dronk wees? Draai die wyn van jou af weg!”

15: Maar Hanna het geantwoord: “Nee, my heer. Ek is ‘n vrou met ‘n hardkoppige gees. Wyn en sterk drank het ek nie gedrink nie. Maar ek het my siel uitgestort voor die Here.”

16: U moenie u diensmeisie uitmaak as ‘n nikswerd vrou nie, want tot nou toe het ek vanuit die reikwydte van my klag en my woede gepraat.

17: En Eli het geantwoord: “Gaan in vrede en die God van Israel sal aan jou versoek toegee, wat ookal jy van Hom gevra het.”

18: Sy sê toe: “Mag u diensmeisie genade vind in u oë.” En die vrou het gegaan op haar weg, en sy het geëet, en haar gesig het nie meer gehang nie.

19: Hulle het vroeg in die oggend opgestaan en die Here aanbid. En hulle het teruggegaan en by hulle huis in Rama aangekom. En Elkana het met Hanna, sy vrou, gemeenskap gehad (haar geken – intiem), en die Here het haar onthou.

20: So het dit met die draai van die dae gekom dat Hanna swanger geword het en sy het ‘n seun verwag. Sy het hom Samuel (God het gehoor) genoem, want sy het hom van die Here af gevra.

Boodskap

‘n Storie wat afspeel in ‘n patriargale gemeenskap waar vrouens geen regte gehad het nie. Hul identiteit het gelê in die identiteit van hul pa, en later hul man en hul seuns. Maar sonder ‘n man aan hulle sy was hulle niks werd nie. Om boonop nog ‘n onvrugbare vrou te wees in ‘n gemeenskap soos hierdie –Here net nie dit nie! Vra maar vir Sara en vir Ragel en vir Hanna. Die spot wat hulle moes verduur, veral uit die monde van ander vrugbare vroue. Die onreg.

Om onvrugbaar te wees het groot ekonomiese implikasies gehad vir vrouens. Hulle toekoms was altyd in die weegskaal. Want vrouens het nie geërf wanneer hulle mans sterf nie. Dogters ook nie. Die erfporsie is onder die seuns verdeel. En indien die man van die huis voor sy vrou te sterwe sou kom, dan was dit die vrou se seun(s) se verantwoordelikheid om vir haar te sorg. Om aan ‘n seun geboorte te skenk was nie bloot ‘n keuse tussen pienk en blou klere nie, dit was ‘n lewensnoodsaaklike versekeringspremie. Ja, daar was die lossingsregte (bv Rut en Boas) waar die naaste volgende manlike familielid die verwese vrou in sy huis kan inneem, maar dit was nie afdwingbaar nie. Vrouens sonder seuns was uitgelewer om dalk eendag op straat te sit.

Ons kan dus begryp dat Hanna bitter graag ‘n seuntjie wou hê. Wat ons egter nie kan verstaan nie is dat sy dan, wanneer sy hierdie kindjie by die Here afsmeek, belowe dat sy hom aan Hom sal teruggee, dat sy hom na die tempel sal bring sodra hy groot genoeg is om daar sy lewe aan die Here toe te wy. Hy sou ‘n Naziriet wees (hulle het nie wyn gedrink of hul hare geskeer nie). Maar met hierdie belofte trek Hanna ‘n streep deur haar gemoedsrus oor die toekoms. Want indien jy jou seun aan die Here opdra en aan die tempeldiens wy, dan behoort daardie kind nie meer aan sy ouers nie en het hy geen reg tot ‘n erfporsie meer nie. Hy sal nie vir sy ma kan sorg indien sy pa sterf nie. Niks het dus verander nie.

Waarom dan met soveel emosie en hardkoppigheid bid en smeek en pleit dat die Here vir haar ‘n seunskind moet gee? Want wat Hanna soek is nie versekering vir die toekoms nie. Sy soek erkenning vir die mens, die vrou!, wat sy is. Onvrugbaarheid was gesien as ‘n straf van God. So lees ons dit ook in die teks: Die Here het haar moederskoot toegemaak. In die voor-wetenskaplike tyd was dit die enigste verklaring wat mense vir onvrugbaarheid kon gee. Soos wat blindheid en verlamming en ander siektetoestande beskou is God se straf vir iets wat jy of jou voorouers verkeerd gedoen het, so was dit ook met onvrugbaarheid. ‘n Wolk van skaamte en skande het oor Hanna gehang, en sy moes voortdurend spot verduur. Veral vanaf die ander vrou wat gewedywer het vir Elkana se liefde en die voordeel van baie kinders gehad het. Voeg hierby toe dat Elkana, die man wat vir Hanna die liefste was, se naam in toekomstige geslagte sou voortleef weens Penina se seuns en nie agv Hanna se seuns nie, want sy het niks gehad nie!

Hanna gaan gebuk onder die onreg van ‘n gemeenskap wat op haar neersien omdat sy nie kan kinders baar nie. Penina spot haar. Haar man, Elkana, verstaan haar nie (“Waarom huil jy…? Is ek dan nie beter vir jou as tien seuns nie?”) Die priester Eli aanskou later haar driftige gebed en smeking oor ‘n afstand terwyl hy op sy stoel by die tempel se deur sit, en hy besluit summier sy is dronk. Hy gee haar nie eens die voordeel van die twyfel nie, maar slinger van daar af sy vooroordele en oordele in haar rigting. Dit laat my dink aan Mahatma Ghandi wat tydens sy verblyf in Suid-Afrika ‘n tyd van geestelike soeke deurgegaan het, maar toe hy een Sondag die trappe van ‘n NGK in Durban bestyg omdat hy gehoop het om daar dalk geestelike rus te vind, toe stuit die gesette koster hom by die deur – hy is nie welkom nie, want hy is nie wit nie. Nogmaals ‘n voorbeeld van die aantasting van ‘n persoon se menswaardigheid…

Maar van alle kante af het Hanna waarskynlik die swaarste gedra aan die oordeel van God. Want die wêreld en die gemeenskap waarbinne sy geleef het, het haar wysgemaak dat God die een is wat haar gestraf het deur haar moederskoot toe te maak sodat sy nie kinders kan kry nie. (Dit herinner mens aan die verhaal van Job…) Hanna kan nie langer stilbly nie en sy wend haar tot die Een wat binne haar verstaan haar liggaam so gevorm het dat sy onvrugbaar is. Die Gewer van lewe wat haar ontneem het daarvan om aan nuwe lewe geboorte te skenk.

Die woorde wat gebruik word om haar gebed tot God te beskryf spreek van rou emosie. Vroeër lees ons al dat Hanna so kwaad geword het oor die spot wat sy moes verduur omdat die Here haar skoot toegemaak het, dat sy soos donderweer gebulder het van woede. En nou hier in die tempelplein voor die aangesig van God het sy haar bitter siel blootgelê, sy het onbedaarlik gehuil, sy het ‘n belofte belowe, sy vra dat die Here van die leërskare (die een wat suksesvolle oorloë kan lei) erns sal maak daarmee om diep in haar ellende in te kyk, om haar te onthou, om haar nie te vergeet nie, om aan haar, sy diensmeisie, ‘n seunskind te gee. Haar gebed het groter en groter geword, wat beteken dat sy al driftiger gesmeek het (12). Sy het nie hardop op die straathoek gebid nie, maar saggies buite die tempel geprewel. Dalk ook saggies vanweë die skande en die skaamte wat sy ervaar het weens haar toestand. Sy verduidelik vir Eli dat sy ‘n hardkoppige gees het en dat sy haar siel (haar lewe!) uitgestort het voor die Here, dat sy vanuit die reikwydte van haar klag en haar woede met Hom gepraat het.

Hanna staan op vir haar reg as mens, sy soek erkenning en respek, sy wil dat die Here haar menswaardigheid sal herstel. En die enigste manier waarop dit kon gebeur, was om haar moederskoot oop te maak sodat sy aan ‘n seuntjie geboorte kan skenk. En toe die seuntjie kom, toe noem sy hom Samuel, “God het gehoor”. Interessant dat sý besluit oor die toekoms van die seun. Gewoonlik was dit so dat ‘n seun aan sy ma behoort het totdat hy oud genoeg was om haar rokspant te los en saam met sy pa te gaan leer boer en jag en oorlog voer. Maar Hanna het ‘n belofte aan die Here gemaak dat sy haar seun na ‘n ander Pa sal bring wanneer die tyd aanbreek. Elkana was in die posisie om ‘n stokkie daarvoor te steek as hy sou wou. Die enigste manier hoe ‘n vrou van haar eed kwytgeskel kon word was wanneer haar man dit teenstaan en sê “dit geld nie meer nie”. Maar Elkana het Hanna se belofte gerespekteer. Haar menswaardigheid het ook in sy oë toegeneem. En toe Samuel oud genoeg was om sonder sy ma voort te gaan (nie 3 nie, maar dalk eerder 10 – nie gespeen van die bors nie, maar gespeen van sy afhanklikheid aan haar), toe doen sy haar belofte gestand.

Sy het nie haar kind vergeet nie. Elke jaar wanneer sy en Elkana na Silo gegaan het om te offer, het Hanna vir Samuel ‘n nuwe kleedjie gemaak en dit vir hom geneem. Sy het ‘n vrou geword wat die wêreld vierkant in die oë kon kyk. En alhoewel sy nie finansiële standvastigheid en versekering vir die toekoms gesoek het nie, het sy dit ook gekry. Eli wat intussen geleer het om op ‘n nuwe manier, met respek!, na hierdie waardige vrou te kyk, het vir Elkana en Hanna geseën en gesê: “ Mag die Here jou uit hierdie vrou ‘n nageslag gee in die plek van die seun wat van die Here afgesmeek is…. En die Here het Hom oor Hanna ontferm, en sy het swanger geword en nog drie seuns en twee dogters gehad.” (2:20-21)

Ons samelewing oordeel nie meer so fel oor vrouens wat nie kan kinders kry nie. Ons verstaan dit nie meer as straf uit die hand van God nie, as ‘n vrou se verdiende loon nie. Maar tog leef ons nie oordeel-vry nie. Ongelukkig veral nie in die geloofsgemeenskap nie. Daar het ander “maatreëls” gekom waarvolgens ons mense se waarde meet. Een daarvan is:

Is jy darem getroud teen ‘n sekere ouderdom? Verál as jy ‘n kind het?

Want as jy nie ‘n goed genoeg verskoning het vir jou ongetroude status maar met ‘n kindjie op jou heup of aan jou sy nie, dan kan dit gebeur (en gebeur dit hopeloos te veel) dat jou waarde in die oë van ander mense afneem.

XXX, jy het vanoggend alleen hier voor gestaan. Sonder ‘n man aan jou sy en sonder die pa van jou kind. Soos Hanna staan jy op vir wat reg is, jy maak aanspraak nie net op jou en jou seun se menswaardigheid nie, maar op julle Godwaardigheid! Jy is een van die dapperste mense wat ek ken, en ek het vir jou die ongelooflikste respek. Jy is ‘n voorbeeld vir elkeen van ons.

Maar dan wil ek ook vir jou sê: Jy is nie alleen nie. Jy voel dalk dikwels alleen, maar ons as gemeente is hier saam met jou. Jy is deel van ons, een van ons. Ons het saam met jou gestaan, ons kinders het saam met joune om die doopvont gestaan. Hulle dra almal dieselfde seël op hulle voorkoppe – die sagte watermerk van God.

Jy is vanoggend hier omdat jy weet dat jy nie sonder God kan of wil leef nie. Jy is ook hier omdat jy weet dat jy nie alleen jou seun kan grootmaak nie. En omdat jy vir hom so lief is, omdat hy vir jou so kosbaar is, kom wy jy hom vandag aan die Here toe. Jy gee hom terug vir sy werklike Pa, die een op wie julle kan staatmaak, die een wat na julle omsien, die een wat op ‘n dag sy eie seun moes afstaan sodat daar plek kan wees op sy skoot vir al ons kinders.

Welkom in die familie van die Here, waar daar vir almal ‘n plek is.

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.

1 Samuel 16:1-13 – 2015

28 Junie 2015 Pinelands (Koninkrykstyd)
Prediker: Dr Tiana Bosman  

Wat ek hou van die OT is dat ons mense ontmoet en leer ken oor die bestek van baie jare, dikwels dekades. Ons kry in die OT te doen met mense se lewensverhale. Ons sou in sommige gevalle dalk selfs kon praat van biografieë, en die een persoon se biografie is verweef met en vloei oor in die volgende se biografie. 1 Samuel 16 is maar een gebeurtenis binne drie groter lewensverhale – die verloop van die lewe van Saul, die eerste koning van Israel, die verloop van die lewe van Dawid, Saul se opvolger, en Samuel, die man wat beide vir Saul en vir Dawid as konings oor Israel oor gesalf het.

In 1 Samuel 15 gee Samuel aan koning Saul ‘n opdrag van die Here af: Die Here het nie vergeet hoedat Amalek die Israeliete teengestaan het toe hulle destyds uit Egipte getrek het nie. Die tyd van afrekening het nou aangebreek. Saul moet met sy manskappe optrek en al die Amalekiete verslaan – niemand mag bly lewe nie, nie eens die kleinvee wat aan die volk behoort het nie. Saul het sy manskappe opgeroep en hulle het gaan veg. Die Here was aan hulle kant en hulle het die geveg gewen. Maar Saul was ongehoorsaam gewees – hy het nie almal laat doodmaak nie. Almal is om die lewe gebring, maar hy het Agag, die koning van die Amalekiete, se lewe gespaar, asook die mooiste, beste en vetste kleinvee, beeste en lammers. Die ander vee het hy egter van kant gemaak. Die Here was bedroef dat Hy vir Saul koning gemaak het, want, het Hy gesê, Saul het nie sy opdrag uitgevoer nie, en Hy het vir Saul as koning verwerp.

Samuel was baie ontsteld toe die Here die nuus aan hom meedeel en hy het die Here die hele nag om uitkoms gesmeek. Maar die Here het klaar besluit. Samuel het die volgende dag vir Saul gaan konfronteer oor wat hy gedoen het (of nie gedoen het nie). Tot die dag van sy dood het Samuel nie weer vir Saul gesien nie, maar hy het oor Saul getreur. Ons moet onthou Saul was vir Samuel amper soos ‘n eie seun. Hy was Samuel se leerling, sy protégé. Van die dag af dat hy as seun by Samuel opgedaag het op soek na sy pa se donkies wat weggeraak het, en Samuel van die Here af hoor dat hy hierdie jongman as koning oor Israel moet salf, en Saul dan kort daarna met sy openbare inhuldiging kleinkoppie trek en daar anderkant tussen die bondels goed gaan wegkruip – te bang en onseker oor die verantwoordelikheid wat sy kant toe kom. Van daardie dag af het Samuel vir Saul onder sy vlerk geneem en hom in sy taak as koning begelei. En nou dít.

1 Samuel 16: 1-13 lees…

Vs 1 – Isai se oupa is Boas (Rut se man) en nog 6 generasies terug is Peres (die kind van Juda by sy skoondogter Tamar toe sy haarself as prostituut voorgegee het.

Vs 2 – In die vorige hfst het Samuel vir Saul goed op sy plek gesit (15:25-28), maar nou is hy bang vir wat Saul dalk mag doen indien hy uitvind dat Samuel ‘n nuwe koning gaan salf.

Vs 6 – Soos Saul was Eliab lank en aantreklik gewees. (Met Saul se inhuldiging het die die mense dadelik opgeval dat hy ‘n kop langer is as enige van sy volksgenote en Samuel het oor hom gesê: “Sien julle die een vir die wie die Here uitverkies het? Daar is niemand soos hy onder die hele volk nie!” (10:23-24). Nou weer ‘n mooi lang man. En moenie vergeet van Eliab se inherente status as oudste seun nie.

Vs 7 – Die Here kyk nie na ‘n mens se oë (voorkoms) nie, maar na die hart.

Vs 11 – En Isai het gesê: “ Daar is nog een oor, die jongste.” Qatan het drie verwante betekenisse: jongste, kleinste en onbelangrikste. In die OT was die inderdaad so dat die jongste die onbelangrikste was. Hierdie een word nog nie een belangrik genoeg geag om in die tel te wees, of saam met die grootmense te eet nie. Hy moet eerder skape oppas. (Interessant – dat Dawid later as koning bekend sou staan as die herder van sy volk…)

Amper soos Aspoestertjie – net ingrype van buite af kan hierdie persoon laat geld.

Vs 12 – Rooi dui dalk op sy jeugdige voorkoms, blosend.

…met pragtige oë en ‘n mooi voorkoms (mooi op die oog)

(Interessant – God het pas vir Samuel gesê hy mag nie op grond van die uiterlike oordeel nie, maar nou is Dawid tog ook baie aantreklik. Maar hy word nie op grond hiervan gekies nie, maar op grond van God se keuse van hom.)

Vs 13 – Dit is die Here wat vir Dawid salf, Samuel is net sy “ instrument”.

Opvallend dat Dawid en Samuel slegs hier en in 19:18 direkte kontak met mekaar het.

(Vs 14 – Dawid ontvang die Gees van die Here en die Gees gaan weg van Saul af.)

Die, in God se oë, gewese koning Saul aan die een kant en opkomende koning Dawid aan die ander kant. En in die middel is Samuel, een van Israel se sterkste leiers, laaste in die lyn van die rigters en die eerste groot profeet, die een wat namens God vir Saul en Dawid as Israel se eerste konings gesalf het.

Oor al drie persone het ek nou reeds heelwat gesê, maar die fokus vanoggend is nie op die konings nie, maar eerder op die profeet. Die lewenslesse wat Samuel moes leer.

Hoe hanteer mens oorgange, teleurstelling en nuwe toekomsmoontlikhede?

“Hoe lank gaan jy nog treur, Samuel?” Amper ‘n vorm van aanmaning. God tik vir Sameul oor die vingers, ruk jouself nou reg, kom oor jou teleurstelling (get over it), daar is werk om te doen.

Dit is nie maklik vir Samuel nie, want ten spyte van hulle konflik was daar ‘n baie nou band tussen hom en Saul. Hulle was goeie vriende, leermeester en leerling, en Samuel sukkel om te aanvaar dat die Here vir Saul verwerp het (selfs al hét Saul dit verdien.) Moontlik wonder Samuel ook oor homself – sy eie onvermoë om vir Saul so te mentor dat hy die regte keuses maak. Hy is in rou want vir alle praktiese doeleindes is die jong seun wat gekom het op soek na sy pa se donkies (1 Sam 9) nou dood vir Samuel. Hulle het mekaar nie weer gesien. Samuel word selfs bang dat Saul hom dalk sal doodmaak indien hy uitvind dat Samuel opdrag ontvang het om ‘n nuwe koning te salf. Sy emosies wissel van woede na hartseer na vrees.

Nadat die verhaal dan sy verloop neem en Samuel wag op die seuns van Isai om voor hom verby te kom, koester hy aanvanklik dieselfde verwagtinge as toe hy vir Saul gesalf het. Hy soek weer ‘n lang, aantreklike man. Wanneer hy dus vir Eliab sien, aanvaar hy dat hy die nuwe koning is. Maar God leer vir Samuel dat hy van sy vorige verwagtinge moet afsien – om die waarheid te sê, hy moet hulle verleer (unlearn). Samuel kyk nog na fisiese statuur, maar God leer hom om af te sien van menselike logika en eerder te vertrou op God se leiding.

Hoe hanteer Samuel die teleurstellings in sy roeping/beroep (terwyl hy bewustelik onder die leiding van die Here geleef en gewerk het)? Hy het dit nie maklik gehad nie.

  • Die eerste profetiese woord wat hy moes spreek, was ‘n oordeelsuitspraak teen Eli, waarskynlik die enigste vaderfiguur wat hy ooit werklik geken het (1 Sam 3: 11-14).
  • Nadat hy die Israeliete suksesvol gelei het in hul aanval teen die Filistyne (1 Sam 7), kom vra die volk vir hom vir ‘n koning. En sê die volk vir hom dat sy eie seuns net so korrup is soos die seuns van Eli! Hoe moes dit nie vir Samuel voel om dit te hoor nie. Die Here moes hom troos met die woorde: “ Toemaar Samuel, dis nie vir jou wat die volk verwerp het nie, maar vir My. Dis nie jy wat nie meer goed genoeg is vir hulle nie, dis Ek.”
  • Hierna salf Samuel, onder leiding van die Here, vir Saul as koning, maar om elke hoek en draai stel Saul hom teleur. Kan dit wees dat Samuel ‘n slegte leermeester was? Lê die fout dalk eerder by Samuel as by Saul? Wat doen hy dan verkeerd? God verwerp die koning wat Hy gekies het nadat Samuel vir jare probeer om die einste koning te lei en te leer om ‘n goeie koning te wees.

Samuel treur oor Saul. Dalk treur hy ook oor sy eie lewe en hoedat dit nie verloop het soos wat hy gehoop of gedink het dit sou nie. Tog, ten spyte van sy hartseer en sy mislukkings bly hy ontvanklik vir die Here se woorde en vir nuwe moontlikhede. Hierdie verhaal dra nie die diepe troos wat ons graag vanuit die Bybel wil hoor nie, dit maak nie alles daar en dan beter nie, maar dit skets vir ons ‘n realistiese beeld van die menslike toestand en van maniere waarop ons mislukkings kan hanteer. Dalk vra dit in sommige gevalle van ons dat ons ons sal afsny van die verlede en vorentoe sal kyk na ‘n nuwe toekoms, hoe moeilik die oorgang ookal mag wees. Ons ervaar dikwels spyt en droefheid oor vorige mislukkings – soms realisties so, ander kere verbeel ons ons dat dit wat skeefgeloop het ons skuld was – maar God los ons nie in ons ellende nie. Hy stap met ons verder, gee nogmaals leiding, skep nuwe moontlikhede, selfs wanneer ons dit nie kan raaksien nie.

Samuel se salwing van Dawid is die laaste daadwerklike ding wat hy gedoen het. Hy het nie aanvanklik gedink dat Dawid eens ‘n keuse sou wees nie, maar hy het God vertrou. En so eindig sy “ beroep” met hoop – hy het ‘n nuwe leier gesalf. Die mees onwaarskynlike leier van almal, maar nietemin die een wat God gekies het. Dawid, nie sonder sy eie foute en mislukkings nie, maar tog ‘n man na God se hart. Samuel se beroep het nie sommer net iewers doodgeloop nie, selfs al het hy waarskynlik dikwels so gevoel. Sy beroep, en veral sy laaste daad in gehoorsaamheid aan God, het in ‘n nuwe toekoms ingeloop, nuwe hoop en nuwe lewe.

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.

1 Samuel 8-9

28 April 2013 – 5de Sondag in Paastyd
Prediker: Dr Tiana Bosman

Verlede week was ons binne die troonkamer van God in die hemel met beelde waaraan nie eens Johannes met sy visioen reg kon laat geskied nie. Vandag is ons binne die stof van die alledaagse lewe van ‘n groep mense wat mekaar eintlik nie geken het nie in die OT. Ek weet nie wie van julle destyds die fliek Babel gekyk het nie. Dit is ‘n film wat handel oor verskillende mense se lewens, mense wat niks met mekaar te doen het nie, maar iewerste, op ‘n verrassende manier, kruis hulle almal se paaie op ‘n lewensveranderende punt. ‘n Baie goeie film met ‘n treffende storielyn.
Mense hou van stories. En die stories, die gebeurtenisse in ons lewens wat ons die graagste oorvertel is daai stories wat mense se oë laat rek en hulle na hulle asem laat snak. Die tipe stories wat aanmekaargesit word deur verrassende momente, ons kan eintlik sê deur toevallighede – dit is wat stories fassinerend maak. Dis die toevallighede, die vreemde draaie en onverwagse ontmoetings wat ‘n goeie storie maak werk.

Die skrywers van die OT was storievertellers van formaat. Omdat meeste mense in daardie jare nie kon lees nie, was dit baie belangrik om ‘n storie goed te kon vertel (en goed te kon voorlees,) sodat diegene wat dit aangehoor het dit kon onthou. En sodat hulle dit later vir hulle kinders en hulle kinders se kinders kon vertel. Sodat die stories wat regtig gebeur het, of wat ‘n impak op die vorming van die volk gehad het, nie verlore sou gaan vir die nageslagte nie.

Ons praat dikwels oor hoe belangrik literêre merkers en instrumente is in poësie. Ons kan byvoorbeeld dink aan parallellismes, alliterasie, assonansie, rym, ritme, ens. In die Hebreeuse taal van die OT was literêre merkers en woordkeuses nét so belangrik in die narratiewe dele, die verhale, as wat dit in die poëtiese tekste was. Woorde en woordvorms is baie noukeurig gekies om ‘n storie lewendig te maak sodat die aanhoorders werklik die impak van die verhaal sou begryp. Dit was verál belangrik omdat dit hier gegaan het oor die volk self se geskiedenis en die verhale daarbinne.

So was dit ook met die aanstelling van die eerste koning oor Israel.  Dat dit ‘n baie belangrike verhaal was in die volk se geskiedenis, ‘n verhaal met ‘n verrassende sameloop van omstandighede, blyk duidelik uit die vertelling daarvan in 1 Sam 8-9. Om die Hebreeuse woordkeuses en vorms uit te lig gaan vir julle niks beteken nie. Maar ek gaan probeer om die verhaal so in Afrikaans oor te vertel dat dit reg laat geskied aan die oorspronklike nuanses. En dan kan ons dit deurtrek na vandag toe. Want eintlik het hierdie ou verhaal baie in gemeen met ons lewens vandag.

In die eerste plek kan ons onsself baie goed met die konteks vereenselwig. Dis die jaar van die verkiesings. Tot op hede het die volk nie ‘n koning gehad nie, ook nie ‘n president of ‘n spesifieke party soos ons nie, maar verskeie leiers het na vore getree. Eers Moses, toe Josua, daarna verskillende rigters, toe die priester Eli en na hom die profeet Samuel. Samuel het oud geword en dit was tyd vir hom om uit te tree. Hy het sy seuns in sy plek as hoofleiers oor Israel aangestel, maar die twee was oneties (klink dit dalk bekend?) en het ook nie regverdige beslissings gevel nie. Al die leiers van Israel het bymekaargekom en na Samuel toe gegaan in Rama om daar met hom te beraadslag. “Kyk,” sê hulle vir hom, “jy het oud geword en dis tyd om uit te tree. Maar jou seuns is nie soos jy nie. Hulle lieg en bedrieg om elke hoek en draai. Hulle is beslis nie leier-materiaal nie. Ons dink dis nou tyd dat jy vir ons ‘n koning aanstel om oor ons te regeer, net soos al die ander nasies. Almal het ‘n koning behalwe ons.” Natuurlik het die volk nie ‘n koning gehad nie, want God was hulle koning. Maar dit was nie meer vir hulle genoeg nie. Hulle wou soos die ander nasies wees met ‘n mensekoning, en God het toegegee. Wie weet, dalk kan dit tog werk? Solank die koning sy plek ken en weet dat hy God se verteenwoordiger onder die volk is. Nadat Samuel al die implikasies van om ‘n koning te hê duidelik aan die volk uitgespel het, wou hulle steeds deurdruk met hierdie plan vir ‘n nuwe regering. God gee toe aan Samuel die opdrag om vir hulle ‘n koning aan te stel. Maar wat doen Samuel? Hy stel nie ‘n koning aan nie. Hy stuur hulle eerder almal huistoe. Die leier van die land wil nie aan die volk se behoefte voorsien nie. En hier stop die storie aan die einde van hfst 8. En hfst 9 begin met ‘n heeltemal ander storie, oor ander mense, wat afspeel op ‘n ander plek. Die mislukte algemene verkiesing is vergete en ‘n familie se moleste met hulle donkies word die nuwe fokus.

“Daar was ‘n man uit Benjamin. Sy naam was Kis.” Dan volg sy hele pedigree en ons hoor dat hy ‘n seun gehad het met die naam Saul, ‘n sterk seun, en mooi, ‘n kop langer as enige van sy volksgenote. Wanneer daar so oor iemand uitgebrei word – wie was die man se pa en sy oupa, wat was sy oupa-grootjie se naam, en die name van sy kind of kinders – as jy eers dit alles hoor dan weet jy jy moet jou regskuif vir ‘n goeie en gedetailleerde storie.

Op ‘n keer het daar donkies van Kis weggeraak en Kis sê vir hierdie mooi seun Saul van hom: “Vat tog een van die slawe saam en gaan soek die donkies.” Nou slawe was, in die oë van hulle base, naamlose besittings gewees, nie veel meer werd as die donkies self nie. So ons kan die slaaf sommer ou Watsenaam noem. Die naam pas hom eintlik goed.
Saul en ou Watsenaam het orals gesoek – hulle het die Efraimsberge deurkruis, hulle het die Salisastreek deurkruis, die Saälimgebied deurkruis, die Jeministreek deurkruis – orals gesoek maar geen teken van die donkies gevind nie. In die Sufgebied aangekom sê Saul vir ou Watsenaam: “Kom ons gaan terug voordat my pa van die donkies vergeet en eerder oor ons bekommerd raak.”
Maar ou Watsenaam het ‘n ander plan. “Nee wag eers!,” sê hy vir Saul, daar is ‘n man van God in hierdie stad, ‘n belangrike man. Alles wat hy sê gebeur presies so! Kom ons gaan soontoe. Miskien sê hy vir ons hoe ons hiervandaan moet loop?”
Saul is maar skepties en hy sê vir ou Watsenaam: “Kyk, ons kan gaan, maar wat sal ons vir die man saamvat? Onthou al ons kos is op en ons het ook nie ‘n geskenk om vir die man van God te gee nie. Wat het ons nou eintlik?” (retories, hiermee sê Saul “ons het niks nie”)
Maar ou Watsenaam hou áán: “Kyk net hier wat ontdek ek in my hand! Drie gram silwer! Ek kan altyd dit vir die man van God gee sodat hy vir ons kan sê waar ons moet soek.”
Nou val die verteller homself eers in die rede om seker te maak dat die luisteraars verstaan wat ‘n man van God nou eintlik is. “Onthou,” sê hy, “vroeër het ons mos altyd gepraat van ‘n siener. ‘n Siener is nou wat ons in vandag se tyd ‘n profeet noem.” (Hierdie persoon het die gawe gekry om dinge wat verlore is te sien of om in die toekoms in te sien.)

Saul is nou oorgehaal en hy sê vir ou Watsenaam: “Dis ‘n goeie plan. Komaan. Kom ons gaan dan.” En so het dit gekom dat hulle na die stad toe gaan waar die man van God was.
Terwyl hulle nog teen die opdraand uitloop oppad na die stad toe, ontmoet hulle heel toevallig meisies wat gaan water skep het, en vra vir hulle: “Is dit híér waar die siener is?”
En die meisies antwoord hulle: “Dis reg, kyk!, hy is net daar voor. Roer julle nou, want hy het net mooi vandag na die stad toe gekom omdat die volk vandag ‘n offer op die heuwel bring. Wanneer julle by die stad ingaan, sal julle hom kry net voordat hy by die heuwel opgaan om te gaan eet. Die mense sal nie eet voordat hy daar is nie, want hy moet die offer seën. Eers daarna eet die wat genooi is. Maar die mense is al honger! Gaan dus dadelik, dan sal julle hom nou nog daar voor kry.”

Hier moet ek myself nou eers in die rede val. Herinner hierdie gebeure nie vir julle baie aan ons basaar nie? Ons hou juis, heel toevallig, komende Saterdag basaar. Die deel van die volk, dws die gemeente van daardie tyd, kom almal saam op ‘n spesifieke dag daar op die heuwel, want dit is die plek waar hulle gewoonlik kerkhou. Hierdie is ‘n spesiale geleentheid want hulle gaan ‘n offer aan God bring, waarskynlik om vir Hom dankie te sê vir sy sorg en omdat Hy die gemeente seën. Dit is ‘n feestelike byeenkoms waar die gemeente vleis braai en lekker saam eet. En dan die “give-away” van enige basaar – niemand mag begin eet voordat die dominee nie die basaar geopen het met gebed nie. Samuel, die leierdominee van die volk, is deur die plaaslike gemeente genooi om hulle basaar te kom open. Dit is hoekom hy op hierdie spesifieke dag daar in die stad is.

So het Saul en ou Watsenaam toe opgegaan na die stad toe. Hulle was oppad na die middelpunt van die stad, en jou wrintiewaar!, daar kom Samuel net mooi uit om hulle te ontmoet, so in sy opstap na die basaar op die heuwel toe.

Wat julle nie weet nie, is dat die Here die vorige dag vir Samuel gesê het: “Teen hierdie tyd môre sal Ek ‘n man na jou toe stuur vanuit die land van Benjamin, en jy moet hom salf as leier oor my volk Israel. Hy sal my volk red uit die mag van die Filistyne, want Ek sien om na my volk omdat Ek hulle hulpgeroep gehoor het.

Toe Samuel vir Saul sien het die Here vir hom gesê: “Kyk! Hier is die man van wie Ek jou vertel het; die een wat sal heers oor my volk!”
Saul het vir Samuel tegemoetgegaan in die middel van die stadshek: “Sê asseblief tog vir my waar is die huis van die siener?” (dws die herberg waar die siener tuisgaan)
En Samuel het vir Saul geantwoord: “Ék is die siener…”

En uiteindelik – na Samuel se onwilligheid om ‘n koning aan te stel, en na ‘n nuwe verhaal van donkies wat wegraak en ‘n seun en sy slaaf wat op vele afdraaipaadjies gaan om hulle te soek – kruis die paaie van die een wat ‘n nuwe koning moet aanstel en die een wat as koning aangestel moet word… Daar is sóveel toevallighede wat vir Samuel en vir Saul bymekaar uitgebring het:

–    Iemand het die donkiekamp se hek laat oopstaan, en die donkies het koers gekry.
–    Kis kies sy seun Saul om die donkies te gaan soek.
–    Saul besluit om vir ou Watsenaam saam te vat, toevallig die slaaf wat van die siener te hore gekom het.
–    Ou Watsenaam, nikswerd en arm soos hy is, het ‘n paar muntstukke in sy sak gegooi voor hy saam met Saul weg is.
–    Die donkies is skoonveld en Saul gooi tou-op naby ‘n bepaalde dorpie.
–    Toevallig is Samuel díe dag in die bepaalde dorpie om ‘n basaar te open.
–    Toevallig het ou Watsenaam iewers gehoor dat die siener daai dag daar gaan wees.
–    Teen alle verwagtinge in luister Saul na ou Watsenaam, sy slaaf!, se voorstel.
–    Kan jy nou meer – nes hulle die stad nader, kom hulle op ‘n groep meisies af wat gaan water skep, en die meisies help hulle om net mooi op die regte tyd by die regte plek aan te kom sodat hulle vir Samuel kan raakloop.
–    Samuel het die vorige dag al by God gehoor dat Saul na hom toe gaan kom.
–    Anders as die vorige keer, is Samuel die keer bereid om gehoorsaam te wees aan God se opdrag om ‘n koning aan te stel.
–    Samuel is net mooi op die regte tyd oppad na die basaar toe, sodat hy en Saul mekaar omtrent tromp-op loop by die stadshek.

Té veel toevallighede om aan toeval toegeskryf te word. Om die waarheid te sê het toeval absoluut geen plek in hierdie verhaal nie. Toeval moet plek maak vir God. Van meet af aan is dit duidelik hoe God betrokke is in die verhaal. Wel nie in die middel van die verhoog nie, maar deurgaans agter die skerms. Die volk is in die moeilikheid. Hulle gerespekteerde leier is oud en die nuwe leiers is korrup. God stem in dat die regeringstelsel kan verander na die van ‘n aardse koning. Samuel is ontevrede hiermee en stel nie ‘n koning aan nie. Dit lyk asof alles op niks uitgeloop het. Maar dis nie waar nie! Want intussen werk God dag en nag om die volk uit hulle moeilikheid te help. Hy sluimer nie in nie en Hy slaap nie. Hy sien toe dat iemand vir ‘n oomblik geheueverlies het en vergeet om die donkies se hek toe te maak. Juis hierdie donkies, Kis se donkies. Hy maak die donkies so eie-wys soos hulle in elk geval geskep is, en hulle loop weg. Saul moet gaan soek en hy trek vir ou Watsenaam saam. En so begin die dinge draai en kry die storie lyf. ‘n Storie van hoe God nie toor om dinge in die wêreld reg te stel nie, maar hoedat Hy deur alledaagse dinge, deur doodgewone gebeure en doodgewone mense werk sodat Hy sy planne in volvoering kan bring en sodat mense wat in die nood is gehelp kan word.

Ons is altyd op soek na die bonatuurlike God wat op bonatuurlike wyses ingryp in die wêreld en in ons lewens. Ons soek heeltyd wonderwerke, en vir ons is wonderwerke gelykstaande aan ‘n God wat toor. Dit terwyl God se grootste wonderwerke in die geskiedenis nie deur die swaai van ‘n towerstaffie gekom het nie, maar neerslag gevind het in die lewens van die mees doodgewone en alledaagse mense wat mens kan kry. Soos donkies en Watsename en diensmeisies. Die eintlike wonder is juis dat God, wat so groot is, bereid is om terug te tree en agter die skerms te werk, dat God meestal op onsigbare maniere werk. Hy is nie ‘n verhoogman nie en ook nie iemand vir koerantopskrifte nie. Dink maar aan hoe onsigbaar Hy Homself gemaak het in die timmerman van Nasaret. Sy eie mense het Hom nie eens herken nie. Intussen was dit sy grootste wonder ooit.

So werk God in die wêreld. En so werk Hy ook in elkeen van ons se lewens. Dag en nag, altyd betrokke, altyd besig, onsigbaar vir die onoplettende oog, maar weliswaar daar. En as ons dan gaan terugkyk, na hierdie verhaal ja, maar ook na ons eie lewensverhale, kan ons sien hoedat daar wonderwerke uit God se alledaagse betrokkenheid by ons lewens gebore is. Wanneer goed in ons lewens uitwerk, wanneer ons lewenspaaie verrassende draaie neem, wanneer iets of iemand oor ons pad kom “asof dit/hy/sy gestuur is”, dan ís hy waarskynlik gestuur, al weet hy dit self nie. Wanneer hierdie dinge gebeur, dan is dit nie toeval nie. Dan is dit God.

Mag dit so wees dat God se onsigbare werke in ons lewens vir ons sigbaar word. Sodat ons Hom nie so heeltyd hoef te soek nie, maar dat ons Hom sal sien. Soms in ‘n donkie. Soms in ‘n droom. Meestal in die stowwerige strate van die gewone lewe en op die moeë gesigte van gewone mense, en in hierdie gewone mense se raad en rigtingaanwysings.

Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.