2 Petrus 1:16-21 – 2017

26 Feb 2017 Sondag van Verheerliking Pinelands
Prediker: Dr Tiana Bosman 

 Verlede Sondag preek Murray oor gelowiges wat die idee laat vaar het van ‘n spoedige wederkoms. Wat as gevolg daarvan magsdronk word en hulle nie meer onderwerp aan selfondersoek en selfkritiek nie. Gelowiges wat nie meer dienend wag op die Here nie, nie meer uitvoering gee aan die liefdesgebod nie.

Vandag lees ons uit die tweede brief van Petrus. Alhoewel Petrus waarskynlik nie self die brief geskryf het nie, maar iemand anders op ‘n manier namens hom geskryf het (‘n algemene praktyk in daardie tyd), gaan ek die brief hanteer asof Petrus self die outeur was – dit was immers die skrywer se bedoeling.

Na sy groeteboodskap aan die begin van hfst 1, spoor Petrus die Christene wat tussen heidene leef aan om geestelik te groei. Omdat die gelowiges reeds deel het aan die goddelike natuur (1:4) kan hulle alle ywer aan die dag lê om by hulle geloof uitnemendheid te voeg – kennis – selfbeheersing – volharding – toegewyde lewe – broederliefde (philadelphia) – en liefde vir alle mense (agape) (5-7). Die algemene lewensdeugde wat ook deur die heidene ingeoefen word tussen wie hulle leef, word omarm deur geloof in die eerste plek en agape in die laaste instansie. Dít is wat hulle anders maak, dít is wat hulle goddelike natuur verklap.

In vss 12-15 verwys Petrus dan na sy dood wat binnekort op hom wag, soos die Here Jesus dit ook langs die see van Tiberias aan hom bekend gemaak het (Joh 21). 3 keer in hierdie 4 verse gebruik hy dan die woord “herinner” om die gelowiges te laat verstaan wat die doel van sy brief is – voor sy dood wil hy vir oulaas ‘n skrywe rig, amper soos ‘n testament wat hy nalaat, om hulle te herinner wat die dinge is wat hulle nooit moet vergeet nie. Hiermee gryp hy dan terug na die andersoortigheid van hul lewens, hulle goddelike natuur wat by uitstek na vore kom in hul geloof asook hul agape (liefde vir alle mense). Dit is die kenteken wat hulle nooit moet verloor nie.

Dan lê Petrus sy argument aan die gelowiges voor. Binne ‘n konteks waar hulle daarvan beskuldig word dat hulle die gelowiges met leuens vertroos en met stories wat hulle uit hul duim suig, bemoedig (veral met die oog op die verkondiging van die wederkoms wat nie blyk waar te wees nie, want die Here kom dan nie!), lê hy sy feite op die tafel:

  1. 16-18: Want ons het ons nie op vindingryke fabels (fairytales) verlaat nie… Inteendeel, ons was ooggetuies!…

Petrus herinner hulle aan Jesus se verheerliking op die berg (Matt 17 ea). “Ons was daar! Ons het in-sig gekry in die goddelike natuur van Jesus Christus!”

  1. En as dit (ons ooggetuieverslag) nie genoeg is nie: 19: Ons beskik oor die profetiese woord (opsomming vir die hele OT) wat nog vaster staan! Fokus op hierdie woord soos op ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn… (Ps 119: 105: U woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my lewenspad.”)
  2. Dan die verdere opbou tot ‘n klimaks: 20-21: “Belangriker as dit alles moet julle met die volgende rekening hou: Geen profesie in die Skrif berus op eie uitleg nie… Meegevoer deur die HG het mense die woorde uitgespreek wat van God afkomstig is.”

Direk na die gedeelte waarsku Petrus in 2: 1 dat daar “ook vals profete [was] onder die volk, soos daar ook onder julle vals leraars sal wees wat vernietigende ketterye sal insmokkel en selfs die Heer wat hulle vrygekoop het, verloën.”

Die vraag ontstaan hoe kan ons onderskei tussen die ware en die valse profete? Wanneer berus ‘n lering op God se uitleg via leiding van die HG en wanneer is dit eie uitleg wat nie van God afkomstig is nie?

The proof is in the pudding. As die poeding flop, was daar fout met die bestandele of die manier hoe dit bymekaargevoeg is. Net so: As ‘n gelowige se etiese lewe nie gestalte gee aan die opsomming van die Wet en die Profete nie, dan verloën ons hierdie Here. As ons goddelike natuur ons nie uitbring by die heilige gebod van agape liefde nie, dan is wat ons doen nie van God afkomstig nie.

Petrus verwys in ons teksgedeelte (1:19) na die OT geskrifte en dat ons daarop moet fokus soos ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn. Hy was by die dag toe Jesus sy bergrede aan die eenvoudige mense (waaronder ook hy) verduidelik het (Matt 5-7). Hy het gehoor toe Jesus gepraat het van sout vir die aarde en lig vir die wêreld. Hy was daar toe Jesus aan die einde alles wat Hy daardie dag gesê het, opsom met: “Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, doen ook so aan hulle. Want dit is die kern van die Wet en die Profete” (7:12). Hier na die einde van sy tweede brief kom hy weer by die herinner uit wat hy herhaaldelik in hfst 1 as die doel vir sy brief stel: 3: 1-2: “In my twee briewe, geliefdes, probeer ek deur middel van herinnering julle helder denke aan te wakker, sodat julle die woorde kan onthou wat voorheen deur die heilige profete uitgespreek is, en ook die opdrag van ons Here en Verlosser wat julle apostels deurgegee het.”

Vandag is die Sondag van Verheerliking, die Sondag van Transfigurasie of Transformasie (Gr: metamorfose). As gelowiges herdenk ons die dag waarop Jesus bo-op die berg voor die oë van Petrus, Johannes en Jakobus van gestalte verander het – alles het lig geword, blink, Jesus se gesig het geskyn. In Sheila Cussons se gedig Verheerliking is die dissipels gegun om te “gesien het hoe hierdie Jesus lyk vir God”, “’n man gemaak van son”. En vanuit die hemel het ‘n stem gekom: “Hy is my Seun, my geliefde Seun, in wie Ek My verbly.” Op die laaste Sondag van Epifanie herdenk ons die toppunt van die ver-skyn-ing van Jesus toe sy goddelike natuur deur God self bevestig word. Van hier af stap Hy die lydenspad na Golgota toe.

Wanneer Petrus die dag van verheerliking in herinnering roep in sy brief, dan doen hy dit omdat hy die valse aantuigings dat hy en die ander apostels onwaarhede verkondig, wil weerlê. Maar agter dit is sy motivering dieper – hy wil die gelowiges aanspoor om nie moed op te gee nie, om hulle te beywer om so te leef dat hul goddelike natuur ook sigbaar sal word, dat hulle die Skrif sal gebruik as ‘n lamp vir hul voete, dat hulle sal skyn as kinders van God in ‘n wêreld waar dit baie donker is, dat alles wat hulle doen, sal spreek van hul geloof aan die een kant en hul liefde vir alle mense aan die ander kant (1:5-7).

Binne die RK tradisie is daar ‘n dag in die jaar waarop gelowiges hulself kan ondersoek om te toets in hoe ‘n mate die transfigurasie van Jesus op die berg ook in hul lewens sigbaar was die afgelope jaar. Ek dink nie dis ‘n slegte idee om ons aan te sluit by die Katolieke gelowiges en onsself ook te ondersoek en te toets nie. Murray het juis verlede week hiervan gepraat – die noodsaak van selfondersoek en selfkritiek in ‘n gelowige se lewe.

Die dag van toetsing vir die Katolieke (Is jy en God nog één? Het die transformasie van Christus ‘n werklikheid geword in jou lewe, is dit sigbaar? / Gal 2:20) is 6 Augustus, opgedra aan “die transfigurasie van ons Heiland”. Sheila Cussons, self ‘n Katoliek, het, naas haar gedig oor Jesus se Verheerliking, ook ‘n gedig geskryf oor die impak daarvan op gelowiges:

6 Augustus: Transfigurasie

Midsomer nou en alles gloed. Lig oorstelp.
Vlees is swaar, gees onwillig, stom, of soek.
Niks, nie ’n vonk in staat tot hulle “Here,
dis goed dat ons hier is, laat ons hutte bou!”
Ek maak my oë toe, en sien al sien ek nie
die fyn strepie sweet in die plooi van elke
ooglid. Lomerig dink ek: geen hutte nie …
en skerper meteens: en natuurlik nie!
Wie bou as ons bou is God, sy dit hut of
woord – Klein nattigheid van my vel, jy
weet nie hoe besonder jy is nie: hier, en nou,
in die Onverwoordelike: God verlore in God.

Kort verduideliking:      

Cussons ervaar dat sy die toets faal.

Midsomer in Europa, son skyn, alles helder (amper soos op die berg met Jesus), perfekte geleentheid om te toets.

Die omstandighede is dus so dat Sheila God se transformerende glans in haar lewe moet kan raaksien, maar in plaas daarvan ontdek sy eerder dat haar vlees swaar is, haar gees onwillig, stom, soek… Sy het haar geloof verloor, kan nie die Lig raaksien nie.

Al wat sy regkry is om haar oë toe te maak. Met die sluit sy die wêreld met sy beperkinge uit, en bring dit haar, verrassend, by ‘n hemelse perspektief. Nou sien sy al sien sy nie. Sy kyk na binne en daar vind sy vir God, in so ‘n mate dat sy identifiseer met Hom, so ver gaan as om te praat van “God verlore in God” – sy het gedink sy het vir God verloor, maar toe was Hy al die tyd binne haar. Nie omdat sy deur die loop van die jaar so oulik was nie, maar omdat – wanneer ookal sy dit kon regkry om wel te bou aan die koninkryk, dit juis nie sy was nie, maar God wat deur haar bou (Wie bou as ons bou is God, sy dit hut of woord – dws dade of woorde).

God verwoord Homself, deur háár, alhoewel sy nie die oorspronklike bron is nie, maar eerder “meegevoer deur die HG” (vgl 2 Pet 1:21).

Sy ontdek dus dat sy besonders is, spesiaal, dat sy tog geleidelik transformeer om meer soos Jesus te word. Aan die einde die wonderlike ontdekking: sy het die toets geslaag!

In die erkenning van ons gebrokenheid, ons tekortkominge, ontdek ons juis ons afhanklikheid van God. Dat ons in eie krag nie kan nie, maar dat God uit genade sy goddelike natuur ook in ons ingegee het. Dat ons daarom, wanneer ons stil word voor die transformasie van Christus en die ontdekking van sy goddelike natuur, juis ook strewe daarna om aan hierdie natuur van Hom gestalte te gee in die wêreld waar ons leef. Natuurlik gaan ons misluk, soos Sheila, en wanneer ons onsself ondersoek is die mislukkings dalk aanvanklik al wat uitstaan. Maar wanneer ons ons oë toemaak, ontdek ons dat ons tog nie net misluk nie, dat ons, juis omdat ons sensitief is daarvoor en ons lewens instel daarop, deur die innerlike krag van God getransformeer word om meer en meer soos Jesus te leef. Al sê die hele wêreld vir ons dat ons ons siele oorgee aan vindingryke fabels. Ons weet van beter. Ons het die vertellings van ooggetuies. Ons het die OT sowel as die NT. En ons het, bo alles, woorde as lampe in die duisternis wat van God afkomstig is.

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.