2 Samuel 9:1-13 – 2015 – Die Kerk is ‘n ruim huis

15 November 2015 Pinelands
Prediker: Ds Thuenis Botha

IL de Villiers (Balansstaat)

O, Heer, ek dank U vir U groot geduld
met my. Ek is so in die skuld
by U. My bankstaat bly in rooi getik.
Nulle kom voor die komma by – ek sluk
soms swaar daaraan. Ek bied
so min en vra al meer krediet
en kry dit (God weet hoe!).
Ek is soms bang U roep
my in om alles te betaal
en haal my uit U waagskaal
uit as ‘n té groot risiko:
‘n Twyfelaar wat glo.

Biddag vir reën  (Lees gebed van ‘n boer in die Noorde van ons land)

 

EPIKLESEGEBED

Here, dat ek voor u gemeente mag staan met U Woord in my mond….is genade!
Laat U genade ook tot elkeen spreek
Amen

PREEK

Liewe gemeente

Wat ‘n roerende verhaal….dit onderstreep opnuut ons as mense se aangewese wees op mekaar maar dan ook die appél op die balans tussen gee en neem en regverdigheid en betroubaarheid en lojaliteit. Dit is wat die Joodse filosoof Martin Buber sou noem – ‘die regverdigheid in die menslike bestaansorde’…daarsonder maak mense van mekaar objekte en verdinglik verhoudinge en word dit die prooi van uitbuiting met as gevolg die kwes en vernedering van die ander….by name die een wat anders is as ek!….

Ek is diep bewus daarvan dat ons hierdie teksgedeelte vanoggend kan lees en van kennis kan neem as maar net nog ‘n deel van die historie van die Koningshuis van Israel. In die proses, glo ek, bestaan die moontlikheid dat ons die evangelie wat opgesluit lê in die teks kan mis!…Dat ons dit kan lees as ‘n verhaal sonder om God se stem daarin te hoor en nog minder die aanspraak wat Hy op ons maak.

Ek sou die teks wou nader met die vrae:

  • Die teks ….en God se trou
  • God se trou…en Jesus
  • God se trou… en die kerk…en die ander
  1. Vertel die verhaal (‘chesed’…die dryfveer agter Dawid se optrede…om betroubaat te wees ter wille van Jonathan)
  1. God se trou

Teen die wyer dekor van die evangelie – sou jy dit vergesog vind om vanoggend te moet hoor dat ek en jy is elkeen Mefiboset….verbonde met skande….en dat, sonder verdienste, ons die focus word van God wat ons agternasit in sy trou en met Sy liefde…wat Sy Seun stuur om ons te soek en wanneer Hy ons vind letterlikik ‘opraap’ en terugbring na die kudde,  soos wat ‘n goeie herder met sy skape doen?…sou jy?

Nee!…dit is die evangelie!!! God, die koning reik uit na ons, stuur na ons, roep na ons omdat Hy ons teenwoordigheid aan Sy tafel begeer. Hy gooi Sy nette wyd uit…en só skryf van WykLouw….toe hy sy groot net uit laat gooi regs van die boot en links en regs, het Hy ingesleep: ‘n vreemde prooi – ‘n visvangs soos die óú Wet slegs in skaam vermoede kon vermoed – : melaats, besete, ryk of klein; sondaars van elke kleur of geur, maar in Sy glimlag, skielik rein.

Dit is die evangelie!! – God stuur sy Seun na die wêreld…al roepende…uitnodigend…en waar hy wie ookal vind…stop Hy…vertoef Hy…gesels Hy…en waar moontlik, eet Hy saam. Hy omarm die mense want Hy maak tyd vir hulle want dit is belangrik…Hy hanteer hulle nie gesigloos nie…nie maar net as objek en entiteit nie…Hy gee aan elkeen ‘n gesig…maak van elkeen ‘iemand met ‘n gesig’…want dit gaan om Sy chesed….Sy trou! En hierdie trou, buiten dat dit oorrompelend is, verander dit ook mense se harte.

Hulpelose wesens gaan God aan…en hulle ontvang die boodskap: Die Koning verlang jou teenwoordigheid aan sy tafel.

Waarom gee God ag op die mens?…..ter wille van sy trou…ter wille van die liefde van Sy Seun

Mefiboset…ten spyt van wie jy is, ten spite van jou oupa Saul, ten spite van die skande in en om jou, ten spyte van jou lam voete…..is jy nogtans kosbaar in die oë van die koning…ter wille van Jonatan jou pa

Julle moet dit hoor ….God is nie skaam om jou aan Sy tafel te hê nie…God is nie skaam vir sondaars nie…God is nie skaam vir hulpeloses nie…God is nie skaam virf hulle wat deur die samelewing uitegerangeer is na die rand en die buitewêreld en die duisternis nie….God se bemoeienis is erns!

As jy dit nie wil hoor en omhels nie….pleeg jy sonde wat jou van God vervreem.

Mefiboset is verstom….verslae…oorstelp…wie is ek dat die Koning my aansien…ek is niks meer werd as ‘n dooi hond nie!!…en hierdie hond word herstel tot prins…tot koningskind

Broer en suster…ons is elkeen ‘n Mefiboset….hoor dit

…al is jy een van die vooraanstaande mense in ons gemeenskap

…al klop jy jou op die skouer as ‘n vroom gemeentelid

…al reken jy jou as iemand wat baie beteken

Ek en jy is nikswerd…’n Mefiboset…maar die verrassing…’n geredde sondaar omdat ek en jy God aangaan….en ook die een daarbuite

Twee Sondae gelede op Sondagjoernaal…’n gesprek…en in die onderhoud –

  • Dit is die kern van die Bybelse etiek…nie reëls en wette nie…nie ‘n sedeleer nie…maar ‘n styl van leef en doen, soos Jesus, wat inspeel in die lewens van mense en mense se harte aanraak…’n etiek wat dikwels opeindig aan ‘n tafel waar geëet en gedrink word….ja, met die tollenaar en die moordenaar en die hoer…’n vreemde feestelikheid
  • …’n verwelkomende ontvangs!!!!

En nou…die Kerk…ek en jy?

  • Die Kerk…ek en jy is God se =kneg…met ‘n boodskap van die eintlike Gestuurde….
  • …julle sien…om kerk te wees is om gestuur te wees…om in die wêreld in te gaan omdat ons ‘n boodskap het…en die boodskap is God se goeie nuus…Sy evangelie…’JY GAAN GOD AAN’…KOM!…
  • … ja kom, ter wille van sy chesed…sy trou…ter wille van die liefde van Sy Seun.
  • Op dieselfde bladsy in die HAT waar die woord etiek omskryf word as sedeleer, vind ons ook die woord etiket…wanneer mens ‘n kaart by wyse van spreke om iemand se nek hang….mag ek hier maar sê da tons meester is daarin…ook in die kerk…praat ons maklik van die en daai…hy/sy is liberal of verkramp, het die waarheid beet of is besig met ‘n dwalleer…
  • …want die kerk is ‘n ruim huis…en om mense, al verskil hulle van jou, buite te laat staan, is oneties
  • Die Kerk mag nooit ‘n geslote huis wees nie….omdat ek en jy gedring word deur die chesed van God ter wille van Jesus

AMEN!

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Ds Theunis Botha word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.

2 Samuel 18 – 2015

9 Augistus 2015 Pinelands (Koninkrykstyd)
Prediker: Dr Tiana Bosman 

Die verhaal is ingebed in ‘n groter narratief met die aanloop reeds in 2 Samuel 13. Eintlik moet ons dit terugneem na hfst 11 toe, waar Dawid vir Batseba verkrag, en die verskriklike gevolge daarvan, as Dawid vir Urija (Batseba se man) vermoor en met Batseba trou. Dit alles was verkeerd in die oë van Here. Daarom stuur die Here vir Natan na Dawid om sy straf aan te kondig (2 Sam 12). As deel van Dawid se straf se “die swaard nooit meer uit sy huis weggaan nie” (daar sal altyd onderlinge stryd wees), ‘n vriend sal oop en bloot met Dawid se vrouens slaap, en die eerste kind wat Dawid by Batseba verwek het, sal sterwe (2 Sam 12: 10-14).

Voor die einde van hfst 12 sterf die kindjie al. Die onderlinge stryd in Dawid se huis begin in 2 Samuel 13. Daar lees ons hoedat Amnon, Dawid se seun, slinkse planne beraam en sy halfsuster Tamar (Dawid se dogter) verkrag. Tamar is in ‘n toestand en sy vertel haar broer Absalom wat gebeur het. Absalom het vir Amnon gehaat oor wat hy aan sy suster gedoen het. Hy het haar in sy huis geneem en versorg, want sy was ‘n wrak gewees. Koning Dawid, die pa van hulle almal, het van alles gehoor wat gebeur het en hy was woedend, maar hy het niks daaromtrent gedoen nie.

Aangesien Amnon glad nie gestraf is vir sy verkragting van Tamar nie (‘n straf wat na regte deur Dawid opgelê moes word – koning en pa), het Absalom reg in eie hande geneem en vir Amnon vermoor. Hierna het hy, uit vrees vir wat Dawid hom kon aandoen, gevlug en vir drie jaar in Gesur gebly. Dawid het intussen vrede gemaak met Amnon se dood en hy het verlang daarna om weer vir Absalom te sien (2 Sam 13:39).

Die verhaal neem sy verloop. Al wil Dawid die vrede tussen hom en Absalom herstel, het Absalom bedekte motiewe om die Israeliete weg te steel van Dawid af (sodat hulle hul lojaliteite kan skuif en oorloop na hom toe dat hy hulle nuwe koning kan word, hfst 14 en 15). Die opstand van Absalom was so ernstig dat Dawid en sy mense vir hulle lewe uit Jerusalem gevlug het. Dawid het egter sy tien byvrouens agtergelaat om die paleis op te pas. 2 Samuel 16:21-22 vertel dat Absalom ‘n tent op die dak van sy pa se paleis opgeslaan en daar, voor die oë van die hele Israel, by Dawid se byvrouens geslaap het. So word nog ‘n straf wat Natan in hfst 12 aangekondig het, waar.

Absalom was daarop uit om Dawid om die lewe te bring sodat hy die nuwe koning van Israel kon word. Dit is om hierdie rede dat die oorlog van 2 Sam 18 uitbreek, die oorlog waartydens Absalom se manne verslaan word en hy sy eie lewe verloor…

Lees/vertel 2 Sam 18

Dawid en sy manskappe staan op die vooraand van die oorlog teen Absalom en sy volgelinge (die Israeliete). Aanvanklik was Dawid van plan om saam te gaan veg (hy het mos nou sy les geleer van agterbly as die ander gaan veg…), maar sy manskappe het hom afgeraai want hulle is bang hy sterf (3). In vers 5 gee Dawid dan aan sy bevelvoerders hierdie bevel: “Saggies om my ontwil met die jongman Absalom”. ‘n Vreemde versoek tydens ‘n oorlogsituasie – wees tog saggies met my grootste vyand. En die hele weermag het gehoor toe Dawid hierdie bevel gee aangaande Absalom.

Wanneer Dawid hierdie bevele uitdeel aan sy bevelvoerders, doen hy dit in sy amptelike hoedanigheid as koning. Dit is egter so dat sy amptelike rol as koning hier vervleg word met sy persoonlike rol as vader. Dit is immers sy eie seun Absalom wat teen hom in opstand kom en aan die ander kant van die oorlogslinie gaan staan. Alhoewel hierdie seun so opstandig is dat hy sy pa se dood verlang, wil Dawid as vader deur sy direkte bevel verseker dat sy seun nie doodgemaak word nie, selfs al sou hy dit dalk verdien. Dawid moet egter ‘n professionele afstand handhaaf in die uitdeel van bevele. Daarom kies hy om eerder na Absalom te verwys as “die jongman” in plaas van “my seun”. Dis tog interessant om daarop te let dat die manskappe “saggies” moet werk met hierdie jongman “om my (Dawid se) ontwil…” [Ons sien aan die einde van die verhaal hoe Dawid geen professionele afstand meer kan handhaaf nie wanneer sy emosies oor hom die oorhand kry en hy al sy skanse laat sak – in so ‘n mate dat dit dreig om sy beeld as koning skade te berokken.]

Nadat Dawid se manne die Israeliete in die Efraimbos verslaan het, dws na afloop van die oorlog, het Absalom “per ongeluk Dawid op Dawid se manne afgekom / het sy pad per ongeluk met hulle pad gekruis”. Die oorlog is verby! Absalom se manne is verslaan! Maar hy leef nog, en sonder enige versterkings van manne saam met hom, loop hy hom per ongeluk vas teen die vyand. Die muil waarop hy gery het, het onder die digte takke van ‘n groot akkerboom deurgestap, en Absalom se kop het in die boom (in die mik van twee takke?) vasgehaak, maar die muil het aangehou loop, so dat Absalom tussen hemel en aarde gehang het. Totaal en al weerloos. Uitgelewer aan die genade van die vyand. En Dawid het hulle so mooi gevra om tog genadig te wees met hierdie man…

Toe iemand wat dit gesien het vir Joab gaan vertel, roep Joab uit: “Wat?! Jy het hom gesien! En waarom het jy hom nie net daar tot teen die grond geslaan nie?! Ek sou vir jou tien silwer muntstukke en ‘n eregordel gegee het.” Die man verset hom toe teen Joab en herinner om aan Dawid se bevel: “Saggies om my ontwil met die jongman Absalom.” Maar Joab steur hom nie daaraan nie, gaan self, steek vir Absalom met sy swaard, en sy wapendraers storm nader en slaan hom heeltemal dood.

Absalom is nie in die familiegraf van die koningshuis begrawe was wat die gebruik was nie, maar hy is begrawe soos wat ‘n vervloekte persoon begrawe sou word – sy lyk is in ‘n diep gat in die bos gegooi, en hulle het ‘n groot hoop klippe op hom gepak (17).

Twee boodskappers hardloop om die nuus van die oorwinning aan Dawid oor te dra. Dawid se eerste vraag aan elke boodskapper is na die welstand van die jongman Absalom. Die eerste boodskapper (een van die manne in Dawid se leër) wil nie die slegte nuus aan Dawid oordra nie en sê dat hy nie kennis dra van Absalom se welsyn nie. Die tweede boodskapper, ‘n Kussiet, weet nie dat dit inderdaad slegte nuus sal wees vir Dawid nie, en uit sy antwoord is dit vir Dawid onmiddellik duidelik dat Absalom gesterf het.

Dawid het begin bewe van ontsteltenis, en hy het opgeklim na die kamer bokant die poort (waarskynlik om, in sy diepe droefheid, nie so in die openbare oog te wees nie) en daar het hy gehuil. Terwyl hy heen en weer geloop het, het hy gesê: “My kind, Absalom, my kind, my kind Absalom. Wie sal tog gee dat ek sterf in jou plek? Absalom, my kind, my kind.” Hier vind nou ‘n verskuiwing plaas. Tot hiertoe het Dawid herhaaldelik na Absalom verwys as “die jongman”. Noudat hy die verskriklike nuus kry dat hierdie jongman dood is, laat sak hy alle professionele skanse en raak hy slegs ‘n pa wat treur oor sy seun vir wie hy baie lief was en nou is die seun dood – “my kind, my kind”.

Die koning worstel van die begin van die hfst af met die balans tussen sy rolle as koning en as vader. Eers hou hy die nodige afstand, maar dat hy as vader besorgd is oor die veiligheid van sy seun, skemer tog van die begin af deur: “Saggies, om my ontwil…”

2 Samuel 18 is nie ‘n maklike teks om oor te preek nie. Dit begin sleg en dit eindig nog slegter. Hierdie is nie maar net ‘n OT verhaal van ‘n seun wat teen sy pa in opstand kom en ‘n oorlog inisieer wat skeefloop en hom sy eie lewe kos, terwyl die pa gebroke is en wens dat dit eerder maar sy lewe kon wees was dié van sy seun wat in die slag gebly het nie. Die hartseer is dat alles wat hier gebeur, en wat dit voorafgegaan het, integraal deel is van die lewe en die samelewing waarbinne ons vandag leef. Niks vreemds speel voor ons af nie – ‘n Seun rebelleer teen sy pa, is in ‘n magspel met hom betrokke, neem wat nie aan hom behoort nie (steel van sy pa), en dan probeer hy boonop ook sy hand aan moord. Verder spruit hierdie gedrag uit ‘n geskiedenis van familieprobleme, geweld, verkragting en vergelding. Kwaad baar kwaad. Die vernietigende effek is so groot dat niks of niemand onaangeraak bly nie. In situasies van morele verval, waar mense onmenswaardig hanteer word, die afwesigheid van reg en geregtigheid, waar daar met mag gespeel word en lewens geminag word – vanuit hierdie situasies kan niks goed kom nie. Nooit nie! Die een ly op die ou end swaarder as die ander, die een kry seerder as die ander.

Absalom hang aan ‘n boom tussen hemel en aarde, hy word met spiese gesteek en dan vermoor. Deur die OT geskiedenis het mense mekaar keer op keer te na gekom, onregverdig hanteer, geminag, vermoor. Binne die geledere van die volk wat anders moes leef, die volk wat ‘n voorbeeld moes wees wat ander na hulle toe trek, die volk wat ander jaloers moes maak op hulle (egste ware) God, die volk Israel, was dinge ook nie beter daaraan toe. Daarom het hulle alles verloor en in ballingskap beland.

Jare later sou daar weer ‘n man wees wat hang aan ‘n boom tussen hemel en aarde. Nie omdat ‘n muil onder Hom uitgery het nie, maar omdat mense Hom daaraan gekruisig het. En Hy sterf ter wille van die liefdeloosheid van die hele wêreld, ter wille van die wrede vergrype van mense teenoor mekaar.

Maar Hy word opgewek uit die dood. Hy oorwin. Sy kruisiging maak uiteindelik die verkondiging van goeie nuus vir ons moontlik. Die skuld vir die sonde is betaal en ‘n nuwe bedeling breek aan. Dinge is nou heeltemal anders. God het Homself in ‘n mens aan ons kom bekendstel. Hierdie mens is ‘n voorbeeld van ware, egte menswees, soos wat God dit bedoel het. Ons het die vergestalting van liefde en vergifnis gesien. Ons het uit die geskiedenis geleer… SA het selfs ‘n Vrouedag (wat ons vandag vier) ingestel nadat 20 000 vroue in 1956 hulle voet neergesit het omdat vrouens nie dieselfde erkenning en respek in die samelewing kry as mans nie.

Maar dan lees ek vanoggend se koerant, en die eerste opskrifte wat my oog vang is:

  • Genl Jannie Geldenhuys se liefdesoorlog
  • Predikant sonder gemeente – dominee wat vrou glo klap, begin eie bediening; saak teen hom sloer steeds
  • Dis ek, Anna: Dit was taai om die sekspes te speel
  • Wapenvry? Zuma soek moeilikheid
  • Terroriste moor SA man in Mali
  • Advokaat, gee asb daardie R17m. terug (waarmee Zuma jou omgekoop het)

Is dít waarvoor Christus sy lewe gegee het? As alles 2000 jaar gelede verander het met Jesus Christus se koms, hoekom is niks dan anders nie? Hoekom is daar niks van hierdie verandering (in Christus) wat die geskiedenis van die mensdom omgeswaai het, sigbaar in die samelewing en die wêreld rondom ons nie? Wat sê dit vir ons … van die wêreld, van onsself, wat sê dit vir die wêreld van God? Watter prentjie skets ons as Christene van God…

Toe vind ek jou  
deur Francois van Coke & Karen Zoid

Ek lê my wapens neer
Vanaand vir die eerste keer
Sien ek myself in jou oë
Ek het hierdie oorlog verloor
Ek staar na die bloed op my hande
Ek weet ek het verander
Jy dink ek praat net weer
Ek het jou lief
Ek sweer

Geen pretensie
Geen beheer

Buite die stemme wat skater
Vriende wat groet
Sien jou later
Elkeen vind sy pad
Ek weet ek moet ook my skat

Hey, my sweet
Hey, my baby
Jy’s my toevlug
Wil jou nooit laat huil nie
Jy’s my lied
Jy’s my wysie
Ons het ’n hond
Ons het ’n huisie

Ek het genoeg gegee
Ek het genoeg geskree
Ek het lankal terug geleer
Maar nog steeds het ek probeer
Vlug soos ’n verraaier
Van dit wat my vashou
Daar was monsters in die donker
Toe vind ek jou
Ek sweer

Geen pretensie
Geen beheer

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.

2 Samuel 11:27-12:25 – 2015

2 Augustus 2015 Pinelands (Koninkrykstyd)
Prediker: Dr Tiana Bosman 

 

Uittreksels uit gister se Geestelike waardes, Dirkie Smit, Die Burger, Saterdag 1 Aug 2015:

Sy weet nie wát het haar besiel nie. Dis nie sý nie. Dit moes die tequila wees. Met dié storie – oor ’n meisie op ’n naweeksaand in ’n kroeg – laat Trevor Noah die Gotham Comedy Club in New York skater. Hulle hang aan sy elke woord en wending. Hulle verstáán hom. Dit dawer en dreun soos hulle gil van genot. Hulle herken dié storie. Dis ’n skets so reg uit eie ervaring, van dié soort verskoning. Dis nie regtig ek nie. Ek weet nie waarom ek my so wangedra nie. Waar my woorde en skandalige gedrag vandaan kom nie.

Ek is nie regtig só nie. Maar dié landgenoot, wat binnekort Jon Stewart se The Daily Show-uitsending oorneem, weet presies wat hy doen. Hy is iewers heen op pad. Dis nog net sy begin. Nee, sê hy, jy ís so. Dit ís jy. Moenie die tequila wil skuld gee nie, dis jý. Jy wás al so vóór die tequila. Dié laat maar net wat reeds binne-in jou is uitkom. Sodat almal kan sien wie jy regtig is, ook jy sélf. Al ontken jy hóé. …

Dit herinner aan Søren Kierkegaard, die 19de-eeuse denker. Ook hy wou passievol sy lesers help om hulself te ontdek, ágter eie self-misleiding te sien wie hulle waarlik is, en ook hý was oortuig van die krag van humor, ironie en lag in dié proses. Die kloof tussen wie ons is en wie ons dink en sê ons is gaap soms só groot dat net grappe, spot en ironie dit kan oorbrug. Of gelykenisse… As iemand ernstig sou praat – in geskrifte, meditasies, selfs preke – kan ons altyd wegkruip agter ons eie argumente, en die tequila, of die skuld van ander. Dis eers as mense ons aan die lag kry vir die belaglike en dán skielik uitwys, maar dis mos óns, ons lag eintlik vir onssélf, dat ons dalk mag ontdek, nee, dis jý. … Dis jý wat só reageer.

(Skuinsgedruk self bygevoeg)

Alle stories wat goed vertel word en op ‘n skerp manier die draak steek met die waarheid, lei egter nie altyd eers tot lag voordat dit uitmond in selferkenning nie. Sommiges het niks om oor te lag nie, en begin by ‘n reaksie van woede vir die karakter wat dan eindig by skuldbelydenis…

Tel die drade op van verlede week…

– Persepsies (Batseba het vir Dawid verlei, of was saam met hom skuldig aan owerspel)

– Magsmisbruik (Dawid as koning dink hy kan doen wat hy wil)

– Rippeleffek van sonde en ons staan altyd voor die keuse om weer te besluit: Hoe nou   vorentoe.

Teks 2 Sam 11:27b – 12:25

11:27b: Maar wat Dawid gedoen het, was verkeerd in die oë van die Here.

12:1: Daarna het die Here vir Natan na Dawid toe gestuur. Natan het by hom gekom en gesê: “Daar was twee mans in een dorp. Die een was ryk en die ander een arm.

2: Die ryk man het vreeslik baie skape en beeste gehad,

3: maar vir die arm man was daar nie baie nie, behalwe vir (slegs) een klein ooilammetjie wat hy gekry het. Sy was syne, en sy het grootgeword saam met hom en saam met sy kinders, sy het van sy krummeltjies geëet en uit sy beker gedrink en in sy skoot geslaap, en sy was vir hom soos ‘n dogter.

4: Daar het ‘n reisiger by die ryk man aangekom, en die ryk man het gespaar (kon dit nie oor sy hart kry nie, hml) om te neem van sy skape en van sy beeste om voor te berei vir die reisiger wat na hom toe gekom het, en hy het die ooilammetjie van die arm man gevat (lqh), en hy het (haar) voorberei vir die man wat na hom toe gekom het.”

5: Dawid se neus het baie erg gebrand (hy was woedend) oor die man, en hy het vir Natan gesê: So seker as die Here leef, die man wat hierdie ding gedoen het is ‘n kind van die dood (Afrikaans dalk iets soos: so goed soos dood).

6: Die ooilam – daai man moet viervoudig vergoed as gevolg van hierdie ding wat hy gedoen het, en omdat hy nie gespaar (hml) het nie/nie deernis gehad het nie. (Die punt is – hy hét gespaar (vs 4), maar hy het sy éie gespaar en nie die arm man s’n nie!)

7: Natan sê toe vir Dawid: “ is die man! So sê die Here, die God van Israel (Co amar Yawh Elohim Ysrael :

8: Ek het aan jou gegee die huis van jou heer en die vrouens van jou heer in jou skoot, en Ek het gegee vir jou die huis van Israel en Juda, en as dit te min is, dan sou Ek toevoeg vir jou om te kyk en te kyk! (oneindig baie!)

9: Waarom het jy die woord van die Here geminag deur te doen wat verkeerd is in sy oë? Vir Urija die Hetiet het jy doodgemaak met die swaard, en sy vrou het jy gevat vir jou as vrou. Vir hóm het jy doodgemaak met die swaard van die Ammoniete!

10: En nou sal die swaard nooit weer uit jou huis weggaan nie, want jy het My geminag en jy het die vrou van Urija die Hetiet gevat om jou vrou te wees.

11: So sê die Here: Kyk! Ek is op die punt om tot stand te bring teen jou ramp/ellende vanuit jou eie huis. Ek sal jou vrouens voor jou oë vat en Ek sal hulle gee vir jou vriend, en hy sal by jou vrouens lê (slaap) voor die oë van hierdie son.

12: Want het gedoen in die geheim, maar Ék sal hierdie ding doen voor die hele Israel en voor die son.

13: Toe sê Dawid vir Natan: “Ek het gesondig teen die Here.” En Natan antwoord vir Dawid: “Die wonder is (gam) die Here het jou sonde laat verbygaan en jy sal nie sterf nie.”

14: Máár (moenie dink Ek is klaar gepraat nie – ) omdat jy deur hierdie ding so veragtelik teen die Here opgetree het, sal die seun wat vir jou gebore is sekerlik sterf.”

24: Dawid het vir Batseba, sy vrou, getroos. Hy het na haar toe gegaan en by haar gelê (geslaap) en sy het ‘n seun gebaar, en Dawid het hom Salomo (afgelei van shalom, vrede) genoem. Die Here het hom liefgehad,

25: en Hy het deur Natan die profeet ‘n boodskap gestuur dat hy Jedidja (Geliefde van die Here) genoem moet word, ter wille van die Here.

Boodskap

Natan was ‘n profeet van die Here in diens van die koninklike hof tydens die bewind van Dawid en Salomo. Hy het in moeilike situasies vir die koning raad gegee, en, sien ons hier, ook tereggewys. Dawid het een van sy seuns Natan genoem – vernoem na hierdie profeet vir wie hy baie respek gehad het.

Natan se baie slim tegniek van ‘n gelykenis vertel sodat hy nie sommer met die deur in die huis val en vir koning Dawid beskuldig nie (want waartoe is Dawid dan nie alles in staat nie!), maar hy vertel ‘n storie, skynbaar oor iemand anders se magsvergrype en die hartseer gevolge daarvan, sodat Dawid self die oordeel fel. Eers nadat Dawid die onreg raaksien en veroordeel, gaan Natan ‘n baie dapper stap verder deur die vinger na hierdie onaantasbare man wat dink dat hy verhewe is bo die wet te wys: “ Jy is die man!”

Terug by die gelykenis. Daar is verskille tussen die gelykenis en Dawid se eie sonde – dalk ook juis omdat Natan nie onmiddellik die aap uit die mou wou laat en sy motief weggee deur die storie té bekend te laat klink nie – maar die bedoeling is duidelik. Die ryk man het vreeslik baie skape en beeste gehad, maar toe ‘n reisiger by hom aan huis kom, spaar hy sy eie skape en beeste en gaan haal die een ou hanslammetjie van ‘n arm man, ‘n lammetjie wat vir die arm man soos ‘n eie dogter was, een wat in sy skoot geslaap het, vir wie hy baie lief was, en die ryk man slag hierdie lammetjie vir die reisiger. Dawid, weer, was ‘n ryk en magtige koning met baie vrouens in sy harem, te kies en te keur, maar toe sy soldaat Urija weg was om Dawid se oorlog namens hom te gaan veg, vat hy die se enigste vrou, neem haar vir homself, en slaap by haar.

Vir ons wat die storie van buite bekyk is die ooreenkomste duidelik. Ons is soos Trevor Noah se gehoor – ons kan lag vir die petalje of huil oor die ironie daaragter, maar dis omdat dit nie ons eie storie is nie dat ons die fyn nuanses kan optel. Dawid sien egter nie die ooreenkomste raak nie. Sy neus raak bloedrooi van woede en sy reaksie is eintlik oordrewe. Hy is só kwaad-ontsteld dat hy vir Natan in die rede val: “So seker as die Here leef, die man wat hierdie ding gedoen het, is ‘n kind van die dood!” “ So seker as die Here leef” – ‘n mens kon nie ‘n oordeel sterker uitspreek as hier nie. Dis amper asof Dawid sê: “ Vervloek is die man!”

“Jý is die man!,” sê Natan … en Dawid se bloed word koud. Dan is dit asof die Here met sy woorde vir Dawid aan die skouers wil vat en skud met ‘n “Besef jy wat jy gedoen het! Maak oop jou oë!” Oordeelsuitsprake volg nou wat in tipiese profetiese formules gegiet is:

כֹּה־אָמַ֨ר יְהוָ֜ה אֱלֹהֵ֣י יִשְׂרָאֵ֗ל “So sê die Here, die God van Israel: Kyk wat het Ek nie alles vir jou gegee nie, Dawid! Onder andere die vrouens van jou heer Saul in jou skoot (soos die hanslammetjie in die arm man se skoot geslaap het), en Ek was bereid om soveel meer te gee as jy wou hê! Maar jy het my woord geminag. Vir Urija het jy doodgemaak, en die vrou wat in sy skoot hoort het jy gevat (die daad van magsvergrype) vir jou as vrou. Jy het jouself aan haar vergryp en hom het jy doodgemaak!” (Nie letterlike deur die swaard nie, boogskutters het hom doodgeskiet, maar die swaard was ‘n beeld van onreg en boosheid.)

Dan die aankondiging van die langtermyn straf – onthou die rippeleffek van ‘n verkeerde daad: “Die swaard sal nooit weer uit jou huis weggaan nie… Ek sal jou vrouens vat en Ek sal hulle gee vir jou vriend…” – Presies wat jy gedoen het, sal Ek doen, net nie in die geheim nie. Daar sal ‘n openbare spektakel daarvan kom.

Dan die skuldbelydenis. Dawid probeer nie teëpraat nie, hy probeer nie ontken nie, hy soek nie redes soos die vrou met die tequila nie. Hy weet hy het met God te make. En hy weet ook hy het netnou self die oordeel uitgespreek oor die ryk man wat sy mag so liederlik misbruik het. As God Dawid se eie oordeelsuitspraak op hom toepas, dan is hy nou so goed soos dood.

Maar die genade van God is groter as die genade van Dawid. Ironies – diegene wat skuldig is aan sonde verdra dikwels nie dieselfde sonde in die lewens van ander nie, en onnadenkend slinger hulle oordele na ander terwyl hulle eintlik aan dieselfde dade skuldig is… Gelukkig is God nie Dawid nie, en wonder bo wonder teen alle verdienste in vergewe Hy hom.

Die onmiddellike gevolge word egter nie opgehef nie, so ook nie die langtermyngevolge nie. Dit is nie net Urija en ander soldate wat hul lewens verloor nie, maar ook die seun wat uit hierdie vergrype gebore word. Dat God ‘n mens vergewe beteken nie dat jy (en ander) nie meer die gevolge an jou dade sal dra nie, dit hef nie jou verantwoordbaarheid op nie.

Maar dan die grootste wonder – aan die einde van een van die mees tragiese verhale in die Bybel, daar waar klomp mense nou dood op die verhoog van die lewe lê en die gordyne veronderstel is om toe te gaan, net daar word ‘n nuwe begin gebore: Dawid troos vir Batseba. In hfst 11 nadat haar man sterf en sy oor hom ween en skree, doen Dawid niks – hy wag eenvoudig die voorgeskrewe routyd uit en laat haar daarna haal. Maar nou in hfst 12 na die dood van hul eersgeborene troos Dawid vir Batseba. Hy probeer. Van ‘n werklike intieme verhouding lees ons nie (yda ontbreek), maar hy probeer darem.

En Batseba kry vir die eerste keer weer naam terug en sy word later ‘n baie belangrike vrou. Die belofte van hoop lê in die naamgewing van ‘n verkragte vrou wat deur die hele storie identiteitloos was (sy was deurgaans bloot die vrou van Urija en later die vrou van Dawid). Haar menswees word herstel.

En Salomo. Nuwe lewe. In sy naam getuig Dawid van shalom wat weer tot stand gekom het. En in die Here se troetelnaam Jedidja hoor ons ook die klanke van vergifnis en hoop.

Dit vat niks van die sleg weg nie, maar ten minste loop alles nie hier dood nie. In teendeel – God kry dit reg om die geskiedenis so te stuur dat, weens die magsvergrype van Dawid, ‘n geslagslyn voortgesit word waaruit Jesus later gebore sou word. Die verskriklike sonde van een persoon mond uit in die verlossing van die wêreld, nie as gevolg van daardie persoon se sonde nie (ons kan tog nooit verkragting of ander vorme van magsvergrype so goedpraat nie), maar ten spyte van sy sonde.

Die gelykenis van ‘n onskuldige lammetjie wat geslag is, lê die omvang van Dawid se sonde bloot. Generasies later stel die verhaal van die Lam van God wat geslag is, die omvang van die mensdom se sonde bloot. Dawid het op die ou-end sy skuld erken. Dink ons nog steeds na vanoggend dat hierdie net ‘n storie oor Dawid is? Of kan dit dalk wees dat die storie oor Dawid op ‘n manier as ‘n gelykenis gelees kan word wat ten doel het om vandag, nie met direkte lyne en ooreenkomste nie, maar tog onmiskenbaar die vinger na elkeen van ons wil wys: “Jy is die man! Jy is die vrou!” Kan dit wees dat ons, ryk en gemaksugtig soos ons is, ook ons mag misbruik om die armes en weerloses in ons huise of skole of by die werk of in die breër samelewing te ontneem van die bietjie wat hulle het of behoort te hê?

Dit aan die een kant. En aan die ander kant: Is daar nog mense onder ons wat die durf het om soos Natan op te staan en in die naam van God die onreg wat ons raaksien uit te wys en oop te vlek en mense tot verantwoording te roep? Of is ons almal te bang om dalk self slagoffers te word van die een met die hef in die hand? Ons moet tog onthou niémand is onaantasbaar nie. Geen mens het absolute mag nie, al dink hy of sy dalk so. In 2 Sam 11 was Dawid die een “calling the shots”. In 2 Sam 12 word die bordjies verhang en word God die een “calling the shots”. Is ons bereid om sy spreekbuise te wees wanneer ons sien dat mense mishandel of geboelie word , of laat ons ons ook boelie deur die mag van mense? Jesus van Nasaret is gebore om vir ons ‘n voorbeeld te kom wees van hoe dit lyk wanneer mense hul nekke uitsteek vir ander mense wat nie geag word nie. Hoe sing ons? – O Lam van God onskuldig, wat moedig aan daardie kruishout hang…

As ons vandag in ‘n spiëel sou kyk, hoe en waar pas ons in Dawid en Natan se verhale in?

 

 

 

 

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.

2 Samuel 11:1-27 – 2015

26 Julie 2015 Pinelands (Koninkrykstyd)
Prediker: Dr Tiana Bosman 

Die arme koning Dawid, ‘n man van die Here, wat so deur Batseba se tentoonstelling van haar naakte liggaam verlei is dat hy nie anders kon as om by haar te slaap nie. Wat het sy aangevang!? Die uiteinde van haar verleiding was haar man se dood. Ai Batseba.

Hoeveel gelowiges is daar nie wat hierdie teks so lees nie? Ek woon eenkeer ‘n bybelstudie by wat deur ‘n man gelei word. Die tema van sy dagstukkie was “Take care,” en die hele stuk gaan daaroor dat hy vrouens waarsku om tog nie so aan te trek dat mans nie ‘n ander opsie het as om hulle te verkrag nie. Moenie noupassende klere dra nie, moenie rompies dra wat bo die knie sit nie, moenie moulose rokke dra nie, want dan soek jy om verkrag te word. Soos Batseba. Sy wou mos in die oopte bad…

Dawid was ‘n goeie koning gewees. Tot hiertoe lees ons van sy politieke en militêre suksesse. 2 Sam 8:14-15: “Die Here het Dawid die oorwinning laat behaal net waar hy gegaan het. Dawid was koning oor die hele Israel en hy het sy hele volk met reg en billikheid geregeer.” Maar op ‘n dag het daar ‘n draaipunt gekom en ‘n ander kant van Dawid se karakter het deurgeskemer. Dit was lente en al die manskappe het opgetrek om te gaan oorlog voer. Maar hierdie keer gaan Dawid nie saam nie. Plaas het hy maar gegaan…

Op hierdie stadium was Dawid 6 vrouens ryk, 7 as ons vir Mikal bytel, maar die twee se verhouding het erge spanning verduur. Feit is, hy het nie ‘n tekort aan vrouens gehad nie. Maar eendag na sy middagslapie gaan hy uit op die dak van die paleis en hy stap daar rond. Daar anderkant sien hy ‘n vrou bad – sy was waarskynlik ook op haar dak wat laër was, met haar diensmeisies wat haar help om te was nadat haar menstruasiesiklus verby was. Vrouens was tydens hul maandstonde kulties onrein gewees, en hulle moes daarna ‘n reinigingsbad hê. Hierdie tyd van die maand is egter ook ‘n vrou se mees vrugbare tyd, met die grootste kans op swangerskap, en dit is waarskynlik waarom die skrywer hier vir ons noem dat dit haar reiningingsbad was. Om in ‘n binnehof op bo-op jou dak te bad, was ook nie ‘n ongewonde ding om te doen nie. Verál nie in die lig van die feit dat al die mans weg was om te gaan oorlog voer nie. Wel, die keer almal behalwe een…

Die vrou was vir Dawid baie mooi, en hy het oor haar laat navraag gedoen, wat vir ons aandui dat hy haar nie vooraf geken het nie. “Dit is Batseba dogter van Eliam, die vrou van Urija die Hetiet.” ‘n Baie uitgebreide bekendstelling. Gewoonlik word ‘n vrou net bekendgestel deur haar te verbind aan haar man, maar hier hoor ons ook wie haar pa was. Dit sê vir ons dat Batseba nie sommer enige vrou was nie, sy was nie van laë stand of ‘n diensmeisie nie, sy kom uit ‘n goeie familie. Nie adellik soos koning Dawid nou is nie, maar nietemin goeie stoffering. Haar man se naam, Urija, beteken “Yahweh is my lig”. Hy was een van Dawid se beste soldate.

Dit is insiggewend dat Batseba se naam net een keer genoem word in die verhaal, en dit is wanneer Dawid se amptenare vir hom sê wie die mooi vrou is wat hy gesien het. Van hier af verloor sy haar identiteit en word daar bloot na haar verwys as “die vrou” of “Urija se vrou”. Dat sy haar eie naam het maak nie meer saak nie – Dawid het net haar naam nodig gehad sodat hy die regte vrou kon laat haal.

Urija was een van sy soldate, maar Dawid is die een in die magsposisie, en daarom dink hy hy kan vat wat hy wil, al behoort “dit” nie aan hom nie. Hy vat die vrou dan ook en kry klaar met haar – alles in een kort vers (4): Hy het sy amptenare gestuur en hy het haar gevat en sy het gegaan en hy het by haar gelê (geslaap) en sy het teruggegaan huistoe. In 1 Sam 8: 11-18, toe die volk so vir ‘n koning smeek, het Samuel hulle al gewaarsku met die woorde: “Julle koning sal vat wat aan julle behoort – julle dogters, julle lande, julle slawe en slavinne, julle jong manne…” Hierdie werkwoord (לקח) dra binne die konteks die betekenis van magsvergrype. In die verhaal van Dawid se “vat van Batseba” is geen sprake van ‘n aanloop tot die daad nie, geen verhouding tussen hulle wat oor tyd heen ontwikkel het nie, geen liefde nie, slegs maar Dawid se oë wat lus geraak het vir wat hy gesien het. Hy kon of wou homself nie beteuel nie. Hy hoef ook nie te nie, of so het hy klaarblyklik geredeneer, want hy is die koning. Dawid het vir Batseba verkrag, en sy was in geen posisie om hom teë te staan nie. Soos later in die verhaal duidelik word, maar wat Batseba nou alreeds weet, is dat koning Dawid die mag het om oor haar man se lot/lewe te beskik. Wie weet wat sal met Urija gebeur as sy die koning teëgaan?

Soos wat dit dikwels is met ‘n persoon wat sy mag misbruik, kry Dawid wat hy wou hê. Maar daar kom ‘n kinkel in die verhaal. Die vrou wat tot nou toe nie ‘n woord gesê het nie, moet verdere vernedering smaak deur vir Dawid te laat weet, dws sy moet deur boodskappers werk om die nuus by hom uit te kry: “Ek is swanger.” Wat ‘n weerlose uitspraak vir ‘n vrou, veral in haar situasie – die konteks waarbinne sy geleef het, en haar man weg op die oorlogsveld. Al waaraan sy kan dink is om vir Dawid te laat weet – hy het haar misbruik en verkrag, maar hy is ook die enigste een wat hierdie situasie kan beredder. Wie weet, dalk is hy eerlik en erken hy wat hy gedoen het. Natuurlik sal daar skande oor hom kom, maar as koning is dit baie onwaarskynlik dat hy ‘n swaar straf sal moet dra. Ander konings en leiers het al met soortgelyke dade weggekom (vandag nog), net omdat hulle magsposisie hulle beskerm het…

Waar Dawid die geleentheid het om verantwoordelikheid te aanvaar vir wat hy aangevang het, maak hy dit nou eerder erger en erger. Hy het ‘n goeie kop op sy skouers en hy besef: As hy net vir Urija vinnig genoeg by sy vrou kan uitkry om by haar te slaap, dan kan die baba wat gebore word deurgaan as Urija se kind.

Dawid stuur ‘n boodskap na sy bevelvoerder Joab om vir Urija na hom toe te stuur onder die voorwendsel dat hy by hom wil uitvind hoe dit op die oorlogsfront gaan. Hierna stuur hy vir Urija huistoe om bietjie te gaan rus. In die Hebr sê Dawid vir hom: “Gaan af huistoe en gaan was jou voete.” Nou ja, voete was kan dood eenvoudig voete was beteken, MAAR in die OT konteks was die uitdrukking “om jou voete te was” ook ‘n eufemisme vir seks gewees. So, “Urija, dankie vir die nuus van die front af. Gaan nou maar huistoe en gaan was jou voete, wink wink.” En om seker te maak dat Urija Dawid se groothartigheid verstaan om aan hom ‘n nag saam met sy vrou te gee, stuur hy ‘n geskenk ook agterna.

Maar Urija gaan nie huistoe nie. Hy gaan slaap eerder daardie nag saam met die slawe van die koning by die paleisdeur. Want hy is ‘n soldaat wat sy sout werd is. Hy is eerbaar en lojaal. Soldate het tydens oorlogtyd nie seks gehad nie. Dit was een van die regulasies gewees. Vir Urija om af te gaan huistoe en die kat in die donker te knyp, selfs al het Dawid dit in soveel woorde aangemoedig, sou ‘n ernstige oortreding wees – selfs strafbaar indien dit aan die lig kom. En as Dawid se plan gewerk het, sou dit natuurlik aan die lig kom, want hoe anders het die vrou dan swanger geword? Haar man natuurlik!

Urija is egter te lojaal aan sy koning en aan sy medesoldate om van hierdie plesiertjie gebruik te maak terwyl hulle ontbering beleef. Toe Dawid hom die volgende dag uitvra waarom hy nie huistoe is nie, kan ons duidelik vanuit Urija se antwoord hoor dat hy Dawid se eufemistiese gebruik van die “voete was” reg verstaan het, want hier antwoord Urija nou op die man af: “Sou ek huistoe gaan om te eet en fees te vier en by my vrou te slaap, terwyl die ark en Israel saam met Juda in hutte woon en my aanvoerder Joab sowel as u soldate in die oop veld kamp opslaan? Dit sal ek beslis nooit doen nie!”

Dawid gee nog nie moed op nie. “Bly nog ‘n dag oor jy teruggaan,” sê hy vir Urija. Daai aand maak hy hom dronk in die hoop dat Urija in sy dronkenskap sy vrou tussen die lakens sal gaan opsoek. Maar Urija in sy dronkenskap het steeds ‘n beter karakter as Dawid toe hy sober was, en weereens gaan slaap hy by die slawe. Dawid se brein werk oortyd, en een daad lei na ‘n volgende. Nou is daar vir hom net een oplossing. Smee ‘n komplot met Joab om vir Urija so te stasioneer met die volgende aanval, dat hy in die oorlog sal sterf. Dan is hy dood en almal sal dink dat hy wel in sy wegbreuktyd by sy vrou geslaap het en verantwoordelik is vir haar swangerskap. Sý gaan tog vir niemand die waarheid vertel nie. En Dawid se boodskappers by die paleis weet ook van beter as om hul monde verby te praat. Buitendien, as Urija eers dood is en sy vrou klaar oor hom getreur het, onderneem Dawid, sal hy ‘n baie eerbare ding doen en hy sal met die swanger weduwee trou – net maar nog ‘n vrou op sy kerfstok.

Joab was reeds ‘n moordenaar – in 2 Sam 3 het hy vir Abner om persoonlike redes doodgemaak. ‘n Daad waarvoor Dawid vir hom baie kwaad was! En nou daal Dawid tot die vlak van die moordenaar. En Joab is bereid om sy samewerking te gee. Dawid maak van hom ‘n medepligtige want hy is in die skuld by Dawid. Die grootste ironie van alles hier aan die einde van die verhaal is dat Dawid sy brief met die opdrag aan Joab in Urija se hand stop toe hy teruggaan na die oorlogsveld toe. Urija is onwetend die draer van sy eie doodsvonnis.

Nadat alles uitgespeel het volgens Dawid se uiteindelike verskriklike plan, het meer as een persoon sy lewe in die proses verloor. Dis gewoonlik so – een persoon se verkeerde besluite en dade het ‘n rippel-effek, wat op die ou-end kan veroorsaak dat baie onskuldige mense skade ly. Toe Urija se vrou (nog steeds gebruik die verteller nie haar naam nie) hoor dat haar man dood is, het sy oor hom getreur – Hebr “geween, geweeklaag, hard geskree oor haar heer”. Hoor net daar – sy het nie vir Urija beskou bloot as haar man (ish), neutrale woord, nie, maar as “haar heer”. Sy het vir hom respek gehad. Sy hét hóm liefgehad, en haar hart het gebreek. Nêrens in die verhaal kies die verteller eksplisiet kant of spreek hy ‘n oordeel uit nie. Tot reg aan die einde. Dan sluit hy hierdie gebeurtenis af met: “Wat Dawid gedoen het, was verkeerd in die oë van die Here.” Let op – nie wat Dawid en Batseba gedoen het nie, maar wat Dawid gedoen het. Koning Dawid is die skuldige persoon in hierdie verhaal.

Twee hoofstukke later herhaal die geskiedenis homself in ‘n ander gedaante. Dawid se seun Amnon verkrag sy halfsuster Tamar. Toe Dawid daarvan hoor was hy woedend, maar hy het niks aan die saak gedoen nie. Hoe kon hy vir Amnon tot verantwoording roep as hy dieselfde sonde gepleeg het? Sy ander seun Absalom was ook woedend en besluit om reg eie hande te neem as sy pa dan nie gaan optree nie. En Absalom vermoor vir Amnon. Sien julle hoe stoomroller een verkeerde daad wat handuitgeruk het omdat Dawid nie die onreg gestop het en verantwoordelikheid wou neem vir sy sonde nie? En nog is dit die einde nie…

Waar is God in dit alles? Midde die verhaal van magsvergrype en verkragting lees ons nie een keer die naam van God nie. Daar word nooit na Hom verwys nie. Behalwe in die laaste sin: Dawid het gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here.

In die volgende hfst kom sy sonde op die lappe en word hy tot verantwoording geroep. Maar daarvan lees ons eers volgende Sondag. (Dit is amper soos ‘n riller – op die hoogtepunt van die spanning verskyn daar op die skerm “to be continued…”).

Wat ons tot dusver samevattend kan sê:

– Persepsies is gevaarlik want dit is meestal verkeerd. Ons sê so maklik: Maar ek het gedink dis so en so…, en dan dink ons die feit dat ons die kat aan die stert beetgehad het, verskoon ons van ons oordele. Vir eeue het baie predikante en gelowiges en kunstenaars en skrywers en rolprentmakers die persepsie gehad dat Batseba die skuldige of ten minste medepligtig was, in die verhaal wat ons vandag gelees het. Dit terwyl sy geen aandeel gehad het daarin nie.

As jy in ander se lewens en stories belangstel, sorg dat jy jou storie oor hulle reg agtermekaar het, voordat jy jou eie feite begin opdis.

– Magsmisbruik, ook onder goeie, godsvresende mense, is altyd baie gevaarlik.

– Ons moet pasop om een verkeerde daad met ‘n volgende verkeerde daad te probeer toesmeer. In ons eie lewens, selfs al het ons gesondig, staan ons áltyd weer voor die keuse: hoe nou vorentoe? Ons het altyd ‘n kans om weer die regte besluite te begin neem, ten spyte daarvan dat dit implikasies vir ons lewens sal hê. Alles wat ons doen het implikasies vir ons en andere se lewens. Sommige besluite se implikasies is net veel erger as ander s’n. Ons word dus opgeroep om verantwoordelikheid te neem vir ons besluite en ons dade, om dit in die oë te kyk en aan te spreek.

As ons vandag se verhaal hier ophou lees, dan is dit ‘n tragedie. Dit is in elk geval ‘n tragedie. Daar is geen wenners nie. Dawid dink tans nog hy kom ongeskonde daar uit, maar dit is ook nie waar nie. Waar was God toe dit alles gebeur het? Hoe moet ons sy betrokkenheid of afwesigheid verstaan? Waarom het Hy nie ingegryp nie?

Ek weet nie. Ek vra myself hierdie vrae baie dikwels af, en loop myself altyd vas teen ‘n muur sonder antwoorde. Wat ek wel raaksien is dat die mens die vermoë het om besluite te neem en deur te voer wat direk teen God se wil is. Ons eie sondige wil kan die geskiedenis ‘n ander verloop laat neem as wat God sou wou hê. En dikwels meng God nie in nie, Hy keer ons nie, Hy laat ons begaan. Ons is nie marionette wat deur die Meester se toutjies-trek bestuur word nie. Soos William Ernest Henley dig: “I am the master of my fate, the captain of my soul.”

En tog die onderliggende troos in die laaste sin: “Wat Dawid gedoen het was verkeerd in die oë van die Here.” Wat beteken: Die Here weet. Hy het gesien. Hy is bewus van die verkeerd en die onreg en die onskuldige lewens wat daaronder gely het. Hy trek Hom dit aan, dit ontroer Hom. Hy roep ons tot verantwoording, maar Hy laat ons nooit gaan nie. Hy verlaat ons nie, maak nie saak wat ons gedoen het nie. Is dit nie dalk meer van ‘n troos om te weet dat die Here ten minste weet van ons sonde en nietemin die pad verder saam met ons stap en op manier ons saggies weer in die regte rigting druk (nudge), as dat Hy glad nie weet nie omdat Hy nie omgee nie… Hy gee soveel om dat Hy Homself vir ons kom gee het. Sy genade is so groot dat ons selfs met moord kan wegkom. Ook Hy het dit aan sy eie lyf gevoel…

Twee aangrypende skilderye van Batseba: Rembrandt van Rijn (Hollandse skilder, 17e eeu) en Artemisia Gentileschi (Italiaanse vrou, 17e eeu, sy was self verkrag en het die daad openbaar gemaak sodat die verkragter vervolg kon word – haar dapper optrede was baie ongewoon vir die tyd waarbinne sy geleef het. Haar twee skilderye van Batseba beeld duidelik die weerloosheid op haar gelaat uit.)


Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.