Esegiël 37:1-14 – 2015

24 Mei 2015 Pinksterfees Pinelands
Prediker: Dr Tiana Bosman 

Hoe gemaak as ons in ons lewe in ‘n doodloopstraat beland? So vasgeloop dat daar geen opsies meer is nie, geen uitkoms nie. Selfs van omdraai is daar nie meer sprake nie, want dit is te laat. Ons het al ons kanse verspeel, of wat ookal die geval is. Wie van julle het al by ‘n punt in jul lewe gekom waar jy gevoel het: Ek kon net sowel dood gewees het. Of: Was ek maar eerder dood. In die Bybel lees ons verhale van mense wat by daardie punt in hulle lewe gekom het. Kyk maar net na die smeekgebede in die Psalmboek – mens wonder soms watter gebeure alles daar agter lê. Paulus wat ‘n man was vir woorde sê dit treffend wanneer hy uitroep: “Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos!?” (Rom 7:24-25). Lewendig dood. Lewende lyk…

Esegiël was ‘n profeet voor en tydens die Babiloniese ballingskap van Juda. Aan die een kant het hy die woord van die Here aan die ballinge gebring (die wat reeds weggevoer is), maar dan het hy ook met sy medevolksgenote gepraat wat in Juda en Jerusalem agtergebly het. Die gedeelte wat ons vandag lees kan na die verwoesting van Jerusalem geplaas word. Esegiel is reeds met die eerste ballinge na Babilon weggevoer, maar hy het nog gehoop dat Juda staande sou bly – die staat waar die tempel en die Dawidshuis in Jerusalem was. Solank die twee bakens bly staan het, was daar nog hoop vir die volk. Na 586 vC was daar egter niks meer oor nie, alles is vernietig, die volk was dood selfs is almal nie in ballingskap weggevoer nie. Die wat agtergebly het het ‘n sukkelbestaan gevoer in ‘n vernietigde land onder die heerskappy van vreemde regeerders. Esegiël se profetiese roeping het op niks uitgeloop – na talle waarskuwings en oproepe tot inkeer wou hy nog waarsku, maar toe is dit te laat. Die krag van die Here het op hom gekom, daar waar hy in Babilon as gevangene leef, en in ‘n visioen het die Here hom teruggeneem na sy verwoeste land om die nuus aan hom te breek…

Eie vertaling van Esegiël 37: 1-14

  1. Die hand (>krag) van die Here was op my, en Hy het my uitgebring deur die Gees van die Here, en Hy het my laat rus in die middel van die vallei en dit was vol bene.
  2. Hy het my laat loop op hulle, al in die rondte (rondom en rondom), en KYK! daar was verskriklik baie (bene) voor my in die vallei, en KYK! hulle was baie droog!
  3. Hy het gesê vir my: “Menseseun, kan hierdie bene lewe?” Ek het gesê: “Here Here, U weet.”
  4. Toe sê Hy vir my: “Profeteer oor hierdie bene en sê vir hulle: ‘Droë bene, hoor die woord van die Here.’
  5. So sê die Here Here vir hierdie bene: ‘KYK! Ek is op die punt om asem in julle in te bring en julle sal lewe!
  6. Ek sal vir julle senings en vleis aansit en julle oortrek met vel; Ek sal asem in julle sit en julle sal lewe. Dan sal julle weet dat Ek die Here is.’
  7. Ek het toe geprofeteer soos wat ek beveel is, en daar was ‘n geluid terwyl ek geprofeteer het, en HOOR NET DAAR! ‘n gedruis! Hulle het bymekaargekom, elke been teen sy been!
  8. Ek het dit sien gebeur en KYK! Oor hulle kom senings en vleis en hulle word met vel oorgetrek! Maar daar was geen asem in hulle nie.
  9. Hy sê toe vir my: ‘Profeteer tot die asem, profeteer, Menseseun, en sê vir die asem: ‘So sê die Here Here: Kom vanuit die vier windstreke, O asem, en blaas in hierdie lyke in sodat hulle kan lewe.’
  10. Ek het toe geprofeteer soos wat ek beveel is, en die asem het in hulle ingekom en hulle het gelewe en hulle het opgestaan op hulle voete, ‘n baie baie groot weermag.
  11. Hy sê toe vir my: “Menseseun, hierdie bene, hulle is die hele huis van Israel. Hoor net wat sê hulle!, hulle sê: ‘Ons bene is droog, ons hoop het gesterf, ons is afgesny.’
  12. Daarom, profeteer en sê vir hulle: “ So sê die Here Here: ‘KYK! (Hou My dop/Watch My) EK is op die punt om julle grafte oop te maak, en Ek sal julle uit julle grafte uitbring, my volk. Ek sal julle terugbring na die land (אַדְמַ֥ת lett grond van) Israel toe.
  13. Dan sal julle weet dat Ek die Here is, wanneer Ek julle grafte oopmaak en wanneer Ek julle uitbring uit julle grafte uit, my volk.
  14. Ek sal MY Asem (hier word “gewone” asem nou die herskeppende Gees van God) in julle sit en julle sal lewe. Julle sal tot rus kom op julle grond (bedoelende ‘in julle land’, maar die emosie van die grond lê hierin) en julle sal weet dat Ek die Here is. Ek sal die woord spreek en dit sal gebeur. Dít is wat die Here sê.

Vallei vol bene: ‘n Vallei dui op ‘n vlakte tussen berge, die soort gelykte waar veldslae plaasgevind het. Dis juis op hierdie slagvelde waar onbegraafde lyke gevind sou word.

Hier bly egter net doodsbeendere agter – teken dat die gestorwenes nie begrawe is nie, maar deur voëls en diere opgevreet is. ‘n Verskriklike lot vir die mense vd OT, want dit was vir hulle ‘n teken dat hulle onder die vloek van God gesterf het. Wat dit nie makliker maak nie is dat profete soos Esegiël en Jeremia juis die volk hierteen gewaarsku het – die volk het die verbond met God verbreek en verdien daarom hul straf om te sterf onder die vloek van God. Daarom kan hulle ook nou geen hulp van God verwag nie.

Vs 2 Esegiël was nie net ‘n profeet nie maar ook ‘n priester. As priester mag hy glad nie kontak gehad het met enige vorm van doodsheid nie – kontak met lyke en met doodsbeendere was vir hom verbode. Maar hier het hy geen beheer oor die situasie nie. Die Here self neem hom en sit hom neer midde die verskriklike onrein omstandighede van doodsbeendere en Hy laat hom daar rondstap. Die bekende orde van heilig teenoor onheilig en rein teenoor onrein het dus heeltemal in duie gestort – so dat God self nie meer omgee om die twee met mekaar te vermeng nie.

God spreek vir Esegiël aan as “Mensekind”. Dit is tipies aan die boek Esegiël. Beklemtoon die profeet se menslikheid en sy onbeduidendheid, waarvan hy self deeglik bewus was. Hy is diep bewus van die groot afstand tussen God en mens.

Die ongelooflike (onmoontlike!) visioen van dooie bene wat aangetrek word en ingeblaas word met nuwe lewe. Niks te make met die opstanding van dooies en die ewige lewe na hierdie lewe nie (hierdie gedagte bestaan nog nie in die OT wêreldbeeld nie). Dit herinner eerder aan die skeppingsverhaal van Genesis 2 waar die Here God eers die menselike liggaam gevorm het en dit daarna met lewensasem gevul het. Die God wat eens die mens geskep het, is in staat daartoe om die mens wat vernietig is weer te herskep (in hierdie lewe).

Reusagtige leër – Hier is geen geveg of oorlog ter sprake. Dis nie ‘n groep mense wat gereed is vir ‘n volgende veldslag en die keer gaan hulle wen nie. Die leër dui hier eerder op die lewenskrag wat God aan die nuwe mense sal gee.

Vs 11-14: God verduidelik die visioen aan Esegiël. Alhoewel die beeld aan hom bekend sal wees, gaan hierdie visioen nie oor die slagoffers in ‘n oorlog nie, maar die doodsbeendere is die ballinge, die oorgeblewenes nadat die volk alles verloor het, wat leweloos geword het omdat daar vir hulle niks meer oor is nie. Hulle koning en hulle leiers is weg, hulle mense is daarmee heen, hulle huise en landerye is verwoes, hulle tempel lê in puin, Babilon het hulle graf geword, en hulle godsdiens het hulle nie gehelp nie. Dis juis hulle (manier van) godsdiens en hulle God wat hulle in hierdie krisis laat beland het. En dis nie asof hulle nie gewaarsku is nie… Dis nie asof hulle kan sê: Maar ons het nie geweet nie… Waar sal hulle hulp vandaan kom, as hulle hulle nie meer tot hulle God kan wend nie? Om van hierdie verlorenes weer ‘n volk te maak, sou niks minder as ‘n daad van herskepping wees nie.

Hulle toestand was so verskriklik dat dit om meer gaan as die opwekking van “dooie” lyke. Lyke is wel sonder lewe, maar hulle is darem nog herkenbaar. Selfs geraamtes kan op ‘n manier nog geïdentifiseer word. Wat ons hier het is veel erger. Dis bloot die verstrooide reste of bene van mense wat in ‘n hoop bo-op mekaar lê. Verby morsdood. Niks van oor nie. Geen teken van herkenning nie. Wat ons hier het is nie net dood nie. Dit is die teenoorgestelde van skepping. Dit is “ontskepping” (Lawrie). Juis daarom is herskepping nodig (soos met die skepping van Gen 2).

Die woord ruah (asem, wind, gees) kom 10 keer in hierdie 14 verse voor. In die eerste voorkoms (vs 1) gaan dit om die Gees of krag van die Here wat oor Esegiël gekom het en hom in die visioen inbring. Daarna gaan dit om lewensasem wat dooie mense nodig het om weer te kan lewe en God se hele ontplooiing van die visioen en die herskepping van nuwe lewe en inblaas van asem. En dan aan die einde, in vers 14, voeg God ‘n baie persoonlike dimensie tot die ruah wat tot dusver net “asem” was. Hier bereik die visioen ‘n klimaks wanneer Hy sê “Ek sal MY asem in julle sit en julle sal lewe.” “My asem” wat dan weer baie sterker die betekenis dra van God se krag self. Meer as net algemene lewe, maar ‘n lewe wat toegewy is aan God, gerig deur ‘n harts- en lewensverandering wat deur ‘n persoonlike kennis van en verbintenis tot God tot stand kom. Israel sal nie bloot as “liggaam” herskep word nie, nie bloot as ‘n volk wat weer identiteit kry nie. Hulle sal ook innerlik herskep word. Eseg 36: 26-27: “Ek sal julle ‘n nuwe hart en ‘n nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle ‘n hart van vleis gee. Ek sal my Gees in julle gee en Ek sal maak dat julle volgens my voorskrifte leef en my bepalings gehoorsaam en nakom…”

In NT taal sou ons hier kon praat van wedergeboorte. Maar dan nie in die sin van kom tot inkeer en draai weg van julle afvallige en sondige lewenstyl nie. Droë bene kan nie omdraai nie. Daar is geen meer lewe oor sodat bene wilskrag kan uitoefen of besluite kan neem en keuses kan maak nie. Hierdie herskepping kom alleen maar van God af, wanneer alle hoop verlore is. Kan dorre bene weer leef? Menslik gesproke is dit onmoontlik. Maar by God is dit moontlik. “Kyk (hinee) net wat gaan Ek doen!… Ek… Ék (herhaaldelike klem van die voornaamwoord)… Ek sal dit doen en dan sal julle weet dat Ek die Here is.” (x2) Julle sal WEET (yada – weet, ken, erken, bely, dien en vertrou).” En dan die baie sterk einde met die finaliteit in die belofte: “Ek sal die woord spreek en dit sal gebeur. Dít is wat die Here sê. Finish en klaar!”

“Wie sal my uit hierdie doodsbestaan verlos?,” vra Paulus. “Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here.” Jesus wat self letterlik deur die vallei van die dood gegaan het, daar tussen die bene gelos is en deel van geword het vir 3 dae, en op die derde dag opgewek is uit die dood, uitgebring is uit die graf, en later opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God. Weet julle hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo? Dit is dieselfde krag wat Hy in Christus uitgeoefen het toe Hy Hom uit die dood opgewek het en Hom laat sit het aan sy regterhand. Dieselfde krag, in óns… (Ef 1: 19-20).

Na die oorwinning van Christus ontvang ons die Gees van God op ‘n nuwe manier. Nou gaan dit nie meer net oor die Gees (ruah) as die krag van God wat ons tot nuwe lewe wek nie, maar ons word gevul met sy Heilige Gees (pneuma) wat eers uitgestort word na Jesus se hemelvaart. Ons word gevul met ‘n groter krag nog as die krag van die OT. Ons dink dalk alles is verby. Alles ís dalk verby. En dan is daar steeds nog hoop by God. Herskepping is áltyd moontlik.

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.