Filippense 3:4b-14

8 Oktober  2017 Koninkrykstyd Pinelands
Prediker: Dr Tiana Bosman

Belangrike agtergrond: In Paulus se tyd was daar nog nie so ‘n skeiding in godsdienste dat daar twee godsdienste was waartussen hy beweeg en bemiddel het nie: Daar was nie die Jode en die Christene nie. Die Joodse Christene was ‘n groep Jode wat volgelinge van Jesus was. Later het daar heidene bygekom, maar daar was steeds nie ‘n finale breuk wat meegebring het dat ons van die Joodse godsdiens en die Christelike godsdiens kon praat nie. Daardie skeiding het eers na Paulus gekom, hier teen die einde van die eerste, begin tweede eeu n.C.

Verlede week lees ons Fil 2.  Paulus skryf vanuit die tronk in Rome aan die gemeente in Filippi vir wie hy baie lief is en oor wie hy baie trots voel. Tog is hy bewus van onderlinge onenigheid binne die gemeente omdat sommiges hulle beter ag as ander en op medegelowiges neersien. Daarm haal Paulus die vroeë kenosis of selfontledigings-lied oor Jesus vir hulle aan. Jesus wat in die gestalte van God was en na regte daaraan kon vashou, het dit juis nie gedoen nie. Hy het Homself van alle aansien leeggemaak, ook van sy goddelikheid afgesien deur aan mese gelyk te word en die laagste vorm van mense te word wat daar was, ook die laagste vorm van dood te sterf wat moontlik was. Dis Hóm wat Paulus verkondig, dis sý voorbeeld wat Paulus nastreef.

In vandag se gedeelte, hfst 3, wys Paulus hoedat hy hierdie selfontlediging in sy eie lewe toepas…

Gedeelte begin met Paulus wat vir ons autobiografiese inligting gee oor homself – sy status en prestasies binne die Joodse godsdiens. In baie kulture in die Antieke wêreld het ‘n persoon se status afgehang van sy eer. Twee tipes eer. Toegeskryfde eer – jou status wat afhang van die reputasie van jou familie en jou voorgeslag / stamboom. Verdiende eer – hoe ‘n persoon sy eie status kan verhoog deur seker prestasies te bereik

Paulus se outobiografie wys dat hy uitblink in beide kategorieë. Wat toegeskryfde eer betref, is hy ‘n oktahemeros – ‘n man wat op die agste dag na geboorte besny is. Hy is ‘n Israeliet, behorende tot die stam van Benjamin, ‘n Hebreër van formaat.  Dus vir enigeen wat iets weet van families en stambome: Paulus was ‘n opregte Jood, onbevlek. Hy het uitgestaan bo die heidene en die godsvresers wat, alhoewel simpatiek teenoor en selfs bekeerlinge tot die Joodse godsdiens, nooit ‘n ware Jood sou kon wees nie.

Itv verdiende eer was Paulus wat die wet betref, ‘n Fariseër; wat ywer betref, ‘n vervolger van die kerk; en wat geregtigheid op grond van wetsbeoefening betref, onberispelik. Die Fariseërs het bo ander Jode uitgestaan omdat hulle so lief was vir die OT wet en dit baie streng onderhou het. Dis juis hierdie liefde vir die wet wat vir Paulus gedryf het om die volgelinge van Jesus die vervolg (Hand 9), want nes Jesus het hierdie volgelinge die wet te liberaal geïnterpreteer.

Paulus klink trots op sy etniese reinheid waarvolgens hy homself as ‘n geregverdigde voor God beskou. Maar nou kom dat ‘n twist in the tale, want Paulus, alhoewel steeds dieselfde ras-egte Jood as voorheen, se denke/lewensuitkyk/gesindheid (2:5) het verander: Hy het vir Jesus leer ken. Dit is hierdie sewe karaktereienskappe van oorerwing en verdienste wat daarop dui dat hy nie vir Jesus as Verlosser aanvaar het omdat hy gedink het dat sy Joodse wortels nie goed genoeg was nie. Hy het juis nie gefaal in sy eie godsdiens nie. Maar in wat volg sien ons hoedat hy al hierdie eienskappe van eer nie meer as ‘n bate beskou nie, maar as ‘n verlies, selfs as vullis, noudat hy vir Christus ken. Die Griekse woord wat hier met “vullis’ vertaal word, is ‘n baie kras woord wat na mense of dierlike uitskeiding verwys. Die Engelse “dung” of Afrikaanse “drek” (OAV) is eerder wat Paulus hier in gedagte het. Daar is vir hom nou net een bate en dit is om vir Christus Jesus te ken en om in Hom gevind te word. In besonder verwerp Paulus sy (eie) geregtigheid (regverdiging, vryspraak, integriteit) op grond van die wet (vs 9), dws hy glo nie meer hy word regverdig verklaar omdat hy die wet so getrou onderhou nie. Nee, sy geregtigheid lê in die geloof van (nie “in” nie!) Christus Jesus (direkte vertaling uit Grieks). Pistis: geloof, betroubaarheid, trou, integriteit. Dit is dus ‘n regverdiging wat van God af kom en geskied deur die geloof van Christus (en nie deur ons geloof in Christus nie). Christus se geloof is die deurslaggewende. “Ek probeer nie meer uit verdienste leef nie al KAN ek (al sê die godsdiens van my wortels dat ek kan)!,” sê Paulus. “My enigste doel is om vir Christus te ken, om die krag van sy opstanding te ervaar, en om deel te hê aan sy lyding, om soos Hy te wees in sy dood (Hy wat in die gestalte van God was, het nie sy gelykheid aan God beskou as iets waaraan Hy moes vashou nie, maar Hy het Homself [hierdie goddelikheid] prysgegee en aan mense gelyk geword en Hom verneder tot die dood, ja, die dood aan die kruis – Fil 2, verlede week).

Ons moet so leeg raak van onsself en ons eie vermoëns, dat ons verstaan van God se aanvaarding van ons op geen manier van onsself afhang nie, nie eens van ons geloof in Christus nie. Dit is nie ons geloof wat ons vryspreek nie. Sodra ons so dink, dan raak ons geloof op sigself weer ‘n vorm van verdienste. Dit is Christus se geloof wat ons vryspreek, sy selfontlediging, die integriteit van sy lewe op aarde toe Hy bemoeienis gemaak het met almal wat laë klas en siek en sondig en anders as die norm en untouchable was, sy getrouheid (faithfulness) aan sy roeping om diensbaar te wees en die minstes as sy meerderes te hanteer en so selfs aan die laagste sondaar gelyk te word dat Hy die mees veragtelike sondaarsdood sterf. (Hoekom skryf ek/ons eens voornaamwoorde verwysende na H/hom met hoofletters as H/hy daarteen sou kies? Vanwaar die gestryery oor Bybelvertalings en hoofletters al dan nie, dis kontra-evangelies!)

Flip Theron en Martin Luther

Oor Flip Theron se boek: Gods geregtigheid en Christus se geloof:

“Luther het vertel hoe vreesbevange die gedagte aan Gods geregtigheid hom altyd gemaak het. Hoe kan ’n sondige mens vol ongeregtigheid staande bly voor die oordeel van Gods geregtigheid? Dit was die vraag wat Luther diep verontrus het. Daarom sy bekende vraag: “Hoe vind ek ’n genadige God?” Die Kerkhervorming het begin daardie dag toe Luther se oë geopen is vir die feit dat Gods geregtigheid in werklikheid goeie nuus is. Toe hy besef het dat daar ’n baie hegte verband bestaan tussen Gods geregtigheid en Christus se geloof.

Flip Theron konsentreer op die Griekse uitdrukking pistis Christou, wat op twee maniere vertaal kan word, naamlik as “(ons) geloof in Christus”, of, meer letterlik, as “die geloof van Christus” (dit wil sê, “Christus se geloof”). Eeue lank het die eerste vertalingskeuse algemene voorkeur geniet, maar deesdae word gepraat van ’n konsensus vir die tweede moontlike vertaling.

Daarom het almal wat behoefte het aan troos ook alle rede om hulle in Gods geregtigheid te verbly. Ons hoef nie ons sekerheid te bou op óns geloof nie, maar wel op Góds geregtigheid wat tot uitdrukking kom in Christus se geloof. Soos Paul Althaus dit stel: “Of ek glo, dit weet ek nie, maar ek weet in Wié ek glo.”

Om nederig te wees is om altyd op weg te wees. Paulus het dit toe nie “gemaak” nie. Hy sien af van sy ras-egte status, haal alle sertifikate van verdienste van sy muur af en verbrand nie, het geen sekerheid meer oor om op te roem of aan vas te hou nie, en juis daarin lê sy “sekerheid” – dat hy niks het om te gee, maar daarom soveel om te ontvang. Hy weet dat hy nie volmaak is nie (volmaak wat beteken minder word totdat jy niks is nie, en nie meer word nie), maar as hy dan iets nastreef, dan is dit dit. Of hy uiteindelik daar gaan uitkom, is ook nie bepalend nie. Al wat saakmaak is dat Jesus hom reeds syne gemaak het. Hoor julle dit? As ek dit anders kan verwoord: Hoe sal jy antwoord as iemand jou vra hoe weet jy of jy God se kind is en of jy deel het aan die koninkryk van God? Of dalk is ons belydenisafleggingstaal: Het jy vir Jesus Christus aangeneem as jou persoonlike Verlosser en Saligmaker en glo jy in Hom met jou hele hart en siel en verstand. Aanvaar jy die onfeilbaarheid van die Woord van God soos dit in die Ou en Nuwe Testament geskryf staan en beloof jy om jou lewe daaraan te toets en daarvolgens te rig?

Wat is julle antwoord hierop?

Paulus antwoord: My geboortesertifikaat en my cum laude sertifikate in teologiese studies maak van my ‘n kind van God, maar ek beskou dit as drek en het dit alles verbrand. Ek het nie vir Christus Jesus aangeneem nie, ek het Hom en sy volgelinge vervolg en was aandadig aan baie se dood. Of ek in Hom glo, dit weet ek nie, want my eie geloof is gelyk aan niks. Ek is nie so seker van die onfeilbaarheid van die Ou en die Nuwe Testament nie, want die onderhouding daarvan is juis wat van my ‘n vervolger gemaak het van Christus en sy kerk. Die wet het my gehelp om mense wat nie soos ek is nie, uit te sluit en sommiges selfs dood te maak. Ek het my lewe slaafs daarvolgens gerig en dit het mense skade aangedoen. In alle eerlikheid kan ek nie op hierdie vrae “ja” antwoord nie, want my kennis van Christus het my daarvan oortuig dat dit die verkeerde vrae is om te vra.

Maar as julle my eenvoudig vra of ek aan Christus behoort, dan is my antwoord “ja”.

Hoe weet ek dit? Ek het Hom nie aangeneem nie. Hy het my syne gemaak.

Glo ek dit regtig? Ek weet nie, dis vir my te groot om te glo. Maar of ék dit glo is nie die punt nie. Dat Hý dit glo, is al wat tel.

Waarvoor beywer ek my? Net een ding – om Hom beter te leer ken en om dit te doen deur sy voorbeeld met mense na te streef.

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.

Filipense 3:1-14

17 Maart – 5de Sondag in Lydenstyd
Prediker: Bianca Botha

Gebed – (nav ‘n gebed van Anselmus, die Aartsbiskop van Kantelberg)
Here my God, skenk aan ons genade, om U te begeer met ons hele hart;
om te smag na u stem met alles wat in ons is.
O God van vreugde, ons bid dat U u lig in ons harte sal laat skyn.
Rig ons hart en ons gedagtes op die dinge wat U rééds gedoen het,
en op dit wat U belowe het om nog te doen,
sodat ons vreugde kan vind in U en in u beloftes.
Leef in ons en help ons om in U te lewe.
Here, ons kom by U tot stilte,
ons rus in U, o Gees. Ons soek u aangesig.
Praat vanoggend met ons deur u Woord. Amen.

Miskien net weer ‘n paar opmerkings oor die brief self:
In Handelinge 16 lees ons dat Paulus self verantwoordelik was vir die stigting van die gemeente in Filippi en regdeur die brief is dit duidelik dat hy ‘n baie goeie en nabye verhouding gehad het met die mense van dié gemeente. Dit staan dan ook bekend as die brief van blydskap of van vriendskap, en word agv die toon daarvan as een van Paulus se mees intieme briewe beskou.
Hy skryf dié brief vanuit die tronk… dws, vanuit sy eie lydingsituasie aan die gemeente wat self ly – aan die een kant agv vervolging wat hulle van buite ervaar en aan die ander kant agv interne spanning in die gemeente.
In hoofstuk 3, spreek hy veral die interne spanninge aan. Hy skryf hier in reaksie op mense wat valse leringe verkondig en sodoende verdeling binne die gemeente veroorsaak het.

Lees Fil 3:1-14

Paulus praat in hierdie gedeelte vanuit sy eie persoonlike ervaring. Hy skryf oor sy eie hede, verlede en toekoms – oor die dinge wat hom eers gemotiveer het en dit wat nou vir hom belangrik is. En hy doen dit met die oog daarop om die gemeente oor hul eie verlede, hede en toekoms te laat nadink. Dit gaan hier oor een ding alleen: oor die sin van sy bestaan en per implikasie dié van alle gelowiges (toe en nou).

Die vraag waarvoor ons in hierdie teksgedeelte te staan kom is: Waarna soek ons in die lewe? // Wat is vir ons die belangrikste ding in ons lewe? // Wat geniet die hoogste prioriteit? // en waaraan meet ons die sin en die geluk van ons lewens?

In die samelewing waarbinne ons leef, word geluk en betekenis in ons lewens dikwels gekoppel aan hoe die mense rondom ons, ons sien. Ons meet onsself aan ons besittings, die tipe werk wat ons doen, die tipe motor wat ons ry, die woonbuurt waarbinne ons bly, die mense met wie ons meng, die handelsmerke wat ons dra… ens… ens.
Op een of ander manier wil ons “iemand” wees; ‘n naam maak vir onsself.
Soos in die tyd van Paulus, leef ons eintlik nou nog in ‘n status-gedrewe samelewing. En so dikwels word ons status, soos in daardie tyd, gekoppel aan uiterlike/liggaamlike dinge – hoe ons voorkom en wat mense van ons dink.

Paulus gebruik homself en sy eie verlede om vir die gemeente te wys dat hulle, as navolgers van Christus, ‘n ander tipe uitkyk op die lewe behoort te hê. Hy doen dit deur aan hulle te bewys dat indien hy sou wou, hy ‘n man van hoë eer en status sou kon wees.
Hy is op die agtste dag besny: dws ‘n rasegte, gebore Jood.
Van geboorte af ‘n Israeliet: deel van ‘n volk met ‘n roemryke verlede, wat hulself beskou as die uitverkorenes.
Uit die stam Benjamin: ‘n klein, tog spesiale hoog aangesiene stam van Israel
‘n Egte Hebreër: maw in taal, identiteit en kultuur ‘n trotse Jood.
Hy was ook ‘n Fariseer: deel van die groep geleerdes in die Joodse tradisie wat erns maak met die wet, en onberispelik wat die onderhouding daarvan aanbetref.
En laastens ‘n vervolger van die kerk: dws iemand wat die Joodse godsdiens beskerm het.
Kyk, hy maak dit duidelik dat h‎‎ý, meer as baie ander, rede gehad het om sy kop hoog te hou en te roem op sy herkoms, sy prestasies en sy ywer. En indien hy sou kies om homself volgens daardie maatstawwe te beoordeel, sou hy steeds hoër op die sosiale leer pruik as meeste ander in sy portuurgroep.

“Maar,” lees ons in vers 7 – en met daardie “maar” vind ‘n totale ommeswaai plaas.  Maar wat eens vir hom bates was beskou hy nou as waardeloos (letterlik: verlies/skade). Nou beskou hy al daardie dinge as “verwerplik,” lees ons later (letterlik as vullis/ afwerpsel).
In en deur en agv Christus, het Paulus se hele uitkyk op die lewe radikaal verander. Daar het ‘n totale herwaardering van waardes plaasgevind. Dit wat eens sin gegee het aan sy lewe, is nou onsin en dit wat vroeër getel het, ag hy nou nie meer nie.
Christus het ‘n nuwe sin, ‘n nuwe waardestelsel en ‘n nuwe koers in sy lewe gebring. En die rede daarvoor is sy bewuswording van die feit dat hy nie self – deur die wet te onderhou – geregtigheid/vryspraak kan verwerf nie, maar dat hy dit deur Christus reeds ontvang het.

Ons moet egter die omvang van sy ommeswaai verstaan. Hy was nie nét ‘n vrome Jood nie, maar ‘n hooggeleerde en goed opgeleide teoloog, met ‘n uitstekende loopbaan voor hom. Hy was ‘n gerespekteerde volksfiguur en leier van sy mense – waarskynlik oppad om ‘n geërde leermeester en dalk selfs lid van die Hoë Raad te word.
Hy het vir homself ‘n naam gemaak en was volgens menslike standaarde duidelik ‘n “iemand.”
Maar nou besef hy dat alles wat voorheen sy lewe gevul het – wat daaraan sin gegee het – eintlik skadelik was; dat dit hom juis van die ware sin en vreugde van sy bestaan weerhou het. Dit gaan dus nie soseer oor daardie dinge self nie, maar die feit dat dit in die pad gestaan het van sy eintlike doel en strewe.

Vanuit sy hede getuig hy dan dat die belangrikste ding in sy lewe nou – dit wat aan sy lewe sin en betekenis gee – is om vir Christus te ken en te groei in daardie kennis. Wat nou vir hom waarde dra is nie sy status of dit wat vir die wêreld rondom hom belangrik is nie, maar die kennis van Christus.
Maar wat word bedoel met “kennis van Christus”? Die kennis waarvan hier gepraat word (Grieks: gnosis) is baie meer as bloot boekekennis of verstandelike kennis. Dit is eerder ‘n persoonlike en intieme kennis wat met ervaringe en verhoudings gepaard gaan.

Die bekende 17e eeuse Franse wiskundige, Pascal, het iets hiervan verstaan. Na ‘n radikale bekeringservaring skryf hy dat hy ontdek het dat “God nie die God van die filosowe is nie, maar van Abraham, Isak en Jakob.” En daarmee bedoel hy dat God persoonlik in mense se lewens betrokke is; dat Hy nie net in boeke en denke is nie, maar ook in die lewens en ervarings van mense. Dit gaan maw nie net oor kennis met die rede/die kop nie, maar ook met die hart. En vandaar Pascal se ander bekende stelling: “die hart het redes waarvan rede nie weet nie.”
Dit gaan dus nie net oor kennis van die Woord nie, maar oor kennis deur die Woord. Want dit is eerstens deur die Woord dat ons vir Christus leer ken, maar verder ook deur deel te wees van ‘n geloofsgemeenskap, bywoning van eredienste, naastediens, Bybelstudies, in die natuur, deur gebed of in stiltes.
Hierdie kennis gaan dus nie net oor wat ons weet nie, maar ook oor wat ons voel en ervaar.

“Kennis van Christus” gaan verder vir Paulus ook daaroor om deel te hê aan die lyding en sterwe van Christus.
Hierdie lyding en sterwe waaraan Paulus (en ons ook) moet deelkry, verwys egter nie na die alledaagse swaarkry en sukkel, die droefheid en dood waaraan alle mense deel het nie; dit gaan oor lyding “om Christus wil.” Oor die lyding wat ons deurgaan, spesifiek as Christene en in die naam van Christus.
Vir Paulus, was dit totaal en al ‘n praktiese saak: hy skryf vanuit die gevangenis. In daardie tyd was dit egter nie soos vandag wat die tronk jou straf is nie. Die tronk was bloot die plek waar jy aangehou is totdat daar besluit is hoe jy gestraf sal word. Paulus wag dus nog om te hoor wat sy uiteinde sou wees en of dit nie miskien die dood is nie. Ten spyte van hierdie onsekerheid en die moontlikheid dat hy ter dood veroordeel kan word, bemoedig hy die gemeente in Filippi deur hulle te verseker dat dit die moeite werd is om te ly vir die saak van die Evangelie. Hy verseker hulle dat hy (en hulle) deur daardie lyding nader aan Christus kom en dus ook groei in hul kennis van Christus.

Laastens beklemtoon Paulus dat hierdie “kennis” nie iets is wat hy al bereik het of wat hy self kan verkry nie. Dit is ‘n reis; ‘n wedloop; ‘n proses. Daarmeesaam hang sy prys ook nie af van hoe hy in die wedloop vaar nie. Ons lees: “ek span my in om dit alles syne te maak omdat Christus Jesus my reeds Syne gemaak het.” En verder: “sodat ek die prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus, Jesus.” Die prys is dus reeds syne, ongeag of hy die podium haal of nie.

Paulus skryf dus nie net vanuit die perspektief op sy verlede en hede nie, maar ook sy toekoms. Ten spyte van die feit dat hy in die tronk sit en wag om te hoor wat die aard van sy naderende straf sal wees, is hy vol blydskap en vreugde en dankbaarheid. Ons sien dit die hele Filippense brief deur. En die rede daarvoor is Christus. Christus het nie net sy hede, sy lewensin en perspektief, kom verander nie, maar het ook vir hom ‘n nuwe toekoms geskep. In Christus se lyding, sterwe en opstanding is daar vir Paulus en vir elkeen van ons, ‘n nuwe toekoms geskep. Een wat alle vrese en bekommernis uit die weg ruim. Hy getuig later in die hoofstuk dan ook dat ons reeds burgers van die hemel is en bevestig daarmee dat hy, op grond van Christus se opstanding, nie die toekoms hoef te vrees nie, maar in afwagting daarna uitstrek.

Lydenstyd is die tyd van die jaar, waarin daar veral sterk klem gelê word op selfondersoek en nadenke, op herinnering en herevaluering. Dis die tyd van die jaar waarin ons dink oor Christus se lyding vir en namens ons, maar ook oor dit wat kom na die lyding.

Ons almal het ‘n verlede, ‘n hede en ‘n toekoms. Ons almal het dinge/perspektiewe wat ons agter ons moet sit, dinge waarmee ons in die hede besig behoort te wees, en ‘n toekoms waarin ons hoop lê en waarvoor ons onsself uitstrek.
In Filippense 3 help Paulus die gemeente in Filippi (en ook vir ons) om te sien wat die dinge is wat ons agter ons moet sit, wat dit is waarmee ons besig moet wees en waarheen ons uiteindelik oppad is.

In Christus se lyding, kruisdood en opstanding is daar vir elkeen van ons ‘n nuwe lewe en ‘n nuwe toekoms geskep. Een wat nie ag slaan op ons status of op die uiterlike dinge nie, maar op ons strewe en soeke na die kennis van Christus.
Paulus het nie verander wie en wat hy was nie – hy was steeds ‘n Israeliet en ‘n Hebreër uit die stam Benjamin wat op sie agtste dag besny is – maar hy het sy fokus, en die standaard waarvolgens hy homself meet, verander. Hy het sy prioriteite verander.

Die teks dryf ons dan ook om dieselfde te doen. Om onsself te vra wat ons prioriteite is en wat dit behoort te wees; wat die dinge is wat betekenis gee aan ons lewe en wat dit behoort te wees. Is daar dalk iets wat ons weerhou van ons soeke na die “kennis van Christus.”
En wat is die dinge/perspektiewe waarvan ons moet afskeid neem;  wat ons agter ons moet sit; waarvan ons gestroop moet word?

NP van Wyk Louw het ‘n gedig geskryf oor dieselfde gedagte van afskud wat oortollig en oorbodig en onnodig is:
Die jaar word ryp in goue akkerblare,
in wingerd wat verbruin, en witter lug
wat daglank van die nuwe wind en klare
son deurspoel word; elke blom word vrug,
tot selfs die traagstes; en die eerste blare val
so stilweg in die rook-vaal bos en laan,
dat die takke van die lang populiere al
teen elke ligte môre witter staan.
O Heer, laat hierdie dae heilig word:
laat alles val wat pronk en sierraad was
of enkel jeug, en vér was van die pyn;
laat ryp word, Heer, laat U wind waai, laat stort
my waan, tot al die hoogheid eindelik vas
en nakend uit my teerder jeug verskyn

Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Bianca Botha word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.