Filippense 1:3-11

09 Desember 2018 – 2de Sondag van Advent 
Prediker: Ds. Helgard Pretorius

Soos elke natuurlike seisoen sy eie vorm en ritme en gevoel skenk aan ons lewens, so gee elke liturgiese seisoen van die kerkjaar vir ons unieke geleenthede om in ons geloof te groei en te ontwikkel.

Ons is nou in die eerste seisoen van die kerkjaar, die tyd van advent. Die naam kom van die Latynse woord adventus, wat ‘koms’ beteken. Dit verwys na God se koms na die skepping toe in die lewe van die mens, Jesus van Nasaret.

In Latyn is adventus ook een van die maniere om na die toekoms te verwys. In Latyn kan mens kan praat van futurum as die oorgang van die hede na die toekoms in. Maar mens kan ook praat van adventus, van dit wat ons uit die onbekende uit tegemoet kom.

Dis hoe die Christelike tradisie kies om oor die toekoms te dink. Die toekoms is Christus wat na ons toe kom – adventus. Dit is God se geskenk aan ons. Dit is tyd wat God aan ons skenk waarin Christus na ons toe kom.

Daarom vier ons vanoggend die gawe van hoop. Omdat die toekoms adventus is, Christus wat na ons toe kom, leef daar ’n hoop in ons. Wat die toekoms ook al vir ons mag beteken, hoe dit ook al vir ons mag lyk, watter emosies die toekoms ook in ons mag wakker maak… ons mag die toekoms met hoop betree want dit is die tyd waarin Christus na ons toe kom.

Daarom is die seisoen van advent ’n tyd van belofte, van verwagting en verlange. Dit is ’n tyd waarin ons ons visier opnuut kan instel op die Een wat belowe om na ons toe te kom. Dit is ’n tyd waarin ons vir Jesus opnuut in ons lewens kan innooi, vir hom kan ruimte maak sodat hy in ons harte en in ons lewens gebore kan word, sodat die Woord van God in ons liggame en huise en stede kan vlees word.

Vir meeste van ons val advent ook saam met ’n tyd van afskaal en tot ruste kom – ’n tyd aan die einde van die jaar waarin ons stelselmatig van die daaglikse gejaag kan begin opkyk en ons aandag opnuut kan rig op die Een wat kom. Dit is ’n tyd van bestekopname, waarin ons onsself kan afvra of ons gereed is vir hierdie toekoms, vir die aanbreek van ’n nuwe dag en ’n nuwe jaar; of ons gereed is om vir Christus in ons lewens in te verwelkom.

***

Ek begin op hierdie manier want dit is ook hoe die skrywer van vanoggend se skriflesing na die toekoms gekyk het. Vir die apostel Paulus, die skrywer van die brief aan die Filippense was die toekoms ook adventus.

Twee keer in hierdie kort gebed waarop ons vanoggend reflekteer verwys Paulus na “die dag van Christus Jesus,” dit wil sê, die dag waarop Jesus aankom of arriveer. Dit is die dag van ons diepste hoop en verlange, wanneer Christus by ons tuiskom en ons by hom, wanneer, soos Paulus sê, die werk wat God deur Christus in ons begin het tot vervulling sal kom.

Vir Paulus gaan alles om hierdie gerigtheid op Jesus as die een wat kom. Later in dieselfde brief sê hy byvoorbeeld vir die Filippense: “verbly julle altyd in die Here!” en dan herhaal hy homself: “verbly julle!” – en die rede vir hierdie vreugde? “Die Here is naby,” sê hy.

Die beste beskrywing wat ek al van hierdie houding teenoor die toekoms gehoor het, kom van die Duits-Joodse denker Walter Benjamin (iemand wat self ook deur Paulus se briewe geïnspireer was). Hy het gesê dat elke oomblik in tyd soos ’n half-oop deur is waardeur die Messias kan inkom, kan aankom, kan arriveer.

Elke dag kan “die dag van Christus Jesus” wees. En namate Jesus op vele maniere na ons toe kom, soos in die gestalte van een wat vir ons vra vir ’n glasie water, of ’n stukkie brood, of selfs ’n vreemdeling wat onverwags in ’n besige winkelsentrum vir ons vra vir ’n drukkie… namate Jesus op allerlei maniere, in allerlei gestaltes, na ons toe kom, is elke dag “die dag van Christus Jesus.”

Hierdie wete vul ons lewens met ’n sin van verwagting. Dit vra dat ons aandag skenk aan die koms van elke oomblik, dat ons gasvryheid sal betoon aan die toekoms en dit met vreugde sal verwelkom – want Christus kom ons uit die toekoms tegemoet en hy is naby.

***

’n Ander manier om dit te stel is om te sê dat die toekoms, vir Paulus, ’n gesig het – die vriendelike, genadige, sagmoedige, liefdevolle, empatieke gesig van God wat ons in Jesus leer ken.

Soos Paulus sê, die Een wat uit die toekoms na ons toe kom, die Een wat die werk in ons sal voltooi, is dieselfde Een wat die goeie werk onder ons begin het. Die een wat kom is die een wat was. Die een wat die evangelie in ons tot vervulling sal bring is die Een wat die goeie nuus verkondig en beliggaam het. Om die toekoms met hoop te betree vra dus dat ons vir Jesus in herinnering sal roep, dat ons die ou verhaal, die goeie tyding uit Bethlehem sal onthou.

Hoewel ons, wat die toekoms betref. nie 20-20 visie het nie, hoewel dit vir ons duister en onseker bly, het ons iets, of eerder, iemand om voor uit te kyk. Ons het ’n gesig wat ons moet soek. Of dalk moet ek eerder sê, daar is ’n gesig wat na ons soek en ons uitnooi om ons eie beste toekoms te betree.

Johannes Calvyn, die 16de eeuse hervormer, het graag die geestelike lewe beskryf as Dei faciem contemplari, as die voortdurende kontemplasie van die gesig van God. In Jesus, die Jesus wat ons in die evangelies ontmoet, eers as ’n kwesbare kindjie wat in die wêreld verwelkom moet word maar nêrens kan tuiskom nie, dan as een wat na mense se hongersnood omgesien het, wat melaatses aangeraak het en sondes vergewe het, wat sy dissipels se voete gewas het en altyd die medemenslikheid van sy vyande erken het; in hom wat deur mense gekruisig is, maar deur God opgewek is; in hierdie mens sien ons die gesig van God.

’n Lewe van geloof en hoop is eenvoudig om hierdie gesig van God te onthou; om deur hierdie gesig verras te word; om hierdie gesig te bewonder; om oor hierdie gesig na te dink; om lief te raak vir hierdie gesig – om hierdie gesig na te boots.

***

In ’n sekere sin is dit Paulus se gebed vir die Filippense – en ook vir ons.

Hy bid dat ons op die dag wat God bepaal het, soos in ’n spieël, vir Jesus in ons eie beeld sal kan herken.

Wanneer hy bid dat ons op die dag van Christus innerlik suiwer en gevul met integriteit sal wees, dan bid hy dat ons dieselfde gesindheid sal openbaar wat mens in Jesus gesien het, dat ons eerder sal wil dien as om gedien te word.

Wanneer hy bid dat ons ook uiterlik die vrugte van geregtigheid sal dra, dan vra hy ons om te onthou hoe Jesus altyd regverdig gehandel het, veral met hulle wat hulleself aan die verkeerde kant van mense se oordeel bevind het.

Bowenal, om die gesig van God te herken en na te boots, beteken om met die oë van God se liefde na die wêreld te kyk. Soos ons die gesig van God bewonder en bepeins, so begin ons al hoe meer met daardie gesig na die wêreld te kyk. En soos ons dit doen, begin ons daardie gesig oral om ons raak te sien, in die natuur, in mekaar, in geliefdes, in vriende, in vreemdelinge, in die verdrukte, die eensame, selfs in ons vyande, selfs in hulle wat vir ons ’n bedreiging inhou.

Christus kom na my en na jou, in hierdie tyd, op hierdie plek, in hierdie historiese oomblik. Daarom bid Paulus dat ons liefde sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling.

Vir liefde om die vrugte van geregtigheid te dra, moet dit toeneem in begrip, in verstaan, in empatie, in fyn aanvoeling, moet dit sensitief wees tot die behoeftes van ander. Dít is die gereedskap waarmee ons onderskei. Tussen die vele dinge wat ons lewens volmaak, moet ons – in liefde – die dinge onderskei wat rêrig belangrik is.

Tussen ons herinnering aan die gesig van God in Jesus en ons verwagting en verlange na daardie gesig in die aanbreek van elke nuwe jaar en dag en oomblik – in hierdie spanning van herinnering en hoop – moet ons oomblik vir oomblik, dag vir dag, jaar na jaar onderskei: wat is die dinge wat rêrig saak maak?

***

Die digter David Whyte het ’n pragtige gedig geskryf wat gaan oor hierdie proses van onderskeiding wat so ’n groot deel is van die geestelike lewe.

In ’n onderhoud waarin ek vir die eerste keer sy gedig gehoor het, herinner hy ons daaraan dat die nuwe jy, die nuwe mens wat jy in die gesig van Christus gewaar, altyd in die eerste plek ’n vreemdeling is…

En tog, sê hy, is ons altyd so suspisieus en skepties oor vreemdelinge.

“The new you looking back at you out of the mirror is always first perceived as a stranger and always turned away from. The first beckoning horizon in our life is always seen as one that will lead us to a place of nourishment and pilgrimage and that will frighten us to death at the same time.”

Christus kom altyd na ons toe in die gestalte van ’n vreemdeling – ’n gesig wat beide verlange en vrees in ons wakker maak. Daarom draai ons so dikwels daarvan af weg. Die nuwe weg waarna Christus ons uitnooi om hom te volg is altyd ’n onbekende een wat ons met vrees vul, al weet ons dit is ’n weg van vreugde.

Daarom het ons mense soos Paulus nodig, mense wat vir ons bid en aanmoedig om daardie tree uit onsself uit te neem.  Mense wat mekaar aanmoedig om meer liefdevol, meer hoopvol, meer sensitief, meer empaties te wees as wat ons aanvanklik dink ons kan wees. Mense wat ons aanmoedig om God se adventus by die half-oop deur te ontmoet en met vreugde te verwelkom.

***

Just Beyond Yourself – David Whyte

Just beyond
yourself.

It’s where
you need
to be.

Half a step
into
self-forgetting
and the rest
restored
by what
you’ll meet.

There is a road
always beckoning.

When you see
the two sides
of it
closing together
at that far horizon
and deep in
the foundations
of your own
heart
at exactly
the same
time,

that’s how
you know
it’s the way
you
have
to go.

That’s how
you know
it’s the road
you
have
to follow.

That’s
how you know.

It’s just beyond
yourself,
it’s
where you
need to be.

From David Whyte (2018) The Bell and the Blackbird.

***

Mag jy in hierdie tyd van advent, in hierdie Kerstyd ervaar dat jy raakgesien word deur die gesig van God. En mag jy, soos jy hierdie gesig van God aanskou en bewonder, al hoe meer met die barmhartige en liefdevolle gesig na die wêreld om jou kyk. Mag jy ervaar dat jy hierdie gesig op duisende, onverwagse plekke sien.

Soos die Ierse digter Gerard Manley Hopkins in een van sy gedigte geskryf het:

Christ plays in ten thousand places,
lovely in limbs, and lovely in eyes not his –
to the Father, through the features of men’s faces.

Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Helgard Pretorius word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.

Filippense 3:17-4:1

24 Februarie 2013 – 2de Sondag in Lydenstyd
Prediker: Bianca Botha

Die brief aan die Filippense, staan bekend as die brief van blydskap en vriendskap. Paulus skryf dié brief vanuit die tronk aan die mense in Fillipi, met wie hy, soos dit regdeur die brief duidelik is, ‘n baie goeie en nabye verhouding gehad het. Dit is een van sy mees intieme briewe en word dan ook ingelei met die woorde:
“Ek dank my God elke keer as ek aan julle dink. In al my gebede bid ek altyd met blydskap vir julle almal, omdat julle van die eerste dag af tot nou toe saamgewerk het aan die verkondiging van die evangelie.” (1:3-4)

Filippi, was geleë in die streek van Masedonië. Hoewel dit nie deel uitgemaak het van Italië, wat hier Noord-Wes lê nie, was dit ‘n kolonie van Rome en het hulle daarom volgens wet gefunksioneer asof hulle deel was van Rome. Die mense in Fillipi het dan ook al die regte en voorregte geniet, wat aan enige ander Romeinse burger – die wat in Rome gebore is – toegeken is.
In Handelinge 16 lees ons dat Paulus self verantwoordelik was vir die stigting van die gemeente in Filippi en hy skryf dan hierdie brief omdat hy besorg is oor hulle. In die brief spreek hy ‘n paar sake aan. Eerstens, bedank hy die gemeente vir hulle ondersteuning en verseker hy hulle dat sy gevangenskap nie die uitbreiding van die evangelie verhinder het nie. In hoofstuk 2 moedig hy hulle aan om eensgesind te wees en die voorbeeld van Jesus Christus te volg, en dan vind ons hoofstuk 3…

Lees Fil 3:17-4:1

In hierdie gedeelte, en die deel wat dit voorafgaan, is Paulus besig om met die mense in Filippi te praat oor hul identiteit as gelowiges. Want aan die een kant word hulle gekonfronteer met die feit dat hulle Romeinse burgers is, wat in ‘n totale ander wêreld leef as die Joodse-Christene. En aan die ander kant is dit juis die Joodse-Christene wat vir hulle sê dat hulle nie waarlik gelowiges is nie, omdat hulle nie die Joodse voorskrifte nakom en nie besny is nie. Reeds aan die begin van hoofstuk 3 waarsku Paulus hulle teen hierdie dwaalleeraars en die “betekenislose besnydenis.” Hy herinner hulle daaraan dat hulle identiteit in Christus lê; dat dit eintlik al is wat saakmaak. En in ‘n poging om hulle te help “om op die regte pad te bly,” en te leef volgens hul identiteit as Christene moedig Paulus hulle dan aan om sy navolgers te wees.

Hierdie is nie ‘n arrogante of voor-op-die-wa stelling, waarmee Paulus probeer sê “Kyk, ek is perfek,” nie. In vers 10-12 lees ons:
“Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood. Ek sê nie dat ek dit alles al het of die doel al bereik het nie, maar ek span my in om dit alles myne te maak omdat Christus Jesus my reeds Syne gemaak het.”

Paulus is dus baie bewus van die feit dat hy self ‘n feilbare en gebroke mens is, maar hy is ten diepste oortuig dat God deur Jesus Christus sy lewe kom verander het en dat die Gees in hom werksaam is. Dit is maw nie die voorbeeld van sy suksesse wat hulle moet volg nie, maar die voorbeeld van sy bereidwilligheid om Christus na te volg.

Paulus besef die noodsaaklikheid daarvan om mense in jou lewe te hê wie se voorbeeld jy kan volg; mense na wie jy kan kyk en by wie jy kan leer. Daarom wys hy dan ook na die ander mense in die gemeente/in hulle omgewing. “Kyk/let op/neem kennis van/hou dop die mense wat lewe (letterlik: wat wandel) volgens die voorbeeld wat ons vir julle stel.
Die Griekse woord túpon wat hier vertaal word as voorbeeld, verwys na ‘n hou/slag wat ‘n merk agterlaat – amper soos ‘n stempel. Volgens Paulus is sy lewe dus ‘n stempel wat op ander gelowiges afvryf, maar hy self is nie die argitipe/die oorspronklike nie. Paulus se lewe word gevorm volgens die voorbeeld van Christus en wanneer hy die mense dan oproep om hom te volg, moedig hy hulle indirek aan om vir Christus te volg.

Hierdie idee van navolging was baie belangrik in die antieke kultuur en veral in die Joodse tradisie. In daardie tyd het die verwerwing van kennis en vaardighede nie in die eerste plek deur boekekennis plaasgevind nie, maar deur direkte kontak met leermeesters/mentors. Die manier waarop hierdie leermeesters geleef het (hulle leefstyl) was dus net so belangrik soos die inhoud van hulle leeringe.

Die konsep van navolging het my laat dink aan ‘n oom wat ek so 2 jaar gelede ontmoet het.
Op amptelike kerk-besigheid – glo dit of nie – het ek en ‘n paar kollegas eendag besoek afgelê aan Van Ryn Brandewyn Distileerders. Daar ontmoet ons toe ‘n man met die naam Uncle Abe. Uncle Abe is reeds vir 37 jaar ‘n meester kuiper. Vir dié wat dalk nie weet nie, kuipers is mense wat wynvate met die hand maak. Dis ‘n vaardigheid wat oor dekades geslyp word en die enigste manier wat jy kan leer om ‘n kuiper te word is deur dit by iemand anders te leer. Dws deur ‘n leermeester te hê. Uncle Abe vertel ons toe hoe hy by sy pa, en sy pa by sy oupa, geleer het hoe om vate te maak en dat dit so van generasie tot generasie oorgedra is. Hy het ook vir ons gedemonstreer hoe die vate gemaak word, en dit is regtigwaar ‘n kuns – en ‘n baie presiese kuns daarby. Maar hy sou dit nooit kon aanleer as sy pa nie ‘n goeie kuiper was nie. En dit het hom jare gevat om ‘n meester kuiper te word. Eers het hy, reeds as kind, net gekyk en gekyk wat sy pa doen: hoe hy die regte hout kies en die hout panele so vorm dat hulle presies in mekaar pas. Later, het hulle dit saam begin doen, saam aan ‘n vat gewerk, sodat sy pa hom nog kon help. En so het hy geoefen en geleer, totdat hy dit uiteindelik op sy eie kon doen. Daar was geen kortpad nie. Die enigste manier wat hy daardie kuns/vaardigheid kon aanleer was om sy pa reeds van ‘n jong ouderdom af dop te hou; deur af te kyk by ‘n kenner.

En dit is wat Paulus wil hê gelowiges in Filippi moet doen. Hy moedig hulle aan om die voorbeeld te volg van diegene wat ware navolgers van Christus is; diegene wat reeds die kuns van navolging aangeleer het, eerder as die wat dink hulle weet wat hulle doen, “vyande van die kruis.”
Hoewel ons nie weet presies wie hierdie vyande van die kruis is nie, is daar twee moontlikhede. Die waarskynlikheid is groot dat dit Joodse Christene was wat daarop aangedring het dat die nuwe bekeerlinge aan die wette en vereistes van die Tora moes voldoen. Daarteenoor verkondig Paulus vryheid van Joodse wettisisme en wys dat Jesus se kruisdood en opstanding dit moontlik gemaak het vir almal om deel te word van die geloofsgemeenskap. Terwyl hulle fokus op die uiterlike merk van die besnydenis en ander rituele, fokus Paulus op Christus se Verlossingsdade en die transformasie wat deur Hom plaasvind. Hulle fokus dus nie op navolging van Christus nie, maar op hul status in die Joodse gemeenskap en die navolging van die wet. Hulle leef dus met die verkeerde ingesteldheid en moedig die mense in Filippi aan om dieselfde te doen.

Die ander moontlikheid is dat dit gnostiese Christene was, wat aan die ander kant van die spektrum gelê het en hul Christelike Vryheid misbruik het. Hulle het hulself oorgegee aan hulle liggaamlike en fisieke behoeftes, omdat hulle geglo het hulle is in elk geval reeds gered, so dit maak nie saak hoe hulle leef nie. Hoe dit ook al sy, Paulus is baie bewus van die negatiewe invloed wat die verkeerde “rolmodelle” op die geloofsgemeenskap kan hê en daarom, moedig hy hulle nie net aan om die regte rolmodelle te volg nie, maar herinner hy hulle ook aan die feit dat hulle (ons) burgers van die hemel is.

Soos wat Filippi ‘n kolonie van Rome is, is die Christene in Filippi (en per implikasie Christene oral), ‘n kolonie van hemel. As ‘n kolonie ontvang hulle dus beide die regte en voorregte, sowel as die verantwoordelikhede wat daarmee saamgaan. Die kolonie behoort te leef asof hulle deel is van die moederstad en net so behoort Christene nou reeds te leef as burgers (en verteenwoordigers) van die hemel. Dit is dus terselfdetyd ‘n troos en ‘n oproep. Die kolonie ontvang die beskerming van die moederstad, maar neem dan die verantwoordelikheid aan om as burgers en verteenwoordigers van daardie stad op te tree en om lojaal te wees teenoor hul moederstad.

Paulus moedig dus nie net die gemeente aan om sy voorbeeld en dié van die ander Christelike leiers in die gemeenskap te volg nie. Hy moedig hulle ook aan om mense te wees wat nagevolg kan word; om nou reeds as burgers van die hemel te leef. Hy sê nie dat hulle burgers van die hemel gaan wees nie. Hulle (en ons) IS burgers van die hemel. Soos soveel ander kere in die Bybel word die gelowiges hier ook opgeroep om anders te leef en op te tree as die res van die wêreld; om volgens ander norme en waardes te leef; om ander dinge belangrik te ag as die res van die wêreld. As Christene behoort ons nie aardsgesind te wees nie; behoort ons nie behep te wees met ons status en aansien en met ons eie belange nie. As ons onsself Christene en navolgers van Christus noem, moet ons besef dat die mense rondom ons ook na óns kyk, ons dophou en let op hoe ons leef – mense binne ons eie gemeente en geloofsgemeenskap, maar ook mense van buite.
Tog weet ons dat niemand van ons perfek is nie; dat ons, soos Paulus, nog nie die doel bereik het nie; dat ons dit eintlik nie uit ons eie kan doen nie.

Die wonderlike nuus is dan ook dat ons dit nie uit onsself hoef te doen nie. Ons lees dit in die teks.
“Deur die krag waarmee Hy alles aan Homself onderwerp, sal Hy ons nederige liggame verander om soos sy verheerlikte liggame te wees.” En nie net ons liggame nie. Wanneer Paulus hier praat van liggaam, verwys hy eintlik na die totale self. Eindelik sal Christus ons heeltemal transformeer, sodat ons waarlik soos Hy sal lyk, sodat ons waarlik soos Hy sal wees.
“Daarom, my broers, moet julle vasstaan en getrou bly aan die Here.”
Daarom moet ons aanhou om na die regte Leermeester te kyk, om saam met Hom te werk en te oefen, sodat ons, deur sy krag, uiteindelik die doel kan bereik. Ons heel belangrikste Rolmodel is Jesus Christus. Ons sien keer op keer in die media en in die wêreld, dat aardse rolmodelle altyd die potensiaal het om ons teleur te stel, maar Jesus se voorbeeld stel nooit teleur nie. Hy is die ware Leermeester. “Om Hom te ken, (en dus na te volg) oortref alles in waarde.”

Terwyl ek met hierdie teksgedeelte besig was hierdie week was daar twee vrae wat baie pertinent by my opgekom het, en miskien is dit dan ook die twee vrae waarmee ek julle wil laat hierdie week.

Aan die een kant moet ons onsself afvra: “Na wie kyk ons?”
Wie is die mense in ons omgewing en gemeenskap, wat vir ons voorbeelde is? Wat Jesus se stempel op ons lewens afdruk. Sien ons nog vir Christus raak in die mense rondom ons en is dit dan die mense wat ons navolg, of volg ons dalk eerder dié wat aardsgesind is.

Aan die ander kant moet ons vra: “Wat sien ander wanneer hulle na ons kyk?”
Kan ons met vrymoedigheid sê: “Wees my navolgers; of volg my voorbeeld”?
Sien mense (binne en buite die gemeente) nog vir Christus wanneer hulle na ons kyk? Kan hulle leer by ons deur ons dop te hou en deur te let op hoe ons lewe?

Mag ons besef dat ons, deur die krag van Christus, nou reeds burgers van die hemel is, en mag ons daarvolgens leef.

Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Bianca Botha word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.