Galasiërs 2:11-21 – 2016

12 Junie 2016 Pinelands – Koninkrykstyd
Prediker: Dr Tiana Bosman

 

Die brief aan die Galasiërs was na alle waarskynlik Paulus se heel eerste brief aan ‘n gemeente (gemeentes – briewe het die rondte gedoen). Galatia was ‘n Romeinse provinsie in Kleinasië (vandag Turkye). Huiskerke. Nie-Joodse christene waarskynlik die meerderheid. Meeste leiers tog Joods – hulle was die natuurlike senior vennote in die gemeentes. ‘n Nie-Joodse christen sou nie maklik waag om die Skrifinterpretasie van ‘n Joodse christen in twyfel te trek nie. Hulle het immers in die godsdiens grootgeword waarvan Jesus die vervulling was. Hulle behoort die beste te weet wat reg is.

Aanvanklik het Paulus het goeie verhouding met die christene in Galatia gehad (Julle het my nooit sleg behandel nie – 4:12). Nou het hulle hom egter teleurgestel deur “afvallig te word en ‘n ander evangelie aan te neem” 1:6. Hy het nuus gehoor dat sy eks-heidense bekeerlinge deur mense laat verstaan is (die mense was Jode wat in Galatia aangekom het) dat die evangelie wat Paulus aan hulle verkondig het, gebrekkig is. (Paulus is deur die apostels gestuur om sendeling onder die heidennasies te word , hulle het hul stempel van goedkeuring daarop geplaas, maar hulle het bly sukkel met die praktyk hiervan.) Ja, Paulus het die heidene gehelp om in Jesus te glo, maar die boodskap wat hy verkondig het, het hulle nie ten volle ingelyf in die verbondsfamilie van God nie. Hulle moes aan Abraham se familie behoort. Dit het beteken dat die mans besny moes word en dat hulle ook ander Joodse (kulturele) gebruike moes aanneem. Paulus se gesag en integriteit het in gedrang gekom. Dit wil voorkom of sy bekeerlinge uit Galatia die ander se raad wil volg en ten volle deel wil raak van die Joodse gemeenskap – besnydenis en al.

Paulus maak dit duidelik dat hy onafhanklik van Jerusalem se apostels werk, maar ook dat, wanneer hulle vergader, hulle saamstem oor die inhoud van die evangelie wat hulle verkondig en dat hulle die gebiede waar hulle werk onderverdeel het. Dan vertel hy dat dieselfde in Antiogië gebeur het as wat nou in Galatia aan die gebeur is. Hy gee ‘n kort beskrywing en daarna hoop hy om met sy verduideliking en argument die hele saak vir eens en vir altyd in die reine te bring sodat daar geen misverstande meer sal wees nie…

Teks: (Eie vertaling met konteks ingewerk en nader aan die Grieks waar dit saakmaak)

Paulus gryp in vss 11-14 terug na ‘n vorige gebeurenis in Antiogië sodat hy dit as basis kan gebruik vir sy argument teenoor die gemeente(s)/huiskerke in Galasiërs.

2: 11 Toe Petrus in Antiogië aangekom het, het ek ernstig van hom verskil want hy het sonder twyfel verkeerd opgetree.

12  Voordat sekere mense van Jakobus se gemeente in Jerusalem opgedaag het, het Petrus gewoonlik saam met die heidene geëet, maar toe hulle opdaag, het hy opgehou om dit te doen en hy het homself eenkant gehou, want hy was bang vir (wat) die Joodse Christene wat ten gunste van die besnydenis was(, sou sê).

13  En die res van die Jode het sy voorbeeld gevolg; hulle was net so skynheilig soos hy. Selfs Barnabas (voorheen ‘n leerling van Paulus) het van die pad afgegaan en net so skynheilig soos die ander geraak.

14  Maar toe ek sien dat hulle nie die reguit pad loop vlgs die waarheid van die evangelie nie (in ooreenstemming met die waarheid van die evangelie optree nie), het ek voor hulle almal vir Petrus gesê: “As jy, alhoewel jy ‘n Jood is, lewe soos ‘n heiden en nie soos ‘n Jood nie (wanneer die Jode van Jerusalem nie kyk nie),  hoe kan jy die heidene wil forseer om soos Jode te leef?!”

15  Ons (Paulus en Petrus) is gebore Jode en nie sondaars uit die heidene nie,

16  en tog weet ons dat niemand deur die nakoming van die wet van Moses geregverdig (sterker as vrygespreek/amnestie ontvang) word nie, maar slegs deur die geloof (faith-fulness) van Jesus Christus. Ook ons het in Christus Jesus geglo (op Hom vertrou), sodat ons geregverdig kan word op grond van die geloof (faith-fulness) van Christus en nie op grond van die nakoming van die wet nie, omdat geen mens deur gehoorsaam te wees aan die wet geregverdig sal word nie.

17  En as dit blyk dat ons, in ons soeke om deur Christus geregverdig te word, self ook sondaars is, is Christus dan een wat sonde aanmoedig? (Beteken die feit dat ons sonde afgeskryf word, dat Christus dit vir ons makliker maak om sonde te doen?) Hoegenaamd nie!

18  Maar as ek dit wat ek afgebreek het, weer opbou (die muur van skeiding tussen Jode en nie-Jode, deel van die Torah-wette), dan wys ek daardeur dat ek die een is wat God se wet oortree. (Want as ek onwrikbaar hierby gaan bly staan asof dit nog wet is, dan moet ek ook al die ander onderhou – al 613 van hulle, en dit sal ek nooit regkry nie – dan raak ek juis ‘n oortreder van die wet.)

19  Want deur die wet het ek die wet afgesterf sodat ek vir God kan leef.

20  Ek is gekruisig met Christus, en dit is nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my leef. So, die lewe wat ek nou in die liggaam (hier op aarde) leef, lewe ek as gevolg van die geloof (betroubaarheid) van die Seun van God wat my liefgehad en Homself vir my oorgegee het.

21  Ek verwerp nie die genade van God nie, want as regverdiging deur die wet kom, dan het Christus tevergeerfs gesterf.

[Tekskritiese notas:

  • Nomos: Die wet van Moses, die Torah, die eerste 5 boeke van die Bybel (Pentateug). Die Joodse religieuse wette het ontwikkel uit hierdie versameling. In ‘n meer omvattende sin die OT as geheel.
  • Die geloof (pistis) van Christus: 4 keer in Gal,1 x in Fil, 2x in Rom. Ons geloof in Christus – heeltemal ander grammatikale uitdrukking in Grieks.
  • Geloof van Christus is deur vroeë kerkvaders korrek vertaal. Toe kom die stryd rondom die goddelike natuur van Christus en kerkvaders sê as Jesus Christus God self is kan hy nie glo in God nie, net mense glo in God. Van toe af wegvertaal na “geloof in Christus”. Ongelukkig ook so vertaal in nuuste Afr Direkte Vertaling – wel voetnota wat dui op korrekte vertaling. Al meer teoloë beweeg terug na oorspronklike frase (geloof van Christus – vgl Flip Theron, NT Wright, ens.)
  • Christus se vertroue (geloof) en sy trou (faithfulness). Christus se vertroue in sy Vader is terselfdertyd sy trou aan sy Vader. God se trou is die grond van Christus se geloof en van die gelowige se vertroue.
  • Christus se geloof is sy vertroue op God se trou. Vir Paulus val die aksent op Christus se geloof en nie op ons geloof nie.]

In Antiogië was die gebruik dat Joodse gelowiges en nie-Joodse gelowiges saam om een tafel kan sit en eet. Almal het saamgeëet (nogals ‘n radikale skuif vir die Joodse gelowiges – ons moet hulle krediet gee, they’ve come a long way!)

Petrus is gemaklik om in te skakel by die gebruik.

Maar toe daar van Jakobus (Jesus se broer) se gemeente se mense in Jerusalem opdaag in Antiogië, toe draai Petrus sy mantel na die wind, hy verander sy strategie, hy hou hom eenkant van die nie-Joodse christene, daag nie op met etenstyd nie (baie subtiel, maar Paulus sien dit raak). En die ander volg sy voorbeeld. Hulle blyk almal skynheiliges te wees.

Die vraag is: Is die gemeenskap van gelowiges EEN liggaam of TWEE? Wat is meer belangrik: die onderskeid tussen Jode en nie-Jode, of die onderskeid tussen gelowiges en ongelowiges?

Druk word op die heidense gelowiges geplaas om hulle te bekeer – nie net tot die christelike geloof nie, maar ook tot Judaïsme (dws word eers ‘n Jood, besnydenis en gebruik rondom etes). Jy is eers deel van die ingroep as jy ten volle Joods is – hul gebruike aangeneem het.

Petrus ignoreer die algemene Joodse taboo (kashrut diëetreëls: moenie saam met heidene eet nie). Hy het dus reeds hierdie grens oorgesteek (onthou sy visioen in Hand 10). Maar nou skielik verander hy sy opinie, nou verwag hy weer dat die heidense gelowiges soos die Jode moet begin leef.

Paulus sê nee! Uitverkiesing, behorende tot die geloofsgemeenskap, word geherdefiniëer rondom die Messias en SY geloof, nie rondom die Joodse gebruike en wette van die OT nie. Die punt vir Paulus is duidelik:

Dis nie die Torah en die Messias wat jou in die gemeenskap van gelowiges inlyf nie. Dis slegs die Messias en sy geloof wat vervul word in sy dood en opstanding, dis die mees sentrale kenmerk van sy mense, sy volk, sy kerk.

Paulus se boodskap aan die Galasiërs van nie-Joodse afkoms was duidelik: noudat Jesus, die Messias, gekom het, het sake fundamenteel verander. Nou was toegang tot God en tot God se volk nie meer deur twee deure nie, maar net deur een: Jesus Christus.

Op grond waarvan sluit ons mense in of uit by die geloofsgemeenskap? Op grond van ons verstaan en interpretasie van die wette van die OT? Die Bybel sê hierdie mense en daai mense dit en dat, so dit beteken jy is welkom maar hy is nie…

Op grond van ons verstaan van geregverdigde onderskeide tussen rasse / nasies / geslag / seksualiteit / morele lewens (rondslapers en prostitute en mense wat steel is uit, maar die wat op die straathoeke bid en in die openbaar klomp geld gee is in?)

Daar is maar net een kwalifikasie: en dit lê nie eens binne een van ons nie, hetsy Jood of nie-Jood. Dit lê in die geloof, die trou, die betroubaarheid, die regverdiging van Jesus Christus. Dis sy geloof wat ons red. Dis sy geloof wat ons een familie maak.

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.