Haggai 2:1-9 – 2016

6 November 2016 Dankfees, Kerkraadsbevestiging, Nagmaal
Prediker: Dr Tiana Bosman

“Anything worth doing is worth doing badly.” So het die Christen filosoof Chesterton. Most of what must be done to make the world go ’round is done by the average Joe who does not do it perfectly–or sometimes even well” (www.psychologytoday.com)

1. Deur die profeet Haggai praat God met mense wat bou. Hulle is besig om God se tempel te bou en boonop in God se opdrag. Bou is mos goed, en tempelbou seker nog beter. Maar hierdie mense werk nie entoesiasties nie, en daarom sê God vir hulle wat hulle klaar dink:

Lees Haggai 2: 1-3.

Die bouwerk lyk vir hulle nietig, want sommige van hulle onthou nog die majestieuse tempel van Salomo. Maar hulle het nie nou, dekades later, Salomo se rykdom en vakkundiges tot hulle beskikking nie. Esra vertel wat gebeur het toe die bouers die fondamente vir hierdie nuwe tempel gele het. Die hele volk het gejubel, maar baie van die oueres onder die priesters, die Leviete en die familiehoofde wat nog die eerste tempel geken het, het hardop aan die huil (ween) gegaan toe hulle sien hoe die fondamente van hierdie tempel gelê word (Esra 3:12) Is hierdie afskeeptempel die moeite werd?

Wie is hierdie mense? Dit is die Israeliete wat uit ballingskap teruggekeer het. Dis die Israeliete wat die trauma van die verwoesting van Jerusalem en die tempel in 586/7 vC beleef het. Die leiers, rykes en vernames is in ballingskap weggevoer. In 539 vC het daar vir hulle hoop gekom toe die Persiese koning Kores, nadat hy Babilon ingeneem het, die Joodse ballinge toegelaat het om terug te keer en om hulle tempel te herbou volgens die Persiese beleid van godsdiensvryheid.

Van die teruggekeerdes se aanvanklike poging om die tempel te herbou, het daar niks gekom nie. Dis nou amper 20 jaar later en hulle het steeds niks om te wys nie. Hul drome van glorieryke herstel het veel te wense oorgelaat. Alles is net eenvoudig minder goed as soos hulle dit in die vervloeë jare onthou het. Wat het van hulle groot God geword? Waar is Hy?

2. Hy is presies waar mense vervelige sleurwerk doen in moeilike omstandighede! Daar waar mense gehoorsaam opbou:

Lees Haggai 2: 4-5.

Julle sien, eers wou die mense nie bou nie. Hulle was ontnugter en teleurgestel na hul terugkeer uit ballingskap. Dis nie dat hulle krepeer het nie, maar hulle het geen dryfkrag gehad nie. Hulle ploeter maar net elke dag voort en fokus meestal op hul eie lewens en hul eie belange (bou vir hulself pragtige huise om in te woon terwyl die Here se huis in puin lê, 1:4). Tempelbou was nie ‘n prioriteit op hul lysie nie. “Dis nie nou die tyd nie,” hoor ons in 1:2 hulle sê. Hulle stel uit, maar ons almal weet van kom van uitstel… Hulle dink verskonings uit (ons het nie goud en die silwer om mee te bou nie – maar wat van die bome in die berg?, vra die Here, 1:8). Hulle sien swarigheid en hulle verwag mislukking.

Maar God is by klein mense in hulle takies wat gehoorsaam uitgevoer word. Die eerste wat God sê wanneer die volk kla oor hoe hierdie tempel by die eerste een gaan afsteek, is: “Skep moed/wees sterk en bou voort! My gees sal altyd by julle bly. Moenie bang wees nie!” God wil met sy gees deur ons werk, al is dit dalk nie op die manier wat ons sou verkies nie. Al is dit dan nou net om die een balk bo-op die ander een te sit. Al is dit om op ander “ondankbare” maniere te bou binne die gemeente en die gemeenskap. In sy preekuitleg oor hierdie teks vertel Douglas Lawrie so skerp: “As Moeder Theresa geweier het om vir die Here ‘n kersie aan te steek omdat sy liewer ‘n kragstasie sou wou bou, was daar vandag minder lig in die wêreld… Ons werke steek nie altyd die wêreld aan die brand nie en laat nie almal regop sit nie… Nogtans moet ons luister en gehoorsaam wees.”

Hierdie ontnugterde volk is natuurlik ook ons. Ons leef in ‘n Haggaityd. Apartheid het geval, soos dit moes, maar die reënboog het vervaag en die son van geregtigheid het nie deurgebreek nie, alhoewel dit die week soms lyk asof hy so wil-wil kopuitsteek. Baie gewone Suid-Afrikaners voel moedeloos en magteloos. Daar is tog niks wat ons aan die stand van sake kan doen nie, wie is óns immers? Dan doen ons maar wat vir ons dinge so bietjie beter maak – ons bou of verbou ons eie huise met hoë veiligheidsmure, ons bou ‘n afdak omdat die motorhuis te klein is, ons bou ons eie lugkastele. Maar dis nie plekke waar God se teenwoordigheid kan verskyn nie. Ons raak apaties en daarmee saam so bietjie selfsugtig. Omdat ek nie groot bouwerke vir die Here kan aanpak nie, bou ek maar my eie huis (loopbaan, bankbalans, vriendekring, stokperdjie). Omdat my drupel tog nie ‘n verskil in die emmer sal maak nie, bied ek dit nie aan nie.

3. Maar dan kom God se nuwe belofte:

Lees Haggai 2: 6-9.

God se groot werk is net met my of met ons nie; hemel en aarde, al die nasies word daarby ingesluit! God se magtige teenwoordigheid vervolmaak ons geringe takies en maak daarvan iets groots. Dalk nie nóú nie, maar binnekort. Sy grootste werk kom later in Jesus, nie die Gekroonde nie, maar die Gekruisigde.

Die werk wat ons vir die Here doen, die werk wat soms voel na ‘n gevoortploeter op ‘n plek waar ons éíntlik nie wil wees nie, dit is nie maar blote onbaatsugtige selfopoffering nie. Dit is waar God sy vrede bewerkstellig! Wat veel meer “werd is” as tempels van goud en silwer. Hierdie shalom van God is ‘n gawe wat uiteindelik vir almal bedoel is – dis nie die resultaat van ons werk nie, ook nie die beloning daarvoor nie. Dis eerder die fondament daarvan. Omdat God in sy belofte (my Gees is bý julle) en in Jesus Christus (Immanuel) aan ons skenk, kan ons moedig werk, al bereik ons op die oog af min.

Soos ons gemeente teksvers op die hoeksteen hier buite sê: “Julle (nie hierdie gebou nie) is die gebou van God… Niemand kan ‘n ander fondament lê as wat reeds gelê is nie. Die fondament is Jesus Christus.” (1 Kor 3:9, 11). Solank ons mekaar daaraan herinner dat die fondament Christus is, mag ons maar weet dat die bietjies wat ons elke dag verder bou, maar bietjies kan wees. Ek sluit af met Eliot: “Perhaps neither gain nor loss. For us, there is only the trying. The rest is not our business.”

Magda, Herman, Johlene en Pieter, dankie dat julle bereid is om saam met die res van die kerkraad en die wyksleiers te bou,  al dink julle dat jul bydraes maar net ‘n druppel in die emmer gaan wees en al weet julle dat dit dikwels maar sleurwerk gaan wees. Julle is alleen nie. Julle fondament is Christus en julle krag is die Gees van God. Hy is by julle in hierdie taak.

En liewe gemeente, dankie vir elkeen van julle se druppels in die emmer van ons gemeente. ‘n Klompie jare terug was daar sprake dat Pinelands NG gemeente nie meer as ‘n gemeente sou kon voortbestaan nie. Dis julle wat hier sit se getroue druppels wat val op die fondament van Christus waardeur God ons staande hou en waarom on sook vanoggend kan getuig dat dit goed gaan met ons. Die hemel en die aarde, die see en die land het nou wel nie vir ons gebewe nie, maar die kinderkamer bars uit sy nate. Ons het ons eie tekens van God se magtige teenwoordigheid en vrede.

(Bron: Laurie, D; Woord en Fees 2016)

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.