Jakobus 4:13-17 – 2017

1 Januarie 2017 Pinelands Epifaniefees
Prediker: Dr Tiana Bosman 

 

1 Januarie op ‘n Sondag. Betekenisvol want Sondag is vir ons die begin van nuwe lewe, hoop, kanse.

Epifaniefees – die verskyning die Jesus in die wêreld – die Een wie se koms juis Sondae soos ons dit vier moontlik gemaak het.

Nuwe Jaar, nuwe beginne, nuwe moontlikhede… nuwe voornemens? Hoeveel van julle het al voornemens vir 2017 gemaak? Hoeveel het hierdie planne “DV” gemaak?

Lees teks.

DV…Deo volente…as die Here wil… In verskillende Christelike kulture het dié uitdrukking oor eeue spreekwoordelik geword. Groot misverstande bestaan soms rondom hierdie begrip. Ons gebruik dit om verskillende redes:

  • Dalk om in ons beplanning en ons woorde ‘n getuienis te lewer teenoor diegene teenoor wie ons dit sê?
  • Dalk as ‘n tipe sweerformule, ‘n afweermiddel waarmee ons die kwaad van ons lyf wil weghou. Sodoende bied DV vir ons die versekering dat dinge sal verloop soos wat ons dit beplan het. Wanneer ons DV sê, weet die Here immers wat ons beplan en kan niks of niemand ons planne in die wiele ry nie (Hy sal sorg daarvoor).

Jakobus leer vir die gemeentes aan wie hy die brief rig, hierdie rympie aan. Hy leer hulle om DV te sê; Deo volente, as die Here wil… Hoekom doen hy dit? Jakobus het die brief geskryf omdat daar konflik binne die gemeentes was tussen die rykes en die armes. Hy het die rykes, die magtiges in die oog, wat deur hulle selfversekerde woorde en optrede spanning in die gemeente veroorsaak het, deurdat hulle die armes benadeel en verneder het. Die rykes het selfsugtige lewens gelei, hulle wou in alles wins maak, en het hulle nie aan die behoeftes van die arm gemeentelede gesteur nie. Onder hierdie ryk mense was daar ook handelaars wat van stad na stad gereis het om sake te doen en geld te maak. Dié handelaars het juis nie na die wil van die Here gevra nie. Hy was nie in hulle beplanning ingereken nie, nie deel van hulle prioriteitslysie nie. Op daardie lysie het meestal net die woorde GELD, SUKSES, VOORSPOED en WINS verskyn.

Hierteen het Jakobus dit. Daarom skryf hy: “Kom nou, julle wat sê: ‘Vandag of môre sal ons na dié en dié stad toe gaan en ‘n jaar lank daar bly; ons sal sake doen en geld maak.’ Julle wat nie eers weet hoe julle lewe môre sal wees nie! Julle is maar ‘n damp wat ‘n oomblik verskyn en sommer weer verdwyn.”

Met dié woorde herinner Jakobus die rykes en die magtiges daaraan dat hulle insig in die toekoms en hulle vermoëns om die volgende dae te bepaal, uiters beperk is. Dit geld natuurlik nie net vir die ryk mense in die samelewing nie, maar vir ons almal. Geen wonder dat die wyse skrywer van Spreuke 27:1 reeds al kon sê: “Moenie roem oor wat jy môre verwag nie; jy weet nie wat die dag sal oplewer nie”. Wanneer ons dit in ag neem, is die boodskap in Jakobus nie net ‘n waarskuwing aan die rykes nie, maar aan álmal wat té selfversekerd is oor hulle eie toekomsplannetjies.

‘n Engelse predikant, dominee Ford, het oor die teks gepreek onder die tema “Voorlopige beplanning”. Hy begin deur te sê dat hy baie daarvan hou om vooruit te beplan. Dan verduidelik hy dit só (en ek vertaal dit vry)…

Ek moet bely dat ek nogals daarvan hou om te beplan…Ek put geweldige genot daaruit om die dagboek vir die volgende jaar aan te koop en solank my vaste datums te merk en my verskeie afsprake neer te pen…Ek skryf om die waarheid te sê al my afsprake met ‘n balpuntpen in. Dan haat ek dit natuurlik om veranderinge aan te bring, want dit maak dat die dagboek onnet lyk, en ek haat onnetheid!…Een van my kollegas van lank gelede wat meer afsprake in sy dagboek het as wat ek ooit sal hê, het altyd sy afsprake met ‘n potlood ingeskryf. Dan kon hy dit weer uitvee. Ek het dit nie gewaag om te vra of hierdie gewoonte van hom om teologiese redes is nie, maar indien dit wel so was, is sy gewoonte in ooreenstemming met die boodskap in die Woord van God. Al ons planne moet voorlopig wees. Dit is immers wat Jakobus in sy vierde hoofstuk by ons wil tuisbring

Dominee Ford is reg. Jakobus wil ons leer dat al ons planne voorlopig is. Maar sy bedoeling is nie nét dat ons nie langer met balpuntpenne in ons dagboeke sal skryf nie. Dit gaan om veel meer as bloot die inruil van penne vir potlode.

Jakobus vra dat ons sal rekening hou met dié Een in wie se hande ons toekoms en ons planne is. Daarom sê hy: “Julle moet eerder sê: ‘Deo volente, as die Here wil, sal ons lewe en sal ons dit of dat doen’”. Jakobus waarsku dus teen menslike beplanninge sonder die inagneming van God se moontlike ingrype, sonder die wete dat God se wil vir ons vir môre of vir oormôre dalk anders kan wees as ons eie wil…

Jakobus waarsku ook teen menslike beplanninge wat nie rekening hou met God se geopenbaarde wil soos wat ons dit in sy Woord vind nie. Dit is immers vir alle gelowiges duidelik dat die Here dit teen selfsug en onderdrukking en uitbuiting het, maar steeds was daar gelowiges in Jakobus se tyd wat hulle nie daaraan gesteur het nie, wat ander onderdruk het terwyl hulle baie mooi omgesien het na hulle eie welvaart en sukses. Hulle het selfs planne vir die toekoms gemaak om hulself te bevoordeel ten koste van arm medegelowiges. Dit het hulle gedoen omdat hulle nie hulle eie planne onderwerp het aan die geopenbaarde wil van God nie. Gevolglik was daar nie in hulle lewens of in hulle toekomsplanne ruimte gemaak om die wil van God uit te leef nie.

Vandag is God se geopenbaarde wil oor naasteliefde dalk nog meer dringend as die een wat dit het teen selfsug en onderdrukking – alhoewel ek dink die twee eintlik absoluut geïntegreer is. ‘n Gelowige mens wat nie ‘n ander mens dieselfde kwaliteit liefdesverhoudinge gun wat hy of sy vir hom/haarself wil hê nie, is selfsugtig en leef nie binne die geopenbaarde wil van God soos Jesus dit verkondig het nie.

Wanneer ons dit raaksien, besef ons dat om DV te sê en te bedoel dat, as die Here wil, ons dit en dat sal doen, nie net gepaardgaan met die besef dat ons nie regtig weet hoe ons lewens môre gaan verloop nie, maar ook implikasies het vir wát ons doen en hóé ons dit doen. Want wanneer ons sê As die Here wil en dit ernstig bedoel, word hierdie uitdrukking ‘n norm waaraan ons ons eie planne, voornemens en gedrag kan meet. Wanneer ons sê As die Here wil, hou ons rekening met sy geopenbaarde wil in die Woord en rig ons ons eie planne en voornemens en gedrag daarvolgens, begin ons leef en beplan soos die Here wil.

Om Deo volente te sê, moet dus nie net ‘n rympie wees wat ons aanleer en wat van geslag tot geslag oorgedra word nie. Dit is veel méér as ‘n manier van praat. Want taal bepaal ook ons gedrag. Dit getuig wie ons is, vir wie ons leef en waar ons prioriteite lê. Om Deo volente te sê, is om te erken dat ons lewe in die hande van die Here is. Dit is ook om te bid dat die Here se wil sal geskied – ook deur ons doen en late in die jaar wat voorlê.

Kom ons bid daarom daagliks Deo volente met die oog op die toekoms, en dan rig ons ons planne volgens hierdie gebed en ons werk daaraan mee dat die wil van die Here inderdaad sal geskied. Want as ons nie op hierdie manier DV kan sê nie, is dit beter om liewer die gewoonte af te leer. Maar as ons dit wel op hierdie manier sê, dan sal ons huise en ons gemeente ‘n plek wees waar die wil van God gedy en waar mense sal vind dat hulle veilig en geliefd is en versorg word.

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.