Jesaja 9:1-6

25 Desember 2018 – Kersfees
Prediker: Ds. Helgard Pretorius

[Hierdie Kersfeesmeditasie is geinspireer deur en haal ruim aan uit ‘n reeks nadenkings uit Dirkie Smit se bundel koerantrubrieke, Dieper as wat mens dink.]

Voordat ek na hierdie gemeente toe geroep is, het ek die voorreg gehad om by Stellenbosch filosofie te doseer aan eerste-jaar teologiestudente.

Een van die denkers wat ek met hulle behandel het – iemand wat ’n groot indruk op my én die studente gelaat het – was die sosiale denker Hannah Arendt.

Sy was ’n Joodse vrou wat in 1906 in Duitsland gebore is. Met die aanvang van die Tweede Wêreldoorlog het sy gehelp om Joodse kinders uit die land uit te smokkel, maar moes later ook self na Amerika vlug, waar sy uiteindelik groot aansien as ’n verslaggewer en politiese filosoof verwerf het.

Een van die dinge wat my die meeste van Hannah Arendt se storie fassineer, is haar verhouding met een van haar dosente; die omstrede en invloedryke filosoof, Martin Heidegger.

Heidegger sou uiteindelik ’n ondersteuner van die Nazi’s geword het – en Arendt, die Jood, moes vlug om haar lewe te red. Maar, van vroeg af het sy groot bewondering vir hom gehad en selfs ’n vurige romantiese verhouding met hom aangeknoop.

Arendt se liefde vir Heidegger het egter nie beteken dat hulle dieselfde sienings gedeel het nie. Een van Heidegger se kern sienings was dat die diepste wese van ’n mens daarop neerkom dat ons sterf. Om ’n mens te wees is om sterflik te wees. Ons finale horison is altyd die dood. Daarom beskryf Heidegger menswees as altyd-op-pad-om-te-sterf.

’n Mens is ook dié wese wat te wete kan kom dat hy of sy sterf. En omdat ons dit kan weet probeer ons lewenslank om hierdie wete te vermy. Ons probeer op allerlei maniere om ons eie sterflikheid te ontvlug; om te ontken of te vergeet dat ons verganklik is.

Hoewel hierdie siening van Heidegger geweldig invloedryk is – en tot ’n groot mate ook waar is – het sy jong student, Hannah Arendt, presies die omgekeerde gedink.

In haar boek, The Human Condition, beskryf sy menswees – nie as altyd-op-pad-om-te-sterf nie – maar as ’n ewige-gebore-word. Die merkwaardigste ding van menswees, sê sy, is nie dat ons sterf nie, maar dat ons gebore word.

Meer nog: om ’n mens te wees is om ewig wéér gebore te word; om elke keer wéér, elke dag núút gebore te kan word. Hiervoor munt sy selfs haar eie term: ‘nataliteit’, geboortelikheid. Ons is gebore-worders, geboorte-mense, skryf sy.

Dis éérder hoe ons oor onsself moet dink. Om ’n mens te wees is om pas-nuut-gebore te wees, nie op-pad-na-die-dood nie. Dís die ingesteldheid wat ons moet koester. Elke dag is nuut! Elke oomblik, elke geleentheid, elke ontmoeting, elke verhouding is soos ’n nuwe geboorte.

Al lê daar groot wysheid daarin om ons eie sterflikheid te kan verwelkom en al maak die Christelike tradisie daarom ook groot erns met die dood, val die klem van die evangelie óók op die lewe eerder as die dood. Dink aan die Bybelse motiewe van opstanding en wedergeboorte, van gebore word en weer gebore word, van die ou dinge wat verbygaan en ’n nuwe ding wat gebeur.

Arendt, die Jood, moes vir baie Christene hieraan herinner toe sy skryf: “die grootste simbool van dié wonder wat die wêreld verlos van ruïne en dood, die heerlikste uitdrukking daarvan, is die Christelike Evangelies se aankondiging van die goeie tyding: ’n Kind is vir ons gebore, ’n Seun is vir ons gegee.”

So haal sy die einste teks uit Jesaja 9:6 aan wat ons vanoggend voorgelees het.

Die wonder by elke nuwe kindjie – sê Arendt – is dat dit die geboorte is van ’n nuwe bewussyn, ’n nuwe self, ’n nuwe wil…

(Iemand het my nou die dag meegedeel, dat daardie wil op die ouderdom van drie nie onderskat moet word nie).

Elke nuwe kindjie is die aanvang van ’n nuwe manier van kyk – eintlik die begin van ’n hele nuwe wêreld. Want daai klein ogies gaan ’n nuwe wêreld ontdek en ’n hele nuwe werklikheid bewoon as wat die ouers selfs van kan droom.

Baie van julle wat al kinders of kleinkinders – of selfs agterkleinkinders! – se geboortes meegemaak sal dit beter verstaan as ek… So ’n kindjie verander álles. Alles is anders, omdat dié kleinding nou óók hier is.

Dink aan ’n baba Mandela, ’n Ghandi, ’n Moeder Theresa, ’n Wilberforce… noem maar op… Wie sou by hulle geboorte, dikwels in donker tye, kon sê dat hulle die wêreld so anders sou laat? En dink aan hoeveel keer hulle in hulle lewens nie wéér gebore moes word om uiteindelik so ’n verskil te kan maak nie…

Is dit nie die wonder van wonders nie?

En elke nuwe geboorte verkondig opnuut, dat hierdie wonder van nuutheid, vryheid en verbeelding van ons almal waar is. Dat dít is waarop ons menswees ten diepste neerkom.

En soos Arendt sê, is die heerlikste uitdrukking van hierdie waarheid die goeie tyding dié kind wat aan ons gegee is en genoem word, Wonderbare Raadgewer, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors.

Soos die teks ons herinner, kan dit met ons gebeur dat die dood vir ons die enigste en laaste horison word, dat ons soos Jesaja sê, mense word wat “in die duisternis ronddwaal” …mense word wat altyd net “’n stikdonker land” om ons sien.

Die slawejuk op ’n mens se skouers kan so swaar raak, dat slawerny vir ons die enigste en finale horison word. Die gedruis van stewels op pad na nóg ’n slagveld, of die beelde van nóg bebloede hemde kan ons moedeloos, uitsigloos laat.

Dit kan met ons gebeur dat ons nie meer met verwagting lewe nie; nie meer glo dat dinge anders kan wees nie. Ons kan verleer hoe om met die verbeelding en afwagting van ’n kind na die wêreld kyk. Ons kan so op-pad-na-die-dood-toe lewe dat ons eintlik reeds dood is.

Maar vir ons is ’n kindjie gebore. En kyk, die kindjie wat gebore is, is die Wonderbare raadgewer: van nou af en vir altyd sal hy reg en geregtigheid vestig. En elkeen wat hom volg sal as lig vir die wêreld en sout van die aarde gebore word, as regmakers sal hulle nuut gebore word, elke dag wéér, elke dag núút.

Vir ons is ’n kindjie gebore.

Leef daarom met hoop, gooi af daai swaar juk op julle skouers, verpletter die slawedrywer se stok. Die ou dinge is aan die verbygaan…

En kyk, die kindjie wat gebore is, is die Vredevors: sonder einde sal hy vredemaak. En elkeen wat hom volg sal as vredemakers gebore word, as vredemakers nuut gebore word, elke dag wéér, elke dag núút.

Vir ons is ’n kindjie gebore.

Leef daarom met vreugde, want die marsjerende stewels en bebloede mantels is vir die vlamme bestem, sê Jesaja.

Dit is die goeie tyding van Kersfees.

Die diepste werklikheid oor jou, die grootste geheimenis van die wêreld, as dat daar ’n kindjie vir ons gebore is.

Daarom is niks ooit so finaal vasgeloop soos dit mag voorkom nie. Daarom is geen situasie ooit so uitsigloos, dat sake nie nuut kan word nie. Die lewe is nooit so verby soos dit mag lyk nie. Iets onverwags en nuut kan altyd gebeur wat alles verander.

Soos ’n kindjie mag dit klein en onbeduidend wees; dit mag in ’n vergete stal plaasvind waar skaapwagters die enigste getuies is, maar dit kan meebring dat alles nuut word.

Mag jy op hierdie Christusfees, dit opnuut ontdek.

Mag jy dit met die verbeelding en opgewondenheid van ’n kindjie ontdek. Dat jy ’n gebore-worder, ’n geboorte-mens is. Altyd pas-nuut-gebore.

Jou lewe is vol belofte, gevul met lewensmoontlikhede, swanger aan nuwe geleenthede, want vir jou is ’n kindjie gebore.

Koester daarom altyd die hoop wat in jou leef. Maak vrede. Doen vreugde. En verwelkom elke kind van God met liefde.

Jesaja 8:23 – 9:4 – 2017

22 Januarie 2017 Pinelands
Prediker: Dr Tiana Bosman 

 

Proto/Eerste Jesaja – in die tyd voordat Juda verslaan is, Jerusalem teen die grond, en die volk van die Suidryk na Babilonië weggevoer is (586 vC). Ballingskap was in 2 fases – eerste is die Noordryk (Israel) verslaan en ongeveer 150 jaar die Suidryk (Juda met Jerusalem). Knegliedere van die afgelope twee weke is uit Deutero Jesaja en dateer uit die twee fase van die ballingskap. Maar ons gaan vandag ‘n verdere sowat 150 jaar terug in die geskiedenis – na die gebeure rondom die eerste fase van die ballingskap toe.

Dit is die jaar 734 vC (eerste Assiriese inval toe Israel verskeie gebiede aan die Assiriërs moes afstaan), miskien 723 na die verwoesting van Samaria en die einde van die Noordryk.

Teks:

8:23 Want [daar sal nie wees] donkerte vir die land wat angstig is nie.

In die verlede (in die tyd wat agter is) het Hy verneder die land na Sebulon en die land na Naftali, maar in die latere tyd sal Hy in ere herstel die pad na die see, die gebied oorkant die Jordaan, Galilea van die nasies.

9:1 Die volk wat geleef het in die donkerte, het ‘n groot lig gesien,

die wat gewoon het in ‘n land van doodskaduwee – lig skyn oor hulle.

2 U vermeerder die nasie, U vergroot hul vreugde;

hulle juig voor U aangesig (in U teenwoordigheid) soos met die blydskap van oestyd, soos wat hulle juig in die verdeling van buit.

3 Want die juk van hulle las, die juk van hulle skouer, die knuppel van die verdrukker teen hulle – U het dit verpletter soos op die dag van Midian.

4 Want elke stewel  wat marsjeer dat dit bewe en kledingstuk (soldate uniform) wat gerol is in bloed, is (gebruik) as brandstof vir die vuur.

Notas:

8:23 die pad na die see = kusstrook en vlakte van Jisreël

die gebied oorkant die Jordaan = noordelike gebied

Galilea van die nasies  = gebied vd heidene, samevattend die hele gebied wat nou onder heidense oorheersing val

9:2 bevolkingsaanwas = teken van status, eer, rykdom

  • God se teenwoordigheid en seën word dikwels verbind met die groot godsdienstige feeste wat in of net na oestyd plaasgevind het.

9:3 verdrukking onder ‘n juk = algemene beeld vir vreemde oorheersing

  • Dag van Midian verwys na Gideon se oorwinning oor die Midianiete (Rigters 7). ‘n Klein groepie wat ‘n oormag oorwin het. Hierdie herinnering wil moontlik aandui dat God weer die onmoontlike kan doen. Profete het dikwels die volk aan God se magsdade in die verlede hernner ten einde hul geloof te versterk en nuwe hoop te gee.

9:4 Stewel = ook simbool van onderdrukking.

Waarom die klere verbrand en nie gebruik nie?: Om te sê dat elke teken van militêre oorheersing vernietig sal word. (Jesaja het deurentyd ‘n sterk pasifistiese lyn.)

Die toneel van verlossing word geskets asof dit reeds gebeur het, terwyl ons weet die volk het nog geen verlossing ervaar nie. Hoe so? Die Profetiese Perfektum (Profetiese Verledetyd) baie algemeen in die OT: profete verkonding die boodskap so sterk dat hulle dit vertel asof dit reeds gebeur het. “Só seker gaan dit gebeur, dat ek dit vir julle vertel asof dit reeds plaasgevind het – só seker!”

Het Jesaja die onmiddellik vervulling van die lotsverandering verwag? Weet nie. Het hy dit beleef? Beslis nie.

Boodskap

Almal van ons sit met ons eiesoortig probleme en klagtes, en as iemand net die tyd het om lank genoeg te luister, sal ons waarskynlik vir ‘n uur of langer ons harte kon uitstort oor die sleg in ons lewens. Oor skete en pyne kan ons nie uitgepraat raak nie – hierdie boud en daai skouer, die voet en daai laë rug. My en JP se gedagtes word die afgelope dae oorheers deur die diepe bekommernis of ons met ons eie huis sal kan doen wat ons graag wil nadat die huurders uitgetrek het, of ons genoeg geld het om dit op te knap sodat dit vir ons standaarde darem leefbaar kan wees? Iets wat – vir my ten minste – soms tot diep in die nag laat wakkerlê. My skoonsuster is baie lief vir die uitdrukking “om te kla met die witbrood onder die arm”. Want soms is ons klagtes werklik oorbodig.

Daar ís mense wat vanuit ‘n ander plek kyk na die vernedering, die duisternis, die juk in hul lewens. Mense vir wie hul klagtes nie bloot ‘n paar klippies in hul skoen is wat irriteer nie, maar wat, by wyse van spreke, nie meer skoene het om die berg wat voor hulle lê mee uit te stap nie. Dink aan mense wie se leefwêrelde in duie gestort het. Sommige (gedeeltelik) uit eie toedoen, ander buite hul beheer. Dink aan die gemeentelede wat almal onlangs met kanker gediagnoseer is. Dink aan vriende en familie wat in die afgelope jaar of twee die mense naaste aan hulle aan die dood moes afstaan. Dink aan die man wat in die week met my kom praat het omdat sy gesinslewe rondom hom inmekaargetuimel het en daar net eenvoudig geen uitkoms blyk te wees nie. Dink aan Dawie Brink, die uitvoerende hoof van Solidariteit, wat twee kinders in ‘n ongeluk verloor het waarvan hy die bestuurder was, en sy vrou se linkerbeen is bo die knie ge-amputeer. In ‘n onderhoud met Hanlie Retief sê hy: “Jy kan jouself nie dood treur nie. As jy kon, sou jy.” En ons wat kla oor Suid-Afrika se belemmerde situasie – kyk net na arme Amerika!

Dink verder aan mense wat nie meer in hul eie lande kan woon nie. Vlugtelinge. Dink ver terug aan die ballinge van die Noordryk van Israel in die jare 734 – 723 vC – die ongeluk wat hulle getref het, die lotsverandering wat hulle beleef het. Hulle was nie sonder meer armes en verdruktes en nederiges nie. Baie van hulle was hooggeplaastes in die samelewing. Hierdie groep mense was ook nie bloot die onskuldige slagoffers van omstandighede nie. Die vernietigde Noordryk was eens op ‘n tyd baie magtiger en ryker as sy klein buurman Juda in die suide. Amos en Hosea teken die boorlinge van die Noordryk as arrogante sondaars, as ryk mense, sorgeloos, as mense wat self verdrukkers was. Hulle was so ongehoorsaam dat hul eerste lotsverandering van God af gekom het – die vernedering waarvan ons in 8:23 lees. Nou is die bordjies verhang en hulle sit in duisternis. Hulle wou mos! Dit was hulle verdiende loon! So het die profete ook gesê…

Maar wag ‘n bietjie – het ons nie ook elkeen ‘n verdiende loon nie? Ons wat so maklik kla, maar dan so gemaksugtig lewe. Ons wat nie een van arm is nie, maar tog die sente omdraai wanneer ons ons tuinman of huiswerker moet betaal, of wanneer die petroljoggie of karwag hoop op ‘n fooitjie.  Ons wat self onderdrukkers is in eie reg. Of ons probeer vergeet van iemand wat eensaam in die hospitaal lê en hoop op ‘n besoek. Meeste van ons motors ken nie die paaie na hospitale buite Pinelands nie – dis te ver. Ons wag eerder tot na ontslag wanneer die persoon weer naby is. Ons kla maklik oor kleinighede, maar dan kyk ons verby diegene wat werklik in die duisternis sit. Ons is te besig om ons eie klippies uit te skud om nog elders aandag ook te gee waar mense kaalvoet en bakhand wag om net raakgesien te word – ook diegene wat figuurlike honger en dors na aandag.

Die feit dat Israel eens ‘n geskiedenis van onderdrukking in Egipte geken het, bring nie versagtende omstandighede as hulle in hul dag van vryheid self begin om ander uit te buit en te onderdruk nie. Hulle geskiedens gee nie aan hulle die reg om in die toekoms na binne gerig te lewe en nie die mense buite hul kring raak te sien nie.

Maar die omgekeerde is ook waar, en dít is die blye boodskap van vandag se teks: mense wat verneder is of in die duisternis leef, wat die rede ookal mag wees, word nie aan hul verlede gemeet nie. In elk geval nie deur God nie. Die spreekwoord: jou verlede haal jou altyd in – dit tel nie by God nie. God is bý diegene wat nóú in nood verkeer. Vir hulle tree Hy in. Nie deur hulle tot bekering te roep nie, maar omdat Hy wil, omdat dit is hoe Hy is. God is “passievol betrokke by mense wat ly, ongeag hulle geskiedenis”, lees ek in ‘n kommentaar. Straf, selfs in die situasies waar dit ruim geregverdig sou wees, is altyd vreemd aan God se aard. Sy teenwoordigheid bring lig en vreugde vir diegene wat swaarkry – want Hy is genadig en barmhartig, Hy is getrou selfs aan mense wat ontrou is.

Aanvaar ons hierdie lig en vreugde wat van God af kom, die eer, die fees en die oestyd, die jukke wat verpletter word. Ís dit inderdaad vir ons goeie nuus? Wil ons regtig hê dat God die jukke verpletter? Of sou ons dalk eerder verkies om dit te verskuif na die booswigte se skouers? Die wat jukke verdien? Oor hoeveel mense wat swaarkry spreek ons die oordeel uit: Ja dis sleg, ek wil nie daar wees nie, maar dit is darem sy of haar, hulle verdiende loon. Hy het gevra daarvoor.

Maar onthou dan net – hierdie boodskap van lig en vreugde is juis gerig aan booswigte, aan die Noordryk se mense wat sondaars was. God wil nie die instumente van straf verplaas na meer “verdienstelike skouers” nie, nee, Hy wil dit heeltemal vernietig, verbrand!

Ons kan nie ons eie heil bewerk nie. Israel kon ook nie. Hulle wat verdruktes was het heeltemal vinnig genoeg geleer om die verdrukkers te word. Maar ons word tog geroep om in te spring ten hoewe ander verdruktes – om hulle by te staan in hul tyd van duisternis. Wat God nie van ons vra nie is om in te spring teen die verdrukkers en om oordeel en straf te begin uitdeel. Die bevrydingsteologie waartoe ons opgeroep word is om mense wat gevangenes is van hul omstandighede te help bevry, om daarin instrumente te wees in die hand van God. Dis by hulle waar ons ons moet skaar. Dit is daarom nie om die wapens op te neem teen die vyand nie. As dit gebeur sal God Hom skaar by die vernederde vyand – want Hy is by diegene wat in nood is, wat ly, maak nie saak hoe hulle daar gekom het nie.

Die van julle wat in swaarkry – God is by julle. Die van julle wat nie regtig swaarkry nie, maar tog te maklik kla – probeer vergeet van die irritasies en frustrasies in jou eie lewe (God lag dit af – ‘n goedige laggie want Hy ken ons ook, maar nietemin). Sien eerder diegene om jou raak wat ly. Hulle mag selfs jou eertydse vyande wees. As ons in die lig en die vreugde van God se teenwoordigheid wil leef, laat ons dan uitreik na mense hierdie mense. En mag ons so seker soos die profeet met sy werkwoorde van profetiese verledetyd God se bevrydingsboodskap verkondig asof dit reeds plaasgevind het:

Liewe vriend of vriendin wat leef in die donkerte, ons het ‘n groot lig gesien,

Jy wat gewoon het in die land van doodskaduwee – God se lig skyn oor jou!

As ek Barack Obama se laaste woord van sy uittrede toespraak effe kan aanpas: “Yes, we can! Yes, we have” Na “Yes, He will. Indeed, He has!”

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.

Jesaja 49:1-7 – 2017

15 Januarie 2017 Pinelands
Prediker: Dr Tiana Bosman 

Verlede week en hierdie week: die eerste 2 van 4 knegliedere in Deutero-Jesaja.

Proto / Eerste (1-39): voor ballingskap (Jesaja as outeur)

Deutero / Tweede (40-55): tydens ballingskap (naamlose outeur)

Trito / Derde (56-66): na ballingskap (dissipel van vorige outeur)

Deutero-Jesaja bevat 4 knegliedere: 42: 1-9; 49: 1-6; 50:4-9; 52:13-53:12.

– Geeneen van die liedere gee vir ons duidelikheid oor die identiteit van die dienaar nie (profeet/ander getroue individu/Kores/die volk – [nee]?). Dat die profeet (Jesaja?) in sy dag en tyd nog nie vir Jesus van Nasaret in die oog gehad het nie, maar eerder iemand in sy hier en nou.

– Jesus het wel die amp van knegskap by uitstek vervul en ons word as volgelinge van Jesus ook daartoe geroep (soos Paulus en Barnabas – Hand 13:47).

In die eerste kneglied (Jes 42) is die Here aan die woord. In die tweede lied (49) is die kneg aanvanklik self aan die woord en stel hy dan later die Here aan die woord (vss 5).

Teks: Jes 49: 1-7

1 Luister na my, eilande,! Gee aandag, nasies van ver! [Praat nie met Israel, maar met die nasies]

Die Hére het vanaf die baarmoeder my geroep, [voor my geboorte al!]

vanuit die ingewandes van my moeder het Hy my naam genoem.

2 En Hy het my mond gemaak soos ‘n skerp swaard,

in die skadu van sy hand het Hy my verberg;

Hy het my ‘n skerp (of getoetste of spesiaal verkose) pyl gemaak,

in sy pylkoker versteek Hy my. [Aanvanklik het niemand geweet ek is geroep nie]

3 Hy het vir my gesê: “My dienskneg is jy, Israel, deur wie Ek verheerlik sal word.

4 Maar ek het gesê/gedink: “Tevergeefs (vir niks) het ek gewerk,

vir leegheid en ‘n damp (vapour/vanity) het ek my afgesloof,

maar waarlik: die Here sal aan my reg laat geskied

en my God sal my beloon.

5 En nou sê die Here, Hy wat my vanaf die baarmoeder gevorm het as dienskneg vir Hom

om terug te bring Jakob na Hom toe en dat Israel nie verstrooi sal word nie (chiasme);

en ek sal vereer word in die oë van die Here,

en my God is my krag; [hierdie laaste 2 frases misplaas?, eerder aan einde van vs 4?]

6 (nou) sê Hy: “Dit is vir jou te lig geweeg (lightly esteemed) om vir My ‘n dienskneg te wees

om te laat opstaan die stamme van Jakob en om die oorgeblewenes van Israel terug te bring (chiasme);

Ek maak jou ‘n lig vir die nasies om my verlossing te wees tot by die uithoeke van die aarde.

7 So sê die Here, die Verlosser van Israel, haar Heilige,

vir die een wat diep verag is, vir die een wat deur die nasies verafsku word, ‘n dienskneg (>slaaf) van regeerders: “Konings sal sien en hulle sal opstaan, leiers/prinse sal buig,

ter wille van (le’ma’an) die Here wat  getrou is (nê’ma’an), die Heilige van Israel wat jou gekies het.

Boodskap

Die woord kneg (ebed) in die OT het ‘n omvangryke betekenis gehad. Dit is gebruik vir mense in die laagste van laë posisies (slawe), maar ook vir mense in baie hoë posisies (konings en koninklike amptenare, ook profete – hier sou ons dan wegdoen met die woord “slaaf” soos ons dit vandag verstaan en eerder “kneg” of  “dienaar” gebruik en toelig.) Knegte was dus onderhoriges (slawe), maar ook verteenwoordigers van ‘n hoër gesag (Abraham se slaaf/kneg was sy verteenwoordiger om nms hom vir Isak ‘n vrou te gaan kies), of selfs die hoogste, gesag – Moses, konings en profete was verteenwoordigers van God op aarde. Die woord ebed kon dus sterk vanaf vernederende skeldnaam tot eretitel.

Met die uittog uit Egipte is die volk Israel as kneg van die Here verkies. Maar die volk en hul leiers het hulle status as geroepe knegte dikwels misverstaan en ook misbruik – hulle het gedink hulle kan doen wat hulle wil en opgehou om diensbaar te wees en die wil van Here (Jes 42: reg en geregtigheid, versorging van weses, weduwees, armes en vreemdelinge) na te streef. Daarom dat hulle in ballingskap beland het.

Die eens vername “knegte (konings, priesters, dienaars) van die Here” raak ballinge in ‘n vyandige land – ironies steeds ebeds/knegte, maar nou in die sin van slawe van die vyand. Nie meer verteenwoordiges van God nie, maar nou vernederdes onder die nasies. Hulle twyfel of hulle nog die volk van God is. Die woorde “roeping” en “verbond” klink skielik hol . Dit lyk asof God magteloos is om hulle te help. Wat hulle nodig gehad het was iemand wat hulle sal terugroep na God toe, iemand wat hulle sal verseker daarvan dat hulle sal terugkeer na hulle land toe iemand wat vir hulle hoop kan gee wanneer daar geen hoop onder hulle meer te vinde is nie.

In hierdie desperate omstandighede hoor ons hoedat ‘n naamlose persoon (ons hoor nooit wie hy was nie) opstaan en sy stem laat hoor, ‘n niksnuts wat gedink het dat alles wat hy doen tevergeerfs is en wat self nie by geboorte geweet het dat hy geroep is nie, wat eers later in sy lewe tot die oortuiging gekom het dat die Here destyds al, in die skoot van sy moeder, die roeping van knegskap op hom gelê het. Hierdie man durf dit om in God se naam die nasies aan te spreek en om oor God se verhulde plan te begin praat (1-2).  Hy durf dit om God se beloftes ernstig op te neem en om dit wyd en syd te verkondig. Sy eerste taak is om binne sy onmiddellike konteks die Israelitiese slawe in ballingskap terug te roep na God toe (nr 1) en om hulle van hul eie terugkeer na hulle land toe te verseker (nr 2).

Hy het egter ook ‘n tweede taak en dis nog veel meer omvangryk as die herstel van die volk Israel nadat die Babiloniërs hulle verslaan het. God se redding het nie net die volk in die oog nie, maar die wêreld, die ganse aarde, tot by elke uithoek. Om kneg van God te wees beteken nie net om kneg onder jou eie mense te wees nie, maar om kneg vir die nasies te wees – om vir ieder en elk ‘n lig te wees wat God se verlossing verkondig.

Dit is wat dit beteken om kneg van die Here te wees. Die vraag is nou: Watter soort mens sien kans hiervoor? Wie kan moed hou wanneer dit lyk asof jou werk alles tevergeefs is en jy jou afsloof vir niks – stank vir dank? Wie kan vasbyt wanneer God se plan (ook vir jouself) nog verhul is?: Ja, die Here het jou mond ‘n skerp swaard gemaak waarmee jy mense kan oortuig en jy is ‘n pyl wat spesiaal getoets en uitgekies is vir die taak, maar Hy steek jou weg in sy hand en sy pylkoker, dat jy geroep is, is nie vir almal so opsigtelik nie. Wie kan dapper met hierdie taak voortgaan as dit lyk of die taak heeltemal te groot is – so groot dat jy God voor die hele wêreld moet verteenwoordig? Wie sien hiervoor kans? Wie is diensbaar en afhanklik genoeg?… Wie is dapper en standvastig en amper roekeloos genoeg vir hierdie taak?

Wanneer ons ‘n voorbeeld soek om na te streef, moet ons na die evangelies toe blaai. In Jesus van Nasaret het God vir ons kom wys hoe ware knegskap lyk. Maar waarop het dit uitgeloop? Jesus is nie deur die mense gekroon vir sy woorde (swaard en pyl) en sy dade nie, Hy is gekruisig.

Bygesê: Het God regtig menseknegte nodig om sy werk vir Hom te doen? Nee, ons moet mooi verstaan – dis nie menseknegte wat God se werk vir Hom doen nie, dis God self wat sy werk deur hierdie mense doen. Knegskap is ‘n roeping en dit kom van God af. Dis sy plan, Hy wat roep, Hy wat toerus en wat eretitels gee – dis alles God se werk, maar hierdie werk word nie buite sy knegte om volvoer nie, maar via hulle.

Ons sing in lied… van knegte met koningsgesag – dws nie slawe nie, maar dienaars. Tog is daar altyd hierdie twee kante. Jesus wys dit vir ons. Hy kan as koning gekroon word, maar Hy kies om as kneg gekruisig te word. Soos Paulus en Barnabas word ook elkeen van ons geroep om na die beeld van Jesus knegte van God te wees. Ek sluit af met Douglas Lawrie se vraag hieroor: Wat is die swaarse deel van knegskap? Om tot die uiterste toe verneder te word – soos Jesus? Of om as gevolmagtigde die ganse wêreld namens God aan te spreek – soos Jesus? Is daar inderdaad iemand onder ons wat vir hierdie ondankbare, of is dit nou dankbare, taak kans sien?

Kan ons onsself knegte van die Here noem. Is dit nie darem baie aanmatigend om te sê ek en ons is geroep om ‘n lig vir die nasies te wees nie? Ongelukkig is dit nie ons keuse nie. Of dalk eerde: gelukkig is dit nie ons keuse nie.

Leonard Cohen se lied van verlede week: Anthem: “There is a crack in everything, that’s where the light gets in”

Sy lig skyn deur die krake. Lig wat nie net inkom nie, maar na buite toe uitskyn vir die nasies om te sien…

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.

Jesaja 42:1-9 – 2017

8 Januarie 2017 Pinelands Eerste Sondag na Epifanie
Prediker: Dr Tiana Bosman 

Inleiding

Jesaja:

Proto / Eerste (1-39): voor ballingskap

Deutero / Tweede (40-55): tydens ballingskap

Trito / Derde (56-66): na ballingskap

Deutero-Jesaja bevat 4 knegliedere:

42: 1-9

49: 1-6

50:4-9

52:13-53:12

Het reeds in 2012 iewers oor 52-53 gepreek. Vandag 42, volgende week 49. Hierdie ebed/kneg/dienaar liedere is oor die algemeen baie problematies vir beide gewone lesers sowel as geleerdes. As gewone lesers wil ons graag die liedere sien as duidelike verwysings na Jesus. As geleerdes doen baie dit wel ook, en die res weet nie wat om met die identiteit van die dienaar te maak nie:

  • Die volk Israel?
  • Die ware Israel, dws die getroue oorblyfsel van die volk?
  • ‘n Individu, dalk dalk die profeet self wat in ‘n tyd van wanhoop mense moes terugroep na geloof (en die enkele verwysings na Israel word as toevoegings beskou) OF die Persiese koning Kores wat in 45:11 God se gesalfde genoem word? Maar tog duidelike merkers wat dui dat die dienaar nie Kores kon wees nie.

Dalk die beste om te aanvaar dat geeneen van die liedere vir ons duidelikheid gee oor die identiteit van die dienaar nie. Dat die profeet (Jesaja?) in sy dag en tyd nog nie vir Jesus van Nasaret in die oog gehad het nie, maar eerder iemand in sy hier en nou, iemand wat midde die volk se ballingskap na vore sal tree en die boodskap van hoop en bevryding sal verkondig, (dws ‘n persoon wat in die 6e eeu v.C. geleef het) – daarvan oortuig die tekste ons. Dit beteken egter nie dat die titel “dienaar van die Here” nie later ook op Jesus van toepassing gemaak kon word, en inderdaad is nie. Ons kan ook met oortuiging sê dat hierdie identiteit van iemand as dienaar van God inderdaad  in Jesus tot volkome vervulling gekom het, maar ook dan nie by Hom eindig nie. Met die totstandkoming en uitbreiding van die kerk in die NT, verwys Paulus immers ook na homself en na Barnabas as dienaars van die Here.

Jesaja 42: 1-9

1 Kyk!, hier is my dienaar, Ek ondersteun hom; my uitverkorene in wie (se siel) Ek vreugde vind/oor wie ek baie tevrede is. Ek het my gees op hom gelê, hy sal regverdige oordeel (mishpat) vir die nasies bring.

2 Hy sal nie skree nie en hy sal nie uitroep nie en hy sal nie sy stem in die strate laat hoor nie.

3 ‘n Geknakte riet sal hy nie breek nie en ‘n dowwe lamppit sal hy nie uitdoof nie; getrou sal hy regverdige oordeel (mishpat) uitbring.

4 Hy sal nie dof brand of geknak word nie (chiasme met vs 3) totdat hy die reg (mishpat) op aarde gevestig het, en vir sy wet (torah) wag die eilande.

5 So sê God, die Here, wat die hemele geskape het en wat hulle uitgesprei het, wat die aarde uitgespan het en dit wat uit haar voortkom, die Een wat asem gee vir die mense op die aarde, en gees vir hulle wat wandel op die aarde (die bewoners vd aarde).

6 Ek, die Here, roep na jou (dienaar) in geregtigheid/regverdigheid (tsedek), Ek hou jou hand styf vas (met krag) en Ek beskerm jou en Ek gee vir jou as (maak van jou ‘n) verbond vir die volk, ‘n lig vir die nasies

7 om blinde oë te open en om vry te laat die gevangenes van die put (dungeon), vanuit die tronk hulle wat woon in die donkerte.

8 Ek is die Here, dít is my Naam; en my eer – aan ‘n ander sal Ek dit nie gee nie, of die lof wat My toekom aan afgode nie.

9 Die vorige dinge – Kyk!, dit (hulle) het gekom. Ek staan op die punt om die nuwes bekend te maak! In die tyd voordat hulle uitspruit/gebeur, laat Ek julle (hier praat die Here met die volk) dit hoor!

Teksuitleg:

Verse 1-4 hoort by mekaar.

Vers 1 bied ‘n bekendstelling van die dienaar.

Verse 2-4 word gekenmerk deur die voorkoms van die partikel “nie” (“lo”)..

Verse 3 en 4 vorm ‘n chiasme.

Die prominente posisie van “reg” (“mispat”) in die middel van die chiasme. Dit is die taak van die dienaar om “mispat” voort te bring. Is dit die eerste en belangrikste taak van die dienaar.

Vers 5 open met die bekende boodskapper-formule wat uitloop in ‘n doksologie waarin Jahwe geprys word as die Skepper van hemel en aarde en wat aan almal lewe gee.

Vers 6: Inhuldiging (roeping) van die dienaar – Konteks in OT was die van ‘n koninklike hofhouding, ‘n geleentheid waar ‘n koning ‘n amptenaar aanwys en in diens stel. Knegte of dienaars het nie net verwys na slawe nie, maar ook na belangrike amptenare of selfs leiersfigure. Hulle staan altyd onder iemand se gesag, maar dikwels verteenwoordig hulle daardie gesag. (Abraham se dienskeng/slaaf wat die volmag het om vir Isak ‘n vrou te gaan kies.)

Die bystand van die Here. Waartoe?:

Vs 7: die taak en verantwoordelikheid van dienaar. Hoe gaan hy reg en regverdige oordeel bring? Deur blinde oë te open en bevryding te bring vir die wat in die donker is.

Met verse 8-9 word die fokus weer terug geskuif na Jahwe toe met die emfatiese “Ek (is) Jahwe” (“ani’ jhwh”) wat alreeds in vers 6 gebruik is.

Die werkwoord “om voort te bring” (jatsha) is dieselfde werkwoord wat gebruik word om die verlossing van die volk uit Egipte mee te beskryf (Eks 6:13 en 27). Net soos wat Israel verlos is uit die verdrukking van Egipte, sal hulle weer verlos word soos gevangenes wat uit ‘n tronk bevry word. Die uitdrukking “Ek (is) Jahwe” (ani jhwh) herinner aan Eksodus 3 en 6 waar Jahwe sy naam aan Moses openbaar het en wat ook ‘n verbintenis met die eksodus-tradisie skep. Indien die terme wat gebruik word inderdaad verwys na uittog, dien dit as ‘n kragtige herinnering vir die volk in ballingskap aan die groot dade van Jahwe in die geskiedenis van die volk toe Hy verlossend ingegryp het.

Die taak van die dienaar is om reg voort te bring. Daarmee word die kreet van die volk in Jes 40:27 beantwoord. Terselfdertyd sal die nasies ‘n getuie wees van die reg wat gaan voortspruit omdat hulle oë geopen gaan word om dit te sien. Die reg (mispat) wat die dienaar moet voortbring beteken dus dat Jahwe se oordeel gesien sal kan word in die einde van die Babiloniese heerskappy. Tegelykertyd sal dit ook die verwerkliking van Jahwe se heerskappy beteken in ‘n nuwe era van geregtigheid waar Jahwe gehoorsaam, geprys en geëer sal word. Mispat verwys na dit wat God doen, hier en nou. Wat God nou gaan doen is ‘n gebeurtenis van wêreldwye omvang en die taak van die dienaar is om presies die boodskap aan te kondig. Vir die ballinge beteken dit die terugkeer na die land toe na die triomf van Cyrus.

As ons mooi lees sien ons dat hierdie gedig baie meer oor God sê as oor die dienaar of die volk. (“Ek, Ek, Ek… Alles wat die dienaar sal wees, is as gevolg van die bystand, krag, sorg van die Here, die Skepper van alle dinge, die Een aan wie alle eer toekom, die Een wat nuut skep.)

KYK, dít is my dienaar.

Dít is wat hy sal doen – reg (mishpat) (1-4).

Dít is hoe hy dit nié sal doen nie (2-4).

Ek, die Here sê so, Ek, die Skepper van hemel en aarde en alles wat uit die aarde uit voortkom en alle mense wat die aarde bewandel, Ek, die Gewer van lewe (5).

Ek, die Here, roep jou, Ek hou jou hand styf vas, Ek beskerm jou, Ek gee jou aan die nasies as verbond en as lig om hoop en bevryding te bring vir mense wat wanhoop, gevangenes, vasgelooptes (6-7)

Ek is die Here – my Naam, my eer, my lof (8).

KYK, die vorige dinge is verby (ballingskap), die nuwes gaan nou gebeur. Voor dit gebeur, sê Ek dit vir julle. ‘n Nuwe begin, nuwe skepping, nuwe lewe (9).

Die dienaar is bloot ‘n instrument, maar tog ‘n baie belangrike instrument in die hand van die Here. Sy fokus sal wees daarop om reg te laat geskied, om blindes te versorg en mense wat gevangenes is of in die donker leef terug te bring na die lig toe. Hy gaan dit nie met geweld of brawade vermag nie, maar eerder deur nie diegene finaal te breek wat reeds deur die lewe verlam is nie. Hy gaan dit dus doen deur die hande van die swakkes te versterk. In vss 4 en 6 kom die broosheid van die dienaar self ook aan die orde – omdat hy in sy eie broosheid deur die Here bygestaan word, sal hy ander kan bystaan.

Ek lees baie van hierdie kwaliteite van ‘n dienaar van die Here raak in The Book of Joy wat onlangs verskyn het en handel oor gesprekke met die Dalai Lama en Aartsbiskop Desmond Tutu, beide wenners van die Nobelprys vir vrede. Oor hulle berig die joernalis Douglas Abrams: “[They] have survived more than fifty years of exile and the soul-crushing violence of oppression. Despite their hardships – or, as they would say, because of them – they are two of the most joyful people on the planet.” (Boekomslag). En ook: “They offer us the reflection of real lives filled with pain and turmoil in the midst of which they have been able to discover a level of peace, of courage, of joy that we can aspire to in our own lives” (2016:7). Ek wil dit waag om te sê dat hierdie twee besonderse mense, een ‘n Buddhis en die ander ‘n Christen, gesamentlik in hierdie boek van hoop ‘n lig vir die nasies is, wat mense vanuit verskillende geloofs- en spiritualiteitstradisies aan mekaar bind binne God se boodskap van heling, vrede en innerlike vreugde. Soos Leonard Cohen in sy bekende Anthem sing “There is a crack, a crack in everything. That’s where the light gets in”. Dienaars van die Here, vergeet daarvan om perfekte offers aan die Here te wil bring. Daar was immers net een perfekte offer. Sy lig skyn juis deur die krake en die geknakte riete en die lamppitte wat nie meer van hul eie olie kan lewe nie.

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.