Kolossense 1:13-23

24 November 2013 Koninkrykstyd
Prediker: Dr Tiana Bosman

In die kerklike kalender is dit vandag Jesus is Koning Sondag. Dit is eintlik baie gepas, want verlede week het ons gelees vanuit Jesaja 11 oor die rol van die koning in die OT en hoe dit deurgetrek kan word na ons rol as koningskinders in die hede. Vandag lees ons baie spesifiek oor die koning van alle tye, die énigste ware koning, die Een wat oor alles en almal regeer, en waarom dit is dat Hy hierdie verhewe status beklee, en wat dit vir ons en ons manier van leef beteken.

Teks
13. Hy het ons uit die mag van die duisternis weggeruk en ons onder die heerskappy gestel van sy Seun wat Hy liefhet.
14. Deur die Seun het ons die verlossing gekry, die vergewing van ons sondes.
15. Die Seun is die beeld van God, van God wat self nie gesien kan word nie. Die Seun is die Eerste oor die hele skepping.
16. Want alles wat in die hemel en op die aarde is, is deur Hom geskep:
alles wat gesien kan word en alles wat nie gesien kan word nie,
of dit nou konings of heerskappye/regerings is,
of dit nou magte of owerhede is,
alles is deur Hom en vir Hom geskep.
17. En Hy is voor alles, en alles word deur Hom in stand gehou.
18. Hy is die hoof van die liggaam, van die kerk. Hy heers daaroor (Hy regeer dit.)
Hy is die eerste een wat uit die dood gekom het, sodat Hy in alle dinge, Homself, eerste kan wees.
19. God het dit goedgevind om met sy volle wese in Hom te woon
20. en om deur Hom alles met Homself te versoen deur vrede te maak deur die bloed van Jesus se kruis – deur Hom – of dit nou dinge op die aarde of dinge in die hemel is.
21. Ook julle was voorheen ver van God af en vyandiggesind teenoor Hom, soos blyk uit julle sondige lewenswyse,
22. maar nou het Hy julle versoen deur sy fisiese liggaam deur die dood, om julle heilig te maak en vlekkeloos en sonder skuld voor Hom –
23. Daarom moet julle werklik bly volhard in geloof, die fondasie gelê, standvastig, en nie weg beweeg vanaf die hoop van die evangelie wat julle hoor nie. Hierdie evangelie is in die hele skepping onder die hemel verkondig, en ek, Paulus, is ‘n dienaar daarvan. ë

Boodskap
Wat ‘n ongelooflike stuk evangelie. Ek lees dit en voel: indien die Bybel gereduseer sou moes word tot net een gedeelte, indien jy iewers moet gaan en jy nie die hele boek met jou kan saamneem nie, maar net een bladsy, dan kan ek my moeilik ‘n ander gedeelte voorstel as Kol 1: 13-23. ‘n Ongelooflike stuk evangelie. Want wat hier verkondig word is eintlik te goed om waar te wees. En tóg is dit waar.

In die brief herinner Paulus vir die gemeente in Kolosse aan hulle wortels: Wie is hulle? Waar kom hulle vandaan? Wat beteken hulle naam, Christen? Na wie is hulle vernoem? Watter impak het hulle agtergrond, hulle verlede op hulle lewe nou en ook op hulle toekoms?

In ‘n brief wat so vol is van een kernboodskap, moet mens sommer met die deur in die huis val, want die kern van die brief word so baie keer herhaal dat dit ‘n refrein word wat deur die hele brief eggo. “Liewe gemeente, ons het gehoor van julle geloof in Christus Jesus (1:4). Laat ek, Paulus, julle bietjie vertel wie hierdie Christus is…,” en dan begin die refrein van begin tot einde:
Christus is ons Here (1:3).
Christus is die hoof oor alle dinge (1:16), oor al die bose magte (1:17; 2:11) en ook Hoof van die kerk (1:18).
Christus is die werklikheid (2:17).
Christus regeer aan die regterhand van God (3:1).
Christus is alles en in almal (3:11).
Christus is die Here (3:24).
Christus is.
Christus.

Julle geskiedenis, liewe gemeente, begin by die kruis. (Parafraseer ek nou Paulus se boodskap.) Daar lê julle wortels. Daar is julle gebore. Daar het God ons uit die mag van die duisternis weggeruk en ons onder die heerskappy gestel van sy Seun wat Hy liefhet. Deur die Seun het ons die verlossing verkry, die vergewing van ons sondes (1:13-14). God het ons verlos, Christus is ons Heer. Dis om van te sing. En dan val Paulus sommer weg met die lied wat die gelowiges in daardie tyd oor Christus gesing het, ‘n lied wat as’t ware ‘n geloofsbelydenis is, in vss 15-20. Eers sing hy (in 15-17) van Christus se rol in die skepping:
15. Die Seun is die beeld van God, van God wat self nie gesien kan word nie. Die Seun is die Eerste oor die hele skepping.
16. Want alles wat in die hemel en op die aarde is, is deur Hom geskep:
alles wat gesien kan word en alles wat nie gesien kan word nie,
of dit nou konings of heerskappye/regerings is,
of dit nou magte of owerhede is,
alles is deur Hom en vir Hom geskep.
17. En Hy is voor alles, en alles word deur Hom in stand gehou.

En dan sing Paulus in 18-20 van Christus se rol in die herskepping:
18. Hy is die hoof van die liggaam, van die kerk. Hy heers daaroor (Hy regeer dit.)
Hy is die eerste een wat uit die dood gekom het, sodat Hy in alle dinge, Homself, eerste kan wees.
19. God het dit goedgevind om met sy volle wese in Hom te woon
20. en om deur Hom alles met Homself te versoen deur vrede te maak deur die bloed van Jesus se kruis – deur Hom – of dit nou dinge op die aarde of dinge in die hemel is.
Christus is die Heer. En wat vir die gemeente in Kolosse van kardinale belang was, dit wat Paulus veral by hulle wou inprent in hierdie brief, is dat Christus se heerskappy ook die owerhede en die magte onder Hom stel. Want daar was ander dinge wat ‘n bepalende invloed op die gemeente uitgeoefen het. Daar was sigbare en onsigbare dinge, konings en regerings, owerhede en magte – in 1:13 som Paulus hierdie dinge op onder die versamelnaam “die mag[te] van die duisternis”. Ook hierdie magte, soos alles, is in en deur Christus geskep. Maar met die sonde wat in die wêreld gekom het, het hulle hul grense begin oorsteek en hulle het verwronge geraak. Die punt is nou: Christus bring hulle terug waar hulle hoort – ondergeskik aan Hom. Hy tem hulle, sit hulle op hul plek.

Nou moet ons onsself natuurlik afvra waarna hierdie magte verwys. Want hulle is nog steeds met ons, ons leef net in ‘n ander tyd en ons gebruik ander name daarvoor.
Die magte en owerhede wat ‘n gevaar vir die gemeente inhou is die dinge, sigbaar óf onsigbaar, wat die gemeentelede se lewens begin oorheers. Baie konkreet was daar in Kolosse die probleem van wat mense mag eet en wat nie. (Dat jou dieët nou so ‘n houas op mens kan kry… Baie van ons ken dit ook…) Hulle het verder gesukkel met onsedelikheid, onreinheid, wellus, slegte begeertes, gierigheid, woede, haat, nyd, vuil taal, apartheid tussen die Grieke en die Jode, huweliks- en gesinsverhoudinge, en ook verhoudinge by die werk. Dit is die magte waarvan Paulus praat, die magte wat in Kolosse “in die lug gehang” het. Klink dit nie bekend nie?

Kom ons dink aan ons tyd. Dikwels sien ons nie die magte raak wat so groot effek op ons lewens het nie. Of is ons salig onbewus daarvan dat ons onder hulle beheer is. Want as hulle eers hul houvas het, dan doen almal so, dink almal so, is dit maar soos die lewe werk…  Dis die gevaar met strukture en ideologieë – mens kom eers agter jy is vasgevang in ‘n bepaalde denkraamwerk wanneer almal om jou ook al daarin vasgevang is. Bv die mag van die apartheidsregime. Almal het gesê dis hoe dit hoort, almal het gesê dis reg, almal, selfs die kerkleiers het saamgespeel, en so is álmal vir dekades (selfs langer!) deur hierdie vernietigende mag wat doelbewus skeiding propageer, meegesleur. Sonder om eers veel daaroor na te dink. En wat ‘n gesukkel om uit sy kloue te kom. Enkeles het die moed gehad om na vore te begin tree en te verklaar dat almal toe nou al die tyd verkeerd was en dat die bybelse manier van doen in die proses geweldige skade gely het.

Die verdere komplikasie van sulke bose magte is dat hulle kleintjies kry. Vanuit die mag van apartheid is onderdrukking gebore, en armoede, en swak skoling vir die meerderheid kinders in die land, gebrekkige gesondheidsdienste, werkloosheid, drankmisbruik, ‘n bevolkingsontploffing onder mense wat nie die middelle het om hul kinders op te voed nie, of ‘n dak oor hulle koppe te sit nie… Dan sê ons ons verstaan nie wat Paulus bedoel as hy van bose magte praat nie.

Daar is natuurlik soveel ander magte ook wat ons lewens oorheers en beïnvloed en bedreig. Dink maar aan die mag van ongesonde verhoudinge. In die huwelik. Onderling binne gesinne. By die werk. Dink daaraan om dag na dag na dag so ‘n persoon in die oë te moet kyk, en die verhouding te moet maak werk omdat jy bang is, of omdat jou huwelik of jou werk afhang daarvan. Dink aan die kleintjies wat so ‘n bose mag kan kry. Dink aan wat jy dalk al gedoen het, of miskien bereid sal wees om te doen om ten alle koste net nie jou werk te verloor nie, of jou kans op ‘n bevordering nie, of ‘n horlosie aan die einde van die jaar.

Dink aan die effek wat die bose mag van misdaad op elkeen van ons het. Want nie een van ons leef meer onbevange nie. Nie een van ons kyk nie by tye oor ons skouer nie. Vrydag het ek ‘n man ontmoet – besig om te vlug van sy vrou en 3 kinders af. Vier jaar terug is hy deur ‘n motor omgery. Sy werk verloor. Kon nog nie weer iets kry nie. Behalwe vir sy R1600 ongeskiktheidstoelaag wat hy elke maand ontvang. Sy vrou en seun was ook in die ongeluk. Die seun is nou in ‘n rystoel en sy vrou se pelvis is op 2 plekke gebreek. Die ander twee kinders is nog in die skool. Hy het nou die dag mank gestap, soos hy maar na die ongeluk loop, om sy toelaag van R1600 te gaan kry toe rowers hom oppad terug huistoe oorval, met ‘n mes steek en hierdie geld wat vir ‘n maand tussen 5 monde gedeel moes word steel. In hierdie geval het die mag van misdaad geboorte geskenk aan die mag van wanhoop en begeerte tot selfmoord, soveel so dat hy sy gesin wou versaak.

Ons praat so oor die mag van te min hê en te min geld, maar dink bietjie na oor die mag van te veel hê en te veel geld. Dink net hoe destruktief dit kan wees, en ís in ons samelewing. Dink aan die effek wat die mag van siekte en die mag van bekommernis oor ons kan hê. Uit hulle kom die magte van slapeloosheid en magteloosheid en ‘n gebrek aan vertroue in die God in wie se hand ons lewens is.

Ja, van bose magte en kragte en heersers oor ons lewens kan niemand ons iets vertel nie. Ons ken hulle maar almal te goed. Die probleem is dat ons onsself aan hulle begin oorgee, dat ons vir hulle meer mag gee as wat hulle toekom, dat ons in vrees begin leef, soos gevangenes in ons eie huise en motors, geheel en al afhanklik van die oorskot of gebrek in ons bankbalans, bedreig deur magte wat ons kan skade aandoen, magte waaraan ons uitgelewer is, magte waarvan ons nie kan ontsnap nie, magte wat ons daaglikse handel en wandel bepaal, magte wat ons lot bepaal. Want dit is soos die lewe is. Almal veg daarteen. En niemand kan wen nie. Elke dag is ons uitgelewer aan die magte waaroor ons geen beheer het nie.

Maar dan sê Paulus, nee!, hierdie magte ís wel ‘n werklikheid, maar hulle het níe die laaste sê oor ons lewens nie. Christus is ons Heer. Hy is ons hoof. Hy is ook die hoof oor al hierdie magte en kragte wat ons lewens so bedreig. Hy het hulle immers reeds aan die kruis oorwin. En daar het Hy ons uit die mag van die duisternis geruk. Alles is nou wel nie heeltemal oor en verby nie, maar die oorwinning is reeds behaal. Christus is nie net sterker as hierdie magte nie, Hy hou hulle ook in stand, Hy hou hulle op hul plek, Hy sal nie toelaat dat hulle handuit-ruk nie. Christus is Here oor alles. He’s got the whole world in his hands.

Ons hoef daarom die bose magte en kragte in ons lewens nie te vrees nie. Dis vir ons ‘n troosboodskap. Christus is in beheer. Iemand vra by geleentheid op ‘n konferensie vir die Sweedse toeloog Karl Barth wat hy van die duiwel dink. Hy dink toe so tydjie na en antwoord: “Christus het hom oorwin. Hy is die Heer, die enigste Heer! Ons hoef die duiwel nie te vrees nie.”

Kolossense gaan egter om meer as “hoef nie”, te wete ons mág die bose magte nie vrees nie. Daar is daarom naas die troos ook ‘n waarskuwing in die boodskap. Ons word opgeroep, aangepraat om Christus se alleenheerskappy te erken. Ons kan nie twee here tegelyk dien nie. Ons kan nie in vrees leef wat ons lamlê omdat ons die slegte magte rondom ons gewaar nie. Want as dit ons lamlê, dan beheer dit ons lewens. En dan is daar nie plek vir Christus nie. Dit terwyl Hy Here bo álle magte is. Ons moet dit erken, en ons moet dit vir mekaar sê. Ons moet mekaar ook voortdurend daaraan herinner. Christus alleen is Heer. Sola Christi. Wys dit in ons lewens? Deur ons die magte wat mense seermaak? Lê ons hulle bloot? Stel ons hulle aan die kaak? Kan ander sy heerskappy sien in die manier waarop ons mense wat benadeel is of steeds benadeel word hanteer? Kan mense dit sien in ons huweliks- en gesinsverhoudinge? Sit dit mense aan die wonder by ons werk? Word die dokter verras deur ons hantering van ons siektetoestand – omdat ons weet dat nie die siekte nie, maar Christus die laaste woord oor ons lewens spreek – en dit is nie ‘n doodswoord nie, maar ‘n belofte van nuwe lewe. Is sy heerskappy sigbaar in hoe ons met ons besittings omgaan, en met ons geld, en met ons moedeloosheid. Vir wie gee ons die mag in ons lewens – vir daai bose donker magte wat in elk geval niks goeds inhou nie, of gee ons onsself doelbewus oor in die hande waarin ons eintlik reeds geborge is. Ons is nie uitgelewer aan die magte van die noodlot nie. Ons is oorgelewer in die hande van die Redder en Koning Jesus Christus.

Ons moet vas en sterk bly staan, sê vs 23, op ons plekkie. Ons ís beskerm. Ons is versorg. Ons is veilig in die hande van die Heer. He’s got the whole world in his hands. Hy het ook vir jóú in sy hande. Ek sluit af met ‘n gedig van Sheila Cussons. Die naam van die gedig is Advent. Dit klink amper asof sy die lied in Kol 1: 15-20 net in ander taal verpak, en hoe gepas, want ons staan op die drumpel van adventstyd:
Advent
Dit wil Hom baar en aanbid tegelyk,
die hele natuur: gewortel
in die aarde of op vleuels gedra,
wat waai of spoel, elke kreatuur.

Deur alles wat lewe vaar ’n graagheid
en elke skepsel is bewus van sigself,
wil vir Hom aanneemlik wees,
vir Hom deur Wie alles gekom het:
soos dit was in die begin, nou is
en altyd sal wees tot in alle ewigheid:
Christus sonder einde, die ronding
onder haar voorskoot. Buig boom,
buig elke hoof: buig: Aanbid die Heer.

Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.