Lukas 10:38-42

21 Julie 2019

Sesde Sondag na Pinkster
Prediker: Ds. Helgard Pretorius

[Weens ‘n tegniese fout kan die klankopname van die preek nie hierdie week opgelaai word nie]

In vanoggend se teksgedeelte kom Jesus by ’n sekere dorpie aan en hy gaan tuis by ’n vrou met die naam Martha. Vandat Jesus daar aangekom het, sit Martha se suster, Maria, by Jesus se voete en luister na sy woorde. Intussen hou Martha haarself besig met al die praktiese take van gasvryheid: sy maak skoon, sy tref reëlings, sy maak kos, sy maak skoon.

Wie weet hoe lank dit vir Martha geneem het voordat haar geduld opgeraak het. Wie weet hoeveel potte sy baie hard moes toemaak, of hoeveel skottels sy hard in die wasbak moes ingooi, voordat sy uiteindelik uitkom na die voorkamer toe om vir Jesus te sê:

“Here, pla dit U nie dat my suster my alleen los om te bedien nie? Sê tog vir haar om my te help!”

Maar die Here antwoord haar: “Martha, Martha, jy kwel en ontstel jou oor so baie dinge, maar net een ding is noodsaaklik, en Maria het die regte keuse gemaak; dit sal nie van haar af weggeneem word nie.”

***

Ons almal ken die toneel. Almal het lekker klaar geëet, gesels nog lekker om die tafel, totdat iemand, nee, een van die vrouens aan tafel, opspring om die borde kombuis toe te neem – en skielik spring al die vrouens om die tafel ook op om te help. En die mans bly sit. En dalk is daar dan selfs een man wat sê: “ag my liefie, hoekom kwel en ontstel jy jou nou oor die skottelgoed? Ons sit en gesels mos nou lekker?”

Die moontlikheid dat hy dalk self kan help met die skottelgoed sodat sy vrou ’n bietjie langer kan deelneem aan die gesprek het nooit by hom opgekom nie. . .  ook nie die gedagte dat sy vrou die gesprek voor ete ook misgeloop het omdat sy besig was om die kos voor te berei nie.

’n Mens sou Jesus se sussende woorde aan Martha, in daardie lig kon sien. Vanuit ’n sekere hoek gelees, kan hierdie teksgedeelte, op ’n subtiele manier, bepaalde stereotipes in stand hou, oor vrouens wat nie net verwag word om sekere huishoudelike take as gasvrou te vervul, maar ook kwalik gehou word wanneer hulle hul ‘kwel en ontstel oor so baie dinge.’

***

Die eintlike betekenis van die teks sê egter net mooi die teenoorgestelde. Dit vertel vir ons die verhaal van ’n vrou wie geweier het om in ’n patriargale samelewing toe te laat dat ander mense – mans of vrouens – vir haar vertel wie sy is, waarvoor sy hier is en hoe sy moet optree.

Dit was nie ’n vrou se plek om by die Rabbi se voete te sit en soos sy dissipels deel te neem aan die geselskap van mans nie. Dit was ’n man se voorreg. Maar Maria het geweier om te aanvaar dat die kulturele norme van die dag haar diepste identiteit bepaal. Maria het daarop aangedring dat die Here vir haar die groot vrae beantwoord: wie is ek, Here? Waarom is ek hier? Vertel vir my van jou koninkryk? Sê vir my hoe U die goeie lewe sien?

Maar Martha het na die verkeerde persoon toe gegaan met haar klag. Indien sy vir haar vriende in die dorp gaan vertel het hoe Maria haar alleen gelaat het om al die bediening te doen, terwyl sy aan die mans se geselskap deelgeneem het, sou hulle stomgeslaan gewees het.

Maar Martha het nie na haar vriende toe gegaan met haar klag nie; sy het na die Here toe gegaan. En dalk was dit haar fout, dat sy gedink het dat sy die Here in haar lewe kon innooi en verwag dat dinge dieselfde sal bly. Sy wou vir Jesus in haar huis ontvang, sonder om beheer oor te gee, sonder om haar prioriteite anders te rangskik, sonder om haar geliefde agenda en skedule prys te gee.

Uh-Uh, sê Jesus, dit is nie hoe dissipelskap werk nie. Maria het die regte keuse gemaak. Dit kon nie vir haar ’n maklike keuse gewees het nie. Dit is ’n opstandige, ongewilde ding om te doen, maar sy het die risiko geneem. Moenie dit van haar af wegneem nie.

Maria het ingesien dat Jesus se teenwoordigheid ’n radikale ommekeer van haar gaan vra. Dit gaan vra dat sy haar rol in die samelewing opnuut moet oorweeg. Elke handeling, elke besluit, elke prioriteit, gaan in verhouding met hierdie nuwe verhouding, hierdie nuwe liefde heroorweeg moet word.

Want, Jesus is nie sommer enige gas nie. Hy is die gas wat eintlik die gasheer is. Hy skenk die brood wat ewige lewe gee, die lewende water, die wyn wat sy bloedsomloop van liefde in die wêreld is. Hy skenk dit vrylik vir enige iemand wat hulself beskikbaar stel om by sy voete te sit en na sy woorde te luister.

***

“Net een ding is noodsaaklik, en dit het Maria gekies toe sy by Jesus se voete gaan sit het en aandagtig na sy woorde geluister het.”

Henri Nouwen, die bekende Katolieke teoloog, is baie bekend vir sy talle boeke oor gebed en spiritualiteit. Hy het dikwels na hierdie woorde van Jesus verwys om te sê dat gebed die hart van die Christelike lewe is. Dit is die een noodsaaklike ding. Prayer is the only necessary thing. It is living with God here and now.

Sou ons daarmee die afleiding kon maak dat gebed en aanbidding belangriker is as die praktiese uitvoering van gasvryheid? Is die boodskap dat die kontemplatiewe lewe meer gewig dra as die aktiewe lewe?

Ek dink nie so nie. Of altans, ek dink dit is ’n fout om die vraag op so ’n dualistiese manier te vra. Dit is egter wat ons so graag doen. Ons breek graag die lewe op in kategorieë: Ons veronderstel maklik dat ’n mens se geloofslewe, of gebedslewe iets afgesonder is van die ‘gewone’ lewe. Ons sê maklik dat geloof iets privaat is, godsdiens het sy eie domein en moet liefs apart gehou moet word van die publieke lewe: die ‘regte’ wêreld van familie en finansies, van werk en politiek.

Niks kan egter vêrder van die waarheid wees nie.

Die storie van Martha en Maria is ’n goeie voorbeeld daarvan. Ons sien immers hier hoe Maria se keuse vir gebed, eintlik ’n politiese handeling was wat die kulturele norme en verwagtings van haar dag uitgedaag het. Dit hou direk verband met die groot vrae van die lewe: wat beteken dit om ’n mens te wees? wat beteken dit om ’n vrou te wees? wat is ’n vrou se rol in die samelewing, in die koninkryk van God? Om te bid mag soms die mees rewolusionêre ding wees om te doen.

***

Dit is ook interessant – en sekerlik nie toevallig nie – dat hierdie verhaal oor Martha en Maria net na die gelykenis van die Barmhartige Samaritaan en net voor die Onse Vader gebed voorkom. Dis amper asof Lukas deur sy plasing van hierdie verhaal, vir ons wil sê dat die aktiewe lewe (van etiek en politiek) en die kontemplatiewe lewe (van gebed en aanbidding) alles met mekaar te doen het.

Dit ook die boodskap wat ons in ander dele van die Bybel kry. Wanneer Paulus byvoorbeeld praat van die ‘geestelike lewe’ dan praat hy nie van ’n reeks ‘geestelike’ aktiwiteite wat ’n mens parallel met jou ander aktiwiteite beoefen nie. Nee, hy gee eerder vir ons ’n paar baie eenvoudige eienskappe van hoe ’n mens lyk wat in die Gees van Jesus leef:

“Liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, betroubaarheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.”

En tog het ek al dikwels gehoor hoe daar na iemand verwys word as “baie gelowig” of  as “’n groot Christen”; en ek het agtergekom dat mense dan iets anders bedoel as wat Paulus daarmee sou verstaan het nie. Hulle bedoel dat die persoon hulle (private) geloofsoortuigings baie openlik met ander deel en probeer om hulle te oorreed dat hulle reg is. Of as daar gesê word iemand is “baie geestelik” bedoel hulle dalk dat die persoon met kristalle in hulle broeksak rondloop of yoga doen of ’n sekere baie streng dieet volg.

Nee, sê Paulus, spiritualiteit gaan oor: vreugde, vrede, geduld, betroubaarheid, selfbeheersing, vriendelikheid – kindness. Eenvoudige menslike goedheid.

***

Dit laat my dink aan ’n onderhoud wat ek onlangs gehoor het, met die bekende Amerikaanse digter, Mary Oliver. Sy is onlangs oorlede, en die onderhoud is aan die einde van haar lewe gevoer.

In ’n stadium, vra die onderhoudvoerder vir haar: “you’ve said somewhere that you’ve become more spiritual as you’ve grown older. What do you mean when you say that? What’s the content of that?”

Waarop Oliver reageer: “I’ve become kinder, more people-oriented, more willing to grow old.”

Dis dit nie waaroor dit uiteindelik gaan nie: “Becoming kinder, môre people-oriented, more willing to grow old.” Die geestelike lewe is ’n reis waardeur ons mens word, meer menslik word.

En dit laat my weer dink aan iets wat Johan Degenaar, die ou bekende filosoof van Stellenbosch, eenkeer vir sy eerste-jaar studente gesê het: “ons roeping was altyd gewees om van mense Christene te maak. Vandag is dit dalk eerder om van Christene mense te maak.”

Spiritualiteit gaan oor vermensliking, van ons as individue, maar ook van ons samelewing.

***

As die storie van Martha en Maria dan nie die gebedslewe teenoor die aktiewe, publieke lewe wil stel nie, waaroor gaan dit dan?

Ek wonder of dit nie dalk gaan oor heelheid nie. Dat Jesus ons gebroke, opgebreekte, verdeelde lewens wil heelmaak nie. Dat ’n lewe van gebed een is, waarin ons die skeidings en afskortings van ons lewens afbreuk, sodat ons vir Jesus sonder voorwaarde kan innooi – of eerder dat Jesus ons gasheer word en ons in sy wêreld tuiskom, onsself en ander vanuit sy perspektief sien en die lewe volgens sy reëls leer speel.

Let op dat Jesus nie vir Martha kwalik geneem het vir haar gasvryheid nie. Nee, hy sê vir haar, “jy kwel en ontstel jou oor so baie dinge.” Die Engelse vertaling sê: “you are worried and distracted by many things.” Die Griekse wortel van die eerste woord, wat in Afrikaans met kwel en in Engels met worried vertaal word, beteken letterlik verwurg of strangle. En die Griekse wortel van die tweede woord, wat in Afrikaans met ontstel en in Engels met distracted vertaal word, beteken letterlik om iets wat een moet wees in twee te skeur.

Jesus vind vir Martha in ’n toestand van verskeurdheid, besig om te verwurg te word deur die baie dinge wat haar aandag verdeel. In so ’n toestand kan sy nie die Here se teenwoordigheid geniet, of die gawes wat God vir haar wil gee ontvang nie. Anders as Maria wie se gebed eenvoudig is om na Jesus te luister, is Martha se gebed om Jesus se liefde te betwyfel (“Here, gee jy nie om nie?”); Sy is op haarself ingekeer (“My suster los my om alleen te bedien”); en dan maak sy haar probleem Jesus s’n (“sê vir haar om my te help!”)

Wanneer Jesus haar dan twee keer op haar naam roep is dit amper asof hy haar uitnooi om ook te kom sit, sodat sy ook in God se teenwoordigheid kan heel word. Jesus nooi haar om ook haar diepste wese in God te vind, eerder as in haar gespartel om almal en alles tevrede te stel, maar ten koste van haar menswees.

In ’n vinnige en gejaagde wêreld waarin ’n mens daagliks met honderde klein aansprake op jou aandag en tyd en geld moet onderhandel is die gevaar dat ons kan verlore kan raak in die doen sonder dat ons dit anker in die diep plek waaruit ons diepste wese gevoed word.

Die versoeking is dan groot om bloot te probeer om op alle terreine net nie ander mense teleur te stel nie: as ek net al die eposse in my inbox kan beantwoord, as ek net al die takies op my to-do list kan af-tick, as ek net die volgende mylpaal by die werk kan bereik, sal ek ten minste voel of ek nog ’n mate van beheer het, sal ek ten minste nie die teleurstelling en verwerping van my kollegas of familie hoef te beleef nie.

Maar as ons Maria se voorbeeld wil volg, is gebed nie om vir God ’n klomp goed te sê nie, maar dood eenvoudig om te luister. Gebed is nie nog ’n ding wat met al die ander dinge in my lewe moet kompeteer nie. Dit is die een noodsaaklike ding wat my lewe saamsnoer in ’n eenheid. Dit is ’n basiese ontvanklikheid, ’n openheid, ’n beskikbaarheid om stil te word, ’n bereidwilligheid om te wag en te luister na die Een waar uit alle dinge hulle lewenskrag ontvang

Dit is egter belangrik om in te sien dat Maria se gebed iets gekos het. Sy moes ’’n ’n. En dit was ’’n baie ongewilde keuse wat onmiddellik groot weerstand gekry het.

Wat is die keuses wat jy moet maak, sodat jy ook op ’’n gereelde basis, Jesus se uitnodiging kan aanvaar om by sy voete te sit en na hom te luister?

Hoe kan jy jou skedule en agenda en prioriteite op so ’’n manier inrig dat jy die ruimte skep waarin jy stil kan raak en vir God kan vra: “sê U vir my, wie is ek regtig? waarom is ek hier? hoe wil U my vermenslik? hoe wil u my aanwend vir die vermensliking van die samelewing?

***

The invitation to a life of prayer is the invitation to live in the midst of the world without being caught in the net of wounds and needs. The word ‘prayer’ stands for a radical interruption of the vicious chain of interlocking dependencies leading to violence and war and for an entering into a totally new dwelling place. It points to a new way of speaking, a new way of breathing, a new way of knowing, yes, a whole new way of living.

It is not easy to express the radical change that prayer represents, since for many the word ‘prayer’ is associated with piety, talking to God, thinking about God, morning and evening exercises, Sunday services, grace before meals, sentences from the Bible, and many other things. All of these have something to do with prayer, but when I speak about prayer . . . I speak first of all about moving away from the dwelling place of those who hate peace into the house of God. . . Prayer is the centre of the Christian life. It is the only necessary thing (Luke 10:42). It is living with God here and now.

Henri Nouwen, Prayer and Peacemaking

Lukas 10:25-37

14 Julie 2019

Vyfde Sondag na Pinkster
Prediker: Ds. Helgard Pretorius

Ons kom vanoggend weer voor een van Jesus se gelykenisse te staan – in hierdie geval Lukas 10:25-37.

Die gelykenisse is stories waarin ’n mens jouself kan verloor; net om jouself op ’n onverwagse manier weer terug te vind.

Dit is eenvoudige verhale van alledaagse mense en dinge, maar altyd met ’n onverwagse wending, ’n kinkel in die storielyn wat ’n mens aan die dink sit. En ek hoop dat ons na vandag se erediens – tydens tee – verder hieroor gaan gesels, want dit is die aard van gelykenisse – hulle spook by jou.

Die probleem is natuurlik dat ons hierdie stories al so veel keer gehoor het, dat ons nie meer die onverwagse wending kan raaksien en waardeer nie. Ons het Jesus se gelykenisse mak gemaak – sodat ons meer geneig is om die gelykenisse in te span om ons bestaande leefstyl en waardes te weerspieël as wat ons toelaat dat hulle ons bevraagteken en uitdaag.

Daarom moet ons probeer om die verhale eers weer in hulle oorspronklike konteks te hoor, sodat hulle op ’n nuwe en vars manier tot ons kan spreek. Dit is eenvoudig wat ek in vanoggend se preek gaan probeer doen – om ’n ou bekende gelykenis op so ’n manier te vertel dat ons iets kan verstaan van wat Jesus se oorspronklike gehoor moontlik sou beleef het.

***

Jesus vertel hierdie gelykenis nadat ’n sekere wetskenner opstaan om vir Jesus te toets:

“Wat moet ek doen om die ewige lewe te beërf?”

En dalk is dit per se nie so ’n slegte vraag nie. Dit kan met erns gevra word – en dan is dit ’n teken van iemand wat die lewe ernstig opneem. Hier is iemand wat verlang na die ewige lewe, na die lewe soos wat God dit gee in al sy diepte en volheid.

Maar nee, word ons ingelig, dit was nie sy bedoeling nie. Hy wou vir Jesus toets. Is dit nie hoe hierdie vraag en ander soortgelyke vrae dikwels in ons dag gevra word nie?

Hoe kan seker wees dat ek die ewige lewe erf? Wat moet ek doen om seker te maak dat ek, buiten die lewe wat God hier en nou vir my skenk, ook die ewige lewe kan erf? Aan watter geloof moet ek behoort? Watter dinge moet ek glo? Tot wie moet ek bid? Watter rituele moet ek voltooi, sodat ek eendag hemel toe kan gaan? Die aarde is nie vir my genoeg nie – ek wil die hemel ook hê!

Maar Jesus is al deur die duiwel getoets, toe hy veertig dae in die woestyn deurgebring het. Hy weet dat jy nie ’n goeie vraag wat met slegte bedoelings gevra is, direk moet beantwoord nie.

“Jy is mos ’n kenner van die Wet van Moses, sê jy vir my, wat staan daarin geskryf? Wat lees jy daar?”

“Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag en met jou hele verstand, en jou naaste soos jouself.”

***

Die man was inderdaad ’n kenner van die wet. Jesus kon dit self nie beter gestel het nie: “Jy het reg geantwoord,” sê Jesus vir hom. “Doen dit en jy sal lewe!”

“Doen dit en jy sal lewe.” As jy weet wat die Here van jou vra, waarvoor staan ons dan hier en praatjies maak. Gaan, en wees lief vir God met jou hele wese, met jou tyd en jou geld en jou loopbaan en jou energie en jou gawes . . . Gaan, en wees lief vir jou naaste; doen aan hom en haar wat jy graag sal wil hê, hulle vir jou moet doen. Die koninkryk van God is byderhand – betree dit en lewe!

Let op dat Jesus nie ’n onderskeid maak tussen die lewe en die ewige lewe nie. Hy maak ook nie ’n onderskeid tussen geloof en dade nie, tussen genade en werke nie. Om vir God lief te hê en jou naaste soos jouself – dit is die ewige lewe.

***

Die Wetskenner het sy antwoord gekry – ’n antwoord wat hy reeds gehad het – maar wat is nou lekkerder as om praatjies te maak met Jesus.

“En wie is my naaste?” So probeer die wetskenner om die koms van die ewige lewe nog ’n bietjie langer uit te stel. Weereens is die bedoeling agter die vraag, nie helemaal suiwer nie. Hy wou homself regverdig, so sê die teks vir ons.

“Wie is my naaste?”

Is dit nie maar ’n mooi manier om te vra, “wie is nie my naaste nie?” Vir wie hoef ek nie lief te wees nie? Dit is eintlik waaroor dit gaan. If I am to love my neighbour as myself, where can I draw the line? I am a neighbour, yes, but where is the edge of my neighbourhood?

Soos ek gesê het, Jesus is reeds deur die duiwel getoets, so hy vertel ’n storie – om daardeur hopelik vir die wetskenner ’n ander rol te laat speel as ‘die een wat vir Jesus toets’.

***

“’n Man het van Jerusalem afgegaan na Jerigo en is deur rowers oorval. Hulle het sy klere uitgetrek, hom geslaan en toe weggegaan en hom halfdood agtergelaat.”

’n Man. Was hy ’n goeie man of ’n slegte man? ’n Ryk man of ’n arm man? ’n Gelowige man of ’n heiden? Jesus se niks oor die identiteit van hierdie man nie. Dit kon enige iemand gewees het. Dit kon ’n Jood of ’n Griek, ’n vry persoon of ’n slaaf gewees het. Dit kon die Wetskenner, of enige iemand anders in die gehoor gewees het. Dit kon ek of jy gewees het.

Al wat saak maak, is die naakte nood waarin hy homself bevind. Kaal gestroop en al sy besittings beroof, was hy half-dood agtergelaat. Hy lewe, maar vir hoe lank nog?

Ah! maar daar is goeie nuus. ’n Priester, het toevallig met daardie pad langs afgegaan . . . maar, helaas, toe hy hom sien, die sterwende man, vir my en jou in ons diepe nood, het hy aan die ander kant verbygegaan.

Steeds is daar hoop . . . want net so het ook ’n Leviet by die plek aangekom . . .

Maar toe hy hom sien, die sterweling, ek of jy, in ons oomblik van nood, het ook hy aan die ander kant verbygegaan.

***

Baie het al gewonder: Hoekom? Hoekom het die priester en die Leviet verbygeloop het sonder om vir my of vir jou te help. Dit was tog duidelik dat ons hulp nodig gehad het. En die wet is tog duidelik, jy moet jou naaste liefhê soos jouself. En ’n priester en ’n Leviet, soos enige ander goeie Jood, soos enige mens, sou dit tog geweet het.

Die beste antwoord wat ek al gehoor het kom uit ’n preek van Martin Luther King Jr.:

“I’m going to tell you what my imagination tells me. It’s possible these men were afraid . . . And so, the first question that the priest and the Levite asked was, ‘If I stop to help this man, what will happen to me?’ . . .”

Dit is waarskynlik dieselfde rede waarom ek sou verbygeloop het; waarom ek verbyloop. Omdat ek bang is, en dan vra, indien ek stop om hierdie man te help, wat sal van my word? Wat sal van my word as ek by daardie saak of by daardie persoon betrokke raak? Wat sal van my word as ek my werkgewer aanspreek oor die onreg wat ons as ’n instelling pleeg? Wat sal van my word, as ek die ellende raaksien en nie my gesig daarvan wegdraai en maak asof ek dit nie gesien het nie?

***

Maar kom ons keer terug na die storie?

’n Goeie storieverteller weet dat dinge altyd in 3’s kom. Voltooi my sin: Tom, Dick and . . . Harry. Die Wallabies, die All Blacks en die . . . Springbokke.

Op dieselfde manier, as jy in Jesus se tyd vir ’n Joodse gehoor gesê het: “daar was ’n Priester, en toe ’n Leviet . . .” dan sou die gehoor geweet het wat kom volgende: om die drietal vol te maak moes jy byvoeg: ’n Israeliet!

Want kyk, die priesters was almal afstammelinge van Aaron, die priester. En die Leviete was al die afstammelinge van Jacob se derde seun, Levi. Hulle was ook ’n tiepe priester-klas, maar op ’n laer kerf. En, as jy nie ’n priester of ’n Leviet was nie, maar jy was ’n gebore Jood, dan was jy ’n Israeliet.

Op hierdie punt in Jesus se verhaal, was almal in die gehoor besig om hulle asem op te hou. Hulle het geweet daar is nog hoop vir die sterweling langs die pad. Want daar moet nog een persoon verbykom; ’n Israeliet. En al het die priester en die Leviet nie een die Wet nagekom deur te stop en die man te help nie, sal die Israeliet dit sekerlik doen.

En net daar kom die onverwagse wending, die kinkel in die storielyn. Want kyk, “’n Samaritaan wat op reis was, het op hom afgekom; en toe hy hom sien, het hy hom innig jammer gekry.”

***

Op hierdie punt is dit belangrik om te verstaan dat Jode en Samaritane baie min van mekaar gedink het. Samaritane en Jode het verskil oor wie die ware volk van God is, oor wie se tempel die ware tempel het, oor wie se weergawe van die Torah die ware Jakob was. Daar het ’n diepe vyandigheid en wantroue tussen Jode en Samaritane geheers. ’n Hedendaagse ekwivalent sou kon wees die vyandigheid tussen ’n Joodse Israeli met Sionistiese oortuigings en ’n Palestynse Moslem wat Hamas ondersteun.

En Jesus was self ’n slagoffer van daardie vyandigheid. Dit was tipies die geval dat Galileërs, soos Jesus, wat op reis was na Jerusalem, vir ’n gedeelte van die reis deur Samaria moes gaan. Dit het gebeur dat sulke reisigers deur die inwoners van Samaria aangeval is; en dit het ook gebeur dat Jode teruggeslaan het, deur van die Samaritaanse dorpies af te brand.

En net in die vorige hoofstuk lees ons dat Jesus, op reis deur Samaria, in al die Samaritaanse dorpe gasvryheid geweier, is “omdat hy op pad Jerusalem toe was.” Jesus en sy dissipels moes vermoedelik buite slaap waar hulle heel moontlik deur rowers oorval kon word en dalk selfs halfdood langs die pad agtergelaat kon word. Twee van Jesus se dissipels was so woedend oor daardie voorval dat hulle vir Jesus gevra het of hy nie dalk wil bid dat God vuur uit die hemel laat neerdaal om daardie dorpies te verwoes nie.

Nou kan jy indink hoe verras Jesus se gehoor moes gewees het, toe die derde persoon wat verbykom, nie ’n Israeliet was nie, maar ’n Samaritaan. “En toe die Samaritaan die half-dooie man sien, het hy hom innig jammer gekry.”

Of soos Martin Luther King Jr. dit stel:

“But then the Samaritan came by, and he reversed the question: ‘If I do not stop to help this man, what will happen to him?” Indien ek nie stop om hierdie man te help nie, wat sal van hom word?

Vir Martin Luther King was dit nie ’n teoretiese vraag nie. Dit was nie om praatjies te maak met Jesus sodat ’n mens die koms van God se koninkryk ’n tydjie langer kon uitstel nie. Dit was ’n baie konkrete, etiese en politiese vraag, waardeer hy die koms van God se koninkryk op aarde wou aanjaag – want hy het toe verder gevra: “If I do not stop to help the sanitation workers, what will happen to them?”

Van daar het King afgegaan Memphis toe, om die einste werkers to help, en dit was daar dat hy vermoor is.

En soos King, was die Samaritaan se barmhartigheid ook meer as ’n warm gloed van meegevoel: hy het nie soos die priester en die Leviet ’n wye draai geloop nie; “hy het na hom gegaan, sy wonde verbind en olyfolie en wyn daaroor gegiet. Toe help hy hom op sy rydier, neem hom na ’n herberg en versorg hom daar. Die volgende oggend haal hy twee denarii uit, gee dit vir die herbergier en sê, ‘Versorg hom, en wat jy ook al bestee sal ek jou betaal as ek terugkom.’”

Sy optrede is konkreet. Dit veronderstel ’n persoonlike verbintenis. Hy maak beloftes. Hy moet weer daar verbygaan. Die Samaritaan plaas sy vertroue in die herbergier en vra dat die hom ook sal vertrou.

Op hierdie punt, stel Jesus die vraag aan die Wetkenner: Wie van hierdie drie, dink jy, was ’n naaste vir die man wat deur die rowers oorval is?”

Die antwoord is duidelik. Maar die Wetkenner kan homself steeds nie kry om sê: die Samaritaan, die Samaritaan was vir hom ’n naaste nie. “Die een wat ontferming aan hom betoon het,” sê hy eerder.

***

Weereens is die woordkeuse baie interessant. Ontferming, barmhartigheid, mercy – dit is ’n woord wat Lukas baie gebruik het in sy evangelie, maar altyd as ’n uitdrukking van God se karakter. God word geken aan God se barmhartigheid – God word geken aan haar ontferming, genade, mercy.

God – en hierdie Samaritaan. God ontferm hom oor ons deur die ontferming van ons medemens. Wanneer God aan mense barmhartigheid wil betoon, doen God dit deur mense. Indien nodig, deur ons vyande. Selfs ons bitterste vyandigheid en konflik, selfs die mees verkalkte haat en wantroue van mense kan nie perke plaas op God se ontferming en genade en barmhartigheid nie.

So, wanneer Jesus vir die Wetskenner en vir ons hier wegstuur met die roeping: “Gaan doen jy ook so,” hoor ek ten minste drie goed:

1.

Moenie jou besig hou met praatjies met Jesus as ’n wyse om die ewige lewe ’n bietjie langer uit te stel nie. Moenie, soos die Wetskenner, godsdiens gebruik om jouself te regverdig nie, om jou hande skoon te hou nie. Gaan wees lief vir God en jou naaste en jy sal lewe!

2.

Wanneer ek en jy die half-dooie man langs die pad sien; wanneer ons ellende en lyding en onreg en vyandigheid en geweld teëkom in die wêreld, herinner MLK vir ons, gaan ons bang voel, en die versoeking gaan wees om te vra, as ek stop om te help en betrokke te raak, wat sal van my word. Kom ons help mekaar, om die ander vraag lewendig te hou: “as ek nie stop om te help nie, wat sal van hom/haar word?”

3.

Laastens, sou julle opgelet het, dat Jesus die storie op so ’n manier vertel het – en ek het probeer om dit na te doen – dat ons onsself nie te vinnig in die plek van die Samaritaan sal plaas nie. Met ander woorde, dat ons onsself nie te vinnig in die posisie van die morele held te plaas nie.

Jesus se gehoor sou in die eerste plek met die sterweling langs die pad geïdentifiseer het. Die punt is dan dat ek my vyand nodig het om my te red. Is dit nie die evangelie nie? Soos Paulus in sy brief aan die Romeine sê: Terwyl ons nog vyande van God was, het Christus sy lewe vir ons afgelê sodat ons mag lewe.

Deur die eeue heen, het samelewings gewoond geraak aan ’n ander manier om gemeenskap te vorm en konflik te oorkom. Deur saam te staan teen ’n gemene vyand. Wanneer ons konflik beleef, kan ons ons verskille oorstyg, so lank as wat ons ’n gemeenskaplike vyand kan vind. ’n Sondebok. Vir duisende jare was hierdie taktiek baie effektief. So kon families en dorpe, volke en nasies, saamtrek en ontdek: eendrag is krag.

Maar in ’n globaliserende wêreld, is ons gemeenskaplike vyande besig om op te raak. Wat aan die ander kant van die wêreld op ’n globale vlak gebeur, het ’n direkte impak op wat in my buurt, plaaslik gebeur. ’n Burgeroorlog in Sirië veroorsaak ’n humanitêre krisis wat skokgolwe reg deur Europa en Amerika veroorsaak. Mosambiek met een van die laagste koolstofvoetspore ter wêreld, word verwoes deur twee ongekende siklone wat die VN sê sonder twyfel die gevolg van aardverhitting is.

Ons begin al hoe meer ontdek wat Jesus probeer sê het, toe hy geleer het dat ons ons vyand moet liefhê. Die vyand is ook jou buurman. Jy en jou vyand sit in dieselfde roeibootjie en die bootie het ’n gat. Die water stroom in en die boot is besig om te sink.

Wat moet ek doen om te lewe? Skielik is ek afhanklik van die barmhartigheid van ’n Samaritaan, van my vyand… en my vyand is afhanklik van my ontferming. Dalk, as ons vir mekaar, ’n naaste word, kan ons saam begin om water uit die bootjie te skep. Uiteindelik, kry ons dit dalk reg om die gatjie toe te stop en so te oorleef.

En oorleef ons die krisis, betree ons ’n nuwe orde waarin daar nie meer vyande is nie. Dan betree ons die ewige lewe, die nuwe hemel en die nuwe aarde.

Bly ons vasgevang in ons ou vorme van dink en optree, klou ons vas aan ons vooroordele en verdeeldheid, aan ou wonde wat ons koester, sink ons saam.

Is dit nie ons wat daar lê, kaalgestroop en halfdood in die sloot, nie. Ons lewe, maar vir hoe lank nog?

Lukas 19:29-44

14 April 2019

Palmsondag & Doop
Prediker: Ds. Helgard Pretorius

Andre Bartlett beskryf iewers Jesus se intog in Jerusalem op Palmsondag as sy “intog in vyandsgebied.”

Dit is ’n baie akkurate beskrywing, want met sy intog in Jerusalem begin die beslissende konfrontasie tussen Jesus en die leiersfigure wat in beheer was van die Joodse volk.

Jerusalem was vyandsgebied, se hy, omdat dit “die sentrum was van hulle wat Hom van die begin af gewantrou het, toenemend weerstand gebied het teen sy optrede en begin soek het na ’n manier om van Hom ontslae te raak.”

“Met sy intog daag Hy die mag van die vyand uit, omdat Jerusalem nie bedoel was om die sentrum van menslike uitbuiting en magsuitoefening te wees nie, maar om die stad van God te wees; d.w.s. die sentrum van God se shalom, God se orde van reg en geregtigheid, omgee en ontferming; ’n orde wat totaal anders lyk as die wanorde van menslike uitbuiting, verdrukking en die instandhouding van onregverdige sisteme.”

***

Daarom was dit ook gepas dat Jesus se aankoms in Jerusalem oorvleuel het met die Pasga-fees van die Jode – die groot feesdag waarop God se oorwinning oor slawerny en onderdrukking gevier word.

Op daardie stadium was Jerusalem beset deur die Romeinse ryk. Pontius Pilatus, Goewerneur van Judea verteenwoordiger van die Romeinse ryk en van die Pax Romana (27 v.C. tot 180 n.C.), die Romeinse Vrede.

Rome het geheers deur middel van plaaslike heersers (in Jerusalem was dit die ryk familiehoofde, die priesters, die skrifgeleerdes). In ruil vir allerhande belastings, wat die priesters en familiehoofde gehelp het om in te vorder en na Rome te stuur, het Rome weer vir die plaaslike leiers militêre en politiese beskerming gebied.

Gedurende die Pasga-fees het die stad oorgevloei van mense. Die populasie groei gedurende daai week van 50 000 na 200 000 – dit is ’n drukpot van emosies, van pynlike herinneringe, van verkalkte woede en frustrasie.

Oral roep mense “Hosanna!” wat letterlik beteken “red nou!” Die vraag na redding, na verlossing, na God se oorwinning oor die bose was dringend en opdringend. Dit was nie ’n abstrakte vraag vir teoloë om te bepeins nie, maar ’n diep sug wat tasbaar regdeur die stad gehoor en gevoel kon word.

[Met die verkiesings wat al hoe nader kom, is daar ’n soortgelyke energie in ons land se stede.]

***

In ’n baie interessante boek, wat vir ons ’n geskiedkundige perspektief bied oor die laaste week van Jesus se lewe, skryf die twee Bybelwetenskaplikes, Dominic Crossan en Marcus Borg, dat daar heel waarskynlik twee intogte op daardie ‘Palmsondag’ in Jerusalem plaasgevind het.

Die een, uit die Ooste, dié van Jesus, het ons so pas van gehoor. Maar daar was ’n tweede intog, uit die Weste, waarvan Lukas se eerste hoorders al te bewus sou gewees het, toe hulle die storie van Jesus op die geleende donkie gehoor het.

Met die aanbreek van die Pasgafees sou Pilatus vanaf sy somerpaleis op die Weskus van Israel opgetrek het na Jerusalem. Dit sou ’n massiewe intog gewees het: vlae, tromme, trompette, gewapende soldate, vuurwaens en ruiters op perde.

Verbeel dit vir ’n oomblik: sien die glans van die son op die metaal van die wapens; hoor die lawaai van die hoewe en die tromme, die blaas van trompette en die gejuig van die skare; ruik die sweet van die perde, die stof wat oral opgeskop word; voel die geskud van die aarde, die spanning en vrees in die lug.

Midde van die intog sou die Goewerneur, in militêre drag geklee, op ’n perd die stad binnekom. Volgens wet mag niemand behalwe hy op daardie perd gery het nie. ’n Sirkus van mag en krag om die plaaslike bevolking sonder enige twyfel bewus te maak van wie in beheer is. Dis hoe die vrede van Rome werk.

En die koste om hierdie propaganda-masjien aan die gang te hou? Wie betaal die rekening?

Die armes, natuurlik, wat met hulle offergawes Jerusalem to stroom. Die tempelterrein bedrywighede het verseker dat belastings betaal word. En soos die Romeinse ryk uitbrei, word al hoe land en besittings en welvaart van mense afgeneem en teruggelei Rome toe.

Ons moet probeer om ’n gevoel te kry vir hoe alomvattend en oorweldigend van aard sulke groot oorheersings-sisteme is. Wat so ’n sisteem so effektief maak is dat naderhand so normaal word. Dit beperk ’n mens se verbeelding sodat dit mettertyd na die enigste werklikheid lyk, die enigste moontlike oplossing, ons enigste redding en verlossing.

So word ’n mens ingesuig in die logika van probleme oplos met mag en geweld en vrees; ’n logika van hebsug en gierigheid. Neem die Joodse leiers as ’n voorbeeld. Meeste van hulle was op ’n persoonlike vlak nie slegte, bose individue nie.

Dis die aard van die bose: dis nie iets daar buite nie. Dit sluk ons in. Soos iets met groot swaartekrag betrek dit alles rondom dit in ’n bose kringloop. Op die oog af belowe dit redding en vrede, maar dit bly ’n sisteem van oorheersing. Selfs al wil ons dit teenstaan, is ons geneig die bose na te boots, probeer ons om die bose met die bose te bestry, volgens sy eie logika van mag en kompetisie.

Maar dan, vanaf die Ooste, via die klein dorpies van Betfage en Betanië, wys Jesus vir ons ’n ander weg. Hy bring verlossing. Hy bring God se vrede en geregtigheid.

Vir daardie vrede om grond te vat moet hy egter eers die mense van Jerusalem – en vir ons – verlos van hulle gehegtheid aan die vrede wat Rome vir ons belowe. Ons moet eers verlos word van ons betowering deur menslike vertonings van krag, van ons vaskleef aan mammon; van ons verslawing aan geweld en sekuriteit.

Jesus wil ons verbeeldings vrymaak van die beklemmende atmosfeer van Rome sê, mag, sodat ons weer God se alternatiewe koninkryk kan sien.

Daarvoor het Jesus sy eie prosessie, baie strategies beplan. Sy prosessie is ’n vorm van protes-kuns. Jesus skep ’n parodie van wat in die Weste van die stad aangaan:

Rome se rykdom is bekom deur besittings af te vat, deur die invordering van ondraaglike belastings. Jesus moet ’n donkie by iemand leen.

Keisers kom stede binne op perde wat vir hulle gereserveer is. Vir Jesus het die God ’n donkie voorberei, en hoewel niemand al ooit op hierdie donkievul gery het nie (dit sou dus geskik wees vir ’n koning) sal hierdie donkie weer aan sy eienaar terugbesorg word, baie mense sal in die toekoms nog op hom ry.

Pilatus kom vanaf sy somerpaleis; Jesus is afhanklik van die gasvryheid van melaatses in die klein dorpie Betanië op die uithoeke van die groot stad. Ons het verlede week gehoor oor die vreeslose gasvryheid wat Jesus in Betanië ontvang het.

Pilatus beset die stad met groot lawaai en bohaai, ’n multi-miljoen dollar propaganda masjien, betaal deur dieselfde mense wat dit manipuleer, Jesus word gevolg deur al die mense wat hy op sy weg na Jerusalem gehelp het, wie hy genees en gevoed het. Hulle het nie baie nie, maar wat hulle het, dit gee hulle: hulle gee hulle klere vir Jesus se saal. Hulle gooi hulle bo-klede voor Jesus uit om vir hom ’n pad te maak. In plaas van vlae, pluk hulle maar takke van die bome af.

Op hierdie kreatiewe manier, gebruik Jesus parodie en satire om die absolute oormatigheid van die Romeinse weermag-masjien bloot te lê. Hy terg vir Rome, hy spot met die keiser, hy is soos die seuntjie wat uitwys dat die Keiser eintlik kaal is. Hy sien deur die oorbodige magsvertoning en wys dit uit vir die sirkus wat dit eintlik is.

So daag hy nie net Romeinse ryk uit nie – maar ook die Joodse drukgroepe wat vir Rome op sy eie speelveld wou aanvat, naamlik deur politieke mag of militêre geweld. Daarom is Jesus se eerste publieke optrede nadat hy in Jerusalem aangekom het om die tempel te reinig.

Anders as Rome, wat vrede handhaaf deur die swaard, vergestalt Jesus self die vrede wat hy verkondig in die nederige, diensbare manier waarop hy die stad ‘beset’. Van sy doop in die Jordaanrivier, tot sy intog in Jerusalem, is dit een lang spoor goeie werke waardeer hy mense wat op verskillende maniere gevange was vrygemaak het en verwerptes ingesluit het.

Hy stort trane oor Jerusalem, al is dit vyandsgebied. Hy bring bevryding vir so wel die onderdrukte as die onderdrukker.

***

So leer Jesus vir ons dat die weg so belangrik is soos die einddoel. ’n Mens kan nie vrede as jou doel bereik as geweld en onderdrukking jou voertuig is nie. Die weg van vrede is egter ook die lang en nederige weg van broosheid.

Waar ons uitkom, hang af van waar ons begin, hoe ons daarheen ry.

Op hierdie Palmsondag waarop ons ook die doop vier, moet ons dalk ook terugdink aan die begin van die lydenstyd, waar ons herinner is aan Jesus se doop. Dalk sien ons eers die volle uitwerking van Jesus se doop op Palmsondag, by sy intog in vyandsgebied. Want op daardie dag, was dit krities dat hy geweet het wie hy is, aan wie hy behoort, en waarvoor hy staan.

Dalk is dit ook die betekenis van ons doop: dat ons daardeur gesalf word vir ons eie intog in vyandsgebied, ons eie intog in ’n wêreld wat kies vir die vrede van Rome eerder as die lewegewende sjaloom van God.

Soos die tempelterrein wat gewemel het in diens van Rome se vrede, eerder as God se lewegewende sjaloom, kan ons tempels en ons lewens ook vir God se sjaloom geslote wees. Al is dit nie ons bedoeling nie, kan ons deur die brute swaartekrag van ’n magsisteem ingesuig word en begin sig verloor van enige alternatief.

Dan het ons dae soos vandag nodig om weer herinner te word wie ons ten diepste is, aan wie ons behoort, waar ons vandaan kom en waarheen ons op pad is.

Vandag begin ons intog in die Groot Lydensweek in. Ons word opgeroep om vir Jesus te volg, deur Goeie Vrydag na Paassondag, deur Jesus kruisdood na sy opstanding.

By hierdie drempel los ek ons met net ’n paar vrae – geen antwoorde nie. Vrae wat ons as pelgrims op Jesus se weg, as dissipels van Jesus hierdie week saam met ons kan dra. Pelgrims moet lig reis – hulle het alleen plek vir vrae, antwoorde is te swaar.

In watter prosessie is ons/ek? Met watter logika voer ek die stryd teen die bose?

Waar is my Betanië? Waar word ek geestelik en liggaamlik versorg en gevoed sodat ek met moed en doelgerigtheid op die beslissende oomblik oor die drempel kan tree? Hoe kan ek – in my eie lewe – God se vrede nie net ’n eindbestemming maak nie, maar ’n lewenswyse – nie net ’n doel nie, maar ook die weg wat daarheen lei?

Lukas 15:1-3; 11b-32

31 Maart 2019

Vierde Sondag van Lydenstyd
Prediker: Ds. Helgard Pretorius

[Weens ‘n tegniese fout is daar ongelukkig nie hierdie week ‘n opname van die preek beskikbaar nie.]

(Hierdie preek is grootliks gebasseer op ‘n hoofstuk uit Robert Vosloo se pragtige boek oor gasvryheid in die Christelike tradisie, Engele as Gaste)

Ons vind hierdie gelykenis in ’n langer gedeelte van die Lukas-evangelie wat veral oor gasvryheid gaan – oor die vreemde welkom van God.

In Lukas 14 merk Jesus eers op hoe genooides die ereplekke aan die tafel uitsoek, en vertel dan die gelykenis van die persoon wat eerder die vêrste plek by ’n bruilof ingeneem het. Daarop antwoord iemand: “Geseënd is die een wat aan die maaltyd in die koninkryk van God sal deelneem!” En Jesus vertel die verhaal van die groot feesmaal waarvoor al die genooides nie opgedaag het nie, maar die kreupeles en blindes en verlamdes, uiteindelik wel.

Nou, in Lukas 15, is dit weer die Fariseërs en die skrifkenners wat onder mekaar mor, omdat Jesus sondaars en tollenaars ontvang en saam met hulle eet. Daarop vertel Jesus drie gelykenisse, en een van hulle is hierdie gelykenis wat gewoonlik bekendstaan as die ‘gelykenis van die verlore seun.’

In die lig van hierdie oploop tot die gelykenis, sou dit ook kon bekendstaan as ‘die gelykenis van die ongasvrye en vreugdelose broer’ …
of ‘die gelykenis van die verlangende of verwelkomende vader’

Dit is die krag van hierdie verhaal – eintlik die krag van alle verhale – dat ons die storielyn van meerdere perspektiewe kan volg, deur eenvoudig op elkeen van die karakters te fokus. Meer nog, ons kan onsself, en ons eie verhale ook in die storie inlees, en so iets oor onsself leer.

***

Kom ons fokus eers op die jongste seun:

Hoewel ons met ’n moderne perspektief dalk die jongste broer as ’n held of rolmodel sou beskou, deurdat hy opsoek gaan na sy ware self, is dit belangrik dat ons raaksien hoe die seun, deur sy erfporsie te vra, en weg te breuk uit sy vaderhuis, in werklikheid, homself afsny van die verhoudings wat sy identiteit aandui.

Die karakters word regdeur die verhaal, in verhoudings terme soos ‘vader’, ‘seun’ en ‘broer’ genoem. Dit suggereer dat die identiteit van die karakters is ondenkbaar is sonder die verhouding met die ander persone in die gelykenis.

Die jongste seun se breuk met die familie is daarom radikaal. Hy het “al sy goed in geld omgesit en na ’n vêr land gereis,” sê die teks. Iemand skryf hieroor en sê: “His project was toe ‘un-son’; there was no place in him for the place called home.”

Dit is dan tussen die varke, so lees ons, dat die seun besef dat hy in die proses van sy eie identiteit vervreem geraak het. Daar in die vêr land, waar hy slegter behandel word as sy vader se dagloners, onthou hy sy vaderhuis en daardeur ook sy eie mislukking. Nou beskou hy homself as “’n-seun-wat-nie-waardig-is-om-’n-seun-genoem-te-word-nie.

En dit is met hierdie siening van homself as ’n sie-seun, dat hy die besluit neem om terug te heer na die vaderhuis.

***

Dit is wanneer ons op die vader in die verhaal fokus, dat ons die meeste verras word:

Die eerste ding wat ons opval is dat die vader, toe die seun vir sy erfporsie vra, geen weerstand bied teen sy seun se besluit om die huis te verlaat nie. Die vader laat die seun gaan. Die verwagting is dat die vader, volgens gesonder verstand en tradisie, ten sterkste daarteen gekant sal wees.

Die belangrike punt van die verhaal is egter dat dat die vader, hoewel hy die jongste seun laat gaan, nie die verhouding met hom laat vaar nie. Deurdat sy soekende oë reeds die seun op die horison gewaar, word ons daaraan herinner dat sy hart heeltyd by die seun in die vêr land was. Die seun is dus weg uit die huis, maar nie weg uit die vader se hart nie.

Soos alle ouers wie se kind die huis verlaat, moes die vader dus ook opnuut oor sy eie identiteit nadink. So veel te meer as ons in gedagte hou dat die seun se breuk met die familie doelbewus en radikaal was.

Hoewel die seun probeer om homself te ont-seun, word die vader nooit ’n nie-vader nie. Daarom, toe die seun uiteindelik sy weg terugvind na sy vaderhuis toe, word hy onmiddellik omhels. Geen belydenis is nodig nie, want die vader dink aan verhoudings en nie aan morele prestasie nie.

Wanneer die belydenis wel volg – ‘Pa, ek het gesondig teen die hemel en in u oë. Ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie.’ – onderbreek die vader dit. In die seun se selfbeskouing is hy ‘nie-waardig-om-’n-seun-genoem-te-word-nie’. In die oë van sy vader is hy eenvoudig ‘my seun’.

Identiteit sou ons kon sê, word deur ’n omhelsing gerekonstrueer. Daarop volg dan die klere, die ring, en die opdrag vir ’n feesmaal.

***

Maar die oudste broer vind nie dieselfde vreugde as die vader in die terugkeer van sy broer nie. Hy hou nie van die feestelikheid nie. Mens moet fyn oplet op die taal: Die jongste broer is nie meer ‘sy broer’ nie, maar hy noem hom: “hierdie seun van pa.” Anders as die pa, het die oudste broer nie die jongste broer in sy hart bly dra nie. Hy kon nie sy identiteit aanpas om plek te maak vir die jongste seun se terugkeer nie.

Dit is interessant dat die, wanneer hy die vader nou aanspreek, dit vir die eerste keer in die verhaal nie as ‘vader’ is nie. Dus, soos sy broer vir hom ’n ‘nie-broer’ geword het, het die vader vir hom ’n ‘nie-vader’ geword. Die vader tree volgens hom immoreel op.

En die oudste broer is in ’n sekere sin reg. In Deuteronomium 21:18-21 lees ons immers die volgende woorde:

“Wanneer ’n man ’n opstandige en ongehoorsame seun het wat nie na sy pa en ma wil luister nie, selfs al straf hulle hom, moet hulle hom na die leiers van die stad toe vat by die stadspoort. Hulle moet die vir die leiers van die stad sê: “Hierdie sen van ons is opstandig en ongehoorsaam. Hy luister nie na ons nie. Hy is ’n vraat en ’n suiplap.” Dan moet al die mans van die stad hom met klippe doodgooi.”

Met die wet skynbaar aan sy kant voel die oudste broer dat die vader immoreel optree. Hierdie optrede kan mos nie geduld word nie; dit is nie regverdig nie, en die huishouding sal weens hierdie benadering ineenstort. Die logika is tog onweerlegbaar. Die jongste broer kan dalk terugkeer as huurling, maar beslis nie as seun nie.

Ironies genoeg is die logika van die twee broers, ten midde van al hulle skynbare verskille, dieselfde: terugkeer is wel moontlik, maar nie as seun nie.

***

As ons ons fokus egter weer rig op die vader, sien ons dat hy nie sy seuns se logika deel nie, en veral nie die ouer seun se obsessie oor reëls nie. Soos hy sy seun wat weg was van vêr af ingewag het, gaan hy uit na die ouer broer wat nou nie die huis wil inkom nie. Hy praat mooi met hom:

“My kind,” sê hy, “jy is altyd by my, en alles wat myne is, is joune. Ons moet feesvier en bly wees, want jou broer was dood en hy het lewendig geword. Hy was verlore en is weer gevind.”

Ons sien hier dat die Vader nie die orde van die huishouding wegneem nie. Die oudste seun het nou die volle erfporsie en die jonger seun gaan skynbaar nie ’n tweede keer erf nie.

Maar hoewel die Vader nie die orde van die huishouding wegneem nie, her-orden hy die orde – maar volgens ’n ander logika. Die logika is dat daar iets is wat wette en streng identiteite voorafgaan. Hierin lê die verskil tussen die vader en die oudste broer. Die oudste broer gebruik morele kategorieë (hierdie seun van pa het sy geld op prostitute uitgemors!), terwyl die vader verhoudingkategorieë gebruik (die seun was verlore is, is weer tuis; was dood en lewe weer).

Die vader se verbintenis is nie primêr aan reëls nie, maar aan mense, aan sy kinders, wie se lewe te kompleks is om volledig deur vaste reëls en berekende identiteite bepaal te kan word.

Dit beteken nie dat reëls en identiteite opgehef word nie. Dit beteken wel dat ons identiteit getransformeer word, opnuut beskou word, in die lig van die liefde. Soos iemand skryf: “the Father keeps re-configuring the order without destroying it so as to maintain it as an order of embrace rather than exclusion.”

Die vader hervorm die orde van die huis sonder om dit te verwoes, sodat dit ’n orde van omhelsing kan wees, eerder as ’n orde wat uitsluit.

Die God wat ons dus in hierdie verhaal ontmoet is ’n God wat omhels, eerder as uitsluit; wat in verhouding-terme dink eerder as in streng wetsterme; wat altyd aan die werk is om ons identiteit te hervorm, sodat daar plek is vir die ander.

***

Min uitbeeldings van hierdie gelykenis is so treffend soos Rembrandt se skildery van die verlore seun. Henri Nouwen het aan die hand van hierdie skildery ’n pragtige boek geskryf: The Return of the Prodigal Son.

In die skildery beeld Rembrandt die vader as byna blind uit. Tydens die omhelsing druk die vader die seun teen sy bors, teen sy hart. Die lig, wat so belangrik is in Rembrandt se skilderye, val op die hande van die vader.

Sommige ontleders meen selfs dat een van die hande ’n vroulike hand is. So word iets uitgebeeld van die omvattende liefde van die vaderlike moeder of die moederlike vader. [Dink ook aan ons teks twee weke gelede waarin Jesus homself beskryf as ’n moeder hen] Die aantrekkingskrag van die skildery is onder meer geleë in die suggestie dat die vader nie oë nodig het om te sien nie. Die vader kyk met sy hart… en in die vader se hart, was die seun nooit weg nie.