Lukas 10: 25-37

14 Julie 2013 Koninkrykstyd
Prediker: Dr Tiana Bosman

Teks
Vs 30: 27 km deur woestyngebied en areas waar daar grotte was waarin rowers geskuil het.
Vs 31: Toevallig kom daar toe ‘n priester daarlangs…
Vs 33: Maar ‘n Samaritaan(!) – die vooropplassing dui op die verrassende, onverwagse OW en sy gevolglike optrede.
Vs 36: Wie van hierdie drie het ‘n naaste geword vir die man wat deur rowers oorval is.

Boodskap
Die gelykenisse van die barmhartige Samaritaan en die verlore seun is die twee gelykenisse wat ons seker die heel beste ken. Die gevaar is dat ons ‘n verhaal soms so goed ken dat ons nie meer nuwe dinge daarin kan raaksien nie, want weens die oorbekendheid hou ons op met soek. So het ek ook aan die begin van die week gevoel –wat nuuts sê ek nou Sondag vir die gemeente oor die barmhartige Samaritaan? En tog, as mens die gelykenis fyn gaan lees, soos ons vandag sal doen, is daar kernboodskappe daarin wat meeste van ons dalk nog nie voorheen raakgesien het nie.

Die gelykenis word gebore uit ‘n strikvraag wat ‘n wetgeleerde aan Jesus stel:
“Meneer, wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?”
“Wat staan in die wet? Wat lees jy daar?,” antwoord Jesus met ‘n teenvraag.
“Jy moet die Here en jou naaste liefhê,” sê die wetgeleerde.
“Nou daar het jy dit mos. Gaan doen dit en jy sal die lewe verkry.”

Uit hierdie gesprek is dit van meet af aan duidelik dat die wetgeleerde nie werklik ‘n antwoord op sy vraag soek nie. Hy het verskuilde motiewe, hy wou Jesus se vermoë toets om die skrif reg uit te lê. Wanneer Jesus dan die wetgeleerde se vraag met ‘n teenvraag antwoord hoor ons dat die wetgeleerde sy aanvanklike vraag aan Jesus se antwoord uit sy kop uit ken, hy kan dit woordeliks opsê: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag en met jou hele verstand, en jou naaste soos jouself.” Die liefdeswet is immers die hart van die Joodse godsdiens. Daarom Jesus se reaksie: “Volpunte vir jou teologie! Gaan doen dit nou en jy sal die lewe verkry.”

Maar die wetgeleerde wou homself handhaaf, want dit lyk nou asof die bordjies verhang is en Jesus te maklik homself uit die strikvraag gekry het. Daarom die volgende vraag: “En wie is my naaste?” In hierdie vraag stel die wetgeleerde onmiddellik ‘n grens aan naasteliefde. Hy wil weet wie sy naaste is sodat hy daarmee saam ook kan weet wie nie sy naaste is nie. Teenoor wie het hy ‘n verpligting en teenoor wie nie. Hoe wyd moet die radius van sy naasteliefde strek.

Hierdie keer antwoord Jesus weer nie self die vraag nie. Hy vertel eerder ‘n gelykenis. Toe ‘n man eenmaal oppad was van Jerusalem af na Jerigo toe, het rowers hom aangeval. Hulle het hom kaal uitgetrek en hom geslaan dat hy halfdood bly lê, en toe padgegee. Toevallig kom daar ‘n priester met daardie pad langs, en toe hy hom sien, gaan hy ver langs verby. Die priester gaan om die waarheid te sê letterlik uit sy pad uit om nie naby aan die ongelukstoneel te kom nie. Waarom? Die feit dat hy van Jerusalem af kom sê vir ons dat hy waarskynlik daar diens in die tempel gedoen het, wat sou beteken dat hy kulties rein is. Toe hy die man van ver af sien lê, kaal en gekneus en vir dood gelaat, het hy dalk gedink dat daar ‘n moontlikheid is dat hierdie man reeds dood is. En ‘n rein priester mag nie aan ‘n lyk raak nie. Dit sou veroorsaak het dat hy kulties onrein word – en dis ondenkbaar! Mens offer nie jou reinheid sommer so op nie. Om die priester se dilemma nog beter te verstaan: hy moes ‘n sekere afstand vanaf ‘n moontlik lyk af bly, ten minste 4 el. Hy kon dus nie die kans vat om naby genoeg te kom aan die man sodat hy kon sien of hy nog leef nie. Want sy reinheid was op die spel. Vir die priester was die wet om homself rein te hou onvoorwaardelik, terwyl die wet tot liefde voorwaardelik was – dit het afgehang van wie die persoon is en wat sy toestand is. Hoe beter dit met die persoon in nood gaan, hoe veiliger is dit vir die priester om hom lief te hê. Hierdie slagoffer het van ver af al te sleg gelyk.

Net so het daar ook ‘n Leviet by die plek gekom. Soos die priesters het die Leviete ook godsdienstige take verrig, maar hulle was nie soos die priesters gebonde aan die reinheidswette nie. Daarom kon die Leviet naderstaan, hy kon die 4 el grens oorsteek en tot by die plek kom waar die man lê, en hy hét ook. Hy kon hom help! Maar nadat hy gekyk het, het ook hy weggedraai en ver langs verbygegaan. Dalk was die Leviet bang dat die man ‘n heiden was, want volgens die Joodse tradisie moes heidene nie gehelp word nie. Of dalk het hy net nie die tyd of die lus gehad om ‘n vreemdeling te help wat duidelik baie aandag vereis nie. Sy dagboek is immers vol en daar is afsprake wat wag. Waar die rowers die slagoffer van sy klere en waarskynlik ook van sy geld beroof het, beroof die “dienaars van God” – die priester en die Leviet – hom dan van sy menswaardigheid. Hy is nie genoegsaam mens om werklik deur hulle raakgesien te word nie. Dalk is hy van ‘n ander land of geloof, of hy lyk te sleg, of hy is dalk al dood. Dus nie die moeite werd om gehelp te word.

Maar ‘n Samaritaan!, nou skok Jesus die wetgeleerde, ‘n Samaritaan van alle mense! wat op reis was, het op die slagoffer afgekom, en toe hy hom sien, het hy hom innig jammer gekry. En hy het hom gehelp. Nie net daar langs die pad nie. Hy het hom ook na ‘n herberg geneem en daar versorg, ‘n héle nag aan die vreemdeling afgestaan, en hy het gesorg dat hy verder versorg word, en die Samaritaan het die koste van die man se versorging uit sy eie beursie betaal.

Hoekom is die gedagte van die Samaritaan so skokkend? Omdat die Samaritane as basterjode beskou is. Die ras-egte Jode het op hulle neergesien. Die Samaritaan word as halfmens gesien deur die opregte Jode. Al het hulle dieselfde Bybel gehad en dieselfde God gedien, was die Jode vyandiggesind teenoor die Samaritane. Hier is ‘n Samaritaan in Judea, in die Jode se land. Hy kon veronderstel dat die slagoffer ‘n Jood was. Waarom dan betrokke raak? Dit kan immers net vir hom spot en veragting in die sak bring. Wie weet, dalk verset die slagoffer hom nog ook teen sy hulp as hy agterkom dis ‘n Samaritaan wat sy wonde behandel. Indien hy ‘n Jood was sou die slagoffer dalk die houding kon hê van eerder doodgaan as om deur ‘n Samaritaan gehelp te word.

Maar die Samaritaan het desondanks al hierdie moontlikhede hom innig jammer gekry. ‘n Goeie Afrikaanse woord is “medelye” (co[m]passion). Hy het medelye met die slagoffer gehad, mede-lye. Daarom vra hy nie wat is die veilige ding om te doen nie, hy vra wat is noodsaaklik. Hy maak nie eers teologiese of politieke berekeninge in sy kop nie. “Wie is nou eintlik my naaste en wie nie? Waar stop die grens? Ek bevind myself op vreemde terrein, daar is sekerlik geen verpligting op my om te stop en te help nie. Dit kan immers gevaarlik wees vir my!” Nee, hy rol bloot sy moue op en hy doen wat gedoen moet word. Hy doen wat die priester en die Leviet nie wou doen nie. Die baster-Samaritaan, die een waarop die Jode neersien, word God se dienaar, God se priester vir die man in nood.

Na die gelykenis gaan haal Jesus dan weer die tweede vraag van die wetgeleerde: “Wie is my naaste?” Maar Jesus wys dan vir die wetgeleerde dat hierdie vraag nie gevra moet word nie. Jesus draai die vraag om. Nie: “Wie is my naaste nie,” maar “So, watter een sê jy uit hierdie drie het as naaste opgetree teenoor hom wat onder rowers verval het?” Kyk mooi na wat Jesus met die wetgeleerde se vraag doen. Waar die wetgeleerde die fokus plaas op die persoon in nood en vir Jesus vra: “Watter mense wat in nood is is ék veronderstel om lief te hê en te help? Waar lê die grens? Wie van hulle is my naastes en waar mag ek maar halt roep?”, plaas Jesus die fokus op die een wat die hulp verleen: “Watter een van die drie karakters was bereid om ‘n naaste te wees vir die slagoffer?”

Vir die wetgeleerde moes dit verskriklik wees dat Jesus die priester en die Leviet en dan die Samaritaan! teenoor mekaar stel. Die wétgeleerde moet nou kies, hy word genoop om te sê. Die bordjies word dus verhang, want op die ou-end is dit nie Jesus wat voor ‘n strikvraag gestel word nie, maar die wetgeleerde. En hy weet hy gaan nie van sy eie antwoord hou nie. Hy hou so min van die antwoord dat hy die Samaritaan nie eens as “Samaritaan” wil identifiseer nie. Al wat hy uitkry is: “Die man wat aan hom medelye bewys het.”

En Jesus? “Gaan maak jy ook so.” Moenie maak soos die priester en die Leviet nie. Maak soos die Samaritaan, maak soos die een wie se naam jy nie eens oor jou lippe kan kry nie. Hy was bereid om ‘n naaste te wees vir iemand in nood. Sonder om vrae te vra het hy sy eie lewe vir die vreemde slagoffer op die spel geplaas. Gaan maak jy ook so. Is jý bereid om ‘n naaste te wees vir iemand anders? Moenie vir My vra: ‘Wie is my naaste,?’ Nie. Laat Ek eerder vir jou vra of jy ander mense se naaste is? En noudat ons so by vrae vashaak: Vir wie almal is jy bereid om ‘n naaste te wees? Is daar ‘n grens aan jou naasteliefde? Of is jy bereid om, ongeag wie die persoon in nood is, ‘n naaste te wees vir hom of haar? Maak nie saak of daardie persoon belangriker of minder belangrik as jy is nie. Maak nie saak of hy bekend of vreemd is aan jou nie. Maak nie saak of jy in jou bekende omgewing of in ‘n vreemde area is nie. Maak nie saak of mense vriendelik of vyandig na jou sal kyk nie. Ek vra weer: Is jy ‘n naaste vir ander mense.

Die wet van naasteliefde wat die wetgeleerde so mooi uit sy kop uit opsê is makliker gesê as gedaan. Die wetgeleerde ken die korrekte teologie op die punte van sy vingers, hy wil ewe vir Jesus vasvra daarmee, maar waar sy kennis in dade moet oorgaan weet hy nie eens watter vrae om te vra nie. Deur die gelykenis te vertel wys Jesus vir die wetgeleerde dat naasteliefde nie gaan oor die “regte geloof”nie. Naasteliefde is nie gelyk aan die vermoë om te filosofeer of te spekuleer oor die aard en die grense van liefde nie. Naasteliefde is om op te hou vrae vra oor wie dan nou gehelp moet word en wie nie, en wie verdien my hulp en wie nie, en wanneer is genoeg genoeg, en en en… Naasteliefde is doodeenvoudig om liefde “te doen” teenoor iemand in nood. Dit is om die nood van mense raak te sien, en wanneer jy hulle sien, om nie verby te hou om watter goeie rede ookal nie, maar om te stop en om te doen wat gedoen moet word om vir hierdie persoon sy menswees terug te gee. Waar daar liefde is en waar daardie liefde konkreet in dade uitgedruk word, daar is nuwe lewe. Die man sou waarskynlik doodgaan as die Samaritaan nie vir hom gestop het nie. Maar hy lewe. Want die Samaritaan het besluit om vir hom ‘n naaste te word in sy nood.

Die genadige en barmhartige God vra van ons om genadig en barmhartig te wees. Die God wat medelye het met alle mense vra dat ons met alle mense medelye sal hê, dat ons geraak sal word deur hulle nood, dat ons seer sal kry oor hulle swaarkry. God vra van ons om ander mense se naastes te wees – naby aan hulle in hulle nood. Dis wat dit beteken.
Jesus het vir ons kom wys wat mede-lye is. Terwyl Hy die gelykenis van die barmhartige Samaritaan vertel is Hy oppad na Jerusalem om daar ‘n medelyer te word vir elkeen van ons, omdat Hy met genadige oë na ons kyk. En in Jerusalem het Hy Homself aan rowers oorgegee, en hulle het Hom aangeval en kaal uitgetrek en geslaan. Hulle het Hom halfdood aan die kruis agtergelaat. Sy eie mense het ompaaie om die koppie gestap. Ander het nader gegaan om beter te kon sien en hulle het Hom gespot en daarna hulle rug op Hom gedraai. God self het uit sy pad uit gegaan om by Jesus verby te hou. Die barmhartige God was onbarmhartig en het gekies om anderpad te kyk. Maar sy onbarmhartigheid van daardie dag teenoor sy eie Seun is gebore vanuit sy barmhartigheid vir alle mense, ja ook vir sy vyande en die wat Hom spot en die wat nie in Hom glo nie en die wat nie weet wat hulle doen nie. Toe Hy by sy Seun verbygehou het het Hy nie vrae gevra oor die kwaliteit mense vir wie Hy die opoffering maak nie. Hy het nie gespekuleer oor wat of hoe ons eendag sou wees nie, nie gefilosofeer oor die aard van liefde nie. Hy het bloot ingespring waar niemand anders wou of kon nie, en die noodsaaklike gedoen. God is ons Naaste. Is ons mekaar se naastes? Is ons ander se naastes?

Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.

Lukas 19: 28-44

23 Maart 2013 – Lydenstyd – Palmsondag
Prediker: Dr Tiana Bosman

Dis Palmsondag vandag. Ons is al verlede week daaraan herinner toe die kinders met hulle palmtakke hier ingestap het en die Here geloof het met hul liedjies. Ons dink terug aan die Sondag waarop Jesus op ‘n donkie Jerusalem ingegaan het, omring deur sy dissipels en volgelinge, almal in ‘n feestelike luim. Johannes vertel hoedat mense vir Jesus met palmtakke tegemoet gaan. Hulle trek almal op na Jerusalem om die gebruiklike jaarlikse fees van hul voorvaders te gaan vier – die Paasfees.

Die Israeliete was nog ‘n onderdrukte volk in Egipte toe God die Paasfees ingestel het. Dit het saamgeval met die tiende plaag. In Eksodus 11-12 kondig die Here aan Moses aan dat Hy teen middernag deur Egipte sal gaan en dat elke eersgeborene in Egipte sal sterf, selfs die eerstelinge van die diere. Die Here sê verder vir Moses en Aäron dat daardie maand hul heel belangrikste maand moet word, want dit is die maand waarbinne Hy hulle uit Egipte sal bevry. Die tiende plaag val dus saam met die uiteindelike bevryding van die Israeliete. Elke Israelitiese huisgesin moes ‘n gesonde jaaroud lam slag en die bloed van die lam aan hul huise se deurkosyne smeer. Hulle moes die lamsvleis braai en dit eet. Hierdie lammers sou paaslammers genoem word, en hulle is as paasoffers aan die Here geoffer omdat Hy die mense in die huise van die Israeliete gespaar het. Daardie selfde nag het die Here toe deur Egipte beweeg en al die eerstelinge van die Egiptenaars getref, maar by die huise waarvan die deurkosyne met die bloed van die paaslammers geverf is, het Hy verbygehou.

In herinnering aan die Here se genade teenoor en bevryding van die Israeliete baie lank terug, het die volk nou weer in die belangrikste maand op hulle kalender opgetrek na Jerusalem om fees te vier en om hul verpligtinge van die paaslammers wat geoffer moet word, na te kom. Soos al sy ander volksgenote is Jesus ook oppad daarheen. Maar anders as hulle weet Hy dat die Paasfees hierdie jaar anders gaan wees, dat Hy nie soos die ander gaan om ‘n lam te offer nie, maar om as Lam geoffer te word. Hierdie omwenteling in die gebeure van daai week en die Vrydag wat voorlê – die dag waarop die Paaslammers geoffer moes word – was nog nie vir die ander mense duidelik nie. Daarom kan hulle nog so luidkeels liedere sing.

Iets wat wel hierdie jaar vir al Jesus se dissipels en ander volgelinge anders was, is dat hulle geglo het dat die Paasfees die keer sou saamval met hulle Koning, Jesus, se inname van die Romeinse Ryk, dat Hy die keiser gaan onttroon en self die troon sal bestyg. En so die volk in ere sal herstel. Inderdaad groot rede tot feesvieringe – die volk dink terug aan hul bevryding vanuit die Egiptiese mag eeue terug, en hulle staan op die vooraand van hul bevryding vanuit die Romeinse mag nou. Die geskiedenis word herhaal, en dinge lyk belowend. Heeltyd tydens sy openbare optredes het Jesus vir die mense gesê dat Hy oppad is na Jerusalem, oppad om die koninkryk van God op te rig, en hier is hulle nou uiteindelik. Daar voor lê Jerusalem.
Daarom sing die mense nie net hulle pelgrimspsalms tot God terwyl hulle optrek nie. Hulle besing ook vir Jesus op die donkie, hulle eer Hom deur ‘n tapyt van klere voor Hom in die pad te gooi en deur palmtakke in die lug te waai. Hierdie spesifieke lied wat die skare sing (uit Psalm 118:26) was tradisioneel die laaste Hallel/pryspsalm wat deur die pelgrims gesing is wanneer hulle na die tempel in Jerusalem gegaan het. Maar dit is ook ‘n koningspsalm. In woord en daad erken die skare rondom Jesus Hom as Koning. Die Koning wat na verwagting eintlik op ‘n wit hings moes ry, maar wat in sy andersoortigheid self eerder ‘n donkie verkies.

Die Fariseërs onder die skare was ontevrede daarmee dat Jesus se volgelinge lofliedere tot sy eer sing en hulle spreek Hom aan, letterlik: “Meneer, waarsku jou volgelinge!” Die Fariseërs se beswaar lê daarin dat die volgelinge se aansprake omtrent Jesus darem te dik vir ‘n daler is. Hulle skryf Hom té hoog aan. As Koning nogals, as die Een wat in die Naam van die Here kom. Wat wou! Dis darem te erg! Daarom: “Meneer, maak stil jou volgelinge! Hou hulle in toom!” Maar Jesus antwoord: “Ek sê vir julle: As hulle stilbly, sal die klippe uitroep.”

En toe hulle nog nader kom en Jesus die stad Jerusalem voor Hom sien, het Hy oor die stad en sy mense gehuil. Die skare is nog besig om Hom toe te juig en palmtakke rond te swaai, maar die trane drup van sy wange af. En, soos ons in die daaropvolgende verse lees, raak Jesus nie bewoë omdat die mense se lofprysinge sy hart roer nie. Hy stort nie trane van blydskap oor die naderende oorwinning wat uiteindelik voor die deur lê nie. Nee, Hy huil omdat Hy hartseer is, omdat die mense wat nou so sy lof besing nie weet waarvan hulle praat nie, na drie jaar se leringe steeds niks verstaan van wat Hy by hulle probeer tuisbring het nie, omdat hulle in hul smagting na die herstel van hulle volk se eer steeds vashou aan hul verwagting dat Jesus die nuwe regeerder van die land sal wees, dat Jesus, húlle man, eersdaags op die troon sal sit. Terwyl Hy nie kom om as koning gekroon te word nie, maar om, tydens die Paasfees, op die dag waarop die paaslammers geoffer gaan word, die grootste, feestelikste dag in die volk se jaar, self ook saam met die lammers geoffer te word.

Jesus kom nie om Israel se aardse ryk te herstel nie. Daarom sê Hy: “As jy vandag tog wou insien wat vir jou vrede nodig is! Maar nou is jy blind daarvoor. Daar sal dae oor jou kom dat jou vyande vestings teen jou oprig en jou omsingel en jou van alle kante beleër. Hulle sal jou met die grond gelyk maak en jou inwoners uitwis. Hulle sal in jou nie een klip op die ander laat bly nie, omdat jy die betekenis van die tyd toe God gekom het om jou te red, nie besef het nie.”

Die Deense kunstenaar, Peter Madsen, beeld in sy boek Menneske Sonnen (Seun van die Mens) Jesus se intog in Jerusalem aangrypend uit. In die eerste toneel sien ons die palmtakke, die opgewonde skare wat juigkrete skree, die Hosannas op hulle lippe, die Here Jesus in hulle midde. Hy ry op die jong donkie terwyl hulle hul klere voor Hom neerwerp en Hom met takke toejuig. Maar let op die kraaie in die takke van die boom. ‘n Teken van onheil. Let ook op die onweerswolke wat in die onderste skets in die verte saampak. En let op die skaduwee van die boom wat in die vorm van ‘n kruis op Jesus se rug val. Vooruitwysings na wat gaan kom, verduidelikings vir die trane op sy wange.

En dan die tweede toneel. Die mense gooi steeds hulle hande in die lug, gaan voort om Hosannas te sing. Maar die onweerswolke in die verte pak al digter saam en skep ‘n oorheersend somber atmosfeer. Die onweerswolke wat in die verte broei en die skadukruis op Jesus se rug, is ‘n vooruitwysing na dit wat Vrydag vir Hom voorlê… Die skare is blind vir hierdie tekens. Al wat hulle sien is die groot Profeet, die verwagte Messias, die nuwe Koning. Hulle prys Hom nie oor wat Hy gaan kom doen nie. Hulle prys Hom oor wat hulle dink Hy gaan kom doen. Misplaaste verwagtinge. Daarom is die inhoud van hul liedere leeg.

Wat word op die ou-end van misplaaste verwagtinge? Wat gebeur toe Jesus nie in sy weerstandsbeweging ‘n rewolusionêre opstand lei om die volk uit die greep van die Romeinse oorheersing te bevry nie? In hulle ontnugtering word die lofprysinge op hulle lippe stil. Of nee, hulle word nie stil nie, maar hulle begin om ‘n ander deuntjie te sing. Petrus, Jesus se dissipel en nabye vriend, se “Hosanna!” word vervang met ‘n desperate herhaling van “Ek ken Hom nie!” En die skare se “Hosanna!” verander ‘n paar dae later na “Kruisig Hom!,” en dan nog harder: Kruisig Hom!”

Aanbidding en lofliedere verander hier baie vinnig in verloëning en moord. Jesus se volgelinge draai hulle mantel na die wind. Wanneer dinge voorspoedig lyk en hulle veilig voel in die teenwoordigheid van hul Leier en saamgebind as ‘n groep – dan kom hul lofbetuigings en uitsprake maklik. Maar toe die omgewing vyandig word en hulle Leier nie ‘n opstand lei nie, maar gevang word, toe is daar niks meer oor van hulle lojaliteit nie. Ek wonder soms hoe dit is met ons? Gelowiges wat in ons veilige groepe en omgewings, in die eredienste en in die wyksbyeenkomste en Bybelstudies maklik die lof en die getuienisse oor ons lippe laat rol. Hoe “sing” ons wanneer ons nie in hierdie “veilige, almal-is-christene” omgewing is nie, maar elders, daar buite, in die samelewing of by ons werk of in ons families waar die ander mense nie die Here aanbid nie. Daar waar ons geloof nie so gemaklik aan ons lyf sit nie, daar waar dit skaaf. Wat doen ons dan?
En wanneer ons soms met skok besef dat Jesus anders is as hoe ons Hom voorgestel het, anders dalk as wat ons Hom wil hê? Wanneer ons in groepe of omgewings beweeg waar Hy ons nie trots maak nie, maar skaam, en bang… Watter deuntjie sing ons dan? Of bly ons liewer maar net heeltemal stil? In die hoop om nie raakgesien te word nie? In die hoop om nie uitgewys te word as ‘n volgeling van die Here nie? In die hoop om eerder te verdwyn as om te getuig?

Jesus se profesie teenoor die Fariseërs dat die klippe sal uitroep as die mense stil word, het toe waar geword. Want na hulle verloënings en verraad, na hulle krete van “Kruisig Hom!” hét almal toe later stil geword. Die Vrydag toe die paaslammers geslag is en Jesus gekruisig is. Om twaalfuur die middag het ‘n doodse stilte oor die koppie gedaal. Die son het verdwyn en die donker wolke van Sondag het heeltemal oorgeskuif en duisternis gebring. Die voorhangsel van die tempel het geskeur. En dan onthou Matteus hoedat die klippe begin skree het. “Die aarde het geskud, en die rotse het uitmekaar gebars!” (Matt 27:51). Toe die mense hulle stemme verloor het, het die natuur in beroering gekom.

Wie weet? Dalk is élke aardbewing en storm en veldbrand wat in die wêreld gebeur nie ‘n natuurramp nie? Dalk is sommige van hulle natuurwonders? Natuurliedere. Dalk bewe die aarde en skree die klippe en kolk die golwe en donder die hemel soms omdat die volgelinge van Jesus te stil geword het?

Mag dit so wees dat, indien ons onsself volgelinge van die Here noem wanneer ons in geloofsbyeenkomste ontmoet, dat ons dit ook sal doen op enige ander plek. Dat ons nie net met Jesus sal saamstap wanneer die pad vir ons belowend lyk nie. Maar dat ons sal bly stap en sal bly getuig ook wanneer ons niks meer van die pad hou of van waarheen die pad ons neem nie. Dat ons fokus nooit in die eerste plek op die pad sal wees nie, maar op die Een saam met Wie ons loop, die Een op die donkie, met die skadu van die kruis op sy rug. Onthou ons loop nie voor Hom uit nie, ons loop agter Hom aan. Eendersyds beteken dit dat ons nêrens geneem sal word waar Hy nie ook was of saam met ons is nie. Andersyds beteken dit dat ons altyd, wanneer ons opkyk na Hom waar Hy voor ons op die donkie beweeg, die skadu van die kruis op sy rug sal raaksien. ‘n Skaduwee van die ware verwagtinge wat ons van hierdie andersoortige Koning moet hê. ‘n Herinnering dat die pad waarop ons Hom volg, nie maklik is nie. En mag dit so wees dat die ontnugteringe op die pad nie ons stemme stilmaak nie. En wanneer ons by tye stil raak, dat die klippe en die res van die natuur ons weereens met hulle stemme sal herinner aan die Koning wat Homself as Lam laat offer het.

 Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.