Markus 10:35-45

24 Februarie 2019

Sewende Sondag na Epifanie
Prediker: Ds. Lenois Stander

So bietjie meer as ‘n maand terug het Kerkbode, die kerkkoerant van die NG Kerk, berig oor die resultate van die onlangste koppetelling in die NG Kerk.

Die jongste data sê die aantal belydende lidmate het die afgelope jaar afgeneem met amper 21 000. Dit bring die totale aantal lidmate op 691 000, en die aantal dooplidmate op amper 190 000.

Hierdie nuuste syfers was nie voorheen vir die publiek beskikbaar nie, so kort nadat Kerkbode dit bekendgemaak het, het ander nuuskanale dit opgetel. Die opskrif in die Burger was:

“NG Kerk se lidmate val in 19 jaar met bykans 25%”

Ek is nie heeltemal seker waarom hulle nou juis gekies het om na die afgelope 19 jaar se daling te kyk nie. Seker omdat dit ‘n heelwat beter opskrif maak as:

“NG Kerk se lidmate val in 2018 met 2,5%”

So die opskrif was ‘n bietjie sensasioneel, maar die beriggewing was basies korrek: Die NG Kerk verloor lidmate en mense stem nie heeltemal saam oor die redes nie. Op sosiale media het baie mense saam gespekuleer elkeen met sy eie teorie oor die wérklike rede waarom die NG Kerk aan die krimp is.

Is dit emigrasie of ‘n dalende geboortesyfer, soos sommiges aanvoer?

Of is dit eerder ‘n gevolg van die feit dat die tradisionele begrip van lidmaatskap nie meer sin maak nie, omdat mense tussen gemeentes beweeg?

Ander mense sê die Kerk het eenvoudig irrelevant geword vir moderne gelowiges. Mense stel nie meer belang in wat die dominee sê as jy sommer self kan Google nie.

Sommige mense dink die NG Kerk se hantering van die gay-debat die afgelope aantal jare het groot skade aangerig. Ek vermoed mense aan beide kante van die saak, dink soms so.

Ander sê die NG Kerk het sy teologiese legitimiteit, sy integriteit, verloor toe hy ‘n teologiese begronding vir apartheid verskaf het.

En nog ander mense dink die Kerk se tyd is eenvoudig verby: dat dit te verwagte is dat die NG Kerk – en alle kerke – sal krimp in ‘n sekulêre samelewing waar dit nie vir almal duidelik is waarom hulle vir God nodig het nie.

Maar wat vir my meer interessant was as die spekulasie oor die REDES vir die krimping van die kerk, was die styl, die toon, waarin mense aan die gesprek deelgeneem het.

Uit baie se kommentaar het dit helder geblyk dat hulle bly is dat die kerk krimp.
En alhoewel hierdie “kry-vir jou” houding in sommige gevalle ongenuanseerd of onbillik mag wees, dink ek dit kom in baie gevalle van goeie getroue lidmate wat iewers lang die pad ernstig seergekry het.

Seergemaak deur ‘n onsensitiewe dominee, ‘n moeilike kerkraadvoorsitter, ‘n rassistiese medegelowige, ‘n eng sinodebesluit, ‘n kwaai kerkkantoortannie, of sommer net die ontnugtering om te ontdek dat ook die kerk nie perfek is nie.

Baie lidmate, of voormalige lidmate, loop rond met letsels – die stil getuienis van die feit dat die kerk daartoe in staat is om wonde te maak.

Wat kan die kerk, wat kan ONS doen om seker te maak dat ons nie mense verwond en vervreem nie? Wat is die gemene deler in gevalle waar gelowiges seer-maak, eerder as heel-maak? Hoe kan ons wat deel is van hierdie kerk, leer uit ons foute?

My beste raaiskoot is dat TE VEEL MAG feitlik altyd ten minste ‘n groot deel van die probleem is.

Dit laat my dink aan ‘n aanhaling uit die 2002 Spiderman-fliek wat byna die status van ‘n cliché bereik het. Peter Parker, oftewel Spiderman se Oom sê vir hom:

“With great power comes great responsibility”.

Soos dit met die meeste clichés is, steek daar dalk heelwat waarheid hierin. Want hoe meer mag jy het, hoe minder mense is daar wat oor jou skouer loer om jou reg te help wanneer jy voor die versoeking staan om jou mag onbehoorlik te laat geld.

Dink maar aan die regeerders van ons eie land, die politici wat soms spreekwoordelik met moord wegkom. Dit is moeilik om versoekings te weerstaan as jy soveel mag het dat jy weet jy kan met misbruik wegkom.

Is dit moontlik vir ‘n kerk om té veel mag en invloed te hê? Is dit moontlik vir ‘n kerk om té groot te word?

Jaco Strydom, ‘n dominee van Pretoria, skryf ‘n rukkie terug in die koerant. Hy vra:

“Waarom is die impak van die groot kerk van vandag kleiner as die impak van die klein kerk van destyds?”

“Waarom gaan dit nie beter in ’n gemeenskap met letterlik ’n kerk op elke hoek nie?”

“Moet daar nie groter vrede wees in ’n land met soveel vredemakers nie? Daar is dorpe met meer kerkgeboue as straatkinders en steeds is die kinders op straat.”

Moeilike vrae, né?

*****

Die onderliggende aanname by amper almal wat kommentaar gelewer het op die nuus dat die NG Kerk krimp – of hulle dit nou vier of betreur – is dat ‘n groot, sterk, magtige kerk, iets is om na te streef, ‘n positiewe mikpunt om te behaal. Want so werk die logika van ons samelewing:

hoe meer invloed, mag of geld jy het, hoe meer suksesvol is jy. In besigheid, in die sosiale arena, in politiek – feitlik orals werk dit so. Wanneer gelowiges hierdie logika op die kerk van toepassing maak, word dit nodig vir die NG Kerk om in die markplek van kerke te kompeteer.

En dan raak ons bekommerd oor die feit dat ons eie denominasie krimp terwyl sommige Charismatiese kerke groei. Plaaslike gemeentes begin om hul sukses te meet aan erediensbywoning, aan die omvang van die gemeente se inkomste, aan hoe dinamies die dominee is, en aan watter welvarende lidmate na die gemeente oorstap.

Wanneer ‘n gemeente of denominasie se sukses só gemeet word, maak dit sin om die krimping van die kerk te vier of te betreur, afhangende van hoe goedgesind jy die kerk is.

Maar dit is nie hoe Jesus gedink het oor die maatstaf van gemeentelike sukses nie. Dit is nie hoe Jesus gedink het oor die kerk se verhouding met mag nie.

Ons sien dit wanneer ons ‘n gedeelte soos Markus 10:35-45 lees, waar Jakobus en Johannes vir Jesus vra om vir hulle die ere-sitplekke, links en regs van Hom, te gee wanneer hy as koning heers.

Kan jy jou dit voorstel, dat jy vir Jesus vra vir ‘n eresitplek?

Selfs Jesus se dissipels, wat soveel ure in sy teenwoordigheid deurgebring het, wat soveel blootstelling aan sy leringe en voorbeelde gehad het, het die aantrekkingskrag van invloed en mag gevoel.

So as ons eerlik is met onsself sal ons antwoord: “Ja, ek kán dit vir myself voorstel. Ek sou waarskynlik ook vir ‘n eresitplek gevra het.” Want ons wéét hoe die aantrekkignskrag van invloed en mag voel.

Maar dan antwoord Jesus met hierdie woorde:

“Julle weet dat dit by die nasies so is dat hulle sogenaamde regeerders oor hulle baasspeel en dat hulle groot manne die mag oor hulle misbruik.
Maar by julle moet dit nie so wees nie. Elkeen wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaar wees; en elkeen onder julle wat die eerste wil wees, moet julle almal se dienaar wees. Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense.”

Ek dink nie Jesus kon dit sterker gestel het nie, nie in woord óf daad nie. Met hierdie woorde keer hy die dissipels se onderliggende logika wat sê dat mag en invloed die hoogste waarde is, op sy kop.

Nee, sê Jesus, die hoogste waarde is nie mag nie, maar om te dien. “Elkeen wat eerste wil wees, moet almal se dienaar wees.”

Hieroor skryf Neels Jackson, voormalige redakteur van Kerkbode, onlangs in die koerant:

“’n Kerk wat met mag besmet word, verloor hierdie fokus.”

Jaco Strydom maak dieselfde punt op ‘n ander manier wanneer hy opmerk:

“’n Kerk wat probeer floreer is met ander vrae besig as ’n kerk wat, soos Jesus, sy lewe probeer gee vir ’n stukkende wêreld. Dalk het die kerk te veilig en te groot geword om in die donker krake van ’n stukkende samelewing in te pas.”

Dit is alles verskillende maniere om te sê:

Hoe meer magtig ‘n kerk word, hoe minder is hy daartoe in staat om Jesus se voorbeeld te volg, en te dien. Want die kerk bestaan maar uit mense soos ek en jy, mense wat soms swig voor die versoeking van mag, en dit dan verkeerd aanwend.

*****

Kan ons met mekaar eerlik wees oor hierdie tekortkoming van ons? – Dat ons nie immuun is teen die versoeking om ons mag te misbruik nie? Dat die geskiedenis dit reeds vir ons geleer het?

Indien dit so is, is ‘n kleiner, minder magtige NG Kerk nie dalk beter in staat om Jesus se opdrag – om te dien – uit te voer nie?

Dalk is die krimping van die NG Kerk ‘n geleentheid, ‘n uitnodiging vir hierdie kerk om weer tot bekering te kom.

As mens Jesus se argument volg, is ‘n kerk wat weer tot bekering kom een wat leer om vanuit ‘n posisie van weerloosheid die evangelie verkondig. ‘n Kerk wat dít doen, is ‘n kerk met integriteit, is ‘n geloofwaardige kerk.

Jaco Strydom stel dit só:

“Liefde word geloofwaardig wanneer jy so naby kom dat die een vir wie jy sê “ek het jou lief,” jou kan seermaak – in Jesus se geval kon doodmaak.”

Dit is om te sê: Die kerk, en by implikasie elkeen van sy lidmate, sal risiko’s moet loop, net soos Jesus ook die risiko geloop het om seer te kry. Wanneer ‘n kerk só ver gaan, is die boodskap wat hy verkondig, geloofwaardig. Wanneer ‘n kerk só ver gaan, ontwapen dit diegene wat op die kantlyn staan en lag. Wanneer ‘n kerk só ver gaan, beliggaam dit die evangelie.

In praktyk is dit moeilik om te doen, want jy doen dit ten koste van jouself.

Laasjaar het die gemeentes van die Paarl, waarvan my tuisgemeente een is, gehoor dat ‘n ander gemeente van die Noordelike voorstede beplan om ‘n nuwe bediening in die Paarl te begin.

Trouens, die nuwe bediening was reeds op klein skaal aan die gang, en die persone wat die roeping vir hierdie kerkplanting ontvang het, wou gaag hul visie met die gemeentes van die Paarl deel.

Dit was egter interessant om te sien hoe sommige plaaslike gemeenteleiers en predikante, instinktief beskermend gereageer het. Daar het verskeie vrae ontstaan:

Waarom ‘n nuwe kerk begin in ‘n dorp waar daar daar reeds so baie kerke is? Wat gaan die impak op die bestaande gemeentes wees? En natuurlik dink dominees: wat as my gemeente leegloop? Wat word van my bediening?

Hierdie vrae het deur my en sommige kollegas in die ring se koppe gegaan. Want ons het belange om te beskerm. Ons was bang ons mag en invloed en voorregte raak minder.

Maar gelukkig is dit dan ook moontlik om verby hierdie vrae te beweeg en die groter prentjie raak te sien. Dat ons geroep is om te dien. Ja, selfs ten koste van ons eie magsposisies, voordele, gemak, finansiële sekerheid en aansien. Dan is ons ‘n missionale kerk – ‘n kerk wat aansluit by dit waarmee God reeds besig is in die wêreld.

Waar moet ons begin?

Die beste plek om te begin is die nood op ons eie voorstoep. Ons weet goed hoe dit lyk. Kom ons volg Jesus se voorbeeld en was al die stowwerige voete wat hier by ons verbygaan.

Markus 5:1-20 – 2015

21 Junie 2015 Pinelands (Koninkrykstyd)
Prediker: Dr Tiana Bosman 

Vier keer deur die loop van Markus se vertelling, het Jesus en sy dissipels na die oorkant van die See van Galilea gegaan – drie keer met ‘n boot en een keer het hulle te voet gereis daarheen. Dit was ‘n vreemde bestemming gewees, ‘n omgewing waar mens nooit ‘n Jood sou aantref nie, want die heidene het daar gewoon. Hierdie is die eerste keer dat Jesus sy dissipels oorneem na die “land aan die ander kant” toe. Jesus is so vasbeslote dat hulle daar moet uitkom, dat Hy hulle selfs ‘n lewensgevaarlike storm laat trotseer. Maar net toe die dissipels dink dis verby met hulle, toe bestraf Jesus die wind en kalmeer Hy die see.

Hulle vaar na die gebied van die Geraseners, in die streek van die Dekapolis (Tien Stede). Die Romeinse veterane (oud-soldate) het as deel van hulle vergoedingspakket plotte land in die gebied ontvang. Hierdie was geharde manne en die regering van die streek was eintlik in hulle hande. Alhoewel daar ook baie gewone heidense landsburgers gewoon het, het die veterane die besluite gevel (called the shots).

Jesus hulle gaan aan wal by ‘n begrafplaas van alle plekke! Daar anderkant teen die berghang wei ‘n groot trop varke. En hulle verwelkomingskomitee – ‘n man met ‘n onrein gees in hom wat tussen die rotsgrafte woon, dag en nag skreeu en homself met klippe stukkend kap. ‘n Man so sterk dat hy nie eens met ysterkettings en boeie vasgebind kan word nie. Niemand kon hom beheer nie. Jesus praat eerste, nie met die man nie (vir al wat ons weet kon die man nie meer vir homself praat nie) maar met die gees binne hom. Dit is ongewoon vir ‘n mens om ‘n gees eerste aan te spreek. In daardie kultuur was dit gewoonlik die persoon met die groter gesag, die persoon hoër op in die hierargie, wat eerste gepraat het. Heel bo was God of die gode, dan die geeste, en eers dan die mense (ook in verskillende hierargiese groepe). Die feit dat Jesus eerste praat, en dat die gees dan in onderdanigheid reageer, moes vir die dissipels gewys het dat Jesus nie sommer maar net ‘n mens is nie. Immers – hulle moes dit reeds geweet het. Het Hy dan nie nou-nou net die onstuimige natuur getem nie? Nou luister nie net die see en die wind na Hom nie, maar ook die onrein gees. Beide magte buite menslike beheer…

“Onrein gees, gaan uit die man uit!”

Die man val voor Jesus neer en die gees skreeu in ‘n harde stem: “Los my uit, Jesus, Seun van die allerhoogste God! Ek besweer U by God, moet my nie pynig nie!”

“Wat is jou naam?” (Weereens – die persoon in die hoër sosiale posisie is die een wat die ander se naam eerste vra.)

“My naam is Legioen, want ons is baie!” En die een gees wat eintlik baie is smeek vir Jesus om hulle nie uit die gebied uit weg te stuur nie.

‘n “Legioen” was ‘n afdeling van 3000-6000 manne in die antieke Romeinse weermag. Dat die gees(te) homself nou “Legioen” noem in ‘n omgewing wat deur Romeinse veteraan soldate “beset” word, kan nie sommer ‘n toevalligheid wees nie. Voeg hierby toe dat die einste Romeinse soldate bekend was daarvoor dat hulle die varke kultus (swine cult) aangehang het, is dit nog meer betekenisvol dat die gees(te) nou vra dat Jesus hulle na die varke moet stuur sodat hulle in hulle kan invaar. Jesus laat dit toe, en die varke storm (soos ‘n troep soldate aan die begin van ‘n veldslag) in die see in en versuip.

Julle hoor hoe hierdie gebeurtenis deurtrek is van militêre nuanses? Dit lyk vir my asof dit die eintlike storie agter die storie is: In ‘n omgewing wat gebuk gaan onder die mag van die Romeinse heerskappy (hier by uitstek so weens al die soldate in die omgewing) kom Jesus aan wal. Hy is nie bang vir die mag nie. Inteendeel, die mag is bang vir Hom en erken onmiddellik sy gesag. Jesus dryf die mag uit die man uit, die mag neem besit van die varke wat hulle eintlik aanbid, ironies kan die varke hulle help nie maar verdrink hulle eerder. Die uiteinde is dat die omgewing bevry is van die onderdrukkende Romeinse mag. (Nog nie op hierdie oomblik nie, maar die beurtenis is ‘n duidelik heenwysing na wat kom.) Daar is nou ‘n nuwe gesag aan die orde – die gesag van Jesus Christus, Seun van die allerhoogste God.

Markus is die eerste evangelie wat geskryf is. Hy het dit geskryf tydens die Romeinse keiser Nero se grootskaalse vervolging van die Christene, kort voor die finale afbreek van die tempel in Jerusalem. Links en regs moes Christene vlug of hulle is gemartel of voor die voet doodgemaak. Watter troos moes daar nie wees vir die gelowiges wanneer hulle hierdie verhaal geskryf deur Markus lees nie, wanneer hulle die eksplisiete militêre terminologie en nuanses herken en iets van hul eie situasie en vervolging deur Nero daarin raaksien, wanneer hulle al begin glo het dat die sterk mag van Nero nie gebind kan word nie, dat daar vir hulle geen uitkoms is nie, geen toekoms meer nie, om dán in hierdie verhaal te hoor: Nero is nie die heerser nie, Jesus Christus is Kurios, Here, en Hy is sterker as Nero en sy weermag, en Hy kan en sal ook hierdie mag bind en tot ‘n einde bring. Dat ‘n man met ‘n onrein gees in hom se storie van heling en herstel so groot effek kan hê dat die hele omgewing direk daardeur geraak word, dat hierdie “geringe” storie heenwys na ‘n nuwe heerskappy waar die onrein regeerders en regerings van die wêreld en hulle trawante nie vir altyd die hef in die hand sal hê nie. Al lyk dit dalk so. Jesus is nie bang vir hulle nie. Jesus is sterker as hulle. Watter troos is daar nie vandag vir ons in hierdie verhaal nie! Om te weet dat daar iewers ‘n keerpunt sal kom in soveel lande waar die burgers gebuk gaan onder die juk van hul regering.

Daar is ‘n tweede, vir ons dalk meer voor die hand liggende, boodskap in die gebeurtenis. Iets meer persoonlik dalk, wat ons aan die lyf voel. Die fisiese genesing van die man. Sy diagnose: Hy het ‘n onrein gees in hom, skreeu dag en nag, verniel homself met klippe, is so deur die samelewing verstoot dat die grafte sy tuiste geword het en die geeste sy vriende (mense het geglo dat geeste wat nie tot rus gekom het nie omdat die mense se lyke nie na behore begrawe is nie, tussen grafte rondgesweef het).

Die hele omgewing het gespreek van onreinheid – die heidense omgewing was onrein vir die Jode, die begrafplaas was onrein, die varke daar anderkant was onrein, die man het ‘n onrein gees in hom. Die omgewing is so onrein dis om iets van oor te kom! Dit is juis waarom mense nie daarheen gegaan het nie! Maar Jesus vaar deur ‘n storm sodat Hy sy voete op daardie onrein grond kan gaan sit. Hy gaan daarheen met ‘n gedetermineerdheid wat nie vir sy dissipels sou sin maak nie.

Wat was ‘n onrein gees? In die Griekse teks word die woord “boos” nie gebruik nie, en die betekenis wat ons daaraan heg is so “boos” dat ons dit dalk eerder nie moet gebruik nie. Wat beteken onrein dan? Dit was meer as net vuil, dit was op rituele vlak onrein, uit plek uit, nie tuis binne die sfeer waar God regeer nie – so iets. Ek wonder of ons deur die eeue nie self binne die vertalings die konnoktasie van “boos” begin heg het aan die bybelse tyd se onrein dinge waarvoor ons nie verklarings (gehad) het nie…

Omdat alle geeste in die hierargie superior was bo mense, kon ‘n onrein gees inderdaad mag gehad het oor ‘n mens. Hulle hoef nie per se boos te wees om mag te hê nie. Hierdie klemverskuiwing (om eerder van onrein/uit plek uit/nie tuis binne die heerskappy van God nie, as van boos te praat) kan reeds baie doen om die stigma rondom die hele saak van geeste binne mense af te breek. Om dan te kan begin insien dis nie noodwendig van die duiwel af nie. Om ook breër te kan kyk en te sê dat onrein geeste binne mense in die bybelse tyd inderdaad verskillende manifestasies kon hê – dan is daar plek vir geeste wat hul spesifieke name het en kwaad doen en skade aanrig soos met die man met Legioen binne hom, maar daar is ook ruimte vir onrein geeste wat onrein is omdat dit siektes veroorsaak wat eintlik nie in ons liggame tuishoort nie.

In die wêreldbeeld van destyds was dit ook ‘n manier om van siektes binne mense te praat, en dat ons vandag dikwels eerder sou praat van die of daai siektetoestand as van die of daai gees (binne ons Westerse konteks). En verder: Siektes het beslis ook beheer oor mense se lewens, onbehandelde siektetoestande is hierargies bo mense, neem van mense besit, vernietig mense, moet behandel of gebind word (deur behandeling of medikasie of iemand wat met gesag bo-oor dit kan praat en dit kan tem.)

Om terug te kom na die besetene in die verhaal: Hy het ‘n onrein gees in hom gehad. ‘n Gees wat hom kwaad aangedoen het, en ‘n gees wat hom laat kwaad doen het. ‘n Gees wat gemaak het dat ander mense bang was vir hom. ‘n Gees wat van hom besit geneem het, wat sy liggaam beheer het. Was dit ‘n bose gees? Ons weet eintlik nie. Ons weet wel dat die gees onrein was in die sin dat die gees nie gehoort het binne die man se liggaam of in die ruimte van God se heerskappy nie. Daarom het Jesus die gees gestuur waar hy hoort – in die onrein varke in. En hulle (die gees en die varke) het toe sommer met mekaar afgereken.

Min van ons ervaar dieselfde houvas wat ‘n gees op mens kan hê as wat hierdie arme man ervaar het. Hy het Legioen in hom gehad! Eintlik baie geeste in een! Dit is genoeg om van mal te word! Maar is dit nie tog maar so dat ons almal ook met onrein geeste worstel wat soms dreig om beheer oor ons lewens oor te neem nie? Op samelewingsvlak vrees ons die effekte van magsvergrype, verdraaiing van die reg, ekonomiese uitbuiting, gierigheid, hebsug, magsug en geweld. Maar nader nog aan jou eie lyf: Wat van die gees van ongeduld, of van woede, of van vrees? Wat van die gees van rassisme, of van klassisme? En wat van siektetoestande wat so ‘n invloed op ons het dat dit ons totale lewe en persoonlikheid oorneem? Is dit nie miskien ook alles geeste wat in ons lewens gevaarlik teenwoordig is en wat ons by die naam moet noem en in die Here se hande moet oorgee nie? Want ons voel dalk vasgevang, maar Hy het kom wys dat Hy groter is as dit alles. Romeine 8: 37-39: “Ons is meer as oorwinnaars deur Hom wat sy liefde aan ons bewys het. Ek is immers daarvan oortuig dat geen dood of lewe of engele of heersers of teenswoordige of toekomstige gebeure, of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping ons kan skei van God se liefde wat daar in Christus Jesus ons Here is nie.”

Die varkwagters het gesien wat gebeur het en hulle het gehardloop en die mense in die dorp gaan vertel. Die het ook kom kyk en hulle het bang geword want hulle het hulle varke verloor, maar ook het hulle nog nooit so iets gesien nie. Hulle het vir Jesus gesmeek om uit hulle gebied uit weg te gaan. En die man wat genees is – hy wou saam met Jesus gaan, weg uit sy eie omgewing uit. Maar Jesus laat hom nie in die boot klim nie. “Nee, gaan terug na jou huis toe, en na jou mense, en gaan vertel vir hulle alles wat die Here vir jou gedoen het en dat Hy medelye aan jou betoon het.” Dis nie meer nodig vir die man om tussen die grafte te woon nie. Jesus het hom rein gemaak. Hy mag weer met ander mense kontak hê, Hy mag weer die mens wees wat hy gemaak is om te wees, hy is ‘n lewende getuienis van die mag van die Here – in ‘n tyd wanneer die evangelie eers nog net vir die Jode bedoel was, het Jesus hierdie heidense man genees sodat hy die goeie nuus van die evangelie aan die heidene kan verkondig!

Wanneer Jesus mense gesond maak of heel maak, gee Hy nie om om die mees taboe grense oor te steek nie – die grens van Joodse grond na heidense gebied, van rein persoon na onrein, die van veilige omgewings na grafte, van weivelde waar skape wei na daar waar varke wei. Hy stap by situasies en huise in waar ander nie sal droom om te gaan nie. Hy doen dit ook vir óns. En vir mense heeltemal anders as ons.

Mag ons vry word van die bande van die onrein geeste wat ons bind. En mag ons ruimtes skep waar ander mense ook ervaar dat hulle vry kan word van die geeste wat hulle lewens gevange hou.


Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.

Markus 14:1-2,10-11,43-45 – 2015

29 Maart 2015 Lydenstyd
Prediker: Dr Tiana Bosman

Judas se brief (basisteks van Piet Naude, by plekke aangepas)

Liewe Vriende, as ek julle so mag noem, ek wonder…

Die Evangelieskrywers in julle Bybel het baie seker gemaak dat lesers nie van my hou nie. Wanneer hulle my naam noem, skryf hulle byna altyd agterna “die verraaier”. Asof mense vir altyd herinner moet word aan wat ek gedoen het. Ek wil julle graag my kant van die storie vertel. In die hoop dat iemand dalk sal verstaan.

My pa se naam was Simon, en ek is Judas. Ons kom van die Kariot-streek af, daar in Moab. My naam beteken “seun wat van Kariot af kom”: Judas IsKariot. Intussen het dit ‘n tipe vloekwoord in julle volksmond geword. Julle sal neerhalend na iemand anders verwys as “hy is ‘n ware Judas”.

Nou ja, in my tyd was dit die gewoonte dat rabbi’s, of leermeesters, rondgeloop en mense geleer en wonderwerke gedoen het. Een van hulle, ‘n man van Nasaret, met die naam van Jeshua, of Jesus soos julle sê, het op ‘n dag na my toe gekom en gesê: “Judas IsKariot, ek hoor jy is ‘n man met ‘n kop vir syfers. Hulle sê my jou administrasievermoë is baie goed. Jy sien, ek het ‘n klompie manne wat my volgelinge geword het en ons trek deur die land, want ek het ‘n paar belangrike dinge om die mense te vertel. Wil jy nie by ons aansluit nie? Dan sorg jy dat ons darem op die pad kan bly. Ons leef maar eenvoudig, maar mens het darem geld nodig om jou mense te laat eet.”

Ek wat Judas is sien toe sommer die man is op ‘n missie, hy weet waantoe hy oppad is. Ek sluit toe by hulle aan as die een wat verantwoordelik was om die boeke te laat klop en dat daar voorrade vir die pad is. Julle kan maar sê ek was die beursiedraer van die groep. Vir drie jaar het ons so deur die land rondgegaan.

Van die begin af was dit vir my duidelik wat die waarde van my aandeel in dié groep was. Want dit is nou een maal ‘n feit dat ek werklik die enigste realistiese oopkop man tussen die dertien van ons was. Die ander het almal ‘n dik streep idealisme in hulle gehad. Ek was die nugter een wat die dinge aan die gang moes hou.

Aanvanklik het dit baie goed gegaan. Dié Jesus was ‘n spreker soos min. Nie ‘n harde stem gehad of ‘n vreeslike redenaar nie, maar die mense het altyd vasgenael gesit en luister na wat hy preek. Soos ek julle gesê het, was daar in dié tyd ‘n klomp ouens wat rondgeloop en gepreek en wonderwerke en goed gedoen het, maar baie daarvan was eintlik net oëverblindery.

Snaaks, maar van die begin af het ek geweet dié man se wonderwerke was eg. Dit het my regtig aangegryp. Ons groepie was heimlik trots op óns rabbi, want Hy was, om nou nie te oordryf nie, verreweg die beste van die lot.

Maar nou moet ek julle iets vertel. Na drie jaar saam met hom het ek ‘n bietjie ongemaklik begin voel. Ek het twee probleme met Jesus ontwikkel. Die eerste was ‘n godsdienstige probleem. Hy was ‘n bietjie te uitdagend na my sin, asof hy doelbewus die establishment wou ontstel. Eendag toe ons in Jerusalem was, loop ons by die tempel verby. Nou weet julle seker dat die Jode baie erg is oor hulle tempel. Ons glo God woon daar. En julle moes die tempel in Jerusalem gesien het! Ons het 400 jaar geneem om dit klaar te bou! Julle kan julle dus indink. Nou dié dag kom Jesus toe daar aan, en Hy sê: Sien julle die ou tempeltjie? Ek sê vir julle ek kan dit afbreek en in drie dae weer opbou. Nou, dit kon ek nie verstaan nie, want hy was nooit grootpraterig nie. Hoe ook al, die kerkleiers het Jesus se woorde as uittartend beskou en dit het hulle baie kwaad gemaak.

‘n Ander keer, op ‘n Saterdag, het Jesus sommer vir ons gesê: Luister, ek weet dis vandag die sabbat en die wet sê dat byna niks op dié dag gedoen mag word nie. Maar ons het darem lanklaas iets gehad om te eet, en hier is ons nou by ‘n koringland. Pluk maar vir ons ‘n gerfie koringare sodat ons ‘n brood kan bak. Nou ja, julle kan julle voorstel dat ons kerkleiers – die lede van die Joodse Raad, vroom manne wat elke voorskrif van die wet tot in die fynste besonderhede gehou het – ook nie vreeslik baie dáárvan gehou het nie.

Nog iets wat my ook erg gepla het,was dat hy met onrein mense omgegaan het! Hy het niks daarvan gedink om met hoere en sondaars en allerhande sulke mense sosiale kontak te hê nie. En hulle is glad nie in ons klas nie! Godsdienstig was dit totaal onaanvaarbaar.

So het dit gekom dat ek al meer besef het: Hier kom moeilikheid. Die Joodse Raad en die priesterhoofde en die skrifgeleerdes sou hierdie optrede van Jesus beslis nie veel langer duld nie. Veral toe hy op ‘n manier laat deurskemer dat hy ‘n spesiale gesant van God is. Glad geïnsinueer dat hy die Seun van God is! Jy kan jou tog indink dat so ‘n uitspraak vir die Jode godslasterlik was. Vir so ‘n oortreding was daar destyds die verskriklikste strawwe, en ék was sy volgeling. Julle verstaan my posisie? Nee, ek sê julle, ek het sommer geweet dinge gaan nie vir ons uitwerk nie.

Maar dit was nog nie al nie. Naas die godsdienstige probleem was die tweede groot probleem wat ek met hom gehad het, polities gewees. Julle moet onthou ons Jode wat in daardie tyd geleef het, het twee base gehad. Soos julle sal sê: ‘n tweevlakregering. Die eerste en hoogste regeringsvlak was die Romeine met hulle hoofstad in Rome, gelukkig ver van ons af. Maar hulle het al ons bewegings fyn dopgehou deur middel van ‘n Romeinse goewerneur, die plaaslike regeerder (in daardie tyd was dit Pilatus). En dan was daar die kerkleiers, die Joodse Raad, wat ook ‘n belangrike rol gespeel het, as’t ware ‘n tweedevlakregering.

Nou sal julle my dalk nie glo nie, maar Jesus was polities só naïef dat, toe hy sy intreepreek as rabbi lewer, toe sê hy: Ek kom ‘n ander koninkryk stig. Ongelooflik! Ek het my boeglam geskrik. Want as die Romeine dít moes hoor, was dit onmiddellik verby met ons. Daar was mos net een koninkryk, en dis die koninkryk van die keiser! Niemand anders sou toegelaat word om daarop aanspraak te maak nie. En daardie tyd het die Romeine juis die probleem gehad dat die Ryk so geweldig uitgebrei het dat dit al moeiliker geword het om die provinsies te beheer. Hulle was maar altyd op die uitkyk vir tekens van opstand en rebellie. En ‘n man wat praat van sy eie koninkryk stig, was sonder twyfel in vir moeilikheid.

Maar, die toppunt op hierdie politieke storie het gekom toe ons eendag weer oppad was na Jerusalem. Toe ons by die dorpie Betfage aankom (eintlik ‘n voorstad van Jerusalem), sê Jesus: Gaan reël julle vir my ‘n donkie waarop ek die stad kan binnery. Ons het almal besef – want ons het die OT goed geken – as jy op ‘n donkie Jerusalem inry, dan maak jy ‘n politieke statement. Ons het almal geweet in die boek Sagaria, in hoofstuk 9:9, staan daar: die Koning, die Messias sal op ‘n donkievul Jerusalem binnegaan. Dit het my van voor af doodsbenoud gemaak.

En toe gebeur dit ook… Toe Jesus op daai donkie die stad binnekom, toe gooi die mense hulle klere voor hom uit op die grond; hulle swaai palmtakke rond en hulle skreeu: “Hosanna, hier kom die Seun van Dawid!” En al waaraan ek die hele tyd kon dink, was: Wat gaan die Romeine hiervan sê? Hier kom groot probleme.

Maar snaaks, weet julle, op ‘n manier kon ek dit nog alles vat. Die laaste strooi was – as ek nou terugkyk oor my lewe – dat Jesus absoluut niks van geld gedink het nie. En vir my was dít baie belangrik. Só belangrik dat ek, as ek regtig eerlik moet wees, soms bietjie daarvan vir myself weggesit het. Laat ek julle vertel: Julle weet mos hy het sy vriend Lasarus uit die dood laat opstaan. Nou ja, voor ons die laaste keer Jerusalem toe is, het ons by hom en sy susters in Betanië gaan kuier. Maria en die ander klomp vrouens was die hele tyd al om hom. So halfpad deur ons kuier kom Maria toe met ‘n halwe liter baie duur Nardusolie na Hom toe… en sy gooi die hele fles net so oor hom uit! Oor sy hare en sy voete. Ek onthou nog hoe ontstellend lekker die hele huis geruik het. Dit was ‘n simboliese ding. En in ons tradisie was dit nie so vreemd om so iets te doen soos dit seker vir julle klink nie. Maar die absolute vermorsing! Ek was regtig diep ontsteld. Die olie was, in ons eenhede van destyds gereken, omtrent 300 silwermuntstukke werd. Julle rand se waarde wissl so baie dat ek nou nie weet hoeveel dit in julle terme is nie, maar ek kan julle sê dit was báie geld. Sommerso uitgemors. En moenie dink hy keer haar nie – moedig haar eerder aan!

Ek onthou dat ek vir myself gesê het: Hierdie man wat so godsdienstig rewolusionêr, en so polities naïef, en buitendien so absoluut onrealisties is oor geld – vir hom sal ek moet keer. Hy gaan moeilikheid maak vir ons almal as hy so aanhou. Veral vir die Joodse godsdiens. Julle moet weet, die Romeine het die gesag gehad om die kerk te sluit. Ek het net besluit as ek wou hê die sinagoges in die land moes oop bly, sou ek Jesus moes keer.

Ek het gevoel die verantwoordelikheid om hom te keer, lê by my, want, van al sy volgelinge was dit blykbaar net ék wat besef het dat hierdie een man die hele volk Israel se ondergang kon beteken. Want as die Jode opgesweep sou raak en hom wou koning maak, sou die Romeine ons kon straf deur ons godsdiens te onderdruk en, nog erger, dalk die hele volk uit te wis!

Daarom het ek begin om planne te beraam.

Die Joodse Raad was juis in sitting en ek het uitgevind dat hulle besluit het om Lasarus dood te maak. Want ná sy opstaan-storie het baie mense natuurlik in Jesus begin glo. Toe besluit die Raad om wéér vir Lasarus dood te maak. Vir Jesus self wou hulle op hierdie stadium nie openlik skade aandoen nie. Hy was te gewild onder die gewone mense. Dit kon ‘n oproer veroorsaak en die Romeine se aandag onnodig trek. Toe dink ek, miskien kan ek op ‘n manier deur middel van die Raad vir Jesus gekeer kry.

Ek sorg toe dat ek die vergadering bywoon, en daar sê ek vir die hoëpriesters en familiehoofde dat ek bereid is om aan hulle ‘n aanbod te maak. Ek sou hulle sê waar hulle Jesus ‘n bietjie weg van die openbare oog kan vastrek. Toe hulle wil weet wat my prys is vir so ‘n stukkie verraad, was my antwoord: Hoe lyk dit met ‘n down payment van so dertig silwermunte? As my werk klaar is, kan ons praat oor die res. Hulle stem in, en ek slaan ‘n yslike slag: soveel silwerstukke was omtrent gelykstaande aan ses maande se salaris!

Al moet ek dit self sê: my plan was briljant. Want julle sien, ek was nou ‘n informant vir die hoë kerkmense, die tweedevlakregering; maar terselfdertyd was ek ‘n staatsgetuie vir die eerstevlak- Romeinse regering. Dus: aan alle kante ge-cover. Ek skakel Jesus uit, die sinagoge bly staan, en die volk gaan aan. ‘n Fantastiese plan.

Verder het dinge toe só geloop: Die aand nadat die mense hulle klere so voor die donkie gegooi het met Jesus se intog in Jerusalem, het ek toe saam met Jesus en die elf ander dissipels die Joodse paasmaaltyd in Jerusalem geëet, soos dit ons tradisie was. Ek moes tog op ‘n manier die tyd omkry tot ek Jesus later in die aand aan die kerkleiers kon uitwys en oorlewer.

Maar weet julle, ek het die aand aan die tafel al besef: Jesus weet. En na so rukkie toe kom dit. Daar was ‘n stilte aan tafel en toe sê Hy: “Een van julle wat hier aan tafel is, gaan my vannag verraai.” Ek sien toe hoe ontsteld is die ander dissipels, en hoe por ou Petrus vir Johannes aan om te vra wié so iets sal doen? Ek het net doodstil bly sit. Jesus het nie ‘n ophef gemaak van die antwoord nie. Hy het net stil gesê: “Dit is die een vir wie ek ‘n stukkie brood wat ek in die sous ingesteek het, sal gee.”

Ek weet self nie hoekom die ander dissipels nooit opgemerk het dat dit ‘n rukkie later presies só gebeur het nie. Ek weet net dat hy dit heel onopsigtelik gedoen het. Toe hy met ‘n hand wat effens bewe die brokkie brood in my hand druk, het ek geweet hy wéét. Ek dink dis wat my die meeste ontstel het. Jule kan verstaan dat ek dit toe nie langer by hom kon uithou nie – en ek is daar uit, die nag in.

Wat kon ek doen? Die hele ding was dan toe al klaar beplan. Ek sou in verskriklike moeilikheid kom as ek tóé moes kop uittrek. Julle moet weet, dit was nie net met die manne van die tweedevlakregering – die invloedryke Joodse priesterhoofde – dat ek die ding gereël het nie; maar ook met ‘n klompie soldate – verteenwoordigers van die hoogste regeringsvlak. Ek het my plannetjies baie slim uitgewerk; heeltyd die twee lyne met mekaar laat saamloop. So slim dat dit onmoontlik was om daar uit te kom.

Die reëling was dat die manne wat Jesus in die geheim wou arresteer, my aan die oorkant van die Kidronspruit in die tuin van Getsemane moes ontmoet. ‘n Lekker afgesonderde plek waar die skares wat hom gevolg het, nie sou kon sien wat gebeur nie. Dit was ons dertien se gewoonte om daar saam te bid. Ek het natuurlik vooraf met hulle afgespreek: Kyk, dit sal donker wees daar in die tuin. Maar julle hoef julle nie te bekommer dat julle die verkeerde man sal vang nie. Ek sal die een wat julle soek, uitwys met ‘n soen. Ons ken mekaar goed. (Julle moet onthou in daardie tyd was dit die gewone manier van groet – ook tussen mans.)

So is ek toe later die nag saam met hulle na Getsemane toe. En Jesus-hulle was daar, net soos ek verwag het. En weet julle wat? Voor ons nog kon nader gaan, kom Jesus vanself vorentoe. Goeienaand, Rabbi, sê ek toe maar en half verleë omhels en soen ek hom. Maar toe gebeur daar nóg ‘n eienaardige ding: die soldate kon eenvoudig nie beweeg om aan hom te raak nie! Hulle het soos een man voor hom teruggedeins en party van die gewapende mans het glad op die grond neergeslaan. Dit was asof iets hulle net gekeer het. Maar toe ek hom ‘n tweede keer omhels, was dit asof hulle tot hulleself kom en kon doen waarvoor hulle gekom het: om hom in hegtenis te neem.

Die eerste plek waarheen hulle hom geneem het, was na die godsdientige regeerders, die hoëpriesters Annas en Kajafas. Dié het hom ‘n bietjie ondervra. Toe is hulle met hom daar weg na goewerneur Pilatus, die verteenwoodiger van die hoogste gesag: Rome. Dit was hier waar ek besef het sake loop nie soos ek dit beplan het nie. Of was ek dalk so selftevrede met my planne dat ek nooit die volle konsekwensies daarvan deurgedink het nie? Die feite is dat Pilatus toe met die voorstel van ‘n keuse kom – en die mense kies sowaar om Barabbas die moordenaar vry te stel en Jesus te laat kruisig! Tóé het ek besef nou het dinge te ver gegaan. ‘n Kruisdood vir Jesus was darem nie wat ek in gedagte gehad het nie.

Ek wou net so gou en so maklik moontlik uit hierdie ding uit loskom. Ek het met die 30 silwermuntstukke in my hand teruggehardloop na die pristerhoofde, en geskree: Luister, ek wil nou niks meer met hierdie storie te doen hê nie. Daardie man is onskuldig! Maar hulle het my net so koel staan en aankyk en gesê: ‘n Deal is ‘n deal. Dinge kan nou nie meer gekeer word nie. Dit is te laat.

Buite myself het ek die dertig munte gegryp en weggehardloop. Nie eens geweet waarheen nie. Toe ek weer sien, staan ek voor die tempel. Asof iets van God my na die tempel toe gedryf het. Ek smyt toe die geld by die deur in en storm daar weg. Maar dit het my niks beter laat voel nie. Iets in my het gebreek, sodat dit vir my gevoel het daar is niks anders vir my oor as om my eie lewe te neem nie…

En hoe ironies is die lewe tog nie. Die priesters het later daardie dertig silwermunte in die tempel gaan optel, en daarvan ‘n stuk grond by ‘n pottebakker gekoop. Hulle het dié gebruik vir ‘n begraafplaas vir mense wat nie Jode is nie. Daar het hulle my begrawe… ék wat my volk wou red, in ‘n begraafplaas vir vreemdelinge…

En nou sal julle seker wil weet of ek, as ek my lewe oor kon hê, weer dieselfde sou doen?

Al is dit vir my ‘n moeilike antwoord om te gee, wil ek graag eerlik wees. En dan moet ek sê: Ja. En elke keer as ek dit moet sê, is dit vir my swaar. Maar ek glo dat ék Jesus verraai het omdat ek die enigste eerlike dissipel was. Ek weet hoe die ander manne, Petrus en Johannes en Jakobus, se koppe gewerk het. Daarom het ek ‘n vermoede dat hulle maar net soos ek gevoel het, maar hulle het net nie die moed gehad om vir hom nee te sê nie. Daarom, as ek weer moes besluit, met die feite wat ek tot my beskikking gehad het, sou ek weer dieselfde gedoen het.

En dan draai dié vraag seker ook in julle kop: Judas as jy nou weer na Jesus se hele lewe kyk, is jy nie spyt oor wat jy gedoen het nie? Die antwoord is: Nee, ek is nie spyt nie, want vir sover ek tóé kon sien, was dit die enigste uitweg om die volk en die kerk te red.

Maar nou wil ek darem, voor ek groet, ook vir julle vra om my nie te kwaai te veroordeel nie. Onthou net in alle billikheid: daar is één ding wat julle weet, wat ek nooit geweet het nie. Dit is die een feit wat my daardie tyd waarskynlik van plan sou laat verander het: Ék het nooit geweet dat Jesus regtig uit die dood sou opstaan nie. Maar ek weet julle weet dit. En dit maak ‘n ewigheid se verskil.

Julle vriend en metgesel,

Judas Iskariot

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.

Markus 8:27-38 – 2015

1 Maart 2015 Lydenstyd
Prediker: Dr Tiana Bosman

Die gedeelte begin waar Jesus en sy dissipels na die dorpies naby Sesarea-Filippi gaan. Dit was ‘n heidense gebied waarbinne die Romeinse keiser geëer is (Sesarea is afgelei van Caesar). In die Romeinse wêreld was Caesar gesien as die politieke seun van God en name soos Seun van God, Verlosser en selfs God is aan hom toegeken. Diegene wat hulself in die gebied bevind het en nie aan die keiser die eer gegee het wat hom toekom nie, was met die dood strafbaar. Jy moes dus jou woorde tel, want jy weet nooit wie jou sou kon hoor nie.

Lees Markus 8:27-38

Vs 27: “Langs die pad” > “op die weg” na Jerusalem. Hierdie frase kom van nou af dikwels voor om Jesus se “op-weg-wees-na-Jerusalem”, sy eindbestemming, aan te dui. Hy beweeg nie nou meer net amper lukraak van plek tot plek om mense te leer en te genees nie. Daar is ‘n wending in sy bewegings, Hy het nou ‘n spesifieke doel voor oë, en daarvoor moet Hy na Jerusalem toe gaan. Hy wil graag sy dissipels met Hom saamneem op hierdie weg, vandaar dan sy vraag…

29: Petrus antwoord Hom baie gewaagd, inaggenome die gebied waarbinne hulle hul bevind…

Boodskap

Wat gaan hier aan? Hoekom lok Jesus die dissipels uit om te sê wie hulle dink Hy is, en wanneer Petrus dan letterlik sy eie lewe in gevaar stel deur vir die eerste keer ‘n bietjie insig te toon en reg te bely dat Jesus die Christus is, dan maak Jesus hom onmiddellik stil? Hoekom is Jesus nie eerder dankbaar omdat iemand uiteindelik iets begin verstaan van wie Hy is en waarom Hy gekom het?

Net nadat Jesus dan vir Petrus vermaan het om ‘n wag voor sy mond te sit, begin Hy die dissipels leer met die mees onvanpaste en verregaande lering waarvan hulle nog ooit gehoor het. Hy praat van Homself as die Seun van die mens wat baie moet ly, wat deur die leiers verwerp moet word en doodgemaak moet word, en drie dae later moet opstaan. Jesus is nie hier besig met ‘n gelykenis nie. Hy praat nie in raaisels nie, maar reguit met hulle. Dit is die eerste van drie kere dat Jesus sy dood en opstanding aankondig. Maar Petrus neem vir Jesus eenkant en berispe Hóm en probeer Hom stilmaak. Maar Jesus draai kom, kyk vir die dissipels, en berispe op sy beurt vir Petrus en maak hom kwaai stil met ‘n aanklag waarin Hy vir Petrus “Satan” noem!

So: Eerste vra Jesus vir die dissipels wie sê hulle is Hy. Toe Petrus, op die hoogtepunt van sy geestelike lewe, bely dat Jesus die Christus is – dit is die eerste keer dat hierdie belydenis in Markus gemaak word behalwe vir 1:1 wat as opskrif van die boek dien – toe maak Jesus hom stil en belet Hy die dissipels om vir enigiemand te vertel wat Petrus pas kwytgeraak het. Hierna noem Jesus Homself ook nie weer die Christus nie, maar Hy verwys na Homself as die Seun van die mens, en sê boon-op dat Hy baie moet ly en selfs doodgemaak moet word. Petrus is ontsteld dat Jesus so oor Homself praat en probeer Hom daarom stilkry. Maar Jesus vererg Hom en noem vir Petrus “Satan”. Hy maak hom met dieselfde woorde stil as wat Hy twee maal vantevore die demone stilgemaak het! Petrus wat met die beste bedoelings op aarde probeer om eenkant vir Jesus van hierdie “vreeslike dwaling” af te kry om ‘n lydende persoon te word. Wat gaan hier aan?

Ons het hier te make met een van die grootste misverstande, indien nie die heel grootste nie, van die Christelike geloof. ‘n Geloof wat voortvloei uit die Joodse geloof van die OT. Daar waar die volk twee maal in ballingskap weggevoer is, waar hulle alles verloor het – hulle mense, hul besittings asook hul identiteit – waar hulle onderdruk is deur die heersers en die magstrukture van die Babiloniese en die Persiese Ryk. Daar waar die profete opstaan uit die puin en die boodskap van hoop en bevryding begin verkondig. “Hou moed, hou uit, byt vas, in die lyn van Koning Dawid sal daar ‘n nuwe Koning kom, die Messias. Hy sal die verlossing bring. Hy sal ons vry maak. Hy sal op die troon sit en regeer. Hy sal ons volk herstel, en ons sal weer met hoop en vreugde kan leef.” Sedert die tyd van geweldige verliese en intense onderdrukking in die OT sien die volk met reikhalsende verlange uit na die dag waarop die belofte van die profete in vervulling sal gaan, die dag waarop die nuwe koning na vore sal tree, sy volk sal lei, en met militêre strategieë en geweld die Romeinse mag sal onttroon

Die Hebr woord wat in die OT gebruik is vir die koning wat sal kom is “Messias”. In die Grieks van die NT is dit “Christus”. Dit beteken “Gesalfde” of “Koning”. Wanneer Petrus dus bely dat Jesus die Christus is, sê hy hiermee dat Jesus die langverwagte Messias is, die Christus wat gekom het om die volk deur middel van ‘n politieke opstand te lei en te bevry. Petrus wil met sy belydenis sê dat die rewolusie op hande is.

Maar hiermee kan Jesus Homself nie vereenselwig nie. Dat Hy die Christus is, is waar, maar dat Hy die Christus is wat mense verwag het, dit is nie waar nie. En solank mense sy titel verkeerd gaan verstaan, kies Hy dat hulle dit nie moet gebruik nie. Daarom doen Hy weg met die titel “Christus” en noem Hy Homself eerder die “Seun van die mens”. Jesus is die enigste een wat herhaaldelik so na Homself verwys. En Hy begin dan die dissipels leer wat die titel “Seun van die mens” beteken. In híérdie titel lê sy roeping opgesluit, sy taak, die rede waarom Hy op weg is na Jerusalem: Hy sal baie moet ly, Hy sal verwerp word en Hy sal doodgemaak word. Niks sê dit beter as “Seun van die mens” nie – Seun van God wat volledig mens geword het, wat afsien van die beeld van heerlikheid en glorie wat mense vir Hom in gedagte het, wat nie gekom het om ander te laat ly en om die lewe te bring nie, maar om self te ly en te sterf. Hierdie roeping van Jesus is wel ook ‘n politieke roeping, dit is ‘n rewolusie, maar nie een wat gedryf word deur mag en geweld nie.

As Petrus Hom dan probeer stilmaak sien Jesus die werke van die duiwel in Petrus se gedagtes. Net voor Jesus sy openbare bediening begin het, het die duiwel Hom reeds in die woestyn versoek om van sy rol as lydende Messias af te sien. Die volgende aanval is deur Jesus se grootste vertroueling – Petrus. En die duiwel gebruik hom op die hoogtepunt van sy insig oor wie Jesus is! (Dis dalk ‘n goeie waarskuwing – mens se geestelike hoogtepunte is nie altyd die veiligste tye in jou lewe nie!) Die verskriklike is juis dat Petrus die regte belydenis oor Jesus kan uitspreek, maar steeds die perspektief van die Satan verteenwoordig! Jesus ontmasker die Satan wat nie dink aan wat God wil hê nie (‘n lydende Messias), maar aan wat die mense wil hê (‘n grote triomfantlike Messias!) Petrus se fantasieë van mag moet afgebreek word deur duidelike en helder realisme.

En toe roep Jesus die ander mense wat daar was nader, en Hy leer hulle saam met die dissipels wat dit hulle sal kos as hulle kies om agter Hom aan te stap as die Seun van die mens, en nie as die Messias soos hulle dit wil verstaan nie. (Nou gaan dit nie meer net oor Jesus was gaan sterf nie, maar ook oor diegene wat agter Hom aanstap!)

“As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg, want wie sy lewe vir homself wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe vir My en die evangelie verloor, sal dit behou.”

Om jouself te verloën – Dit gaan nie hier om die ontkenning van persoonlike ervaringe of jou eie unieke menswees of jou menslike regte nie. Dit gaan wel om ‘n roepe weg van ‘n selfgesentreerde lewe waar jy vir jouself die belangrikste persoon in die wêreld is, na ‘n lewe wat gerig word deur die liefde van God. ‘n Liefde wat in opstand kom teen onderdrukkende magstrukture en dit uitdaag, selfs (of juis omdat) al is jy nie die een wat onderdruk word nie.

Dit vra ‘n bereidwilligheid om agv hierdie radikale liefde jou kruis op te neem. In vandag se tyd en in ons samelewing hou die gedagte van die kruis vir ons geen bedreiging in nie. Eerder versiering – in die vorm van ‘n hangertjie om jou nek of ‘n armband of iets wat jy teen jou muur hang by die huis. Die slagspreuk van “elke huis het sy kruis” en daaronder gaan ons gebuk – dit het bygedra daartoe dat ons nie meer die radikaliteit van wat Jesus hier sê, verstaan nie. In Markus se tyd het kruisdra iets heeltemal anders beteken. Slawe en Jode was gekruisig om hulle te herinner aan hulle posisie in die samelewing. Die Jode was ‘n onderdrukte volk. Toe Markus sy evangelie geskryf het was daar ‘n Joodse opstand (teen die Romeinse regering) aan die broei, met die gevolg dat fisiese houtkruise algemeen voorgekom het. Dit was die wrede vorm van doodstraf wat deur die keiser opgelê is vir almal wat polities andersdenkend was – dus ook vir almal wat nie meer die keiser as God aanbid het nie, maar wat bereid is om te bely dat hierdie Jesus man die ware Messias is. Indien iemand tydens hul ondervraging deur die regering se veiligheidsmagte sou erken dat hulle hul vereenselwig met die heerskappy van God, is dit beskou as verraad en sou dit klagtes van opruiendheid meebring in ‘n wêreld waar Caesar alleen as heer erken mag word. Selfverloëning gaan dus om baie duur politieke keuses. Jesus roep ons tot ‘n bereidheid om tereggestel te word as dit is wat dit vra om sy heerskappy te bely in ‘n land of ‘n gebied waar ander heersers (skynbaar) die hef in die hand het. In die aanloop tot die opstand het die Joodse nasionaliste die volk aangemoedig om die swaard op te neem teen Rome. Hierteenoor kom Jesus met die radikale andersoortige roeping om die kruis op te neem. Om aktief bereid te wees daartoe, om aktief gereed te maak vir hierdie pad, op weg na Jerusalem, op weg na Golgota.

Ons moet versigtig wees om die kruise wat ons dra te vinnig te vergeestelik. Dit het eintlik niks met die geestelike te doen nie, maar alles met die werklike lewe – daar waar mense uitgebuit word, onderdruk word, verneder word, daar waar hulle van hul regte ontneem word, daar waar kinders se regte op veilige huise en opvoeding en onderrig hulle ontneem word, daar waar weerlose mense in vrees lewe omdat moordenaars en verkragters in die strate loop. Dit is om in opstand te kom teen alle magte wat in die weg staan van die heerskappy van God op aarde. Dit is om strukture wat ongeregtigheid in stand hou, aktief teen te staan en om nuwe strukture op te rig wat gebou is op geregtigheid en vrede en integriteit. Daar waar jy jou kruis opneem omdat jy glo in wat reg is, en omdat jy doen wat reg is, nie ter wille van jouself nie, maar ter wille van ander wat jou nodig het, ter wille van die koms van die koninkryk. Dit kan selfs beteken dat jy jou lewe verloor, maar dan nie omdat ander dit neem nie, maar omdat jy bewustelik bereid was om dit te gee. Om jou kruis om te neem is om bewustelik ‘n manier van lewe te kies wat riskant, gevaar en potensieel dodelik is… Soos Bonhoeffer, wie se gebed ons netnou gelees het. As vooraanstaande Duitse akademikus was hy in die posisie om veilig en gemaklik te leef, maar omdat hy opgestaan het vir wat reg is was hy lank in die tronk, is hy enkele dae voor die einde van WO2 aan die galg tereggestel, en is sy liggaam op ‘n hoop saam met ‘n klomp Joodse lyke brandgesteek. En voordat hy die trappies na die galg geklim het het hy gekniel en vir die laaste maal rustig tot God gebid. Hy kon dit doen want hy het vooraf geweet wat hy kies en waantoe dit hom kon neem. Die bekendste boek wat hy geskryf het, het immers die titel The Cost of Discipleship.

Elkeen wat op die wyse homself verloën, sy kruis opneem en vir Jesus volg, diegene wat bereid is om hul lewens vir Christus en die evangelie te verloor, dít is die mense wat op die ou-end hul lewe sal behou. Daarom kon Bonhoeffer voor sy teregstelling in sy laaste afskeidwoorde aan sy vriende sê: “This is the end, for me the beginning of life”. Daarom kon Jesus, die lydende Christus, aan die kruis net voordat hy sy laaste asemteug uitblaas, sy volvoering van sy roeping aankondig, die klimaks van sy aktiewe taak op aarde, die oorwinning in die oomblik van sy sterwe: “Dit is volbring.” Hy wás die Messias, die langverwagte Christus, die Koning wat sou kom. Hy was dit net heeltemal anders as wat die mense verwag het.

Practice what you preach. As jy vir Jesus as Christus bely, maak seker dat jy wéét wat jy sê. Hy het as die lydende Christus gekom. Dáárin lê sy aktiewe roeping. Ons wil onsself mos christene noem, afgelei van Christus. As jy nie werklik ‘n christen kan of wil wees nie, moet jouself nie so noem nie. Moet ook nie dan oor Christus praat asof jy Hom ken nie. So doen jy meer skade as goed.

Petrus, wat die dissipelkring verteenwoordig, het reg bely, maar verkeerd verstaan. En nadat Jesus hulle drie maal reguit geleer het van sy lyding het Petrus wel by die punt gekom waar hy in woord bereid was om homself te verloën (14:31). Maar toe die oomblik van waarheid aanbreek het sy moed hom begewe en ontken hy enige assosiasies met hierdie Jesus man.Die heel laaste woorde wat Petrus in die evangelie sê, is nie ‘n belydenis nie, maar ‘n eed van ontkenning en verwerping.

Wat wil jy glo oor Jesus? Want dit gaan bepaal hoe jy leef; waarvoor jy leef en vir W/wie jy leef … of sterf.

Wie, sê jy, is Hy?

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.