Miga 6:1-8 – 2017

29 Januarie 2017 Pinelands
Prediker: Dr Tiana Bosman 

Eendag lank, lank gelede het die mense aan die einde van die week ontspan en rondom die braaivleisvure dikwels die afgelope week se lot by mekaar bekla, gemurmer oor die daaglikse geswoeg en gesweet wat nooit tot ‘n einde kom nie. ‘n Priester is ook genooi en kla nog harder as die res – “Julle dink julle werk hard. My week kom nooit tot ‘n einde nie, want ek moet nog voorberei vir môre se diens!” ‘n Student wil sy rabbi beïndruk en gooi ‘n bietjie Skrif in die gesprek in: “Die Prediker berei ons mos hierop voor – ‘alles kom tot niks, alles kom tot niks…’” Een van die oudstes om die vuur maak keelskoon en vertel die volgende legende wat uit Mesopotamië kom, die streek wat hier aan die weste van hulle lê (Sumerië, Akkadië, Assirië, Babilonië): “Aan die begin was daar net gode en godinne op die aarde gewees. Hulle moes die lande bewerk, water aanlê na leidamme, gereeld onkruid uittrek, swoeg en sweet om ‘n bestaan te voer. Hulle het mettertyd begin murmer en mor oor hul alewige werkery en onderling gepraat oor wat hulle te doen staan. Hulle gaan soek toe advies by die god Enki, die Sumeriese skeppergod wat besig was om te slaap in sy onderwatertuiste. Enki stel voor dat hy skepsels – mense – sal maak met die doel om die gode te dien en die harde arbeid oor te neem. Dan sou die lewensgehalte van die gode en godinne aansienlik verbeter. Enki neem toe klei uit die omgewing van sy onderwatertuiste, maak mensefigure daarvan, en blaas lewensasem in elke figuur, maar hy het die lengte van die mense se lewens beperk. Net die gode sou vir ewig lewe. Die mense is onmiddellik in die werk gesteek. As die gode se dienaars moes hulle die lande bewerk, watervore aanlê en kos vir die gode voorberei en bedien. Met hulle harde werk het hulle lewe na die land gebring, en die gode en godinne, wat lewe aan die mense gegee het, was gelukkig.”

Na afloop van die storie is daar ‘n lang stilte om die vuur. Eindelaas sê een van die manne moedeloos: “Ons het so gehoop dat ons God, Yahweh, anders sou wees as die ander volke se gode, anders as Enki en Baäl en Astarte en noem maar op. Maar op die ou-end is hulle almal dieselfde. Alle mense is slawe van hul eie god/gode. Moses het gesê dat God ons sal red uit die mag en slawe-arbeid van die Egiptenare, maar kyk net waardeur het Hy ons alles gesit, kyk hoe het Hy ons deur die eeue afgesloof. Ons is nie vry nie, ons onderdrukker se naam het verander. Hy help ons nie eens meer om ons eie land te behou nie – die Mesopotamiërs is besig om ons van alle kante af in te val en oor te neem!”

Die aand kan die profeet Miga nie slaap nie. Hy rol rond in sy bed en dink na oor die gesprek rondom die vuur. In sy geestesoog sien hy ‘n hofgeding en die twee partye wat teenoor mekaar staan is ewe bekend aan hom: In die beskuldigde bank sit sy volk Israel, en die aanklaër is niemand anders nie as Yahweh.

Yahweh het ‘n appeltjie te skil met sy volk. Die Engelse “a bone to pick” klink eintlik soveel beter. Die berge en die heuwels word as getuies opgeroep because they have seen it all – hulle is getuies van die verhouding tussen God en sy volk deur die eeue heen.

6:1 Luister asseblief wat die Hére sê: “Staan op, stel jou saak vir die berge, laat die heuwels jou stem hoor.”

2 Luister, berge, na die saak van die Here, en die onverganklike fondamente van die aarde; want die Here het ‘n saak teen sy volk, en teen Israel sal Hy in ‘n strydgesprek tree.

God:

3 “My volk, wat het Ek aan jou gedoen? En hoe het Ek jou moeg gemaak? Antwoord vir My!

4 Het Ek jou dan nie uitgebring vanuit die land van Egipte nie; het Ek jou dan nie vanuit die huis van slawe verlos nie? Ek het vir Moses en Aäron en Miriam voor jou uit gestuur.

5 My volk, onthou asb wat Balak, koning van Moab, beplan het (sy bose planne), en wat Bileam, seun van Beor, hom geantwoord het. Vanaf Sittim na Gilgal, dit alles sodat julle die geregtigheid van die Here sal ken!”

Ons hele geskiedenis getuig van my bemoeienis met julle! Hoe kan julle My beskuldig? Hoe kan julle My vergelyk met die heidense heersers en afgode?

As reaksie op God se moedelose kreet lyk dit dan asof die volk tot insig kom, besef dat hulle nie die historiese feite van God se heilsdade kan betwis nie, en hulle vra hoe hulle die saak met die Here kan regstel. In daardie tyd, wanneer ‘n onderhorige koning of onderdane na ‘n rebellie teen sy opperheer tot oorgawe gedwing is, moes hy ‘n swaar prys betaal om die vorige verhouding reg te stel. Mens kon iedergeval nie in die teenwoordigheid van die heerser kom sonder ‘n geskenk in jou hand nie. Wat sal dit kos om hulle los te koop, om die boete te betaal sodat hulle nie tronk toe hoef te gaan nie?

Die volk:

6 “Met wat sal ek kom staan voor die Here, sal ek myself buig tot die God van die hoogtes? Sal ek kom staan voor Hom met brandoffers, met jaaroud kalwers?

7 Sal die Here gelukkig wees met ‘n duisend ramme, met tienduisende strome van olie? Moet ek Hom gee my eersgeborene vir my oortreding, die vrug van my liggaam vir die sonde van my siel?”

En deur die aanbied van offers word God nogmaals gelyksgestel aan die heidense gode. En word die gedagte versterk dat die volk iets moet gee, iets moet betaal, hoe groter hoe beter, om hulself los te koop uit hul skuld.

Miga:

8 “Hy het bekend gemaak vir jou, Mens (Adam), wat goed is. En wat anders is dit wat die Here van jou soek as om te doen wat reg is (bevorder geregtigheid), en om hesed (kindness to people) lief te hê en om nederig (of dalk aandagtig) te loop/wandel met jou God. (Niks anders nie as dit.)”

Miga weet dat God, anders as die heidense gode van die OT, nie kyk wat in ons hande is wanneer ons kerk toe kom of in ons kamers voor Hom stil word nie. Hy kyk wat in ons harte is en hoe dit in ons lewens tot uitdrukking kom. God vra nie in die eerste plek besittings en geld nie, Hy vra mense. En dit beteken dat Hy vra dat ons verhoudinge reg moet wees – ter wille van onsself en ons eie lewensvreugde en moontlikhede, ook ter wille van ons medemense. Daarom, wanneer die volk moedeloos wil weet “wat sal ons dan saamvat na die Here toe?,” dan lees ons in vers 8: “Mens, die Here het jou bekend gemaak wat goed is.” Dws “Jy weet alte goed wat vir My belangrik is. Julle is verhoudingswesens. Leef so dat jou verhoudinge gesond is.”

  • Bevorder geregtigheid. Dit beteken om in te tree vir diegene wat te na gekom word, om op te staan vir die waarop neergesien word. Jy mag net afkyk op iemand anders as jy besig is om hom/haar op te trek. Die Amerikaanse filosoof en politieke aktivis Cornel West: “Never forget that justice is what love looks like in public.”
  • Wees lief vir hesed, die liefde wat nie grense stel nie, ‘n liefde wat nie van mense (ontvangers) gevangenes of slawe maak nie, maar wat hul vry maak, ‘n liefde wat die beeld van God uitstraal, maar ook in ander na vore bring. Die Engelse woord “kindness” (the quality of being gentle and considerate, of caring for others; synonyms: kind-hearted, warm-hearted, tender-hearted).

Dalai Lama: “My religion is very simple. My religion is Kindness.”

  • Wandel>lewe in nederigheid (en aandagtig) saam met jou God.

Die afgelope naweek het die braaivleisvure weer hoog gebrand. Rondom die meeste daarvan is daar geen woord oor die gode, God of godsdiens gerep nie. Maar by sommige het die gesprek tog in daardie rigting geloop. Sommige NG predikante in die Wes-Kaap sou vir hulle vriende vertel van die brief uit die moderatuur wat ons die week ontvang het: “Die moderatuur van die Sinode van Wes-Kaapland versoek alle gemeentes in die sinodale gebied om Sondag 5 Februarie as ‘n dag van verootmoediging in te rig – met spesifieke verwysing na die buitengewone toestande in die natuur. Die versoek is om in al die gemeentes te bid vir reën in die droogte geteisterde dele van ons land, maar terselfdertyd ook die Here te dank vir die wyd verspreide reëns wat onlangs op verskeie plekke geval en selfs droogtes gebreek het. Verder word ook gevra dat gebid word vir die brandgeteisterde dele van ons streek, asook dele waar die brandrisiko hoog is.”

Ander sou dalk inhardloop en Ivor Price se artikel in Vrydag (27 Jan 2017) se Burger gaan haal om voor te lees: Opskrif: Kom kerk toe, bring net jou bankkaart:

“As ’n predikantskind was ek nog altyd gefassineer deur die sielkunde agter die kollektebord in Sondageredienste.

Vroeër jare, toe ek meer gereeld op die kerkbanke was, kon ek my verkyk aan al die mense wat bereid is om hul laaste vir die kerk te gee – hoopvol dat die poorte van die hemel ook eendag vir hulle oopgemaak sal word.

In my grootwordkerk was die gebruik dat gemeentelede vorentoe loop om hul offerande in die kollektebord te gaan gooi. Dit was meestal ’n gewyde oomblik, óf uit dankbaarheid vir al die seëninge wat reeds ontvang is óf in smeking en gebed dat daar uitkoms vir ’n benarde finansiële posisie sou wees.

Diegene wat niks gehad het om te gee nie, het maar aardig in die banke bly sit terwyl die res een vir een vorentoe geloop het om hul offerande te bring. ’n Keer of wat was dit my werk om die kollektebord vas te hou, en toe kon ek sien hoe die rykes dikwels ’n paar muntstukke in die bord gooi terwyl dié wat ’n sukkelbestaan voer, selde gehuiwer het om ’n volle tiende na die voorraadkamers te bring.

Onlangs beland ek vir ’n doopplegtigheid in ’n megakerk in Johannesburg. Dis so anders as die kerke uit my kinderjare; so ongelooflik groot, en die erediens is so perfek uitgevoer dat dit netsowel ’n pryswenner-teaterproduksie kon wees. Die diens is in nie minder nie as drie tale gehou. Al die gesange en lofliedere se woorde is op ’n PowerPoint-skerm vertoon, en rondom my het mense sommer die skriflesing op hul selfone “ge-Google”.

Ek’s so tipies Kraaifontein, het ek stilletjies vir myself gelag.

Ook niks gewoond nie, nè?

Dis egter met die offerandes dat my mond oopgehang het. ’n Kollektesakkie – so ontwerp dat nie eens ’n vinger daarin kan glip nie – is sommer so in die banke rondgeskuif, en verreweg die meeste mense het sommer van die kaartmasjiene gebruik gemaak. Terwyl die koor sing, is dié masjien van mens tot mens en bankkaart tot bankkaart rondgeskuif. Elkeen het sy eie bedrag en pin-kode ingetik, biddend dat hul geldsake, ondernemings, gesinsverhoudinge en gesondheid geseën sal word.

Is dit nou hoe ’n mens ’n megakerk bou? het ek agterna gedink. Waar lidmate en besoekers tipies net ’n paar rand (of, as die nood druk, ’n paar muntstukke!) in die kollektebord sou gooi, het die meeste nou ’n bietjie meer gegee. Van hulle het letterlik die beste uit hul oes gegee, wagtend op die Bybelse belofte dat hul skure oorvol sal wees.

Self het ek nie ’n probleem met die opneem van ’n kollekte nie. Ek besef maar al te goed dat ’n kerk sekere verpligtinge het wat nagekom moet word. Die ironie is egter dat die kerk hom daarop roem dat almal welkom is.

Toegang is dus gratis, maar jy beter jou bankkaart saambring want ’n kollekte word opgeneem.”

Iets ontbreek vir my in die versoek van die moderatuur. Ongedurigheid toe ek dit lees. Hoe belangrik die natuur ook al is, kan ons mos nie net dae van verootmoediging uitroep wanneer reën, droogte en brande die land verdrink, verdroog of verteer nie?! Waar was die dag van verootmoediging na die afgelope Buitengewone Algemene Sinode toe ons as kerk daarin misluk het om in kindness die hand uit te reik na die kroon van God se skepping, na mense wat na sy beeld geskep is en na wie toe ons die geleentheid gehad het om die hand uit te steek en hulle in te trek, maar toe het die kerk gekies om eerder daardie hand te gebruik om klappe uit te deel… Hoe kan ons offers van verootmoediging bring as ons nalaat om geregtigheid te bevorder en liefde uit te leef? God soek nie offers nie. Hy soek nie mense wat neerbuig as hulle nie ook bereid is om saam te loop nie.

Net so soek God nie ‘n gemeente waar die dienste so ingerig word dat mense in die verleentheid gestel word as hulle nie ‘n geldelike offer in hulle sak het nie. God en sy guns is nie te koop nie. Nie eens teen die hoogste prys nie.

Nou wat is dit dan wat Hy van ons wil hê!?! Mens, Hy het vir jou bekend gemaak wat goed is. En wat anders is dit wat die Here van jou soek as om te doen wat reg is (bevorder geregtigheid), en om hesed (kindness to people) lief te hê en om nederig te loop/wandel met jou God. (Nederig sluit in die wete dat jy nie beter is as ander mense nie, ook nie beter is omdat jy anders is as ander mense nie.)

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.