Nehemia 8:1-10

27 Januarie 2013 – Koninkrykstyd
Prediker: Dr Tiana Bosman

Agtergrond
Die Beloofde Land wat God aan die Israeliete gegee het, het bestaan uit twee gebiede. Die noordelike ryk, Israel, het in 722 vC onder die Assiriese mag tot ‘n val gekom. Dit was dan die jaar van die eerste ballingskap. Die suidelike ryk, Juda, waar Jerusalem en die tempel was, is egter eers 137 jaar later deur die Babiloniërs beset en heeltemal verwoes, met die gevolg dat die tweede ballingskap eers in 587 vC plaasgevind het. Die vernaamste en invloedrykste Jode is in verskillende fases na Babilonië gedeporteer. Onder hierdie mense was die koning, priesters, skrywers, wysgere en ander belangrike leiers en amptenare. Juda het offisieel ‘n provinsie van Babilonië en later van Persië geword. Groepies Joodse gemeenskappe het oral in die verwoeste land gevorm. Maar aangesien daar geen koning meer was nie en die leiers was weggevoer na Babilonië, het die agterblywende Jode baie swaargekry in hul soeke om hul eiesoortige identiteit en godsdiens te behou. Dis egter merkwaardig dat die Jode in die tuisland nie hul identiteit en godsdiens heeltemal verloor het nie. Die nedersettings was waarskynlik hulle behoud gewees. Omdat hulle in groepe saamgespan het, kon hul kultuur en hul herinneringe langer onder hulle voortleef en hulle help om nie alle hoop te verloor nie. En iewers het die belofte van die Dawidiese Messias wat gaan kom nog soms by hulle opgekom.

Op hierdie stadium was die Jode versprei deur die gebied van Juda, maar sommige was ook nog in Egipte en natuurlik die elite groep in Babilonië. Die in Babilonië het waarskynlik gemaklike lewens gelei te oordeel aan Jeremia 29:5-7: “Bou huise…, plant tuine…, trou…,” dws “maak julle tuis, skrop ‘n bietjie nes, want hier gaan julle lank moet bly.”

Toe, sowat 70 jaar na die val van Juda, neem koning Kores van Persië die Babiloniese ryk oor, en gee toestemming dat die Joodse elite wat hulself toe al in Babilonië gevestig het, kon terugkeer na hul eie land (sien proklamasie in Esra 1: 2-4). Van hulle was egter so goed “ingeskud” in die “nuwe land” met die andersoortige kultuur, dat hulle nie meer wou teruggaan nie. Veral nie na ‘n land waarvan daar na die oorlog niks meer oor was nie. Hulle het reeds in Babilonië oor begin, hoekom nou weer terugtrek en opnuut oor gaan begin? Tog was daar ook Jode in Babilonië vir wie die vaderland nog na aan die hart gelê het, Jode wat wou teruggaan, selfs al kos dit klippe kou en bakstene kap om van voor af die stad en die tempel te herbou. En stuk-stuk het groepies Jode na Israel en Juda toe begin terugtrek. Jesua gaan terug en onder sy leiding word die tempel herbou. Maar selfs met die heroprigting van die tempel het die volk se godsdiens gesukkel om weer op dreef te kom. Ten spyte van die uiterlike struktuur van die gebou was daar steeds iets wat geskort het.

Ongeveer ‘n honderd jaar nadat die eerste Jode begin terugkeer het na hul land gaan Esra en Nehemia ook terug. Twee belangrike manne, Esra ‘n skrifgeleerde uit die priesterstand, en Nehemia ‘n Joodse amptenaar wat intussen die nuwe koning van Persië (Artasasta) se skinker geword het. Esra gaan terug om die Jode in Jerusalem se godsdiensbeoefening te herorganiseer. Nehemia gaan terug om Jerusalem se muur te herbou (Neh 1). Artasasta stel hom aan as goewerneur in Jerusalem.
Die sewende maand het aangebreek en die Israeliete was oral in en om Jerusalem. Dit was hulle Nuwejaarsdag en in Levitikus (23:23) het God al vir Moses gesê dat hierdie dag ‘n rusdag moes wees, met ‘n heilige byeenkoms, ‘n erediens.
Die volk onthou nog hulle groot dae van lank gelede en vir die eerste keer vanaf die ballingskap kom almal weer saam in Jerusalem om kerk te hou…

Skriflesing: Nehemia 8: 1-10
Vs 2: voor d Waterpoort – sodat almal ingesluit kon wees, ook die vrouens en die kinders (wat nie in die tempel toegelaat was nie)
wetboek = Pentateug, 1e 5 boeke vd OT (Gen-Deut), hulle Bybel. Meeste daarvan is eers tydens die ballingskap op skrif gestel.

Boodskap
Na verloop van soveel jare waarin die volk ervaar het dat hulle álles verloor het, kom hulle vir die eerste keer weer as volk bymekaar op hul Nuwejaarsdag om kerk te hou. Dinge het stadig maar seker weer in plek begin val. Belangrike leiersfigure het teruggekeer na Juda. Jesua en sy helpers het die tempel herbou. Esra het sy godsdienstige taak opgeneem. Nehemia en sy helpers het die muur rondom die stad herbou. Die volk het ‘n begeerte om gesamentlik ‘n erediens te hou. Dit is opvallend dat dit vir hulle so belangrik was dat almal by die diens teenwoordig moes wees, dat hulle nie by die tempel bymekaargekom het nie, maar buite op die plein voor die Waterpoort. Want by die tempel sou die vrouens en die kinders uitgesluit wees. Dit is verder opvallend dat Esra, die skrifgeleerde (die ds) nie die volk opgeroep het na die diens toe nie. Nee, die volk het hóm opgeroep om vir hulle in ‘n diens te kom lei. Hulle was dus daar omdat hulle wou, nie omdat hulle moes nie. Hulle het sover gegaan om ‘n kansel uit hout te bou vir die geleentheid. En hulle belangrikste versoek aan Esra was dat hy die wetboek van Moses na die diens toe moes bring – die wetboek waarin die bevele van die Here aan Israel opgeteken is. Die wetboek waarvan hulle die inhoud deur eeue heen mondelings oorgedra het, maar wat nou tydens die ballingskap op skrif gestel was. Vir die eerste keer het hulle ‘n boek, ‘n Bybel!

Elkeen wat kon verstaan was by die diens gewees (4). En Esra het uit die wetboek vir hulle voorgelees vanaf ligdag af tot in die middel van die dag. Hy het gelees ten aanhore van elkeen wat kon verstaan. En letterlik staan daar “die volk se ore was in die rigting van die wetboek” – hulle volle aandag was daar. Aan weerskante van Esra het daar mans gestaan. Hulle was waarskynlik iets soos die ouderlinge in die gemeente. Toe Esra die wetboek oopmaak het die hele gemeente spontaan opgestaan. Esra het die Here, die grote God, geprys en die hele gemeente het met hulle hande omhoog geantwoord: “Amen, amen.” Hulle het gekniel en diep voor die Here gebuig. Die Leviete wat uit die priesterstand was het die weboek waaruit Esra gelees het aan die gemeente verduidelik, letterlik “verstaanbaar gemaak”. Hulle het self ook uit die boek voorgelees en dit uitgelê. Hulle het die betekenis weergegee sodat die mense kon verstaan wat gelees word. Herhaaldelik word die woordjie “om te verstaan” in hierdie gedeelte gebruik.
Aan die einde van die diens het Nehemia, Esra en die Leviete wat die gemeente onderrig het, vir hulle gesê dat die dag aan die Here gewy word, dws dit is ‘n heilige dag. En hulle het die gemeente getroos omdat die mense gehuil het by die aanhoor van die wet.

Wat sê ‘n mens oor hierdie gebeurtenis? Daar is eintlik nie veel oor geskryf buiten wat ons hier in Nehemia self het nie. Inteendeel. Maar ‘n paar goed staan tog sterk uit, en alhoewel ons nie inhoudelik vreeslik diep dinge hier leer nie, dink ek tog as ons werklik verstaan (!) wat daar gebeur het, dan hoort die verhaal iets aan ons te dóén.

Onthou die konteks. Vir baie lank was die volk in sak en as, en sonder enige struktuur aan hul godsdiens. Die godsdienstige leiers was saam met die die res van die leiers gedeporteer. Nou het die volk ‘n kans op ‘n nuwe begin, die oorheersende Persiese mag is die volk goedgesind, leiers het teruggekom, die tempel en die muur is herbou, daar is weer rede vir hoop, die Nuwejaarsdag breek aan, en die volk onthou hoedat dit altyd ‘n heilige dag was – ‘n dag van rus en van kerkhou. En hulle honger weer na ‘n ware erediens, ‘n diens waar almal welkom is. Die volk self neem die inisiatief vir hierdie diens, hulle bou ‘n kansel en hulle vra vir Esra die skrifgeleerde om uit die wetboek vir hulle te kom voorlees. Dus: die volk het ‘n intense behoefte gehad aan ‘n erediens. Hulle het nie maar net kerk toe gekom uit gewoonte of omdat hulle moes nie.

Toe Esra die wetboek oopmaak het die hele gemeente opgestaan. Esra het die Here geprys en die gemeente het met hulle hande omhoog geantwoord: “Amen, amen.” Hulle was gevul met ‘n diepe dankbaarheid, en as ons die geskiedenis in ag neem, dan kan ons dit tog verstaan. God kom met hulle oor begin. Daar is rede vir lofprysing. Soos daar ook rede was vir aanbidding. Almal het gekniel en diep voor die Here gebuig.

Die belangrikste element in die diens was die Skriflesing en die uitleg daarvan. Die hele rede waarom Esra deur die gemeente gevra is om te kom, was om vir hulle uit die wetboek te kom voorlees. En herhaaldelik word daar klem op die sentraliteit van die boek geplaas. Vanaf ligdag tot in die middel van die dag het Esra gelees en het die gemeente aandagtig geluister. Hierna het die Leviete alles wat gelees is aan die gemeente verduidelik, sodat almal kon verstaan. Verstaan – die woord waarom die hele gebeurtenis gebou is: die belangrikheid daarvan dat die gemeente na afloop van die erediens die Woord van God sou hoor en sal verstáán. Die volk was honger na die Woord van God – hulle wou graag daaruit leer. Ons sal onthou dat die Bybel ook integraal deel is van ons eie gereformeerde identiteit. Dit is immers een van die sola’s wat ons onderskryf: Sola Scriptura; alleen maar die Woord van God. God en sy Woord moet sentraal staan in die erediens. Al die ander elemente van die diens word ingerig rondom en wys heen na die Woord.

Wanneer die gemeente dan die Woord en die uitleg daarvan hoor, werklik hóór, dan dryf dit hulle tot lofprysing en aanbidding, en beweeg dit hulle tot trane. Mens kan nie die Woord van God werklik hoor en nie daardeur geraak word nie. Dan het jy nie regtig geluister nie. As jy dieselfde by ‘n diens uitstap as wat jy ingestap het, dan wil ek dit amper waag om te sê het jy tevergeefs gekom. Dan het jy nie werklik geluister nie, jou ore was na die verkeerde dinge gedraai, jy het kom tydmors. Die aanhoor van die boek dryf die volk tot trane. Aan die een kant trane van dankbaarheid by die aanhoor van hul geskiedenis, die herinnering aan die magtige reddingsdade van God wat Homself aan hulle verbind het deur sy verbond, die God wat van die begin van die tye af met hulle was, die Een wat hulle uit slawerny bevry het en saam met hulle deur die woestyn getrek het, wat hulle gevoed het en hulle dors geles het, die Een wat keer of keer teruggekom het selfs al het hulle verkeerd gedoen, selfs al het hulle dikwels hul rug op Hom gedraai en hulle met afgode besig gehou. Trane van dankbaarheid oor die onverdiende nuwe begin wat God na die ballingskap moontlik maak.

Aan die ander kant trane weens hul skuldbesef. By die aanhoor van hul geskiedenis word hulle telkens herinner aan hul hardkoppigheid, ongehoorsaamheid en sonde. Hulle afvalligheid en al die afdraaipaaie wat hulle geneem het. Duur lesse wat hulle geleer het. Hulle hoor die 10 Gebooie en die voorskrifte in Levitikus en hulle onthou hoe hulle dit verontagsaam het. Hulle besef nogmaals dat hulle die ballingskap oor hulself gebring het. En hulle kom tot inkeer, hulle het berou, hulle huil. Die Skriflesing beweeg hulle tot opregte skuldbesef en verootmoediging. So intens dat Nehemai en Esra en die Leviete hulle troos: “Moenie treurig wees nie, moenie huil nie.” Hulle was immers op die vooraand van die huttefees – dis tyd om te lag en fees te vier uit dankbaarheid teenoor die Here. “Hierdie dag word gewy aan ons Here. Moenie bedroef wees nie; as julle die Here met blydskap dien, sal Hy julle beskerm.” En die Leviete het die mense gekalmeer met die woord: “Wees rustig.”

Die gemeente het na afloop van die diens uitgegaan en die volgende dag het die familiehoofde van die hele gemeente en die priesters en die Leviete by Esra die skrifgeleerde bymekaargekom om die inhoud van die wet verder te bestudeer. Hierna het hulle uitgegaan na die huttefees. Maar die diens was nie vergete nie. Hulle is aangespreek deur die boodskap van hul Bybel, hulle is verander – hulle is so diep getref daardeur dat hulle na die huttefees ‘n vasdag uitgeroep het (hfst 9). Hulle het rouklere aangetrek en grond op hulle koppe gesit. En hulle het hulle eie sondes en die sondes van hul voorgeslagte bely en skriftelik onderneem om hulself opnuut aan die Here toe te wy (hfst 10).

Die aanhoor van die Woord en die uitleg daarvan in die erediens was bepalend vir die volk, die gemeente, se lewe daarna. Die Woord het hulle gedryf tot lofprysing (hande in die lug), tot bevestigende woorde op hul lippe (“Amen, amen”) tot ware aanbidding (gekniel en vooroor gebuig op die grond), tot dankbaarheid en tot egte skuldbesef en berou.
Weet ons nog vandag werklik waarmee ons besig is wanneer ons kerkhou?
Kom ons omdat ons wíl, of omdat ons voel dat ons moet?
Luister ons aandagtig na die Bybel en die lering daarvan?
Ervaar ons die teenwoordigheid van God self in die diens?
Beweeg dit nog iets binne-in ons?
Noop dit ons tot dankbaarheid?
Bring dit ons by ware skuldbesef en belydenis?
Ervaar ons werklik verlossing wanneer ons vir God deur sy Woord in die erediens ontmoet?
Het iets vandag in jou gebeur, of is hierdie heilige dag eintlik maar net soos enige ander dag van die week, en die erediens dalk maar net soos om ‘n uur voor die TV te verwyl? In kort: doen die erediens dit nog vir jou…

 Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.