Johannes 19:16-30 & Psalm 22:1-20

19 April 2019

Goeie Vrydag
Prediker: Ds. Helgard Pretorius

Ons is almal die afgelope geskok gewees om te sien hoe die Notre Dame, die pragtige ou Gotiese Katedraal wat sedert die 13de eeu so onwrikbaar in die hart van Parys staan, afgebrand het.

Gelukkig was daar baie van die katedraal wat nie beskadig was nie. Baie mense was byvoorbeeld opgewonde oor die feit dat die kruis wat by die altaar gestaan het die brand blykbaar skotvry oorleef het.

Vir baie Christene het dit simboliese betekenis gehad omdat die kruis natuurlik vir ons ’n teken is van ons versoening met God; ’n simbool van God se oorwinning oor die dood en oor sonde. Daarom is daar ’n kruis in amper elke plek van Christelike aanbidding.

In die wêreld waarin die Christelike geloof begin het, sou ’n aanbiddingsplek egter die laaste plek gewees het waar jy ’n kruis sou verwag het, of waar jy enigsins ’n kruis wou gesien het.

Al manier waarop ons ’n gevoel kan begin kry van wat die kruis in daai wêreld vir iemand sou gesimboliseer het, is om te verbeel dat jy in ’n kerk instap en voor by die altaar ’n groot afbeelding van ’n elektriese stoel of ’n guillotine gesien het.

Die kruis was ’n teken van lyding, vernedering en skaamte.

Ons voorlesings vanoggend illustreer dit duidelik vir ons.

Die teks uit Johannes laat sien vir ons een lang spektakel waardeer iemand ont-mens word.

Mens kan verstaan waarom die woorde van Psalm 22 by Jesus opgekom het toe hy gestroop van alle waardigheid aan die kruis hang. Dit is ’n tiepe marteling wat jou helemaal verwyder van God en mens laat voel:

“My God, my God, waarom het u my verlaat?”

“Maar ek is ’n wurm en nie ’n mens nie,
bespot deur mense, verag deur die volk.”

Toe Jesus ’n klein seuntjie was, was daar glo ’n opstand in Galilea gewees wat op ’n brutale manier deur die Romeine stilgemaak was. Daar was glo duisende kruise langs die paaie in Galilea. Die kruis was ’n simbool van ’n magtige wêreld-ryk en ’n kragtige herinnering aan almal dat hulle lewens in die hande van die Romeinse ryk was. In daardie dae sou jy gereeld kruise langs die pad of buite ’n dorp of stad gewaar het, maar verseker nie in ’n plek van aanbidding, soos in ’n kerk nie.

Waarom sit ons met as die kern van ons verbeelding?

Hoe kan ons dan, as Christene, so ’n instrument van marteling en vrees en moord gebruik as ’n teken van ons verlossing van die dood en van sonde; ’n simbool van God se nuwe skepping?

Hoe kan ons op ’n sekere Vrydag elke jaar Jesus se kruisdood onthou en daardie dag dan ‘goed’ noem?

Hoekom is vandag Goeie Vrydag?

***

Dit is nie so maklik om ’n antwoord op hierdie vrae te gee nie.

Een rede hoekom dit moeilik is, is omdat Jesus se kruisdood en die Christelike verkondiging daaroor, ten diepste ’n geheimenis bly. Dit bly ’n misterie dat God se oorwinning bereik word deur wat vanuit ’n menslike perspektief net as ’n verskriklike nederlaag gesien kan word.

Om te sê dat die betekenis van die kruis ’n misterie is, is om te sê dat dit meer is as ’n probleem. Om ’n probleem te verstaan – soos, byvoorbeeld, ’n wiskundige probleem – moet ’n mens dit oplos. ’n Misterie kan ’n mens egter nie oplos nie. Om ’n misterie te verstaan moet ’n mens daaraan deelneem, moet ’n mens in die geheimenis intree.

Goeie Vrydag is ’n misterie waaraan ons jaar na jaar deelneem, ’n verhaal waarvan ons deel raak, waarin ons self ook van die hoof karakters moet word. Soos wat ons daardie pad stap, en toelaat dat ons in daardie verhaal opgeneem word, begin die betekenis daarvan stadig maar seker in ons lewens ontvou.

Jaar na jaar kom ons, al hoe nader aan Paasfees, en dan ontdek ons – tot ons ontsteltenis – jaar na jaar, dat ons nie by Sondag se viering kan uitkom, sonder om eers deur die donker nag van Jesus se lyding en die eensaamheid en verlatenheid van die kruis deur te gaan nie.

Dis een rede hoekom dit nie maklik is om te sê hoekom Goeie Vrydag ‘goed’ is nie. Soos enige verhaal, soos enige geheimenis is dit so ryk aan betekenis dat dit moeilik is om dit te verduidelik. Mens moet eenvoudig daaraan deelneem, in navolging van Jesus, in gehoorsaamheid en in geloof.

As jy dus vanoggend hier sit en worstel met die betekenis van Goeie Vrydag . . . as die kruis jou ontstel . . . moenie besorg wees oor jou besorgdheid nie, dit is deel van die reis, dit is deel van die geheimenis. Om daaraan deel te neem, dit is God se belofte, is lewegewend; dit maak mens vry.

Daar is egter ’n tweede rede hoekom dit nie maklik is nie.

Die oudste uitbeelding van Jesus se kruisdood waarvan ons weet is te vinde in Rome, in wat eens ’n keiserlike paleis was. Daar teen ’n muur is daar ’n merkwaardige prent uitgekrap teen ’n muur. Dit is van die 2de eeu na Christus.

’n Esel hang – soos ’n mens – oopgespalk aan ’n kruis, met ’n groot esel-kop eenkant toe gedraai. Skuins voor die gekruisigde esel staan iemand daarna en opkyk. Sy linkerarm en -hand gelig in ’n groet of gebed. Dwarsoor die uitbeelding is in groot letters uitgekrap: Aleksomenos aanbid sy God.

Niemand weet presies wie dit geteken het, of hoekom nie, maar een moontlike verklaring is dat Aleksamenos ’n slaaf was wat in die paleis gewerk het. Aleksamenos was ’n Christen; en hierdie feit het duidelik groot afsku en irritasie by een van sy mede slawe verwek. Genoeg vir hom om die moeite te doen om hierdie spotprent teen die muur uit te krap.

Dirkie Smit som die houding op wat die graffiti-kunstenaar waarskynlik teenoor sy ‘vriend’ Aleksamenos gekoester het:

“Om voor ’n kruis te staan en aanbid is dwaas en aanstootlik. Sulke mense aanbid ’n esel. Want net ’n stomme, redelose, magtelose esel sal hom laat uitklee aan ’n kruis. Nie ’n god nie. Want ’n god – net die naam sê dit tog al – het te make met grootheid, met mag en heerskappy, met prag en praal. In ‘god’ hoor ’n mens tog genot, voorspoed en sukses, welvaart en seën, heerlikheid en eer. Wie voor ’n kruis staan en aanbid, aanbid ’n stomme esel, en is daarom self ook esels. Bespotlik. Gek. Soos Aleksamenos, die dwaas. Kyk net!”

Die tweede rede waarom dit moeilik is om die ‘goeie’ in Goeie Vrydag te sien, het te make met die menslike hart. Dit het te make met my eie hart. Ek wil nie aan ’n gekruisigde god glo nie.

Ja, ek is Aleksamenos, die dwaas wat 2000 jaar later nog voor ’n kruis staan en aanbid, maar iewers in my hart hoor ek ook sy vriend se stem. Ek wil eerder in ’n sterk en groot en voorspoedige god glo. My lewe getuig daarvan. My keuses en prioriteite sê dit, al bely ek iets anders op ‘n Sondag. My aanbidding is halfhartig. My geloof is wankelend. Ek is nie altyd daarvan oortuig dat wat ons hierdie Vrydag herdenk en vier ‘goed’ is nie.

Daarom is Goeie Vrydag, hoewel ons dit ‘goed’ noem, ’n dag van verootmoediging en skuldbelydenis, ’n dag waarop ons met die gekruisigde God worstel en ons harte voor God blootlê.

Dit is deel van wat dit beteken om voor ’n kruis te staan en aanbid. Soos ons vroeër gesing het:

O Liefde, ek aanskou in al u wonde
die vloek van sonde!

U lyding breek my trotse hart en rede;
dit buig my neer, en skep in my u vrede;

Die kruis ontbloot die diepte van ons vaskleef aan mag eerder as liefde, aan welvaart eerder as barmhartigheid, aan sekuriteit eerder as vryheid. Die vrede van die kruis kom eers nadat dit my trotse hart en rede gebreek het. Dan eers begin ek sien hoe die kruis ’n teken is van God se liefde.

***

Hoe is die kruis ’n teken van God se liefde?

Ons het iets hiervan gesien toe ons gisteraand Lukas se weergawe van die kruisiging gelees het. Soos Jesus gekruisig word, sê hy: “Vader, vergewe hulle.”

Ons Johannes-teks gee vir ons nog ’n voorbeeld hiervan. Ons sien hoe Jesus in sy oomblik van verlatenheid, reeds besig is om sy belofte na te kom. Hy het mos belowe dat hy gaan om ’n plek gereed te maak, en hier, waar dit lyk of die dood besig is om te seëvier, kom hy sy belofte steeds na:

“Toe Jesus sy moeder sien, asook die dissipel vir wie Hy lief was wat by haar staan, sê Hy vir sy moeder: “Vrou, kyk, daar is u seun!” Daarna sê Hy vir die dissipel: “Kyk, daar is jou moeder!” En van daardie oomblik af het die dissipel haar in sy huis geneem.”

Die Jesus wat aan ’n kruis sterf is absoluut konsekwent met die Jesus wat ons leer ken het in die evangelies.

Jesus vertoon vir ons ’n goddelike liefde wat nie deur geweld oorwin kan word nie. Ons doen ons ergste, en selfs dit kan nie vir God afsit nie. Ons verraai, verloën, veroordeel en vermoor die een wat die liefde van God in woord en daad vergestalt; maar daardie liefde hou aan om te doen wat dit nog altyd gedoen het: dit versoen, dit genees, dit bevry, dit vergewe, dit verwelkom.

Soos Jesus in Johannes 12 gesê het, wanneer ek verhoog gaan word, sal ek alle mense na my toe trek. Jesus se kruisiging is ook sy verhoging, sy verheerliking, want daardeur vertoon hy die heerlikheid van God. God se versoenende liefde wat alle mense, selfs in ons vyandigheid, na hom te trek.

So is die kruis ’n simbool van die vryheid van God se liefde. ’n Liefde wat vry is van sonde en vrees en die dood. Hier is ’n God wie se houding teenoor ons nie verander kan word deur wat ons doen nie. As God wil liefhê en vergewe, gaan God dit doen, of ons daarvan hou of nie.

Dit is nie hoe ons is nie. Ons liefde is gebonde aan ’n tiepe emosionele ekonomie waarin ons sê: Ek sal jou vriend wees, as jy my vriend is. As jy my sleg behandel, sal ek jou sleg behandel. Anders as óns liefde, wat gebonde is aan sulke eindelose, dodelike, tit-for-tat siklusse, is God se liefde vry van geweld en vergelding.

Daarom lyk dit, vanuit ’n wêreldse perspektief, na ’n nederlaag. Tog is dit God se oorwinning, want die liefde wyer om te dwing, dit wyer om te oorheers en te manipuleer nie. Dit bly doen wat dit doen, al doen ons ons beste om dit te stil. Dít is die krag van God. Dit is die aantrekkingskrag van God se liefde wat alle mense na Jesus toe trek.

Sy liefde is altyd sterker as ons gruwelikste pogings om dit stil te maak. Ook in ons eie harte. Sy liefde oorstyg my ongeloof, dit oorstyg my twyfel, dit oorstyg my vrees; dit is dieper as my haat, wyer as my selfsug, dit omvou my moedeloosheid, dit hou my vas in my verdriet.

Psalm 32 – 2015

5 Julie 2015 Pinelands (Koninkrykstyd)
Prediker: Dr Tiana Bosman 

Sonde is ‘n woord wat uit die mode geraak het. Min mense gebruik dit nog. Sommige sielkundiges sal sê dat die hele pratery oor sonde skadelik is vir die mens se gees. Dis nie opbouend vir ons menswees nie. Ons voed die skuldkomplekse van mense, word gesê. So is dit nie net in die samelewing nie, maar ook in die kerk. Gelowiges praat nie graag oor hulle sonde nie, en word maklik kwaad as die dominee daaroor preek. Dit is dikwels maklik om oor ander se sondes te praat, maar oor my eie swyg ek liewer. Ons steek dit weg. Ons wil nie hê dat mense daarvan moet weet nie. Bang dit sal ons reputasies skaad. Ons vrees dalk dat die Here ons ook sal vewerp.

Dit was nie altyd so nie. Daar was ‘n tyd toe daar binne die kerk baie oor sonde gepraat is. Die teoloog Van Ruler het gesê dat dit een van die redes is om kerk toe te gaan – sodat ons oor die sonde kan praat. Hy sê verder dat dit natuurlik nie al is waaroor dit in die kerk gaan nie. Inteendeel!, sê hy, die sonde is nie naastenby so belangrik soos die meeste ander sake waaroor ons in die kerk praat nie. Maar ons moet ook oor die sonde praat. Nie sodat ons daardeur verswelg kan word nie, maar sodat ons daarvan vrygemaak kan word.

Ps 32 is ‘n danklied. Die digter begin en eindig sy lied met uitroepe van vreugde! “Dit gaan goed” wat beteken “gelukkig” of “geseënd” en in die laaste vers “verbly, juig, jubel!”. Hoekom so gelukkig? Wat het dan gebeur? Die digter het die vergifnis van sonde ervaar. In sy lofkrete van verse 1 en 2 gebruik hy 3 verskillende woorde vir sonde. Hierdeur wil hy vir ons sê dat AL sy sonde vergewe is.

Hy was nie altyd so gelukkig gewees nie. Daar was ‘n tyd in sy lewe toe hy baie swaar gekry het. Hy dink terug en erken dat dit die tyd was toe hy oor sy sonde geswyg het. Toe hy nie bereid was om dit by die naam te noem en te bely nie. Sy liggaam het uitgeteer en oud geword en letterlik staan daar hy het heeldag gebrul soos ‘n leeu. Moontlik van pyn. Die digter het geweldige fisiese agteruitgang beleef omdat hy stilgebly het oor sy sonde. Verder sê hy dat God se hand dag en nag swaar op hom gerus het, sy krag het opgedroog soos water in somerhitte. Die slim mense skryf dat dit hier gaan oor fisiese en emosionele agteruitgang, oor die psalmis se verlies van sy hele lewensraamwerk. Ons kan amper sê sy lewe het in duie gestort. Hy het iets ervaar van wat die digteres Maya Angelou omskryf wanneer sy sê: “Daar is geen groter pyn as om ‘n verhaal in jou rond te dra wat jy nie kan oorvertel nie”.

Is dit nie met ons ook maar net so nie? Ons doen iets verkeerd of ons sê iets wat ons weet verkeerd is en dan bly ons stil daaroor. Dikwels in skaamte oor wat ons gedoen of gesê het. Nie net voor God nie maar ook voor mekaar. Is dit nie so dat ons dikwels die mense wat die naaste aan ons is die meeste te nakom nie? Bv binne ons huwelike, ons gesinne, in ons verhoudinge met ons naaste vriende. Ek tree dalk verkeerd op en doen of sê iets wat my man of my kind seermaak. Dan is ek skaam daaroor, of soms bloot net moedswillig, en ek weier om berou te betoon en ekskuus te sê. En daar kom ‘n wig tussen ons wat net al groter en groter word. Die persoon het my dalk al selfs lankal vergewe, maar steeds, solank ek nie bereid is om my sonde by die naam te noem en opreg jammer te sê daaroor nie, kan ons verhouding nie werklik verder groei nie.

So is dit ook in ons verhouding met God. Daar is ‘n onlosmaaklike band tussen sonde-erkenning, skuldbelydenis en vergifnis. Nie dat God ons slegs kan vergewe as ons ons sondes bely nie. Hy is veel groter as dit. Hy kan ons vergewe selfs al bely ons nie ons sondes nie. (vgl Loflied 190:2). Maar ons is nie in staat om sy vergifnis te ontvang en te ervaar voordat ons dit nie bely nie. Die psalmis het dit besef. Toe dit met hom op sy slegste gaan het hy sy skanse laat sak en sy sonde voor God bely. Sy belydenis was nie ‘n ligte of vinnige saak nie. Weereens gebruik hy al 3 Hebreeuse begrippe vir die woord sonde – die 3 begrippe wat gesamentlik die ganse omvang van ons sondige natuur vervat. Die Ou vertaling praat van “sonde”, “ongeregtigheid” en “oortredinge”. Wanneer ons die betekenis van hierdie 3 woorde nagaan verwys dit na:

  • Rebelsheid teenoor God, om in opstand te kom teenoor God. Dalk omdat ons nie saamstem met die pad wat Hy vir ons oopmaak of die dinge wat oor ons pad kom nie. Dan blameer ons God daarvoor.
  • Dit verwys ook na verkeerde, sondige gedrag (dws dit lê in wat ons DOEN),
  • En dan verwys dit ook na‘n sondige houding of ingesteldheid, ‘n houding wat nie in harmonie is met God se wil nie. Bv soos om jaloers of afgunstig te wees, om dislojaal te wees, om oneerlik te wees, om soms net plein lelik te wees met iemand.

Ons almal doen dit. Ons almal is so. Laat ons vanoggend eerlik wees met mekaar, ophou om weg te steek. Die groot kerkvader Augustinus het gesê: “Die begin van kennis is om jouself as ‘n sondaar te ken”. Soos die psalmis in vers 5:

“Toe het ek my sonde bely, my oortreding nie weggesteek nie. Ek het gesê: ‘Voor die Here bely ek my opstandigheid;’ en U het my skuld vergewe.”

Die mag van die gesproke woord. Om hardop ons sonde by die naam te noem, met berou te bely. Om dit van jou hart af te kry. Watter bevryding bring dit nie! Die einde van die psalmis se valsheid en verswyging van sy sonde is die begin van sy ervaring van vergifnis! Hoekom sal ons dan ons sonde vir onsself hou? Hoekom moet ons liggaam eers uitteer en ons geestelike lewe agteruitgaan en ons sielewroeging ons inhaal voordat ons ons sonde bely? Dink klink tog eintlik sinneloos. Die Here weet immers in elk geval wat dit is. Ons hoef nie bang te wees vir verwerping as ons ons sonde voor Hom uitspreek nie. Ons hou tog nie op om sy kinders te wees net omdat ons ongehoorsame kinders is nie. Die van julle wat ouers en grootouers is sal weet dat die teendeel eerder waar is.

Ons mag nooit die belangrikheid van skuldbelydenis onderskat nie. Volgens hierdie psalm is daar niks beter as om jou sonde te bly nie. Die openbare skuldbelydenis in die kerk, so skryf Van Ruler, is baie belangrik. Hy skryf: “Elkeen kan dit hoor. Ons doen onsself nie beter voor as wat ons is nie. Inteendeel! Die kerk is die nederigtse en ootmoedigste plek op aarde. Ja, ons moet eerlik en openlik voor ons naaste erken dat ons verkeerd is. Of teenoor die polisieman of die regter wat die verhoor behartig. Kom ons maak ons oë toe en ons bely ons sonde opreg voor die Een wat ons vryspreek.

Skuldbelydenis en verootmoediging (Gebed)

Vryspraak: 1 Joh 1:8-9: “As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie. Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.”

Martin Luther vertel van ’n droom wat hy gehad het. Hy het gedroom dat die duiwel met ’n lang lys van sy sonde voor hom kom staan het. Luther het toe aan die duiwel gevra of dit al sy sonde is, waarop die duiwel antwoord “nee”. Luther het die duiwel toe weggestuur en gevra dat hy ’n lys van al sy sonde moes maak. Toe die duiwel terugkom met ’n nog langer lys, het Luther gevra of dit nou al sy sonde is. Die duiwel het bevestigend geantwoord. Luther het toe ’n rooi pen geneem en met groot letters daaroor geskryf: “Die bloed van Jesus Christus reinig my van alle sonde.” Vanoggend word dieselfde bevrydende boodskap aan ons verkonding: “Die bloed van Jesus Christus reining ons van alle sonde.”

Skuldbelydenis bring bevryding en vreugde in die teenwoordigheid van God. Kom ons staan en sing ‘n lied om dankie te sê.

Lied: 203:1-3 Loof die Here al wat lewe

Die psalm eindig nie by die digter se skuldbelydenis en vergifnis nie. Dit gaan verder deur vir ons te vertel hoe ‘n persoon se lewe lyk wat vergifnis ontvang en ervaar het. So ‘n persoon slaan ‘n nuwe koers in. Ons moenie net die Here vir vergifnis vertrou, maar ook vir ‘n nuwe begin onder sy leiding en beskerming.

“Ek wil jou onderrig en jou die pad leer wat jy moet volg. Ek wil jou raad gee en my oog oor jou hou”, sê God in vers 8.

Wanneer God sê dat hy sy oog oor ons wil hou is dit nie ‘n waarskuwing waarmee hy eintlik wil sê “Ek hou jou dop en jy moet sorg dat jy nie weer verkeerd trap nie”.(I’m watching you…) Nee. Die uitdrukking beteken hier dat God ons wil leiding gee, wil leer, persoonlik by ons betrokke wil wees en die pad saam met ons wil stap. Dwase mense loop hul eie pad na skuldbelydenis. Hulle is soos ‘n hardkoppige perd of ‘n muil wat met ‘n stang in die bek beteuel moet word. Maar die wyse mens wat die wonder van vergifnis beleef het, leef onder die leiding, onder die nuwe bestuur van God. Die goddelose mens het baie pyn en smarte, maar die wat op die Here vertrou word toegevou in sy liefde (vs 10).

Psalm 32 was Augustinus se gunsteling psalm. Hy het dit gereeld gelees. Voordat hy gesterf het, is die woorde van Psalm 32 bo sy siekbed teen die muur geskryf. Hy het dit gebid en dit het hom getroos. Gelukkig is die mens wat vergifnis ontvang!

Deel van ‘n nuwe begin is om ook ons sonde teenoor ander te bely sodat ons verhoudinge met ons medemens ook met God se seën, verlossing en blydskap gevul kan word. Ek wil julle daarom uitdaag om in hierdie week 2 dinge te gaan doen.

  • Indien jy iemand op enige manier te na gekom het (dalk het jy iets verkeerds gedoen, of gesê of gedink) gaan bely dit in die week teenoor daardie persoon.
  • Indien iemand dalk sy of haar sonde teenoor jou kom bely probeer om iets van God se vergewensgesindheid te vergestalt. Moenie die persoon veroordeel nie, maar vergewe.

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.

Psalm 123 – 2014

16 November 2014 Koninkrykstyd
Prediker: Dr Tiana Bosman

Agtergrond

Psalms 120 – 134. ‘n Groep psalms bekend as die pelgrimsliedere.

Opskrif: ’n Lied vir die opgaan.

Daar was 3 groot pelgrimsfeeste per jaar, en hierdie liedere is gesing terwyl die volk opgetrek het na Jerusalem vir die feeste.

‘n Klomp bekende liedere. Psalm 121 (Ek kyk op na die berge), 126 (Toe die Here die lot van Sion verander het, was ons soos mense wat droom), 127 (As die Here die huis nie bou nie), 131 (Here, my hart is nie hoogmoedig en my oë nie verwaand nie).

Die psalms bou op tot by die crescendo in 134 waar die volk wat optrek die einde van hul lang reis bereik en die tempel reg voor hulle sien: “Kom! Prys die Here, julle almal, diensknegte van die Here…”

Psalm 123 dateer uit die laat of na-ballingskapstydperk.

Dis ‘n gemeenskaplike klaaglied want die volk wat optrek bekla hulle lot by die Here, maar dis terselfdertyd ook ‘n gemeenskaplike lied van vertroue, ‘n lied waarin hulle die Here nie laat gaan nie, omdat hulle weet dat Hy hulle nooit sal laat gaan nie. Daarom beroep hulle hulle op God, hulle maak aanspraak op sy hulp, hulle maak staat op sy ingrype.

Psalm 123

  1. Na U kyk ek op, U wat in die hemel heers.
  2. Kyk, soos die oë van slawe gerig is op die hand van hulle eienaar,

Soos die oë van ‘n slavin gerig is op die hand van haar eienares,

so is ons oë gerig op die Here ons God totdat Hy ons genadig is.

  1. Wees ons genadig, Here, wees ons genadig;

want ons het meer as genoeg gehad van minagting; (groot is ons versadiging van minagting)

  1. ons het meer as genoeg gehad van die spotlag van selfvoldane mense, (groot is ons siel se versadiging van die spotlag van arrogante mense)

van die minagting deur hooghartiges.

 

Vs 1 – die voorganger sit die lied in, daarom in die eerste persoon. Vanaf vs 2 val die res van die mense in.

Die psalm is kort en dit vorm ‘n eenheid. Tematies heg elke vers aan die voorafgaande vers. Binne die eenheid kan ons 3 dele identifiseer:

  1. Na U kyk ons op,
  2. totdat U ons genadig is,
  3. want ons het meer as genoeg gehad van swaarkry.

NA U KYK ONS OP…

Op U is ons oë gerig, U wat heers in die hemele

Stip kyk ons na U vir die geringste beweging, gebaar, teken…

TOTDAT ons dit sien.

Verhouding tussen hand en oog

Kyk na hand

  1. ophou met straf – nee, dis nie die primêre doel van ‘n hand nie!
  2. meester se wense of bevele
  3. om kos te gee, om behoeftes aan te spreek, om dinge beter te maak!!!

By my kom die prentjie op van ‘n hond wat by sy eienaar se voete lê. ‘n Eienaar wat hom liefhet. A dog is a man’s best friend… (Lojaliteit, vertroue, fokus)

As honde kon praat: Agter hierdie baas sal ek aanloop, hom sal ek volg, selfs al gaan dit swaar, want ek wéét hy sorg vir my. Sonder hom kan ek nie lewe nie. Ek sal hom so volg dat ek my lewe vir hom sal gee.

Beeld van algehele afhanklikheid

Here ons God – aanspreeksvorm, verbondsverhouding (Ek sal julle God wees, en julle sal my volk wees.)

Psalm 104: 27-28: “Hulle almal sien op na U om vir hulle kos te gee op tyd.

Gee U vir hulle, raap hulle dit op; word hulle versadig met wat goed is.”

God as Vader wat sy huismense voed.

Psalm 145: 15-16: “Alle oë kyk vol verwagting na U, en U gee vir hulle kos op tyd.

Wanneer U u hand oopmaak, versadig U al wat lewe met wat hulle wil hê.”

‘n Erkentenis van totale afhanklikheid van God

Wat is die versorging, die kos waarom die volk hier bid?… In Psalm 121 bid hulle om beskerming van rowers en roofdiere. Op ander plekke genesing van siektes. Elders bid hulle om die fisiese versorging van hul liggame – letterlik om kos. Hier bid hulle om God se genadige ingrype want daar is mense wat hulle sleg behandel.

TOTDAT U ONS GENADIG IS…

Wees ons genadig > ontferm U oor ons

Die vraag is nie of God genadig sal wees nie, maar om te wag totdat Hy sy genade en ontferming sal wys. Want doen sal Hy dit doen. Dit is vir die sangers van hierdie lied ‘n gegewe feit. So is die gesonde verhouding tussen slaaf en eienaar. So is die verbondsverhouding tussen God en mens. Hy het sy trou aan ons beloof. Hy sal sy trou aan ons bewys. (Soos ‘n wagter wat wag op die môre, wag op die môre, so wag ons op U, o Heer – die wagter op die muur van die stad wat uitkyk vir die koms van die vyand.)

WANT ONS HET MEER AS GENOEG GEHAD VAN SWAARKRY.

We have had our fair share of suffering.

Afrikaanse beelde wat baie goed aansluit by die Hebreeus: Ons is keelvol, ons siele is sat (allesomvattende betekenis van nevesh – keel, asem, siel, wese). Tot oorlopens toe vol

Wat presies die omstandighede was weet ons nie. Ons weet wel dat die volk wat optrek ervaar dat hulle gespot en geminag word deur arrogante mense wat dink dat hulle belangriker is as ander. Verskeie moontlikhede wat in hierdie konteks goed sou pas, bv:

  • Die onderdrukking van die volk ten tye van die ballingskap. Spot wat hulle verduur het vanaf die Assiriërs en Babiloniërs. Slawe gemaak. Identiteit daarmee heen. Menswaardigheid is aangetas. (Leiers weggevoer en oorleef in land waarvan niks meer oor is nie, land sonder infrastruktuur.) Neersien asof hulle straatbrakke is.
  • OF Dit wat op hulle wag as hulle in Jerusalem aankom. Hul eie mense, hul eie priesters en skrifgeleerdes wat op hulle neersien, wat hulle uitbuit, wat belasting verhoog en dubbelprys vra vir offerdiere (bokke en skape en duiwe) omdat die mense wat optrek vir die fees nie hulle diere kan saamtrek nie (dis te ver en te gevaarlik). Hulle is uitgelewer aan die room van die volk, die priesters wat offerdiere aan hulle moet verkoop. Maar hierdie priesters maak wins daaruit. En die mense het geen keuse nie, want hulle kan nie sonder offerdiere die tempel betree nie. (vgl. die keer toe Jesus die tafels omgegooi het, juis agv hierdie praktyke).

Hoe dit ookal sy, hier is ‘n groep mense wie se menswaardigheid aangetas is.

As lg die geval was: Here, jaar na jaar trek ons op om U in u tempel in Jerusalem te aanbid. Jaar na jaar wil ons deel wees van die fees, deel vorm van die geloofsgemeenskap wat U eer. Maar jaar na jaar word ons gespot wanneer ons by die tempel aankom, word daar op ons neergesien, word ons met minagting behandel, trek kerkmense hulle neuse vir ons op… Wanneer sal ons dan ook goed genoeg gewees? Wanneer sal ons welkom wees? Wees ons genadig o God. Mense wil hulle nie oor ons ontferm nie, maar ons oë is op U gerig, TOTDAT Ú ons genadig is.

Oë gerig na die hemel (Die destydse wêreldbeeld en verstaan van waar God in die prentjie ingepas het – God is op sy troon in die hemel van waar Hy heers.)

God is nog op die troon – die psalm begin met hoop en vertroue.

Here U regeer. Daarom bly ons oë op U gerig. Wag ons vir die geringste gebaar, en weet ons dat U vir ons sorg en vir ons in die bresse tree.

Mense wat midde hulle swaarkry smag na die koms van die koninkryk van God.

Direkte aansluiting by die bergrede: Geseënd (welgeluksalig!) is die wat weet hoe afhanklik hulle is van God > letterlik die wat arm is van gees – die eenvoudiges, die op wie ander mense neersien, die wat weet dat hulle hulself nie kan help nie, dat niks en niemand hulle kan help nie, net God; want aan húlle behoort die koninkryk van die hemele.

Leef ons nog met hierdie afhanklikheid? Het ons God nog só nodig? Of leef ons dalk eerder met die onuitgesproke gedagte dat ons eintlik op ons eie kan regkom, vir onsself kan sorg. Dat ons nie regtig vir God nodig het nie. Ons is suksesvol genoeg op ons eie. Ons kom dus nie kerk toe om ons afhanklikheid te bely nie, ons kom eerder kerk toe omdat ons ten diepste eintlik glo dat God die een is wat óns nodig het, God kan nie sonder óns nie.

Here ons God, óns is u hande en u voete, wat sal U tog sonder ons doen?… So skryf ons ons eie psalms vandag…

Hoekom is ons gelowiges? Omdat ons in die naam van God goeie werke wil verrig? Van die wêreld ‘n beter plek wil maak? As dít ons primêre motivering is, dan staan ons baie gou aan die kant van die arrogantes, die beterweteriges, die hooghartiges.

Of is ons eerder gelowiges omdat ons weet dat ons nie sonder God kan leef nie. Dat ons sonder Hom tot níks in staat is nie. Dat ons vir álles van Hóm afhanklik is.

Dis nie die suksesvolles en die sterkes wat die koninkryk van die hemele conquer nie. (Mens conquer dit in elk geval nie.) Dis die nederiges en die afhanklikes wat geleer het om in vertroue op God alleen te bly wag, die wie se oë stip bly kyk na die hand van God, die geringste beweging van sy vingers, ‘n gebaar van liefde, ‘n streel oor die kop – dit is húlle wat die koninkryk van God ontvang. Die koninkryk is vir mense soos hulle bedoel. Julle. Ons.

Sluit af met die gedig in Psalm 131.

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.

Psalm 16 – 2014

27 April 2014 2de Pase
Prediker: Dr Tiana Bosman

ScreenHunter_01 May. 01 14.42

Notas:
Vs 3. Heiliges – moontlik die afgode.
Vs 8. Soldate het hul skild in die linkerhand gedra, so hul regterkant was onbeskermd.
Vs 10. God se krag lê in sy regterhand.

Vs 7. Niere – setel vir gewete
Vs 9. Hart – setel van denke en emosies
Vs 9. Lewer – jou lewer is jou swaar orgaan, jou eer lê in jou lewer.

Boodskap
Hierdie psalm is geskryf deur ‘n persoon wat in lewensgevaar verkeer het. Sy lewe word tans bedreig of is in die nabye verlede bedreig en hy skryf nog met daardie ervaring vars in sy geheue. Wat die spesifieke aard van die gevaar was wat die digter se lewe bedreig het, dit weet ons nie. Miskien was sy lewe bedreig deur vyande. Dalk het hy al sy besittings verloor en geen heenkome meer gehad nie. Dit kan moontlik ‘n siekte wees waaraan hy gely het of steeds ly. Alhoewel sy organe (niere, hart en lewer) waarna hy verwys, metafories verstaan kan word, getuig hy in vers 9 daarvan dat sy liggaam (sy vlees) weens die Here se beskerming in veiligheid woon. Dit kan beteken dat die Here hom gesond gemaak het, of dat die Here sy siekte in toom hou sodat hy nie voortydig sal sterf nie. Maar dit kan ook beteken dat sy liggaam weer veilig is omdat hy kos het om te eet, of omdat die vyande hom nie vermoor het nie. Wat die gevaar ookal was – dit was lewensbedreigend.

Soms is die psalm in die vorm van ‘n persoonlike gebed tot die Here, maar dan word dit weer afgewissel deur ‘n stuk belydenis. Twee temas staan voorop:
1. God se beskerming wat verbind word met die digter se gevoel van veiligheid (vs 1, 7-10), en
2. Die vreugde wat die digter ervaar oor die goeie wat die Here vir hom gee (2-6, 11).
Hierdie vreugde teenoor die smart wat hy vroeër in sy lewe leer ken het toe hy hom besig gehou het met afgodediens (3-4). Hy onderbreek as’t ware sy vertelling oor die vreugdes by die Here, deur eers gou te vertel van die hartseer gevolge toe hy nog afgode gedien het.

NOTAS
Beskerming:
Vs 7 – Die Here gee vir my raad en my niere dissiplineer my snags (my gewete spreek/spoor my aan) – parallelle reels
Vs 8 – Ek hou die Here altyd voor oë, ek rig (plaas/sit) my oë op Hom = doelbewuste daad, Ek besluit om die Here voor oë te hou (en nie meer die afgode of ander “sekerhede” nie)

DUS: Die Here se beskerming lê nie buite die digter se samewerking en betrokkenheid om nie. Snags lê hy en rondrol, gepla deur sy gewete, op soek na die regte ding om te doen. En hy sorg dat sy oë altyd op die Here gerig is, mens sou kon sê – hy sorg dat hy die Here altyd voor hom sien, dat Hy dus die Here volg.
Hy het, figuurlik gesproke, soos die soldate van destyds ‘n skild vir beskerming in sy linkerhand. Hy kan dus homself aan sy linkerkant beskerm. Maar sy regterkant is uitgelewer, en daarom bely hy dat die Here daardie kant beskerm. Die Here is sy skild aan sy regterkant. Hy het egter steeds ‘n linkerkant waar hy self beheer het oor sy eie veiligheid. Hy gee nie alles net aan die Here oor nie. Beide hy en die Here “werk saam” aan sy veiligheid.

Vs 9: Daarom is my hart bly en juig my lewer. Die hart wat die setel is vir denke en emosies en die lewer is die setel vir jou eer. “Ek is bly, my binneste juig want my eer is herstel. Ja, my liggaam woon in veiligheid,
want U sal my lewe nie aan die doderyk oorlewer nie;
U sal nie toelaat dat u getroue volgeling die graf sien nie.”

Die digter is of was in ‘n onmiddellike krisis, maar hy voel homself veilig omdat hy weet dat die Here hom beskerm. Hierdie beskerming gebeur egter nie buite die samewerking van die digter om nie. Hy moet in die Here se teenwoordigheid bly – skuil by die Here, weg van die afgode van vroeër af, luister na jou niere, jou gewete in die nag, hou die Here altyd voor oë, sien om na jou linkerkant wanneer die Here aan die kant “veg” waar jy nie kan nie. Wees dan bly en dankbaar, juig omdat jou liggaam in veiligheid woon, omdat die Here jou beskerm. Jy sal daarom nie voortydig sterf nie.

Vreugde:
Vs 2 – “U is my Heer, buiten U is daar vir my niks goeds nie.” > Lett “Buite U om is daar vir my niks goeds nie, alles wat goed is, lê binne die sfeer van u teenwoordigheid”.

Vs 5-6 – Die Here is sy erfdeel, die Here is sy beker. Die beker is gewoonlik ‘n beeld van toorn (hulle sal die beker van toorn drink) of van oorvloedige seëninge, soos hier. Dis asof die digter wil sê: Here, U is my erfdeel, U is my beker vol seëninge. Alles wat ek het kom van U af. U bepaal my lot. Lett: My lot is in u greep.
Met die lot is daar gewoonlik klippies gegooi en hoe die klippies val, sou bepaal wat jy ontvang of nie. Maar met die digter werk dit nie so nie. Hy hoef nie klippies te gooi nie, want hy weet sy lot is in die Here se greep – en daarom is dit eintlik geen lot meer nie, maar gunstige geskenke uit die hand van God. “Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke plekke geval, ja, my erfenis is vir my mooi.”
Die digter spreek sy dankbaarheid uit teenoor die Here vir alles wat hy van Hom af ontvang het. Hy is tevrede met wat hy gekry het.

(Onthou tog die digter skryf hier uit ‘n ervaring van ernstige gedreiging tans of wat pas verby is – hy leef nie in ‘n illusie nie, hy ontvlug nie vanuit die werklikheid nie. Hy weet baie goed dat die lewe moeilik kan wees en dat bittere gevare oor sy pad kom, maar ten spyte daarvan is hy tevrede en dankbaar met wat hy uit die hand van die Here ontvang. En bly hy die goeie raaksien wat die Here vir hom gee.)

Vs 11 – U wys my die pad van die lewe: om te lewe is om oorvloedige vreugde te ervaar in die wete dat ek in u teenwoordigheid leef, en vir al die lieflikhede wat in u regterhand is. Om van God se regterhand te praat, was om te verwys na sy krag. Dit is die hand waarmee Hy die skepping in stand hou, dit is die hand waarmee Hy die vyande afweer, dit is die hand waarbinne Hy ons beskerm. Dit is ook die hand wat nie ophou om te doen wat dit doen of om te gee wat dit gee nie – hierdie regterhand van God beskerm my, dra my, seën my vir áltyd.

Die digter het in die hede geleef. Vir hom was daar geen lewe buiten hierdie lewe nie. Binne sy (OT) verstaan was daar nie iets soos ‘n lewe na die dood nie. En die gang van die lewe is dat mens iewers sterf. Dit sou hy tog weet. Die onvermydelike van die dood. Geen mens kan dit vryspring nie. Iewers kom die dag… Tóg, met hierdie realistiese wete in sy agterkop, kan hy hierdie vertrouenspsalm skryf, terwyl hy nog leef, ómdat hy nog leef.

Al het hy in doodsgevaar verkeer, het die Here hom beskerm en daaruit gebring, want dit was nog nie tyd vir hom om te sterf nie. Om die dood te vrees is menslik, dis deel van wie ons is, maar hierdie digter kon sy vrees tem, want hy vertrou op God – die Een wat hom beskerm, en die Een wat vir hom sorg. Om die lewe ten volle te kan leef vir solank as wat ons dit het om te leef, is dit nodig dat ons moet leef in oorgawe aan en vertroue op die Here. Dit is amper
om te leef asof ons nie gaan sterf nie.

Die digter het geweet dat hy iewers sal sterf. Maar dit was nog nie nou nie. Daar lê nog ‘n stuk lewe voor hom uitgestrek. Hoe lank, weet ons nie. Hoe lank, het hy ook nie geweet nie. Maar sy vertroue in die Here was genoeg dat hy daarvan kon praat asof dit vir altyd sal wees. Sy beker loop oor want die Here het hom híérdie keer weer beskerm en deurgedra. En vir nou is dit genoeg…

As ‘n persoon wat in die OT tyd geleef het, en geen begip of eens verwagting gehad het van ‘n lewe na die dood nie – as so ‘n persoon só ‘n aangrypende gedig kon skryf; as iemand vanuit sy nietigheid en verganklikheid en eindigheid (want iewers, glo hy, gaan hy heeltemal stop/ophou), as so iemand so ‘n vertrouensgedig kon skryf – gevul met vreugde en dankbaarheid en die gevoel van geborgenheid, vir wat hy ontvang en vir die dae wat by sy lewe gevoeg word, hoeveel te meer het ons dan nie rede om ook te leef vanuit die wete dat die Here vir ons sorg, dat Hy ons beskerm en vir ons goed is nie. Ons wat lewe na verlede Sondag…

Jesus sou nie hierdie gedig kon bid of bely nie. Met Hom het die teenoorgestelde gebeur as dit waarvan die digter in Psalm 16 getuig – Jesus word juis nie veilig gehou nie, nie beskerm nie, sterf voortydig, sak af in Sheol. Maar die dood kon Hom nie gevange hou nie – Hy deurbreek die dood. Hy wis die finaliteit uit en maak daarvan ‘n deurgang. Hy beliggaam ‘n nuwe, dieper betekenis van Psalm 16 – ‘n betekenis wat die digter nie eens oor sou kon droom nie.
Ons veiligheid en beskerming is nie meer net voorlopig totdat die onvermydelike dood aanbreek nie. Ons leef nie nou meer net met ‘n voorlopige sekerheid en vertroue nie, maar met ‘n vaste waarborg.

Ons kan nou ten volle leef, vreesloos, met oorgawe. Ons mag maar die goeie wat ons van God af ontvang, geniet. Ons weet ons is veilig, nou, en inderdaad vir áltyd.

Hierdie goeie, hierdie genietinge, verskil van mens tot mens, situasie tot situasie. Christus het dit moontlik gemaak dat ons die goeie ook midde die slegte kan geniet…
Weet ons dit? Doen ons dit?

Creative Commons Licence Kopiereg: Hierdie werk deur Dr Tiana Bosman word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.