2 Tessalonisense: 2:1-5; 13-17

10 November 2013 – Koninkrykstyd
Prediker: Bianca Botha

Een van die konsepte/tema’s in die Bybel waaroor daar sekerlik oor die afgelope +/- 2000 jaar die meeste bespiegel en gewonder, geprofeteer, geworstel en geredeneer is, is die wederkoms. Dink maar net hoeveel dae en datums daar is wat oor die afgelope 3 jaar as “die einde” voorspel is. Ek onthou ook goed hoe sommige mense met die aanbreek van die nuwe millenium verwoed kerse en blikkieskos bymekaar gemaak het. En ons kan miskien lag daaroor of dit dalk as “belaglik” begin bestempel, maar die feit bly staan dat die gedagte van die eindtyd – van die wederkoms – by meeste mense gevoelens van angs en onsekerheid na vore bring. Daarom probeer mense van die vroegste tye af reeds vasstel hoe en wat en waar dit gaan plaasvind. Dit is dan ook die rede waarom Paulus die brief aan die gemeente in Tessalonika skryf waaruit ons vanoggend gaan lees.

Die gemeente in Tessalonika was een van die heel eerste gemeentes wat Paulus help stig het en die 2 briewe aan dié gemeente staan dan ook algemeen bekend as die eerste van sy briewe. Die eerste brief (1 Tessalonisense) het hy juis geskryf om sekere wanopvattings en oortuigings wat rondom die wederkoms ontstaan het aan te spreek. Daar het egter toe ‘n paar misverstande ontstaan oor dié brief en daarom volg hy dit toe op met ‘n tweede, waaruit ons dan vandag sal lees.

Kom ons kyk nou wat dit is wat hy toe vir hulle skryf – 2 Tess 2:1-5; 13-17

Na die baie mooi groet in die eerste hoofstuk van hierdie brief, waaroor Tiana verlede week gepreek het, kom Paulus in hoostuk 2 by die kruks van die brief uit. In sy vorige brief het hy aan die gemeente geskryf dat die wederkoms skielik gaan aanbreek en dít het – met behulp van verwarrende profesieë, misleidende predikers en vals briewe – die idee laat posvat dat die wederkoms reeds plaasgevind het. Gevolglik het die gelowiges óf baie bekommerd geraak oor die feit dat hulle nie deel was daarvan nie, óf bloot opgehou om hul Christelike identiteit uit te leef, want wat maak dit dan nou saak. En daarom skryf hy dan hierdie tweede brief om hulle te verseker: Die wederkoms het definitief nog nie plaasgevind nie, en dit sal ook nie gebeur voordat daar nie sekere ander dinge gebeur het nie.

Hy noem dan ook, soos ons gelees het, ‘n paar spesifieke dinge wat die wederkoms moet voorafgaan.
1. Die eerste hiervan is afvalligheid. Mense sal hul rûe op God draai; verlei word deur valse leerstellings; hulle sal die leuen glo en hulle sal ongeregtigheid kies.
2. Daarmeesaam sal die wettelose mens verskyn – die Antichris – die finale verpersoonliking van alles en almal wat hulle teen God verset. En dan moet wie/wat ook al hierdie wettelose figuur teëhou eers uit die weg wees.

Op hierdie punt wil ek noem dat toe Augustinus, wat beskou word as een van die belangrikste kerkvaders, in sy boek The City of God gekryf het oor hierdie gedeelte en spesifiek oor wie/wat dit is wat hierdie “wettelose mens” teëhou, was sy woorde: “I admit, that the meaning of this, completely, escapes me.” En vir dié van u wat gehoop het dat ek hierdie dinge gaan openbaar, vir die van u wat dalk hierdie preek lees in die hoop dat ek vir julle gaan sê wie hierdie mense is, moet ek ongelukkig nou verskoning vra, want ek stem heelhartig met Augustinus saam. Ek en Augustinus en almal anders wat ek gelees het die week, of met wie ek gepraat het oor die teks, is onseker oor wie presies die “wettelose mens” (die Antichris) en die een wat hom teëhou is. Daar is wel baie teorieë, maar geen sekerheid hieroor nie. Kommentatore stem almal ooreen dat enige poging om vas te stel wie hierdie figure is, bloot ‘n raaiskoot sal wees. Vanuit die teks kan ons wel sien dat die gemeente waarskynlik geweet het waarvan hy praat – dat hulle iets geweet het wat ons nie weet nie, en waarskynlik nooit sal weet nie – maar dit is hoe ver ons kom.

Die goeie nuus is egter, dat ek regtig ook nie dink ons hoef dit te weet nie. Die rede waarom Paulus hierdie dinge vir die gemeente skryf, is hoofsaaklik om hulle te verseker dat hulle nie die wederkoms gemis het nie; dat hulle nie moet toelaat dat ander mense hulle verwar nie en dat hulle nie sommer alles moet glo wat hulle hoor nie. Wat hy eintlik vir hulle sê is: “Glo my, julle sal nie hoef te wonder nie, julle sal weet as die wederkoms plaasvind.”
Hy beklemtoon, dat hoewel hulle nou reeds vervolging ervaar, dinge nog baie erger gaan raak voor die wederkoms finaal plaasvind – voordat die koninkryk tot vervulling kom. Ongeregtigheid en goddeloosheid sal hooggety vier, dit sal ‘n tyd wees van totale anargie en die verval van reg en orde. Soos een van my gunsteling spreekwoorde in Engels lui: “It’s always darkest before the dawn,” kom sê hy vir hulle ook dat hulle eers in duisternis gedompel sal word voor die nuwe dag uiteindelik aanbreek.

MAAR dan kom ons by die tweede deel van hierdie hoofstuk en die belangrikste deel van die hele brief; dan kom ons by dit wat ons (en hulle) móét weet. In die Grieks word hierdie tweede gedeelte ingelei met die woordjie “δε” wat “MAAR” beteken en hoewel dit nie in ons Bybels so vertaal is nie, speel daardie woordjie “maar” ‘n baie belangrike rol. Die Griekse “de” is, soos “maar” in die Afr, gebruik om `n teenstelling of kontras te vorm met wat ook al dit voorafgaan. Sommige van die Bybelstudie-dames is nou al goed bekend met die storie van my pa, wat altyd vir my gesê het as jy “maar” sê kan jy net sowel alles wat jy voor dit gesê het uitvee.
Nou, gaan ek regtig nie so ver gaan om te sê dat ons die eerste deel van die hoofstuk moet uitvee of dat dit onbelangrik is nie… Tog, wanneer Paulus dié gedeelte so inlui, plaas hy defnitiewe klem op dit wat volg.

“MAAR… luister nou hier… dit is belangrik…”
Julle is anders, sê Paulus dan vir hulle, want julle behoort aan die Here. Julle hoef nie die wederkoms te vrees nie, maar kan daarna uitsien. Julle gaan nie deur die dwalinge en misleidinge meegesleur word nie. Vir hulle is die hoop op die heerlikheid van Christus verseker. En daarvoor kan hy God altyd vir hulle dank!

Maar, hoe is dit moontlik? Hoe kan gelowiges hierdie sekerheid en waarborg hê? Hoe weet ek dat ek nie dalk ook naderhand van die geloof sal verval nie? Hoe gaan ek weet dat ek veilig sal wees wanneer die Antichris kom en soveel mense verlei en van die waarheid afvallig maak?

En dis waar Paulus se trooswoord aan die Tessalonisense ook ons trooswoord word: Die waarborg van hulle redding, lê nie in hulleself of in húlle geloofsvolharding nie. Dit lê primêr by God. Hulle verlossing, en hulle volharding en hulle hoop, kom van God af.
Paulus bevestig dit met `n hele reeks stellings (13, 14):
God het julle lief;
God het julle uitverkies as die eerstes van baie wat gelowig gaan word;
God het julle gered deurdat sy Gees julle geheilig het om die waarheid te kan glo.
God het julle geroep deur die boodskap van die evangelie en
God sal julle uiteindelik laat deel in die heerlikheid van Christus, al verduur julle nou hoeveel spot en vervolging. Hy bewys aan julle sy liefde (17) en Hy gee deur sy genade vir julle hoop.
Die wederkoms hoef dus nie by hulle (of ons) angs of onsekerheid te wek nie, want hulle (en ons) is almal reeds gered.

Dit stop egter nie daar nie. Paulus gaan verder: Uit God se inisiatief en genade volg die Christen se gelowige respons/reaksie. “Wees dan standvastig” sê hy vir hulle, “En mag julle in al die goeie wat julle in woord en daad doen, bemoedig en gesterk word.”

Hierdie teks vat die evangelie so mooi saam. Soos die Tessalonisense is almal van ons gered. Ons gaan nie gered word wanneer die wederkoms aanbreek nie, ons is nou reeds gered deurdat ons die Evangelie ken; deurdat God ons lief het en ons gekies het lank voordat ons self kon kies. En omdat ons gered is (nie sodat nie, omdat) beywer ons onsself vir sy koninkryk – leef ons soos mense wat aan Hom behoort.

Wat Paulus in hierdie gedeelte van die gelowiges in Tessalonika en per implikasie ook van ons vra, is bloot om vas te hou aan God se beloftes. Om nie verward te raak nie, maar standvastig te wees in dit wat ons glo – nl. dat Christus die Here is en dat ons sy kinders is. En hierdie standvastigheid in geloof verwys nie na ‘n passiewe wag-aksie terwyl hierdie lewe nou maar net verby gaan nie, want as ons waarlik glo in Christus en sy Evangelie dan kan ons nie terugsit en toekyk terwyl daar teen sy wil en teen sy koninkryk opgetree word nie. As ons waarlik glo in die boodskap van die Bybel dan moet dit ons beweeg, ons dryf om God se koninkryk te wil sigbaar maak; dan moet die onreg en geweld en seer in hierdie wêreld ons ongemaklik maak en dan moet ons daarteen optree. Nie omdat ons ons plekkie in die hemel wil verseker nie – want dit het ons reeds – maar omdat ons sien en hoor wat die wêreld veronderstel is om te wees.
____________

Met eerste oogopslag is hierdie ‘n vreesaanjaende teks, maar soos mens kou en herkou daaraan word dit ‘n teks vol hoop; ‘n teks vol beloftes. En ek wil julle uitnooi om hierdie week dalk self weer ‘n paar keer daarnatoe terug te gaan…
Want aan die einde van die dag gaan dit nie oor wanneer die wederkoms gaan plaasvind, of hoe dit gaan lyk, wat gaan gebeur en wie is die Antichris nie. Dit gaan daaroor dat ons weet aan wie ons behoort; dat ons weet ons is gered om die blote rede dat God ons lief het en dat sy Gees by ons is. Dit gaan daaroor dat ons nie die wederkoms hoef te vrees nie, maar dat dit iets is waarna ons kan uitsien, en waarna ons behoort uit te sien.

Midde my eie worstelinge met hierdie teks hierdie week het ek baie toevallig (of miskien nie so toevallig nie) op ‘n ou Laurika Rauch cd afgekom – wat vir baie lank weg was – en ek is toe opnuut weer getref deur haar liedjie “Hot Gates.” In die lied noem sy stad na stad wat op een of ander tyd deur oorlog/onheil geraak is. En terwyl ek na die lied luister besef ek opnuut dat die bose en die wettelose, die ongeregtigheid en die lyding reeds deel is van hierdie wêreld. Oorloë en armoede; korrupsie en magsmisbruik; haat en geweld… Ons lewe reeds in die eindtyd; in die tyd voor Christus se wederkoms; in ‘n tyd waar die bose nog ‘n sterk houvas het op die wêreld. En dalk wil Paulus ons ook waarsku dat dit eers erger gaan raak voor dit beter raak, maar wat hy ook kom sê is dat die nuwe dag weer sal aanbreek – dat daar te midde van al die donker in die wêreld steeds hoop is.
Soos ook in die laaste verse van die lied, wanneer die fokus verskuif na die nuwe Jerusalem en die somber klokkespel aan die begin, verander in vreugdevolle klokgelui .

Ons almal (en ook meeste geleerdes) het verskillende idees en oortuigings en teorieë oor die wederkoms en die hemel, maar as Christene is dit vir almal van ons waar ons hoop lê – in die feit dat daar iets beter oppad is; in ons oortuiging dat Christus met die wederkoms finaal die bose sal oorwin en sy koninkryk tot vervulling sal bring. Ons weet dat die bose in hierdie wêreld nie die laaste sê sal hê nie – dat daar ‘n nuwe stad is wat op ons wag.

Ek wil u uitnooi om hierdie week self na “Hot Gates” te gaan luister en miskien kan dit by u dieselfde gevoel wek wat dit onlangs weer by my het. ‘n Gevoel van ongemak met die onreg en die bose in hierdie wêreld, en terselfde tyd ‘n gevoel hoop in God se beloftes en vir dit wat nog kom.

Luister na die lied hier:
http://www.youtube.com/watch?v=cD_pZmTAXZo

Creative Commons Licence

Kopiereg: Hierdie werk deur Bianca Botha word gelisensieer onder ‘n “Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 2.5 South Africa License”.